Vir diegene wat Jehovah liefhet, “is daar geen struikelblok nie”
“Oorvloedige vrede behoort aan dié wat u wet liefhet, en vir hulle is daar geen struikelblok nie.”—PS. 119:165.
1. Hoe lig die gesindheid van een hardloper toe dat ons vasbeslote kan wees om nie tou op te gooi nie?
MARY DECKER was van haar vroeë tienerjare af as ’n wêreldklashardloper bekend. Sy was die gunsteling om die goue medalje in die 3 000-meter-eindwedloop te wen by die Somer Olimpiese Spele van 1984. Maar sy het nooit die eindstreep bereik nie. Sy het oor die been van ’n ander hardloper gestruikel en op die atletiekbaan geval. Sy was beseer en in trane en moes van die baan afgedra word. Maar Mary was nie iemand wat sommer tou opgooi nie. In minder as ’n jaar was sy weer reg om mee te ding, en in 1985 het sy ’n nuwe wêreldrekord in die mylwedloop vir vroue opgestel.
2. In watter sin is ware Christene in ’n wedloop, en wat moet ons doel wees?
2 As Christene is ons in ’n wedloop—’n simboliese wedloop. Ons doel moet wees om só te hardloop dat ons kan wen. Ons wedloop is nie ’n naelloop waarin spoed die sleutel tot oorwinning is nie. En dit is beslis nie ’n draffie waartydens ons dikwels ’n blaaskans neem nie. Dit kan eerder met ’n maraton vergelyk word waarin volharding noodsaaklik is as ons wil wen. Die apostel Paulus het die metafoor van ’n hardloper in ’n wedloop gebruik in sy brief aan Christene wat gewoon het in Korinte, ’n stad wat bekend was vir atletiekwedstryde. Hy het geskryf: “Weet julle nie dat die hardlopers in ’n wedloop almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop só dat julle dit kan verkry.”—1 Kor. 9:24.
3. Hoe kan al die hardlopers die wedloop om die ewige lewe wen?
3 Die Bybel sê vir ons om in hierdie figuurlike wedloop te hardloop. (Lees 1 Korintiërs 9:25-27.) Die prys is die ewige lewe—in die hemel vir gesalfde Christene en op die aarde vir die res van die deelnemers. In teenstelling met die meeste atletiekwedstryde kan almal wat aan hierdie wedloop deelneem en tot die einde toe volhard, die prys te wen (Matt. 24:13). Deelnemers sal net verloor as hulle nie volgens die reëls hardloop nie of as hulle nie die eindstreep oorsteek nie. Wat meer is, dit is die enigste wedloop waarin die deelnemers die prys van die ewige lewe kan wen.
4. Waarom is ons wedloop om die ewige lewe ’n uitdaging?
4 Om die eindstreep te bereik, is nie maklik nie. Dit verg dissipline en doelgerigtheid. Net een persoon—Jesus Christus—het al die eindstreep oorgesteek sonder om selfs een keer te struikel. Maar sy dissipel Jakobus het geskryf dat Christus se volgelinge ‘almal dikwels struikel’ (Jak. 3:2). Hoe waar is dit tog! Ons almal ly die gevolge van ons eie onvolmaakthede en dié van ander. Daarom sal ons dalk van tyd tot tyd struikel, steier en ons momentum verloor. Miskien sal ons selfs val; maar ons staan op en hou aan hardloop. Party het al so hard geval dat hulle hulp nodig gehad het om op te staan en die wedloop voort te sit sodat hulle die eindstreep kan bereik. Dit is dus moontlik dat ons sal struikel of val, selfs herhaaldelik.—1 Kon. 8:46.
BLY IN DIE WEDLOOP, AL STRUIKEL JY
5, 6. (a) In watter sin is daar vir ’n Christen “geen struikelblok” nie, en wat sal hom help om ‘op te staan’? (b) Waarom herstel party nie nadat hulle gestruikel het nie?
5 Jy het miskien al die woorde “struikel” en “val” uitruilbaar gebruik om ’n geestelike toestand te beskryf. Hierdie Bybeluitdrukkings kan dieselfde betekenis hê, maar dit is nie altyd die geval nie. Let byvoorbeeld op die woorde van Spreuke 24:16: “Die regverdige kan selfs sewe keer val, en hy sal beslis opstaan; maar die goddeloses sal weens rampspoed struikel.”
