Bejaardes—Kosbare lede van ons Christenbroederskap
“Dié wat in die huis van Jehovah geplant is, . . . sal bloei. Hulle sal nog in die grysheid bly floreer.”—PSALM 92:13, 14.
1. Hoe beskou baie mense bejaardes?
JEHOVAH het al sy getroue knegte lief, waaronder diegene wat gevorderd in jare is. Maar volgens ’n landwye raming word daar elke jaar byna ’n halfmiljoen bejaardes in die Verenigde State mishandel of verwaarloos. Soortgelyke verslae van oor die hele wêreld toon dat die mishandeling van bejaardes ’n wêreldwye probleem is. Die oorsaak hiervan is, soos een organisasie dit noem, “die heersende gesindheid onder baie mense . . . dat ouer persone nutteloos, onproduktief en te afhanklik is”.
2. (a) Hoe beskou Jehovah sy getroue bejaarde knegte? (b) Watter hartverblydende beskrywing vind ons in Psalm 92:12-15?
2 Jehovah God beskou sy lojale bejaarde knegte as kosbaar. Hy kyk na “die mens wat ons innerlik is”—ons geestelike toestand—en nie na ons fisiese beperkings nie (2 Korintiërs 4:16). In sy Woord, die Bybel, vind ons die volgende hartverblydende versekering: “Die regverdige sal bloei soos ’n palmboom; soos ’n seder op die Libanon sal hy groot word. Dié wat in die huis van Jehovah geplant is, in die voorhowe van ons God, hulle sal bloei. Hulle sal nog in die grysheid bly floreer, vet en vars sal hulle bly, om te verkondig dat Jehovah reg is” (Psalm 92:12-15). ’n Bespreking van hierdie verse sal toon op watter maniere julle as bejaardes ’n waardevolle bydrae tot die Christenbroederskap kan maak.
‘Floreer in die grysheid’
3. (a) Waarom word regverdiges met palmbome vergelyk? (b) Hoe kan ouer mense ‘in die grysheid floreer’?
3 Die psalmis vergelyk die regverdiges met palmbome wat ‘in die voorhowe van ons God geplant is’. “In die grysheid bly [hulle] floreer.” ’n Ander vertaling lui: “In die gryse ouderdom sal hulle nog vrugte dra” (Die Bybel, 1953). Stem jy nie saam dat dit ’n bemoedigende gedagte is nie? Grasieuse, regop palmbome was in Bybeltye ’n algemene gesig in ’n Oosterse binnehof. Palmbome is nie net vir versiering aangeplant nie, maar ook weens die oorvloed vrugte wat hulle gedra het—sommige bome kan meer as honderd jaar lank vrugte dra.a Deur stewig in ware aanbidding gewortel te bly, kan jy ook “voortgaan om vrug te dra in elke goeie werk”.—Kolossense 1:10.
4, 5. (a) Watter belangrike vrug moet Christene voortbring? (b) Gee skriftuurlike voorbeelde van ouer mense wat “die vrug van die lippe” voortgebring het.
4 Jehovah verwag van Christene om “die vrug van die lippe” voort te bring—woorde tot lof van hom en sy voornemens (Hebreërs 13:15). Is dit op jou as ’n ouer persoon van toepassing? Dit is beslis.
5 Die Bybel bevat voorbeelde van ouer mense wat vreesloos van Jehovah se naam en voornemens getuig het. Moses was reeds oor die “sewentig jaar” toe Jehovah hom as sy profeet en verteenwoordiger geroep het (Psalm 90:10; Eksodus 4:10-17). ’n Gevorderde leeftyd het nie die profeet Daniël verhinder om vreesloos te getuig van Jehovah se soewereiniteit nie. Daniël was waarskynlik al in sy negentigerjare toe Belsasar hom ontbied het om die geheimsinnige handskrif teen die muur uit te lê (Daniël, hoofstuk 5). En wat van die bejaarde apostel Johannes? Teen die einde van sy lang loopbaan was hy ’n gevangene op die eiland Patmos ‘omdat hy oor God gepraat en van Jesus getuig het’ (Openbaring 1:9). Jy kan heel moontlik aan baie ander Bybelkarakters dink wat “die vrug van die lippe” in hulle latere jare voortgebring het.—1 Samuel 8:1, 10; 12:2; 1 Konings 14:4, 5; Lukas 1:7, 67-79; 2:22-32.
