HOOFSTUK SES
Help jou tiener om te floreer
1, 2. Watter uitdagings en watter vreugdes kan die tienerjare meebring?
OM ’N tiener in die huis te hê, is heeltemal anders as om ’n vyfjarige of selfs ’n tienjarige kind te hê. Die tienerjare bring hulle eie uitdagings en probleme mee, maar hulle kan ook vreugdes en belonings meebring. Voorbeelde soos Josef, Dawid, Josia en Timoteus toon dat jongmense verantwoordelik kan optree en ’n goeie verhouding met Jehovah kan hê (Genesis 37:2-11; 1 Samuel 16:11-13; 2 Konings 22:3-7; Handelinge 16:1, 2). Baie tieners toon vandag ook dat dit die geval is. Jy ken waarskynlik van hulle.
2 Maar vir party is die tienerjare onstuimig. Adolessente ervaar emosionele voor- en teenspoed. Tienerseuns en -meisies wil dalk meer onafhanklik wees, en hulle voel dalk gegrief as hulle ouers beperkings aan hulle oplê. Maar hierdie jongmense is nog steeds baie onervare en het liefdevolle, geduldige hulp van hulle ouers nodig. Ja, die tienerjare kan opwindend wees, maar dit kan ook verwarrend wees—vir ouers sowel as vir tieners. Hoe kan jongmense gedurende hierdie jare gehelp word?
3. Op watter manier kan ouers hulle kinders tydens adolessensie ’n goeie geleentheid in die lewe bied?
3 Ouers wat Bybelraad volg, bied hulle kinders tydens adolessensie die bes moontlike geleentheid om ondanks hierdie beproewinge met welslae tot verantwoordelike volwassenes te vorder. In alle lande en gedurende alle tydperke het ouers en tieners wat Bybelbeginsels saam toegepas het sukses geniet.—Psalm 119:1.
EERLIKE EN OPENHARTIGE KOMMUNIKASIE
4. Waarom is vertroulike gesprekke veral tydens die tienerjare belangrik?
4 Die Bybel sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprek is nie” (Spreuke 15:22, NW). As vertroulike gesprekke nodig was toe die kinders jonger was, is dit veral noodsaaklik tydens die tienerjare—wanneer jongmense heel moontlik minder tyd by die huis en meer tyd saam met skoolmaats of ander metgeselle bestee. As daar geen vertroulike gesprekke—geen eerlike en openhartige kommunikasie tussen kinders en ouers—is nie, kan tieners vreemdelinge in die huis word. Hoe kan die kommunikasiekanale dus oopgehou word?
5. Hoe word tieners aangespoor om kommunikasie met hulle ouers te beskou?
5 Beide tieners en ouers moet hulle verantwoordelikheid in hierdie opsig nakom. Adolessente vind dit dalk weliswaar moeiliker om met hulle ouers te praat as toe hulle jonger was. Onthou nietemin: “Wanneer daar geen bekwame leiding is nie, val die volk; maar daar is redding in die veelheid van raadgewers” (Spreuke 11:14, NW). Hierdie woorde is op almal van toepassing, jonk sowel as oud. Tieners wat dit besef, sal verstaan dat hulle steeds bekwame leiding nodig het, aangesien hulle voor moeiliker probleme te staan kom as vantevore. Hulle moet besef dat hulle gelowige ouers baie ervare raadgewers is omdat hulle meer ondervinding in die lewe het en oor baie jare hulle liefdevolle besorgdheid bewys het. Op hierdie stadium in hulle lewe sal verstandige tieners dus nie hulle rug op hulle ouers draai nie.
