‘Iemand wat goed is, verkry God se goedkeuring’
JEHOVAH GOD is die Bron van alle lewe (Psalm 36:9). Ja, “deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons” (Handelinge 17:28). Vul dit nie ons hart met dankbaarheid wanneer ons dink aan die beloning wat hy gee aan diegene wat ’n hegte verhouding met hom het nie? Dink net, “die gawe wat God gee, is die ewige lewe” (Romeine 6:23). Hoe belangrik is dit tog dat ons Jehovah se goedkeuring probeer verkry!
Die psalmis verseker ons dat ‘God guns gee’ (Psalm 84:11). Maar aan wie gee hy dit? Vandag bewys mense dikwels guns aan ander op grond van opvoeding, rykdom, velkleur, etniese agtergrond en so meer. Wie geniet God se guns? Koning Salomo van eertydse Israel antwoord: “Iemand wat goed is, verkry Jehovah se goedkeuring, maar die man met goddelose idees verklaar hy goddeloos.”—Spreuke 12:2.
Dit is duidelik dat Jehovah behae skep in iemand wat goed is—in ’n deugsame persoon. Die deugde van ’n goeie mens sluit eienskappe in soos selfdissipline, redelikheid, nederigheid, medelye en verstandigheid. Sy gedagtes is regverdig, sy woorde bemoedigend, sy dade reg en heilsaam. Die eerste deel van die 12de hoofstuk van die Bybelboek Spreuke toon hoe goedheid ons daaglikse lewe moet beïnvloed en dui op die voordele wat hierdie eienskap tot gevolg het. ’n Ondersoek hiervan sal ons “insig [gee] om goed te doen” (Psalm 36:3). As ons die wyse raad daarin toepas, sal dit ons help om God se goedkeuring te verkry.
Dissipline is noodsaaklik
“Wie dissipline liefhet, het kennis lief”, sê Salomo, “maar wie teregwysing haat, is redeloos” (Spreuke 12:1). Omdat iemand wat goed is, homself graag wil verbeter, smag hy na dissipline. Hy pas die raad wat hy tydens Christelike vergaderinge of gesprekke met ander ontvang, geredelik toe. Die woorde in die Skrif en in Bybelpublikasies is soos prikkels wat hom aanspoor om ’n regskape weg te volg. Hy streef na kennis en gebruik dit om sy paaie reguit te maak. Ja, iemand wat dissipline liefhet, het ook kennis lief.
Hoe noodsaaklik is dissipline tog vir ware aanbidders—veral selfdissipline! Ons wens dalk dat ons ’n dieper kennis van God se Woord het. Ons wil moontlik graag bekwamer in die Christelike bediening en beter onderrigters van God se Woord wees (Matteus 24:14; 28:19, 20). Maar dit verg selfdissipline om sulke wense ’n werklikheid te maak. Selfdissipline is ook op ander gebiede van die lewe nodig. Daar is vandag byvoorbeeld baie dinge in die media wat bedoel is om ongeoorloofde begeertes te wek. Verg dit nie selfdissipline om ons oog af te wend van onbetaamlike dinge nie? En aangesien “die neiging van die mens se hart . . . sleg [is] van sy jeug af”, kan ’n onsedelike gedagte maklik diep in die verstand posvat (Genesis 8:21). Selfdissipline is nodig sodat ons nie daaraan sal bly dink nie.
Aan die ander kant het iemand wat teregwysing haat, nie dissipline of kennis lief nie. Omdat hy swig voor die sondige neiging van die mens om teregwysing te verag, verlaag hy homself tot die vlak van ’n redelose dier, wat geen sedelike onderskeidingsvermoë het nie. Ons moet hierdie neiging met vasbeslotenheid weerstaan.
“Wortels wat nie uitgetrek kan word nie”
Iemand wat goed is, kan natuurlik nie onregverdig of onredelik wees nie. Regverdigheid is dus ook nodig om Jehovah se goedkeuring te verkry. Koning Dawid het gesing: “U sal almal seën wat regverdig is, o Jehovah; soos met ’n groot skild sal u hulle met goedkeuring omring” (Psalm 5:12). Salomo vergelyk die toestand van die regverdige met dié van die goddelose en sê: “Geen mens sal deur goddeloosheid stewig bevestig word nie; maar wat die wortel van die regverdiges betref, niks sal dit laat wankel nie.”—Spreuke 12:3.
Dit lyk dalk of die goddeloses voorspoedig is. Neem byvoorbeeld die psalmis Asaf se ondervinding. “Wat my betref”, sê hy, “my voete het amper afgewyk, my voetstappe het byna uitgegly.” Waarom? Asaf antwoord: “Ek het afgunstig geraak op die grootpraters toe ek die vrede van die goddeloses sien” (Psalm 73:2, 3). Maar toe hy in die tempelheiligdom van God ingegaan het, het hy besef dat Jehovah hulle op glibberige grond geplaas het (Psalm 73:17, 18). Enige oënskynlike sukses wat die goddeloses dalk het, is tydelik. Waarom dan op hulle afgunstig raak?
