Saai regverdigheid, maai God se liefderyke goedhartigheid
“DIT sal sekerlik sleg gaan met ’n mens omdat hy vir ’n vreemdeling borg gestaan het, maar wie die handslag haat, bly sonder sorge” (Spreuke 11:15). Watter oortuigende aansporing om verantwoordelik op te tree, vind ons tog in hierdie kort spreuk! As jy ’n medeondertekenaar word van ’n lening vir ’n hoërisikolener, soek jy moeilikheid. Moenie vir iemand jou handslag gee nie—’n gebaar wat in eertydse Israel as bevestiging van ’n ooreenkoms gedien het—en vermy sodoende ’n finansiële verknorsing.
Die beginsel wat duidelik hier geld, is: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). “Saai vir julle saad in regverdigheid”, het die profeet Hosea gesê, “maai in ooreenstemming met liefderyke goedhartigheid” (Hosea 10:12). Ja, saai regverdigheid deur dinge op God se manier te doen en maai sy liefderyke goedhartigheid. Koning Salomo van Israel het hierdie beginsel herhaaldelik gebruik en ander kragtig aangespoor om aandag te skenk aan gepaste gedrag, opregte spraak en ’n regte gesindheid. ’n Sorgvuldige ondersoek van sy woorde van wysheid sal ons inderdaad aanspoor om saad in regverdigheid vir onsself te saai.—Spreuke 11:15-31.
Saai ‘bekoorlikheid’, maai “heerlikheid”
“’n Bekoorlike vrou verkry heerlikheid”, sê die wyse koning, “maar wat die tiranne betref, hulle verkry rykdom” (Spreuke 11:16). Hierdie vers stel die blywende heerlikheid wat ’n bekoorlike vrou, “’n deugsame vrou”, kan verkry teenoor die kortstondige rykdom wat ’n tiran vergaar.—Die Bybel, 1983.
Hoe kan ’n mens bekoorlikheid verkry wat tot heerlikheid lei? “Bewaar praktiese wysheid en denkvermoë”, het Salomo gemaan, “en dit sal . . . bekoorlikheid vir jou hals [wees]” (Spreuke 3:21, 22). En die psalmis het dieselfde Hebreeuse woord gebruik toe hy gepraat het van ‘minsaamheid wat uitgestort is op ’n koning se lippe’ (Psalm 45:1, 2). Ja, praktiese wysheid, denkvermoë en die gepaste gebruik van die tong dra by tot ’n mens se waarde en bekoorlikheid. Dit kan beslis in die geval van ’n verstandige vrou gesê word. Abigail, die vrou van dwase Nabal, is een voorbeeld. Sy het “goeie oordeel aan die dag gelê en was pragtig van gestalte”, en koning Dawid het haar vir haar “verstandigheid” geprys.—1 Samuel 25:3, 33.
’n Godvrugtige vrou wat werklik bekoorlik is, sal beslis heerlikheid ontvang. Mense sal goed van haar praat. As sy getroud is, sal sy heerlikheid vir haarself in die oë van haar man verkry. Trouens, sy sal heerlikheid vir die hele gesin bring. En haar heerlikheid is nie kortstondig nie. “’n Naam is verkiesliker as oorvloedige rykdom; guns is beter as selfs silwer en goud” (Spreuke 22:1). Die goeie naam wat sy by God maak, het blywende waarde.
Die situasie is anders met ’n tiran, ‘’n genadelose man’ (Spreuke 11:16, New International Version). ’n Tiran word saam met goddelose mense en dié wat teenstanders van Jehovah se aanbidders is, geklassifiseer (Job 6:23; 27:13). So iemand ‘stel God nie voor hom nie’ (Psalm 54:3). Deur die onskuldiges te onderdruk en hulle op selfsugtige wyse uit te buit, ‘hoop so iemand dalk silwer op soos stof’ (Job 27:16). Maar op die een of ander stadium sal hy dalk gaan lê en nie opstaan nie, en enige dag waarop hy wel sy oë oopmaak, kan sy laaste wees (Job 27:19). Al sy rykdom en prestasies sal dan nutteloos wees.—Lukas 12:16-21.
Wat ’n belangrike les leer Spreuke 11:16 ons tog! Deur kortliks te verduidelik wat bekoorlikheid en tirannie onderskeidelik sal maai, spoor die koning van Israel ons aan om regverdigheid te saai.
“Liefderyke goedhartigheid” bring belonings mee
Salomo gee nog ’n les in menseverhoudings en sê: “’n Man van liefderyke goedhartigheid doen goed aan sy eie siel, maar die wreedaard stort sy eie liggaam in die ongeluk” (Spreuke 11:17). “Die punt wat die spreuk oordra”, sê ’n geleerde, “is dat ’n mens se gedrag teenoor ander, hetsy goed of sleg, onbedoelde of onverwagse gevolge vir jouself het.” Let op die voorbeeld van ’n jong vrou met die naam Lisa.a Hoewel sy goeie bedoelings het, is sy altyd laat vir haar afsprake. Dit is nie vir haar ongewoon om 30 minute of meer laat te wees wanneer sy reëlings getref het om ander Koninkryksverkondigers vir velddiens te ontmoet nie. Lisa doen nie goed aan haarself nie. Kan sy ander kwalik neem as hulle moeg word daarvan om waardevolle tyd te verloor en nie meer afsprake met haar maak nie?
