“Die verordening van Jehovah” kan nie misluk nie
“Laat my na die verordening van Jehovah verwys; hy het vir my gesê: ‘Jy is my seun . . . Vra my, sodat ek nasies as jou erfdeel kan gee.’”—PSALM 2:7, 8.
1. Watter teenstelling is daar tussen God se voorneme en die nasies s’n?
JEHOVAH GOD het ’n voorneme met die mens en die aarde. Die nasies het ook ’n voorneme. Maar hoe verskil hierdie voornemens tog van mekaar! Dit behoort ons nie te verbaas nie, want God sê: “Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.” God se voorneme sal ongetwyfeld vervul word, want hy sê verder: “Net soos die stortreën en die sneeu uit die hemel neerdaal en nie daarheen terugkeer nie, tensy dit die aarde deurweek en dit laat voortbring en uitspruit, en saad aan die saaier en brood aan die eter gegee word, so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:9-11.
2, 3. Wat kom duidelik na vore in die tweede psalm, maar watter vrae ontstaan?
2 Die feit dat God se voorneme aangaande sy Messiaanse Koning vervul sal word, word duidelik getoon in die tweede psalm. Die skrywer daarvan, koning Dawid van eertydse Israel, het onder goddelike inspirasie ’n merkbare tyd voorspel wanneer die nasies in beroering sou wees. Hulle heersers sou stelling inneem teen Jehovah God en sy Gesalfde. Maar die psalmis het ook gesing: “Laat my na die verordening van Jehovah verwys; hy het vir my gesê: ‘Jy is my seun . . . Vra my, sodat ek nasies as jou erfdeel kan gee en die eindes van die aarde as jou besitting.’”—Psalm 2:7, 8.
3 Wat hou “die verordening van Jehovah” vir die nasies in? Hoe raak dit die mensdom oor die algemeen? Ja, wat beteken hierdie verwikkelinge vir alle godvresende lesers van die tweede psalm?
Nasies in beroering
4. Hoe sou jy die hoofgedagtes van Psalm 2:1, 2 opsom?
4 Die psalmis verwys na die optrede van die nasies en hulle heersers en begin sy lied met hierdie woorde: “Waarom was die nasies in beroering en het die volksgroepe iets leegs bly mompel? Die konings van die aarde neem stelling in en die hoë amptenare het soos een man saamgespan teen Jehovah en teen sy gesalfde.”—Psalm 2:1, 2.a
5, 6. In watter sin het die volksgroepe “iets leegs bly mompel”?
5 In watter sin het die hedendaagse volksgroepe “iets leegs bly mompel”? In plaas van God se Gesalfde—die Messias, of Christus—te aanvaar, het die nasies “bly mompel”, of nadink, oor hoe hulle hulle eie gesag kan laat voortbestaan. Hierdie woorde van die tweede psalm het ook ’n vervulling in die eerste eeu G.J. gehad toe Joodse en Romeinse gesaghebbers saamgewerk het om God se aangewese Koning, Jesus Christus, dood te maak. Maar die vernaamste vervulling het in 1914 begin toe Jesus as hemelse Koning gekroon is. Sedertdien het nie een politieke organisasie op aarde God se gekroonde Koning erken nie.
6 Wat is die betekenis van die psalmis se vraag: “Waarom . . . het die volksgroepe iets leegs bly mompel?” Dit verwys na hulle voorneme wat leeg is; dit is tevergeefs en tot mislukking gedoem. Hulle kan nie vrede en eenheid vir hierdie aarde bring nie. En tog skroom hulle nie om goddelike heerskappy teë te staan nie. Trouens, hulle het soos een man aggressief stelling ingeneem en saamgespan teen die Allerhoogste en sy Gesalfde. Hoe dwaas tog!
Jehovah se seëvierende koning
7. Hoe het Jesus se vroeë volgelinge Psalm 2:1, 2 in ’n gebed toegepas?
7 Jesus se volgelinge het die woorde van Psalm 2:1, 2 op hom toegepas. Toe hulle weens hulle geloof vervolg is, het hulle gebid: “Soewereine Heer [Jehovah], u is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles wat in hulle is, gemaak het, en wat deur middel van heilige gees deur die mond van ons voorvader Dawid, u kneg, gesê het: ‘Waarom het nasies onstuimig geword en volke leë dinge bedink? Die konings van die aarde het stelling ingeneem en die heersers het soos een man saamgespan teen Jehovah en teen sy gesalfde.’ Net so het Herodes [Antipas] sowel as Pontius Pilatus, saam met mense van die nasies en volke van Israel, in werklikheid in hierdie stad bymekaargekom teen u heilige kneg Jesus, wat u gesalf het” (Handelinge 4:24-27; Lukas 23:1-12).b Ja, in die eerste eeu was daar ’n sameswering teen God se gesalfde kneg Jesus. Maar hierdie psalm sou eeue later ’n verdere vervulling hê.
