‘Die lippe van waarheid sal vir ewig bestaan’
DIT kan iemand se hele lewe bederf, net soos ’n klein vlammetjie ’n hele woud aan die brand kan steek en kan vernietig. Dit kan vol gif wees, maar dit kan ook “’n lewensboom” wees (Spreuke 15:4). Dood en lewe is in die mag daarvan (Spreuke 18:21). Hierdie klein lid, ons tong, is so kragtig dat dit die hele liggaam kan bevlek (Jakobus 3:5-9). Ons sal wys wees as ons die tong bewaak.
In die tweede deel van die 12de hoofstuk van die Bybelboek Spreuke, gee koning Salomo van eertydse Israel nuttige raad wat ons help om te let op ons spraak. Deur bondige maar betekenisvolle spreuke toon die wyse koning dat woorde wat geuiter word, gevolge het en ook baie sê oor die eienskappe van die persoon wat dit spreek. Salomo se geïnspireerde raad is onontbeerlik vir enigiemand wat graag ‘’n wag voor die deur van sy lippe wil stel’.—Psalm 141:3.
‘Die oortreding wat verstrik’
“Deur die oortreding van die lippe word die slegte mens verstrik, maar die regverdige ontkom aan die benoudheid”, sê Salomo (Spreuke 12:13). Om leuens te vertel, is ’n oortreding van die lippe wat ’n dodelike strik word vir iemand wat hom daaraan skuldig maak (Openbaring 21:8). Oneerlikheid lyk dalk na ’n maklike manier om straf vry te spring of uit ’n onaangename situasie te kom. Maar lei een leuen nie dikwels tot ander leuens nie? Net soos iemand wat met klein bedrae begin dobbel geleidelik groter en groter bedrae verwed om te probeer terugkry wat hy verloor het, bevind ’n leuenaar hom kort voor lank vasgevang in ’n bose kringloop.
Die oortreding van die lippe is ook ’n strik omdat iemand wat vir ander leuens vertel, dalk op die ou end vir homself lieg. ’n Leuenaar kan homself byvoorbeeld maklik oortuig dat hy baie kennis het en briljant is, terwyl hy in werklikheid baie min weet. Hy begin dus ’n leuen lewe. Trouens, “hy het te vleiend teenoor homself gehandel in sy eie oë om sy oortreding uit te vind ten einde dit te haat” (Psalm 36:2). Wat ’n strik span leuens tog! Daarenteen sal die regverdige nie in so ’n moeilike situasie beland nie. Selfs in tye van benoudheid sal hy hom nie tot ’n leuenagtige tong wend nie.
‘Die vrug wat versadig’
“Moenie mislei word nie: God laat hom nie bespot nie”, waarsku die apostel Paulus. “Want wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai” (Galasiërs 6:7). Hierdie beginsel is beslis van toepassing op ons woorde sowel as ons dade. Salomo sê: “Van die vrug van sy mond word ’n man met die goeie versadig, en die dade van ’n mens se hande sal na hom toe terugkom.”—Spreuke 12:14.
’n Mond wat ‘wysheid spreek’, bring die vrug voort wat versadig (Psalm 37:30). Wysheid vereis kennis, en geen mens besit alle kennis nie. Almal moet na goeie raad luister en daarop ag slaan. “Die weg van die dwaas is reg in sy eie oë”, sê die koning van Israel, “maar wie na raad luister, is wys.”—Spreuke 12:15.
Jehovah gee ons betroubare raad deur sy Woord en deur sy organisasie, met behulp van die publikasies wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45; 2 Timoteus 3:16). Hoe dwaas is dit tog om goeie raad te verwerp en op ons eie weg aan te dring! Ons “moet gou wees om te hoor” wanneer Jehovah, die Een “wat die mense kennis leer”, ons deur middel van sy kommunikasiekanaal raad gee.—Jakobus 1:19; Psalm 94:10.
Hoe reageer die wyse en die dwaas op beledigings of ongegronde kritiek? Salomo antwoord: “’n Dwaas maak sy ergernis op dieselfde dag bekend, maar die skerpsinnige bedek ’n skande.”—Spreuke 12:16.
Wanneer ’n dwase persoon te na gekom word, reageer hy driftig en vinnig—“op dieselfde dag”. Maar ’n wyse persoon bid vir God se gees sodat hy selfbeheersing kan beoefen. Hy neem tyd om te peins oor die raad in God se Woord en dink met waardering na oor Jesus se woorde: “As iemand jou op jou regterwang klap, draai die ander een ook na hom toe” (Matteus 5:39). Omdat die skerpsinnige “niemand kwaad vir kwaad [wil] vergeld nie”, bewaak hy sy lippe sodat hy nie praat sonder om te dink nie (Romeine 12:17). Wanneer ons eweneens ’n skande bedek, vermy ons verdere onenigheid.
