“Onderhou my gebooie en bly lewe”
HY WAS jonk, intelligent, “skoon van gestalte en mooi van aansien”. Sy werkgewer se vrou was wellustig en skaamteloos. Sy was so verlief op die jong man dat sy hom elke dag probeer verlei het. “Hy [het] eendag in die huis [gekom] om sy werk te doen terwyl niemand van die huisgenote binne was nie. Toe gryp sy hom aan sy kleed en sê: Kom hou gemeenskap met my.” Maar Josef, die seun van die aartsvader Jakob, het sy kleed laat agterbly en van Potifar se vrou af gevlug.—Genesis 39:1-12.
Maar natuurlik vlug nie almal van ’n situasie waarin hulle versoek word nie. Kyk byvoorbeeld na die geval van ’n jong man wat koning Salomo van eertydse Israel een aand op straat gesien het. Toe hy deur ’n onsedelike vrou verlei is, “het hy haar meteens gevolg soos ’n os wat gaan om geslag te word”.—Spreuke 7:21, 22, New International Version.
Christene word vermaan om te “vlug vir die hoerery” (1 Korintiërs 6:18). Die apostel Paulus het aan die jong Christendissipel Timoteus geskryf: “Vlug . . . vir die begeertes wat eie is aan die jeug” (2 Timoteus 2:22). Wanneer ons voor situasies te staan kom wat tot hoerery, egbreuk of ander sedelike oortredings kan lei, moet ons ook op dieselfde besliste manier vlug as wat Josef van Potifar se vrou gevlug het. Wat sal ons help om vasbeslote te wees om dit te doen? In die 7de hoofstuk van die Bybelboek Spreuke gee Salomo ons raad wat van onskatbare waarde is. Hy praat nie net van leringe wat ons teen die liste van onsedelike mense beskerm nie, maar lê ook die manier waarop hulle te werk gaan bloot deur ’n duidelike beskrywing te gee van ’n toneel waarin ’n jong man deur ’n losbandige vrou verlei word.
‘Bind my gebooie aan jou vingers’
Die koning begin met die vaderlike raad: “My seun, onderhou my woorde, en mag jy my gebooie as ’n skat by jou bewaar. Onderhou my gebooie en bly lewe, en my wet soos die appel van jou oog.”—Spreuke 7:1, 2, NW.
Ouers, veral vaders, het die godgegewe verantwoordelikheid om hulle kinders God se standaarde van goed en kwaad te leer. Moses het vaders vermaan: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). En die apostel Paulus het geskryf: “Vaders, moenie julle kinders irriteer nie, maar hou aan om hulle in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). ’n Ouer se onderrigting wat as ’n skat bewaar moet word, oftewel hoog op prys gestel moet word, sluit dus ongetwyfeld die herinneringe, die gebooie en die wette in wat in God se Woord, die Bybel, gevind word.
Ouers se onderrigting kan ook ander voorskrifte insluit—gesinsreëls. Dit is vir die beswil van die gesinslede. Hierdie reëls sal weliswaar van gesin tot gesin verskil, na gelang van die behoeftes van die gesin. Maar dit is die ouers se plig om te besluit wat die beste is vir hulle eie gesin. En die reëls wat hulle maak, is gewoonlik ’n blyk van hulle opregte liefde en besorgdheid. Die raad aan jongmense is dat hulle by hierdie reëls bly, sowel as by die skriftuurlike onderrigting wat hulle van hulle ouers ontvang. Ja, ’n mens moet hierdie onderrigting “soos die appel van jou oog” beskou—dit met die grootste sorg bewaar. Dit is hoe jy die dodelike gevolge wat dit meebring om Jehovah se standaarde te verontagsaam, kan vermy en sodoende “bly lewe”.
