Jongmense, bou julle vir die toekoms?
“Ek weet goed watter gedagtes ek teenoor julle koester, . . . gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ’n toekoms en ’n hoop te gee.”—JEREMIA 29:11.
1, 2. Watter verskillende beskouings kan daar van die jeugjare wees?
DIE meeste volwassenes dink aan die jeug as ’n wonderlike tyd in die lewe. Hulle onthou hoeveel energie en geesdrif hulle gehad het toe hulle jonk was. Hulle het aangename herinneringe van ’n tyd toe hulle baie minder verantwoordelikhede gehad het, ’n tyd toe hulle groot pret gehad het en daar vir hulle ’n hele lewe vol geleenthede voorgelê het.
2 Dié van julle wat jonk is, beskou dinge dalk anders. Julle vind dit miskien moeilik om die emosionele en fisiese veranderinge te verwerk wat met die jeug gepaardgaan. Op skool ondervind julle dalk hewige portuurdruk. Julle moet moontlik ’n doelgerigte poging aanwend om dwelmmisbruik, alkohol en onsedelikheid te weerstaan. Baie van julle kom ook te staan voor die neutraliteitsgeskil of ander kwessies wat met julle godsdiensoortuigings verband hou. Ja, die jeug kan ’n moeilike tyd wees. Maar dit is nogtans ’n tyd vol geleenthede. Die vraag is: Hoe sal jy daardie geleenthede benut?
Geniet jou jeug
3. Watter raad en watter waarskuwing het Salomo aan jongmense gegee?
3 Ouer mense sal vir jou sê dat die jeugjare verbyvlieg, en hulle is reg. Binne net ’n paar jaar sal jou jeug verby wees. Geniet dit dus terwyl jy kan! Dit was die raad van koning Salomo, wat geskryf het: “Verbly jou, jong man, in jou jeug, en laat jou hart aan jou goed doen in die dae van jou jonkheid, en wandel in die weë van jou hart en in die dinge wat jou oë sien.” Maar Salomo het jongmense gewaarsku: “Verwyder . . . kwelling uit jou hart, en hou rampspoed weg van jou vlees.” Verder het hy gesê: “Jeug en die bloei van die lewe is nietigheid.”—Prediker 11:9, 10.
4, 5. Waarom is dit verstandig van jongmense om vir die toekoms voor te berei? Lig toe.
4 Begryp jy wat Salomo bedoel het? Kom ons lig dit toe met ’n jong persoon wat ’n groot geskenk ontvang, moontlik ’n erfporsie. Wat sal hy daarmee doen? Hy kan alles op plesier spandeer—soos die verlore seun van Jesus se gelykenis gedoen het (Lukas 15:11-23). Maar wat sal gebeur wanneer die geld opraak? Hy sal beslis spyt wees dat hy so onverantwoordelik opgetree het! Gestel daarenteen dat hy die geskenk gebruik om vir die toekoms te bou, miskien deur die meeste daarvan verstandig te belê. Dink jy dat hy later, wanneer hy die voordele van sy belegging geniet, spyt sal wees dat hy nie al sy geld gedurende sy jeug op plesier gespandeer het nie? Natuurlik nie!
5 Dink aan jou jeug as ’n gawe van God, wat dit in werklikheid is. Hoe sal jy dit gebruik? Jy kan al jou energie en geesdrif verkwis op selfbevrediging, deur jou lewe net om plesier te laat draai en nie vir ’n oomblik aan die toekoms te dink nie. Maar as jy dit doen, sal “jeug en die bloei van die lewe” in jou geval beslis “nietigheid” wees. Hoeveel beter is dit tog om jou jeug te gebruik om vir die toekoms voor te berei!
6. (a) Watter raad van Salomo voorsien leiding vir jongmense? (b) Wat wil Jehovah graag vir jongmense doen, en hoe kan ’n jong persoon hierby baat vind?