‘Die tong wat genees’
Die oortreding van lippe kan baie skade doen in ’n regterlike saak. Die koning van Israel sê: “Hy wat getroue woorde spreek, sal vertel wat regverdig is, maar ’n valse getuie, bedrog” (Spreuke 12:17). ’n Eerlike getuie spreek getroue woorde omdat sy getuienis betroubaar en geloofwaardig is. Sy woorde help om reg te laat geskied. Aan die ander kant is ’n valse getuie vol bedrog, en hy bevorder ’n regterlike dwaling.
“Daar is een wat onnadenkend praat soos met swaardsteke”, sê Salomo verder, “maar die tong van die wyses is genesing” (Spreuke 12:18). Woorde kan soos ’n swaard steek—dit vernietig vriendskappe en veroorsaak moeilikheid. Of dit kan aangenaam en ’n genot wees en vriendskappe bewaar. En wat anders as swaardsteke wat diep emosionele wonde laat, is vernederende skelname, geskreeu, voortdurende kritiek en neerhalende aanmerkings? Hoe goed is dit tog wanneer ons sulke dinge regstel deur met genesende woorde opreg om verskoning te vra!
In die moeilike tye waarin ons lewe, is dit nie verbasend dat daar baie “gebrokenes van hart” en “verbryseldes van gees” is nie (Psalm 34:18). Maak ons nie juis gebruik van die genesende krag van die gesproke woord wanneer ons “vertroostend met die terneergedrukte siele [praat]” en ‘die swakkes ondersteun’ nie? (1 Tessalonisense 5:14). Ja, simpatieke woorde kan tieners aanmoedig wat ’n stryd voer om skadelike portuurdruk te weerstaan. ’n Bedagsame tong kan die bejaardes verseker dat ons hulle nodig het en liefhet. Vriendelike woorde kan beslis ’n sieke se dag ophelder. Selfs teregwysing is makliker om te aanvaar as dit “in ’n gees van sagmoedigheid” gegee word (Galasiërs 6:1). En hoe genesend tog is die tong van iemand wat dit gebruik om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig aan diegene wat luister!
‘Die lip wat bly bestaan’
Salomo gebruik “lip” en “tong” as sinonieme en sê: “Die lip van waarheid sal vir ewig stewig bevestig word, maar die leuenagtige tong sal slegs ’n oomblik duur” (Spreuke 12:19). Die uitdrukking “die lip van waarheid” is in die enkelvoud in Hebreeus en het ’n dieper betekenis as net betroubare woorde. “Dit dui op eienskappe soos duursaamheid, bestendigheid en betroubaarheid”, sê een naslaanwerk. “Woorde met hierdie kenmerk sal vir ewig bestaan . . . omdat dit betroubaar bevind sal word, in teenstelling met die leuenagtige tong . . . wat vir ’n oomblik kan bedrieg, maar nie ’n toets kan deurstaan nie.”
“Bedrog is in die hart van dié wat onheil beraam”, sê die wyse koning, “maar dié wat vrede aanraai, het blydskap.” Hy voeg by: “Niks skadeliks sal die regverdige oorkom nie, maar die goddeloses sal beslis vol rampspoed wees.”—Spreuke 12:20, 21.
Dié wat onheil beraam, kan net pyn en lyding veroorsaak. Daarenteen geniet dié wat vrede aanraai, tevredenheid omdat hulle doen wat reg is. Hulle smaak ook die vreugde wat dit meebring wanneer ’n mens goeie resultate sien. Nog belangriker, hulle geniet God se goedkeuring, want “valse lippe is vir Jehovah iets verfoeiliks, maar in dié wat getrou handel, het hy behae”.—Spreuke 12:22.
‘Woorde wat kennis bedek’
Die koning van Israel beskryf nog ’n verskil tussen iemand wat sy woorde versigtig kies en die een wat dit nie doen nie, en sê: “’n Skerpsinnige mens bedek kennis, maar die hart van die sotte roep dwaasheid uit.”—Spreuke 12:23.
’n Skerpsinnige, of verstandige, mens weet wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Hy bedek kennis deur nie ’n groot vertoon te maak van wat hy weet nie. Dit beteken nie dat hy altyd sy kennis wegsteek nie. Hy openbaar dit eerder op oordeelkundige wyse. In teenstelling hiermee is die sot gou om te praat en openbaar hy sy dwaasheid. Laat ons woorde dus min wees en laat ons tong nie spog nie.