“Bind hulle [my gebooie] aan jou vingers”, sê Salomo verder, “en skryf hulle op die tafel van jou hart” (Spreuke 7:3, NW). Net soos ons gedurig ons vingers kan sien en hulle noodsaaklik is om ons voornemens uit te voer, so moet die lesse wat ons leer uit ’n skriftuurlike opvoeding of wanneer ons Bybelkennis inneem voortdurend vir ons as herinnering en gids dien in alles wat ons doen. Ons moet dit op die tafel van ons hart graveer, dit ’n deel van ons maak.
Die koning vergeet nie van die belangrikheid van wysheid en begrip nie en maan: “Sê vir wysheid: ‘Jy is my suster’; en mag jy begrip ‘Bloedverwant’ noem” (Spreuke 7:4, NW). Wysheid is die vermoë om godgegewe kennis reg te gebruik. Ons moet lief wees vir wysheid soos ons vir ’n geliefde suster sal wees. Wat is begrip? Dit is die vermoë om tot die kern van ’n saak deur te dring en die sin daarvan te begryp deur te sien watter verband daar tussen die dele daarvan en die geheel bestaan. Begrip moet so na aan ons wees soos ’n intieme vriend.
Waarom moet ons getrou volgens skriftuurlike opleiding optree en ’n liefde vir wysheid en begrip ontwikkel? “Om [ons] te bewaar van die vreemde vrou, van die uitlander wat haar woorde vleiend gemaak het” (Spreuke 7:5, NW). Ja, dit sal ons beskerm teen die listige en oorredende weë van ’n vreemdeling, of uitlander—’n onsedelike persoon.a
Die jong man ontmoet ‘’n listige vrou’
Die koning van Israel beskryf vervolgens ’n toneel wat hy self gesien het: “Ek het by die venster van my huis, deur my hortjiesvenster, afgekyk, sodat ek die onervarenes kon sien. Met belangstelling het ek onder die seuns ’n jong man bemerk wat nie ’n verstandige hart het nie, wat op die straat naby haar hoek verbygaan, en in die rigting van haar huis stap hy, in die skemering, in die aand van die dag, met die aanbreek van die nag en die donker.”—Spreuke 7:6-9, NW.
Die venster waardeur Salomo gekyk het, het hortjies gehad—klaarblyklik ’n raamwerk met dwarslatte en wat moontlik met snywerk versier is. Namate die skemering verdwyn, raak die strate al hoe donkerder. Hy sien ’n jong man wat veral kwesbaar is. Hy het nie onderskeidingsvermoë, oftewel goeie oordeel, nie en het derhalwe nie ’n verstandige hart nie. Hy is waarskynlik bewus van die soort buurt waarin hy hom bevind en wat daar met hom kan gebeur. Die jong man kom naby “haar hoek”, wat op pad na haar huis toe is. Wie is sy? Wat doen sy?
Die oplettende koning sê verder: “Kyk! ’n vrou het hom tegemoetgekom, met die kleed van ’n prostituut en listig van hart. Sy is luidrugtig en hardkoppig. Haar voete vertoef nie in haar huis nie. Dan is sy buitenshuis, dan is sy weer op die openbare pleine, en naby elke hoek lê sy op die loer.”—Spreuke 7:10-12, NW.
Die vrou se kleredrag spreek boekdele oor haar (Genesis 38:14, 15). Sy is, soos ’n prostituut, onbeskeie aangetrek. Wat meer is, sy is listig van hart—haar verstand is “verraderlik”, haar bedoeling “listig” (An American Translation; New International Version). Sy is luidrugtig en hardkoppig, spraaksaam en eiewys, lawaaierig en eiesinnig, vrypostig en uitdagend. Pleks van by die huis te bly, verkies sy om in openbare plekke te wees en wag sy op straathoeke om haar prooi te vang. Sy wag vir iemand soos die jong man.
