Staaf argeologie die Bybel?
ARGEOLOGIE is nuttig vir Bybelstudente, aangesien argeologiese ontdekkings dikwels hulle kennis van die lewe, toestande, gebruike en tale gedurende Bybeltye aanvul. Argeologie voorsien ook nuttige inligting in verband met die vervulling van Bybelprofesieë, soos dié wat die ondergang van antieke Babilon, Nineve en Tirus voorspel het (Jeremia 51:37; Esegiël 26:4, 12; Sefanja 2:13-15). Hierdie wetenskap het egter sy beperkings. Artefakte moet geïnterpreteer word, en interpretasies is onderhewig aan menslike foute en wysigings.
Die geloof van Christene hang nie af van gebreekte vase, verkrummelende bakstene of verbrokkelende mure nie, maar op die hele, harmonieuse versameling van geestelike waarhede wat in die Bybel gevind word (2 Korintiërs 5:7; Hebreërs 11:1). Die feit is dat die Bybel se interne harmonie, openhartigheid, vervulde profesieë en baie ander kenmerke oortuigende bewyse voorsien dat “die hele Skrif . . . deur God geïnspireer” is (2 Timoteus 3:16). Ons kan nogtans kyk na ’n aantal interessante argeologiese ontdekkings wat Bybelverslae bevestig.
’n Span argeoloë wat in 1970 opgrawings in Jerusalem gedoen het, het op ’n swartgebrande ruïne afgekom. “Enigiemand met ’n geoefende oog kon duidelik sien wat gebeur het”, het Nahman Avigad, die spanleier, geskryf. “Die gebou is deur vuur vernietig, en die mure en dak het ineengestort.” In een vertrek was die bene [1] van ’n arm, waarvan die vingers uitgesprei is en na ’n trap uitreik.
Muntstukke [2] was oor die vloer gestrooi, en die nuutstes het uit die vierde jaar van die Joodse opstand teen Rome gedateer—69 G.J. Voorwerpe is oral rondgegooi voordat die gebou ineengestort het. “Toe ons dit sien”, het Avigad gesê, “het ons Josefus se beskrywing onthou van die Romeinse soldate wat die huise geplunder het nadat die stad verower is.” Volgens geskiedkundiges het die Romeinse verwoesting van Jerusalem in 70 G.J. plaasgevind.
Ontleding van die bene het aan die lig gebring dat dit dié van ’n vrou in haar twintigerjare was. Biblical Archaeology Review sê: “’n Jong vrou wat in die kombuis van die Verbrande Huis was, is deur die brand vasgekeer toe die Romeine aangeval het en het op die vloer neergesak en na ’n trap naby die deur uitgereik toe sy gesterf het. Die brand het so vinnig versprei . . . dat sy nie kon ontsnap nie, en sy is onder die vallende puin begrawe.”
Hierdie toneel herinner ons aan Jesus se profesie oor Jerusalem, wat byna 40 jaar tevore geuiter is: “Jou vyande . . . sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter, en hulle sal in jou nie ’n klip op ’n klip laat nie.”—Lukas 19:43, 44.
Argeologiese ontdekkings wat stellings in die Bybel staaf, sluit ook die name van persone in wat in die Skrif gemeld word. Party van hierdie ontdekkings het vroeëre bewerings deur kritici dat die Bybelskrywers sekere karakters versin het of hulle faam oordryf het, die nek ingeslaan.
Inskripsies van Bybelname
Vooraanstaande geleerdes het vroeër beweer dat die Assiriese koning Sargon II, wie se naam in Jesaja 20:1 in die Bybel voorkom, nooit bestaan het nie. Maar in 1843, naby die hedendaagse Korsabad, Irak, langs ’n syloop van die Tigrisrivier, is Sargon se paleis [3] ontdek. Dit beslaan sowat tien hektaar. Sargon II, wat tot op daardie tyd ’n onbekende figuur in die sekulêre geskiedenis was, is nou een van die welbekendste konings van Assirië. In een van sy annale [4] beweer hy dat hy die Israelitiese stad Samaria ingeneem het. Volgens Bybelse tydrekening is Samaria in 740 v.G.J. deur die Assiriërs verower. Sargon het ook opgeteken dat hy Asdod ingeneem het, ’n verdere bevestiging van Jesaja 20:1.
Terwyl argeoloë die ruïnes van die antieke stad Babilon, in die hedendaagse Irak, opgegrawe het, het hulle sowat 300 spykerskriftablette naby die Isjtar-poort ontdek. Die inskripsies daarop het betrekking op die bewindstydperk van die Babiloniese koning Nebukadnesar en sluit ’n lys name in, waaronder “Jaukin, koning van die land van Jahud”. Dit verwys na koning Jojagin van die land van Juda, wat as gevangene na Babilon geneem is toe Nebukadnesar Jerusalem in 617 v.G.J. die eerste keer verower het (2 Konings 24:11-15). Vyf van Jojagin se seuns word ook op die tablette genoem.—1 Kronieke 3:17, 18.
