Bybelboek nommer 44—Handelinge
Skrywer: Lukas
Waar geskryf: Rome
Geskrif voltooi: ca. 61 G.J.
Beskrewe tydperk: 33–ca. 61 G.J.
1, 2. (a) Watter geskiedkundige gebeure en bedrywighede word in Handelinge beskryf? (b) Watter tydperk dek die boek?
IN DIE 42ste boek van die geïnspireerde Skrif gee Lukas ’n verslag wat handel oor die lewe, werk en bediening van Jesus en sy volgelinge tot met Jesus se hemelvaart. Die geskiedverslag van die 44ste boek van die Skrif, Die Handelinge van die Apostels, sit die geskiedenis van die vroeë Christelike godsdiens voort deur te beskryf hoe die gemeente deur die werking van die heilige gees gestig is. Dit beskryf ook hoe die getuieniswerk uitgebrei het, eers onder die Jode en toe na mense van al die nasies. Die grootste deel van die materiaal in die eerste 12 hoofstukke dek die bedrywighede van Petrus, en die oorblywende 16 hoofstukke die bedrywighede van Paulus. Lukas het intieme omgang met Paulus gehad, daar hy hom op baie van sy reise vergesel het.
2 Die boek is aan Theofilus gerig. Aangesien hy “hooggeagte” genoem word, het hy moontlik ’n amptelike posisie beklee, of dit kon bloot ’n betuiging van hoogagting gewees het (Luk. 1:3). Die verslag verskaf ’n akkurate geskiedkundige beskrywing van die stigting en groei van die Christengemeente. Dit begin met Jesus se verskynings aan sy dissipels ná sy opstanding en beskryf dan belangrike gebeure wat in die tydperk van 33 tot omstreeks 61 G.J. plaasgevind het, wat altesaam ongeveer 28 jaar dek.
3 .Wie het die boek Handelinge geskryf, en wanneer is die geskrif voltooi?
3 Reeds in die ou tyd is Handelinge aan die skrywer van die Evangelie van Lukas toegeskryf. Albei boeke is aan Theofilus gerig. Deur die laaste gebeure van sy Evangelie in die eerste verse van Handelinge te herhaal, verbind Lukas die twee verslae met mekaar as die werk van dieselfde skrywer. Dit wil voorkom of Lukas Handelinge omstreeks 61 G.J. voltooi het, waarskynlik teen die einde van ’n tweejarige verblyf in Rome in die geselskap van die apostel Paulus. Aangesien dit gebeure beskryf wat in daardie jaar plaasgevind het, kon dit nie vroeër voltooi gewees het nie, en die feit dat dit nie die uitslag van Paulus se beroep op die keiser meld nie, dui daarop dat dit teen daardie jaar voltooi was.
4. Wat bewys dat Handelinge kanoniek en eg is?
4 Van die vroegste tye af is Handelinge deur Bybelgeleerdes as kanoniek aanvaar. Dele van die boek kan gevind word onder party van die oudste bestaande papirusmanuskripte van die Griekse Geskrifte, veral die Michigan nr. 1571 (P38) van die derde of vierde eeu G.J. en Chester Beatty nr. 1 (P45) van die derde eeu. Hulle albei dui daarop dat Handelinge saam met ander boeke van die geïnspireerde Skrif in omloop was en gevolglik op ’n vroeë tydstip ’n deel van die katalogus was. Lukas se verslag in die boek Handelinge weerspieël dieselfde merkwaardige akkuraatheid wat, soos ons reeds gesien het, sy Evangelie kenmerk. Sir William M. Ramsay beskou die skrywer van Handelinge as “een van die eersterangse historici”, en hy verduidelik wat dit beteken deur te sê: “Die eerste en die essensiële eienskap van die groot historikus is waarheid. Wat hy sê, moet betroubaar wees.”a
5. Lig Lukas se akkurate beriggewing toe.
5 Ter toeligting van die akkurate beriggewing wat so kenmerkend van Lukas se geskrifte is, haal ons Edwin Smith aan, bevelvoerder van ’n flottielje Britse oorlogskepe in die Middellandse See gedurende die Eerste Wêreldoorlog, wat in die tydskrif The Rudder, Maart 1947, geskryf het: “Die ou vaartuie is nie soos dié in moderne tye deur ’n enkele roer aan die agterstewe gestuur nie, maar deur twee groot roei- of skepspane, een aan elke kant van die agterstewe; vandaar die vermelding daarvan in die meervoud deur St. Lukas [Handelinge 27:40]. . . . In ons ondersoek het ons gesien dat elke opmerking wat St. Lukas oor die bewegings van hierdie skip gemaak het, van die tyd dat dit Mooi Hawens verlaat het totdat dit by Malta op die strand geloop het, deur eksterne en onafhanklike getuienis van die noukeurigste en bevredigendste aard bevestig is; en dat sy verklarings oor hoe lank die skip op see gebly het, ooreenstem met die afstand wat afgelê is; en laastelik dat sy beskrywing van die plek van aankoms ooreenstem met die plek soos dit is. Dit alles toon dat Lukas werklik die beskrewe reis meegemaak het en dat hy hom bowendien onderskei het as ’n man wie se waarnemings en verklarings tot in die hoogste mate betroubaar en geloofwaardig geag kan word.”b
