Jy kan kuis bly in ’n onsedelike wêreld
HY WAS donker en aantreklik. Sy was talentvol en baie mooi. Hulle het vir dieselfde maatskappy gewerk. Sy het baie persoonlike aandag aan hom gegee. Hy het haar bewonder. Hulle het vir mekaar geskenke gekoop. Weldra was hulle minnaars. Hy het sy vrou gelos vir haar. Sy het op die ou end besluit om by haar man te bly en die verhouding te beëindig. Hy het halfhartig na sy vrou toe probeer teruggaan. Maar omdat hy nie werklik berou gehad het nie, het hy nie daarin geslaag nie. Almal wat betrokke was, het voortgegaan met die lewe, maar nie ongeskonde nie.
Geslagsedelikheid word nie meer in hierdie wêreld as ’n deug beskou nie. Die onbeteuelde najaging van plesier en bevrediging is skynbaar aan die orde van die dag. The New Encyclopædia Britannica sê: “Dit lyk of egbreuk so universeel en, in party gevalle, so algemeen soos die huwelik is.”
En tog wil Jehovah God hê dat die huwelik “onder almal eerbaar [moet] wees” en die huweliksbed “sonder verontreiniging” (Hebreërs 13:4). Die Skrif sê: “Moenie mislei word nie. Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of mans wat vir onnatuurlike doeleindes aangehou word of mans wat by mans lê . . . , sal God se koninkryk beërf nie” (1 Korintiërs 6:9, 10). As ons God se guns wil geniet, moet ons dus sedelik rein bly in hierdie onsedelike wêreld.
Hoe kan ons onsself beskerm teen die verderflike invloede om ons? In die 5de hoofstuk van die Bybelboek Spreuke voorsien koning Salomo van eertydse Israel die antwoorde. Kom ons kyk na wat hy te sê het.
Denkvermoë om jou te beskerm
“My seun, skenk tog aandag aan my wysheid”, begin die koning van Israel. Hy voeg by: “Neig jou ore tot my onderskeidingsvermoë, sodat jy denkvermoëns kan bewaak; en laat jou lippe kennis veilig bewaar.”—Spreuke 5:1, 2, NW.
Ons het wysheid nodig—die vermoë om skriftuurlike kennis toe te pas—asook onderskeidingsvermoë, of die krag om tussen reg en verkeerd te onderskei en die regte weg te kies, as ons versoekings wil weerstaan om onsedelik te wees. Ons word aangespoor om aandag te skenk aan wysheid en onderskeidingsvermoë sodat ons ons denkvermoë kan bewaak. Hoe kan ons dit doen? Wanneer ons God se Woord, die Bybel, bestudeer, moet ons let op die manier waarop Jehovah dinge doen en ons oor tot sy wil en voornemens neig. Deur dit te doen, sal ons ons denkprosesse reg rig. Denkvermoë wat sodoende verkry word, is in ooreenstemming met Goddelike wysheid en kennis. Wanneer dit reg gebruik word, sal hierdie vermoë ons beskerm sodat ons nie deur onsedelike versoekings verstrik raak nie.
Pas op vir ’n gladde verhemelte
Die rede waarom denkvermoë noodsaaklik is as ons in ’n onrein wêreld sedelik rein wil bly, is dat die weë van ’n onsedelike persoon verleidelik is. Salomo waarsku: “Want die lippe van die vreemde vrou drup heuningstroop, en haar verhemelte is gladder as olie, maar op die end is sy bitter soos wilde-als, soos ’n swaard aan weerskante skerp.”—Spreuke 5:3, 4.
In hierdie spreuk word die bandelose persoon uitgebeeld as ’n “vreemde vrou”—’n prostituut.a Die woorde waarmee sy haar slagoffer verlei, is soet soos heuningstroop en gladder as olyfolie. Soek onsedelike mense nie meestal so seksuele toenadering nie? Beskou byvoorbeeld die ondervinding van ’n mooi 27-jarige sekretaresse met die naam Amy. Sy vertel: “’n Man by die werk gee my baie aandag en komplimenteer my by elke geleentheid. Dit voel goed om raakgesien te word. Maar ek kan duidelik sien dat sy belangstelling in my bloot seksueel is. Ek gaan nie deur sy toenaderings mislei word nie.” Die vleiende woorde van ’n verleier of verleidster klink gewoonlik so mooi tensy ons onderskei wat werklik daaragter skuil. Hiervoor moet ons ons denkvermoë gebruik.
Die gevolge van onsedelikheid is bitter soos wilde-als en skerp soos ’n swaard—pynlik en dodelik. ’n Gewete wat jou kwel, ’n ongewenste swangerskap of ’n seksueel oordraagbare siekte is dikwels die bitter gevolge van sulke gedrag. En dink net aan die geweldige emosionele pyn wat die huweliksmaat van ’n ontroue persoon ondervind. Een daad van ontrouheid kan sulke diep wonde veroorsaak dat dit ’n leeftyd bestaan. Ja, onsedelikheid maak seer.