In 2005, terwyl argeoloë opgrawings gedoen het op ’n terrein waar hulle gehoop het om die paleis van koning Dawid te vind, het hulle op ’n groot klipstruktuur afgekom wat na hulle mening vernietig is toe die Babiloniërs Jerusalem net meer as 2 600 jaar gelede, gedurende die tyd van God se profeet Jeremia, met die grond gelykgemaak het. Dit is onduidelik of die gebou die oorblyfsels van Dawid se paleis is. Maar die argeoloog Eilat Mazar het wel ’n besonder interessante voorwerp geïdentifiseer—’n een sentimeter breë kleiseëlafdruk [5] waarop geskryf staan: “Behoort aan Jehugal, seun van Selemijahoe, seun van Sofi.” Hierdie afdruk is blykbaar gemaak met die seël van Jehugal (of Jugal), ’n Joodse amptenaar wat in die Bybel gemeld word as ’n teenstander van Jeremia.—Jeremia 37:3; 38:1-6.
Jehugal, sê Mazar, is slegs die “tweede koninklike minister” naas Gemarja, die seun van Safan, wie se naam op ’n seëlafdruk verskyn wat in die Stad van Dawid gevind is. Die Bybel identifiseer Jehugal, die seun van Selemja (Selemijahoe), as ’n prins van Juda. Voordat die seël ontdek is, was hy nêrens buite die Bybel genoem nie.
Kon hulle lees en skryf?
Die Bybel toon dat die eertydse Israeliete ’n geletterde volk was (Numeri 5:23; Josua 24:26; Jesaja 10:19). Maar kritici het nie hiermee saamgestem nie en het aangevoer dat Bybelgeskiedenis grotendeels deur onbetroubare mondelinge oorlewering oorgedra is. In 2005 het hierdie teorie ’n knou gekry toe argeoloë wat by Tel-Zayit, halfpad tussen Jerusalem en die Middellandse See, gewerk het, ’n ou alfabet gevind het wat op ’n stuk kalksteen ingegrif is, moontlik die oudste Hebreeuse alfabet [6] wat nog ontdek is.
Party geleerdes sê dat die ontdekking, wat uit die tiende eeu v.G.J. dateer, op “formele opleiding deur skrifgeleerdes”, ’n “gesofistikeerde vlak van kulturele ontwikkeling” en “’n vinnig ontwikkelende Israelitiese burokrasie in Jerusalem” dui. In teenstelling met die bewerings van kritici wil dit dus voorkom asof die Israeliete ten minste teen die tiende eeu v.G.J. geletterd was en in staat sou wees om hulle geskiedenis op te teken.
Assiriese verslae verleen verdere steun
Assirië, eens ’n magtige ryk, word dikwels in die Bybelverslag gemeld, en baie argeologiese ontdekkings daar getuig van die akkuraatheid van die Skrif. Byvoorbeeld, tydens opgrawings op die plek waar antieke Nineve, die hoofstad van Assirië, geleë was, is ’n klipblad met reliëfwerk [7] in die paleis van koning Sanherib gevind. Dit beeld Assiriese soldate uit wat Joodse gevangenes in ballingskap wegvoer ná die val van Lagis in 732 v.G.J. Jy kan die Bybel se verslag in 2 Konings 18:13-15 lees.
Die annale van Sanherib [8], wat in Nineve gevind is, beskryf sy krygstog gedurende die bewind van die Judese koning Hiskia, wat in die annale by name genoem word. Spykerskrifverslae van verskeie ander heersers verwys na die Judese konings Agas en Manasse, sowel as die Israelitiese konings Omri, Jehu, Joas, Menahem en Hosea.
In sy verslae spog Sanherib oor sy militêre oorwinnings, maar dit is betekenisvol dat hy glad nie meld dat hy Jerusalem verower het nie. Hierdie opvallende weglating maak die Bybelverslag geloofwaardiger, wat sê dat die koning Jerusalem nooit beleër het nie, maar deur God se toedoen ’n nederlaag gely het. Die vernederde Sanherib het daarna na Nineve teruggekeer, waar hy, volgens die Bybel, deur sy seuns vermoor is (Jesaja 37:33-38). Interessant genoeg, twee Assiriese inskripsies getuig van die sluipmoord.
Weens die goddeloosheid van die mense van Nineve het Jehovah se profete Nahum en Sefanja die stad se algehele vernietiging voorspel (Nahum 1:1; 2:8–3:19; Sefanja 2:13-15). Hulle profesieë is vervul toe die verenigde magte van Nabopolassar, die koning van Babilon, en van Cyaxares die Meder Nineve in 632 v.G.J. beleër en verower het. Die ontdekking en opgrawing van hierdie stad se ruïnes bevestig weer eens die Bybelverslae.