6. Watter voorbeelde toon hoe argeologiese vondste die akkuraatheid van Handelinge staaf?
6 Argeologiese vondste staaf ook die akkuraatheid van Lukas se verslag. In Efese is die tempel van Artemis (Diana) asook die ou teater waar die Efesiërs teen die apostel Paulus betoog het byvoorbeeld opgegrawe (Hand. 19:27-41). Inskripsies is ontdek wat die juistheid van Lukas se gebruik van die titel “stadsbestuurders” vir die amptenare van Thessalonika bevestig (17:6, 8, NW). Twee Maltese inskripsies toon dat Lukas ook korrek was om Publius “die hoof” van Malta te noem.—28:7.c
7. Hoe toon die opgetekende toesprake dat die verslag van Handelinge feitelik is?
7 Verder verskil die toesprake deur Petrus, Stefanus, Cornelius, Tertullus, Paulus en ander, soos deur Lukas opgeteken, almal in styl en samestelling. Selfs die toesprake van Paulus, wat voor verskillende gehore gehou is, wissel in styl na gelang van die geleentheid. Dit dui daarop dat Lukas net opgeteken het wat hy self gehoor het of wat ander ooggetuies hom meegedeel het. Lukas was nie ’n fiksieskrywer nie.
8. Wat vertel die Skrif ons van Lukas en sy omgang met Paulus?
8 Daar is baie min bekend oor die persoonlike lewe van Lukas. Lukas was nie ’n apostel nie, maar hy het omgegaan met diegene wat wel apostels was (Luk. 1:1-4). Die apostel Paulus meld Lukas in drie gevalle by name (Kol. 4:10, 14; 2 Tim. 4:11; Fil. 24). Hy was jare lank die getroue metgesel van Paulus, wat hom ‘die geliefde geneesheer’ genoem het. “Hulle” en “ons” wissel mekaar in die verslag af, wat daarop dui dat Lukas gedurende Paulus se tweede sendingreis saam met Paulus in Troas was, dat hy moontlik in Filippi agtergebly het totdat Paulus enkele jare later teruggekeer het en dat hy toe weer by Paulus aangesluit het en hom op sy reis na Rome vir die verhoor vergesel het.—Hand. 16:8, 10; 17:1; 20:4-6; 28:16.
INHOUD VAN HANDELINGE
9. Wat word die dissipels ten tyde van Jesus se hemelvaart meegedeel?
9 Gebeure tot Pinkster (1:1-26). Wanneer Lukas sy tweede verslag begin, vertel die verrese Jesus sy gretige dissipels dat hulle met heilige gees gedoop sal word. Sal die Koninkryk in hierdie tyd herstel word? Nee. Maar hulle sal krag ontvang en getuies word “tot aan die uiterste van die aarde”. Wanneer Jesus opgeneem word en uit hulle gesig verdwyn, sê twee mans in wit klere vir hulle: “Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het.”—1:8, 11.
10. (a) Watter gedenkwaardige dinge gebeur op Pinksterdag? (b) Watter verduideliking gee Petrus, en waartoe lei dit?
10 Die gedenkwaardige Pinksterdag (2:1-42). Die dissipels is almal in Jerusalem byeen. Skielik vul ’n geluid soos van ’n voortstuwende wind die huis. Tonge soos van vuur sit op elkeen daar teenwoordig. Hulle word met heilige gees vervul en begin in verskillende tale “oor die groot dade van God” spreek (2:11). Toeskouers staan verbaas. Nou staan Petrus op en spreek. Hy verduidelik dat hierdie uitstorting van die gees ’n vervulling is van die profesie van Joël (2:28-32) en dat Jesus Christus, wat nou opgewek en tot God se regterhand verhoog is, ‘dit wat hulle sien en hoor, uitgestort het’. Diep in die hart getref, aanvaar ongeveer 3 000 die woord en word hulle gedoop.—2:33.