6. Hoe het Jehovah “ou manne” gebruik om in hierdie laaste dae te profeteer?
6 Die apostel Petrus het die Hebreeuse profeet Joël aangehaal en gesê: “‘In die laaste dae’, sê God, ‘sal ek van my gees op elke soort vlees [ook op “ou manne”] uitstort, . . . en hulle sal profeteer’” (Handelinge 2:17, 18; Joël 2:28). Jehovah gebruik dus in hierdie laaste dae bejaarde lede van die gesalfde klas en van die “ander skape” om sy voornemens bekend te maak (Johannes 10:16). Party van hulle bring al dekades lank getrou Koninkryksvrugte voort.
7. Lig toe hoe ouer mense ondanks fisiese beperkings steeds Koninkryksvrugte voortbring.
7 Beskou die voorbeeld van Sonia, wat in 1941 ’n voltydse Koninkryksverkondiger geword het. Ondanks ’n lang stryd met chroniese siekte het sy gereeld Bybelstudies in haar huis gehou. “Die verkondiging van die goeie nuus is deel van my lewe”, het Sonia verduidelik. “Eintlik ís dit my lewe. Ek weier om af te tree.” Nie lank gelede nie het Sonia en haar suster, Olive, die Bybel se boodskap van hoop aan Janet oorgedra, ’n terminale pasiënt wat hulle in ’n hospitaalwagkamer ontmoet het. Janet se moeder, ’n vroom Katoliek, was so beïndruk deur hierdie liefdevolle belangstelling in haar dogter, dat sy die aanbod van ’n tuisbybelstudie aanvaar het en nou uitstekende vordering maak. Kan jy soortgelyke geleenthede aangryp om Koninkryksvrugte voort te bring?
8. Hoe het die bejaarde Kaleb sy vertroue in Jehovah geopenbaar, en hoe kan bejaarde Christene sy voorbeeld navolg?
8 Deur moedig in die Koninkrykspredikingswerk te volhard ten spyte van die beperkings wat bejaardheid meebring, volg ouer Christene in die voetstappe van die getroue Israeliet Kaleb, wat vier dekades lank saam met Moses in die wildernis rondgetrek het. Kaleb was 79 jaar oud toe hy die Jordaanrivier oorgesteek en die Beloofde Land binnegegaan het. Nadat hy ses jaar lank in Israel se seëvierende leër geveg het, kon hy op sy louere gerus het. Maar nee, hy het moedig versoek dat die moeilike toewysing aan hom gegee word om die “groot versterkte stede” in die bergstreek van Juda in te neem, ’n gebied wat bewoon is deur die Enakiete, manne wat buitengewoon groot was. Met Jehovah se hulp het Kaleb hulle “uit hulle besitting verdryf, net soos Jehovah beloof het” (Josua 14:9-14; 15:13, 14). Terwyl jy voortgaan om Koninkryksvrugte op jou hoë ouderdom voort te bring, kan jy verseker wees dat Jehovah met jou is, net soos hy met Kaleb was. En as jy getrou bly, sal hy jou ’n plek in sy beloofde nuwe wêreld gee.—Jesaja 40:29-31; 2 Petrus 3:13.
“Vet en vars sal hulle bly”
9, 10. Hoe bly ouer Christene gesond in die geloof en behou hulle hulle geestelike krag? (Sien venster op bladsy 13.)
9 Die psalmis het in ’n lied die aandag daarop gevestig dat bejaarde knegte van Jehovah vrug sou dra: “Die regverdige sal bloei soos ’n palmboom; soos ’n seder op die Libanon sal hy groot word. Hulle sal nog in die grysheid bly floreer, vet en vars sal hulle bly.”—Psalm 92:12, 14.
