Ons bring “goeie nuus van iets beters”
“Hoe lieflik op die berge is die voete van die een . . . wat goeie nuus van iets beters bring.”—JESAJA 52:7.
1, 2. (a) Watter verskriklike dinge gebeur elke dag? (b) Hoe voel baie mense wanneer hulle voortdurend slegte nuus hoor?
VANDAG voel dit vir mense regoor die wêreld asof hulle toegegooi word onder slegte nuus. Hulle skakel die radio aan en hoor angswekkende berigte oor dodelike siektes wat die wêreld bedreig. Hulle kyk na die nuus op televisie en sien ontstellende beelde van honger kinders wat om hulp roep. Hulle tel ’n koerant op en lees van bomontploffings wat geboue verwoes en tientalle onskuldige lewens eis.
2 Ja, verskriklike dinge gebeur elke dag. Die toneel van hierdie wêreld is beslis aan die verander—dit versleg (1 Korintiërs 7:31). ’n Wes-Europese nuustydskrif het gemeld dat dit soms lyk of die hele wêreld “enige oomblik in vlamme sal opgaan”. Dit is geen wonder dat al hoe meer mense benoud raak nie! Miljoene stem ongetwyfeld saam met ’n man se kommentaar in ’n meningspeiling aangaande televisienuus in die Verenigde State: ‘Nadat ek die nuus gekyk het, voel ek heeltemal neerslagtig. Dit is net slegte nuus. Dit is oorweldigend.’
Nuus wat almal moet hoor
3. (a) Watter goeie nuus verkondig die Bybel? (b) Waarom is die goeie nuus van die Koninkryk vir jou belangrik?
3 Is dit moontlik om beter nuus in so ’n donker wêreld te vind? Baie beslis! Dit is vertroostend om te weet dat die Bybel goeie nuus verkondig. Dit is die nuus dat siekte, honger, misdaad, oorlog en alle vorme van onderdrukking deur God se Koninkryk tot ’n einde gebring sal word (Psalm 46:9; 72:12). Is dit nie nuus wat almal moet hoor nie? Jehovah se Getuies dink beslis so. Daarom is hulle oral bekend vir hulle volgehoue pogings om mense van alle nasies te vertel van die goeie nuus van God se Koninkryk.—Matteus 24:14.
4. Watter aspekte van ons bediening sal ons in hierdie en die volgende artikel bespreek?
4 Wat kan ons egter doen om te verseker dat ons voortgaan om ’n bevredigende en betekenisvolle aandeel aan die verkondiging van hierdie goeie nuus te hê—selfs in gebiede waar daar min belangstelling is? (Lukas 8:15). ’n Kort hersiening van drie belangrike aspekte van ons predikingswerk sal ongetwyfeld help. Ons kan die volgende ondersoek: (1) ons beweegredes, of waarom ons getuig, (2) ons boodskap, of waarvan ons getuig en (3) ons metodes, of hoe ons getuig. As ons voortdurend verseker dat ons beweegredes suiwer, ons boodskap duidelik en ons metodes doeltreffend is, sal ons aan ’n groot verskeidenheid mense die geleentheid gee om die allerbeste goeie nuus te hoor—die goeie nuus van God se Koninkryk.a
Waarom ons die goeie nuus verkondig
5. (a) Wat beweeg ons bowenal om aan die bediening deel te neem? (b) Waarom kan daar gesê word dat ons gehoorsaamheid aan die Bybelse opdrag om die predikingswerk te doen, ’n blyk is van ons liefde vir God?