’n Perfeksionis—iemand wat onredelik hoë verwagtinge het—is ook wreed teenoor homself. Omdat hy alewig na onbereikbare doelwitte streef, stuur hy op uitputting en teleurstelling af. Aan die ander kant doen ons goed aan onsself wanneer ons realistiese en redelike doelwitte stel. Miskien snap ons nie idees so vinnig soos ander nie. Of miskien beperk siekte of die ouderdom ons. Ons moet nooit toelaat dat die tempo van ons geestelike vooruitgang ons frustreer nie, maar laat ons altyd redelikheid aan die dag lê wat ons beperkings betref. Ons moet gelukkig wees as ons ons “uiterste bes” doen.—2 Timoteus 2:15; Filippense 4:5.
Die wyse koning verduidelik verder hoe ’n regverdige homself bevoordeel terwyl die wreedaard homself leed aandoen deur te sê: “Die goddelose verkry valse loon, maar wie regverdigheid saai, ware verdienste. Wie vir regverdigheid vasstaan, het die lewe in die vooruitsig, maar wie najaag wat sleg is, sy vooruitsig is sy eie dood. Dié wat verdorwe van hart is, is vir Jehovah verfoeilik, maar in dié wat onberispelik in hulle weg is, het hy behae. Al word die handslag gegee, sal ’n slegte mens nie ongestraf bly nie; maar die nageslag van die regverdiges sal beslis ontkom.”—Spreuke 11:18-21.
Dié verse herhaal op verskillende maniere hierdie grondbeginsel: Saai regverdigheid en maai die beloning wat dit meebring. Die goddelose sal hom moontlik tot bedrog of dobbelary wend om iets verniet te kry. Omdat sulke loon vals is, sal hy dalk teleurgestel word. Iemand wat ’n eerlike dag se werk doen, verkry ware verdienste, aangesien hy sekuriteit het. Die onberispelike het God se goedkeuring en het dus die vooruitsig op lewe. Maar hoe sal ’n slegte mens vaar? “Al word die handslag gegee” in bedrieglike knoeiery, sal die goddelose nie straf vryspring nie (Spreuke 2:21, 22). Watter goeie aansporing tog om regverdigheid te saai!
Ware skoonheid vir die verstandige
“Soos ’n goue neusring in die snoet van ’n vark, so is ’n vrou wat mooi is maar wat haar van verstandigheid afkeer”, gaan Salomo voort (Spreuke 11:22). Neusringe was ’n gewilde versiering in Bybeltye. ’n Goue neusring deur die kant van die neus of deur die septum wat die neusgate skei, sou ’n baie opvallende stuk juweliersware aan ’n vrou wees. Hoe ongepas sou so ’n pragtige ornament tog in die snoet van ’n vark wees! Dit geld ook vir iemand met ’n mooi voorkoms wat “verstandigheid” kortkom. Die versiering pas eenvoudig nie by daardie persoon nie, hetsy man of vrou. Dit is onvanpas en is alles behalwe mooi.
Besorgdheid oor ons voorkoms is weliswaar iets natuurliks. Maar waarom sal ’n mens nou oorbesorg of ontevrede met jou gesig of fisiese vorm wees? Daar is baie aspekte van ons voorkoms waaroor ons geen beheer het nie. En ons fisiese voorkoms is nie die belangrikste nie. Lyk die meeste mense waarvan ons hou en wat ons bewonder nie maar doodgewoon nie? Fisiese aantreklikheid is nie die sleutel tot geluk nie. Wat werklik tel, is die innerlike prag van blywende godvrugtige eienskappe. Mag ons dus verstandig wees en sulke eienskappe aankweek.
“Die vrygewige siel sal vet gemaak word”
“Die begeerte van die regverdiges is gewis goed”, sê koning Salomo, “die hoop van die goddeloses is grimmigheid.” Ter toeligting van hierdie punt, voeg hy by: “Daar is een wat uitstrooi en tog nog meer kry; ook een wat hom terughou van wat reg is, maar dit lei net tot gebrek.”—Spreuke 11:23, 24.
Terwyl ons die kennis van God se Woord ywerig uitstrooi—aan ander oordra—verbeter ons beslis ons eie begrip van “die breedte en lengte en hoogte en diepte” daarvan (Efesiërs 3:18). Maar die persoon wat nie sy kennis gebruik nie, loop die gevaar om wat hy het, te verloor. Ja, “wie spaarsaam saai, sal ook spaarsaam maai; en wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig maai”.—2 Korintiërs 9:6.
