Hoofstuk vier
“Julle is my getuies”!
1. Waarvoor gebruik Jehovah profesieë, en hoe moet sy volk op vervulde profesieë reageer?
DIE vermoë om die toekoms te voorspel, is iets wat die ware God van alle valse gode onderskei. Maar wanneer Jehovah profeteer, is dit nie net om sy Godheid te bewys nie. Soos Jesaja hoofstuk 43 toon, gebruik Jehovah profesie as ’n bewys van sy Godheid asook van sy liefde vir sy verbondsvolk. Sy volk kan op hulle beurt nie vervulde profesieë sien en net stilbly daaroor nie; hulle moet getuig van wat hulle gesien het. Ja, hulle moet getuies van Jehovah wees!
2. (a) Wat is die geestelike toestand van Israel in Jesaja se tyd? (b) Hoe open Jehovah die oë van sy volk?
2 Ongelukkig is Israel teen Jesaja se tyd in so ’n betreurenswaardige toestand dat die volk in Jehovah se oë geestelik gesproke vol gebreke is. “Bring ’n volk uit wat blind is hoewel daar tog oë is, en dié wat doof is hoewel hulle ore het” (Jesaja 43:8). Hoe kan mense wat geestelik blind en doof is, Jehovah as sy lewende getuies dien? Daar is net een manier. Hulle oë en ore moet op wonderdadige wyse geopen word. En dit is presies wat Jehovah doen! Hoe? Jehovah doen dit eerstens deur streng dissipline—die inwoners van die noordelike koninkryk van Israel word in 740 v.G.J. in ballingskap weggevoer, en dié van Juda in 607 v.G.J. Dan tree Jehovah kragtig op ten behoewe van sy volk deur hulle te bevry en ’n oorblyfsel wat geestelik gesproke nuwe lewe gekry het en berouvol is, in 537 v.G.J. na hulle vaderland terug te bring. Trouens, Jehovah is so seker dat sy voorneme in hierdie opsig verwesenlik sal word dat hy sowat 200 jaar voor die tyd van Israel se bevryding praat asof dit reeds plaasgevind het.
3. Hoe moedig Jehovah die toekomstige ballinge aan?
3 “Só het Jehovah gesê, jou Skepper, o Jakob, en jou Formeerder, o Israel: ‘Moenie bang wees nie, want ek het jou teruggekoop. Ek het jou by jou naam geroep. Jy is myne. As jy deur die waters trek, sal ek met jou wees; en deur die riviere, hulle sal jou nie oorstroom nie. As jy deur die vuur gaan, sal jy nie geskroei word nie, en ook sal die vlam jou nie brand nie. Want ek is Jehovah jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.’”—Jesaja 43:1-3a.
4. In watter sin is Jehovah Israel se Skepper, en waarvan verseker hy sy volk met betrekking tot hulle terugkeer na hulle vaderland?
4 Jehovah het ’n spesiale belangstelling in Israel omdat die nasie aan hom behoort. Hy het dit self geskep ter vervulling van die Abrahamitiese verbond (Genesis 12:1-3). Daarom sê Psalm 100:3: “Weet dat Jehovah God is. Ons is deur hom gemaak, nie deur onsself nie. Ons is sy volk en die skape van sy weiding.” As Israel se Skepper en Terugkoper sal Jehovah sy volk veilig na hulle vaderland terugbring. Hindernisse, soos waters, riviere in vloed en skroeiende warm woestyne, sal hulle nie keer of skaad nie, net soos soortgelyke dinge hulle vaders nie teruggehou het toe hulle duisend jaar vroeër na die Beloofde Land op pad was nie.
5. (a) Hoe vertroos Jehovah se woorde geestelike Israel? (b) Wie is die metgeselle van geestelike Israel, en deur wie is hulle voorafgeskadu?
5 Jehovah se woorde vertroos ook die hedendaagse oorblyfsel van geestelike Israel, waarvan die lede ’n geesverwekte “nuwe skepping” is (2 Korintiërs 5:17). Hulle het moedig voor “die waters” van die mensdom gaan staan en het God se liefdevolle beskerming geniet gedurende figuurlike oorstromings. Vuur wat van hulle vyande uitgaan, het hulle nie geskaad nie maar het hulle eerder gelouter (Sagaria 13:9; Openbaring 12:15-17). Jehovah se waaksame sorg het ook na die “groot menigte” “ander skape” uitgebrei, wat by God se geestelike nasie aangesluit het (Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Hierdie persone is voorafgeskadu deur die “groot gemengde geselskap”, wat saam met die Israeliete uit Egipte getrek het, en ook deur die nie-Jode wat saam met die bevryde ballinge uit Babilon teruggekeer het.—Eksodus 12:38; Esra 2:1, 43, 55, 58.
