-
Jehovah verheerlik sy Messiaanse KnegJesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
-
-
“Hy het hom laat teister”
25. Hoe weet ons dat die Messias gewillig was om te ly en te sterf?
25 Was die Messias gewillig om te ly en te sterf? Jesaja sê: “Hy was onder groot druk, en hy het hom laat teister; tog het hy nie sy mond oopgemaak nie. Hy is net soos ’n skaap na die slagplek gelei; en soos ’n ooi wat voor haar skeerders stom geword het, het hy ook nie sy mond oopgemaak nie” (Jesaja 53:7). Op die laaste nag van sy lewe kon Jesus “meer as twaalf legioene engele” geroep het om hom te help. Maar hy het gesê: “Hoe sou die Skrif dan vervul word dat dit so moet plaasvind?” (Matteus 26:53, 54). “Die Lam van God” het dus geen weerstand gebied nie (Johannes 1:29). Toe die hoofpriesters en die ouer manne valse beskuldigings teen Jesus voor Pilatus ingebring het, “het hy geen antwoord gegee nie” (Matteus 27:11-14). Hy wou niks sê wat moontlik die uitvoering van God se wil vir hom sou verhinder nie. Jesus was gewillig om as ’n Lam geoffer te word met die volle wete dat sy dood die gehoorsame mensdom van sonde, siekte en die dood sou loskoop.
-
-
Jehovah verheerlik sy Messiaanse KnegJesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
-
-
Hoofstuk veertien
Jehovah verheerlik sy Messiaanse Kneg
1, 2. (a) Illustreer die situasie waarvoor baie Jode in die vroeë deel van die eerste eeu G.J. te staan gekom het. (b) Watter voorsiening het Jehovah gemaak om getroue Jode te help om die Messias te identifiseer?
STEL jou voor dat jy ’n afspraak met ’n belangrike hoogwaardigheidsbekleër het. Die tyd en die plek daarvoor is vasgestel. Maar daar is ’n probleem: Jy weet nie hoe hy lyk nie, en hy reis nie in sy amptelike hoedanigheid nie. Hoe sal jy hom herken? Dit sal help as jy ’n duidelike beskrywing van hom het.
2 In die vroeë deel van die eerste eeu G.J. het baie Jode voor so ’n situasie te staan gekom. Hulle het die Messias verwag—die belangrikste mens wat ooit sou leef (Daniël 9:24-27; Lukas 3:15). Maar hoe sou getroue Jode hom herken? Deur middel van die Hebreeuse profete het Jehovah ’n duidelike beskrywing laat opteken van gebeurtenisse wat met die Messias verband sou hou, sodat mense met onderskeidingsvermoë hom vir seker sou kon identifiseer.
3. Watter beskrywing van die Messias word in Jesaja 52:13–53:12 voorsien?
3 Daar is moontlik geen Hebreeuse profesie oor die Messias wat ’n duideliker prentjie van hom skilder as die een wat in Jesaja 52:13–53:12 opgeteken is nie. Meer as 700 jaar vooruit het Jesaja nie die fisiese voorkoms van die Messias beskryf nie, maar besonderhede wat betekenisvoller was—die doel en aard van sy lyding en spesifieke feite in verband met sy dood, begrafnis en verheerliking. ’n Bespreking van hierdie profesie en die vervulling daarvan sal ons hart verbly en ons geloof versterk.
“My kneg”—Wie is hy?
4. Watter menings het party Joodse geleerdes oor die identiteit van die “kneg” uitgespreek, maar waarom pas dit nie by Jesaja se profesie nie?
4 Jesaja het so pas van die verlossing van die Jode uit ballingskap in Babilon vertel. Nou teken hy Jehovah se woorde op wat op ’n veel groter gebeurtenis in die toekoms dui: “Kyk! My kneg sal met insig optree. Hy sal ’n hoë posisie beklee en sal beslis verhoog en grootliks verhef word” (Jesaja 52:13). Presies wie is hierdie “kneg”? Deur die eeue heen het Joodse geleerdes verskeie menings gehad. Party het gesê dat hy die hele nasie Israel gedurende die Babiloniese ballingskap voorgestel het. Maar so ’n verklaring pas nie by die profesie nie. God se Kneg ly vrywillig. Al is hy onskuldig, ly hy vir die sondes van ander. Dit pas nouliks by die Joodse nasie, wat weens hulle sondige weë in ballingskap weggevoer is (2 Konings 21:11-15; Jeremia 25:8-11). Ander het gesê dat die Kneg die vroom elite in Israel voorgestel het en dat hulle namens sondige Israeliete gely het. Maar gedurende tye van ellende in Israel was daar geen spesifieke groep wat namens ander gely het nie.