Nuzi, ’n antieke stad oos van die Tigrisrivier en suidoos van Nineve, wat tussen 1925 en 1931 opgegrawe is, het baie artefakte opgelewer, onder andere sowat 20 000 kleitablette. Die tablette is in die taal van die Babiloniërs geskryf en bevat ’n magdom inligting oor wetlike gebruike wat soortgelyk is aan dié uit die tydperk van die aartsvaders wat in Genesis beskryf word. Daar is byvoorbeeld tekste wat toon dat familiegode, dikwels kleifiguurtjies, ’n soort eiendomsbewys was wat die eienaar daarvan ’n reg op die erfdeel gegee het. Hierdie gebruik verklaar moontlik waarom die aartsvader Jakob se vrou Ragel die familiegode, of “terafim”, wat aan haar vader, Laban, behoort het, geneem het toe Jakob se gesin weggetrek het. Dit is verstaanbaar dat Laban die terafim probeer terugkry het.—Genesis 31:14-16, 19, 25-35.
Jesaja se profesie en die Kores-silinder
Die spykerskrifinskripsies op die antieke kleisilinder in die foto hierbo bevestig nog ’n Bybelverslag. Hierdie dokument staan bekend as die Kores-silinder [9] en is gevind op die plek waar antieke Sippar geleë was, langs die Eufraatrivier, sowat 32 kilometer van Bagdad af. Dit praat van die verowering van Babilon deur Kores die Grote, stigter van die Persiese Ryk. Dit is verstommend dat Jehovah sowat 200 jaar tevore, deur middel van sy profeet Jesaja, die volgende gesê het oor ’n Medo-Persiese heerser wat Kores genoem sou word: “‘Hy is my herder, en alles wat my behaag, sal hy ten volle uitvoer’; selfs wat ek van Jerusalem sê: ‘Dit sal herbou word.’”—Jesaja 13:1, 17-19; 44:26–45:3.
Dit is betekenisvol dat die silinder Kores se beleid meld om mense wat deur die vorige moondheid gevange gehou is, na hulle vaderland te laat terugkeer—in skerp teenstelling met die beleid van ander eertydse veroweraars. Bybelse en sekulêre geskiedenis getuig van die feit dat Kores die Jode wel bevry het, en hulle het Jerusalem toe herbou.—2 Kronieke 36:23; Esra 1:1-4.
Hoewel Bybelse argeologie ’n betreklik nuwe wetenskap is, het dit ’n vername studieveld geword wat waardevolle inligting opgelewer het. En soos ons gesien het, getuig baie ontdekkings van die Bybel se egtheid en akkuraatheid, soms selfs tot in die fynste besonderhede.
VIR VERDERE INLIGTING
Kan die Bybel jou help om ’n gelukkige en sinvolle lewe te lei? Die twee uur lange DVD The Bible—A Book of Fact and Prophecy bespreek onder andere hierdie belangrike onderwerp en sluit treffende onderhoude in.—Beskikbaar in 32 tale.
Die Bybel God—se woord of die mens s’n?
Het jy verdere bewyse nodig dat die Bybel geen mites en teenstrydighede bevat nie? Is die wonderwerke wat in die Bybel beskryf word, waar? Ondersoek die feite in hierdie boek met 192 bladsye.—Word gedruk in 56 tale.
[Erkenning]
Aleksander die Grote: Roma, Musei Capitolini
Wat Leer Die Bybel werklik?
Die 19 hoofstukke van hierdie studiehulp dek elke belangrike Bybelleerstelling en verduidelik God se voorneme met die aarde en die mensdom.—Tans in 162 tale.
My Boek met Bybelverhale
Hierdie pragtig geïllustreerde boek wat spesiaal vir kinders bedoel is, bespreek 116 mense en gebeurtenisse—alles in chronologiese volgorde.—Beskikbaar in 194 tale.
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Muntstukke: Generously Donated by Company for Reconstruction & Development of Jewish Quarter, Jerusalem Old City
[Foto-erkenning op bladsy 15]
Society for Exploration of Land of Israel and its Antiquities
[Foto-erkennings op bladsy 16]
3: Musée du Louvre, Paris; 4: Photograph taken by courtesy of the British Museum; 5: Gabi Laron/Institute of Archaeology/Hebrew University © Eilat Mazar
[Foto-erkennings op bladsy 17]
6: AP Photo/Keith Srakocic; 7, 8: Photograph taken by courtesy of the British Museum
[Foto-erkenning op bladsy 18]
Photograph taken by courtesy of the British Museum