Hoofstuk vyf
Die ware God voorspel verlossing
1, 2. (a) Watter vrae opper Jehovah? (b) Hoe sal Jehovah bewys dat hy alleen die ware God is?
‘WIE is die ware God?’ Mense wonder al eeue lank oor hierdie vraag. Hoe verrassend is dit dan dat Jehovah self hierdie vraag in die boek Jesaja opper! Hy gee mense die geleentheid om die volgende te oorweeg: ‘Is Jehovah die enigste ware God? Of is daar ’n ander god wat Sy posisie kan betwis?’ Nadat Jehovah die gesprek aan die gang gesit het, voorsien hy redelike maatstawwe waarvolgens die geskil oor Godheid besleg kan word. Die argumente wat aangevoer word, lei opregtes van hart tot net een moontlike gevolgtrekking.
2 Gedurende die dae van Jesaja word beelde algemeen aanbid. In die openhartige en duidelike bespreking wat in hoofstuk 44 van Jesaja se profetiese boek opgeteken is, word daar alte duidelik getoon hoe vergeefs beeldeaanbidding is! En tog het God se eie volk in die strik van afgodediens getrap. Soos ons in vorige hoofstukke van Jesaja gesien het, gaan die Israeliete derhalwe streng dissipline kry. Maar Jehovah gee die nasie die liefdevolle versekering dat hy, hoewel hy die Babiloniërs sal toelaat om sy volk gevange te neem, hulle op sy bestemde tyd sal verlos. Die vervulling van die profesieë van verlossing uit gevangenskap en van die herstel van rein aanbidding sal bo alle twyfel bewys dat Jehovah alleen die ware God is, tot die skande van almal wat die lewelose gode van die nasies aanbid.
3. Hoe help Jesaja se profetiese woorde Christene vandag?
3 Die profesieë in hierdie deel van Jesaja en hulle vervulling in die ou tyd versterk vandag die geloof van Christene. Maar Jesaja se profetiese woorde het ook ’n hedendaagse en selfs ’n toekomstige vervulling. En ’n verlosser en ’n verlossing wat selfs groter is as dié wat vir God se eertydse volk voorspel is, is by hierdie gebeurtenisse betrokke.
Hoop vir dié wat aan Jehovah behoort
4. Hoe bemoedig Jehovah Israel?
4 Hoofstuk 44 begin op ’n positiewe noot met ’n herinnering aan die feit dat Israel deur God uitverkies is en van die nasies rondom hulle afgeskei is om sy kneg te word. Die profesie sê: “Luister nou, o my kneg Jakob, en jy, o Israel, wat ek uitverkies het. Só het Jehovah gesê, jou Maker en jou Formeerder, wat jou voortdurend van die moederskoot af gehelp het: ‘Moenie bang wees nie, o my kneg Jakob, en jy, Jesurun, wat ek uitverkies het’” (Jesaja 44:1, 2). Jehovah het Israel as ’t ware van die moederskoot af versorg, vandat Israel ’n nasie geword het nadat hulle uit Egipte gekom het. Hy noem sy volk gesamentlik “Jesurun”, wat “die Regskapene” beteken, ’n titel wat van liefde en teerheid getuig. Die naam is ook ’n herinnering dat die Israeliete regskape moet bly, wat hulle dikwels nie gedoen het nie.
5, 6. Watter verkwikkende voorsienings maak Jehovah vir Israel, en met watter gevolg?
5 Hoe aangenaam en verkwikkend is Jehovah se volgende woorde tog! Hy sê: “Ek sal water op die dorstige uitgiet, en stroompies op die droë plek. Ek sal my gees op jou saad uitstort, en my seën op jou nakomelinge. En hulle sal beslis uitspruit soos tussen die groen gras, soos populiere by die watervore” (Jesaja 44:3, 4). Selfs in ’n warm, droë gebied kan plate bome by water floreer. Wanneer Jehovah sy lewegewende waters van waarheid voorsien en sy heilige gees uitstort, sal Israel beslis floreer, soos bome langs watervore (Psalm 1:3; Jeremia 17:7, 8). Jehovah sal sy volk die krag gee om hulle rol as getuies van sy Godheid uit te voer.