5. (a) Watter toepassing het party Joodse geleerdes van Jesaja se profesie gemaak? (Sien die voetnoot.) (b) Hoe word die Kneg duidelik geïdentifiseer in die Bybelboek Handelinge?
5 Voor die koms van die Christelike godsdiens en in ’n mate gedurende die vroeë eeue van die Gewone Jaartelling, het enkele Joodse geleerdes hierdie profesie wel op die Messias toegepas. Die Christelike Griekse Geskrifte toon dat dit die korrekte toepassing is. In die boek Handelinge lees ons hoe die Etiopiese eunug gesê het hy weet nie wat die identiteit van die Kneg van Jesaja se profesie is nie en dat Filippus toe “die goeie nuus oor Jesus aan hom bekend gemaak” het (Handelinge 8:26-40; Jesaja 53:7, 8). Ander Bybelboeke identifiseer Jesus Christus ook as die Messiaanse Kneg van Jesaja se profesie.a Terwyl ons hierdie profesie bespreek, sal ons die onteenseglike ooreenkomste sien tussen die een wat Jehovah “my kneg” noem en Jesus van Nasaret.
6. Hoe toon Jesaja se profesie dat die Messias God se wil met sukses sal uitvoer?
6 Die profesie begin deur die uiteindelike sukses te beskryf wat die Messias in sy uitvoering van God se wil sal hê. Die woord “kneg” toon dat hy hom aan God se wil sal onderwerp, soos ’n kneg hom aan sy heer se wil onderwerp. Deur dit te doen, sal hy “met insig optree”. Insig is die vermoë om in ’n situasie in te sien. As ’n mens met insig optree, tree jy oordeelkundig op. ’n Naslaanwerk sê van die Hebreeuse werkwoord wat hier gebruik word: “Die hoofgedagte is om verstandig en wys op te tree. Hy wat wys optree, sal suksesvol wees.” Dat die Messias wel suksesvol sal wees, word getoon deur die woorde van die profesie wat sê dat hy “verhoog en grootliks verhef” sal word.
7. Hoe het Jesus Christus ‘met insig opgetree’, en hoe is hy “verhoog en grootliks verhef”?
7 Jesus het ‘met insig opgetree’ en getoon dat hy die Bybelprofesieë verstaan het wat op hom van toepassing was en dat hy daardeur gelei is om die wil van sy Vader te doen (Johannes 17:4; 19:30). Met watter gevolg? Ná Jesus se opstanding en hemelvaart “het God hom . . . tot ’n hoër posisie verhef en hom goedgunstig die naam gegee wat bo elke ander naam is” (Filippense 2:9; Handelinge 2:34-36). En in 1914 is die verheerlikte Jesus selfs verder verhoog. Jehovah het hom tot die troon van die Messiaanse Koninkryk verhef (Openbaring 12:1-5). Ja, hy is “verhoog en grootliks verhef”.
‘Hulle sal hom in verbasing aanstaar’
8, 9. Hoe sal aardse heersers reageer wanneer die verheerlikte Jesus kom om oordeel te voltrek, en waarom?
8 Hoe sal die nasies en hulle heersers op die verheerlikte Messias reageer? As ons vir die oomblik die bygedagte in die tweede deel van vers 14 oorslaan, lees ons in die profesie: “In die mate dat baie hom in verbasing aangestaar het . . . sal hy ook baie nasies laat skrik. Oor hom sal konings hulle mond toehou, want wat nie vir hulle vertel is nie, sal hulle sien, en op wat hulle nie gehoor het nie, sal hulle hulle aandag rig” (Jesaja 52:14a, 15). Met hierdie woorde beskryf Jesaja nie die Messias se eerste verskyning nie, maar sy finale konfrontasie met aardse heersers.
9 Wanneer die verheerlikte Jesus kom om oordeel aan hierdie goddelose stelsel van dinge te voltrek, sal aardse heersers hom ‘in verbasing aanstaar’. Menseheersers sal weliswaar nie die verheerlikte Jesus letterlik sien nie. Maar hulle sal die sigbare bewyse van sy krag as ’n hemelse Stryder vir Jehovah sien (Matteus 24:30). Hulle sal gedwing word om hulle aandag te vestig op iets waarvan godsdiensleiers hulle nie vertel het nie—dat Jesus die Een is wat God se oordele voltrek! Die verheerlikte Kneg wat teen hulle sal stry, sal optree op ’n manier wat hulle nie sal verwag nie.
