Bou ’n intieme verhouding met Jehovah op
“KOM nader aan God, en hy sal nader aan julle kom”, het die dissipel Jakobus geskryf (Jakobus 4:8). En die psalmis Dawid het gesing: “Intimiteit met Jehovah behoort aan dié wat hom vrees” (Psalm 25:14, NW). Dit is duidelik dat Jehovah God wil hê dat ons ’n intieme verhouding met hom moet geniet. Maar nie almal wat God aanbid en sy wette gehoorsaam, voel noodwendig na aan hom nie.
Wat van jou? Het jy ’n hegte persoonlike verhouding met God? Jy wil ongetwyfeld nader aan hom kom. Hoe kan ons ’n intieme verhouding met God opbou? Wat sal dit vir ons beteken? Die derde hoofstuk van die Bybelboek Spreuke 3 voorsien die antwoorde.
Openbaar liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid
Koning Salomo van eertydse Israel begin die derde hoofstuk van Spreuke met die woorde: “My seun, moenie my wet vergeet nie, en mag jou hart my gebooie bewaar, want lengte van dae en jare van lewe en vrede sal vir jou bygevoeg word” (Spreuke 3:1, 2, NW). Aangesien Salomo onder Goddelike inspirasie geskryf het, kom hierdie vaderlike raad in werklikheid van Jehovah God af en word dit aan ons gerig. Ons word hier aangespoor om ag te slaan op God se vermanings—sy wet, of onderrigting, en sy gebooie—wat in die Bybel opgeteken staan. As ons dit doen, sal “lengte van dae en jare van lewe en vrede [vir ons] bygevoeg word”. Ja, ons kan selfs nou ’n vreedsame lewe geniet en strewes vermy wat kan veroorsaak dat ons ’n vroeë dood sterf, soos dikwels met kwaaddoeners gebeur. Bowendien kan ons die hoop hê op die ewige lewe in ’n vreedsame nuwe wêreld.—Spreuke 1:24-31; 2:21, 22.
Salomo sê voorts: “Mag liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid jou nie verlaat nie. Bind dit om jou hals. Skryf dit op die tafel van jou hart, en vind so guns en goeie insig in die oë van God en van die mens.”—Spreuke 3:3, 4, NW.
Die woord vir “liefderyke goedhartigheid” in die oorspronklike taal word ook met “lojale liefde” vertaal en bevat die gedagte van getrouheid, eenheid en lojaliteit. Is ons vasbeslote om aan Jehovah geheg te bly ongeag wat gebeur? Betoon ons liefderyke goedhartigheid in ons verhoudinge met medegelowiges? Probeer ons na aan hulle bly? Hou ons in ons daaglikse handelinge met hulle ‘die wet van liefderyke goedhartigheid op ons tong’, al is dit onder moeilike omstandighede?—Spreuke 31:26, NW.
Aangesien Jehovah oorvloedig in liefderyke goedhartigheid is, is hy “vergewensgesind” (Psalm 86:5, vgl. NW). As ons berou getoon het oor ons vorige sondes en nou reguit paaie vir ons voete maak, het ons die versekering dat “tye van verkwikking” van Jehovah sal kom (Handelinge 3:19). Behoort ons nie ons God na te volg deur ander hulle oortredings te vergewe nie?—Matteus 6:14, 15.
Jehovah is “die God van waarheid”, en hy verwag “waaragtigheid” van diegene wat ’n intieme verhouding met hom wil hê (Psalm 31:5, NW). Kan ons werklik verwag dat Jehovah ons Vriend sal wees as ons ’n dubbele lewe lei—as ons op een manier optree wanneer ons saam met Christenmetgeselle is en op ’n ander manier optree wanneer hulle ons nie sien nie—soos “mense van onwaarheid” wat verberg wat hulle is? (Psalm 26:4, NW). Hoe dwaas sou dit tog wees, want “alles lê naak en oop en bloot voor die oë” van Jehovah!—Hebreërs 4:13.
Liefderyke goedhartigheid en waaragtigheid moet vir ons kosbaar wees, soos ’n waardevolle halssnoer ‘wat om ons hals gebind is’, want dit help ons om ‘guns in die oë van God en van die mens te vind’. Hierdie eienskappe moet nie net voor ander geopenbaar word nie, maar ook ‘op die tafel van ons hart’ geskryf word en ’n wesenlike deel van ons persoonlikheid uitmaak.
Bou volkome vertroue in Jehovah op
Die wyse koning sê voorts: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie verstand steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hý sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6, NW.
Jehovah verdien beslis ons volkome vertroue. As die Skepper is hy “sterk in krag” en die Bron van “dinamiese energie” (Jesaja 40:26, 29, NW). Hy kan alles uitvoer wat hy hom voorgeneem het. Trouens, selfs sy naam beteken letterlik “Hy laat word”, en dit versterk ons vertroue in sy vermoë om wat hy belowe het te vervul! Hy is die absolute beliggaming van waarheid, want dit is “onmoontlik . . . vir God om te lieg” (Hebreërs 6:18). Sy oorheersende eienskap is liefde (1 Johannes 4:8). Hy is “regverdig in al sy weë en lojaal in al sy werke” (Psalm 145:17, NW). As ons God nie kan vertrou nie, wie kan ons vertrou? Maar om vertroue in hom op te bou, moet ons natuurlik “smaak en sien dat die HERE goed is” deur in ons persoonlike lewe toe te pas wat ons in die Bybel leer en deur na te dink oor die goeie resultaat daarvan.—Psalm 34:9.
