Die Bybel kan jou vreugde help vind
HOEWEL die Bybel nie ’n mediese handboek is nie, lewer dit wel kommentaar oor die uitwerking wat positiewe sowel as negatiewe emosies op ’n mens se geestes- en fisiese gesondheid kan hê. “’n Vreugdevolle hart is ’n goeie geneesmiddel”, sê die Bybel, “maar ’n verslae gees droog die gebeente uit.” Ons lees ook: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 17:22; 24:10). Mismoedigheid kan ons kragte ondermyn, wat kan veroorsaak dat ons swak en kwesbaar voel en geen begeerte het om te verander of hulp te soek nie.
Mismoedigheid kan ’n mens ook geestelik benadeel. Mense wat voel dat hulle niks werd is nie, voel dikwels dat hulle nooit ’n goeie verhouding met God kan geniet en deur hom geseën kan word nie. Simone, wat in die vorige artikel gemeld is, het getwyfel of sy “die soort persoon is wat God sal goedkeur”. Maar wanneer ons God se Woord, die Bybel, ondersoek, vind ons dat God ’n positiewe beskouing het van diegene wat hom probeer behaag.
God gee werklik om
Die Bybel sê vir ons: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.” God verag nie “’n gebroke en verbryselde hart” nie, maar hy belowe “om die gees van die nederiges te laat herlewe en om die hart van die verbryseldes te laat herlewe”.—Psalm 34:18; 51:17; Jesaja 57:15.
By een geleentheid het God se Seun, Jesus, dit nodig gevind om sy dissipels se aandag te vestig op die feit dat God die goeie in Sy knegte sien. Deur middel van ’n illustrasie het hy getoon dat God dit opmerk wanneer ’n mossie op die grond val—iets wat die meeste mense as onbelangrik sou beskou. Hy het ook beklemtoon dat God die kleinste besonderhede oor mense weet, selfs hoeveel hare daar op hulle kop is. Jesus het sy illustrasie afgesluit deur te sê: “Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies” (Matteus 10:29-31).a Jesus het getoon dat mense met geloof, ongeag hoe hulle oor hulleself voel, wel kosbaar is in God se oë. Trouens, die apostel Petrus herinner ons daaraan dat “God nie partydig is nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik”.—Handelinge 10:34, 35.
Behou ’n gebalanseerde beskouing
God se Woord spoor ons aan om ’n gebalanseerde beskouing van onsself aan te kweek. Die apostel Paulus het onder inspirasie geskryf: “Deur die onverdiende goedhartigheid wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen daar onder julle om nie meer van homself te dink as wat dit nodig is om te dink nie, maar om só te dink dat hy ’n gesonde verstand het, elkeen na die maat van geloof wat God aan hom toebedeel het.”—Romeine 12:3.
Ons wil beslis nie te veel van onsself dink sodat ons verwaand word nie; en ons wil ook nie tot die ander uiterste gaan en niks van onsself dink nie. Ons doelwit moet eerder wees om ’n redelike beskouing van onsself aan te kweek, wat ons sterk punte sowel as ons beperkings in ag neem. ’n Christenvrou het dit soos volg gestel: “Ek is nie die verpersoonliking van boosheid nie; en ek is ook nie God se gawe aan die mensdom nie. Ek het goeie sowel as slegte punte, net soos alle ander mense.”
Om so ’n gebalanseerde beskouing te verkry, is natuurlik makliker gesê as gedaan. Dit verg dalk groot inspanning om ontslae te raak van ’n uitermate negatiewe beskouing van onsself wat ons moontlik deur baie jare heen ontwikkel het. Nietemin kan ons ons persoonlikheid sowel as ons lewensbeskouing met God se hulp verander. Dit is in werklikheid wat God se Woord ons aanspoor om te doen. Ons lees: “[Lê] die ou persoonlikheid [af], wat met julle vroeëre lewenswandel ooreenkom en wat volgens sy bedrieglike begeertes verderf word; maar [word] vernuwe . . . in die krag wat julle verstand aandryf en [beklee] julle met die nuwe persoonlikheid . . . , wat na God se wil in ware regverdigheid en lojaliteit geskep is.”—Efesiërs 4:22-24.
As ons ons inspan om ‘die krag wat ons verstand aandryf’, dit wil sê ons oorheersende geestesgesindheid, te verander, kan ons ons persoonlikheid verander van ’n uitermate negatiewe persoonlikheid tot ’n positiewe een. Lena, wat in die vorige artikel gemeld is, het tot die besef gekom dat niks haar gevoelens oor haarself sou of kon verander totdat sy ontslae raak van die gedagte dat niemand haar kan liefhê of kan help nie. Watter praktiese raad in die Bybel het Lena, Simone en ander gehelp om so ’n verandering aan te bring?
