“Iemand wat op teregwysing ag gee, is skerpsinnig”
“BRING jou hart tog na dissipline en jou oor na die woorde van kennis”, sê Spreuke 23:12. “Dissipline”, of sedelike opleiding, sluit in hierdie konteks selfdissipline in sowel as teregwysing wat ons van ander ontvang. Hierdie dissipline verg kennis aangaande die soort teregwysing wat nodig is en hoe dit gegee moet word. “Die woorde van kennis” uit ’n betroubare bron is dus noodsaaklik wanneer dit by dissipline kom.
Die Bybelboek Spreuke is ’n uitstekende bron van wyse woorde. Die spreuke daarin is opgeteken “sodat ’n mens wysheid en dissipline kan leer ken, . . . die dissipline kan ontvang wat insig, regverdigheid en oordeel en regskapenheid gee” (Spreuke 1:1-3). Dit sal verstandig wees as ons ‘ons oor [na hierdie spreuke toe] bring’. Spreuke hoofstuk 15 gee goeie raad oor hoe om toorn te beheers, die tong te gebruik en kennis oor te dra. Kom ons ondersoek ’n paar verse uit hierdie hoofstuk.
Wat “keer woede af”?
Koning Salomo van eertydse Israel beskryf die uitwerking wat gesproke woorde op toorn of woede het en sê: “’n Sagte antwoord keer woede af, maar ’n woord wat pyn veroorsaak, laat toorn opkom” (Spreuke 15:1). “Toorn” is ’n woord wat gebruik word om ’n sterk emosie of reaksie van misnoeë te beskryf. “Woede” word omskryf as “’n gevoel van besondere sterk toorn wat baie moeilik is om te beheers”. Hoe kan hierdie spreuk ons help om iemand anders se toorn te laat bedaar sowel as ons eie te beheers?
Harde woorde wat pyn veroorsaak, kan ’n onaangename situasie vererger. Aan die ander kant het ’n sagte antwoord dikwels ’n kalmerende uitwerking. Maar dit is nie altyd maklik om ’n sagte antwoord vir ’n woedende persoon te gee nie. Dit help egter as ons probeer verstaan wat hom kwaad gemaak het. “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn”, sê die Bybel, “en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien” (Spreuke 19:11). Is die persoon miskien kwaad omdat hy onseker voel of aandag wil hê? Die werklike rede het moontlik niks te doen met wat ons dalk gesê of gedoen het nie. Gebeur dit nie dikwels dat ons ’n woedende reaksie in die Christelike bediening kry omdat die huisbewoner verkeerd ingelig is oor ons opvattings of deur die een of ander wanopvatting verblind word nie? Moet ons aanstoot neem en met harde woorde antwoord? Selfs wanneer dit nie duidelik is waarom iemand kwaad is nie, sal dit ’n gebrek aan selfdissipline van ons kant verraai as ons met kwetsende woorde antwoord. So ’n reaksie moet vermy word.
Die raad om ’n sagte antwoord te gee, is ook van onskatbare waarde om ons eie toorn te beheers. Ons kan hierdie raad toepas deur te leer om ons gevoelens oor te dra op maniere wat die ander persoon nie aanstoot sal gee nie. In ons handelinge met gesinslede moet ons nie harde woorde of neerhalende skelname gebruik nie, maar moet ons eerder ons gevoelens kalm probeer uitspreek. Aanvallende woorde lok gewoonlik ’n aanvallende reaksie uit. As ons kalm vir die ander persoon vertel hoe ons voel, klink dit minder verwytend en kan dit hom beweeg om sake reg te stel.
“Die tong van die wyses doen goed”
Selfdissipline het ’n uitwerking op hoe ons praat sowel as op wat ons sê. “Die tong van die wyses doen goed met kennis”, sê Salomo, “maar die mond van die sotte laat dwaasheid uitborrel” (Spreuke 15:2). Doen ons nie “goed met kennis” wanneer ons ’n begeerte ontwikkel om ander te help en met hulle oor God se voorneme en sy wonderlike voorsienings praat nie? Weens ’n gebrek aan kennis kan ’n sot dit nie doen nie.
Voordat Salomo verdere raad oor die gebruik van die tong gee, meld hy ’n gedagteprikkelende teenstelling. “Die oë van Jehovah is op elke plek, en hulle let op die slegtes en die goeies” (Spreuke 15:3). Ons kan verheug wees hieroor, want ons word verseker: “Jehovah se oë deurloop die hele aarde om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). God weet of ons doen wat goed is. Hy let ook op dié wat slegte dinge beoefen en hou hulle aanspreeklik daarvoor.
