Jehovah verdien ons verenigde lof
“Loof Jah!”—PS. 111:1.
1, 2. Wat beteken “Halleluja”, en hoe word dit in die Christelike Griekse Geskrifte gebruik?
“HALLELUJA!” Hierdie uitroep word algemeen in die Christendom se kerke gehoor. Party mense gebruik die uitdrukking dikwels in hulle daaglikse gesprekke. Maar min weet watter heilige betekenis dit het, en die lewenswyse van baie wat dit gebruik, doen God oneer aan (Tit. 1:16). “Halleluja”, verduidelik ’n Bybelwoordeboek, is ’n “woord wat deur die skrywers van verskeie psalms gebruik word om almal te nooi om Jehovah saam met hulle te loof”. Trouens, ’n aantal Bybelgeleerdes wys daarop dat “Halleluja” “‘Loof Jah’, [dit wil sê] Jehovah” beteken.
2 Dit is waarom die uitdrukking in Psalm 111:1 in die Nuwe Wêreld-vertaling met “Loof Jah!” vertaal word. ’n Griekse vorm van hierdie uitdrukking kom vier keer in Openbaring 19:1-6 voor ter viering van die einde van valse godsdiens. Wanneer dit plaasvind, sal ware aanbidders spesiale rede hê om die uitdrukking “Halleluja” op eerbiedige wyse te gebruik.
Sy groot werke
3. Wat is die vernaamste rede waarom ons gereeld vergader?
3 Die skrywer van Psalm 111 gee baie redes waarom Jehovah werklik ons verenigde lof verdien. Vers 1 sê: “Ek sal Jehovah met my hele hart prys in die intieme groep van die regskapenes en die vergadering.” Vandag voel Jehovah se Getuies ook so. Die vernaamste rede waarom ons gereeld vergader, in plaaslike gemeentes en by groot byeenkomste, is om Jehovah te loof.
4. Hoe kan mense Jehovah se werke naspeur?
4 “Die werke van Jehovah is groot, nagespeur deur almal wat daarin behae skep” (Ps. 111:2). Let op die uitdrukking “nagespeur”. Volgens ’n naslaanwerk kan die vers van toepassing wees op mense wat God se werke “die onderwerp van ywerige en ernstige bepeinsing en studie” maak. Jehovah se skeppingswerke getuig van wonderlike, doelgerigte ontwerp. Hy het die son, aarde en maan op hulle plekke geplaas, alles in die regte verhouding tot mekaar sodat ons aarde voorsien word van hitte en lig, nag en dag, die seisoene en die getye.
5. Wat het die mens se groter begrip van die heelal geopenbaar?
5 Wetenskaplikes het baie uitgevind oor die aarde se posisie in ons sonnestelsel, sowel as oor die volmaakte wentelbaan, grootte en massa van ons groot maan. Die posisie van hierdie hemelliggame en hulle verhouding tot mekaar maak die pragtige en gereelde seisoensveranderinge moontlik. Daar is ook al baie geleer oor die fyn instelling van natuurkragte in die heelal. ’n Professor in meganiese ingenieurswese het dus in ’n artikel met die titel “Die ‘net reg’ ontwerpte heelal” gesê: “Dit is nogal maklik om te verstaan waarom soveel wetenskaplikes oor die afgelope 30 jaar van mening verander het en saamstem dat dit baie geloof verg om te glo dat die heelal verklaar kan word as niks anders nie as ’n toevallige kosmiese ongeluk. Hoe beter ons ons sorgvuldig ontwerpte habitat verstaan, hoe kragtiger word die bewyse van ’n intelligente ontwerper.”