6 Salomo het ’n beginsel genoem wat jou kan help om jou jeug ten beste te benut. Hy het gesê: “Dink dan nou aan jou Grootse Skepper in die dae van jou jonkheid” (Prediker 12:1). Dít is die sleutel tot sukses—luister na Jehovah en doen sy wil. Jehovah het vir die eertydse Israeliete gesê wat hy vir hulle wou doen: “Ek weet goed watter gedagtes ek teenoor julle koester, . . . gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ’n toekoms en ’n hoop te gee” (Jeremia 29:11). Jehovah wil graag ook vir jou “’n toekoms en ’n hoop” gee. As jy op hom ag gee in jou dade, gedagtes en besluite, sal daardie toekoms en daardie hoop vir jou goed wees.—Openbaring 7:16, 17; 21:3, 4.
“Kom nader aan God”
7, 8. Hoe kan ’n jong persoon nader aan God kom?
7 Jakobus het ons aangespoor om aan Jehovah te dink toe hy gesê het: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom” (Jakobus 4:8). Jehovah is die Skepper, die hemelse Soewerein, wat alle aanbidding en lof waardig is (Openbaring 4:11). En tog sal hy nader aan ons kom as ons nader aan hom kom. Verbly sulke liefdevolle belangstelling nie jou hart nie?—Matteus 22:37.
8 Ons kan op ’n aantal maniere nader aan Jehovah kom. Die apostel Paulus sê byvoorbeeld: “Hou vol met gebed, bly wakker daarin met danksegging” (Kolossense 4:2). Met ander woorde, kweek die gewoonte aan om te bid. Moenie daarmee tevrede wees om net amen te sê nadat jou pa of ’n mede-Christen in die gemeente jou in gebed verteenwoordig het nie. Het jy al ooit jou hart voor Jehovah uitgestort en vir hom gesê wat jy dink, wat jy vrees, watter probleme jy ondervind? Het jy al ooit vir hom dinge vertel wat jy skaam sal wees om met iemand anders te bespreek? Eerlike, opregte gebede bring innerlike vrede mee (Filippense 4:6, 7). Dit help ons om nader aan Jehovah te kom en te voel dat hy nader aan ons kom.
9. Hoe kan ’n jong persoon na Jehovah luister?
9 Ons sien nog ’n manier om nader aan Jehovah te kom in hierdie geïnspireerde woorde: “Luister na raad en aanvaar dissipline, sodat jy in jou toekoms wys kan word” (Spreuke 19:20). Ja, as jy na Jehovah luister en hom gehoorsaam, bou jy vir die toekoms. Hoe kan jy toon dat jy wel na Jehovah luister? Jy woon ongetwyfeld Christelike vergaderinge gereeld by en luister na die programdele. En jy “eer jou vader en jou moeder” deur die gesinsbybelstudie by te woon (Efesiërs 6:1, 2; Hebreërs 10:24, 25). Dit is baie goed. Maar ‘koop jy ook die tyd uit’ om vir die vergaderinge voor te berei, die Bybel gereeld te lees en navorsing te doen? Probeer jy toepas wat jy lees sodat jy as ’n ‘wyse’ persoon kan wandel? (Efesiërs 5:15-17; Psalm 1:1-3). As jy dít doen, kom jy nader aan Jehovah.
10, 11. Watter groot voordele hou dit vir jongmense in as hulle na Jehovah luister?
10 In die openingswoorde van die boek Spreuke verduidelik die geïnspireerde skrywer wat die doel van hierdie Bybelboek is. Volgens hom is dit “sodat ’n mens wysheid en dissipline kan leer ken, verstandige woorde kan onderskei, die dissipline kan ontvang wat insig, regverdigheid en oordeel en regskapenheid gee, om aan die onervarenes skerpsinnigheid te gee, aan ’n jong man kennis en denkvermoë” (Spreuke 1:1-4). Wanneer jy dus die woorde van Spreuke—sowel as die res van die Bybel—lees en toepas, sal jy regverdigheid en regskapenheid aankweek, en Jehovah sal verheug wees dat jy nader aan hom kom (Psalm 15:1-5). Hoe meer jy oordeel, skerpsinnigheid, kennis en denkvermoë ontwikkel, hoe beter sal jou besluite wees.