6 Jehovah sal nie toelaat dat diegene wat op hom vertrou, in so ’n mate struikel of val—dit wil sê teëspoed of ’n terugslag in hulle aanbidding ondervind—dat hulle nie kan herstel nie. Ons het die versekering dat Jehovah ons sal help om ‘op te staan’ sodat ons ten volle toegewyd aan hom kan bly. Hoe vertroostend is dit tog vir almal wat Jehovah innig, uit die hart liefhet! Die goddeloses het nie dieselfde begeerte om op te staan nie. Hulle probeer nie die hulp van God se heilige gees en sy volk verkry nie, of hulle verwerp dit wanneer dit aangebied word. In teenstelling hiermee is daar vir diegene wat ‘Jehovah se wet liefhet’, geen struikelblok wat sal veroorsaak dat hulle permanent ophou hardloop in die wedloop om die lewe nie.—Lees Psalm 119:165.
7, 8. Hoe kan ons God se guns geniet, selfs al “val” ons?
7 Party swig voor geringe sondes—selfs herhaaldelik—as gevolg van die een of ander swakheid. Maar hulle is nog steeds regverdig in Jehovah se oë as hulle aanhou om ‘op te staan’, dit wil sê as hulle opreg berou toon en probeer om weer ’n weg van lojale diens te volg. Dit kom duidelik na vore in die wyse waarop God met eertydse Israel gehandel het (Jes. 41:9, 10). Spreuke 24:16, wat vroeër aangehaal is, vestig nie die aandag op die negatiewe—ons “val”—nie, maar eerder op die positiewe, die feit dat ons met behulp van ons barmhartige God “opstaan”. (Lees Jesaja 55:7.) Jehovah God en Jesus Christus toon hulle vertroue in ons deur ons liefdevol aan te moedig om ‘op te staan’.—Ps. 86:5; Joh. 5:19.
8 Selfs as ’n hardloper in ’n maraton struikel of val, sal hy moontlik genoeg tyd hê om te herstel en die wedloop te voltooi as hy met dringendheid optree. In ons wedloop om die ewige lewe weet ons nie wat die “dag en uur” is waarop die wedloop sal eindig nie (Matt. 24:36). Maar hoe minder ons struikel, hoe waarskynliker is dit dat ons ’n bestendige pas sal handhaaf, in die wedloop sal bly en dit suksesvol sal voltooi. Hoe kan ons dan verhoed dat ons struikel?
STRUIKELBLOKKE WAT VOORUITGANG BELEMMER
9. Watter potensiële struikelblokke sal ons bespreek?
9 Kom ons kyk na vyf potensiële struikelblokke—persoonlike swakhede, begeertes van die vlees, as medegelowiges ons ’n onreg aandoen, verdrukking of vervolging en die onvolmaakthede van ander. As ons wel gestruikel het, moet ons onthou dat Jehovah baie geduldig is. Hy sal ons nie sommer as dislojaal bestempel nie.
10, 11. Met watter persoonlike swakheid het Dawid geworstel?
10 Persoonlike swakhede kan met los klippe op ’n atletiekbaan vergelyk word. As ons kyk na gebeure in die lewe van koning Dawid en die apostel Petrus, sien ons twee swakhede—gebrek aan selfbeheersing en mensevrees.
11 Koning Dawid het ’n swakheid gehad wanneer dit by selfbeheersing kom, soos blyk uit sy dade met betrekking tot Batseba. En toe Dawid deur Nabal beledig is, het hy amper onbesonne opgetree. Ja, hy het ’n gebrek aan selfbeheersing getoon, maar hy het nooit opgehou om Jehovah te probeer behaag nie. Met die hulp van ander kon hy sy geestelike balans herwin.—1 Sam. 25:5-13, 32, 33; 2 Sam. 12:1-13.
