Is jy baie lief vir Jehovah se herinneringe?
“My siel het u herinneringe bewaar, en ek het hulle baie lief.”—PSALM 119:167, NW.
1. Waar vind ons veral herhaalde verwysings na Jehovah se herinneringe?
JEHOVAH wil hê dat sy volk gelukkig moet wees. Maar as ons ware geluk wil geniet, moet ons natuurlik in God se wet wandel en sy bevele nakom. Met dié doel gee hy ons herinneringe. Dit word herhaaldelik in die Skrif genoem, veral in Psalm 119, wat moontlik deur Juda se jong prins Hiskia gekomponeer is. Hierdie pragtige lied begin met die woorde: “Gelukkig is dié wat onberispelik in hulle weg is, dié wat in die wet van Jehovah wandel. Gelukkig is dié wat sy herinneringe bewaar; met hulle hele hart bly hulle hom soek.”—Psalm 119:1, 2, NW.
2. Hoe hou God se herinneringe verband met geluk?
2 Ons ‘wandel in die wet van Jehovah’ deur juiste kennis van sy Woord in te neem en dit in ons lewe toe te pas. Maar omdat ons onvolmaak is, het ons herinneringe nodig. Die Hebreeuse woord wat met “herinneringe” vertaal word, dui daarop dat God ons help om sy wet, bevele, voorskrifte, gebooie en verordeninge te herroep (Matteus 10:18-20). Ons sal alleenlik gelukkig bly as ons aanhou om sulke herinneringe te bewaar, want dit help ons om geestelike slaggate te vermy wat tot rampspoed en hartseer lei.
Kleef Jehovah se herinneringe aan
3. Watter vertroue het ons op grond van Psalm 119:60, 61?
3 God se herinneringe was baie kosbaar vir die psalmis wat gesing het: “Ek het my gehaas, en nie getalm nie, om u gebooie te onderhou. Die strikke [“toue”, NW] van die goddelose het my omring; u wet het ek nie vergeet nie” (Psalm 119:60, 61). Jehovah se herinneringe help ons om vervolging te verduur omdat ons vol vertroue is dat ons hemelse Vader die toue van beperkings wat vyande om ons bind, kan verwyder. Mettertyd bevry hy ons van sulke struikelblokke sodat ons die Koninkrykspredikingswerk kan uitvoer.—Markus 13:10.
4. Hoe moet ons op God se herinneringe reageer?
4 Soms word ons deur Jehovah se herinneringe tereggewys. Mag ons altyd sulke teregwysing waardeer, soos die psalmis ook gedoen het. Hy het in gebed vir God gesê: “Ek [is] lief vir u herinneringe . . . Ek [het] u herinneringe liefgehad” (Psalm 119:24, 119, NW). Ons het meer van God se herinneringe as wat die psalmis gehad het. Die honderde aanhalings uit die Hebreeuse Geskrifte wat in die Griekse Geskrifte verskyn, herinner ons nie net aan Jehovah se instruksies aan sy volk onder die Wet nie, maar ook aan sy voornemens met betrekking tot die Christengemeente. Wanneer God dit raadsaam vind om ons te herinner aan dinge wat met sy wette verband hou, is ons dankbaar vir sulke riglyne. En deur ‘Jehovah se herinneringe aan te kleef’, vermy ons sondige verlokkinge wat ons Skepper mishaag en ons van geluk beroof.—Psalm 119:31, NW.
5. Hoe kan ons baie lief word vir Jehovah se herinneringe?
5 Hoe groot moet ons liefde vir Jehovah se herinneringe wees? “My siel het u herinneringe bewaar, en ek het hulle baie lief”, het die psalmis gesing (Psalm 119:167, NW). Ons sal baie lief word vir Jehovah se herinneringe as ons hulle beskou en aanvaar as die vermaning van ’n Vader wat werklik vir ons omgee (1 Petrus 5:6, 7). Ons het sy herinneringe nodig, en ons sal al hoe liewer daarvoor word namate ons sien hoe ons daarby baat vind.
Waarom ons God se herinneringe nodig het
6. Wat is een rede waarom ons Jehovah se herinneringe nodig het, en wat sal ons help om dit te onthou?
6 Een rede waarom ons Jehovah se herinneringe nodig het, is omdat ons maklik vergeet. The World Book Encyclopedia sê: “Oor die algemeen vergeet mense al hoe meer met verloop van tyd. . . . Jy het dit seker al ondervind dat jy eenvoudig nie aan ’n naam of ander inligting kon dink wat op die punt van jou tong was nie. . . . Sulke tydelike geheueverlies, wat gereeld gebeur, word herroepingsfaling genoem. Wetenskaplikes sê dit is soos om ’n item wat verlê is, in ’n deurmekaar vertrek te soek. . . . ’n Goeie manier om te verseker dat jy ’n brokkie inligting onthou, is om sorgvuldig daaroor te peins lank nadat jy dink dat jy dit goed ken.” Ywerige studie en herhaling sal ons help om God se herinneringe te onthou en vir ons eie beswil daaraan gehoor te gee.