6. Watter gesindheid sal verstandige en liefdevolle ouers hê wat kommunikasie met hulle tieners betref?
6 Openhartige kommunikasie beteken dat die ouer hard sal probeer om beskikbaar te wees wanneer die tiener graag wil praat. As jy ’n ouer is, moet jy seker maak dat kommunikasie ten minste van jou kant moontlik is. Dit is dalk nie maklik nie. Die Bybel sê daar is “’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek” (Prediker 3:7). Wanneer jou tienderjarige kind voel dat dit tyd is om te praat, is dit dalk jou tyd om te swyg. Miskien het jy daardie tyd opsy gesit om persoonlike studie te doen, te ontspan of takies in die huis te verrig. As jou kind egter met jou wil praat, moet jy jou planne probeer verander en luister. Anders sal hy dalk nie weer probeer nie. Hou Jesus se voorbeeld in gedagte. By een geleentheid het hy tyd opsy gesit om te ontspan. Maar toe mense om hom begin saamdrom het om na hom te luister, het hy van sy rus vergeet en hulle begin onderrig (Markus 6:30-34). Die meeste tieners besef dat hulle ouers besige lewens lei, maar hulle het die versekering nodig dat hulle ouers daar is as hulle hulle nodig het. Wees gevolglik beskikbaar en toon begrip.
7. Wat moet ouers vermy?
7 Probeer onthou hoe dit was toe jy ’n tiener was, en moenie jou sin vir humor verloor nie! Ouers moet dit geniet om saam met hulle kinders te wees. Wanneer ouers vrye tyd het, hoe bestee hulle dit? As hulle altyd hulle vrye tyd wil gebruik om dinge te doen wat nie die gesin betrek nie, sal hulle tieners dit gou opmerk. As adolessente tot die gevolgtrekking kom dat hulle skoolmaats meer van hulle dink as wat hulle ouers van hulle dink, gaan hulle ongetwyfeld probleme ondervind.
WAAROOR OM TE KOMMUNIKEER
8. Hoe kan waardering vir eerlikheid, harde werk en behoorlike gedrag by kinders tuisgebring word?
8 As ouers nie reeds waardering vir eerlikheid en vir harde werk by hulle kinders ingeskerp het nie, moet hulle dit beslis tydens die tienerjare doen (1 Tessalonisense 4:11; 2 Tessalonisense 3:10). Dit is ook lewensbelangrik vir hulle om seker te maak dat hulle kinders van harte glo dat dit belangrik is om ’n sedelike en rein lewe te lei (Spreuke 20:11). ’n Ouer kommunikeer heelwat op hierdie gebiede deur middel van sy voorbeeld. Net soos ongelowige mans “sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word”, kan tieners deur die gedrag van hulle ouers regte beginsels leer (1 Petrus 3:1). Maar ’n voorbeeld is op sigself nooit voldoende nie, aangesien kinders ook blootgestel word aan talle slegte voorbeelde en aan ’n oorvloed van verleidelike propaganda buite die huis. Besorgde ouers moet dus weet hoe hulle tieners voel oor wat hulle sien en hoor, en dit vereis dat betekenisvolle gesprekke gevoer word.—Spreuke 20:5.
9, 10. Waarom moet ouers nie nalaat om hulle kinders oor seksuele sake in te lig nie, en hoe kan hulle dit doen?
9 Dit is veral waar wat seksuele sake betref. Ouers, is julle skaam om seks met julle kinders te bespreek? Selfs al is julle, moet julle die poging aanwend om dit te doen, want julle kinders sal beslis by iemand oor die onderwerp uitvind. Wie weet watter verwronge inligting hulle gaan kry as julle hulle nie leer nie? In die Bybel skram Jehovah nie weg van seksuele sake nie, en ouers moet ook nie.—Spreuke 4:1-4; 5:1-21.
10 Die Bybel bevat gelukkig duidelike riglyne oor seksuele gedrag, en die Wagtoringgenootskap het al heelwat nuttige inligting gepubliseer wat toon dat hierdie riglyne nog steeds in die hedendaagse wêreld geld. Maak gerus van hierdie hulp gebruik. Julle kan byvoorbeeld gerus die deel “Seks en sedelikheid” in die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk met julle seun of dogter hersien. Julle sal dalk heel verbaas wees oor die resultate.