11 Is dit onredelik om te verwag dat ’n jong persoon in hierdie opsig verstandig moet optree? Nee, want baie jong Christene doen dit. Gevolglik respekteer ander hulle en word daar nie ‘op hulle jeug neergesien nie’ (1 Timoteus 4:12). Hulle ouers is tereg trots op hulle, en Jehovah sê dat hulle sy hart bly maak (Spreuke 27:11). Al is hulle jonk, kan hulle seker wees dat hierdie geïnspireerde woorde op hulle van toepassing is: “Gee ag op die onberispelike en kyk na die regskapene, want die toekoms van dié man sal vreedsaam wees.”—Psalm 37:37.
Maak goeie keuses
12. Wat is een van die belangrike keuses wat jongmense maak, en waarom het dié keuse langtermyngevolge?
12 Die jeug is ’n tyd van keuses, waarvan party blywende gevolge het. Van die keuses wat jy nou maak, sal baie jare lank ’n uitwerking op jou lewe hê. Wyse keuses dra by tot ’n gelukkige, suksesvolle lewe. Onwyse keuses kan jou hele lewe bederf. Let op hoe dit die geval is met twee keuses wat jy moet maak. Eerstens: Met wie verkies jy om te assosieer? Waarom is dit belangrik? Wel, die geïnspireerde spreuk sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan” (Spreuke 13:20). Met ander woorde, ons word uiteindelik soos diegene met wie ons assosieer—óf wys óf dwaas. Wat sal jy verkies om te wees?
13, 14. (a) Wat sluit assosiasie in, benewens regstreekse kontak met mense? (b) Watter fout moet jongmense vermy?
13 Wanneer jy aan assosiasie dink, dink jy waarskynlik aan omgang met mense. Dit is reg, maar dit behels meer. Wanneer jy na ’n televisieprogram kyk, na musiek luister, ’n storieboek lees, gaan fliek of sekere bronne op die Internet gebruik, is dit assosiasie. As daardie assosiasie gewelddadige en onsedelike neigings bevredig of dwelmmisbruik, dronkenskap of enigiets anders bevorder wat in stryd met Bybelbeginsels is, assosieer jy met “die verstandelose”, wat optree asof Jehovah nie bestaan nie.—Psalm 14:1.
14 Dalk meen jy dat jy, aangesien jy Christelike vergaderinge bywoon en in die gemeente bedrywig is, sterk genoeg is om na ’n gewelddadige rolprent te kyk of na ’n musiekalbum met mooi melodieë maar twyfelagtige woorde te luister sonder om beïnvloed te word. Miskien dink jy dat dit geen slegte gevolge sal hê as jy vlugtig na ’n pornografiese webwerf op die Internet kyk nie. Die apostel Paulus sê vir jou dat jy verkeerd is! Hy sê: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Ongelukkig het talle belowende jong Christene toegelaat dat onwyse assosiasie hulle goeie gewoontes bederf. Wees dus vasbeslote om sulke assosiasie te vermy. As jy dit doen, sal jy Paulus se raad volg: “Moenie langer na hierdie stelsel van dinge gevorm word nie, maar word verander deur julle verstand te hervorm, dat julle kan seker maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.”—Romeine 12:2.
15. Wat is ’n tweede keuse wat jongmense moet maak, en watter druk word soms in dié verband op hulle uitgeoefen?
15 Hier is ’n tweede keuse wat jy moet maak. Die tyd sal aanbreek wanneer jy moet besluit wat jy wil doen wanneer jy klaar is met skool. As jy in ’n land woon waar werk skaars is, sal jy moontlik genoodsaak voel om maar die beste te neem wat beskikbaar is. As jy in ’n welvarende land woon, is daar dalk baie keuses, waarvan party baie aanloklik kan lyk. Jou onderwysers of jou ouers spoor jou miskien met die beste bedoelings aan om ’n loopbaan na te streef wat finansiële sekuriteit, dalk selfs rykdom, bied. Maar die opleiding vir so ’n loopbaan kan die tyd wat jy in Jehovah se diens kan gebruik, grootliks beperk.