10 Hoe kan jy jou geestelike krag behou ondanks ’n gevorderde leeftyd? Die geheim van die palmboom se meerjarige prag lê in die feit dat dit deur ’n standhoudende bron van varswater gevoed word. Jy kan ook krag put uit die waters van Bybelwaarheid deur God se Woord te bestudeer en met sy organisasie om te gaan (Psalm 1:1-3; Jeremia 17:7, 8). Jou geestelike krag maak van jou ’n waardevolle aanwins vir medegelowiges. Kyk hoe dit die geval was met die bejaarde hoëpriester Jojada.
11, 12. (a) Watter belangrike rol het Jojada gespeel in die geskiedenis van die koninkryk van Juda? (b) Hoe het Jojada sy invloed gebruik om ware aanbidding te bevorder?
11 Jojada was waarskynlik al oor die honderd jaar oud toe die ambisieuse koningin Atalia beheer oor Juda oorgeneem het deur haar eie kleinkinders te vermoor. Wat kon die bejaarde Jojada doen? Hy en sy vrou het die enigste oorlewende koninklike erfgenaam, Joas, ses jaar lank in die tempel weggesteek. Toe het Jojada, op dramatiese wyse, die sewejarige Joas koning gemaak en Atalia laat teregstel.—2 Kronieke 22:10-12; 23:1-3, 15, 21.
12 As die koning se voog het Jojada sy invloed gebruik om ware aanbidding te bevorder. Hy het “’n verbond gesluit tussen hom en die hele volk en die koning, dat hulle die volk van Jehovah sou bly”. Op Jojada se bevel het die volk die huis van die valse god Baäl afgebreek en sy altare, beelde en priesters verwyder. Dit was ook onder Jojada se leiding dat Joas tempeldienste weer ingestel het en dringende herstelwerk aan die tempel laat doen het. “Joas het bly doen wat reg was in Jehovah se oë, al sy dae waarin die priester Jojada hom onderrig het” (2 Kronieke 23:11, 16-19; 24:11-14; 2 Konings 12:2). Toe Jojada op die ouderdom van 130 gesterf het, is hy die buitengewone eer gegee om by die konings begrawe te word omdat “hy goed gedoen het in Israel en teenoor die ware God en Sy huis”.—2 Kronieke 24:15, 16.
13. Hoe kan ouer Christene ‘goed doen teenoor die ware God en sy huis’?
13 Dalk beperk swak gesondheid of ander omstandighede wat jy kan doen om ware aanbidding te bevorder. Selfs as dit die geval is, is dit binne jou vermoë om ‘goed te doen teenoor die ware God en sy huis’. Jy kan ywer vir Jehovah se geestelike huis toon deur jou bywoning van en deelname aan gemeentelike vergaderinge en deur aan die veldbediening deel te neem wanneer moontlik. As jy die Bybel se raad gewillig aanvaar en “die getroue en verstandige slaaf” en die gemeente lojaal ondersteun, sal dit ’n versterkende uitwerking op die Christenbroederskap hê (Matteus 24:45-47). Jy kan ook medeaanbidders “tot liefde en goeie werke” aanspoor (Hebreërs 10:24, 25; Filemon 8, 9). En jy sal ’n seën vir ander wees as jy in ooreenstemming met die apostel Paulus se raad optree: “Laat die bejaarde manne matig in hulle gewoontes wees, ernstig, gesond van verstand, gesond [“sterk”, An American Translation] in geloof, in liefde, in volharding. Net so moet die bejaarde vroue hulle gedra soos dit die heiliges betaam, nie laster of aan baie wyn verslaaf wees nie, onderrigters van wat goed is.”—Titus 2:2-4.
14. Hoe kan Christenopsieners wat al lank dien, ware aanbidding bevorder?
14 Dien jy al jare lank as ’n gemeentelike ouer man? “Gebruik die wysheid wat jy met die jare verwerf het, op ’n onselfsugtige wyse”, is die raad van een gemeentelike ouer man wat al lank dien. “Delegeer verantwoordelikheid en laat diegene wat ’n gewillige gees het, by jou ondervinding baat vind . . . Sien die potensiaal in ander. Help hulle om dit te ontwikkel. Bou vir die toekoms” (Deuteronomium 3:27, 28). Jou opregte belangstelling in die immer toenemende Koninkrykswerk sal tot baie seëninge vir ander in ons Christenbroederskap lei.