10, 11. Hoe kan daar gesê word dat Jesus in die eerste eeu misvorm was, en hoe is dit vandag die geval?
10 In die bygedagte in vers 14 sê Jesaja: “So erg was die misvorming van sy voorkoms, meer as dié van enige ander man, en van sy statige gestalte, meer as dié van die mensekinders” (Jesaja 52:14b). Was Jesus op die een of ander manier fisies misvorm? Nee. Hoewel die Bybel nie besonderhede verstrek oor hoe Jesus gelyk het nie, was die volmaakte Seun van God ongetwyfeld ’n aantreklike man. Jesaja se woorde verwys klaarblyklik na die vernedering wat Jesus ervaar het. Hy het die godsdiensleiers van sy dag onbeskroomd as huigelaars, leuenaars en moordenaars aan die kaak gestel; en hulle het daarop gereageer deur hom uit te skel (1 Petrus 2:22, 23). Hulle het hom daarvan beskuldig dat hy ’n wetsoortreder, ’n godslasteraar, ’n bedrieër en ’n oproermaker teen Rome is. Hierdie valse beskuldigers het dus ’n uiters verwronge, of misvormde, beeld van Jesus geskep.
11 Vandag beeld mense Jesus nog steeds verkeerd uit. Die meeste mense dink aan Jesus as ’n baba in ’n krip of as ’n tragiese figuur wat aan ’n kruis vasgespyker is, sy gesig vertrek van pyn onder ’n doringkroon. Die Christendom se geestelikes het hierdie beskouings bevorder. Hulle het Jesus nie as die magtige hemelse Koning uitgebeeld aan wie die nasies rekenskap sal moet gee nie. Wanneer menseheersers in die nabye toekoms voor die verheerlikte Jesus staan, sal hulle met ’n Messias te doen kry wat “alle gesag in die hemel en op die aarde” het!—Matteus 28:18.
Wie sal geloof stel in hierdie goeie nuus?
12. Watter interessante vrae laat die woorde in Jesaja 53:1 ontstaan?
12 Nadat Jesaja die verbasende gedaantewisseling van die Messias beskryf het—van ‘misvorm’ tot ‘grootliks verhewe’—vra hy: “Wie het geloof gestel in wat ons gehoor het? En wat die arm van Jehovah betref, aan wie is dit geopenbaar?” (Jesaja 53:1). Hierdie woorde van Jesaja laat interessante vrae ontstaan: Sal hierdie profesie vervul word? Sal “die arm van Jehovah”, wat sy vermoë voorstel om krag uit te oefen, hom openbaar en hierdie woorde waar laat kom?
13. Hoe het Paulus getoon dat Jesaja se profesie in Jesus vervul is, en hoe het mense daarop gereageer?
13 Die antwoord is ongetwyfeld ja! In sy brief aan die Romeine haal Paulus Jesaja se woorde aan om te toon dat die profesie wat Jesaja gehoor en opgeteken het, in Jesus vervul is. Die verheerliking van Jesus ná sy lyding op aarde was goeie nuus. “Tog het hulle nie almal die goeie nuus gehoorsaam nie”, sê Paulus van die ongelowige Jode. “Want Jesaja sê: ‘Jehovah, wie het geloof gestel in wat by ons gehoor is?’ Geloof volg dus op wat gehoor word. En wat gehoor word, is deur die woord oor Christus” (Romeine 10:16, 17). Maar ongelukkig het min mense in Paulus se dag geloof in die goeie nuus oor God se Kneg gestel. Waarom?
14, 15. Teen watter agtergrond sal die Messias op die aardse toneel verskyn?
14 Die profesie verduidelik vervolgens aan die Israeliete waarom die vrae in vers 1 gestel word, en sodoende werp dit lig op die rede waarom baie nie die Messias sal aanvaar nie: “Hy sal soos ’n takkie voor [’n toeskouer] opkom, en soos ’n wortel uit ’n waterlose land. Hy het nie ’n statige gestalte of enige prag nie; en wanneer ons hom sal sien, is die voorkoms nie sodanig dat ons hom sou begeer nie” (Jesaja 53:2). Hier sien ons die agtergrond waarteen die Messias op die aardse toneel sal verskyn. Hy sal ’n nederige begin hê, en vir waarnemers sal dit lyk of hy nie veel sal bereik nie. Daarbenewens sal hy soos ’n blote takkie wees, ’n tere jong boompie wat uit die stam of tak van ’n boom groei. Hy sal ook soos ’n wortel wees wat water nodig het, maar wat in droë, onvrugbare grond is. En hy sal nie met koninklike prag en praal—met koninklike klere of skitterende krone—kom nie. Inteendeel, sy begin sal nederig en sonder vertoon wees.