5 Kom ons kyk na die eerste aspek—ons beweegredes. Waarom verkondig ons die goeie nuus? Om dieselfde rede as Jesus. Hy het gesê: ‘Ek het die Vader lief’ (Johannes 14:31; Psalm 40:8). Ons word bowenal beweeg deur ons liefde vir God (Matteus 22:37, 38). Die Bybel toon dat daar ’n verband tussen liefde vir God en die bediening is, want dit sê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar” (1 Johannes 5:3; Johannes 14:21). Sluit God se gebooie die opdrag in om ‘te gaan en dissipels te maak’? (Matteus 28:19). Ja. Hierdie woorde is weliswaar deur Jesus gespreek, maar hulle het eintlik van Jehovah gekom. Hoe so? Jesus het verduidelik: “Ek [doen] niks op eie inisiatief . . . nie; maar net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge” (Johannes 8:28; Matteus 17:5). Wanneer ons dus die opdrag gehoorsaam om die predikingswerk te doen, wys ons vir Jehovah dat ons hom liefhet.
6. Op watter maniere beweeg liefde vir God ons om die predikingswerk te doen?
6 Liefde vir Jehovah beweeg ons ook om die predikingswerk te doen omdat ons die leuens wil teëwerk wat Satan teen hom bevorder (2 Korintiërs 4:4). Satan het die regverdigheid van God se heerskappy in twyfel getrek (Genesis 3:1-5). As Jehovah se Getuies wil ons baie graag help om Satan se lasterlike aantygings aan die kaak te stel en om God se naam voor die mensdom te heilig (Jesaja 43:10-12). Ook neem ons aan die bediening deel omdat ons Jehovah se eienskappe en weë leer ken het. Ons voel na aan hom en het ’n sterk begeerte om ander van ons God te vertel. Trouens, Jehovah se goedheid en sy regverdige weë verskaf ons soveel vreugde dat ons nie kan ophou om van hom te praat nie (Psalm 145:7-12). Ons voel dat ons eenvoudig sy lof moet verkondig en oor sy “voortreflikhede” moet praat met dié wat wil luister.—1 Petrus 2:9; Jesaja 43:21.
7. Watter ander belangrike rede, benewens liefde vir God, het ons om die predikingswerk te doen?
7 Daar is nog ’n belangrike rede om met die bediening vol te hou: Ons wil baie graag verligting bring aan persone wat oorweldig word deur die stortvloed van slegte nuus en aan diegene wat om die een of ander rede ly. Hierin probeer ons Jesus navolg. Kyk byvoorbeeld wat in Markus hoofstuk 6 beskryf word.
8. Wat toon die verslag in Markus hoofstuk 6 oor Jesus se gevoel vir mense?
8 Die apostels keer terug van ’n predikingsveldtog en vertel vir Jesus alles wat hulle gedoen en vir mense geleer het. Jesus sien dat die apostels moeg is, en hy sê vir hulle om saam met hom te kom om ‘’n bietjie te rus’. Hulle klim dus in ’n boot en vertrek na ’n stil plek. Mense volg hulle deur al langs die oewer te hardloop en haal hulle kort voor lank in. Wat doen Jesus? “Hy [het] ’n groot skare gesien”, sê die verslag, “maar hy is ontroer deur innige jammerte vir hulle, want hulle was soos skape sonder ’n herder. En hy het hulle baie dinge begin leer” (Markus 6:31-34). Al is Jesus moeg, beweeg innige jammerte hom om voort te gaan om die goeie nuus bekend te maak. Ja, Jesus se hart gaan uit na hierdie mense. Hy het medelye met hulle.
9. Wat leer ons uit die verslag in Markus hoofstuk 6 in verband met die regte beweegrede om die predikingswerk te doen?
9 Wat leer ons uit hierdie verslag? As Christene voel ons verplig om die goeie nuus te verkondig en dissipels te maak. Ons besef dat ons die verantwoordelikheid het om die goeie nuus te verkondig, aangesien dit God se wil is dat “alle soorte mense gered moet word” (1 Timoteus 2:4). Ons verrig egter nie ons bediening bloot uit ’n pligsgevoel nie, maar ook uit medelye. As ons, soos Jesus, medelye met mense het, sal ons hart ons beweeg om alles in ons vermoë te doen om voort te gaan om die goeie nuus aan hulle oor te dra (Matteus 22:39). Sulke goeie beweegredes om aan die bediening deel te neem, sal ons beweeg om die goeie nuus sonder ophou te verkondig.
