HOOFSTUK TIEN
Wanneer ’n gesinslid siek is
1, 2. Hoe het Satan tragedie en siekte gebruik om Job se onkreukbaarheid te probeer ondermyn?
DIE man Job moet beslis onder diegene gereken word wat ’n gelukkige gesinslewe geniet het. Die Bybel noem hom “die grootste van al die Oosterlinge”. Hy het sewe seuns en drie dogters gehad, altesaam tien kinders. Hy het ook die middele gehad om goed vir sy gesin te sorg. Hy het bowenal die leiding in geestelike bedrywighede geneem, en hy was besorg oor sy kinders se posisie voor Jehovah. Dit alles het hegte en gelukkige gesinsbande tot gevolg gehad.—Job 1:1-5, vgl. NW.
2 Job se situasie het nie die aandag van Satan, Jehovah God se aartsvyand, ontgaan nie. Satan, wat voortdurend na maniere soek om die onkreukbaarheid van God se knegte te ondermyn, het Job aangeval deur sy gelukkige gesin te vernietig. Toe het hy “Job met bose swere getref, van sy voetsool tot sy skedel”. Sodoende het Satan gehoop dat hy deur middel van tragedie en siekte Job se onkreukbaarheid sou kon ondermyn.—Job 2:6, 7.
3. Wat was die simptome van Job se siekte?
3 Die Bybel gee nie die mediese benaming van Job se siekte nie. Maar dit sê vir ons wat die simptome was. Sy vlees was oortrek van wurms, en sy vel was vol rowe en het verrot. Job se asem was walglik, en sy liggaam het sleg geruik. Hy het ontsettend baie pyn verduur (Job 7:5, NAV; 19:17, NAV; 30:17, 30). Vol pyn het Job in die as gesit en homself met ’n stuk potskerf gekrap (Job 2:8). Voorwaar ’n bejammerenswaardige gesig!
4. Wat ondervind elke gesin van tyd tot tyd?
4 Hoe sou jy gereageer het as jy deur so ’n ernstige siekte geteister is? Vandag tref Satan God se knegte nie met siekte soos hy met Job gedoen het nie. Maar vanweë menslike onvolmaaktheid, die druk van die daaglikse lewe en die verslegtende omgewing waarin ons woon, is dit net te verwagte dat gesinslede van tyd tot tyd siek sal word. Ondanks die voorsorgmaatreëls wat ons moontlik neem, is ons almal vatbaar vir siekte, hoewel min sal ly in die mate wat Job gely het. Wanneer siekte ons huisgesin tref, kan dit inderdaad ’n uitdaging wees. Laat ons dus kyk hoe die Bybel ons help om hierdie immerteenwoordige vyand van die mens te verduur.—Prediker 9:11; 2 Timoteus 3:16.
HOE VOEL JY DAAROOR?
5. Hoe reageer gesinslede gewoonlik in gevalle van tydelike siekte?
5 Die ontwrigting van ’n mens se alledaagse lewensroetine is ongeag die oorsaak altyd moeilik, en dit is veral die geval as die ontwrigting deur langdurige siekte veroorsaak word. Selfs as ’n mens nie lank siek is nie, verg dit veranderings, toegewings en opofferings. Gesonde gesinslede moet dalk stil wees om die sieke kans te gee om te rus. Hulle sal dalk sekere bedrywighede moet staak. In die meeste gesinne ontferm selfs jong kinders hulle oor ’n siek broer, suster of ouer, hoewel hulle soms daaraan herinner moet word om bedagsaam te wees (Kolossense 3:12). In geval van tydelike siekte is die gesin gewoonlik gereed om die nodige te doen. Elke gesinslid sal bowendien graag wil hê dat soortgelyke bedagsaamheid aan hom of haar betoon moet word as hy of sy dalk siek word.—Matteus 7:12.