11. Wat is die doeltreffendste manier waarop ouers hulle kinders kan leer hoe om Jehovah te dien?
11 Wat is die belangrikste onderwerp wat ouers en kinders moet bespreek? Die apostel Paulus het daarna verwys toe hy geskryf het: “Hou aan om [julle kinders] in die dissipline en verstandsregulering van Jehovah op te voed” (Efesiërs 6:4). Kinders moet aanhou om kennis van Jehovah in te neem. Hulle moet veral leer om hom lief te hê, en hulle moet die begeerte hê om hom te dien. Ook op hierdie gebied kan hulle heelwat uit ’n voorbeeld leer. As adolessente sien dat hulle ouers God liefhet ‘met hulle hele hart en met hulle hele siel en met hulle hele verstand’ en dat dit goeie vrugte in hulle ouers se lewe voortbring, sal hulle heel moontlik beweeg word om dieselfde te doen (Matteus 22:37). As jongmense sien dat hulle ouers ’n redelike beskouing van materiële dinge het en God se Koninkryk eerste stel, sal hulle eweneens gehelp word om dieselfde geestesgesindheid te ontwikkel.—Prediker 7:12; Matteus 6:31-33.
12, 13. Watter punte moet in gedagte gehou word as julle wil hê die gesinstudie moet ’n sukses wees?
12 ’n Weeklikse gesinsbybelstudie is ’n baie groot hulp om geestelike waardes aan jongmense oor te dra (Psalm 119:33, 34; Spreuke 4:20-23). Dit is uiters belangrik dat so ’n studie gereeld gehou word (Psalm 1:1-3). Ouers en hulle kinders moet besef dat ander dinge om die gesinstudie ingepas moet word, en nie andersom nie. Daarbenewens is die regte gesindheid noodsaaklik as julle ’n doeltreffende gesinstudie wil hê. Een vader het gesê: “Die geheim is dat die studiehouer ’n ontspanne en tog eerbiedige atmosfeer tydens die gesinstudie moet bevorder—informeel maar nie ligsinnig nie. Dit sal nie altyd maklik wees om die regte balans te verkry nie, en dit sal dikwels nodig wees om die kinders se gesindheid reg te stel. As dinge een of twee keer nie goed gaan nie, moet ’n mens volhard en die volgende keer maar weer probeer.” Hierdie selfde vader het gesê dat hy in sy gebed voor elke studie Jehovah spesifiek gevra het om hulle almal te help sodat hulle die regte beskouing kan hê.—Psalm 119:66.
13 Dit is die verantwoordelikheid van gelowige ouers om die gesinstudie te hou. Party ouers is weliswaar dalk nie begaafde onderrigters nie, en dit is dalk moeilik vir hulle om maniere te vind waarop hulle die gesinstudie interessant kan maak. Maar as jy jou tieners “met dade en in waarheid” liefhet, sal jy hulle graag op ’n nederige en eerlike wyse wil help om geestelik vooruitgang te maak (1 Johannes 3:18). Hulle kla dalk nou en dan, maar hulle sal waarskynlik besef dat jy baie in hulle welsyn belangstel.
14. Hoe kan Deuteronomium 11:18, 19 toegepas word wanneer geestelike dinge aan tieners oorgedra word?
14 Die gesinstudie is nie die enigste geleentheid om oor sake van geestelike belang te gesels nie. Onthou jy Jehovah se bevel aan ouers? Hy het gesê: “Lê dan hierdie woorde van my weg in julle hart en in julle siel, en bind dit as ’n teken op julle hand en laat dit as ’n voorhoofsband tussen julle oë wees, en leer dit aan julle kinders deur daaroor te spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” (Deuteronomium 11:18, 19; sien ook Deuteronomium 6:6, 7.) Dit beteken nie dat ouers voortdurend vir hulle kinders moet preek nie. Maar ’n liefdevolle gesinshoof moet altyd wakker wees vir geleenthede om die geestelikheid van sy gesin te versterk.
DISSIPLINE EN EERBIED
15, 16. (a) Wat is dissipline? (b) Wie is verantwoordelik om dissipline uit te oefen, en wie het die verantwoordelikheid om daarop ag te gee?