15 Hoe goed beskryf dit Jesus se nederige begin as ’n mens tog! Die Joodse maagd Maria het in ’n stal in ’n klein dorpie, Betlehem, aan hom geboorte gegee (Lukas 2:7; Johannes 7:42).b Maria en haar man, Josef, was arm. Omtrent 40 dae ná Jesus se geboorte het hulle die sondoffer gebring wat in die geval van armes toegelaat is, “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe” (Lukas 2:24; Levitikus 12:6-8). Na verloop van tyd het Maria en Josef in Nasaret gaan woon, waar Jesus in ’n groot gesin, moontlik in eenvoudige omstandighede, grootgeword het.—Matteus 13:55, 56.
16. In watter opsig is dit waar dat Jesus geen “statige gestalte” of “prag” gehad het nie?
16 Terwyl Jesus ’n mens was, het dit gelyk asof hy nie sy wortels in die regte soort grond gehad het nie (Johannes 1:46; 7:41, 52). Hoewel hy ’n volmaakte man en ’n afstammeling van koning Dawid was, het hy weens sy nederige omstandighede geen “statige gestalte” of “prag” gehad nie—ten minste nie in die oë van dié wat verwag het dat die Messias uit ’n indrukwekkender agtergrond sou kom nie. Aangehits deur die Joodse godsdiensleiers, het baie hom nie erken nie en hom selfs verag. Op die ou end het die skares niks begeerliks in die volmaakte Seun van God gesien nie.—Matteus 27:11-26.
“Verag en deur die mense vermy”
17. (a) Wat begin Jesaja beskryf, en waarom skryf hy in die verlede tyd? (b) Wie was dit wat Jesus “verag” en “vermy” het, en hoe het hulle dit gedoen?
17 Jesaja begin nou in besonderhede beskryf hoe die Messias beskou en behandel sal word: “Hy is verag en deur die mense vermy, ’n man bestem vir pyn en om met siekte bekend te wees. En dit was asof sy gesig vir ons verberg is. Hy is verag, en ons het hom van geen belang geag nie” (Jesaja 53:3). Jesaja is seker dat sy woorde vervul sal word en skryf in die verlede tyd, asof dit reeds vervul is. Was Jesus Christus werklik verag en deur die mense vermy? Baie beslis! Eiegeregtige godsdiensleiers en hulle volgelinge het hom as die veragtelikste van alle mense beskou. Hulle het hom ’n vriend van belastinggaarders en hoere genoem (Lukas 7:34, 37-39). Hulle het in sy gesig gespoeg. Hulle het hom met die vuis geslaan en hom gesmaad. Hulle het hom uitgelag en bespot (Matteus 26:67). Weens die invloed van hierdie vyande van die waarheid het Jesus se “eie mense . . . hom nie ingeneem nie”.—Johannes 1:10, 11.
18. In watter sin was Jesus “’n man bestem vir pyn en om met siekte bekend te wees” as hy nooit siek was nie?
18 Omdat Jesus ’n volmaakte man was, het hy nie siek geword nie. En tog was hy “’n man bestem vir pyn en om met siekte bekend te wees”. Hierdie pyn en siektes was nie sy eie nie. Jesus het van die hemel af in ’n siek wêreld ingekom. Hy het tussen lyding en pyn gelewe, maar hy het nie dié wat fisies of geestelik siek was, vermy nie. Soos ’n liefdevolle geneesheer het hy intiem bekend geraak met die lyding van dié wat rondom hom was. Daarbenewens was hy in staat om te doen wat geen gewone mensegeneesheer kan doen nie.—Lukas 5:27-32.
19. Wie se gesig was “verberg”, en hoe het Jesus se vyande getoon dat hulle hom “van geen belang geag [het] nie”?
19 Jesus se vyande het hom nietemin as die sieke beskou en het geweier om hom goedgesind to wees. Sy gesig was “verberg”, maar nie omdat hy sy gesig vir ander weggesteek het nie. In Jesaja 53:3 gebruik die Nuwe Afrikaanse Vertaling die uitdrukking “iemand vir wie die mense die gesig wegdraai”. Jesus se teenstanders het hom so afstootlik gevind dat hulle as ’t ware van hom af weggedraai het asof hy te afskuwelik was om na te kyk. Hulle het gereken dat hy niks meer as die prys van ’n slaaf werd is nie (Eksodus 21:32; Matteus 26:14-16). Hulle het minder respek vir hom gehad as vir die moordenaar Barabbas (Lukas 23:18-25). Hoeveel meer kon hulle doen om hulle lae dunk van Jesus te toon?