11. Hoe seën Jehovah die predikingswerk?
11 Die getuienis brei uit (2:43–5:42). Jehovah voeg daagliks mense wat gered word by hulle. Buite die tempel kom Petrus en Johannes ’n kreupel man teë wat nog nooit in sy lewe geloop het nie. “In die Naam van Jesus Christus, die Nasarener, staan op en loop!” beveel Petrus. Die man begin onmiddellik “rondloop en spring en God prys”. Petrus doen dan ’n beroep op die volk om tot inkeer te kom en hulle te bekeer, sodat “tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom”. Die godsdiensleiers, wat baie ontevrede is dat Petrus en Johannes Jesus se opstanding verkondig, neem hulle in hegtenis, maar die geledere van die gelowiges groei tot sowat 5 000 manne.—3:6, 8, 19.
12. (a) Watter antwoord gee die dissipels wanneer hulle beveel word om op te hou preek? (b) Waarvoor word Ananias en Saffira gestraf?
12 Die volgende dag word Petrus en Johannes vir ondervraging voor die Joodse owerstes gebring. Petrus getuig ronduit dat redding net deur Jesus Christus is, en wanneer hulle beveel word om hulle predikingswerk te staak, antwoord Petrus sowel as Johannes: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie” (4:19, 20). Hulle word vrygelaat, en al die dissipels gaan voort om die woord van God met vrymoedigheid te spreek. As gevolg van die omstandighede sit hulle hulle materiële besittings bymekaar en deel hulle dit uit na gelang van die behoefte. Maar ’n sekere Ananias en sy vrou Saffira verkoop eiendom en hou in die geheim ’n deel van die prys terug terwyl hulle voorgee dat hulle die hele som oorhandig. Petrus ontmasker hulle en hulle val dood neer omdat hulle God en die heilige gees probeer bedrieg het.
13. Waarvan word die apostels beskuldig, hoe antwoord hulle, en wat gaan hulle voort om te doen?
13 Die woedende godsdiensleiers gooi die apostels weer eens in die gevangenis, maar hierdie keer bevry Jehovah se engel hulle. Die volgende dag word hulle opnuut voor die Sanhedrin gebring en daarvan beskuldig dat hulle ‘Jerusalem met hulle leer vervul’. Hulle antwoord: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Hoewel hulle geslaan en gedreig word, weier hulle steeds om te swyg, en ‘hulle hou nie op om elke dag in die tempel en van huis tot huis te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, te verkondig nie’.—5:28, 29, 42.
14. Wat lei tot Stefanus se marteldood?
14 Stefanus se marteldood (6:1–8:1a). Stefanus is een van sewe wat deur die heilige gees aangestel word om voedsel uit te deel. Hy getuig ook kragtig van die waarheid, en sy ondersteuning van die geloof is so ywerig dat sy woedende teenstanders hom voor die Sanhedrin laat bring op aanklag van godslastering. In sy verdediging vertel Stefanus eers van Jehovah se lankmoedigheid jeens Israel. Dan kom hy met onbevreesde welsprekendheid tot die kern van die saak: ‘Hardnekkiges, julle weerstaan altyd die heilige gees, julle wat die Wet deur die beskikking van engele ontvang het maar dit nie gehou het nie’ (7:51-53). Dit is vir hulle eens te veel. Hulle storm op hom af, werp hom buite die stad en stenig hom. Saulus kyk goedkeurend toe.
15. Waartoe lei die vervolging, en watter ondervindinge het Filippus in sy prediking?
15 Vervolging, Saulus se bekering (8:1b–9:30). Weens die vervolging wat daardie dag teen die gemeente in Jerusalem uitbreek, word almal behalwe die apostels deur die hele land verstrooi. Filippus gaan na Samaria, waar baie die woord van God aanvaar. Petrus en Johannes word van Jerusalem af soontoe gestuur sodat hierdie gelowiges die heilige gees “deur die handoplegging van die apostels” kan ontvang (8:18). ’n Engel voer Filippus dan suidwaarts na die pad wat van Jerusalem na Gasa loop, waar hy ’n hofdienaar van die koninklike hof van Ethiopië aantref wat in sy strydwa ry en die boek Jesaja lees. Filippus lig hom in omtrent die betekenis van die profesie en doop hom.
16. Hoe kom Saulus tot bekering?
16 Intussen vertrek Saulus, ‘wat nog dreiging en moord teen die dissipels van die Here blaas’, om diegene wat in Damaskus tot “die Weg” behoort gevange te neem. Skielik flits ’n lig vanuit die hemel om hom heen, en hy val verblind op die grond neer. ’n Stem uit die hemel sê vir hom: “Ek is Jesus wat jy vervolg.” Na drie dae in Damaskus help ’n dissipel genaamd Ananias hom. Saulus kry sy gesig terug, word gedoop en word met die heilige gees vervul, sodat hy ’n ywerige en bekwame verkondiger van die goeie nuus word (9:1, 2, 5). Deur hierdie verbasende wending van gebeure word die vervolger die vervolgde en moet hy vir sy lewe vlug, eers uit Damaskus en dan uit Jerusalem.