7. Waarom het ons God se herinneringe vandag meer as ooit tevore nodig?
7 Ons het Jehovah se herinneringe vandag meer as ooit tevore nodig omdat goddeloosheid die grootste afmetings in mensegeskiedenis aangeneem het. As ons aandag skenk aan God se herinneringe, verkry ons die insig wat nodig is om te voorkom dat ons verlok word om die wêreld se goddelose weë te volg. “Ek het meer insig as al my onderrigters verkry,” het die psalmis gesê, “omdat ek u herinneringe oordink. Ek tree verstandiger op as ouer manne, omdat ek u bevele bewaar het. Van elke slegte pad het ek my voete teruggehou, sodat ek u woord kan onderhou” (Psalm 119:99-101, NW). Deur God se herinneringe te bewaar, sal ons wegbly van “elke slegte pad” en nie soos die mensdom oor die algemeen word nie, wat “verstandelik in duisternis is en vervreemd is van die lewe wat tot God behoort”.—Efesiërs 4:17-19.
8. Hoe kan ons beter toegerus wees om toetse van ons geloof met welslae die hoof te bied?
8 Ons het ook God se herinneringe nodig omdat dit ons versterk om al ons beproewinge in hierdie “tyd van die einde” te verduur (Daniël 12:4). Sonder hierdie herinneringe sal ons ‘vergeetagtige hoorders’ word (Jakobus 1:25). Maar ywerige persoonlike en gemeentelike studie van die Skrif met behulp van die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” sal ons help om toetse van ons geloof met welslae die hoof te bied (Matteus 24:45-47). Hierdie geestelike voorsienings stel ons in staat om te sien wat ons moet doen om Jehovah te behaag wanneer ons ons in moeilike omstandighede bevind.
Die noodsaaklike rol van vergaderinge
9. Wie is die “gawes in die vorm van mense”, en hoe help hulle medegelowiges?
9 Christelike vergaderinge, waar ons deur aangestelde broers onderrig word, voorsien deels in ons behoefte aan God se herinneringe. Die apostel Paulus het geskryf dat Jesus, toe hy ‘opgevaar het, gevangenes weggevoer het en gawes in die vorm van mense gegee het’. Paulus het bygevoeg: “[Christus] het party as apostels gegee, party as profete, party as evangeliste, party as herders en leermeesters, om die heiliges reg te help, vir bedieningswerk, vir die opbouing van die liggaam van die Christus” (Efesiërs 4:8, 11, 12). Hoe dankbaar kan ons tog wees dat hierdie “gawes in die vorm van mense”—die aangestelde ouer manne—ons aandag op Jehovah se herinneringe vestig wanneer ons vir aanbidding vergader!
10. Wat is die hoofgedagte van Hebreërs 10:24, 25?
10 Dankbaarheid vir God se voorsienings sal ons beweeg om elke week ons vyf gemeentelike vergaderinge by te woon. Paulus het die belangrikheid daarvan beklemtoon om gereeld te vergader. Hy het geskryf: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en voortreflike werke aan te spoor en nie ons onderlinge vergadering nalaat soos party die gewoonte het nie, maar mekaar aanmoedig, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.”—Hebreërs 10:24, 25.
11. Hoe vind ons by elkeen van ons weeklikse vergaderinge baat?
11 Toon jy waardering vir wat ons vergaderinge vir ons doen? Die weeklikse Wagtoring-studie bou ons geloof op, help ons om aan Jehovah se herinneringe gehoor te gee en versterk ons teen “die gees van die wêreld” (1 Korintiërs 2:12; Handelinge 15:31). By die Openbare Vergadering gee sprekers onderrigting uit God se Woord, wat Jehovah se herinneringe en Jesus se wonderlike “woorde van die ewige lewe” insluit (Johannes 6:68; 7:46; Matteus 5:1–7:29). Ons onderrigvermoë word by die Teokratiese Bedieningskool verfyn. Die Diensvergadering is van onskatbare waarde, want dit help ons om te verbeter in ons aanbieding van die goeie nuus van huis tot huis, tydens herbesoeke, tuisbybelstudies en in ander fasette van ons bediening. ’n Kleiner groepie by die Gemeentelike Boekstudie gee ons meer geleentheid om kommentare te lewer wat dikwels God se herinneringe insluit.
12, 13. Hoe het lede van God se volk in ’n land in Asië waardering vir Christelike vergaderinge getoon?