6. Watter reaksies word soms waargeneem as ’n gesinslid deur ’n ernstige, langdurige siekte getref word?
6 Maar sê nou dit is ’n baie ernstige siekte en dit veroorsaak drastiese en langdurige ontwrigtings? Gestel byvoorbeeld iemand in die gesin word deur beroerte verlam, deur Alzheimer se siekte gestrem of deur die een of ander siekte verswak. Of sê nou ’n gesinslid ly aan ’n geestesiekte, soos skisofrenie? In die begin is die algemene reaksie om jammer te voel—droefheid omdat ’n geliefde soveel ly. Maar ’n gevoel van jammerte kan deur ander reaksies gevolg word. Namate gesinslede vind dat hulle grootliks hierdeur geraak word en dat hulle vryheid deur die siekte van een persoon beperk word, kan hulle dalk gegrief begin voel. Hulle wonder dalk: “Waarom moes dit met my gebeur?”
7. Hoe het Job se vrou op sy siekte gereageer, en wat het sy blykbaar vergeet?
7 Iets soortgelyks het blykbaar in die gedagte van Job se vrou opgekom. Onthou, sy het reeds haar kinders verloor. Namate daardie tragiese gebeure plaasgevind het, het sy ongetwyfeld al hoe radeloser geword. Toe sy uiteindelik sien hoe haar eens bedrywige en sterk man deur ’n pynlike, afskuwelike siekte geteister word, het sy blykbaar die belangrike faktor wat al die tragedies oorskadu het uit die oog verloor—die verhouding wat sy en haar man met God gehad het. Die Bybel sê: “Uiteindelik het [Job se] vrou vir hom gesê: ‘Hou jy nog vas aan jou onkreukbaarheid? Vervloek God en sterf!’”—Job 2:9, NW.
8. Watter teks sal ander gesinslede help om die regte beskouing te behou wanneer ’n gesinslid baie siek is?
8 Baie is gefrustreerd, selfs kwaad, wanneer hulle lewe drasties verander word deur iemand anders se siekte. Maar ’n Christen wat oor die saak redeneer, moet uiteindelik besef dat dit hom die geleentheid bied om die egtheid van sy liefde te bewys. Ware liefde ‘is lankmoedig en goedhartig en soek nie sy eie belang nie. Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles’ (1 Korintiërs 13:4-7). Dit is dus noodsaaklik dat ons ons bes doen om negatiewe gevoelens te beheers, pleks van toe te laat dat dit ons oorheers.—Spreuke 3:21, NW.
9. Watter versekering kan ’n gesin geestelik en emosioneel help wanneer ’n gesinslid ernstig siek is?
9 Wat kan gedoen word om die geestelike en emosionele welsyn van ’n gesin te verseker wanneer ’n gesinslid ernstig siek is? Elke siekte vereis natuurlik spesifieke sorg en behandeling, en dit sal nie gepas wees om enige mediese prosedures of tuisverpleging in hierdie publikasie aan te beveel nie. Nogtans rig Jehovah in geestelike sin “almal op wat neergeboë is” (Psalm 145:14). Koning Dawid het geskryf: “Gelukkig is elkeen wat bedagsaam teenoor die geringe optree; op die dag van rampspoed sal Jehovah hom ontvlugting verleen. Jehovah self sal hom behoed en hom in die lewe hou. . . . Jehovah self sal hom op ’n siekbed onderskraag” (Psalm 41:1-3, NW). Jehovah hou sy knegte geestelik in die lewe, selfs as hulle emosioneel bo hulle kragte beproef word (2 Korintiërs 4:7). Baie gesinslede wat met ernstige siekte in hulle huisgesin te kampe het, het die woorde van die psalmis herhaal: “Ek ly swaar, Here, hou my in die lewe, soos U beloof het.”—Psalm 119:107, NAV.
’N HELENDE GEES
10, 11. (a) Wat is noodsaaklik as ’n gesin siekte met welslae wil verduur? (b) Hoe het een vrou die siekte van haar man die hoof gebied?