8. Hoe is Psalm 2:3 van toepassing op hedendaagse nasies?
8 Toe eertydse Israel ’n mensekoning, soos Dawid, gehad het, het heidense nasies en heersers versamel teen God en sy gekroonde gesalfde. Maar wat van ons tyd? Hedendaagse nasies wil hulle nie aan die vereistes van Jehovah en die Messias onderwerp nie. Daarom word hulle uitgebeeld asof hulle sê: “Laat ons hulle bande stukkend skeur en hulle toue van ons afwerp!” (Psalm 2:3). Heersers en nasies verset hulle teen enige beperkings wat God en sy Gesalfde aan hulle oplê. Enige pogings om hierdie bande stukkend te skeur en hierdie toue af te werp, sal natuurlik tevergeefs wees.
Jehovah bespot hulle
9, 10. Waarom bespot Jehovah die nasies?
9 Jehovah is nie besorg oor enige pogings wat die heersers van die nasies aanwend om hulle eie soewereiniteit te bevestig nie. Die tweede psalm sê verder: “Hy wat in die hemel sit, sal lag; Jehovah sal hulle bespot” (Psalm 2:4). God gaan voort met sy voorneme asof hierdie heersers niks is nie. Hy lag oor hulle vermetelheid en bespot hulle. Laat hulle grootpraat oor hulle planne. In Jehovah se oë is hulle belaglik. Hy lag oor hulle vergeefse pogings om teenstand te bied.
10 In ’n ander psalm verwys Dawid na vyandelike manne en nasies en sê hy: “U, o Jehovah God van die leërs, is die God van Israel. Word tog wakker om u aandag op al die nasies te rig. Moenie guns betoon aan enige kwaadwillige verraaier nie. Hulle bly saans terugkeer; hulle bly soos ’n hond blaf en gaan oral in die stad rond. Kyk! Hulle laat woorde uit hulle mond borrel; swaarde is op hulle lippe, want wie luister? Maar u, o Jehovah, sal hulle uitlag; u sal al die nasies bespot” (Psalm 59:5-8). Jehovah lag oor die grootpratery en verwarring van die nasies in hulle dwase weg van verset teen hom.
11. Wat gebeur wanneer die nasies God se voorneme probeer dwarsboom?
11 Die woorde van Psalm 2 versterk ons geloof dat geen uitdaging te groot is vir God nie. Ons kan die volle vertroue hê dat hy altyd sy wil volbring en nooit sy lojale knegte in die steek laat nie (Psalm 94:14). Wat gebeur dus wanneer die nasies pogings aanwend om Jehovah se voorneme te dwarsboom? Volgens hierdie psalm sal God “hulle in sy toorn aanspreek”, asof met ’n swaar gedreun van donderweer. En ook “in sy brandende misnoeë”, asof met ’n groot weerligstraal, “sal hy hulle ontstel”.—Psalm 2:5.
God se koning word ingehuldig
12. Op watter inhuldiging is Psalm 2:6 van toepassing?
12 Wat Jehovah hierna deur die psalmis sê, ontstel die nasies ongetwyfeld. God verklaar: “Ek, ja ek, het my koning ingehuldig op Sion, my heilige berg” (Psalm 2:6). Die berg Sion was ’n heuwel in Jerusalem waar Dawid as koning oor die hele Israel ingehuldig is. Maar die Messiaanse Koning sal nie op ’n troon in daardie stad of enige ander plek op aarde sit nie. Trouens, Jehovah het Jesus Christus reeds as sy gekose Messiaanse Koning ingehuldig op die hemelse berg Sion.—Openbaring 14:1.
13. Watter verbond het Jehovah met sy Seun gesluit?
13 Die Messiaanse Koning praat vervolgens. Hy sê: “Laat my na die verordening van Jehovah verwys [wat ’n verbond vir die Koninkryk met sy Seun gesluit het]; hy [Jehovah God] het vir my gesê: ‘Jy is my seun; ék het vandag jou vader geword’” (Psalm 2:7). Christus het na die Koninkryksverbond verwys toe hy vir sy apostels gesê het: “Julle is . . . dié wat in my beproewinge altyddeur by my gebly het; en ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk.”—Lukas 22:28, 29.