Daarenteen is iemand wat Jehovah se goedkeuring geniet, bestendig. Salomo gebruik die metafoor van ’n boom se sterk wortelstelsel en sê: “Goeie mense het wortels wat nie uitgetrek kan word nie” (Spreuke 12:3, The New English Bible). Die onsigbare wortels van ’n reuseboom, soos die sequoia van Kalifornië, kan oor meer as 1,5 hektaar strek en die boom tydens ’n vloed of stormwinde stewig anker. ’n Baie groot sequoia kan selfs deur ’n kragtige aardbewing staande bly.
Soos daardie wortels voedingstowwe uit die aarde moet verkry, moet ons verstand en hart diep in God se Woord delf sodat ons met die lewegewende waters daarin gevoed kan word. So word ons geloof stewig gewortel en sterk, ons hoop seker en vas (Hebreërs 6:19). Ons sal nie “hiernatoe en daarnatoe gevoer word deur elke wind van [valse] lering” nie (Efesiërs 4:14). Ons sal natuurlik die uitwerking van stormagtige beproewinge voel en dalk selfs bevrees wees tydens teëspoed. Maar ‘niks sal ons wortel laat wankel nie’.
“’n Bekwame vrou is ’n kroon vir haar eienaar”
Baie mense ken die gesegde: “Agter elke suksesvolle man is daar ’n goeie vrou.” Salomo toon hoe belangrik ’n vrou is wat haar man ondersteun, en sê: “’n Bekwame vrou is ’n kroon vir haar eienaar, maar soos verrotting in sy gebeente is sy wat skandelik optree” (Spreuke 12:4). Die woord ‘bekwaam’ som baie elemente van goedheid op. Die deugde van ’n goeie vrou, soos breedvoerig in Spreuke hoofstuk 31 beskryf word, sluit vlytigheid, getrouheid en wysheid in. ’n Vrou wat hierdie eienskappe het, is ’n kroon vir haar man omdat haar goeie gedrag hom tot eer strek en hom in ander se oë verhef. Sy word nie deur ambisie aangevuur om beter as hy te wees of met hom mee te ding om erkenning nie. Sy is eerder ’n helper wat haar man aanvul.
Hoe kan ’n vrou skandelik optree, en met watter gevolge? Hierdie skandelike gedrag kan wissel van twisgierigheid tot egbreuk (Spreuke 7:10-23; 19:13). ’n Vrou wat so optree, breek net haar man af. Sy is soos “verrotting in sy gebeente” in die sin dat “sy sy ondergang veroorsaak, soos ’n siekte wat die liggaam verswak”, sê een naslaanwerk. “Vandag is ’n uitdrukking wat dalk soortgelyk hieraan is, ‘’n kanker’—’n siekte wat iemand geleidelik van sy lewenskrag beroof”, sê ’n ander. Mag Christenvrouens daarna streef om God se goedkeuring te verkry deur die deugde van ’n bekwame vrou te weerspieël.
Van gedagtes tot dade tot gevolge
Gedagtes lei tot dade, en dade tot gevolge. Salomo toon nou hoe dade op gedagtes volg en vergelyk regverdige mense met goddeloses. Hy sê: “Die gedagtes van die regverdiges is geregtigheid; die leiding van die goddeloses is bedrog. Die woorde van die goddeloses is om te loer op bloed, maar die mond van die regskapenes sal hulle verlos.”—Spreuke 12:5, 6.
Selfs die gedagtes van goeie mense is sedelik rein en gerig op wat redelik en regverdig is. Aangesien regverdige mense deur liefde vir God en hulle medemens gemotiveer word, is hulle beweegredes goed. Daarenteen word die goddeloses deur selfsug aangedryf. Gevolglik gebruik hulle slinkse metodes om hulle doelwitte te bereik. Hulle dade is bedrieglik. Hulle aarsel nie om vir die onskuldiges ’n strik te stel nie, moontlik deur valse aantygings in ’n geregshof. Hulle woorde is “om te loer op bloed” omdat hulle hulle onskuldige slagoffers skade wil berokken. Die regskapenes kan hierdie gevaar vermy omdat hulle kennis dra van die goddeloses se planne en die nodige wysheid het om versigtig te wees. Hulle kan selfs die onbehoedsames waarsku en hulle van die bedrieglike planne van die goddeloses red.