17. Hoe gaan die goeie nuus na onbesnede nie-Jode?
17 Die goeie nuus gaan na onbesnede nie-Jode (9:31–12:25). Die gemeente geniet nou ’n tydperk van vrede, ‘en terwyl hulle opgebou word en in die vrees van Jehovah en die vertroosting van die heilige gees wandel, bly hulle vermeerder’ (9:31). In Joppe wek Petrus die geliefde Tabita (Dorkas) uit die dood op, en van hier af word hy geroep om na Cesarea te gaan, waar ’n leëroffisier met die naam Cornelius op hom wag. Hy preek vir Cornelius en sy huis en hulle glo, en die heilige gees word oor hulle uitgestort. Omdat Petrus sien “dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is”, doop hy hulle—die eerste onbesnede nie-Joodse bekeerlinge. Petrus verduidelik hierdie nuwe ontwikkeling later aan die broers in Jerusalem, waarop hulle God verheerlik.—10:34, 35.
18. (a) Wat gebeur vervolgens in Antiochië? (b) Watter vervolging breek uit, maar bereik dit die doel?
18 Terwyl die goeie nuus aanhou om vinnig te versprei, onderrig Barnabas en Saulus ’n aansienlike skare in Antiochië, ‘en die dissipels word in Antiochië vir die eerste keer deur goddelike voorsienigheid Christene genoem’ (11:26, vgl. NW). Vervolging breek weer eens uit. Herodes Agrippa I laat Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard ombring. Hy werp Petrus ook in die gevangenis, maar weer eens bevry Jehovah se engel Petrus. Wee die goddelose Herodes! Omdat hy versuim om God te verheerlik, word hy deur wurms opgevreet en sterf hy. Maar ‘die woord van Jehovah bly groei en toeneem’.—12:24.
19. Hoe uitgebreid is Paulus se eerste sendingreis, en wat word daardeur bereik?
19 Paulus se eerste sendingreis, met Barnabas (13:1–14:28).d Barnabas en “Saulus, dit is Paulus”, word deur die heilige gees afgesonder en van Antiochië uitgestuur (13:9). Op die eiland Ciprus word baie gelowiges, met inbegrip van die prokonsul Sergius Paulus. Op die vasteland van Klein-Asië besoek hulle ’n reeks van ses of meer stede, en dit is oral dieselfde: ’n Duidelike skeiding ontstaan tussen diegene wat die goeie nuus met blydskap aanvaar en die hardnekkige teenstanders wat die klipgooiende gepeupel teen Jehovah se boodskappers aanhits. Nadat Paulus en Barnabas ouere manne in die pas gestigte gemeentes aangestel het, keer hulle terug na Siriese Antiochië.
20. Deur watter besluit word die besnydeniskwessie opgelos?
20 Die besnydeniskwessie word opgelos (15:1-35). Met die groot instroming van nie-Jode ontstaan die vraag of hulle besny moet word. Paulus en Barnabas neem die kwessie na die apostels en die ouere manne in Jerusalem, waar die dissipel Jakobus die leiding neem en reël dat die eenstemmige besluit deur ’n formele brief uitgestuur word: “Die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery” (15:28, 29). Die aanmoediging in hierdie brief is vir die broers in Antiochië ’n rede tot vreugde.
21. (a) Wie vergesel Paulus op sy tweede sendingreis? (b) Watter gebeure kenmerk die besoek aan Macedonië?
21 Die bediening brei uit met Paulus se tweede reis (15:36–18:22).e “ ’n Paar dae daarna” vertrek Barnabas en Markus per boot na Ciprus, terwyl Paulus en Silas ’n reis deur Sirië en Klein-Asië onderneem (15:36). Die jong man Timotheüs sluit in Listre by Paulus aan en hulle reis verder na Troas aan die kus van die Egeïese See. Hier sien Paulus in ’n visioen ’n man wat hom smeek: “Kom oor na Macedonië en help ons!” (16:9). Lukas sluit by Paulus aan en hulle haal ’n skip na Filippi, die vernaamste stad van Macedonië, waar Paulus en Silas in die tronk gegooi word. Dit lei daartoe dat die tronkbewaarder ’n gelowige word en gedoop word. Na hulle vrylating reis hulle verder na Thessalonika, en daar steek die jaloerse Jode ’n gepeupel teen hulle op. Gevolglik stuur die broers vir Paulus en Silas in die nag weg na Berea. Hier lê die Jode edelmoedigheid aan die dag deur die woord “met alle welwillendheid [te] ontvang en elke dag die Skrifte [te] ondersoek” om te bevestig wat hulle geleer het (17:11). Paulus laat Silas en Timotheüs by hierdie nuwe gemeente agter, soos hy Lukas in Filippi agtergelaat het, en hy gaan suidwaarts na Athene.