Ons boodskap—die goeie nuus van God se Koninkryk
10, 11. (a) Hoe beskryf Jesaja die boodskap wat ons verkondig? (b) Hoe het Jesus goeie nuus van iets beters gebring, en hoe het God se knegte in hedendaagse tye Jesus se voorbeeld gevolg?
10 Wat van die tweede aspek van ons bediening—ons boodskap? Waarvan getuig ons? Die profeet Jesaja het hierdie pragtige beskrywing gegee van die boodskap wat ons verkondig: “Hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring, wat vrede verkondig, wat goeie nuus van iets beters bring, wat redding verkondig, wat vir Sion sê: ‘Jou God het koning geword!’”—Jesaja 52:7.
11 Die vernaamste uitdrukking in hierdie teks, “jou God het koning geword”, herinner ons aan die boodskap wat ons moet verkondig, naamlik die goeie nuus van God se Koninkryk (Markus 13:10). Let ook op hoe hierdie vers die positiewe tema van ons boodskap openbaar. Jesaja gebruik terme soos “redding”, “goeie nuus”, “vrede” en “iets beters”. Eeue ná Jesaja, in die eerste eeu G.J., het Jesus Christus hierdie profesie op ’n uitsonderlike wyse vervul deur ’n ywerige voorbeeld daarin te stel om die nuus van iets beters—die komende Koninkryk van God—te verkondig (Lukas 4:43). In hedendaagse tye, veral sedert 1919, het Jehovah se Getuies Jesus se voorbeeld gevolg deur die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk en die seëninge wat dit sal meebring, ywerig te verkondig.
12. Watter uitwerking het die goeie nuus van die Koninkryk op dié wat dit aanneem?
12 Watter uitwerking het die goeie nuus van die Koninkryk op diegene wat dit aanneem? Vandag, net soos in Jesus se dag, bied die goeie nuus hoop en vertroosting (Romeine 12:12; 15:4). Dit gee hoop aan opregtes van hart omdat hulle leer dat daar grondige redes is om te glo dat beter tye voorlê (Matteus 6:9, 10; 2 Petrus 3:13). Hierdie hoop help godvresende persone grootliks om ’n positiewe uitkyk te behou. Die psalmis sê dat hulle ‘selfs vir slegte nuus nie bang sal wees nie’.—Psalm 112:1, 7.
’n Boodskap wat ‘die gebrokenes van hart sal verbind’
13. Hoe beskryf die profeet Jesaja die onmiddellike seëninge wat diegene verkry wat die goeie nuus aanneem?
13 Daarbenewens bring die goeie nuus wat ons verkondig, onmiddellike verligting en seëninge vir dié wat daarna luister. Hoe? ’n Paar van die seëninge is beskryf deur die profeet Jesaja toe hy voorspel het: “Die gees van die Soewereine Heer Jehovah is op my, omdat Jehovah my gesalf het om goeie nuus aan die sagmoediges te verkondig. Hy het my gestuur om die gebrokenes van hart te verbind, om uit te roep dat dié wat gevange geneem is, vrygelaat sal word en dat die oë van die gevangenes wyd oopgemaak sal word; om die jaar van die welwillendheid van Jehovah en die dag van die wraak van ons God uit te roep; om al die treurendes te vertroos.”—Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:16-21.
14. (a) Wat toon die uitdrukking “die gebrokenes van hart . . . verbind” oor die Koninkryksboodskap? (b) Hoe weerspieël ons Jehovah se besorgdheid oor die gebrokenes van hart?