Hoe kan ons ‘in al ons weë op Jehovah ag slaan’? Die geïnspireerde psalmis sê: “[Ek wil] al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade” (Psalm 77:13). Aangesien God onsigbaar is, is bepeinsing oor sy groot dade en oor sy handelinge met sy volk noodsaaklik as ons ’n intieme verhouding met hom wil opbou.
Gebed is ook ’n belangrike manier waarop ons op Jehovah ag kan slaan. Koning Dawid het Jehovah “die hele dag deur” bly aanroep (Psalm 86:3). Dawid het dikwels regdeur die nag gebid, soos toe hy ’n voortvlugtige in die woestyn was (Psalm 63:7, 8). “[Hou aan] om by elke geleentheid in gees te bid”, het die apostel Paulus gemaan (Efesiërs 6:18). Hoe dikwels bid ons? Geniet ons dit om persoonlik en uit die hart met God te kommunikeer? Smeek ons hom om hulp wanneer ons voor moeilike situasies te staan kom? Vra ons sy leiding in gebed voordat ons belangrike besluite neem? Ons opregte gebede tot Jehovah maak ons bemind by hom. En ons het die versekering dat hy ons gebed sal verhoor en ‘ons paaie reguit sal maak’.
Hoe dwaas is dit tog om ‘op ons eie verstand te steun’ of dié van vername mense in die wêreld wanneer ons ons volkome vertroue in Jehovah kan stel! “Moenie wys word in jou eie oë nie”, sê Salomo. Daarenteen maan hy: “Vrees Jehovah en wyk af van wat sleg is. Mag dit ’n genesing vir jou naeltjie word en ’n verkwikking vir jou gebeente” (Spreuke 3:7, 8, NW). Al ons dade, gedagtes en emosies behoort gerig te word deur ’n gesonde vrees om God te mishaag. Sulke eerbiedige vrees voorkom dat ons doen wat sleg is, en dit genees en verkwik ons geestelik.
Gee Jehovah jou beste
Op watter ander manier kan ons nader aan God kom? “Eer Jehovah met jou waardevolle dinge en met die eerstelinge van jou hele opbrengs”, sê die koning (Spreuke 3:9, NW). Om Jehovah te eer, beteken om hom hoog te ag en hom in die openbaar te verheerlik deur aan die openbare bekendmaking van sy naam deel te neem en dit te ondersteun. Die waardevolle dinge waarmee ons Jehovah eer, is ons tyd, ons talente, ons krag en ons materiële besittings. Dit moet die eerstelinge wees—ons heel beste. Behoort die manier waarop ons ons persoonlike middele gebruik nie ons besluit te weerspieël om ‘aan te hou om eers die koninkryk en God se regverdigheid te soek’ nie?—Matteus 6:33.
As ons Jehovah met ons waardevolle dinge eer, sal ons beloon word. “Dan sal jou voorraadskure met oorvloed gevul word”, verseker Salomo, “en van nuwe wyn sal jou eie parskuipe oorloop” (Spreuke 3:10, NW). Hoewel geestelike voorspoed nie op sigself tot materiële voorspoed lei nie, bring dit ryk seëninge mee as ons ons middele milddadig gebruik om Jehovah te eer. Om God se wil te doen, was vir Jesus soos “voedsel” wat hom versterk het (Johannes 4:34). As ons deelneem aan die predikings- en dissipelmaakwerk wat Jehovah verheerlik, het dit eweneens ’n versterkende invloed op ons. As ons in hierdie werk volhard, sal ons geestelike voorraadskure met oorvloed gevul word. Ons vreugde—wat deur nuwe wyn voorgestel word—sal oorloop.
Wend ons ons nie ook tot Jehovah in gebed vir genoeg fisiese voedsel vir elke dag nie? (Matteus 6:11). Alles wat ons besit, het immers van ons liefdevolle hemelse Vader af gekom. Jehovah sal verdere seëninge uitstort in die mate waarin ons ons waardevolle dinge gebruik om hom te loof.—1 Korintiërs 4:7.
Verwelkom Jehovah se dissipline
Die koning van Israel toon hoe belangrik dissipline is as ons ’n intieme verhouding met Jehovah wil opbou en raai ons aan: “O my seun, moenie die dissipline van Jehovah verwerp nie; en moenie sy teregwysing verafsku nie, want Jehovah wys tereg wie hy liefhet, net soos ’n vader doen met ’n seun in wie hy behae het.”—Spreuke 3:11, 12, NW.