16, 17. Verduidelik hoe verskillende tekste ’n jong persoon kan help om ’n gebalanseerde beskouing van sekulêre werk te verkry.
16 Onthou om die Bybel te raadpleeg voordat jy ’n besluit neem. Die Bybel spoor ons aan om te werk sodat ons onsself kan onderhou (2 Tessalonisense 3:10-12). Nietemin is daar ander faktore om in ag te neem. Ons moedig jou aan om die volgende tekste te lees en te dink aan hoe hulle ’n jong persoon kan help om gebalanseerd te wees wanneer dit kom by die keuse van ’n loopbaan: Spreuke 30:8, 9; Prediker 7:11, 12; Matteus 6:33; 1 Korintiërs 7:31; 1 Timoteus 6:9, 10. Kan jy, noudat jy hierdie verse gelees het, sien wat Jehovah se beskouing oor die saak is?
17 Sekulêre werk moet nooit so belangrik word dat dit ons diens aan Jehovah oorskadu nie. As ’n hoërskoolopleiding jou die nodige kwalifikasies vir ’n redelik goeie werk gee, is dit goed. As jy verdere opleiding ná hoërskool nodig het, is dit iets wat jy met jou ouers moet bespreek. Moet egter nooit “die belangriker dinge”—die geestelike dinge—uit die oog verloor nie (Filippense 1:9, 10). Moenie dieselfde fout maak as Barug, Jeremia se sekretaris, nie. Hy het waardering vir sy diensvoorreg verloor en ‘vir hom groot dinge begin soek’ (Jeremia 45:5). Hy het ’n ruk lank vergeet dat geen ‘groot ding’ in hierdie wêreld hom nader aan Jehovah sou bring of hom sou help om die vernietiging van Jerusalem te oorleef nie. Dieselfde kan vandag van ons gesê word.
Waardeer geestelike dinge
18, 19. (a) Waardeur word die meeste mense om jou geteister, en hoe moet jy teenoor hulle voel? (b) Waarom voel party mense nie geestelik honger nie?
18 Het jy al foto’s in die media gesien van kinders in lande wat deur hongersnood geteister word? Indien wel, het jy ongetwyfeld vir hulle jammer gevoel. Voel jy ook jammer vir mense in julle omgewing? Waarom moet jy? Omdat die meeste van hulle ook honger ly. Hulle word geteister deur die hongersnood waaroor Amos geprofeteer het: “‘Daar kom dae’, is die woord van die Soewereine Heer Jehovah, ‘en ek sal ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van Jehovah te hoor.’”—Amos 8:11.
19 Die meeste van die mense wat deur hierdie geestelike hongersnood geteister word, is weliswaar nie “bewus . . . van hulle geestelike behoefte” nie (Matteus 5:3). Baie voel nie geestelik honger nie. Party meen dalk selfs dat hulle goed gevoed is. Maar as dit die geval is, is dit omdat hulle hulle voed met die waardelose “wysheid van die wêreld”, wat materialisme, wetenskaplike bespiegelings, menings oor sedelikheid en dies meer insluit. Party dink dat Bybelleringe outyds is in vergelyking met moderne “wysheid”. Maar ‘die wêreld het deur sy wysheid God nie leer ken nie’. Die wysheid van die wêreld sal jou nie help om nader aan God te kom nie. Dit is niks anders nie as “dwaasheid by God”.—1 Korintiërs 1:20, 21; 3:19.