Die wyse koning sê verder oor die lewenswyse van ’n bandelose vrou: “Haar voete daal na die dood toe af, haar treë streef na die doderyk toe. Dat sy die pad na die lewe nie sou inslaan nie, wankel haar gange sonder dat sy dit weet” (Spreuke 5:5, 6). Die onsedelike vrou se weë lei haar na die dood toe—haar treë na die doderyk toe. Hoe waar is hierdie woorde tog met seksueel oordraagbare siektes, veral vigs, wat hoogty vier! Haar uiteinde is dieselfde as dié van mense wat saam met haar gaan in haar verdraaide gange.
Met opregte besorgdheid gee die koning dié aansporing: “Luister dan nou na my, julle seuns, en wyk nie af van die woorde van my mond nie. Hou jou weg ver van haar af, en kom nie naby die deur van haar huis nie.”—Spreuke 5:7, 8.
Ons moet so ver moontlik wegbly van die invloed van onsedelike mense. Waarom sou ons ons blootstel aan hulle weë deur na verderflike musiek te luister, na verderflike vermaak te kyk of ons aan pornografiese materiaal bloot te stel? (Spreuke 6:27; 1 Korintiërs 15:33; Efesiërs 5:3-5). En hoe dwaas sou dit tog wees om hulle aandag te probeer trek deur te flankeer of deur onbeskeie te wees in ons kleredrag en persoonsversorging!—1 Timoteus 4:8; 1 Petrus 3:3, 4.
’n Baie hoë prys
Om watter ander rede moet ons ons weg ver van ’n bandelose persoon af hou? Salomo antwoord: “Sodat jy nie jou bloei [“waardigheid”, “NW”] aan ander gee en jou jare aan een wat onbarmhartig is nie; sodat vreemdes hulle nie versadig met jou vermoë en jou moeitevolle arbeid in die huis van ’n uitlander kom nie en jy uiteindelik moet steun as jou liggaam en jou vlees verteer is.”—Spreuke 5:9-11.
Salomo vestig dus die aandag op die hoë prys wat ’n mens betaal as jy voor onsedelikheid swig. Egbreuk en ’n verlies aan waardigheid, of selfrespek, gaan hand aan hand. Is dit nie waarlik vernederend om bloot gebruik te word met die doel om jou eie of iemand anders se onsedelike hartstog te bevredig nie? Toon dit nie ’n gebrek aan selfrespek as ons ons oorgee aan seksuele intimiteit met iemand wat nie ons huweliksmaat is nie?
Maar wat behels dit om ‘ons jare, ons vermoë en ons moeitevolle arbeid aan vreemdes, oftewel uitlanders, te gee’? Een naslaanwerk sê: “Die punt in hierdie verse is duidelik: Die prys vir ontrouheid kan hoog wees; want ’n mens kan alles verloor waarvoor jy werk—posisie, mag, welvaart—deur die gierige eise van die vrou of die gemeenskap se aandrang op vergelding.” Onsedelikheid kan ’n mens duur te staan kom!
’n Dwaas wat sy waardigheid verloor het en al sy middele opgebruik het, sal steun en sê: “Hoe het ek die tug gehaat en my hart die kastyding versmaad, en nie geluister na die stem van my onderwysers en geen gehoor gegee aan die wat my geleer het nie! Amper was ek heeltemal in die ongeluk, in die vergadering en die gemeente.”—Spreuke 5:12-14.
Mettertyd uiter die sondaar wat een geleerde “’n lang lys ‘as ek maars’” noem: “as ek maar na my vader geluister het; as ek maar nie my eie pad gevolg het nie; as ek maar na ander se raad geluister het”. Maar hierdie besef kom te laat. Iemand wat nie meer kuis is nie, het reeds sy lewe verwoes en sy reputasie geskend. Hoe noodsaaklik is dit tog vir ons om aan die hoë prys van onsedelikheid te dink voordat ons daarvoor swig!
“Drink water uit jou eie reënbak”
Is die Bybel preuts wat geslagsomgang betref? Glad nie. Die emosie wat met romantiese liefde gepaardgaan en die ekstase tussen ’n man en ’n vrou is gawes van God. Maar hierdie intimiteit moet slegs deur huweliksmaats geniet word. Salomo gee dus hierdie vermaning aan ’n getroude man: “Drink water uit jou eie reënbak en strome uit jou eie put. Sal jou fonteine buitentoe oorstroom, waterstrome op die pleine? Hulle moet vir jou alleen wees en nie vir ander saam met jou nie.”—Spreuke 5:15-17.
“Jou eie reënbak” en “jou eie put” is poëtiese uitdrukkings vir ’n geliefde vrou. Geslagsomgang met haar word vergelyk met die plesier om verkwikkende water te drink. Anders as die watervoorraad in openbare plekke word ’n reënbak of ’n put as privaat eiendom beskou. En die man word die raad gegee om eerder by sy huis kinders saam met sy vrou te verwek as om sy saad aan ander vroue te gee, as ’t ware sy fonteine op die pleine te laat oorstroom. Dit is duidelik dat die raad aan ’n man is om getrou aan sy vrou te wees.