6. Hoe voel jy oor die manier waarop God die mens gemaak het?
6 Nog ’n skeppingswonder is die manier waarop God ons gemaak het (Ps. 139:14). Toe hy mense gemaak het, het hy hulle ’n verstand, ’n liggaam met al die nodige organe en die vermoë om te werk, gegee. Daar is byvoorbeeld die wonder van die godgegewe vermoëns om te praat en te luister, asook om te skryf en te lees. Baie mense het hierdie vermoëns. Jy het ook ’n wonderlike meesterstuk van die boukuns—die regop menslike skelet. Die ontwerp en balans van jou liggaam, die meganiese funksies en die chemiese prosesse daarvan, vervul ’n mens met ontsag. Wat meer is, niks wat wetenskaplikes al gemaak het, ewenaar die verstommende senuweeverbindings wat jou verstand en jou sintuie in staat stel om te werk nie. Trouens, menslike prestasies is slegs moontlik as gevolg van die verstand en sintuie wat aan die mens gegee is. Selfs die bes opgeleide en bekwaamste ingenieur sou nie iets kon gemaak het wat so pragtig en nuttig is soos die tien wonderlik ontwerpte hefbome—jou vingers en duime—nie. Vra jou af: ‘Sou indrukwekkende kuns- en bouwerke moontlik gewees het sonder die vaardige gebruik van godgegewe vingers?’
God se groot werke en sy eienskappe
7. Waarom moet ons die Bybel as een van God se groot werke beskou?
7 Jehovah se groot werke sluit ander wonderlike dinge in wat hy vir die mens gedoen het, soos in die Bybel beskryf word. Hierdie boek is op sigself ’n harmoniese meesterstuk. In teenstelling met enige ander boek is dit inderdaad “deur God geïnspireer en . . . nuttig om te onderrig” (2 Tim. 3:16). Byvoorbeeld, die eerste boek van die Bybel, Genesis, verduidelik hoe God in die dae van Noag die aarde van goddeloosheid gereinig het. Die tweede boek, Eksodus, toon hoe Jehovah sy Godheid geregverdig het deur Israel uit slawerny in Egipte te verlos. Die psalmis het waarskynlik aan sulke gebeure gedink toe hy beweeg is om te sê: “[Jehovah se] dade is waardigheid en prag, en sy regverdigheid hou vir ewig stand. ’n Gedagtenis het hy vir sy wonderlike werke ingestel. Jehovah is genadig en barmhartig” (Ps. 111:3, 4). Stem jy nie saam dat Jehovah se dade deur die geskiedenis heen, met inbegrip van dinge wat in jou leeftyd gedoen is, ’n gedagtenis aan sy “waardigheid en prag” is nie?
8, 9. (a) In watter opsigte vorm God se werke ’n kontras met talle menslike werke? (b) Watter eienskappe van God waardeer jy?
8 Let daarop dat die psalmis ook klem lê op Jehovah se pragtige eienskappe, soos regverdigheid, genade en barmhartigheid. Jy weet dat die werke van sondige mense selde op regverdigheid gegrond is. Dit is dikwels ’n blyk van gierigheid, afguns en hoogmoed. Duidelike bewys hiervan word gesien in die bose wapens wat mense vervaardig vir die oorloë wat hulle aanblaas en vir geldelike gewin. Dit dompel miljoene onskuldige slagoffers in onbeskryflike ellende en vrees. Ook is talle menslike werke ten koste van die onderdrukte armes tot stand gebring. ’n Voorbeeld waarna baie miskien verwys, is die gebruik van slawe om die piramides te bou. Dit het hoofsaaklik as grafte vir die trotse Farao’s gedien. Daarbenewens is baie van die mens se hedendaagse werke nie net onderdrukkend nie, maar dit ‘verderf [ook] die aarde’.—Lees Openbaring 11:18.
9 Hoe anders is Jehovah se werke tog, wat altyd gegrond is op wat reg is! Sy werke sluit die barmhartige voorsiening vir die redding van sondige mense in. Deur die losprys te voorsien, het God ‘sy eie regverdigheid getoon’ (Rom. 3:25, 26). Ja, “sy regverdigheid hou vir ewig stand”! Wat genade betref, dit is geopenbaar in die geduldige manier waarop God met sondige mense gehandel het. Soms het hy selfs die woord “asseblief” gebruik wanneer hy by hulle gepleit het om hulle af te keer van hulle skadelike weë en te doen wat reg is.—Lees Esegiël 18:25.