10 “Die gees van ’n man kan sy kwaal verdra”, sê ’n Bybelspreuk, “maar wat ’n verslae gees betref, wie kan dit dra?” (Spreuke 18:14, NW). Trauma kan die gees van ’n gesin asook “die gees van ’n man” beïnvloed. Maar “’n rustige hart is die lewe vir die vlees” (Spreuke 14:30). Hetsy ’n gesin ’n ernstige siekte met welslae die hoof bied of nie, hang in groot mate af van die gesindheid, oftewel gees, van die gesinslede.—Vergelyk Spreuke 17:22.
11 Een Christenvrou moes toesien hoe haar man net ses jaar ná hulle getroud is ’n ernstige beroerteaanval kry. “My man se spraak was erg aangetas, en dit het byna onmoontlik geword om ’n gesprek met hom te voer”, het sy gesê. “Dit was verstandelik uiters uitputtend om te probeer verstaan wat hy gesukkel het om te sê.” Stel jou ook die pyn en frustrasie voor wat haar man moes ondervind. Wat het die egpaar gedoen? Al het hulle ver van die Christengemeente af gewoon, het die suster haar bes gedoen om geestelik sterk te bly deur met al die jongste organisatoriese inligting tred te hou, asook met die gereelde voorraad geestelike voedsel in Die Wagtoring en Ontwaak! Dit het haar die geestelike krag gegee om na haar dierbare man om te sien totdat hy vier jaar later gesterf het.
12. Watter bydra lewer die sieke soms, soos ons in die geval van Job gesien het?
12 In Job se geval was dit hy, die een wat gely het, wat sterk gebly het. “Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie?” het hy sy vrou gevra (Job 2:10). Geen wonder nie dat die dissipel Jakobus Job later aangehaal het as ’n uitsonderlike voorbeeld van geduld en verdraagsaamheid! In Jakobus 5:11 lees ons: “Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is.” Ook vandag is dit in baie gevalle die moedige gesindheid van die siek gesinslid wat ander in die huisgesin gehelp het om ’n positiewe uitkyk te behou.
13. Watter vergelyking moet ’n gesin nie trek as daar ernstige siekte is nie?
13 Die meeste mense wat al siekte in die gesin moes verduur, stem saam dat dit aan die begin vir gesinslede gewoonlik moeilik is om die feite onder die oë te sien. Hulle sê ook dat die manier waarop ’n mens die situasie beskou uiters belangrik is. Aan die begin is dit dalk moeilik om die huishoudelike roetine te verander en aan te pas. Maar as iemand werklik ’n poging aanwend, kan hy hom by ’n nuwe situasie aanpas. Dit is belangrik om nie dan ons omstandighede te vergelyk met dié van ander wat nie siekte in die gesin het nie, want dit kan ons laat dink dat hulle lewe makliker is en dat ‘dit net nie regverdig is nie’. Niemand weet in werklikheid watter laste ander dra nie. Alle Christene put vertroosting uit Jesus se woorde: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.”—Matteus 11:28.
STEL PRIORITEITE
14. Hoe kan gepaste prioriteite gestel word?
14 Wanneer daar ’n ernstige siekte in ’n gesin is, sal dit goed wees as hulle die geïnspireerde woorde onthou: “In die veelheid van raadgewers kom iets tot stand” (Spreuke 15:22, NW). Kan die gesinslede byeenkom en die situasie bespreek wat deur die siekte veroorsaak word? Dit sal beslis gepas wees om dit biddend te doen en om na God se Woord te gaan vir leiding (Psalm 25:4). Wat moet in so ’n bespreking in aanmerking geneem word? Wel, daar is mediese, finansiële en gesinsbesluite wat geneem moet word. Wie sal hoofsaaklik die sorg voorsien? Hoe kan die gesin saamwerk om met daardie sorg te help? Hoe sal die reëlings wat getref word elke lid van die gesin raak? Hoe sal daar na die geestelike en ander behoeftes omgesien word van die een wat hoofsaaklik die sorg gaan voorsien?