15 Dissipline is opleiding wat reghelp, en dit sluit kommunikasie in. Dissipline dra eerder die gedagte oor van teregwysing as van tugtiging—alhoewel tugtiging ’n rol kan speel. Jou kinders het dissipline nodig gehad toe hulle jonger was, en noudat hulle tieners is, het hulle nog steeds ’n vorm daarvan nodig, miskien selfs meer as vroeër. Verstandige tieners weet dat dit waar is.
16 Die Bybel sê: “Die sot verag die tug [“dissipline”, NW] van sy vader, maar hy wat op die teregwysing ag gee, word wys” (Spreuke 15:5). Ons word heelwat uit hierdie teks wys. Dit impliseer dat dissipline uitgeoefen sal word. ’n Tiener kan nie “op die teregwysing ag gee” as dit nie gegee word nie. Jehovah gee die ouers die verantwoordelikheid om te dissiplineer, veral die vader. Maar dit is die tiener se verantwoordelikheid om na daardie dissipline te luister. Hy sal meer leer en minder foute begaan as hy op die wyse dissipline van sy vader en moeder ag gee (Spreuke 1:8). Die Bybel sê: “Armoede en skande is vir hom wat die tug [“dissipline”, NW] verwerp; maar hy wat die teregwysing in ag neem, word geëer.”—Spreuke 13:18.
17. Watter balans moet ouers probeer handhaaf wanneer hulle dissipline uitoefen?
17 Ouers moet balans handhaaf wanneer hulle hulle tieners dissiplineer. Hulle moenie so streng wees dat hulle hulle kinders irriteer en miskien selfs hulle kinders se selfvertroue afbreek nie (Kolossense 3:21). En tog wil ouers nie so toegewend wees dat hulle kinders nie noodsaaklike opleiding kry nie. Sulke toegewendheid kan rampspoedig wees. Spreuke 29:17 sê: “Tugtig jou seun, dan sal hy jou rus gee en aan jou siel vreugde verskaf.” Maar vers 21 sê: “As jy ’n slaaf van kleins af bederf, is hy rebels as hy groot is” (NAV). Hoewel hierdie teks van ’n slaaf praat, is dit net sowel op enige kind in die huisgesin van toepassing.
18. Waarvan is dissipline ’n blyk, en wat word vermy as ouers dissipline konsekwent uitoefen?
18 Behoorlike dissipline is in der waarheid ’n bewys dat die ouer sy kind liefhet (Hebreërs 12:6, 11). As jy ’n ouer is, weet jy dat dit moeilik is om dissipline op konsekwente en redelike wyse uit te oefen. Ter wille van die vrede lyk dit dalk makliker om ’n hardkoppige tiener toe te laat om te doen wat hy wil. Maar op die lange duur sal ’n ouer wat hierdie laasgenoemde weg volg die wrange vrugte pluk van ’n huisgesin wat onregeerbaar is.—Spreuke 29:15; Galasiërs 6:9.
WERK EN SPEEL
19, 20. Hoe kan ouers verstandig optree wat hulle tieners se ontspanning betref?
19 Vroeër jare is daar gewoonlik van kinders verwag om in die huis of op die plaas te help. Vandag het talle tieners baie vrye tyd sonder enige toesig. Om daardie vrye tyd te vul, voorsien die handelswêreld vermaak in oorvloed. Voeg hierby die feit dat die wêreld baie min waarde aan die Bybel se sedelike standaarde heg, en jy het die resep vir ’n potensiële ramp.
20 Die oordeelkundige ouer behou dus die reg om finaal oor ontspanning te besluit. Moet egter nie vergeet dat die tiener grootword nie. Elke jaar sal hy of sy moontlik hoop om meer soos ’n volwassene behandel te word. Namate die tiener ouer word, is dit dus verstandig van ’n ouer om meer vryheid toe te laat wat die keuse van ontspanning betref—mits daardie keuses weerspieël dat hy tot geestelike volwassenheid vorder. Soms sal die tiener dalk onverstandige keuses maak wat musiek, metgeselle, ensovoorts betref. Wanneer dit gebeur, moet dit met die tiener bespreek word sodat hy in die toekoms beter keuses sal maak.