12. Hoe het Petrus in die wedloop gebly ondanks die feit dat hy gestruikel het?
12 Petrus het soms voor mensevrees geswig, en by tye selfs ernstig gestruikel; nogtans het hy aan Jesus en Jehovah lojaal gebly. Byvoorbeeld, hy het sy Heer in die openbaar verloën, nie net een keer nie, maar drie keer (Luk. 22:54-62). Later het Petrus versuim om op ’n Christelike manier op te tree toe hy nie-Joodse gelowiges behandel het asof hulle op die een of ander manier aan besnede Joodse Christene ondergeskik is. Maar die apostel Paulus het die regte beskouing van die saak gehad—daar was nie plek in die gemeente vir klasseverskille nie. Petrus se gesindheid was verkeerd. Voordat Petrus se gedrag onmin onder die broers kon saai, het Paulus opgetree deur Petrus persoonlik tereg te wys, van aangesig tot aangesig (Gal. 2:11-14). Is Petrus se trots so gekrenk dat hy in die wedloop om die lewe tou opgegooi het? Nee. Hy het ernstig nagedink oor Paulus se raad, dit toegepas en in die wedloop volhard.
13. Hoe kan fisiese swakheid ons laat struikel?
13 Soms kan ’n gesondheidskwessie ’n persoonlike swakheid wees. Dit kan ook ’n struikelblok word. Dit kan ons geestelike vooruitgang belemmer en ons selfs laat struikel en moeg word. Byvoorbeeld, ’n Japannese suster het 17 jaar nadat sy gedoop is, ’n gesondheidskrisis ondervind. Sy het so behep geraak met haar gesondheid dat sy geestelik swak geword het. Ná verloop van tyd het sy onbedrywig geword. Twee ouer manne het haar besoek. Hulle liefdevolle woorde het haar aangemoedig, en sy het weer die vergaderinge begin bywoon. Sy vertel: “Ek was tot trane beweeg omdat die broers my so hartlik verwelkom het.” Ons suster is nou terug in die wedloop.
14, 15. Watter daadwerklike optrede is nodig wanneer verkeerde begeertes ontstaan? Lig toe.
14 Die begeertes van die vlees het al baie laat struikel. Wanneer ons op hierdie manier versoek word, moet ons daadwerklik optree om verstandelik, sedelik en geestelik rein te bly. Dink aan Jesus se raad om enigiets wat ons kan laat struikel in figuurlike sin ‘weg te gooi’, al is dit ons oog of ons hand. Sluit dit nie onsedelike denke en dade in wat veroorsaak het dat party in die wedloop ophou hardloop nie?—Lees Matteus 5:29, 30.
15 ’n Broer wat in ’n Christenhuis grootgeword het, het geskryf dat hy al sy hele lewe lank met homoseksuele neigings worstel. Hy het gesê: “Ek het altyd ongemaklik gevoel. Dit het gevoel asof ek nêrens inpas nie.” Teen die tyd dat hy 20 was, het hy as ’n gewone pionier gedien en was hy ’n bedieningskneg in die gemeente. Toe het hy ernstig gestruikel en het hy skriftuurlike dissipline en hulp van die ouer manne ontvang. Hy het gebid, God se Woord bestudeer en hom daarop toegelê om ander te help, en dit het hom gehelp om op te staan en die wedloop voort te sit. Nou, jare later, erken hy: “Soms ondervind ek nog steeds daardie gevoelens, maar ek laat nie toe dat dit die oorhand oor my kry nie. Ek het geleer dat Jehovah nie sal toelaat dat ’n mens versoek word bo wat jy kan verdra nie. Ek glo dus dat God die vertroue het dat ek dit kan doen.” Hierdie broer kom tot die slotsom: “Alles wat ek verduur het, sal in die nuwe wêreld die moeite werd wees. Dis wat ek wil hê! Tot dan sal ek aanhou stry.” Hy is vasbeslote om in die wedloop te bly.
16, 17. (a) Wat het ’n broer gehelp wat gevoel het dat hy ’n onreg aangedoen is? (b) Waarop moet jy jou blik stip gerig hou om te voorkom dat jy struikel?
16 As ’n medegelowige ons ’n onreg aandoen, kan dit ons ook laat struikel. In Frankryk het ’n broer wat voorheen ’n ouer man was, gevoel dat hy ’n onreg aangedoen is, en hy het verbitterd geraak. Gevolglik het hy opgehou om met die gemeente te assosieer en het hy onbedrywig geword. Twee ouer manne het hom besoek en het, sonder om hom in die rede te val, met simpatie geluister terwyl hy vir hulle vertel het wat volgens hom plaasgevind het. Hulle het hom aangespoor om sy las op Jehovah te werp en het beklemtoon dat God se goedkeuring die belangrikste is. Hy het goed gereageer, en kort voor lank was hy terug in die wedloop en weer bedrywig in gemeentelike sake.