14 Volgens daardie profesie sou Jesus, deur die goeie nuus te verkondig, “die gebrokenes van hart . . . verbind”. Watter treffende beeldspraak het Jesaja tog gebruik! Volgens een Bybelwoordeboek word die Hebreeuse woord wat met “verbind” vertaal word, “dikwels gebruik vir die ‘ombind’ van ’n verband en dus vir die behandeling en genesing van beseerdes”. ’n Besorgde verpleegster sal dalk ’n verband om ’n pasiënt se beseerde liggaamsdeel draai om dit die nodige ondersteuning te gee. Wanneer besorgde verkondigers die Koninkryksboodskap bekend maak, verskaf hulle eweneens ondersteuning aan alle belangstellendes wat op die een of ander manier ly. En deur dié in nood te ondersteun, weerspieël hulle Jehovah se besorgdheid (Esegiël 34:15, 16). Die psalmis sê aangaande God: “Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle pynlike plekke.”—Psalm 147:3.
Hoe die Koninkryksboodskap ’n verskil maak
15, 16. Watter werklike ondervindinge lig toe hoe die Koninkryksboodskap mense in nood ondersteun en krag gee?
15 Tallose werklike ondervindinge lig toe hoe die Koninkryksboodskap inderdaad die gebrokenes van hart ondersteun en versterk. Neem byvoorbeeld Oreanna, ’n bejaarde vrou in Suid-Amerika, wat nie langer wou lewe nie. ’n Getuie van Jehovah het begin om Oreanna te besoek en vir haar uit die Bybel en die publikasie My boek met Bybelverhaleb te lees. Aanvanklik het die terneergedrukte vrou na die voorlesing geluister terwyl sy met toe oë in die bed gelê en van tyd tot tyd diep gesug het. Kort voor lank het sy egter ’n poging aangewend om tydens die voorlesing regop in haar bed se sit. ’n Ruk later het sy in ’n stoel in die sitkamer vir haar Bybelonderrigter gesit en wag. Daarna het die vrou Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal begin bywoon. Aangemoedig deur die dinge wat sy by daardie vergaderinge geleer het, het sy Bybellektuur vir almal aangebied wat by haar huis verbygeloop het. Toe is Oreanna, op die ouderdom van 93, as een van Jehovah se Getuies gedoop. Die Koninkryksboodskap het haar weer die begeerte gegee om te lewe.—Spreuke 15:30; 16:24.
16 Die Koninkryksboodskap bied noodsaaklike ondersteuning selfs aan diegene wat weet dat hulle lewe deur siekte kortgeknip gaan word. Neem byvoorbeeld Maria wat in Wes-Europa gewoon het. Sy het aan ’n terminale siekte gely en het alle hoop verloor. Sy was baie neerslagtig toe Jehovah se Getuies haar die eerste keer besoek het. Maar toe sy van God se voornemens geleer het, het haar lewe weer betekenisvol geword. Sy is gedoop en was baie bedrywig in die predikingswerk. Gedurende die laaste twee jaar van haar lewe het haar oë gestraal van hoop en vreugde. Maria het gesterf met ’n vaste hoop op die opstanding.—Romeine 8:38, 39.
17. (a) Hoe maak die Koninkryksboodskap ’n verskil in die lewe van dié wat dit aanneem? (b) Op watter maniere het jy self al ondervind dat Jehovah ‘almal oprig wat neergeboë is’?
17 Sulke verslae bevestig dat die Koninkryksboodskap ’n verskil kan maak in die lewe van mense wat hunker na Bybelwaarhede. Diegene wat oor die dood van ’n geliefde treur, vind nuwe krag wanneer hulle van die opstandingshoop leer (1 Tessalonisense 4:13). Mense wat in armoede lewe en sukkel om hulle gesin van voedsel te voorsien, vind nuwe waardigheid en moed wanneer hulle leer dat Jehovah hulle nooit sal verlaat as hulle lojaal aan hom bly nie (Psalm 37:28). Met Jehovah se hulp het baie wat deur depressie oorweldig word, geleidelik die nodige krag opgebou om die mas op te kom en in sommige gevalle selfs hierdie siekte te oorkom (Psalm 40:1, 2). Ja, deur middel van die krag wat deur sy Woord voorsien word, is Jehovah nóú besig om ‘almal op te rig wat neergeboë is’ (Psalm 145:14). Wanneer ons sien hoe die goeie nuus van die Koninkryk die gebrokenes van hart in ons gebied en in die Christengemeente vertroos, herinner dit ons keer op keer daaraan dat ons die allerbeste nuus het wat vandag beskikbaar is!—Psalm 51:17.