Salomo benadruk die waarde van ’n kalm tong verder en sê: “Die kalmte van die tong is ’n lewensboom, maar verdraaidheid daarin breek die gees af” (Spreuke 15:4). Die woord “lewensboom” dui op genesende en voedende eienskappe (Openbaring 22:2). ’n Wyse persoon se kalm spraak verkwik die gees van dié wat dit hoor. Dit spreek tot hulle goeie eienskappe. Daarteenoor verbrysel ’n bedrieglike of verdorwe tong die gees van dié wat daarna luister.
Ontvang dissipline en ‘strooi kennis uit’
“Iemand wat dwaas is, minag die dissipline van sy vader”, sê die wyse koning verder, “maar iemand wat op teregwysing ag gee, is skerpsinnig” (Spreuke 15:5). Hoe kan enigiemand “op teregwysing ag gee” as dit nie eers gegee word nie? Impliseer hierdie teks nie dat regstellende dissipline gegee moet word wanneer dit nodig is nie? In ’n gesin is dit die verantwoordelikheid van die ouers—veral die vader—om dissipline te voorsien, en dit is die kind se plig om dit te aanvaar (Efesiërs 6:1-3). Maar al Jehovah se knegte ontvang dissipline op die een of ander manier. “Jehovah dissiplineer hom wat hy liefhet”, sê Hebreërs 12:6, “ja, hy gesel elkeen wat hy as ’n seun aanneem.” Ons reaksie op dissipline openbaar of ons wys of dwaas is.
Salomo meld nog ’n teenstelling en sê: “Die lippe van die wyses strooi voortdurend kennis uit, maar die hart van die sotte is nie so nie” (Spreuke 15:7). Om kennis oor te dra, is soos om saad uit te strooi. In die ou tyd het ’n boer nie al sy saad op een plek uitgegooi nie. Hy het eerder ’n paar saadjies op ’n keer gestrooi en die saad oor die hele saailand versprei. Dit is so met die oordra van kennis. Wanneer ons iemand in die bediening ontmoet, sal dit byvoorbeeld nie wys wees om alles wat ons van die Bybel weet, op een slag vir hom te vertel nie. Die wyse persoon is eerder gedissiplineerd in sy spraak. Hy “strooi” kennis uit wanneer hy net een Bybelwaarheid op ’n slag geleidelik na vore bring en daarop voortbou, terwyl hy die reaksie van die persoon met wie hy praat, in ag neem. Ons Voorbeeld, Jesus Christus, het dit gedoen toe hy met ’n Samaritaanse vrou gepraat het.—Johannes 4:7-26.
Om kennis oor te dra, behels dat ’n mens iets leersaams en nuttigs sê. Nadenke is nodig om woorde te spreek wat ander inlig en aanmoedig. Daarom ‘dink die hart van die regverdige na sodat hy kan antwoord’ (Spreuke 15:28). Hoe belangrik is dit tog dat ons woorde soos sagte reën is wat in die grond insink en voordelig is, en nie soos ’n onwelkome stortvloed wat alles in sy pad wegvee nie!
‘Heilig in gedrag’
Dit is sekerlik verstandig om kennis van Jehovah en sy voorneme uit te strooi en aan hom “die vrug van die lippe” as “’n lofoffer” te bring (Hebreërs 13:15). Maar so ’n offer is slegs aanvaarbaar vir Jehovah as ons ‘in ons hele gedrag heilig’ is (1 Petrus 1:14-16). Met behulp van twee teenstellende spreuke bring Salomo hierdie lewensbelangrike waarheid onder ons aandag. Hy sê: “Die offerande van die goddeloses is vir Jehovah iets verfoeiliks, maar in die gebed van die regskapenes skep hy behae. Die weg van die goddelose is vir Jehovah iets verfoeiliks, maar wie regverdigheid nastreef, het hy lief.”—Spreuke 15:8, 9.
Watter beskouing van teregwysing het diegene wat die weg na die lewe verlaat, en wat lê vir hulle voor? (Matteus 7:13, 14). “Dissipline is sleg vir die een wat die pad verlaat; iemand wat teregwysing haat, sal sterf” (Spreuke 15:10). Pleks dat hulle teregwysing van verantwoordelike broers in die Christengemeente aanvaar en opregte berou toon, verkies party wat ’n verkeerde weg volg, om die pad van regverdigheid te verlaat. Hoe dwaas tog! Volgens Die Bybel (1983) sê hierdie spreuk: “Wie die regte pad verlaat, sal swaar gestraf word; wie teregwysing haat, sal sterf.”
Sê nou iemand gee voor dat hy teregwysing aanvaar terwyl hy dit in werklikheid haat? Dit is ook onwys. “Sjeool en die plek van vernietiging is voor Jehovah”, sê Israel se koning. “Hoeveel te meer die harte van die mensekinders!” (Spreuke 15:11). In figuurlike sin kan niks verder weg van die lewende God wees as Sjeool, die plek van die dooies, nie. Nogtans is dit voor hom. Hy ken die identiteit en persoonlikheid van almal wat daar is en kan hulle ’n opstanding gee (Psalm 139:8; Johannes 5:28, 29). Hoe maklik is dit tog vir Jehovah om te weet wat in die hart van mense is! “Alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee”, het die apostel Paulus geskryf (Hebreërs 4:13). Mense kan ’n rat voor die oë gedraai word, maar nie God nie.
