Volgens Markus
6 Hy het daarvandaan vertrek en in sy tuisgebied gekom,+ en sy dissipels het saam met hom gegaan. 2 Op die Sabbat het hy in die sinagoge begin leer, en die meeste mense wat na hom geluister het, was verstom en het gevra: “Waar het hierdie man hierdie dinge geleer?+ En hoekom is hierdie wysheid aan hom gegee, en hoe doen hy hierdie kragtige werke?+ 3 Is hy dan nie die timmerman nie?+ Is hy nie die seun van Maria+ en die broer van Jakobus,+ Josef, Judas en Simon+ nie? En is sy susters dan nie hier by ons nie?” Hulle het begin struikel* as gevolg van hom. 4 Maar Jesus het vir hulle gesê: “’n Profeet word oral geëer, behalwe in sy tuisgebied en onder sy familielede en in sy eie huis.”+ 5 Hy kon dus geen kragtige werk daar doen nie, behalwe om sy hande op ’n paar siek mense te lê en hulle te genees. 6 Ja, hy was verbaas oor hulle gebrek aan geloof. En hy het deur die dorpies gegaan en die mense geleer.+
7 Hy het die Twaalf na hom toe geroep, en hy het hulle twee-twee begin uitstuur,+ en hy het hulle gesag oor die onrein geeste gegee.+ 8 Hy het hulle ook beveel om niks behalwe ’n staf vir die reis saam te vat nie – geen brood, geen voedselsak, geen geld* nie+ – 9 maar om sandale aan te trek en om nie twee kledingstukke* te dra nie. 10 Verder het hy vir hulle gesê: “Waar julle ook al in ’n huis ingaan, bly daar totdat julle daarvandaan vertrek.+ 11 En as daar ’n plek is waar die mense julle nie ontvang nie of nie na julle luister nie, skud die stof van julle voete af wanneer julle daarvandaan uitgaan. Dit sal as ’n getuienis vir hulle dien.”+ 12 Toe het hulle vertrek en gepreek dat mense berou moet toon,+ 13 en hulle het baie demone uitgedryf+ en ’n groot aantal siek mense met olie gesalf en hulle genees.
14 Koning Herodes het hiervan gehoor, want mense het oral van hom gepraat en gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek, en daarom kan hy hierdie kragtige werke doen.”+ 15 Maar ander het gesê: “Dit is Eliʹa.” Nog ander het gesê: “Dit is ’n profeet soos een van die profete van die verlede.”+ 16 Maar toe Herodes dit hoor, het hy gesê: “Die Johannes wie se kop ek laat afkap het, is opgewek.” 17 Herodes het Johannes vroeër laat arresteer en hom laat boei en in die tronk gesit as gevolg van Heroʹdias, die vrou van sy broer Filippus, omdat hy met haar getrou het.+ 18 Want Johannes het vir Herodes gesê: “U mag nie die vrou van u broer as vrou hê nie.”+ 19 Heroʹdias het dus ’n wrok teen hom gekoester en wou hom doodmaak, maar sy kon nie. 20 Herodes was bang vir Johannes omdat hy geweet het dat Johannes ’n regverdige en heilige man is,+ en hy het hom beskerm. Wanneer hy na Johannes geluister het, was hy baie onseker oor wat om te doen, maar tog het hy graag na hom geluister.
21 Maar op Herodes se verjaarsdag+ het Heroʹdias ’n kans gekry om haar plan uit te voer. Hy het ’n aandete vir sy hoë amptenare en die militêre bevelvoerders en die belangrikste manne van Galileʹa+ voorberei. 22 En die dogter van Heroʹdias het ingekom en gedans, en Herodes en dié wat saam met hom geëet het,* het dit baie geniet. Die koning het vir die meisie gesê: “Vra my enigiets wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.” 23 Ja, hy het vir haar gesweer: “Wat jy my ook al vra, sal ek vir jou gee, tot die helfte van my koninkryk.” 24 Toe het sy na haar ma toe gegaan en gevra: “Waarvoor moet ek vra?” Sy het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.” 25 Onmiddellik het sy vinnig na die koning toe gegaan en vir hom gesê: “Ek wil hê dat u dadelik vir my die kop van Johannes die Doper op ’n skinkbord moet gee.”+ 26 Dit het die koning baie ontstel, maar hy wou nie vir haar nee sê nie as gevolg van die ede wat hy voor sy gaste* gesweer het. 27 Toe het die koning onmiddellik ’n lyfwag gestuur en hom beveel om Johannes se kop te bring. En hy het weggegaan en sy kop in die tronk afgekap 28 en sy kop op ’n skinkbord gebring. Hy het dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee. 29 Toe sy dissipels daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk kom haal en dit in ’n graf* neergelê.