20. Watter vertroosting bied Jesaja se woorde vandag aan Jehovah se volk?
20 Jehovah se knegte kan vandag groot vertroosting uit Jesaja se woorde put. Soms minag teenstanders getroue aanbidders van Jehovah, of hulle behandel hulle asof hulle van geen belang is nie. Maar soos in Jesus se geval is die belangrike saak eintlik hoe Jehovah God ons beskou. Al het mense Jesus “van geen belang geag nie”, het dit per slot van rekening nie sy groot waarde in God se oë verander nie!
“Vir ons oortreding deurboor”
21, 22. (a) Wat het die Messias ten behoewe van ander gedra en op hom geneem? (b) Hoe het baie die Messias beskou, en wat was die klimaks van sy lyding?
21 Waarom moes die Messias ly en sterf? Jesaja verduidelik: “Waarlik, ons siektes het hy gedra; en wat ons pyn betref, hy het dit op hom geneem. Maar ons het hom beskou as een wat met ’n plaag getref is, deur God geslaan en geteister is. Maar hy is vir ons oortreding deurboor; hy is vir ons ongeregtighede verbrysel. Die tugtiging wat vir ons vrede bedoel was, was op hom, en weens sy wonde was daar vir ons genesing. Soos skape het ons almal rondgedwaal; ons het elkeen sy eie weg ingeslaan; en Jehovah het ons almal se oortreding op hom laat neerkom.”—Jesaja 53:4-6.
22 Die Messias het die siektes van ander gedra en hulle pyn op hom geneem. Hy het as ’t ware hulle laste opgelig, dit op sy skouers getel en dit gedra. En aangesien siekte en pyn die gevolge van die mens se sondige toestand is, het die Messias die sondes van ander gedra. Baie het nie die rede vir sy lyding verstaan nie en het geglo dat God hom straf en hom met ’n afstootlike siekte teister.c Die Messias se lyding het ’n klimaks bereik toe hy deurboor, verbrysel en gewond is—sterk woorde wat op ’n gewelddadige en pynlike dood dui. Maar sy dood het versoeningskrag; dit voorsien die grondslag om dié wat in oortreding en sonde ronddwaal, te herstel en hulle te help om vrede met God te vind.
23. Hoe het Jesus die lyding van ander op hom geneem?
23 Hoe het Jesus die lyding van ander op hom geneem? Die Evangelie van Matteus haal Jesaja 53:4 aan en sê: “Mense [het] talle demoonbesetenes na hom toe gebring; en hy het die geeste met ’n woord uitgedryf, en hy het almal genees met wie dit sleg gegaan het; sodat vervul sou word wat gespreek is deur middel van die profeet Jesaja, wat gesê het: ‘Hy het ons siektes geneem en ons kwale gedra’” (Matteus 8:16, 17). Deur die mense te genees wat met verskillende siektes na hom toe gekom het, het Jesus as ’t ware hulle lyding op hom geneem. En hierdie genesings het van sy lewenskrag gebruik (Lukas 8:43-48). Sy vermoë om allerhande siektes—sies en geestelik—te genees, het getoon dat hy die mag gegee is om mense van sonde te reinig.—Matteus 9:2-8.
24. (a) Waarom het dit vir baie gelyk asof Jesus deur God “met ’n plaag getref” is? (b) Waarom het Jesus gely en gesterf?
24 En tog het dit vir baie gelyk asof God Jesus “met ’n plaag getref” het. Hy het immers op aanstigting van gerespekteerde godsdiensleiers gely. Ons moet egter onthou dat hy nie weens sy eie sondes gely het nie. “Christus het vir julle gely”, sê Petrus, “en vir julle ’n voorbeeld gelaat sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg. Hy het geen sonde begaan nie, en ook is bedrog nie in sy mond gevind nie. Hy het ons sondes in sy eie liggaam aan die paal gedra, sodat ons met sondes klaar kan wees en vir regverdigheid kan lewe. En ‘deur sy wonde is julle genees’” (1 Petrus 2:21, 22, 24). Ons was almal vroeër in sonde verlore, “soos skape wat wegdwaal” (1 Petrus 2:25). Maar deur Jesus het Jehovah verlossing uit ons sondige toestand moontlik gemaak. Hy het ons oortreding op Jesus laat “neerkom”, op hom laat rus. Die sondelose Jesus was gewillig om die straf vir ons sondes te dra. Deur onverdiend ’n skandelike dood aan ’n paal te sterf, het hy dit vir ons moontlik gemaak om met God versoen te word.