Maar dit is dalk nie vir ons maklik om dissipline te aanvaar nie. “Geen dissipline lyk weliswaar op die oomblik vreugdevol nie, maar bedroewend”, het die apostel Paulus geskryf, “tog lewer dit later vir dié wat daardeur geoefen is vreedsame vrug op, naamlik regverdigheid” (Hebreërs 12:11). Teregwysing en dissipline is ’n noodsaaklike deel van die opleiding wat ons nader aan God bring. Teregwysing van Jehovah—hetsy van ons ouers, deur die Christengemeente of as ons gedurende ons persoonlike studie die Skrif bepeins—is ’n blyk van sy liefde vir ons. Ons is verstandig as ons dit verwelkom.
Hou vas aan wysheid en onderskeidingsvermoë
Salomo beklemtoon vervolgens die belangrikheid van wysheid en onderskeidingsvermoë as ons ’n hegte verhouding met God wil opbou. Hy sê: “Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het, en die mens wat onderskeidingsvermoë verkry, want om dit as gewin te hê, is beter as om silwer as gewin te hê, en om dit as opbrengs te hê beter as goud self. . . . Dit is ’n lewensboom vir dié wat dit aangryp, en dié wat dit stewig vashou, sal gelukkig genoem word.”—Spreuke 3:13-18, NW.
Die koning herinner ons aan die manier waarop wysheid en onderskeidingsvermoë in Jehovah se wonderlike skeppingswerke geopenbaar word en sê: “Jehovah self het die aarde met wysheid gegrondves. Hy het die hemel met onderskeidingsvermoë stewig bevestig. . . . My seun, mag dit nie uit jou oë wyk nie. Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë, en dit sal lewe vir jou siel wees en bekoorlikheid vir jou hals.”—Spreuke 3:19-22, NW.
Wysheid en onderskeidingsvermoë is goddelike eienskappe. Ons moet dit nie net aankweek nie, maar ook daaraan vashou deur nooit traag te word in ons ywerige studie van die Skrif en die toepassing van wat ons leer nie. “Dan sal jy in veiligheid op jou weg wandel”, sê Salomo voorts, “en selfs jou voet sal teen niks stamp nie.” Hy voeg by: “Wanneer jy ook al gaan lê, sal jy geen angs ervaar nie; en jy sal beslis gaan lê, en jou slaap moet aangenaam wees.”—Spreuke 3:23, 24, NW.
Ja, ons kan in veiligheid wandel en met gemoedsrus slaap terwyl ons wag op die dag van “skielike vernietiging” wat soos ’n dief oor Satan se goddelose wêreld sal kom (1 Tessalonisense 5:2, 3; 1 Johannes 5:19). Selfs gedurende die naderende groot verdrukking het ons hierdie versekering: “Jy sal nie bang hoef te wees vir ’n skielike verskrikking nie, en ook nie vir die storm oor die goddeloses omdat dit kom nie. Want Jehovah self sal in werklikheid jou vertroue wees, en hy sal beslis jou voet bewaar dat dit nie gevang word nie.”—Spreuke 3:25, 26, NW; Matteus 24:21.
Doen wat goed is
“Moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom”, maan Salomo, “wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie” (Spreuke 3:27, NW). Om aan ander goed te doen, behels dat ons op vrygewige wyse ons middele ten behoewe van hulle gebruik, en dit het baie fasette. Maar is die beste ding wat ons gedurende hierdie “tyd van die einde” vir ander kan doen, nie om hulle te help om ’n hegte verhouding met die ware God op te bou nie? (Daniël 12:4). Dit is dus nou die tyd om ywerig te wees in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk.—Matteus 28:19, 20.
Die wyse koning noem ook ’n paar gebruike wat ons moet vermy: “Moenie vir jou medemens sê: ‘Gaan, en kom terug en môre sal ek gee’, wanneer daar iets by jou is nie. Moenie enigiets slegs teen jou medemens beraam wanneer hy met ’n gevoel van veiligheid by jou woon nie. Moenie sonder oorsaak met ’n mens rusie maak as hy jou geen kwaad aangedoen het nie. Moenie afgunstig raak op die man van geweld nie, en moet ook nie enige van sy weë kies nie.”—Spreuke 3:28-31, NW.
Salomo som die rede vir sy raad op en sê: “Want die slinkse persoon is verfoeilik vir Jehovah, maar Sy intimiteit is met die regskapenes. Die vloek van Jehovah is op die huis van die goddelose, maar die woonplek van die regverdiges seën hy. As dit met spotters te doen het, sal hý spot; maar aan die sagmoediges sal hy guns betoon. Die wyses sal eer in besit kry, maar die sotte verhef oneer.”—Spreuke 3:32-35, NW.
As ons ’n intieme verhouding met Jehovah wil geniet, moet ons nie slinkse onheilsplanne beraam nie (Spreuke 6:16-19). Slegs as ons doen wat in God se oë reg is, sal ons sy guns en seën geniet. Ons sal dalk ook onverwagte eer ontvang wanneer ander sien dat ons in ooreenstemming met goddelike wysheid optree. Laat ons derhalwe die slinkse weë van hierdie goddelose en gewelddadige wêreld verwerp. Ja, laat ons ’n regskape weg nastreef en ’n intieme verhouding met Jehovah opbou!
[Prente op bladsy 25]
“Eer Jehovah met jou waardevolle dinge”