12 Gereelde bywoning van gemeentelike vergaderinge herinner ons aan God se gebooie en help ons om geestelik sterk te bly ten spyte van oorloë, ekonomiese ontberings en ander toetse van ons geloof. Vergaderinge was waarlik belangrik vir ongeveer 70 Christene in ’n land in Asië wat uit hulle huise moes vlug en noodgedwonge diep in die woud moes woon. Vasbeslote om steeds gereeld te vergader, het hulle teruggegaan na hulle dorp wat deur ’n oorlog verwoes is, alles bymekaar gemaak wat van die Koninkryksaal oorgebly het en dit in die woud herbou.
13 In ’n ander deel van dieselfde land waar Jehovah se volk jare lank oorlogvoering verduur het, dien hulle nog steeds ywerig. Daar is vir een van die ouer manne in dié gebied gevra: “Wat was die beste manier om die broers bymekaar te hou?” Sy antwoord? “In 19 jaar het ons nie een vergadering oorgeslaan nie. Soms kon party van die broers weens bomaanvalle of ander probleme nie by die vergaderplek uitkom nie, maar ons het nooit ’n vergadering gekanselleer nie.” Hierdie liewe broers en susters besef beslis hoe belangrik dit is om ‘nie hulle onderlinge vergadering na te laat nie’.
14. Wat kan ons leer uit die bejaarde Anna se gewoonte?
14 Die 84-jarige weduwee Anna ‘was nooit van die tempel afwesig nie’. Gevolglik was sy daar toe die kindjie Jesus kort ná sy geboorte na die tempel gebring is (Lukas 2:36-38). Stel jy jou dit ten doel om nie van vergaderinge af weg te bly nie? Doen jy jou bes om elke sessie van ons kring- en streekbyeenkomste by te woon? Die nuttige geestelike onderrigting wat ons by hierdie samekomste ontvang, toon duidelik vir ons dat ons hemelse Vader vir sy volk omgee (Jesaja 40:11). Sulke geleenthede werk ook vreugde in die hand, en ons teenwoordigheid openbaar ons waardering vir Jehovah se herinneringe.—Nehemia 8:6-9, 13.
Deur Jehovah se herinneringe afgeskei
15, 16. Hoe beïnvloed dit ons gedrag as ons Jehovah se herinneringe bewaar?
15 As ons God se herinneringe bewaar, help dit ons om afgeskeie van hierdie goddelose wêreld te wees. Wanneer ons aan God se herinneringe gehoor gee, help dit ons byvoorbeeld om ons nie aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak nie (Deuteronomium 5:18; Spreuke 6:29-35; Hebreërs 13:4). Die versoeking om leuens te vertel, oneerlik te wees of te steel, kan met welslae onderdruk word deur Goddelike herinneringe na te kom (Exodus 20:15, 16; Levitikus 19:11; Spreuke 30:7-9; Efesiërs 4:25, 28; Hebreërs 13:18). As ons Jehovah se herinneringe bewaar, sal ons ook nie wraak neem, ’n wrok koester of enigiemand belaster nie.—Levitikus 19:16, 18, NW; Psalm 15:1, 3.
16 Deur aan God se herinneringe gehoor te gee, bly ons geheilig, of afgesonder, vir sy diens. En hoe belangrik is dit tog om afgeskeie van hierdie wêreld te bly! Jesus het die laaste nag van sy aardse lewe tot Jehovah gebid en hierdie versoek ten behoewe van sy volgelinge gedoen: “Ek het u woord aan hulle gegee, maar die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle geen deel van die wêreld is nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie. Ek versoek u nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om oor hulle te waak weens die bose. Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie. Heilig hulle deur middel van die waarheid; u woord is waarheid” (Johannes 17:14-17). Laat ons voortgaan om God se Woord te waardeer, wat ons afsonder vir sy heilige diens.
17. Wat kan gebeur as ons God se herinneringe verontagsaam, en wat moet ons dus doen?
17 As Jehovah se knegte wil ons aanneemlik vir sy diens bly. Maar as ons God se herinneringe sou verontagsaam, kan ons oorweldig word deur hierdie wêreld se gees, wat in groot mate in die spraak, lektuur, vermaak en gedrag van die wêreld weerspieël word. En ons wil beslis nie liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, ondankbaar, dislojaal, wreedaardig, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God word nie—om maar net ’n paar van die karaktertrekke op te noem wat geopenbaar word deur diegene wat van God vervreem is (2 Timoteus 3:1-5). Aangesien ons diep in die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge lewe, laat ons bid vir Jehovah se hulp sodat ons kan voortgaan om sy herinneringe te bewaar en sodoende ‘op ons hoede kan bly ooreenkomstig sy woord’.—Psalm 119:9, NW.