Getrou aan sy beloftes
10. Watter voorbeeld van getrouheid het Jehovah gestel met betrekking tot sy verbond met Abraham?
10 “Voedsel het hy gegee aan dié wat hom vrees. Tot onbepaalde tyd sal hy aan sy verbond dink” (Ps. 111:5). Die psalmis het hier blykbaar na die Abrahamitiese verbond verwys. Jehovah het belowe om Abraham se saad te seën en het gesê dat hulle die poort van hulle vyande in besit sou neem (Gen. 22:17, 18; Ps. 105:8, 9). In die eerste vervulling van hierdie beloftes het Abraham se saad die nasie Israel geword. Hierdie nasie was lank in slawerny in Egipte, maar toe het ‘God aan sy verbond met Abraham gedink’ en hulle verlos (Eks. 2:24). Jehovah se verdere handelinge met hulle toon hoe vrygewig hy werklik is. Hy het voedsel vir hulle liggaam en geestelike voedsel vir hulle verstand en hart voorsien (Deut. 6:1-3; 8:4; Neh. 9:21). In die daaropvolgende eeue het die nasie hulle dikwels van God afgekeer, hoewel hy profete gestuur het om hulle aan te spoor om terug te keer. Meer as 1 500 jaar nadat God die Israeliete uit Egipte verlos het, het hy sy enigverwekte Seun na die aarde gestuur. Die meeste Jode het Jesus verwerp en toegelaat dat hy tereggestel word. Toe het Jehovah ’n nuwe nasie gevorm, ’n geestelike nasie, “die Israel van God”. Saam met Christus maak hierdie nasie die geestelike saad van Abraham uit, wat Jehovah voorspel het hy sou gebruik om die mensdom te seën.—Gal. 3:16, 29; 6:16.
11. Hoe “dink” Jehovah nog steeds “aan sy verbond” met Abraham?
11 Jehovah “dink” nog steeds “aan sy verbond” en aan die seëninge wat deur middel daarvan belowe is. Vandag voorsien hy ’n oorvloed geestelike voedsel in meer as 400 tale. En hy verhoor nog steeds gebede oor ons fisiese behoeftes, in ooreenstemming met die woorde: “Gee ons ons brood vir die dag volgens die dag se vereiste.”—Luk. 11:3; Ps. 72:16, 17; Jes. 25:6-8.
Jehovah se ontsagwekkende krag
12. Hoe is eertydse Israel “die erfdeel van die nasies” gegee?
12 “Die krag van sy werke het hy aan sy volk bekend gemaak, deur hulle die erfdeel van die nasies te gee” (Ps. 111:6). ’n Uitsonderlike gebeurtenis in Israel se geskiedenis wat die psalmis moontlik in gedagte gehad het, was hulle wonderdadige verlossing uit Egipte. Toe Jehovah die Israeliete uiteindelik toegelaat het om die Beloofde Land binne te gaan, was hulle in staat om koninkryke aan die ooste- en westekant van die Jordaanrivier te verower. (Lees Nehemia 9:22-25.) Ja, Jehovah het Israel “die erfdeel van die nasies” gegee. Wat ’n vertoning van God se krag was dit tog!
13, 14. (a) Watter vertoning van God se krag in verband met Babilon het die psalmis dalk in gedagte gehad? (b) Watter ander groot verlossingsdade het Jehovah uitgevoer?
13 Ons weet egter alte goed dat Israel, ten spyte van alles wat Jehovah vir hulle gedoen het, nie respek vir hom of vir hulle voorvaders Abraham, Isak en Jakob getoon het nie. Hulle het voortdurend in opstand gekom totdat God Babilon gebruik het om hulle te verwyder deur hulle in ballingskap weg te voer (2 Kron. 36:15-17; Neh. 9:28-30). As die skrywer van Psalm 111 gelewe het nadat Israel uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, soos party Bybelgeleerdes beweer, het hy nog meer rede gehad om Jehovah vir Sy lojaliteit en krag te loof. God het hierdie eienskappe geopenbaar deur die Jode te verlos uit Babilon—’n ryk wat ’n beleid gehad het om nie gevangenes vry te laat nie.—Jes. 14:4, 17.