30 Die apostels het by Jesus bymekaargekom en vir hom alles vertel wat hulle gedoen het en vir die mense geleer het.+ 31 En hy het vir hulle gesê: “Kom saam na ’n afgeleë plek waar julle alleen kan wees en ’n bietjie kan rus.”+ Want daar was baie wat gekom en gegaan het, en hulle het nie eers kans gehad om te eet nie. 32 Toe het hulle in die boot na ’n afgeleë plek gegaan om alleen te wees.+ 33 Maar mense het gesien dat hulle vertrek, en baie het daarvan gehoor. Toe het mense uit al die stede vinnig te voet daarheen gegaan en voor hulle daar aangekom. 34 Toe hy uitklim, het hy ’n groot skare gesien, en hy het baie jammer vir hulle gevoel,+ want hulle was soos skape sonder ’n herder.+ En hy het hulle baie dinge begin leer.+
35 Dit het toe al laat geword, en sy dissipels het na hom toe gekom en gesê: “Ons is op ’n afgeleë plek, en dit is al laat.+ 36 Stuur hulle weg, sodat hulle na die omliggende platteland en dorpies kan gaan en vir hulle iets kan koop om te eet.”+ 37 Hy het hulle geantwoord: “Gee julle vir hulle iets om te eet.” Toe het hulle vir hom gevra: “Wil u hê dat ons brood vir 200 denaʹrii* moet gaan koop en dit vir die mense moet gee om te eet?”+ 38 Hy het vir hulle gesê: “Hoeveel brode het julle? Gaan kyk.” Nadat hulle uitgevind het, het hulle gesê: “Vyf, en ook twee visse.”+ 39 En hy het vir al die mense gesê om in groepe op die groen gras te gaan sit.+ 40 En hulle het in groepe van 100 en van 50 gaan sit. 41 Toe het hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en gebid.+ Daarna het hy die brode gebreek en dit vir die dissipels begin gee om aan die mense te gee, en hy het die twee visse onder almal verdeel. 42 Toe het hulle almal geëet en versadig geword, 43 en nadat hulle die oorskietstukke opgetel het, was daar 12 mandjies vol, maar dit het nie die vis ingesluit nie.+ 44 Daar was 5 000 mans wat die brood geëet het.
45 Toe het hy sy dissipels dadelik in die boot laat klim en hulle vooruit laat gaan na die oorkantste oewer, in die rigting van Betsaiʹda, terwyl hy die skare weggestuur het.+ 46 Maar nadat hy hulle gegroet het, het hy na ’n berg gegaan om te bid.+ 47 Teen die aand was die boot in die middel van die see, maar hy was alleen op die land.+ 48 Hy het gesien dat hulle sukkel om te roei, want die wind was teen hulle, en daarom het hy omtrent die vierde nagwaak* op die see na hulle toe aangeloop gekom, maar dit het gelyk asof hy by hulle wou verbygaan. 49 Toe hulle hom op die see sien loop, het hulle gesê: “Dit is ’n verskyning!” En hulle het uitgeroep, 50 want hulle almal het hom gesien en was geskok. Maar hy het onmiddellik vir hulle gesê: “Bedaar! Dit is ek. Moenie bang wees nie.”+ 51 Toe het hy by hulle in die boot geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was stomgeslaan, 52 want hulle het nie begryp wat die wonderwerk met die brode beteken het nie, en hulle* het dit nog steeds moeilik gevind om te verstaan.
53 Toe hulle die oorkant bereik, het hulle in Genneʹsaret gekom en die boot daar naby vasgeanker.+ 54 Maar die oomblik toe hulle uit die boot klim, het mense hom herken. 55 Die mense het in daardie hele gebied rondgehardloop en die siek mense op draagbeddens begin dra na waar hulle gehoor het hy is. 56 En wanneer hy ook al na dorpies of stede of die platteland gegaan het, het hulle die siek mense op die markpleine neergesit, en hulle het hom gesmeek om maar net aan die fraiings van sy bo-kleed te kan raak.+ En almal wat daaraan geraak het, het gesond geword.