15. Watter ondersteuning gee Jehovah aan gesinne wat ernstige siekte ondervind?
15 As ons opreg om Jehovah se leiding bid, oor sy Woord peins en die Bybel se weg moedig volg, lei dit dikwels tot ongekende seëninge. ’n Siek gesinslid se toestand sal dalk nie altyd verbeter nie. Maar vertroue op Jehovah lei in enige situasie altyd tot die beste resultate (Psalm 55:23). Die psalmis het geskryf: “U goedertierenheid [ondersteun] my, o HERE! As my gedagtes binne-in my vermenigvuldig, dan verkwik u vertroostinge my siel.”—Psalm 94:18, 19; sien ook Psalm 63:7-9.
HELP DIE KINDERS
16, 17. Watter punte kan verduidelik word wanneer daar met jong kinders oor die siekte van hulle broer of suster gepraat word?
16 Ernstige siekte kan probleme vir kinders in die gesin veroorsaak. Dit is belangrik dat ouers die kinders help om te besef watter behoeftes ontstaan het en wat hulle kan doen om te help. As dit ’n kind is wat siek geword het, moet sy broers en susters gehelp word om te verstaan dat die ekstra aandag en sorg wat die sieke ontvang, nie beteken dat die ouers die ander kinders enigsins minder liefhet nie. Pleks van gegriefdheid of wedywering te laat ontstaan, kan ouers die ander kinders help om ’n hegter band met mekaar te ontwikkel asook opregte toegeneentheid te hê terwyl hulle saamwerk om die situasie te hanteer wat deur die siekte veroorsaak is.
17 As ouers ’n beroep op jong kinders se gevoelens doen, sal dit gewoonlik beter resultate lewer as om lang of ingewikkelde mediese verduidelikings te gee. Hulle kan dus in sekere mate gehelp word om te besef wat die siek gesinslid deurmaak. As die gesonde kinders sien hoe die siekte die sieke verhinder om baie van die dinge te doen wat hulle vanselfsprekend aanneem, sal hulle waarskynlik meer “broederlike geneentheid” en “tere medelye” hê.—1 Petrus 3:8.
18. Hoe kan ouer kinders gehelp word om die probleme te verstaan wat deur siekte veroorsaak word, en hoe kan dit hulle tot voordeel strek?
18 Ouer kinders moet gehelp word om te besef dat daar ’n moeilike situasie bestaan en dat almal in die gesin opofferings sal moet maak. As gevolg van doktersgelde en mediese rekenings wat betaal moet word, is dit dalk nie moontlik dat ouers vir die ander kinders kan sorg soos hulle graag wil nie. Sal die kinders daaroor gegrief voel en dink dat hulle iets ontsê word? Of sal hulle die situasie verstaan en gewillig wees om die nodige opofferings te maak? Baie hang af van die manier waarop die saak bespreek word en die gees wat in die gesin geskep word. Trouens, in baie gesinne het die siekte van ’n gesinslid gehelp om kinders op te lei om Paulus se raad te volg: ‘Doen niks uit twisgierigheid of uit egotisme nie, maar ag met ootmoed die ander hoër as julleself, en hou nie in persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake nie, maar ook in persoonlike belangstelling op dié van die ander.’—Filippense 2:3, 4.
HOE MEDIESE BEHANDELING BESKOU MOET WORD
19, 20. (a) Watter verantwoordelikhede het gesinshoofde as ’n gesinslid siek is? (b) Op watter manier gee die Bybel leiding oor die behandeling van siekte, al is dit nie ’n mediese handleiding nie?
19 Gebalanseerde Christene het nie beswaar teen mediese behandeling nie, mits dit nie in stryd met God se wet is nie. Wanneer ’n lid van hulle gesin siek word, soek hulle graag hulp om die lyding van die sieke te verlig. Maar daar is dalk teenstrydige professionele menings wat oorweeg moet word. Daarbenewens het nuwe siektes en kwale in die laaste jare te voorskyn gekom, en vir baie van hierdie siektes is daar nie ’n erkende metode van behandeling nie. Dit is soms selfs moeilik om ’n juiste diagnose te verkry. Wat moet ’n Christen dan doen?