21. Hoe sal redelikheid ten opsigte van die hoeveelheid tyd wat ’n tiener aan ontspanning bestee hom beskerm?
21 Hoeveel tyd moet vir ontspanning opsy gesit word? In party lande word tieners onder die indruk gebring dat hulle geregtig is om gedurig vermaak te geniet. Gevolglik beplan ’n adolessent sy rooster dalk so dat hy die een “lekker tyd” na die ander het. Dit is die ouers se plig om hulle te leer dat tyd ook aan ander dinge bestee moet word, soos die gesin, persoonlike studie, assosiasie met geestelik volwasse mense, Christelike vergaderinge en takies in die huis. Dit sal keer dat die “genietinge van hierdie lewe” God se Woord verstik.—Lukas 8:11-15.
22. Waarmee moet ontspanning in ’n tiener se lewe in ewewig gehou word?
22 Koning Salomo het gesê: “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God” (Prediker 3:12, 13). Ja, om bly te wees, is deel van ’n gebalanseerde lewe. Maar dit is ook die geval met harde werk. Baie hedendaagse tieners smaak nie die tevredenheid wat uit harde werk voortspruit nie of ondervind nie die gevoel van eiewaarde wanneer jy ’n probleem aanpak en dit oplos nie. Party word nie die geleentheid gebied om ’n vaardigheid of ambag aan te leer waarmee hulle hulleself later in die lewe kan onderhou nie. Dit is ’n ware uitdaging vir die ouer. Gaan jy toesien dat jou kind sulke geleenthede kry? As jy daarin kan slaag om jou tiener te leer om waarde te heg aan harde werk en dit selfs te geniet, sal hy of sy ’n gebalanseerde beskouing ontwikkel wat hom of haar lewenslank tot voordeel sal strek.
VAN TIENER TOT VOLWASSENE
23. Hoe kan ouers hulle tieners aanmoedig?
23 Selfs as jy probleme met jou tiener ondervind, is die teks steeds van toepassing: “Die liefde faal nooit nie” (1 Korintiërs 13:8). Moet nooit ophou om die liefde te betoon wat jy ongetwyfeld voel nie. Vra jou af: ‘Prys ek elke kind wanneer hy probleme met welslae hanteer of struikelblokke te bowe kom? Gebruik ek geleenthede om my liefde en waardering vir my kinders te betuig voordat daardie geleenthede verbygaan?’ Hoewel daar soms dalk misverstande gaan wees, sal tieners, as hulle daarvan seker is dat jy hulle liefhet, heel moontlik jou liefde beantwoord.
24. Watter skriftuurlike beginsel geld as ’n algemene reël in die grootmaak van kinders, maar wat moet in gedagte gehou word?
24 Namate kinders natuurlik tot volwassenheid groei, sal hulle uiteindelik self gewigtige besluite neem. In party gevalle sal ouers dalk nie van daardie besluite hou nie. Sê nou die kind besluit dat hy Jehovah God nie meer wil dien nie? Dit kan gebeur. Selfs party van Jehovah se eie geesseuns het sy raad verwerp en opstandig geword (Genesis 6:2; Judas 6). Kinders is nie rekenaars wat geprogrammeer kan word om te doen wat ons wil hê nie. Hulle is skepsele met wilsvryheid, verantwoordelik voor Jehovah vir die besluite wat hulle neem. Spreuke 22:6 geld nogtans as ’n algemene reël: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”
25. Wat is die beste manier waarop ouers hulle dank aan Jehovah kan betuig vir die voorreg om ouers te wees?
25 Betoon dus oorvloedige liefde aan jou kinders. Doen jou bes om Bybelbeginsels te volg terwyl jy hulle grootmaak. Stel ’n goeie voorbeeld van godvrugtige gedrag. Sodoende sal jy jou kind die beste geleentheid bied om as ’n verantwoordelike, godvresende volwassene groot te word. Dit is die beste manier waarop ouers hulle dank aan Jehovah kan betuig vir die voorreg om ouers te wees.