14 Sowat vyf eeue later het Jehovah sy krag op selfs uitsonderliker wyse gebruik deur berouvolle mense uit slawerny aan sonde en die dood te verlos (Rom. 5:12). Een resultaat hiervan was dat die weg gebaan is vir 144 000 mense om geesgesalfde volgelinge van Christus te word. In 1919 het Jehovah sy krag gebruik om ’n klein oorblyfsel van hierdie gesalfdes uit gevangenskap aan valse godsdiens te verlos. Alles wat hulle gedurende hierdie tyd van die einde vermag, kan slegs aan God se krag toegeskryf word. Nadat hulle tot die dood getrou gebly het, sal hulle saam met Jesus Christus vanuit die hemel oor die aarde regeer tot voordeel van berouvolle mense (Op. 2:26, 27; 5:9, 10). Hulle sal die aarde op ’n veel groter skaal beërf as eertydse Israel.—Matt. 5:5.
Ewige, betroubare beginsels
15, 16. (a) Wat sluit die werke van God se hande in? (b) Watter bevele het God aan eertydse Israel gegee?
15 “Die werke van sy hande is waarheid en reg; betroubaar is al die bevele wat hy gee, goed ondersteun vir ewig, tot onbepaalde tyd, uitgevoer in waarheid en opregtheid” (Ps. 111:7, 8). “Die werke van [Jehovah se] hande” het twee kliptafels ingesluit waarop tien belangrike wette vir Israel gegraveer was (Eks. 31:18). Hierdie wette, tesame met al die ander voorskrifte wat deel van die Mosaïese Wetsverbond geword het, is op ewige, betroubare beginsels gegrond.
16 Byvoorbeeld, een van die bevele, of wette, op daardie tafels het gesê: “Ek, Jehovah jou God, is ’n God wat uitsluitlike toegewydheid eis.” Dit sê verder dat Jehovah “liefderyke goedhartigheid bewys teenoor die duisendste geslag in die geval van dié wat [hom] liefhet en [sy] gebooie onderhou”. Die kliptafels het ook tydlose beginsels bevat soos “eer jou vader en jou moeder” en “jy mag nie steel nie”, sowel as die uiters insiggewende wet dat ’n mens nie hebsugtig mag begeer wat aan ander behoort nie.—Eks. 20:5, 6, 12, 15, 17.
Ons heilige, vreesinboesemende Verlosser
17. Watter redes het die Israeliete gehad om God se naam as heilig te beskou?
17 “Hy het verlossing aan sy volk gestuur. Tot onbepaalde tyd het hy sy verbond ingestel. Sy naam is heilig en vreesinboesemend” (Ps. 111:9). Die psalmis het moontlik weer eens gedink aan Jehovah se lojaliteit teenoor sy verbondsbelofte aan Abraham. As gevolg daarvan het Jehovah nie sy volk, eers as slawe in eertydse Egipte en later as gevangenes in Babilon, versaak nie. In albei gevalle het God sy volk verlos. Selfs net hierdie twee dade moes Israel al beweeg het om God se naam as heilig te beskou.—Lees Eksodus 20:7; Romeine 2:23, 24.
18. Waarom meen jy dat dit ’n voorreg is om God se naam te dra?
18 Dieselfde geld vir Christene van vandag, wat uit hopelose slawerny aan sonde en die dood verlos is. Ons moet ons uiterste bes doen om in ooreenstemming met die eerste versoek in die modelgebed te lewe: “Laat u naam geheilig word” (Matt. 6:9). Bepeinsing oor hierdie roemryke naam moet godvrugtige vrees by ons inboesem. Die skrywer van Psalm 111 het die regte beskouing van godvrugtige vrees gehad en gesê: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid. Almal wat dit uitvoer [sy gebooie onderhou], het goeie insig.”—Ps. 111:10.
19. Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?
19 ’n Heilsame vrees vir God sal ons help om te haat wat sleg is. Dit sal ons ook help om God se pragtige eienskappe na te volg, soos Psalm 112 toon, wat ons in die volgende artikel sal bespreek. Hierdie psalm toon ook wat ons moet doen om onder die miljoene te wees wat God vir ewig sal loof. Hy verdien niks minder nie. “Sy lof hou vir ewig stand.”—Ps. 111:10.
Vrae om oor te peins
• Waarom verdien Jehovah ons verenigde lof?
• Watter eienskappe van Jehovah word in sy werke geopenbaar?
• Hoe beskou jy die voorreg om God se naam te dra?
[Prent op bladsy 20]
Die vernaamste rede waarom ons gereeld vergader, is om Jehovah te loof
[Prent op bladsy 23]
Al Jehovah se wette is op ewige, betroubare beginsels gegrond