“Hy het hom laat teister”
25. Hoe weet ons dat die Messias gewillig was om te ly en te sterf?
25 Was die Messias gewillig om te ly en te sterf? Jesaja sê: “Hy was onder groot druk, en hy het hom laat teister; tog het hy nie sy mond oopgemaak nie. Hy is net soos ’n skaap na die slagplek gelei; en soos ’n ooi wat voor haar skeerders stom geword het, het hy ook nie sy mond oopgemaak nie” (Jesaja 53:7). Op die laaste nag van sy lewe kon Jesus “meer as twaalf legioene engele” geroep het om hom te help. Maar hy het gesê: “Hoe sou die Skrif dan vervul word dat dit so moet plaasvind?” (Matteus 26:53, 54). “Die Lam van God” het dus geen weerstand gebied nie (Johannes 1:29). Toe die hoofpriesters en die ouer manne valse beskuldigings teen Jesus voor Pilatus ingebring het, “het hy geen antwoord gegee nie” (Matteus 27:11-14). Hy wou niks sê wat moontlik die uitvoering van God se wil vir hom sou verhinder nie. Jesus was gewillig om as ’n Lam geoffer te word met die volle wete dat sy dood die gehoorsame mensdom van sonde, siekte en die dood sou loskoop.
26. In watter sin is “bedwang” deur Jesus se teenstanders toegepas?
26 Jesaja verstrek nou verdere besonderhede van die Messias se lyding en vernedering. Die profeet skryf: “Weens bedwang en strafgerig is hy weggeneem; en wie sal die besonderhede van sy geslag oordink? Want hy is uit die land van die lewendes afgesny. Weens die oortreding van my volk is hy die slag toegedien” (Jesaja 53:8). Toe Jesus uiteindelik deur sy vyande gevange geneem is, het hierdie godsdiensteenstanders “bedwang” gebruik in die manier waarop hulle hom behandel het. Hulle het hulle nie daarvan teruggehou om uiting te gee aan hulle haat nie, maar hulle het geregtigheid bedwing, of van hom weerhou. In Jesaja 53:8 gebruik die Griekse Septuagint “vernedering” in plaas van “bedwang”. Jesus se vyande het hom verneder deur die regverdige behandeling van hom te weerhou waarop selfs ’n misdadiger geregtig was. Jesus se verhoor het ’n bespotting van die reg gemaak. Hoe so?
27. Watter reëls het die Joodse godsdiensleiers verontagsaam toe hulle Jesus verhoor het, en hoe het hulle God se Wet verbreek?
27 In hulle vasbeslotenheid om van Jesus ontslae te raak, het die Joodse godsdiensleiers hulle eie reëls oortree. Volgens tradisie kon die Sanhedrin die verhoor van ’n saak waarin die doodstraf opgelê kon word, alleenlik in die saal van gekapte klip in die tempelgebied hou, nie in die hoëpriester se huis nie. So ’n verhoor moes in die dag gehou word, nie ná sononder nie. En as die doodstraf opgelê is, moes die skuldigbevinding die dag ná die afsluiting van die verhoor aangekondig word. Gevolglik kon geen verhoor net voor ’n Sabbat of ’n feesdag gehou word nie. Hierdie reëls is almal in die geval van Jesus se verhoor geïgnoreer (Matteus 26:57-68). Wat nog erger is, is dat die godsdiensleiers God se Wet skaamteloos verbreek het terwyl hulle die saak hanteer het. Hulle het byvoorbeeld van omkopery gebruik gemaak om Jesus in hegtenis te neem (Deuteronomium 16:19; Lukas 22:2-6). Hulle het na valse getuies geluister (Eksodus 20:16; Markus 14:55, 56). En hulle het saamgesweer om ’n moordenaar vry te laat, waardeur hulle bloedskuld oor hulleself en hulle land gebring het (Numeri 35:31-34; Deuteronomium 19:11-13; Lukas 23:16-25). Gevolglik was daar geen “strafgerig” nie, wat hier verwys na ’n korrekte, onbevooroordeelde beslissing wat op ’n regverdige verhoor volg.