’n ‘Oorvloed oorredingskrag’
’n Jong man ontmoet dus ’n losbandige vrou met ’n listige plan. Dit het ongetwyfeld Salomo se aandag getrek! Hy vertel: “Sy het hom gegryp en hom ’n soen gegee. Met ’n onbeskaamde gesig begin sy vir hom sê: ‘Ek was verplig om gemeenskapsoffers te bring. Vandag het ek my geloftes betaal. Daarom het ek uitgekom om jou te ontmoet, om jou gesig te soek, sodat ek jou kon vind.’”—Spreuke 7:13-15, NW.
Op die lippe van hierdie vrou is vleiende woorde. Sy is onbeskaamd en praat vol vertroue. Alles wat sy sê, is deeglik deurdink om die jong man te verlei. Deur te sê dat sy daardie selfde dag nog gemeenskapsoffers gebring het en haar geloftes betaal het, maak sy ’n vertoon van regverdigheid en wil sy te kenne gee dat sy wel geestelikgesind is. Gemeenskapsoffers, oftewel dankoffers, wat by die tempel in Jerusalem geoffer is, het bestaan uit vleis, meel, olie en wyn (Levitikus 19:5, 6; 22:21; Numeri 15:8-10). Aangesien die persoon wat die offer gebring het ’n deel van die gemeenskapsoffer vir hom en sy gesin kon neem, wil sy dus laat deurskemer dat daar genoeg in haar huis is om te eet en te drink. Die implikasie is duidelik: Die jong man sou by haar huis pret hê. Sy het juis uit haar huis gekom om na hom te soek. Hoe vleiend tog—dat iemand darem so ’n storie kon sluk. “Dit is waar dat sy iemand gesoek het,” sê ’n Bybelgeleerde, “maar het sy werklik net na hierdie een besondere kêrel kom soek? Net ’n dwaas—moontlik hierdie dwaas—sou haar glo.”
Nadat sy haarself aantreklik gemaak het deur haar kleredrag, deur die klank van haar vleiende woorde, deur die aanraking van haar omhelsing en deur die smaak van haar lippe, gebruik die verleidster ook die reuksin. Sy sê: “Met dekens het ek my divan bedek, met veelkleurige goed, linne uit Egipte. Ek het my bed met mirre, aalwyn en kaneel besprinkel” (Spreuke 7:16, 17, NW). Sy het haar bed mooi opgemaak met kleurvolle linne uit Egipte en dit welriekend gemaak met uitgesoekte geure van mirre, aalwyn en kaneel.
“Kom tog, laat ons tot die oggend tot versadiging toe van die liefde drink”, sê sy verder, “laat ons tog met liefkosings genot hê van mekaar.” Die uitnodiging is vir baie meer as net ’n aangename ete vir twee. Sy belowe dat hulle seksuele intimiteit sal geniet. Vir die jong man klink die uitnodiging na avontuur en opwinding! As verdere aansporing voeg sy by: “Want die eggenoot is nie in sy huis nie; hy het ver weg op reis gegaan. ’n Sak geld het hy in sy hand geneem. Op die dag van die volmaan sal hy na sy huis kom” (Spreuke 7:18-20, NW). Hulle sou heeltemal veilig wees, verseker sy hom, want haar man is weg op ’n sakereis en word nie binnekort terug verwag nie. Hoe vernuftig lei sy tog ’n jong persoon om die bos! “Sy het hom mislei deur die oorvloed van haar oorredingskrag. Deur die gladheid van haar lippe verlei sy hom” (Spreuke 7:21, NW). Dit sou ’n man van Josef se kaliber verg om ’n uitnodiging wat so aanloklik is, te weerstaan (Genesis 39:9, 12). Is hierdie jong man hierteen opgewasse?
“Soos ’n bul wat gaan om geslag te word”
“Skielik loop hy agter haar aan,” berig Salomo, “soos ’n bul wat gaan om geslag te word, en asof hy geboei is vir die dissipline van ’n dwaas, totdat ’n pyl sy lewer oopkloof, net soos ’n voël vinnig in die valstrik invlieg, en hy het nie geweet dat dit sy siel raak nie.”—Spreuke 7:22, 23, NW.