“My smeking tot God vir hulle”
18. Watter uitwerking het die Jode se verwerping van die goeie nuus op Paulus gehad, en waarom?
18 Hoewel ons boodskap die allerbeste nuus bevat, verwerp baie dit. Watter uitwerking kan dit op ons hê? Dieselfde uitwerking as wat dit op die apostel Paulus gehad het. Hy het dikwels vir die Jode getuig, maar die meeste van hulle het die boodskap van redding verwerp. Die feit dat hulle nie wou luister nie, het Paulus diep geraak. Hy het erken: “Ek [het] groot droefheid en onophoudelike pyn in my hart” (Romeine 9:2). Paulus het medelye gevoel vir die Jode vir wie hy getuig het. Die feit dat hulle die goeie nuus verwerp het, het hom bedroef gemaak.
19. (a) Waarom is dit te verstane dat ons soms mismoedig sal voel? (b) Wat het Paulus gehelp om met sy predikingswerk voort te gaan?
19 Ook ons verkondig die goeie nuus omdat ons medelye met mense het. Dit is dus te verstane dat ons dalk mismoedig sal voel wanneer baie mense die Koninkryksboodskap verwerp. So ’n reaksie toon dat ons opreg besorg is oor die geestelike welsyn van die mense vir wie ons getuig. Maar dit sal verstandig van ons wees om die voorbeeld van die apostel Paulus in gedagte te hou. Wat het hom gehelp om met sy predikingswerk voort te gaan? Hoewel die Jode se weiering om die goeie nuus aan te neem, vir hom droefheid en pyn veroorsaak het, het Paulus nie gedink dat alle Jode verlore was en nie gehelp kon word nie. Hy het gehoop dat daar nog sommige was wat Christus sou aanneem. Daarom het Paulus oor sy gevoelens teenoor individuele Jode geskryf: “Die welwillendheid van my hart en my smeking tot God vir hulle is inderdaad met die oog op hulle redding.”—Romeine 10:1.
20, 21. (a) Hoe kan ons Paulus se voorbeeld in ons bediening volg? (b) Watter aspek van ons bediening sal in die volgende artikel bespreek word?
20 Let op die twee dinge wat Paulus beklemtoon het. Dit was sy hartsbegeerte dat party individue redding sou vind, en hy het God in dié verband gesmeek. Vandag volg ons Paulus se voorbeeld. Ons behou ’n hartgrondige begeerte om mense te vind wat dalk nog die regte gesindheid teenoor die goeie nuus het. Ons hou aan om tot Jehovah te bid dat ons sulke mense kan vind sodat ons hulle kan help om die weg te volg wat tot hulle redding sal lei.—Spreuke 11:30; Esegiël 33:11; Johannes 6:44.
21 Maar om soveel mense as moontlik met die Koninkryksboodskap te bereik, moet ons nie net let op waarom en waarvan ons getuig nie, maar ook op hoe ons getuig. Hierdie onderwerp sal in die volgende artikel bespreek word.
[Voetnote]
a Hierdie artikel sal die eerste twee aspekte bespreek. Die tweede artikel sal die derde een bespreek.
b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.
Wat het jy geleer?
• Om watter redes neem ons aan die bediening deel?
• Wat is die hoofboodskap wat ons verkondig?
• Watter seëninge ondervind diegene wat die Koninkryksboodskap aanneem?
• Wat sal ons help om met ons bediening voort te gaan?
[Prente op bladsy 18]
Die Koninkryksboodskap gee krag aan die gebrokenes van hart
[Prente op bladsy 20]
Gebed help ons om in ons bediening te volhard