14. Waarom kan daar gesê word dat Jesus die onbetwisbare reg op koningskap besit?
14 Soos in Psalm 2:7 voorspel is, het Jehovah Jesus as Sy Seun erken by sy doop en deur hom tot geeslewe op te wek (Markus 1:9-11; Romeine 1:4; Hebreërs 1:5; 5:5). Ja, die Koning van die hemelse Koninkryk is God se enigverwekte Seun (Johannes 3:16). As die koninklike afstammeling van koning Dawid besit Jesus die onbetwisbare reg op koningskap (2 Samuel 7:4-17; Matteus 1:6, 16). Volgens hierdie psalm sê God vir sy Seun: “Vra my, sodat ek nasies as jou erfdeel kan gee en die eindes van die aarde as jou besitting.”—Psalm 2:8.
15. Waarom vra Jesus dat die nasies as sy erfdeel gegee word?
15 Die Koning—God se eie Seun—beklee die posisie naaste aan Jehovah. Jesus is Jehovah se beproefde, lojale en betroubare Seun. Verder het Jesus die erfdeel as God se Eersgeborene. Ja, Jesus Christus “is die beeld van die onsigbare God, die eersgeborene van die hele skepping” (Kolossense 1:15). Hy hoef maar net te vra, en God ‘gee hom nasies as sy erfdeel en die eindes van die aarde as sy besitting’. Jesus doen hierdie versoek as iemand wat ‘lief is vir dinge wat met die mensekinders verband hou’ en omdat hy die opregte begeerte het om sy hemelse Vader se wil vir die aarde en die mensdom uit te voer.—Spreuke 8:30, 31.
Jehovah se verordening teen die nasies
16, 17. Wat lê volgens Psalm 2:9 vir die nasies voor?
16 Wat wag op die nasies, aangesien die tweede psalm nou, gedurende Jesus Christus se onsigbare teenwoordigheid, vervul word? Die Koning sal binnekort God se woorde uitvoer: “Jy sal hulle [die nasies] met ’n ystersepter breek, asof hulle ’n pottebakkershouer is, sal jy hulle stukkend slaan.”—Psalm 2:9.
17 Die septers van eertydse konings was simbole van koninklike gesag. Party septers was van yster gemaak, soos die een wat in hierdie psalm genoem word. Die beeldspraak wat hier gebruik word, toon hoe maklik Christus, die Koning, die nasies sal vernietig. ’n Kragtige hou met ’n ystersepter sal ’n pottebakkershouer heeltemal verbrysel.
18, 19. Wat moet die konings van die aarde doen om God se goedkeuring te verkry?
18 Het die heersers van die nasies geen ander keuse as om hierdie vernietigende verbryseling te aanskou nie? Nee, want die psalmis doen met hierdie woorde ’n beroep op hulle: “Nou, o konings, tree met insig op; laat julle teregwys, o regters van die aarde” (Psalm 2:10). Konings word gevra om gehoor te gee, om met insig op te tree. Hulle moet dink hoe leeg hulle planne is in vergelyking met wat God se Koninkryk tot voordeel van die mens sal doen.
19 Om God se goedkeuring te verkry, moet die konings van die aarde hulle weë verander. Hulle word gemaan: “Dien Jehovah met vrees en wees bly met bewing” (Psalm 2:11). Gestel hulle volg hierdie raad. Dan hoef hulle nie in beroering, of ’n verontruste toestand, te wees nie, maar hulle kan hulle verheug in die vooruitsigte wat die Messiaanse Koning hulle sal bied. Die aarde se heersers sal die trots en hoogmoed waarmee hulle hulle heerskappy uitoefen, moet laat vaar. Verder sal hulle sonder versuim moet verander en met insig moet optree ten opsigte van die onvergelyklike verhewenheid van Jehovah se soewereiniteit en die onstuitbare krag van God en sy Messiaanse Koning.
“Kus die seun”
20, 21. Wat beteken dit om ‘die seun te kus’?
20 Psalm 2 rig nou ’n barmhartige uitnodiging aan die heersers van die nasies. Hulle word aangeraai om nie in teenstand saam te span nie, maar eerder die volgende te doen: “Kus die seun, sodat Hy [Jehovah God] nie vertoornd word en julle van die weg vergaan nie, want sy toorn vlam maklik op” (Psalm 2:12a). Wanneer die Soewereine Heer Jehovah ’n verordening uitvaardig, moet daar aan hom gehoor gegee word. Toe God sy Seun op die troon geplaas het, moes die heersers van die aarde opgehou het om ‘iets leegs te mompel’. Hulle moes die Koning onmiddellik erken het en hom ten volle gehoorsaam het.