22. Watter resultate lewer Paulus se puik toespraak op die Areopagus?
22 In hierdie stad van afgodsbeelde bespot hoogmoedige Epikureïese en Stoïsynse wysgere Paulus as ’n “praatjiesmaker” en ‘’n verkondiger van vreemde gode’, en hulle neem hom op na die Areopagus, of Marsheuwel. Met groot welsprekendheid betoog Paulus dat die ware God, die “Here van hemel en aarde”, gesoek moet word, die God wat ’n regverdige oordeel waarborg deur die een wat Hy uit die dood opgewek het. Die vermelding van die opstanding verdeel sy gehoor, maar party word gelowiges.—17:18, 24.
23. Wat word in Korinthe bereik?
23 Vervolgens bly Paulus in Korinthe by Aquila en Priscilla en maak hy saam met hulle tente. Teenstand teen sy prediking dwing hom om die sinagoge te verlaat en sy vergaderinge in die huis langsaan te hou, dié van Titius Justus. Crispus, die presiderende dienaar van die sinagoge, word ’n gelowige. Na ’n verblyf van 18 maande in Korinthe vertrek Paulus saam met Aquila en Priscilla na Efese, waar hy hulle agterlaat en verder reis na Antiochië in Sirië en sodoende sy tweede sendingreis voltooi.
24, 25. (a) Wat gebeur in Efese wanneer Paulus sy derde reis begin? (b) Watter opskudding kenmerk die einde van Paulus se driejarige verblyf aldaar?
24 Paulus besoek gemeentes weer, die derde reis (18:23–21:26).f ’n Jood met die naam Apollos kom van Alexandrië, Egipte, na Efese en spreek vrymoedig in die sinagoge oor Jesus, maar Aquila en Priscilla moet sy leer regstel voor hy verder gaan na Korinthe. Paulus is nou op sy derde reis en kom na verloop van tyd in Efese aan. Wanneer Paulus verneem dat die gelowiges hier met Johannes se doop gedoop is, verduidelik hy die doop in Jesus se naam. Dan doop hy omtrent 12 manne; en wanneer hy hulle die hande oplê, ontvang hulle die heilige gees.
25 Gedurende Paulus se driejarige verblyf in Efese ‘bly die woord van Jehovah met krag groei en sterk word’, en baie laat vaar hulle aanbidding van die stad se beskermgodin, Artemis (Diana) (19:20). Vertoornd oor die moontlikheid van ’n verlies in verdienste bring die makers van silwertempeltjies so ’n opskudding in die stad teweeg dat dit ure duur voordat die skare opgebreek is. Kort hierna vertrek Paulus na Macedonië en Griekeland, en hy besoek die gelowiges op pad soontoe.
26. (a) Watter wonder doen Paulus in Troas? (b) Watter raad gee hy die opsieners van Efese?
26 Paulus bly drie maande in Griekeland voor hy via Macedonië terugkeer, waar Lukas weer by hom aansluit. Hulle vaar oor na Troas, en hier raak ’n jong man aan die slaap en val hy by ’n venster op die derde verdieping uit terwyl Paulus tot in die nag toespraak hou. Hy word dood opgetel, maar Paulus wek hom op. Die volgende dag vertrek Paulus en sy geselskap na Milete, waar Paulus sy reis na Jerusalem onderbreek om ’n vergadering met die ouere manne van Efese te hou. Hy deel hulle mee dat hulle sy gesig nie meer sal sien nie. Hoe dringend is dit dan vir hulle om die leiding te neem en as herders die kudde van God, ‘waaroor die heilige gees hulle as opsieners aangestel het’, te versorg! Hy herinner hulle aan die voorbeeld wat hy onder hulle gestel het, en hy maan hulle om wakker te bly en hulleself nie te spaar wanneer hulle ten behoewe van die broers arbei nie (20:28). Hoewel Paulus gewaarsku word om nie na Jerusalem te gaan nie, draai hy nie om nie. Sy metgeselle berus daarin en sê: “Laat die wil van die Here geskied!” (21:14). Daar is groot vreugde wanneer Paulus by Jakobus en die ander ouere manne verslag doen oor God se seën op sy bediening onder die nasies.
27. Hoe word Paulus by die tempel ontvang?
27 Paulus word gevange geneem en verhoor (21:27–26:32). Wanneer Paulus in die tempel in Jerusalem verskyn, word hy vyandig ontvang. Jode van Asië stook die hele stad teen hom op en Romeinse soldate red hom net betyds.
28. (a) Watter kwessie opper Paulus voor die Sanhedrin, en met watter gevolg? (b) Waarheen word hy dan gestuur?