“Die vrygewige siel sal vet [voorspoedig] gemaak word”, sê die koning verder, “en wie ander ryklik verkwik, sal ook ryklik verkwik word” (Spreuke 11:25). Wanneer ons ons tyd en middele vryelik gebruik om ware aanbidding te bevorder, is ons vir Jehovah welbehaaglik (Hebreërs 13:15, 16). Hy sal ‘die sluise van die hemel oopmaak en op ons ’n seën uitstort totdat daar geen gebrek meer is nie’ (Maleagi 3:10). Kyk net na die geestelike voorspoed wat sy knegte vandag geniet!
Salomo gee nog ’n voorbeeld van die teenoorgestelde begeertes van die regverdiges en van die goddeloses en sê: “Wie graan terughou—die bevolking sal hom vervloek, maar daar is ’n seën vir die hoof van die een wat toelaat dat dit gekoop word” (Spreuke 11:26). Om verbruiksartikels op te koop wanneer pryse laag is en dit dan terug te hou totdat die voorraad begin opraak en pryse die hoogte inskiet, kan winsgewend wees. Al hou dit voordele in om die verbruik van goedere te beperk en voorraad in reserwe te hou, verag mense gewoonlik iemand wat dit uit selfsug doen. Maar iemand wat nie groot winste uit ’n noodgeval probeer maak nie, wen mense se guns.
Die koning van Israel spoor ons aan om altyd te begeer wat goed, of regverdig, is en sê: “Hy wat die goeie nastreef, sal welwillendheid bly soek; maar wat die een betref wat die kwaad soek, oor hom sal dit kom. Wie op sy rykdom vertrou—hy sal val; maar die regverdiges sal floreer net soos blare.”—Spreuke 11:27, 28.
Die regverdige wen siele
Ter toeligting van hoe dwase dade slegte gevolge het, sê Salomo: “Wat iemand betref wat sy eie huis in die ongeluk stort, hy sal wind in besit neem” (Spreuke 11:29a). Agan se oortreding het hom ‘in die ongeluk gestort’, en hy sowel as lede van sy gesin is gestenig (Josua, hoofstuk 7). Vandag kan die hoof van ’n Christenhuis en ander in sy gesin hulle dalk aan oortredinge skuldig maak wat daartoe lei dat hulle uit die Christengemeente gesit word. Omdat ’n man nie self God se gebooie gehoorsaam nie en omdat hy ernstige oortredinge in sy gesin toelaat, stort hy sy eie huis in die ongeluk. Hy en moontlik ander in sy gesin word as onberouvolle oortreders van Christenassosiasie afgesny (1 Korintiërs 5:11-13). En wat sal hy daardeur verkry? Slegs wind—niks wat werklik konkreet of van waarde is nie.
“’n Dwaas sal ’n kneg wees van die een wat wys van hart is”, sê die vers verder (Spreuke 11:29b). Aangesien ’n dwaas nie praktiese wysheid het nie, kan groot verantwoordelikheid nie aan hom toevertrou word nie. En omdat hy nie sy persoonlike sake reg bestuur nie, raak hy dalk op die een of ander manier iets aan iemand anders verskuldig. So ’n onverstandige persoon word heel moontlik “’n kneg . . . van die een wat wys van hart is”. Dit is ongetwyfeld noodsaaklik dat ons goeie oordeel en praktiese wysheid aan die dag lê in alles wat ons doen.
“Die vrug van die regverdige is ’n boom van die lewe,” verseker die wyse koning ons, “en hy wat siele wen, is wys” (Spreuke 11:30). Hoe gebeur dit? Wel, deur sy spraak en optrede verskaf die regverdige geestelike voeding aan ander. Hulle word aangespoor om Jehovah te dien en sal dalk uiteindelik die lewe ontvang wat deur God moontlik gemaak word.
‘Die sondaar sal selfs meer vergeld word’
Watter oortuigende aansporing vind ons tog in die voorgenoemde spreuke om regverdigheid te saai! Salomo pas op nog ’n manier die beginsel toe dat ‘wat ’n mens saai, hy ook sal maai’ deur te sê: “Kyk! Die regverdige—op die aarde sal hy vergelding ontvang. Hoeveel te meer dan die goddelose en die sondaar!”—Spreuke 11:31.
Al span ’n regverdige hom in om te doen wat reg is, sondig hy soms (Prediker 7:20). En weens sy foute sal hy “vergelding ontvang” deur gedissiplineer te word. Maar wat dan van die goddelose wat opsetlik ’n verkeerde weg inslaan en glad nie probeer om die weg van regskapenheid te bewandel nie? Moet sy “vergelding” nie groter—’n swaar straf—wees nie? “As die regverdige met moeite gered word”, het die apostel Petrus geskryf, “waar sal die goddelose en die sondaar dan verskyn?” (1 Petrus 4:18). Laat ons derhalwe vasbeslote wees om altyd saad in regverdigheid vir onsself te saai.
[Voetnoot]
a Die naam is verander.
[Prent op bladsy 28]
Deur “bekoorlikheid” het Abigail “heerlikheid” verkry
[Prente op bladsy 30]
‘Die goddelose verkry valse loon, die regverdige, ware verdienste’
[Prent op bladsy 31]
‘Wie oorvloedig saai, sal oorvloedig maai’