6. Hoe toon Jehovah dat hy ’n God van geregtigheid is wanneer hy die losprys voorsien vir (a) vleeslike Israel? (b) geestelike Israel?
6 Jehovah belowe om sy volk deur middel van die leërs van Medië en Persië uit Babilon te verlos (Jesaja 13:17-19; 21:2, 9; 44:28; Daniël 5:28). Omdat Jehovah ’n God van geregtigheid is, sal hy sy Medo-Persiese “werkers” ’n gepaste losprys in ruil vir Israel gee. “Ek het Egipte as losprys vir jou gegee, Etiopië en Seba in jou plek. Omdat jy kosbaar was in my oë, is jy eerwaardig geag, en ek het jou liefgehad. En ek sal mense in jou plek gee, en volksgroepe in die plek van jou siel” (Jesaja 43:3b, 4). Die geskiedenis bevestig dat die Persiese Ryk wel Egipte, Etiopië en die nabygeleë Seba verower het, net soos God voorspel het (Spreuke 21:18). In 1919 het Jehovah die oorblyfsel van geestelike Israel eweneens deur middel van Jesus Christus uit gevangenskap vrygelaat. Maar Jesus het geen beloning vir sy werk nodig gehad nie. Hy was nie ’n heidense heerser nie. En hy het sy eie geestelike broers bevry. Buitendien het Jehovah hom in 1914 reeds ‘nasies as sy erfdeel gegee en die eindes van die aarde as sy besitting’.—Psalm 2:8.
7. Hoe voel Jehovah oor sy volk, in die ou tyd sowel as vandag?
7 Let op hoe Jehovah sy tere gevoelens teenoor die teruggekoopte ballinge openlik betuig. Hy sê vir hulle dat hulle vir hom “kosbaar” en “eerwaardig” is en dat hy hulle ‘liefhet’ (Jeremia 31:3). Hy voel dieselfde—en selfs in groter mate—teenoor sy lojale knegte van vandag. Gesalfde Christene het ’n verhouding met God, nie weens hulle geboorte nie, maar weens die werking van God se heilige gees nadat hulle hulle persoonlik aan hulle Skepper toegewy het. Jehovah het hierdie persone na sy Seun en na homself getrek en sy wette en beginsels op hulle ontvanklike harte geskryf.—Jeremia 31:31-34; Johannes 6:44.
8. Hoe stel Jehovah die ballinge gerus, en hoe sal hulle oor hulle verlossing voel?
8 Jehovah stel die ballinge verder gerus en voeg by: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Van die sonsopgang af sal ek jou saad bring, en van die sonsondergang af sal ek jou bymekaarmaak. Ek sal vir die noorde sê: ‘Gee!’ en vir die suide: ‘Moenie terughou nie. Bring my seuns van ver af, en my dogters van die einde van die aarde af, almal wat na my naam genoem word en wat ek tot my heerlikheid geskep het, wat ek geformeer het, ja, wat ek gemaak het’” (Jesaja 43:5-7). Nie eers die mees afgeleë plekke op die aarde sal buite Jehovah se bereik wees wanneer die tyd aanbreek om sy seuns en dogters te bevry en hulle na hulle geliefde vaderland terug te bring nie (Jeremia 30:10, 11). In hulle oë sal hierdie bevryding die nasie se vroeëre verlossing uit Egipte ongetwyfeld oorskadu.—Jeremia 16:14, 15.
9. Op watter twee maniere bring Jehovah sy reddingsdade in verband met sy naam?
9 Deur sy volk daaraan te herinner dat hulle na sy naam genoem word, bevestig Jehovah sy belofte om Israel te verlos (Jesaja 54:5, 6). Wat meer is, Jehovah koppel sy naam aan sy beloftes van bevryding. Sodoende verseker hy dat hy die eer sal kry wanneer sy profetiese woord vervul word. Nie eers Babilon se veroweraar sal daarop geregtig wees om die eer te ontvang wat die enigste lewende God toekom nie.