6 Een resultaat van hierdie uitgieting van die heilige gees sal wees dat party ’n hernieude waardering sal kry vir Israel se verhouding met Jehovah. Daarom lees ons: “Die een sal sê: ‘Ek behoort aan Jehovah.’ En die ander sal homself by die naam van Jakob noem, en ’n ander sal op sy hand skryf: ‘Jehovah s’n.’ En by die naam van Israel sal nog ’n ander hom noem” (Jesaja 44:5). Ja, dit sal ’n eer wees om die naam van Jehovah te dra, want almal sal weet dat hy die enigste ware God is.
’n Uitdaging aan die gode
7, 8. Hoe daag Jehovah die gode van die nasies uit?
7 Onder die Mosaïese Wet kon ’n terugkoper—gewoonlik ’n manlike naasbestaande—iemand uit slawerny vrykoop (Levitikus 25:47-54; Rut 2:20). Jehovah identifiseer homself nou as Israel se Terugkoper—die een wat die nasie sal loskoop, tot die verleentheid van Babilon en al sy gode (Jeremia 50:34). Hy konfronteer die valse gode en hulle aanbidders en sê: “Só het Jehovah gesê, die Koning van Israel en sy Terugkoper, Jehovah van die leërs: ‘Ek is die eerste en ek is die laaste, en buiten my is daar geen God nie. En wie is daar soos ek? Laat hom dit uitroep, sodat hy dit kan vertel en aan my kan voorlê. Laat hulle van die tyd af dat ek die volk van lank gelede gegrond het, die toekomstige dinge vertel sowel as die dinge wat binnekort sal gebeur. Moenie in angs verkeer nie, en moenie verbysterd raak nie. Het ek jou dit nie van daardie tyd af persoonlik laat hoor en dit aangekondig nie? En julle is my getuies. Bestaan daar ’n God buiten my? Nee, daar is geen Rots nie. Ek het geeneen geken nie.’”—Jesaja 44:6-8.
8 Jehovah daag die gode uit om hulle saak te stel. Kan hulle die dinge wat nie is nie, roep asof hulle wel daar is en toekomstige gebeure so akkuraat voorspel dat dit klink asof dit reeds plaasvind? Alleenlik ‘die eerste en die laaste’, wat bestaan het voor daar aan enige van die valse gode gedink is en wat nog sal bestaan lank nadat hulle vergete is, kan so iets doen. Sy volk hoef nie bang te wees om van hierdie waarheid te getuig nie, want hulle het die ondersteuning van Jehovah, wat so vas en onwankelbaar is soos ’n yslike rots!—Deuteronomium 32:4; 2 Samuel 22:31, 32.
Die vergeefsheid van beeldeaanbidding
9. Was dit vir die Israeliete verkeerd om enige afbeelding van iets lewends te maak? Verduidelik.
9 Jehovah se uitdaging aan die valse gode herinner ons aan die tweede van die Tien Gebooie. Daardie gebod het duidelik gesê: “Jy mag vir jou geen gesnede beeld of ’n afbeelding van enigiets maak wat bo in die hemel is of wat onder op die aarde is of wat in die waters onder die aarde is nie. Jy mag jou nie voor hulle neerbuig of laat oorhaal om hulle te dien nie” (Eksodus 20:4, 5). Hierdie verbod het natuurlik nie beteken dat die Israeliete geen afbeelding van enigiets as ’n versiering mag maak nie. Jehovah self het beveel dat daar afbeeldings van plante, diere en gerubs in die tabernakel moes wees (Eksodus 25:18; 26:31). Maar dit moes nie vereer, of aanbid, word nie. Niemand moes voor daardie afbeeldings bid of offers bring nie. Die gebod wat deur God geïnspireer is, het verbied dat enige soort beeld gemaak en as ’n voorwerp van aanbidding gebruik word. Om beelde te aanbid of voor hulle neer te buig om hulle te vereer, is afgodediens.—1 Johannes 5:21.
10, 11. Waarom beskou Jehovah beelde as skandelik?