17 Alle Christene moet hulle blik stip gerig hou op die aangestelde Hoof van die gemeente, Jesus Christus, nie op onvolmaakte mense nie. Jesus, wie se oë “soos ’n vuurvlam” is, sien alles in die regte perspektief en sien dus baie meer as wat ons ooit sal kan (Op. 1:13-16). Hy besef byvoorbeeld dat iets dalk vir ons soos ’n onreg lyk omdat ons iets verkeerd opgeneem of verkeerd verstaan het. Jesus sal op volmaakte wyse en op die regte tyd in die gemeente se behoeftes voorsien. Ons moet dus nie toelaat dat die dade of besluite van enige mede-Christen ons laat struikel nie.
18. Hoe kan ons beproewinge en kwellende situasies die hoof bied?
18 Nog twee struikelblokke is verdrukking of vervolging en die onvolmaakthede van ander in die gemeente. In sy gelykenis van die saaier het Jesus gesê dat “verdrukking of vervolging” weens die woord party sou laat struikel. Wat die bron van hierdie vervolging ook al is—familie, bure of regeringsowerhede—dit kan veral ’n uitwerking hê op iemand wat “geen wortel in homself” het nie, dit wil sê geen geestelike diepte het nie (Matt. 13:21). Maar as ons ’n opregte hartstoestand behou, sal die Koninkryksaad ons help sodat ons geloof diep, stabiliserende wortels ontwikkel. Wanneer ons onder beproewinge gebuk gaan, moet ons daarna streef om biddend oor lofwaardige sake te peins. (Lees Filippense 4:6-9.) Met krag van Jehovah sal ons beproewinge die hoof bied en nie toelaat dat kwellende situasies struikelblokke word nie.
19. Hoe kan ons keer dat ons struikel wanneer iemand ons aanstoot gee?
19 Ongelukkig het party deur die jare heen toegelaat dat die onvolmaakthede van ander hulle in die wedloop laat tou opgooi. Verskille in sienswyse in verband met gewetensake het vir hulle struikelblokke geword (1 Kor. 8:12, 13). Sal ons toelaat dat dit ’n groot geskil word as iemand ons aanstoot gee? Die Bybel vermaan Christene om op te hou om te oordeel, om ander te vergewe en om nie op ons persoonlike regte aan te dring nie (Luk. 6:37). Wanneer jy voor ’n potensiële struikelblok te staan kom, kan jy jou afvra: ‘Oordeel ek ander op grond van my eie voorkeure? Sal ek, wetende dat my broers onvolmaak is, toelaat dat iemand se onvolmaaktheid my in die wedloop om die lewe laat opgee?’ Liefde vir Jehovah kan ons help om vasbeslote te wees om nie toe te laat dat enigiets wat iemand anders doen, verhinder dat ons die eindstreep oorsteek nie.
HARDLOOP MET VOLHARDING—MOENIE STRUIKEL NIE
20, 21. Wat is jy vasbeslote om te doen in die wedloop om die lewe?
20 Is jy vasbeslote om “die wedloop enduit [te hardloop]”? (2 Tim. 4:7, 8). Dan is persoonlike studie onontbeerlik. Gebruik die Bybel en ons teokratiese publikasies om jou te help om navorsing te doen, te peins en potensiële struikelblokke te identifiseer. Smeek Jehovah om heilige gees sodat jy die geestelike stamina kan hê wat jy nodig het. Onthou, in die wedloop om die lewe is geen hardloper tot mislukking gedoem net omdat hy soms struikel of val nie. Hy kan opstaan en weer aan die wedloop deelneem. Hy kan selfs potensiële struikelblokke as trapklippe gebruik en sodoende waardevolle lesse leer uit situasies wat sy geloof op die proef stel.
21 Volgens die Bybel is ons deelname aan die wedloop om die ewige lewe aktief, nie passief nie. Dit is nie soos om op ’n bus te klim wat almal daarop eenvoudig na oorwinning neem nie. Ons moet self hardloop in die wedloop om die lewe. Terwyl ons dit doen, sal “oorvloedige vrede” van Jehovah soos die wind van agter wees (Ps. 119:165). Ons kan seker wees van sy volgehoue seën nou en oneindige seëninge in die toekoms vir almal wat die wedloop voltooi.—Jak. 1:12.