28. Wat het Jesus se vyande nie in ag geneem nie?
28 Het Jesus se vyande ondersoek ingestel om te sien wie die man wat hulle verhoor het, werklik was? Jesaja vra ’n soortgelyke vraag: “Wie sal die besonderhede van sy geslag oordink?” Die woord “geslag” kan na ’n mens se herkoms, of agtergrond, verwys. Toe Jesus voor die Sanhedrin verhoor is, het hulle nie sy agtergrond in ag geneem nie—dat hy aan die vereistes voldoen het om die beloofde Messias te wees. Hulle het hom eerder van godslastering beskuldig en gesê dat hy die dood verdien (Markus 14:64). Later het die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus voor druk geswig en Jesus gevonnis om aan die paal gehang te word (Lukas 23:13-25). So is Jesus, toe hy maar net 33 1/2 jaar oud was, in die fleur van sy lewe “afgesny”, of doodgemaak.
29. Hoe was Jesus “by die goddeloses” en “by die ryk klas” begrawe?
29 Van die Messias se dood en begrafnis, skryf Jesaja verder: “Hy sal sy graf by die goddeloses maak, en by die ryk klas in sy dood, ten spyte daarvan dat hy geen geweld gepleeg het en daar geen bedrog in sy mond was nie” (Jesaja 53:9). Hoe was Jesus, in sy dood en begrafnis, by die goddeloses sowel as by die rykes? Op 14 Nisan 33 G.J. het hy buite die mure van Jerusalem aan die teregstellingspaal gesterf. Aangesien hy tussen twee kwaaddoeners aan die paal gehang is, was sy graf in ’n sekere sin by die goddeloses (Lukas 23:33). Maar nadat Jesus gesterf het, het Josef, ’n ryk man van Arimatea, die moed bymekaargeskraap om Pilatus se toestemming te vra om Jesus se liggaam te neem en te begrawe. Saam met Nikodemus het Josef die liggaam vir die begrafnis voorberei en dit toe in ’n nuwe graf geplaas wat aan hom behoort het (Matteus 27:57-60; Johannes 19:38-42). Jesus se graf was dus ook by die ryk klas.
“Dit het Jehovah behaag om hom te verbrysel”
30. In watter opsig het dit Jehovah behaag om Jesus te verbrysel?
30 Nou sê Jesaja iets onverwags: “Dit het Jehovah behaag om hom te verbrysel; hy het hom siek gemaak. As u sy siel ’n skuldoffer maak, sal hy sy nageslag sien, sal hy sy dae verleng en sal die welbehae van Jehovah in sy hand slaag. Weens die moeite van sy siel sal hy sien; hy sal versadig word. Deur middel van sy kennis sal die regverdige, my kneg, baie in ’n regverdige posisie bring; en hulle oortredings sal hy dra” (Jesaja 53:10, 11). Hoe kon dit Jehovah hoegenaamd behaag het om te sien hoe hierdie getroue kneg verbrysel word? Jehovah het natuurlik nie persoonlik hierdie lyding oor sy geliefde Seun gebring nie. Jesus se vyande was ten volle verantwoordelik vir wat hulle aan hom gedoen het. Maar Jehovah het hulle toegelaat om wreed op te tree (Johannes 19:11). Waarom? Dit het die God van empatie en tere medelye tog sekerlik pyn veroorsaak om te sien hoe sy onskuldige Seun ly (Jesaja 63:9; Lukas 1:77, 78). Jehovah was beslis glad nie kwaad vir Jesus nie. Nogtans het dit Jehovah behaag om te sien dat sy Seun bereid was om te ly weens al die seëninge wat dit sou meebring.
31. (a) Hoe het Jehovah Jesus se siel “’n skuldoffer” gemaak? (b) Wat moet besonder bevredigend wees vir Jesus, ná al die moeite wat hy as ’n mens beleef het?
31 Om maar een ding te noem, Jehovah het Jesus se siel “’n skuldoffer” gemaak. Toe Jesus dus na die hemel teruggekeer het, het hy in Jehovah se teenwoordigheid verskyn met die waarde van sy geofferde menselewe as ’n skuldoffer, en Jehovah het dit met graagte ten behoewe van die hele mensdom aanvaar (Hebreërs 9:24; 10:5-14). Deur middel van sy skuldoffer het Jesus ’n “nageslag” verkry. As die “Ewige Vader” kan hy lewe—ewige lewe—aan dié gee wat geloof in sy vergote bloed beoefen (Jesaja 9:6). Hoe bevredigend moet dit tog vir Jesus wees om, ná al die swaarkry wat hy as ’n mensesiel deurgemaak het, die vooruitsig te hê om die mensdom van sonde en die dood te bevry! Dit moet natuurlik vir hom nog bevredigender wees om te weet dat sy onkreukbaarheid sy hemelse Vader in staat gestel het om Sy Vyand, Satan die Duiwel, te antwoord wanneer hy Hom uittart.—Spreuke 27:11.