Die gode word getoets
10. Watter uitdaging stel Jehovah voor die nasies en hulle gode?
10 Jehovah maak sy belofte om Israel te bevry nou die grondslag van ’n universele hofsaak waarin hy die gode van die nasies toets. Ons lees: “Laat al die nasies op een plek bymekaargebring word, en laat volksgroepe versamel word. Wie [van hulle gode] onder hulle kan dit vertel? Of kan hulle ons selfs die eerste dinge laat hoor? Laat hulle [die gode] hulle getuies bring, sodat hulle regverdig verklaar kan word, of laat hulle hoor en sê: ‘Dit is die waarheid!’” (Jesaja 43:9). Jehovah plaas ’n groot uitdaging voor die nasies van die wêreld. Hy sê in werklikheid: ‘Laat julle gode bewys dat hulle gode is deur die toekoms akkuraat te voorspel.’ Aangesien slegs die ware God onfeilbare voorspellings kan maak, sal hierdie toets alle bedrieërs aan die kaak stel (Jesaja 48:5). Maar die Almagtige stel nog ’n wetlike voorwaarde: Almal wat beweer dat hulle ware gode is, moet getuies voorsien, getuies van hulle voorspellings en van die vervulling daarvan. Jehovah stel homself natuurlik nie bo hierdie wetlike vereiste nie.
11. Watter opdrag gee Jehovah aan sy kneg, en wat openbaar Jehovah oor sy Godheid?
11 Aangesien valse gode kragteloos is, kan hulle geen getuies voorsien nie. Gevolglik bly die getuiebank ontstellend leeg. Maar nou is dit Jehovah se beurt om sy Godheid te bevestig. Hy kyk na sy volk en sê: “Julle is my getuies, . . . ja, my kneg wat ek uitverkies het, sodat julle my kan ken en geloof in my kan hê, en sodat julle kan verstaan dat ek dieselfde is. Voor my is geen God geformeer nie, en ná my was daar steeds nie een nie. Ek—ek is Jehovah, en buiten my is daar geen redder nie. Ek het verkondig en gered en dit laat hoor, toe daar geen vreemde god onder julle was nie. En julle is my getuies, . . . en ek is God. Ook is ek altyd dieselfde; en daar is niemand wat verlossing uit my hand bewerkstellig nie. Ek sal bedrywig raak, en wie kan [my hand] afwend?”—Jesaja 43:10-13.
12, 13. (a) Watter oorvloedige getuienis het Jehovah se volk om te lewer? (b) Hoe is Jehovah se naam in hedendaagse tye op die voorgrond gebring?
12 As antwoord op Jehovah se woorde staan die getuiebank sommer gou tot oorlopens toe vol van ’n vreugdevolle skare getuies. Hulle getuienis is duidelik en onweerlegbaar. Soos Josua getuig hulle dat ‘alles wat Jehovah gespreek het, bewaarheid is. Nie een woord het onvervuld gebly nie’ (Josua 23:14). Die woorde van Jesaja, Jeremia, Esegiël en ander profete wat soos een man voorspel het dat Juda in ballingskap weggevoer sal word en dat hulle wonderbaarlik uit ballingskap bevry sal word, weerklink nog in die ore van Jehovah se volk (Jeremia 25:11, 12). Juda se verlosser, Kores, is by name genoem lank voor hy gebore is!—Jesaja 44:26–45:1.
13 Wie kan, met die oog op hierdie oorvloed van getuienis, ontken dat Jehovah die enigste ware God is? In teenstelling met heidense gode is net Jehovah nie deur iemand geskep nie; hy alleen is die ware God.a Gevolglik het die volk wat Jehovah se naam dra, die unieke en opwindende voorreg om toekomstige geslagte en ander wat oor hom navraag doen, van sy wonderlike werke te vertel (Psalm 78:5-7). Op ’n soortgelyke manier het Jehovah se hedendaagse Getuies die voorreg om Jehovah se naam oor die hele aarde bekend te maak. In die 1920’s het die Bybelstudente al hoe meer bewus geword van die diepe betekenis van God se naam, Jehovah. Toe, op 26 Julie 1931, het die Genootskap se president, Joseph F. Rutherford, ’n resolusie met die titel “’n Nuwe naam” by ’n byeenkoms in Columbus, Ohio, voorgelê. Die byeenkomsgangers, wat die resolusie met ’n dawerende “Ja!” aangeneem het, was verheug oor die woorde: “Ons wil graag bekend staan as en genoem word by die naam Jehovah se getuies.” Sedertdien is Jehovah se naam wêreldwyd op die voorgrond gebring.—Psalm 83:18.