21 Waarom moet ‘die seun gekus’ word? Destyds, toe hierdie psalm geskryf is, was ’n kus ’n blyk van vriendskap en is dit gegee om gaste te verwelkom in ’n mens se huis, waar hulle gasvryheid kon geniet. ’n Kus kon ook ’n blyk wees van lojaliteit, of getrouheid (1 Samuel 10:1). In hierdie vers van die tweede psalm beveel God die nasies om sy Seun as die gesalfde Koning te kus, of te verwelkom.
22. Op watter waarskuwing moet die heersers van die nasies ag slaan?
22 Diegene wat weier om die gesag van God se gekose Koning te erken, beledig Jehovah. Hulle ontken Jehovah God se universele soewereiniteit, asook sy gesag en vermoë om die Koning te kies wat die beste heerser vir die mensdom is. Die heersers van die nasies sal vind dat God se grimmigheid skielik op hulle uitgestort sal word wanneer hulle hulle eie planne probeer uitvoer. “Sy toorn vlam maklik op”, of ontbrand gou en is onstuitbaar. Die heersers van die volke moet hierdie waarskuwing dankbaar aanvaar en in ooreenstemming daarmee optree. Dit sal die lewe beteken.
23. Daar is nog tyd vir individue om wat te doen?
23 Hierdie dramatiese psalm sluit so af: “Gelukkig is almal wat hulle toevlug tot hom [Jehovah] neem” (Psalm 2:12b). Daar is nog tyd vir individue om veiligheid te vind. Dit geld selfs vir individuele heersers wat die planne van die nasies ondersteun het. Hulle kan na Jehovah vlug, wat toevlug bied onder die Koninkryksheerskappy. Maar hulle moet optree voordat die Messiaanse Koninkryk die nasies vernietig wat dit teëstaan.
24. Hoe kan ons selfs in hierdie wêreld vol probleme ’n bevredigender lewe lei?
24 As ons die Skrif ywerig bestudeer en die raad daarin in ons lewe toepas, kan ons selfs nou in hierdie wêreld vol probleme ’n bevredigender lewe lei. Die toepassing van Bybelraad lei tot gelukkiger gesinsverhoudings en bevry ons van baie van die bekommernisse en vrese wat hierdie wêreld teister. As ons die Bybel se leiding volg, gee dit ons die vertroue dat ons die Skepper behaag. Net die Universele Soewerein kan ’n waarborg gee van “die teenswoordige en die toekomstige lewe” nadat hy die aarde gereinig het van diegene wat hulle verset teen wat reg is deur Koninkryksheerskappy te verwerp.—1 Timoteus 4:8.
25. Watter gebeure kan ons in ons tyd verwag, aangesien “die verordening van Jehovah” nie kan misluk nie?
25 “Die verordening van Jehovah” kan nie misluk nie. As ons Skepper weet God wat die beste vir die mensdom is en sal hy sy voorneme vervul om gehoorsame mense te seën met vrede, tevredenheid en blywende veiligheid onder die Koninkryk van sy geliefde Seun. Aangaande ons tyd het die profeet Daniël geskryf: “In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. . . . Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44). Dit is ongetwyfeld dan nou die tyd om ‘die Seun te kus’ en die Soewereine Heer, Jehovah, te dien!
[Voetnote]
a Aanvanklik was koning Dawid die “gesalfde”, en “die konings van die aarde” was die Filistynse heersers wat met hulle leërs teen hom saamgespan het.
b Ander tekste in die Christelike Griekse Geskrifte toon ook dat Jesus God se Gesalfde is na wie daar in die tweede psalm verwys word. Dit is duidelik wanneer Psalm 2:7 vergelyk word met Handelinge 13:32, 33 en Hebreërs 1:5; 5:5. Sien ook Psalm 2:9 en Openbaring 2:27.
Hoe sal jy antwoord?
• In watter sin het die volksgroepe “iets leegs bly mompel”?
• Waarom bespot Jehovah die nasies?
• Wat is God se verordening teen die nasies?
• Wat beteken dit om ‘die seun te kus’?
[Prent op bladsy 16]
Dawid het gesing oor die seëvierende Messiaanse Koning
[Prent op bladsy 17]
Heersers en die volk Israel het teen Jesus Christus saamgesweer
[Prent op bladsy 18]
Christus is ingehuldig as Koning op die hemelse berg Sion