10 Jesaja beskryf nou hoe nutteloos lewelose beelde is en die skande wat op dié wag wat hulle maak: “Die vormers van die gesnede beeld is almal ’n onwerklikheid, en hulle lieflinge sal geen voordeel bring nie; en as hulle getuies sien hulle niks en weet hulle niks, sodat hulle beskaamd staan. Wie het ’n god gevorm of ’n gegote beeld gemaak? Dit het hoegenaamd geen voordeel gebring nie. Kyk! Al sy metgeselle sal beskaamd staan, en die vakmanne is uit die mense. Hulle sal almal bymekaarkom. Hulle sal stilstaan. Hulle sal in angs verkeer. Hulle sal terselfdertyd beskaamd staan.”—Jesaja 44:9-11.
11 Waarom is hierdie beelde so skandelik in God se oë? Dit is in die eerste plek onmoontlik om met materiële dinge ’n getroue afbeelding van die Almagtige te maak (Handelinge 17:29). Daarbenewens is dit ’n belediging vir Jehovah se Godheid om ’n skepping eerder as die Skepper te aanbid. En is dit nie ook eintlik benede die waardigheid van die mens, wat “na God se beeld” geskep is nie?—Genesis 1:27; Romeine 1:23, 25.
12, 13. Waarom kan die mens geen beeld maak wat sy aanbidding verdien nie?
12 Kan materie op die een of ander manier heilig word omdat ’n voorwerp van aanbidding daarvan gemaak is? Jesaja herinner ons dat ’n beeld maar net die werk van mensehande is. Die werktuie en tegnieke van iemand wat beelde maak, is dieselfde as dié wat enige ander vakman gebruik: “Wat die ystersmid met die snywerktuig betref, hy was daarmee besig by die kole; en met die hamers vorm hy dit, en hy bly daarmee besig met sy kragtige arm. Ook het hy honger geword, en dus sonder krag. Hy het nie water gedrink nie; dus word hy moeg. Wat die houtsnyer betref, hy het die meetsnoer gespan; hy trek dit af met rooi kryt; hy bewerk dit met ’n houtskraper; en met ’n passer trek hy dit af, en geleidelik maak hy dit soos die afbeelding van ’n man, na die skoonheid van ’n mens, om in ’n huis te woon.”—Jesaja 44:12, 13.
13 Die ware God het al die lewende skepsele op hierdie aarde gemaak, ook die mens. Bewuste lewe is ’n wonderlike getuienis van Jehovah se Godheid, maar alles wat Jehovah geskep het, is natuurlik ondergeskik aan hom. Is dit moontlik dat ’n mens beter as dit kan doen? Kan hy iets maak wat bo hom verhewe is—so verhewe dat dit sy aanbidding verdien? Wanneer ’n mens ’n beeld maak, word hy moeg, honger en dors. Dit is menslike beperkinge, maar dit bewys ten minste dat die mens lewe. Die beeld wat hy maak, lyk dalk soos ’n mens. Dit is dalk selfs mooi. Maar dit is leweloos. Beelde is in geen opsig Goddelik nie. Daarbenewens het geen gesnede beeld nog ooit “uit die hemel geval”, asof dit van ’n hoër bron as ’n blote mens afkomstig is nie.—Handelinge 19:35.
14. Hoe is beeldemakers heeltemal afhanklik van Jehovah?
14 Jesaja wys verder dat beeldemakers heeltemal afhanklik is van natuurlike prosesse en materiale wat Jehovah geskep het: “Daar is een wie se werk dit is om seders af te kap; en hy neem ’n sekere soort boom, ja, ’n groot boom, en hy laat dit vir hom sterk word onder die bome van die woud. Hy het die lourierboom geplant, en die stortreën laat dit groot word. En dit het vir die mens iets geword om ’n vuur mee aan die brand te hou. Hy neem dus ’n deel daarvan om hom warm te maak. Ja, hy maak ’n vuur en bak brood. Ook werk hy aan ’n god waarvoor hy hom kan neerbuig. Hy het ’n gesnede beeld daarvan gemaak, en hy werp hom daarvoor neer. Die helfte daarvan verbrand hy in ’n vuur. Op die helfte daarvan braai hy die vleis wat hy eet goed gaar, en hy word versadig. Ook maak hy hom warm en sê: ‘Ha! Ek het my warm gemaak. Ek het die vuurgloed gesien.’ Maar van die res maak hy ’n god, sy gesnede beeld. Hy werp hom daarvoor neer en buig en bid tot die beeld en sê: ‘Verlos my, want u is my god.’”—Jesaja 44:14-17.