“Verkondig dat Jehovah reg is”
15. Hoe verkondig bejaarde Christene dat “Jehovah reg is”?
15 Ouer knegte van God vervul vreugdevol hulle verantwoordelikheid om “te verkondig dat Jehovah reg is”. As jy ’n bejaarde Christen is, kan jou woorde en dade vir ander toon dat ‘Jehovah jou Rots is, in wie daar geen onregverdigheid is nie’ (Psalm 92:15). Die palmboom lewer ’n stille getuienis oor sy Skepper se voortreflike eienskappe. Maar Jehovah het jou die voorreg gegee om vir diegene wat nou ware aanbidding aanneem, van hom te vertel (Deuteronomium 32:7; Psalm 71:17, 18; Joël 1:2, 3). Waarom is dit belangrik?
16. Watter voorbeeld in die Bybel toon hoe belangrik dit is om “te verkondig dat Jehovah reg is”?
16 Toe die Israelitiese leier Josua “oud en gevorderd in dae” was, het hy “die hele Israel, sy ouer manne en sy hoofde en sy regters en sy beamptes, geroep” om hulle te herinner aan God se regverdige handelinge. Hy het gesê: “Nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie. Alles is vir julle bewaarheid” (Josua 23:1, 2, 14). Hierdie woorde het ’n tyd lank die volk se vasbeslotenheid versterk om getrou te bly. Maar ná Josua se dood het “’n ander geslag begin opstaan wat nie Jehovah of die werk wat hy vir Israel gedoen het, geken het nie. En die kinders van Israel het begin doen wat sleg was in die oë van Jehovah en die Baäls gedien.”—Rigters 2:8-11.
17. Hoe het Jehovah in hedendaagse tye met sy volk gehandel?
17 Die onkreukbaarheid van die hedendaagse Christengemeente is nie afhanklik van die mondelinge getuienis van ouer knegte van God nie. Tog word ons geloof in Jehovah en sy beloftes versterk wanneer ons eerstehandse verslae hoor van die “groot werke” wat hy in hierdie laaste dae vir sy volk gedoen het (Rigters 2:7; 2 Petrus 1:16-19). As jy al baie jare met Jehovah se organisasie assosieer, kan jy moontlik die tyd onthou toe daar baie min Koninkryksverkondigers in julle omgewing of land was of toe die predikingswerk hewig teëgestaan is. Mettertyd het jy gesien hoe Jehovah sekere struikelblokke uit die weg ruim en Koninkryksvermeerdering “bespoedig” (Jesaja 54:17; 60:22). Jy het gesien hoe Bybelwaarhede duideliker word en hoe progressiewe verbeteringe in die sigbare deel van God se organisasie aangebring word (Spreuke 4:18; Jesaja 60:17). Probeer jy ander opbou deur vir hulle te vertel wat jy ondervind het in verband met Jehovah se regverdige handelinge? Wat ’n positiewe en versterkende uitwerking kan dit tog op die Christenbroederskap hê!
18. (a) Lig toe watter langtermynuitwerking dit het as ons aan ander “verkondig dat Jehovah reg is”. (b) Hoe het jy persoonlik ondervind dat Jehovah regverdig is?
18 Wat van die kere toe jy Jehovah se liefdevolle sorg en leiding in jou persoonlike lewe ondervind het? (Psalm 37:25; Matteus 6:33; 1 Petrus 5:7). ’n Bejaarde suster met die naam Marta het ander altyd aangemoedig deur te sê: “Wat ook al gebeur, moet nooit Jehovah verlaat nie. Hy sal jou onderskraag.” Hierdie raad het ’n diep indruk gemaak op Tolmina, een van Marta se Bybelstudente wat in die vroeë 1960’s gedoop is. “Toe my man gesterf het”, vertel Tolmina, “het ek baie mismoedig gevoel, maar daardie woorde het my vasbeslote gemaak om nie van ’n enkele vergadering af weg te bly nie. En Jehovah het my werklik versterk om te volhard.” Tolmina het deur die jare heen dieselfde raad aan baie van háár Bybelstudente gegee. Ja, jy kan grootliks help om die geloof van medegelowiges op te bou deur hulle te bemoedig en hulle van Jehovah se regverdige handelinge te vertel.