20. Waarom is dit nie redelik om mense te wil navolg wat Jehovah nie aanbid nie?
20 Wanneer jy na daardie foto’s van honger kinders kyk, wil jy ooit soos hulle wees? Natuurlik nie! En tog het party jongmense in Christengesinne getoon dat hulle soos die geestelik verhongerde mense om hulle wil wees. Hierdie jong persone dink heel moontlik dat jongmense in die wêreld sorgvry is en die lewe geniet. Hulle vergeet dat daardie jongmense vervreemd is van Jehovah (Efesiërs 4:17, 18). Hulle vergeet ook die slegte gevolge van geestelike verhongering. ’n Paar hiervan is ongewenste tienerswangerskappe en die fisiese en emosionele gevolge van onsedelikheid, die rookgewoonte, dronkenskap en dwelmmisbruik. Geestelike verhongering lei tot ’n opstandige gees, ’n onderliggende gevoel van hulpeloosheid en doelloosheid in die lewe.
21. Hoe kan ons voorkom dat ons die verkeerde gesindhede aanneem van diegene wat Jehovah nie aanbid nie?
21 Wanneer jy by die skool tussen jongmense is wat nie ook aanbidders van Jehovah is nie, moet jy dus nie toelaat dat hulle gesindhede jou oorweldig nie (2 Korintiërs 4:18). Party sal met minagting praat van geestelike dinge. Daarbenewens bevat die media subtiele propaganda, wat te kenne gee dat dit normaal is om onsedelikheid te beoefen, dronk te word of vuil taal te gebruik. Weerstaan daardie invloed. Hou aan om gereeld te assosieer met mense wat “geloof en ’n goeie gewete behou”. Sorg dat jy altyd “baie het om in die werk van die Here te doen” (1 Timoteus 1:19; 1 Korintiërs 15:58). Bly besig by die Koninkryksaal en in die veldbediening. Dien van tyd tot tyd as ’n hulppionier terwyl jy nog op skool is. Versterk sodoende jou geestelike beskouing van sake, en jy sal nie jou balans verloor nie.—2 Timoteus 4:5.
22, 23. (a) Waarom sal ’n jong Christen dikwels keuses maak wat ander nie verstaan nie? (b) Wat word jongmense aangespoor om te doen?
22 ’n Geestelike beskouing van sake sal waarskynlik veroorsaak dat jy besluite neem wat ander nie sal verstaan nie. Byvoorbeeld, een jong Christenman was ’n begaafde musikant en het onderskeidings in al sy vakke op skool behaal. Toe hy klaar was met skool, het hy en sy pa ’n vensterwassery begin sodat hy sy gekose loopbaan as ’n voltydse evangeliedienaar, of pionier, kon volg. Sy onderwysers kon nooit die redes vir sy besluit verstaan nie, maar as jy na aan Jehovah gekom het, is ons seker dat jy dit verstaan.
23 Terwyl jy nadink oor hoe jy jou kosbare jeug kan benut, moet jy ‘vir jouself ’n goeie fondament vir die toekoms veilig as ’n skat bewaar, sodat jy ’n stewige houvas op die werklike lewe kan kry’ (1 Timoteus 6:19). Wees vasbeslote om ‘aan jou Grootse Skepper te dink’ terwyl jy jonk is—en vir die res van jou lewe. Dit is die enigste manier om vir ’n suksesvolle toekoms te bou, ’n toekoms wat nooit sal eindig nie.
Wat is jou gevolgtrekking?
• Watter geïnspireerde raad help jongmense wanneer hulle vir die toekoms beplan?
• Wat is ’n paar maniere waarop ’n jong persoon ‘nader aan God kan kom’?
• Wat is van die besluite wat ’n jong persoon moet maak wat sy toekoms sal raak?
[Prente op bladsy 15]
Sal jy toelaat dat persoonlike strewes al jou jeugdige energie en geesdrif in beslag neem?
[Prent op bladsy 16, 17]
Verstandige jong Christene hou hulle oë stip gerig op geestelike dinge