Die uitnodiging is vir die jong man onweerstaanbaar. Hy gooi alle goeie oordeel oorboord en gaan agter haar aan “soos ’n bul wat gaan om geslag te word”. Net soos ’n man wat geboei is sy straf nie kan vryspring nie, so word die jong man in sonde ingelei. Hy sien nie die gevaar daarin nie totdat “’n pyl sy lewer oopkloof”, dit wil sê tot hy ’n wond kry wat sy dood kan veroorsaak. Die dood kan fisies wees deurdat hy hom aan dodelike seksueel oordraagbare siektes blootstel.b Die wond kan ook sy geestelike dood veroorsaak; ‘dit raak sy siel’. Dit het ’n uiters skadelike uitwerking op sy hele wese en sy lewe, en hy het ernstig gesondig teen God. Hy haas hom dus na die dood soos ’n voël wat in ’n valstrik invlieg!
“Moenie in haar paaie indwaal nie”
Die wyse koning toon watter les geleer kan word uit wat hy gesien het deur te sê: “En nou, o seuns, luister na my en skenk aandag aan die woorde van my mond. Laat jou hart nie afwyk na haar weë nie. Moenie in haar paaie indwaal nie. Want baie is die gesneuweldes wat sy laat val het, en talryk is almal wat deur haar gedood is. Die weë na Sjeool is haar huis; hulle daal af na die binnekamers van die dood.”—Spreuke 7:24-27, NW.
Dit is duidelik dat Salomo ons aanraai om ons af te keer van die dodelike weë van ’n onsedelike persoon en te “bly lewe” (Spreuke 7:2, NW). Hoe tydig is hierdie raad tog nie vir ons dag nie! Dit is beslis belangrik dat ons plekke vermy wat gereeld besoek word deur diegene wat gereed is om ’n prooi te vang. Waarom jou aan hulle planne blootstel deur na sulke plekke te gaan? Ja, waarom sou jy die een wees wat “nie ’n verstandige hart het nie” en in die paaie van ’n “uitlander” indwaal?
Die “vreemde vrou” wat die koning gesien het, het die jong man verlei met ’n uitnodiging om ‘met liefkosings genot van mekaar te hê’. Is daar nie al op soortgelyke maniere van baie jongmense—veral meisies—misbruik gemaak nie? Maar dink hieroor na: Wanneer iemand jou in seksuele wangedrag probeer verlok, is dit dan ware liefde of selfsugtige wellus? Waarom sou ’n man wat ’n vrou opreg liefhet druk op haar probeer uitoefen om haar Christelike opleiding en gewete te ignoreer? “Laat jou hart nie afwyk” na sulke weë nie, maan Salomo.
Die woorde van ’n verleier is gewoonlik vleiend en deeglik deurdink. As ons wysheid en begrip na aan ons hou, sal dit ons help om te begryp wat agter daardie woorde skuil. As ons nooit vergeet wat Jehovah ons beveel het nie, sal dit ons beskerm. Mag ons derhalwe altyd daarna streef om ‘God se gebooie te onderhou en te bly lewe’, selfs tot in alle ewigheid.—1 Johannes 2:17.
[Voetnote]
a Die woord “vreemdeling” is toegepas op diegene wat hulle van Jehovah vervreem het deur van die Wet af te wyk. ’n Onsedelike vrou, soos ’n prostituut, word gevolglik ’n “vreemde vrou” genoem.
b Party seksueel oordraagbare siektes beskadig die lewer. In gevorderde gevalle van sifilis oorweldig bakteriese organismes byvoorbeeld die lewer. En die organisme wat vir gonorree verantwoordelik is, kan ontsteking van die lewer veroorsaak.
[Prente op bladsy 29]
Hoe beskou jy jou ouers se reëls?
[Prent op bladsy 31]
Dit beteken die lewe as ons God se gebooie onderhou