18. Watter positiewe stappe sal ons neem as ons God se herinneringe bewaar?
18 Die herinneringe van Jehovah waarsku ons nie net teen die dinge wat ons nie moet doen nie. As ons sy herinneringe bewaar, sal dit ons tot positiewe optrede beweeg—naamlik om Jehovah volkome te vertrou en om hom met ons hele hart, siel, verstand en krag lief te hê (Deuteronomium 6:5; Psalm 4:6; Spreuke 3:5, 6; Matteus 22:37; Markus 12:30). God se herinneringe motiveer ons ook om ons naaste lief te hê (Levitikus 19:18; Matteus 22:39). Ons openbaar veral ons liefde vir God en ons naaste wanneer ons God se wil doen en die lewegewende “kennis van God” aan ander bekend maak.—Spreuke 2:1-5.
Dit beteken lewe om Jehovah se herinneringe te bewaar!
19. Hoe kan ons ander help besef dat dit prakties en voordelig is om aan Jehovah se herinneringe gehoor te gee?
19 As ons Jehovah se herinneringe bewaar en ander help om dit te doen, sal ons onsself red sowel as diegene wat na ons luister (1 Timoteus 4:16). Hoe kan ons ander help besef dat dit werklik prakties en voordelig is om aan Jehovah se herinneringe gehoor te gee? Deur Bybelbeginsels in ons eie lewe toe te pas. Diegene met “die regte gesindheid vir die ewige lewe” sal sodoende die bewyse hê dat die lewensweg wat in God se Woord uiteengesit word, inderdaad die beste weg is om te volg (Handelinge 13:48). Hulle sal ook sien dat ‘God werklik onder ons is’ en aangespoor voel om die Soewereine Heer Jehovah saam met ons te aanbid.—1 Korintiërs 14:24, 25.
20, 21. Wat sal God se herinneringe en sy gees ons in staat stel om te doen?
20 As ons aanhou om die Skrif te bestudeer, toepas wat ons leer en Jehovah se geestelike voorsienings ten volle benut, sal ons baie lief word vir sy herinneringe. Deur ag te slaan op hierdie herinneringe, sal ons gehelp word om ons te beklee met “die nuwe persoonlikheid . . . wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is” (Efesiërs 4:20-24). Jehovah se herinneringe en sy heilige gees sal ons in staat stel om liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing aan die dag te lê—eienskappe wat so anders is as die karaktertrekke van die wêreld wat in die mag van Satan lê! (Galasiërs 5:22, 23; 1 Johannes 5:19). Daarom kan ons dankbaar wees wanneer ons aan Jehovah se vereistes herinner word gedurende ons persoonlike Bybelstudie, deur aangestelde ouer manne en by ons vergaderinge, asook kring- en streekbyeenkomste.
21 Omdat ons Jehovah se herinneringe bewaar, kan ons ons verheug selfs wanneer ons ter wille van regverdigheid ly (Lukas 6:22, 23). Ons vertrou op God om ons uit die gevaarlikste situasies te red. Dit is veral belangrik noudat alle nasies versamel word vir “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige” by Har–Magedon.—Openbaring 16:14-16.
22. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen met betrekking tot Jehovah se herinneringe?
22 As ons die onverdiende gawe van die ewige lewe wil ontvang, moet ons baie lief wees vir Jehovah se herinneringe en dit met ons hele hart bewaar. Mag ons derhalwe die gesindheid van die psalmis hê wat gesing het: “Die regverdigheid van u herinneringe is tot onbepaalde tyd. Laat my verstaan, sodat ek kan bly lewe” (Psalm 119:144, NW). En mag ons die vasbeslotenheid openbaar wat duidelik is in die psalmis se woorde: “Ek het u [Jehovah] aangeroep. Red my tog! En ek sal u herinneringe bewaar” (Psalm 119:146, NW). Ja, laat ons deur woord en daad bewys dat ons werklik baie lief is vir Jehovah se herinneringe.
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe het die psalmis Jehovah se herinneringe beskou?
• Waarom het ons God se herinneringe nodig?
• Watter rol speel ons vergaderinge wat God se herinneringe betref?
• Hoe help Jehovah se herinneringe ons om afgeskeie van hierdie wêreld te wees?
[Prent op bladsy 15]
Die psalmis was baie lief vir Jehovah se herinneringe
[Prente op bladsy 16, 17]
Volg jy Anna se voorbeeld na deur jou dit ten doel te stel om nie van vergaderinge af weg te bly nie?
[Prent op bladsy 18]
As ons aan Jehovah se herinneringe gehoor gee, word ons afgesonder as rein en aanneemlik vir sy diens