Bybelbeginsels wat vreugde bevorder
“Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). In die eerste plek kan gebed ons help om ware vreugde te vind. Simone sê: “Elke keer wanneer ek mismoedig voel, bid ek tot Jehovah en vra sy hulp. Ek was nog nooit in ’n situasie waar ek nie sy krag en leiding ervaar het nie.” Wanneer die psalmis ons aanspoor om ons las op Jehovah te werp, herinner hy ons in werklikheid daaraan dat Jehovah nie net vir ons omgee nie, maar ons ook beskou as persone wat sy hulp en ondersteuning waardig is. Op die aand van die Pasga van 33 G.J. was Jesus se dissipels bedroef as gevolg van wat Jesus oor sy naderende dood gesê het. Jesus het hulle aangespoor om tot die Vader te bid, en toe het hy bygevoeg: “Vra en julle sal ontvang, dat julle vreugde volkome gemaak kan word.”—Johannes 16:23, 24.
“Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Soos Jesus geleer het, help mededeelsaamheid ’n mens om ware vreugde in die lewe te vind. As ons hierdie Bybelwaarheid toepas, stel dit ons in staat om eerder op die behoeftes van ander te konsentreer as op ons eie tekortkominge. Wanneer ons ander help en dan hulle waardering sien, voel ons beter oor onsself. Lena is daarvan oortuig dat dit haar op twee maniere help wanneer sy gereeld die goeie nuus in die Bybel aan haar bure verkondig. “Eerstens verskaf dit my die soort geluk en bevrediging waarvan Jesus gepraat het”, sê sy. “Tweedens reageer baie mense positief, wat my help om vreugde te vind.” As ons ruimhartig van onsself gee, sal ons uitvind hoe waar die woorde van Spreuke 11:25 is: “Wie ander ryklik verkwik, sal ook ryklik verkwik word.”
“Al die dae van die geteisterde is sleg; maar wie vrolik van hart is, het voortdurend ’n feesmaal” (Spreuke 15:15). Ons het almal ’n keuse wanneer dit kom by hoe ons onsself en ons omstandighede beskou. Ons kan wees soos die persoon wat alles negatief beskou en geteister voel, of ons kan kies om positief te dink, “vrolik van hart” te voel, en dus vreugdevol te wees asof ons by ’n feesmaal is. Simone sê: “Ek probeer om so positief as moontlik te bly. Ek bly besig met persoonlike studie en in die bediening, en ek hou vol met gebed. Ek probeer ook om my met positiewe mense te omring en om ander te ondersteun.” So ’n hartsgesindheid lei tot ware vreugde, net soos die Bybel ons aanspoor: “Verbly julle in Jehovah en wees bly, o regverdiges; en roep met vreugde uit, almal wat opreg van hart is.”—Psalm 32:11.
“’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is” (Spreuke 17:17). As ons iemand wat ons liefhet of ’n vertroude raadgewer in ons vertroue neem, kan dit ons help om negatiewe gevoelens te verwerk en daarvan ontslae te raak voordat dit ons oorweldig. As ons met ander praat, kan dit ons help om ’n gebalanseerde, positiewe beskouing van sake te verkry. “Dit help baie om oor jou gevoelens te praat”, erken Simone. “Jy moet vir iemand vertel hoe jy voel. Dit is dikwels genoeg om net daaroor te praat.” As jy dit doen, sal dit jou help om uit te vind hoe waar die spreuk is wat sê: “Angstige besorgdheid in die hart van ’n man sal dit laat neerbuig, maar die goeie woord maak dit bly.”—Spreuke 12:25.
Wat jy kan doen
Ons het maar net ’n paar van die talle wonderlike en praktiese beginsels in die Bybel bespreek wat ons kan help om negatiewe gevoelens te bowe te kom en ware vreugde te vind. As jy een van dié is wat met gevoelens van minderwaardigheid worstel, spoor ons jou aan om God se Woord, die Bybel, van nader te ondersoek. Leer om ’n realistiese en gebalanseerde beskouing van jouself en van jou verhouding met God aan te kweek. Dit is ons opregte hoop dat jy met die leiding van God se Woord ware vreugde sal kan vind in alles wat jy doen.
[Voetnoot]
a Hierdie gedeelte van die Skrif word breedvoerig bespreek op bladsye 22 en 23.
[Prent op bladsy 7]
Die toepassing van Bybelbeginsels bevorder vreugde