Hoe sal die regverdiges en die goddeloses vaar? “Die goddeloses word tot ’n val gebring en hulle is daar nie meer nie”, antwoord Salomo, “maar die huis van die regverdiges sal bly staan” (Spreuke 12:7). Die huis, volgens een naslaanwerk, “dui op die huishouding en alles wat vir die individu kosbaar is, wat dit vir hom moontlik maak om waarlik te lewe”. Dit kan selfs na die familie en die nakomelinge van die regverdige verwys. Hoe dit ook al sy, hierdie punt kom duidelik na vore in die spreuk: Die regverdige sal vasstaan tydens teëspoed.
Die nederige is beter daaraan toe
Die koning van Israel beklemtoon hoe belangrik onderskeidingsvermoë is en sê: “Vir sy oordeelkundige mond sal ’n man geprys word, maar wie verdraaid van hart is, sal verag word” (Spreuke 12:8). Iemand met onderskeidingsvermoë laat nie toe dat woorde oorhaastig uit sy mond borrel nie. Hy dink voordat hy praat en geniet vreedsame verhoudings met ander omdat ’n “oordeelkundige mond” hom sy woorde versigtig laat kies. Wanneer iemand met onderskeidingsvermoë te staan kom voor dwase twisvrae of bespiegelings, kan hy “sy woorde inhou” (Spreuke 17:27). So ’n persoon word geprys en hy behaag Jehovah. Hoe verskil hy tog van diegene met verdraaide menings wat uit ’n ‘verdraaide hart’ kom!
Ja, ’n oordeelkundige persoon word geprys, maar die volgende spreuk leer ons die waarde van nederigheid. Dit sê: “Wie geringgeag word maar ’n kneg het, is beter as die een wat homself verheerlik maar gebrek aan brood het” (Spreuke 12:9). Salomo sê blykbaar dat dit beter is om ’n nederige persoon te wees, met min besittings en net een kneg, as om jou lewensmiddele daaraan te bestee om ’n hoë sosiale status te probeer handhaaf. Watter goeie raad is dit tog vir ons—om binne ons inkomste te lewe!
Lesse in goedheid uit die landbou
Salomo gebruik landboubedrywighede om twee lesse in goedheid oor te dra. “Die regverdige sorg vir die siel van sy mak dier”, sê hy, “maar die barmhartighede van die goddeloses is wreed” (Spreuke 12:10). Die regverdige behandel sy diere goed. Hy weet wat hulle nodig het en is besorg oor hulle welsyn. ’n Goddelose sê dalk dat hy omgee vir diere, maar hy gee hulle nie die nodige sorg nie. Sy beweegredes is selfsugtig, en die wins wat hy uit sy diere kan maak, bepaal hoe hy hulle behandel. Wat so iemand dink voldoende sorg vir diere is, is dalk in werklikheid wrede behandeling.
Die beginsel dat diere goed behandel moet word, geld ook vir troeteldiere. Hoe wreed sal dit tog wees om troeteldiere te kry en hulle dan onnodig te laat ly deur hulle te verwaarloos of te mishandel! Wanneer ’n dier weens ’n ernstige siekte of besering ly, sal goedhartigheid ons dalk beweeg om hom te laat uitsit.
Salomo gebruik nog ’n aspek van die landbou—om die grond om te ploeg—en sê: “Wie sy grond bewerk, sal met brood versadig word.” Ja, sinvolle harde werk bring voordele mee. “Maar wie waardelose dinge najaag, het nie ’n verstandige hart nie” (Spreuke 12:11). Weens ’n gebrek aan goeie oordeel of begrip, jaag diegene wat “nie ’n verstandige hart” het nie, ydele, spekulatiewe en nuttelose skemas na. Die lesse in hierdie twee verse is duidelik: Wees barmhartig en vlytig.
Die regverdige floreer
“Die goddelose het die slegte mense se prooi begeer wat in ’n net gevang is”, sê die wyse koning (Spreuke 12:12a). Hoe doen die goddelose dit? Blykbaar deur die buit te begeer wat op goddelose wyse verkry is.
Wat kan gesê word van die een wat goed is? So iemand het dissipline lief en is goed gewortel in die geloof. Hy is regverdig en redelik, oordeelkundig en nederig, medelydend en vlytig. En “wat die wortel van die regverdiges betref”, sê Salomo, “dit lewer vrug op”, of “floreer” (Spreuke 12:12b, New International Version). “Die wortel van die regverdige sal vir ewig bestaan”, sê An American Translation. So iemand is bestendig en geniet veiligheid. Ja, ‘iemand wat goed is, verkry God se goedkeuring’. Laat ons dan “vertrou op Jehovah en doen wat goed is”.—Psalm 37:3.
[Prente op bladsy 31]
Soos ’n gesonde boom is die geloof van die regverdige goed gewortel