20 Hoewel een Bybelskrywer ’n geneesheer was en die apostel Paulus nuttige mediese raad aan sy vriend Timoteus gegee het, is die Skrif ’n sedelike en geestelike gids, nie ’n mediese handleiding nie (Kolossense 4:14; 1 Timoteus 5:23). Christengesinshoofde moet derhalwe hulle eie gebalanseerde besluite neem wat mediese behandeling betref. Hulle meen dalk dat hulle meer as een professionele mening moet inwin. (Vergelyk Spreuke 18:17.) Hulle sal beslis die beste beskikbare hulp vir hulle siek gesinslid wil hê, en die meeste mense raadpleeg gewone dokters hiervoor. Party verkies alternatiewe gesondheidsterapie. Ook dit is ’n persoonlike besluit. Maar wanneer Christene met gesondheidsprobleme te doen het, vergeet hulle nie dat ‘God se woord ’n lamp vir hulle voet en ’n lig vir hulle pad is’ nie (Psalm 119:105). Hulle gaan voort om die riglyne te volg wat in die Bybel uiteengesit is (Jesaja 55:8, 9). Hulle vermy dus diagnostiese tegnieke wat met spiritisme verband hou, asook vorme van behandeling wat in stryd met Bybelbeginsels is.—Psalm 36:10; Handelinge 15:28, 29; Openbaring 21:8.
21, 22. Hoe het een Asiatiese vrou oor ’n Bybelbeginsel geredeneer, en wat toon dat sy die regte besluit in haar omstandighede geneem het?
21 Beskou die geval van ’n jong Asiatiese vrou. ’n Rukkie nadat sy deur middel van haar studie saam met Jehovah se Getuies aangaande die Bybel begin leer het, het sy te vroeg geboorte gegee aan ’n babadogtertjie wat net 1,5 kilogram geweeg het. Die vrou was baie hartseer toe ’n dokter vir haar sê dat die baba erg gestremd gaan wees en nooit sal kan loop nie. Hy het haar aangeraai om die baba in ’n inrigting te sit. Haar man was nie seker oor die saak nie. Tot wie kon sy haar wend?
22 Sy sê: “Ek het onthou dat ek in die Bybel geleer het: ‘Seuns is ’n erfdeel van die HERE; die vrug van die moederskoot is ’n beloning’” (Psalm 127:3). Sy het besluit om hierdie “erfdeel” huis toe te neem en vir haar te sorg. Aan die begin was dit moeilik, maar met die hulp van Christenvriende in die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies kon die vrou oor die weg kom en aan die kind die spesiale sorg gee wat sy nodig gehad het. Twaalf jaar later het die kind steeds vergaderinge in die Koninkryksaal bygewoon en die geselskap van die kinders daar geniet. Die moeder sê: “Ek is so dankbaar dat Bybelbeginsels my beweeg het om te doen wat reg is. Die Bybel het my gehelp om ’n skoon gewete voor Jehovah God te behou en om nie vir die res van my lewe spyt te wees nie.”
23. Watter vertroosting gee die Bybel vir die siekes en vir diegene wat vir hulle sorg?
23 Ons sal nie vir ewig met siekte te kampe hê nie. Die profeet Jesaja het van ’n tyd gepraat wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Daardie belofte sal in die vinnig naderende nuwe wêreld verwesenlik word. Maar tot dan moet ons siekte en die dood verduur. Gelukkig kry ons riglyne en hulp in God se Woord. Die basiese gedragsreëls wat die Bybel voorsien, is blywend en is ver verhewe bo die steeds veranderende menings van onvolmaakte mense. ’n Verstandige persoon stem derhalwe saam met die psalmis wat geskryf het: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. . . . Die verordeninge van die HERE is waarheid—tesame is hulle regverdig. . . . In die onderhouding daarvan is groot loon.”—Psalm 19:8, 10, 12.