Getroue bejaardes is kosbaar vir Jehovah
19, 20. (a) Hoe beskou Jehovah die werk van sy bejaarde knegte? (b) Wat gaan in die volgende artikel bespreek word?
19 Die wêreld van vandag, wat gekenmerk word deur ’n gebrek aan waardering, het min tyd vir bejaardes (2 Timoteus 3:1, 2). Wanneer hulle onthou word, is dit dikwels vir hulle prestasies van die verlede—wat hulle was en nie wat hulle is nie. Die Bybel sê daarenteen: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het deurdat julle die heiliges gedien het en nog dien nie” (Hebreërs 6:10). Jehovah God onthou beslis jou rekord van getroue werke. Maar hy waardeer jou ook vir wat jy nog steeds in sy diens doen. Ja, hy beskou getroue oues van dae as vrugbare, geestelik gesonde en sterk Christene—’n lewende getuienis van sy krag.—Filippense 4:13.
20 Beskou jy die ouer lede van ons Christenbroederskap soos Jehovah hulle beskou? Indien wel, sal dit jou beweeg om jou liefde aan hulle te betoon (1 Johannes 3:18). Die volgende artikel gaan ’n paar praktiese maniere bespreek om sulke liefde te betoon deur na hulle behoeftes om te sien.
[Voetnoot]
a Elke dadeltros kan tot ’n duisend individuele vrugte dra en agt kilogram of meer weeg. Een skrywer skat dat “elke vrugdraende [palmboom] in sy leeftyd twee of drie ton dadels aan sy eienaars sal lewer”.
Wat is jou antwoorde?
• Hoe kan bejaardes “vrugte dra”?
• Waarom is die geestelike krag van ouer Christene ’n waardevolle aanwins?
• Hoe kan ouer mense “verkondig dat Jehovah reg is”?
• Waarom is Jehovah se knegte wat hom al lank dien, vir hom kosbaar?
[Venster op bladsy 13]
Hoe hulle gesond in die geloof gebly het
Wat het persone wat al lank as Christene dien, gehelp om gesond in die geloof te bly en hulle geestelike krag te behou? Hier volg ’n paar kommentare:
“Dit is baie belangrik om tekste te lees wat oor ons verhouding met Jehovah handel. Die meeste aande sê ek Psalm 23 en 91 in my gedagtes op.”—Olive, gedoop in 1930.
“Ek maak ’n punt daarvan om elke dooptoespraak by te woon en aandagtig te luister, asof dit ek is wat gedoop gaan word. Om my toewyding gedurig voor my te hou, is vir my ’n belangrike manier om getrou te bly.”—Harry, gedoop in 1946.
“Daaglikse gebed is onontbeerlik—om altyd Jehovah se hulp, beskerming en seën te vra, ‘om in al ons weë op hom ag te slaan’” (Spreuke 3:5, 6).—Antônio, gedoop in 1951.
“Wanneer ek die ondervindinge van diegene hoor wat Jehovah ná soveel jaar nog steeds getrou dien, hernieu dit my vasbeslotenheid om lojaal en getrou aan hom te bly.”—Joan, gedoop in 1954.
“Dit is belangrik dat ’n mens nie te veel van jouself dink nie. Wat ons het, is te danke aan God se onverdiende goedhartigheid. Hierdie siening help ons om ons te wend tot die regte kanaal vir die geestelike voeding wat ons nodig het om tot die einde toe te volhard.”—Arlene, gedoop in 1954.
[Prent op bladsy 11]
Bejaardes bring waardevolle Koninkryksvrugte voort
[Prent op bladsy 14]
Die geestelike krag van bejaardes maak hulle ’n waardevolle aanwins