Iemand wat dissipline verwerp, haat nie net teregwysing nie, maar verag ook diegene wat dit gee. “Die spotter het nie die een lief wat hom teregwys nie”, sê Salomo. Hy meld ’n ooreenstemmende gedagte om hierop voort te bou en sê: “Na die wyses sal hy nie gaan nie” (Spreuke 15:12). Hoe min hoop is daar tog dat so iemand sy pad reguit sal maak!
’n Positiewe uitkyk
Die gebruik van die woord “hart” verbind die volgende drie spreuke van Salomo. Die wyse koning beskryf die uitwerking wat ons emosies op ons gesig het en sê: “’n Vreugdevolle hart het ’n goeie uitwerking op die gesig, maar weens die pyn van die hart is daar ’n verslae gees.”—Spreuke 15:13.
Wat kan die oorsaak wees van pyn van die hart? “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig [van droefheid]”, sê die Bybel (Spreuke 12:25). Hoe kan ons verhoed dat negatiewe aspekte van die lewe ons gees verbrysel? Ons moenie voortdurend tob oor omstandighede waaroor ons baie min beheer het nie, maar ons moet eerder nadink oor die ryk geestelike seëninge wat Jehovah nou oor ons uitstort en oor dit wat hy in die toekoms vir ons sal doen. Dit sal ons nader aan hom laat kom. Ja, as ons nader kom aan “die gelukkige God”, sal dit ongetwyfeld ons bedroefde hart verbly.—1 Timoteus 1:11.
Verder is die boodskap van die Bybel ’n uitstekende bron van vertroosting en blydskap. Die psalmis het gesê dat die man wie se ‘behae in die wet van Jehovah is, en wat dag en nag op gedempte toon in sy wet lees’, gelukkig sal wees (Psalm 1:1, 2). Selfs wanneer ons pyn van hart ondervind, sal dit ons aanmoedig om die Bybel te lees en te peins oor wat dit sê. Daar is ook nog ons godgegewe bediening. Ons het die versekering: “Dié wat met trane saai, sal met vreugdegeroep maai.”—Psalm 126:5.
“Die verstandige hart soek na kennis”, sê Salomo, “maar die mond van sotte streef na dwaasheid” (Spreuke 15:14). Hierdie spreuk vestig ons aandag op ’n treffende verskil tussen die raad van ’n wyse persoon en dié van ’n dwaas. Iemand met ’n verstandige hart soek na kennis voordat hy raad gee. Hy luister goed en kry ’n goeie begrip van die feite. Hy soek in die Skrif om vas te stel watter wette en beginsels op die situasie van toepassing is. Sy raad is stewig gegrond op God se Woord. Maar ’n dwaas doen geen moeite om uit te vind wat die feite van die saak is nie en blaker die eerste ding uit wat by hom opkom. Wanneer ons op soek is na raad, is dit dus wys om eerder na goed ingeligte, ryp persone te gaan as na dié wat geneig kan wees om vir ons te sê wat ons graag wil hoor. Hoe goed is dit tog om “gawes in die vorm van mense” in die Christengemeente te hê, wat “soek na kennis” voordat hulle raad gee!—Efesiërs 4:8.
Die volgende spreuk noem ’n uitstekende voordeel van ’n positiewe uitkyk. Die koning van Israel sê: “Al die dae van die geteisterde is sleg; maar wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal” (Spreuke 15:15). Die lewe het sy seëninge en ellendes, vreugdes en trane. As ons net oor negatiewe dinge tob, sal droefheid ons gedagtes oorheers, en al ons dae sal somber wees. Maar as ons toelaat dat persoonlike seëninge en ons godgegewe hoop ons gedagtes vul, sal die sorgwekkende aspekte van die lewe in ons gedagtes vervaag en sal ons innerlike vreugde ervaar. ’n Positiewe uitkyk maak dit vir ons moontlik om “voortdurend ’n feesmaal” te geniet.
Laat ons dissipline dan altyd baie hoog ag. Mag ons dit toelaat om nie net ’n uitwerking op ons emosies, spraak en dade te hê nie, maar ook op ons uitkyk.
[Prent op bladsy 13]
“’n Sagte antwoord keer woede af”
[Prent op bladsy 15]
Dit is die ouers se verantwoordelikheid om dissipline te voorsien
[Prent op bladsy 15]
“Die lippe van die wyses strooi voortdurend kennis uit”