15. Watter absolute gebrek aan verstand word deur ’n beeldemaker getoon?
15 Kan ’n onverbrande stuk vuurmaakhout enigiemand verlos? Natuurlik nie. Net die ware God kan verlossing bring. Hoe kan mense lewelose dinge verafgod? Jesaja toon dat die ware probleem in ’n mens se hart lê: “Hulle weet niks, en ook verstaan hulle nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle hart, sodat hulle geen insig het nie. En niemand laat sy hart daaraan dink of het kennis of verstand om te sê nie: ‘Die helfte daarvan het ek in ’n vuur verbrand, en op die kole daarvan het ek ook brood gebak; ek braai vleis en eet. Maar sal ek van die res iets verfoeiliks maak? Sal ek my voor die uitgedroogde hout van ’n boom neerwerp?’ Hy eet as. Sy misleide hart het hom op ’n dwaalspoor gebring. En hy verlos nie sy siel nie, en ook sê hy nie: ‘Is daar nie ’n leuen in my regterhand nie?’” (Jesaja 44:18-20). Ja, as enigiemand dink dat afgodediens geestelik enigiets goeds kan bring, is dit soos om as in plaas van voedsame kos te eet.
16. Hoe het afgodediens ontstaan, en wat kan daartoe aanleiding gee?
16 Afgodediens het in werklikheid in die hemel begin toe die magtige geesskepsel wat Satan geword het, die aanbidding begeer het wat Jehovah alleen toekom. Satan se begeerte was so sterk dat dit hom van God vervreem het. Dit was in werklikheid die begin van afgodediens, aangesien die apostel Paulus gesê het dat hebsug dieselfde as afgodediens is (Jesaja 14:12-14; Esegiël 28:13-15, 17; Kolossense 3:5). Satan het die eerste mensepaar oorreed om selfsugtige gedagtes te bedink. Eva het hebsugtig begeer wat Satan haar aangebied het: ‘Julle oë sal sekerlik geopen word en julle sal sekerlik soos God word deur goed en kwaad te ken.’ Jesus het gesê dat hebsug uit die hart kom (Genesis 3:5; Markus 7:20-23). Wanneer mense se harte verdorwe raak, kan dit tot afgodediens lei. Hoe belangrik is dit dan tog dat ons almal ‘ons hart bewaak’ en nooit toelaat dat enigiemand of enigiets Jehovah se regmatige plek daar inneem nie!—Spreuke 4:23; Jakobus 1:14.
Jehovah doen ’n beroep op harte
17. Wat moet Israel ter harte neem?
17 Daarna doen Jehovah ’n beroep op die Israeliete om aan hulle bevoorregte, verantwoordelike posisie te dink. Hulle is sy getuies! Hy sê: “Dink aan hierdie dinge, o Jakob, en jy, o Israel, want jy is my kneg. Ek het jou geformeer. Jy is ’n kneg wat aan my behoort. O Israel, ek sal jou nie vergeet nie. Ek sal jou oortredings uitwis soos met ’n wolk, en jou sondes soos met ’n wolkmassa. Keer tog terug tot my, want ek sal jou terugkoop. Roep met vreugde uit, o hemele, want Jehovah het opgetree! Roep triomfantlik uit, o diepste dele van die aarde! Word vrolik, o berge, met vreugdegeroep, o woud en al die bome daarin! Want Jehovah het Jakob teruggekoop, en in Israel vertoon hy sy luisterrykheid.”—Jesaja 44:21-23.
18. (a) Waarom het Israel rede tot vreugde? (b) Hoe kan Jehovah se knegte vandag sy voorbeeld van barmhartigheid navolg?
18 Israel het Jehovah nie geformeer nie. Hy is nie ’n mensgemaakte god nie. Dit was eerder Jehovah wat Israel geformeer het om sy uitverkore kneg te wees. En hy sal sy Godheid weer eens bewys wanneer hy die nasie verlos. Hy spreek sy volk met teerheid aan en verseker hulle dat hy hulle sondes heeltemal sal bedek as hulle berou toon, dat hy hulle oortredings sal wegsteek asof dit agter ondeurdringbare wolke is. Wat ’n rede tot vreugde is dit tog vir Israel! Jehovah se voorbeeld spoor sy hedendaagse knegte aan om sy barmhartigheid na te volg. Hulle kan dit doen deur oortreders te probeer help om indien moontlik geestelik weer hulle voete te vind.—Galasiërs 6:1, 2.