14. Waaraan herinner Jehovah die Israeliete, en waarom is hierdie herinnering gepas?
14 Jehovah gee om vir dié wat sy naam op eerbare wyse dra, en hy beskou hulle as “die appel van sy oog”. Hy herinner die Israeliete hieraan en vertel hulle hoe hy hulle uit Egipte verlos het en hulle veilig deur die wildernis gelei het (Deuteronomium 32:10, 12). Destyds was daar geen vreemde god onder hulle nie, want hulle het die totale vernedering van al die gode van Egipte met hulle eie oë gesien. Ja, al die gode van Egipte kon Egipte nie beskerm of keer dat Israel wegtrek nie (Eksodus 12:12). Net so kan die magtige Babilon, waarin daar ten minste 50 tempels van valse gode is, nie die hand van die Almagtige teëhou wanneer hy sy volk bevry nie. Dit is duidelik dat ‘daar buiten Jehovah geen redder is nie’.
Oorlogsperde val, gevangenisse gaan oop
15. Wat voorspel Jehovah aangaande Babilon?
15 “Só het Jehovah gesê, julle Terugkoper, die Heilige van Israel: ‘Ter wille van julle sal ek na Babilon stuur en die grendels van die gevangenisse laat afkom, asook die Galdeërs in die skepe met luide gekerm. Ek is Jehovah, julle Heilige, die Skepper van Israel, julle Koning.’ Só het Jehovah gesê, die Een wat ’n weg deur die see en ’n pad deur sterk waters maak, die Een wat die strydwa en die perd, die krygsmag en die sterkes tegelyk laat uittrek: ‘Hulle sal gaan lê. Hulle sal nie opstaan nie. Hulle sal beslis uitgeblus word. Soos ’n vlaspit sal hulle uitgedoof word.’”—Jesaja 43:14-17.
16. Wat sal met Babilon, die Galdese handelaars en enige voornemende verdedigers van Babilon gebeur?
16 Babilon is soos ’n gevangenis vir die ballinge omdat dit hulle verhoed om na Jerusalem terug te keer. Maar Babilon se verdedigingswerke is geen hindernis vir die Almagtige, die Een wat vroeër “’n weg deur die [Rooi See] en ’n pad deur sterk waters”—waarskynlik dié van die Jordaan—gemaak het nie (Eksodus 14:16; Josua 3:13). Net so ook sal Jehovah se instrument, Kores, die magtige Eufraat laat wyk sodat sy soldate die stad kan binnegaan. Galdese handelaars wat op Babilon se kanale vaar—waterweë vir duisende kommersiële galeie en skuite wat die Babiloniese gode dra—sal van droefheid kerm wanneer hulle magtige hoofstad val. Soos Farao se strydwaens in die Rooi See sal Babilon se vinnige strydwaens hulpeloos wees. Hulle sal die stad nie kan red nie. So maklik soos ’n mens die vlaspit van ’n olielamp uitdoof, sal die invallers die lewe van enige voornemende verdedigers uitwis.
Jehovah lei sy volk veilig na hulle vaderland toe
17, 18. (a) Watter ‘nuwe’ daad voorspel Jehovah? (b) In watter opsig gaan die volk nie aan die vorige dinge dink nie, en waarom?
17 Jehovah vergelyk sy vroeëre reddingsdade met wat hy nou gaan doen en sê: “Moenie aan die eerste dinge dink nie, en moenie julle aandag op die vorige dinge rig nie. Kyk! Ek doen iets nuuts. Nou sal dit uitspruit. En sal julle dit nie weet nie? Waarlik, deur die wildernis sal ek ’n pad maak, deur die woestyn riviere. Die wilde diere van die veld sal my verheerlik, die jakkalse en die volstruise; want ek sal water selfs in die wildernis gee, riviere in die woestyn, om my volk, my uitverkorene, te laat drink, die volk wat ek vir my geformeer het, sodat hulle my lof sal verkondig.”—Jesaja 43:18-21.