28 Wat is die rede vir die opskudding? Wie is hierdie Paulus? Wat is sy misdaad? Die dronkgeslane militêre bevelvoerder wil die antwoorde weet. Danksy Paulus se Romeinse burgerskap spring hy geseling vry en word hy voor die Sanhedrin gebring. A, ’n verdeelde hof van Fariseërs en Sadduseërs! Paulus opper derhalwe die kwessie van die opstanding, wat hulle teen mekaar laat draai. Wanneer die onenigheid heftig word, gryp die Romeinse soldate Paulus uit die midde van die Sanhedrin voordat hy verskeur word. In die nag word hy in die geheim onder ’n swaar soldategeleide na goewerneur Felix in Cesarea gestuur.
29. Watter reeks verhore ondergaan Paulus nadat hy van oproer beskuldig is, en op wie beroep hy hom?
29 Paulus, wat deur sy aanklaers van oproer beskuldig word, verdedig homself op bekwame wyse voor Felix. Maar Felix stel die saak uit in die hoop dat hy omkoopgeld vir Paulus se vrylating sal ontvang. Twee jaar verstryk. Porcius Festus volg Felix as goewerneur op, en ’n nuwe verhoor word gelas. Weer word ernstige aantygings gemaak, en weer verklaar Paulus sy onskuld. Maar in ’n poging om guns by die Jode te wen, doen Festus aan die hand dat nog ’n verhoor voor hom in Jerusalem plaasvind. Paulus verklaar derhalwe: “Ek beroep my op die keiser!” (25:11). Nog tyd verstryk. Uiteindelik bring koning Herodes Agrippa II ’n beleefdheidsbesoek aan Festus, en Paulus word weer na die regsaal gebring. Sy getuienis is so kragtig en oortuigend dat Agrippa vir hom sê: “Jy beweeg my byna om ’n Christen te word” (26:28). Agrippa besef eweneens dat Paulus onskuldig is en dat hy vrygelaat kon word as hy hom nie op die keiser beroep het nie.
30. Wat gebeur gedurende Paulus se reis tot by Malta?
30 Paulus gaan na Rome (27:1–28:31).g Die gevangene Paulus en ander word aan boord van ’n skip geneem vir die eerste skof van die reis na Rome. As gevolg van teenwinde is die vordering stadig. By die hawe Mira klim hulle op ’n ander skip oor. Wanneer hulle by Mooi Hawens, in Kreta, aankom, doen Paulus aan die hand dat hulle daar oorwinter, maar die meeste beveel aan dat hulle verder vaar. Hulle het skaars uitgevaar of ’n stormwind tref hulle en dryf hulle genadeloos voort. Na twee weke word hulle vaartuig eindelik op ’n sandbank langs die kus van Malta (Melite) aan stukke geslaan. Ooreenkomstig Paulus se vroeëre versekering verloor nie een van die 276 aan boord sy lewe nie! Die bewoners van Malta betoon hulle buitengewone mensliewendheid, en gedurende daardie winter genees Paulus baie van hulle deur die wonderdadige krag van God se gees.
31. Hoe word Paulus by sy aankoms in Rome gegroet, en waarmee hou hy hom daar besig?
31 Die volgende lente bereik Paulus Rome, en die broers kom hom op die pad tegemoet. Wanneer Paulus hulle sien, ‘dank hy God en skep moed’. Hoewel Paulus nog steeds ’n gevangene is, word hy toegelaat om in sy eie gehuurde huis te woon met soldate wat hom bewaak. Lukas sluit sy verslag af met die mededeling dat Paulus almal wat na hom toe kom vriendelik ontvang en ‘met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering die koninkryk van God preek en onderrig gee aangaande die Here Jesus Christus’.—28:15, 31.
WAAROM NUTTIG
32. Hoe het Petrus voor en op Pinkster van die egtheid van die Hebreeuse Geskrifte getuig?
32 Die boek Handelinge voeg sy getuienis by dié van die Evangelieverslae om die egtheid en inspirasie van die Hebreeuse Geskrifte te bevestig. Toe Pinkster nader gekom het, het Petrus die vervulling van twee profesieë aangehaal wat “die Heilige Gees voorspel het deur die mond van Dawid aangaande Judas” (Hand. 1:16, 20; Ps. 69:26; 109:8). Petrus het ook die verbaasde skare op Pinkster vertel dat hulle in werklikheid die vervulling van ’n profesie aanskou: “Dit is wat deur die profeet Joël gespreek is.”—Hand. 2:16-21; Joël 2:28-32; vergelyk ook Handelinge 2:25-28, 34, 35 met Psalm 16:8-11 en 110:1.