Die wyse man sê verder: “Mag jou fontein geseënd wees, en verheug jou oor die vrou van jou jeug—die lieflike wildsbokkie en aanvallige steenbokkie; laat haar boesem jou altyd vermaak, mag jy in haar liefde gedurigdeur bedwelmd wees.”—Spreuke 5:18, 19.
“Fontein” verwys na die bron van seksuele bevrediging. Seksuele genot saam met ’n mens se huweliksmaat is “geseënd”—godgegewe. Gevolglik word ’n man vermaan om hom te verheug oor die vrou van sy jeug. Vir hom is sy so lieflik en pragtig soos ’n wildsbokkie en so bekoorlik en grasieus soos ’n steenbokkie.
Salomo vra vervolgens twee retoriese vrae: “Maar waarom sou jy, my seun, by ’n vreemde bedwelmd raak en die boesem van ’n ontugtige omhels?” (Spreuke 5:20). Ja, waarom sou ’n getroude persoon tot buite-egtelike geslagsomgang verlok word deur persone by die werk, by die skool of op ander plekke?
Die apostel Paulus gee hierdie raad vir getroude Christene: “Ek [sê] dít, broers: die oorblywende tyd is kort. Laat dié wat vrouens het van nou af wees asof hulle nie het nie” (1 Korintiërs 7:29). Wat behels dit? Wel, die volgelinge van Jesus Christus moet ‘aanhou om eers die koninkryk te soek’ (Matteus 6:33). Daarom moet egpare nie soveel aandag aan mekaar skenk dat hulle Koninkryksbelange ’n minder belangrike plek in hulle lewe gee nie.
Selfbeheersing is nodig
Seksuele begeertes kan beheers word. En dit moet beheers word deur diegene wat Jehovah se goedkeuring wil wegdra. “Dit is wat God wil: julle heiliging, dat julle julle onthou van hoerery; dat elkeen van julle moet weet hoe om in heiliging en eer sy eie vat [sy eie liggaam] in besit te kry”, het die apostel Paulus gemaan.—1 Tessalonisense 4:3, 4.
Jongmense moet dus nie oorhaastig trou wanneer hulle die eerste keer van geslagsdrange bewus word nie. Die huwelik vereis ’n vaste verbintenis en dit verg volwassenheid om so ’n verantwoordelikheid na te kom (Genesis 2:24). Dit is beter om te wag totdat jy “verby die bloei van die jeug” is—die tydperk wanneer seksuele gevoelens baie sterk is en dit ’n mens se goeie oordeel kan belemmer (1 Korintiërs 7:36). En hoe onverstandig en watter sonde is dit tog vir ’n volwassene wat wil trou om hom aan geslagsonsedelikheid skuldig te maak bloot omdat ’n huweliksmaat nie beskikbaar is nie!
‘Sy eie ongeregtighede vang die goddelose’
Die vernaamste rede waarom geslagsonsedelikheid verkeerd is, is omdat Jehovah—die Lewegewer en Skenker van die mens se seksuele vermoëns—dit nie goedkeur nie. Koning Salomo gee dus die sterkste motivering om sedelik kuis te bly deur te sê: “Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange” (Spreuke 5:21). Ja, niks is verborge vir die oë van God “aan wie ons rekenskap moet gee” nie (Hebreërs 4:13). Enige daad van geslagsonreinheid, ongeag of dit geheim gehou word en watter fisiese en sosiale gevolge dit ook al het, sal beslis ons verhouding met Jehovah skaad. Hoe dwaas is dit tog om vrede met God te verloor vir ’n paar oomblikke van ongeoorloofde genot!
Dit lyk dalk of party wat hulle skaamteloos aan onsedelike weë oorgee ongestraf bly—maar nie vir altyd nie. Salomo verklaar: “Sy eie ongeregtighede vang hom, die goddelose, en in die vangstrikke van sy sonde word hy vasgehou. Hy sal sterf deur gebrek aan tug, en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy dwaal.”—Spreuke 5:22, 23.
Waarom sou enigeen van ons ooit dwaal? Die boek Spreuke waarsku ons per slot van rekening teen die verloklike weë van die wêreld. En dit wys ons wat gewoonlik die prys vir geslagsonsedelikheid is—ons boet met ons gesondheid, ons materiële bates, ons krag en ons waardigheid. Met sulke duidelike insig hoef ons ons nooit in die situasie te bevind waar ons ’n lang lys “as ek maars” moet uitspreek nie. Ja, deur die raad toe te pas wat Jehovah in sy geïnspireerde Woord gegee het, kan ons sedelik kuis bly in ’n onsedelike wêreld.
[Voetnoot]
a Die woord “vreemdeling” is toegepas op diegene wat afgewyk het van wat reg was volgens die Wet en dus van Jehovah vervreemd geword het. ’n Prostituut word gevolglik ’n “vreemde vrou” genoem.
[Prente op bladsy 30]
Die gevolge van onsedelikheid is bitter soos wilde-als
[Prente op bladsy 31]
“Verheug jou oor die vrou van jou jeug”