Die klimaks van die toets van Godheid
19, 20. (a) Hoe voer Jehovah sy redenasie tot ’n klimaks? (b) Watter hartverblydende dinge voorspel Jehovah vir sy volk, en wie sal die instrument wees waardeur hy hierdie dinge gaan uitvoer?
19 Jehovah voer nou sy betoog tot ’n kragtige klimaks. Hy staan op die punt om sy eie antwoord te voorsien op die grootste toets van Godheid—die vermoë om die toekoms akkuraat te voorspel. Die volgende vyf verse van Jesaja hoofstuk 44 is deur een Bybelgeleerde beskryf as ’n “gedig oor die uitnemendheid van die God van Israel”, die enigste Skepper, die enigste Openbaarder van die toekoms en Israel se hoop op verlossing. Die verse bou op tot ’n dramatiese klimaks, wanneer die naam aangekondig word van die man wat die nasie uit Babilon gaan bevry.
20 “Só het Jehovah gesê, jou Terugkoper en jou Formeerder van die moederskoot af: ‘Ek, Jehovah, doen alles, ek alleen span die hemel uit, sprei die aarde uit. Wie was by my? Ek verydel die tekens van leë praatjiesmakers, en dit is Ek wat waarsêers waansinnig laat optree; wat wyses agteruit laat wyk en wat selfs hulle kennis in dwaasheid verander; wat die woord van sy kneg laat bewaarheid word, en wat die raad van sy boodskappers ten volle uitvoer; wat van Jerusalem sê: “Dit sal bewoon word”, en van die stede van Juda: “Hulle sal herbou word, en sy verwoeste plekke sal ek oprig”; wat vir die waterdiepte sê: “Verdamp; en al jou riviere sal ek laat opdroog”; wat van Kores sê: “Hy is my herder, en alles wat my behaag, sal hy ten volle uitvoer”; selfs wat ek van Jerusalem sê: “Dit sal herbou word”, en van die tempel: “Jou fondament sal gelê word.”’”—Jesaja 44:24-28.
21. Watter waarborg gee Jehovah se woorde?
21 Ja, Jehovah het nie net die vermoë om toekomstige gebeure te voorspel nie, maar hy het ook die krag om sy geopenbaarde voorneme heeltemal uit te voer. Hierdie verklaring sal as ’n bron van hoop vir Israel dien. Dit is ’n waarborg dat Jerusalem en sy afhanklike stede weer sal verrys en dat ware aanbidding daar herstel sal word, al gaan die Babiloniese leërs die land verwoes. Maar hoe?
22. Beskryf hoe die Eufraatrivier verdamp.
22 Ongeïnspireerde waarsêers waag dit gewoonlik nie om te spesifiek te wees in hulle voorspellings nie, omdat hulle bang is dat die tyd sal toon dat hulle verkeerd was. In teenstelling daarmee openbaar Jehovah deur middel van Jesaja selfs die naam van die man wat hy gaan gebruik om sy volk uit gevangenskap te bevry sodat hulle kan terugkeer om Jerusalem en die tempel te herbou. Sy naam is Kores, en hy staan as Kores die Grote van Persië bekend. Jehovah verstrek ook besonderhede oor die strategie wat Kores sal gebruik om deur Babilon se groot en ingewikkelde verdedigingstelsel te dring. Babilon sal beskerm word deur hoë mure en waterweë wat deur en rondom die stad loop. Kores sal ’n vername deel van daardie stelsel—die Eufraatrivier—tot sy voordeel gebruik. Volgens die eertydse geskiedskrywers Herodotus en Xenofon het Kores stroomop van Babilon die water van die Eufraat weggekeer totdat die vlak van die rivier laag genoeg gedaal het dat sy soldate daardeur kon loop. Die magtige Eufraat verdamp in die sin dat dit Babilon nie kan beskerm nie.