33. Hoe het Petrus, Filippus, Jakobus en Paulus almal getoon dat die Hebreeuse Geskrifte geïnspireer is?
33 Om ’n ander skare buite die tempel te oortuig, het Petrus weer die Hebreeuse Geskrifte gebruik deur eers Moses aan te haal en toe te sê: “En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig.” Later het Petrus voor die Sanhedrin Psalm 118:22 aangehaal om te toon dat Christus, die steen wat hulle verwerp het, die “hoeksteen” geword het (Hand. 3:22-24; 4:11). Filippus het aan die Ethiopiese hofdienaar verduidelik hoe die profesie van Jesaja 53:7, 8 vervul is, en toe die man dit insien, het hy nederig gevra om gedoop te word (Hand. 8:28-35). Toe Petrus met Cornelius oor Jesus gepraat het, het hy eweneens getuig: “Aangaande Hom getuig al die profete” (10:43). Toe die besnydenis bespreek is, het Jakobus sy besluit gesteun deur te sê: “Hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskrywe is” (15:15-18). Die apostel Paulus het hom op dieselfde gesaghebbende bronne verlaat (26:22; 28:23, 25-27). Die feit dat die dissipels en hulle hoorders die Hebreeuse Geskrifte geredelik as ’n deel van God se Woord aanvaar het, soos duidelik blyk, druk die seël van geïnspireerde goedkeuring op daardie geskrifte.
34. Wat onthul Handelinge oor die Christengemeente, en is dit vandag anders?
34 Handelinge is uiters nuttig deurdat dit toon hoe die Christengemeente gestig is en deur die krag van die heilige gees gegroei het. Dwarsdeur hierdie dramatiese verslag sien ons uitbreiding as gevolg van God se seën, die vrymoedigheid en vreugde van die vroeë Christene, hulle onwrikbaarheid ondanks vervolging en hulle bereidwilligheid om te dien, soos toegelig deur Paulus se reaksie op die oproepe om op vreemde plekke te dien en na Macedonië te gaan (4:13, 31; 15:3; 5:28, 29; 8:4; 13:2-4; 16:9, 10). Die hedendaagse Christengemeente is nie anders nie, want dit is saamgebind in liefde, eendrag en gemeenskaplike belange terwyl dit onder leiding van die heilige gees oor “die groot dade van God” spreek.—2:11, 17, 45; 4:34, 35; 11:27-30; 12:25, vgl. NW.
35. Hoe toon Handelinge hoe die getuieniswerk gedoen moes word, en watter eienskap in die bediening word beklemtoon?
35 Die boek Handelinge toon presies hoe die Christelike werk om God se Koninkryk te verkondig verrig moet word. Paulus self was ’n voorbeeld, want hy sê: “Ek [het] my nie daarvan . . . weerhou om vir julle alles wat nuttig was te vertel en julle in die openbaar en van huis tot huis te onderrig nie.” Dan sê hy voorts: “Ek het . . . grondig getuienis afgelê.” Hierdie tema van ‘grondige getuieniswerk’ val ons dwarsdeur die boek op, en dit kom op indrukwekkende wyse na vore in die laaste paragrawe, waar Paulus se heelhartige toegewydheid aan sy predikings- en onderrigtingswerk, selfs as ’n gevangene, blyk uit die woorde: “En in ’n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van God uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die wet van Moses en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Jesus.” Mag ons altyd net so toegewyd in ons Koninkrykswerk wees!—20:20, 21, NW; 28:23; 2:40; 5:42; 26:22.
36. Watter praktiese raad van Paulus is kragtig op hedendaagse opsieners van toepassing?
36 Paulus se toespraak aan die opsieners van Efese bevat heelwat praktiese raad vir opsieners van vandag. Aangesien hulle deur die heilige gees aangestel is, is dit uiters belangrik dat hulle ‘op hulleself en op die hele kudde ag gee’ en as herders die kudde met teerheid versorg en hulle beskerm teen verdrukkende wolwe wat hulle vernietiging soek. Dit is geen ligte verantwoordelikheid nie! Opsieners moet wakker bly en hulleself met die woord van God se onverdiende goedheid opbou. Terwyl hulle arbei om die swakkes te help, moet hulle “die woorde van die Here Jesus . . . onthou, dat Hy gesê het: Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—20:17-35.
37. Deur watter taktvolle argumentasie het Paulus sy punt op die Areopagus duidelik gestel?
37 Die ander toesprake van Paulus skitter ook met duidelike uiteensettings van Bybelbeginsels. Daar is byvoorbeeld die klassieke argumentasie wat hy in sy toespraak voor die Stoïsyne en Epikureërs op die Areopagus gebruik het. Eers haal hy die altaarinskripsie “Aan ’n onbekende God” aan en gebruik hy dit as die rede waarom hy verduidelik dat die een ware God, die Here van hemel en aarde, wat al die nasies uit een mens gemaak het, ‘nie ver van elkeen van ons is nie’. Dan haal hy die woorde aan van een van hulle digters: “Want ons is ook sy geslag”, om te toon hoe belaglik dit is om te veronderstel dat hulle van lewelose beelde van goud, silwer of klip kom. So bewys Paulus op taktvolle wyse die soewereiniteit van die lewende God. Eers in sy laaste woorde opper hy die kwessie van die opstanding, en selfs dan meld hy Christus nie by name nie. Hy het sy punt oor die oppersoewereiniteit van die een ware God duidelik gestel, en party het gevolglik gelowiges geword.—17:22-34.