Salomo tref verdere teenstellings en stel ’n kragtige punt in verband met vlytigheid en traagheid. Hy sê: “Die hand van die vlytiges sal heers, maar die trae hand sal tot dwangarbeid lei” (Spreuke 12:24). Harde werk kan lei tot vooruitgang en finansiële onafhanklikheid, maar luiheid tot dwangarbeid en slawerny. “Op die lange duur”, sê een geleerde, “sal die luiaard ’n slaaf van die vlytige word.”
‘Die woord wat blydskap veroorsaak’
Koning Salomo keer terug na die onderwerp van spraak met ’n skerpsinnige waarneming oor die menslike natuur. “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig”, sê hy,“maar die goeie woord maak dit bly.”—Spreuke 12:25.
Daar is baie bekommernisse en sorge wat swaar op die hart kan druk en dit kan bedroef. Iets wat die las kan verlig en die hart kan verbly, is ’n goeie woord van aanmoediging van ’n simpatieke persoon. Maar hoe sal ander weet hoe groot die angstige besorgdheid in ons hart is as ons hulle nie daarvan vertel nie? Ja, wanneer ons benoud of neerslagtig is, moet ons iemand wat verstaan hoe ons voel en ons kan help, in ons vertroue neem. En wanneer ons ons gevoelens in woorde uitdruk, verlig dit in ’n mate die angs van ons hart. Daarom is dit goed om ’n huweliksmaat, ’n ouer of ’n medelydende en geestelik bekwame vriend in ons vertroue te neem.
Waar kan ons beter woorde van aanmoediging vind as in die Bybel? Ons moet dus nader aan God kom deur met waardering oor sy geïnspireerde Woord te peins. Sulke bepeinsing kan beslis ’n onrustige hart verbly en hartseer oë laat ophelder. Die psalmis bevestig dit waar hy sê: “Die wet van Jehovah is volmaak; dit bring die siel terug. Die herinnering van Jehovah is betroubaar; dit maak die onervarene wys. Die bevele van Jehovah is reg; hulle maak die hart bly; die gebod van Jehovah is rein; dit laat die oë straal.”—Psalm 19:7, 8.
Die lonende weg
Die koning van Israel stel die weg van die opregtes en dié van die goddeloses teenoor mekaar en sê: “Die regverdige verken sy eie weiding, maar die weg van die goddeloses laat hulle ronddwaal” (Spreuke 12:26). Die regverdige is versigtig wanneer dit kom by sy eie weiding—die metgeselle en vriende wat hy kies. Hy kies hulle verstandig en probeer gevaarlike verbintenisse vermy. Dit is nie die geval met die goddeloses, wat raad in die wind slaan en op hulle eie weg aandring nie. Omdat hulle mislei is, dwaal hulle rond.
Koning Salomo toon vervolgens die verskil tussen die trae en die vlytige persoon, maar dié keer vanuit ’n ander hoek. “Traagheid sal iemand se wild nie opjaag nie”, sê hy, “maar die vlytige is kosbare rykdom vir ’n mens” (Spreuke 12:27). ’n Trae persoon—“die luiaard”—sal nie sy wild “opjaag” of ‘vang om te braai’ nie (Die Bybel, 1983). Om die waarheid te sê, hy kan nie voltooi wat hy aanpak nie. Vlytigheid daarenteen is sinoniem met rykdom.
Luiheid is so skadelik dat die apostel Paulus dit nodig geag het om aan mede-Christene in Tessalonika te skryf en sekere persone tereg te wys wat ‘wanordelik gewandel het’—hulle het glad nie gewerk nie, maar hulle bemoei met wat hulle nie aangegaan het nie. Hierdie mense het ’n duur las vir die res geword. Paulus het hulle dus reguit raad gegee en hulle vermaan om ‘rustig te werk sodat hulle voedsel kon eet wat hulle self verdien het’. En as hulle nie op hierdie streng raad sou reageer nie, het Paulus ander in die gemeente gemaan om hulle te “onttrek” aan sulke mense—om hulle te vermy, blykbaar op sosiale gebied.—2 Tessalonisense 3:6-12.
Ons moet nie net Salomo se raad oor ywer ter harte neem nie, maar ook sy raad oor die gepaste gebruik van ons tong. Laat ons daarna streef om daardie klein orgaantjie te gebruik om genesing en blydskap te bewerk terwyl ons die oortreding van die lippe vermy en ’n regskape weg volg. “Op die weg van regverdigheid is lewe”, verseker Salomo ons, “en die reis op die pad daarvan beteken: geen dood.”—Spreuke 12:28.
[Prente op bladsy 27]
“Wie na raad luister, is wys”
[Prente op bladsy 28]
“Die tong van die wyses is genesing”
[Prent op bladsy 29]
Dit kan vertroosting bied as jy ’n betroubare vriend in jou vertroue neem
[Prent op bladsy 30]
As ’n mens met waardering oor God se Woord peins, kan dit die hart verbly