23. Watter verslag bestaan daar dat die profesie oor Kores se bevryding van Israel vervul is?
23 Wat van die belofte dat Kores God se volk sal bevry en dat hy sal toesien dat Jerusalem en die tempel herbou word? Kores self verklaar in ’n amptelike verklaring wat in die Bybel bewaar word: “Só het Kores, die koning van Persië, gesê: ‘Al die koninkryke van die aarde het Jehovah, die God van die hemel, aan my gegee, en hy het my opgedra om vir hom ’n huis te bou in Jerusalem, wat in Juda is. Wie daar ook al onder julle is van sy hele volk, mag sy God met hom wees. En laat hom optrek na Jerusalem, wat in Juda is, en die huis van Jehovah, die God van Israel—hy is die ware God—herbou wat in Jerusalem was’” (Esra 1:2, 3). Jehovah se woord deur middel van Jesaja is ten volle vervul!
Jesaja, Kores en Christene van vandag
24. Watter verband bestaan tussen die uitgang van Artasasta se bevel “om Jerusalem te herstel en te herbou” en die koms van die Messias?
24 Die 44ste hoofstuk van Jesaja verheerlik Jehovah as die een ware God en die Verlosser van sy eertydse volk. Daarbenewens het die profesie groot betekenis vir almal wat vandag lewe. Kores se bevel dat die tempel in Jerusalem herbou moet word, wat in 538/537 v.G.J. uitgevaardig is, het gebeure aan die gang gesit wat ’n hoogtepunt bereik het in die vervulling van ’n ander merkwaardige profesie. Kores se bevel is gevolg deur dié van ’n latere heerser, Artasasta, wat beveel het dat die stad Jerusalem herbou moes word. Die boek Daniël het getoon dat daar “vanaf die uitgang van die woord om Jerusalem te herstel en te herbou [in 455 v.G.J.] tot op Messias die Leier” 69 “weke” van 7 jaar elk sou wees (Daniël 9:24, 25). Hierdie profesie is ook bewaarheid. Presies op tyd in die jaar 29 G.J., 483 jaar ná Artasasta se bevel in die Beloofde Land in werking getree het, is Jesus gedoop en het hy sy aardse bediening begin.a
25. Wat word in hedendaagse tye deur die val van Babilon voor Kores voorafgeskadu?
25 Die verlossing van lojale Jode uit ballingskap, wat deur die val van Babilon moontlik gemaak is, het die vrylating van gesalfde Christene uit geestelike ballingskap in 1919 voorafgeskadu. Daardie vrylating het getuig van die feit dat ’n ander Babilon geval het. Sy word beskryf as ’n hoer, Babilon die Grote—’n simbool van al die wêreld se valse godsdienste gesamentlik beskou. Soos in die boek Openbaring opgeteken staan, het die apostel Johannes haar val vooruitgesien (Openbaring 14:8). Hy het ook haar skielike vernietiging vooruitgesien. Johannes se beskrywing van die vernietiging van daardie wêreldryk vol afgode stem in sekere opsigte ooreen met Jesaja se beskrywing van Kores se suksesvolle verowering van die antieke stad Babilon. Net soos Babilon nie deur sy beskermende waterweë van Kores gered kon word nie, so sal die ‘waters’ van die mensdom wat Babilon die Grote ondersteun en beskerm, “opdroog” voor haar verdiende vernietiging.—Openbaring 16:12.b
26. Hoe versterk Jesaja se profesie en die vervulling daarvan ons geloof?
26 Uit ons oogpunt, meer as twee en ’n half millenniums ná Jesaja sy profesie uitgespreek het, kan ons sien dat God inderdaad “die raad van sy boodskappers ten volle uitvoer” (Jesaja 44:26). Die vervulling van Jesaja se profesie is derhalwe ’n besondere voorbeeld van die betroubaarheid van al die profesieë in die Heilige Skrif.
[Voetnote]
a Sien hoofstuk 11 van die boek Gee ag op Daniël se profesie!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
b Sien hoofstukke 35 en 36 van die boek Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Prent op bladsy 63]
Kan ’n onverbrande stuk vuurmaakhout enigiemand verlos?
[Prent op bladsy 73]
Marmerkop van ’n Iraanse koning, moontlik Kores
[Prent op bladsy 75]
Kores vervul ’n profesie deur die water van die Eufraat weg te keer