38. Watter seëninge sal voortspruit uit die soort studie wat in Handelinge aangemoedig word?
38 Die boek Handelinge moedig almal tot voortdurende, ywerige studie van “die hele Skrif” aan. Toe Paulus aanvanklik in Berea gepreek het, is die Jode aldaar geprys vir hulle ‘edelmoedigheid’, want “hulle het die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (17:11). Net soos destyds sal mense vandag met vaste oortuiging en sterk geloof geseën word as hulle die Skrif so ywerig ondersoek in samewerking met Jehovah se geesvervulde gemeente. Dit is deur so ’n studie dat ’n mens ’n duidelike insig van die goddelike beginsels verkry. Party van hierdie beginsels word op voortreflike wyse in Handelinge 15:29 uiteengesit. Hier het die bestuursliggaam van apostels en ouer broers in Jerusalem bekend gemaak dat, hoewel besnydenis nie ’n vereiste vir geestelike Israel is nie, daar gewis ’n verbod op afgodery, bloed en hoerery was.
39. (a) Hoe is die dissipels versterk om vervolging te deurstaan? (b) Watter vrymoedige getuienis het hulle gegee? Was dit doeltreffend?
39 Daardie vroeë dissipels het werklik die geïnspireerde Skrif bestudeer en kon dit aanhaal en toepas wanneer nodig. Hulle is deur juiste kennis en deur God se gees versterk om hewige vervolging te deurstaan. Petrus en Johannes het die voorbeeld vir alle getroue Christene gestel toe hulle vrymoedig vir die opponerende regeerders gesê het: “Of dit reg is voor God om julle meer gehoorsaam te wees as God, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” En toe hulle weer voor die Sanhedrin gebring is, wat hulle “uitdruklik verbied” het om verder in Jesus se naam te onderrig, het hulle onomwonde gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” Hierdie onbevreesde verklaring het op ’n goeie getuienis aan die regeerders uitgeloop, en dit het gelei tot die beroemde wetgeleerde, Gamaliël, se bekende verklaring ten gunste van vryheid van aanbidding, wat weer tot die apostels se vrylating gelei het.—4:19, 20; 5:28, 29, 34, 35, 38, 39.
40. Watter aansporing gee Handelinge ons om grondig van die Koninkryk te getuig?
40 Jehovah se glorieryke voorneme met betrekking tot sy Koninkryk, wat soos ’n goue draad deur die hele Bybel loop, is baie opvallend in die boek Handelinge. Heel aan die begin word daar getoon dat Jesus gedurende die 40 dae voor sy hemelvaart “oor die dinge van die koninkryk van God gespreek het”. In antwoord op die dissipels se vraag oor die herstel van die Koninkryk het Jesus vir hulle gesê dat hulle eers sy getuies tot aan die uiterste van die aarde moet wees (1:3, 6, 8). Vanaf Jerusalem as die beginpunt het die dissipels die Koninkryk met onwrikbare vrymoedigheid verkondig. Vervolging het die steniging van Stefanus meegebring en veroorsaak dat baie van die dissipels na nuwe gebiede verstrooi is (7:59, 60). Daar word gemeld dat Filippus “die evangelie aangaande die koninkryk van God” met groot welslae in Samaria verkondig het en dat Paulus en sy metgeselle “die koninkryk” in Asië, Korinthe, Efese en Rome verkondig het. Al hierdie vroeë Christene het ’n voortreflike voorbeeld van onwankelbare vertroue in Jehovah en sy onderskragende gees gestel (8:5, 12; 14:5-7, 21, 22; 18:1, 4; 19:1, 8; 20:25; 28:30, 31). As ons hulle onblusbare ywer en moed beskou en sien hoe oorvloedig Jehovah hulle pogings geseën het, het ons ook ’n wonderlike aansporing om getrou “grondig getuienis af te lê oor die koninkryk van God”.—28:23, NW.
[Voetnote]
a St. Paul the Traveller, 1895, bladsy 4.
b Aangehaal in Awake! van 22 Julie 1947, bladsye 22-3; sien ook Ontwaak! van 8 Julie 1971, bladsye 22-4.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 153-4, 734-5; Dl. 2, bladsy 748.
d Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 747.
e Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 747.
f Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 747.
g Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 750.