18 Wanneer Jehovah sê “moenie aan die eerste dinge dink nie”, sê hy nie dat sy knegte sy vorige reddingsdade uit hulle gedagtes moet uitwis nie. Om die waarheid te sê, baie van hierdie dade is deel van Israel se Goddelik geïnspireerde geskiedenis, en Jehovah het opdrag gegee dat die uittog uit Egipte elke jaar met die Pasgaviering herdenk moes word (Levitikus 23:5; Deuteronomium 16:1-4). Maar Jehovah wil nou hê dat sy volk hom op grond van “iets nuuts” moet verheerlik—iets wat hulle self sal ervaar. Dit sluit nie net hulle verlossing uit Babilon in nie, maar ook hulle wonderdadige reis na hulle vaderland, moontlik langs die direkter pad deur die woestyn. In daardie onvrugbare land sal Jehovah “’n pad” vir hulle maak en kragtige werke verrig wat hulle sal herinner aan wat hy in Moses se dag vir die Israeliete gedoen het—trouens, hy sal die terugkerende Israeliete in die woestyn voed en hulle dors met riviere les. Jehovah se voorsienings sal so oorvloedig wees dat selfs die wilde diere God sal verheerlik en nie die volk sal aanval nie.
19. Hoe wandel die oorblyfsel van geestelike Israel en hulle metgeselle op “die Weg van Heiligheid”?
19 Die oorblyfsel van geestelike Israel is eweneens in 1919 uit Babiloniese gevangenskap bevry, en hulle het ’n weg begin bewandel wat Jehovah vir hulle voorberei het, “die Weg van Heiligheid” (Jesaja 35:8). Hulle moes nie soos die Israeliete deur die skroeiende warm woestyn van die een plek na die ander trek nie, en hulle reis het nie ná ’n paar maande tot ’n einde gekom toe hulle in Jerusalem aangekom het nie. “Die Weg van Heiligheid” het die oorblyfsel van gesalfde Christene egter tot in ’n geestelike paradys gelei. In hulle geval bly hulle op daardie “Weg van Heiligheid”, aangesien hulle nog deur hierdie stelsel van dinge moet reis. Solank hulle op hierdie weg bly—solank hulle God se standaarde van reinheid en heiligheid handhaaf—bly hulle in die geestelike paradys. En wat ’n vreugde is dit tog vir hulle dat ’n groot menigte “nie-Israelitiese” metgeselle by hulle aangesluit het! In skerp teenstelling met diegene wat op Satan se stelsel vertrou, geniet die oorblyfsel sowel as hulle metgeselle steeds ’n ryk geestelike feesmaal wat Jehovah voorsien (Jesaja 25:6; 65:13, 14). Baie mense wat soos diere was, het Jehovah se seën oor sy volk gesien en hulle weë verander en die ware God verheerlik.—Jesaja 11:6-9.
Jehovah toon dat hy gekrenk voel
20. Hoe het die Israel van Jesaja se dag Jehovah teleurgestel?
20 Destyds was die herstelde oorblyfsel van Israel ’n veranderde volk vergeleke met die goddelose geslag in Jesaja se tyd. Van laasgenoemde sê Jehovah: “Jy het my nie aangeroep nie, o Jakob, want jy het moeg geword vir my, o Israel. Jy het nie vir my die skape van jou heelbrandoffers gebring nie, en met jou offerandes het jy my nie verheerlik nie. Ek het jou nie gedwing om my met ’n gawe te dien nie, en ook het ek jou nie met wierook vermoei nie. Vir my het jy geen soet riet met geld gekoop nie; en met die vet van jou offerandes het jy my nie versadig nie. In werklikheid het jy my gedwing om te dien weens jou sondes; jy het my met jou oortredings vermoei.”—Jesaja 43:22-24.
21, 22. (a) Waarom kan daar gesê word dat Jehovah se vereistes nie ’n swaar las is nie? (b) Wat doen die volk sodat Jehovah hulle as ’t ware moet dien?
21 Wanneer Jehovah sê: “Ek het jou nie gedwing om my met ’n gawe te dien nie, en ook het ek jou nie met wierook vermoei nie”, sê hy nie dat offers en wierook (’n bestanddeel van heilige reukwerk) onnodig is nie. Trouens, dit is ’n onafskeidbare deel van ware aanbidding onder die Wetsverbond. Dit geld ook vir die “riet”, wat na welriekende kalmoes, ’n geurige bestanddeel van die heilige salfolie, verwys. Die Israeliete het die gebruik hiervan in die tempeldiens verwaarloos. Maar is sulke vereistes ’n swaar las? Allermins! Jehovah se vereistes is lig wanneer dit met dié van valse gode vergelyk word. Die valse god Molog het byvoorbeeld kinderoffers geëis—iets wat Jehovah nog nooit wou hê nie!—Deuteronomium 30:11; Miga 6:3, 4, 8.
22 As die Israeliete maar net geestelike insig gehad het, sou hulle nooit ‘moeg geword het vir Jehovah’ nie. As hulle na sy Wet gekyk het, sou hulle sy groot liefde vir hulle gesien en met graagte “die vet”, die beste deel van hulle offerandes, vir hom gegee het. Maar pleks daarvan hou hulle gulsig die vet vir hulleself (Levitikus 3:9-11, 16). Hoe vermoei hierdie goddelose nasie Jehovah tog met die las van hulle sondes—sodat hy hulle as ’t ware moet dien!—Nehemia 9:28-30.
Dissipline werp vrugte af
23. (a) Waarom is Jehovah se dissipline welverdiend? (b) Hoe sal God Israel dissiplineer?
23 Hoewel Jehovah se dissipline heel tereg streng is, het dit die gewenste uitwerking, wat dit moontlik maak om barmhartigheid te bewys. “Ek—ek is die Een wat jou oortredings om my ontwil uitwis, en aan jou sondes sal ek nie dink nie. Herinner my; laat ons saam in die gerig tree; gee jou eie verslag daarvan, sodat jy gelyk kan hê. Jou vader, die eerste een, het gesondig, en jou woordvoerders [“uitleggers”, voetnoot in NW] het teen my oortree. Daarom sal ek die vorste van die heiligdom ontheilig, en ek sal Jakob oorlewer as ’n man wat aan vernietiging oorgegee is en Israel aan smadende woorde” (Jesaja 43:25-28). Soos alle nasies van die wêreld, stam Israel van Adam af, “die eerste een”. Gevolglik kan geen Israeliet bewys dat hy “gelyk” het nie. Selfs Israel se “woordvoerders”—sy onderrigters, of uitleggers, van die Wet—het teen Jehovah gesondig en onwaarhede verkondig. Op sy beurt sal Jehovah sy hele nasie “aan vernietiging” en aan “smadende woorde” oorgee. Hy sal ook almal ontheilig wat by sy “heiligdom” dien.
24. Wat is die vernaamste rede waarom Jehovah sy eertydse sowel as sy hedendaagse volk vergewe, maar hoe voel hy oor hulle?
24 Let egter daarop dat God se barmhartigheid wat volg, nie bloot weens Israel se berou sal wees nie; dit sal om Jehovah se eie onthalwe wees. Ja, sy naam is daarby betrokke. As hy Israel permanent in ballingskap laat bly, sal sy naam gesmaad word deur dié wat dit sien (Psalm 79:9; Esegiël 20:8-10). Net so is die redding van mense vandag minder belangrik as die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit. Jehovah is nietemin lief vir diegene wat sy dissipline sonder voorbehoud aanvaar en wat hom met gees en waarheid aanbid. Hy toon sy liefde vir hulle—of hulle nou van die gesalfdes of die ander skape is—deur hulle oortredings op grond van die offerande van Jesus Christus uit te wis.—Johannes 3:16; 4:23, 24.
25. Watter ontsagwekkende dinge sal Jehovah in die nabye toekoms doen, en hoe kan ons nou ons waardering daarvoor toon?
25 Daarbenewens sal Jehovah binnekort sy liefde vir ’n groot menigte van sy lojale aanbidders toon wanneer hy iets nuuts ten behoewe van hulle doen deur hulle deur “die groot verdrukking” heen te bewaar en in ’n gereinigde “nuwe aarde” in te bring (Openbaring 7:14; 2 Petrus 3:13). Hulle sal die ontsagwekkendste openbaring van Jehovah se mag sien wat die mens nog ooit gesien het. Die sekerheid van hierdie gebeurtenis is ’n bron van groot vreugde vir die gesalfde oorblyfsel en almal waaruit die groot menigte sal bestaan, en dit laat hulle elke dag hulle lewe lei in ooreenstemming met die verhewe opdrag: “Julle is my getuies”!—Jesaja 43:10.
[Voetnote]
a In die mitologie van die nasies word baie gode “gebore” en het hulle “kinders”.
[Prent op bladsy 48, 49]
Jehovah sal die Jode op pad terug na Jerusalem ondersteun
[Prente op bladsy 52]
Jehovah daag die nasies uit om getuies vir hulle gode te bring
1. Bronsstandbeeld van Baäl 2. Kleibeeldjies van Astoret 3. Egiptiese drie-eenheid van Horus, Osiris en Isis 4. Griekse godinne Atena (links) en Afrodite
[Prente op bladsy 58]
“Julle is my getuies.”—Jesaja 43:10