32. Deur middel van watter “kennis” bring Jesus “baie in ’n regverdige posisie”, en wie verkry hierdie posisie?
32 Nog ’n seëning wat uit Jesus se dood voortspruit, is dat hy nou reeds “baie in ’n regverdige posisie bring”. Jesaja sê dat hy dit “deur middel van sy kennis” doen. Dit is klaarblyklik kennis wat Jesus opgedoen het deur ’n mens te word en onregverdig te ly as gevolg van sy gehoorsaamheid aan God (Hebreërs 4:15). Aangesien Jesus tot die dood toe gely het, kon hy die nodige offer voorsien om ander te help om ’n regverdige posisie te verkry. Wie verkry hierdie regverdige posisie? Eerstens is dit sy gesalfde volgelinge. Omdat hulle geloof in Jesus se offerande beoefen, verklaar Jehovah hulle regverdig met die oog daarop om hulle as kinders aan te neem en hulle mede-erfgename met Jesus te maak (Romeine 5:19; 8:16, 17). Dan is daar ook “’n groot menigte” “ander skape” wat geloof in Jesus se vergote bloed beoefen en ’n regverdige posisie geniet sodat hulle vriende van God kan wees en Armageddon kan oorlewe.—Openbaring 7:9; 16:14, 16; Johannes 10:16; Jakobus 2:23, 25.
33, 34. (a) Van watter hartverblydende eienskap van Jehovah leer ons? (b) Wie is “die menigte” onder wie die Messiaanse Kneg “’n deel” ontvang?
33 Jesaja beskryf uiteindelik die oorwinnings van die Messias: “Daarom sal ek hom ’n deel onder die menigte gee, en saam met die magtiges sal hy die buit verdeel, omdat hy sy siel in die dood uitgestort het en saam met die oortreders getel is; en hy het die sonde van baie gedra, en vir die oortreders het hy tussenbeide getree.”—Jesaja 53:12.
34 Die laaste woorde van hierdie deel van Jesaja se profesie vestig die aandag op ’n eienskap van Jehovah wat die hart verbly: Hy waardeer diegene wat aan hom lojaal bly. Dit word getoon deur die belofte dat hy die Messiaanse Kneg “’n deel onder die menigte [sal] gee”. Hierdie woorde word blykbaar afgelei van die gebruik om oorlogsbuit te verdeel. Jehovah waardeer die lojaliteit van “die menigte” getroues van die ou tyd, onder meer Noag, Abraham en Job, en hy het vir hulle “’n deel” in sy komende nuwe wêreld opsygesit (Hebreërs 11:13-16). Hy sal net so ook ’n deel aan sy Messiaanse Kneg gee. Ja, Jehovah sal nie sy onkreukbaarheid onbeloon laat bly nie. Ons kan ook gerus wees in die wete dat Jehovah nie ‘ons werk sal vergeet en die liefde wat ons vir sy naam toon’ nie.—Hebreërs 6:10.
35. Wie is “die magtiges” met wie Jesus die buit deel, en wat is die buit?
35 God se Kneg sal ook oorlogsbuit verkry wanneer hy die oorwinning oor sy vyande behaal. Hy sal hierdie buit met “die magtiges” deel. Wie is “die magtiges” in die vervulling? Hulle is die eerste dissipels van Jesus wat soos hy die wêreld oorwin het—die 144000 lede van “die Israel van God” (Galasiërs 6:16; Johannes 16:33; Openbaring 3:21; 14:1). Wat is die buit dan? Dit sluit klaarblyklik die “gawes in die vorm van mense” in, wat Jesus as ’t ware uit Satan se greep ruk en aan die Christengemeente gee (Efesiërs 4:8-12). Die 144000 “magtiges” word ook ’n deel van ’n ander buit gegee. Omdat hulle die wêreld oorwin, sorg hulle dat Satan geen rede het om God uit te tart nie. Hulle onverbreeklike toegewydheid aan Jehovah verheerlik hom en maak sy hart bly.
36. Het Jesus geweet dat hy die profesie oor God se Kneg vervul? Verduidelik.
36 Jesus het geweet dat hy die profesie oor God se Kneg vervul. Die nag toe hy gearresteer is, het hy die woorde in Jesaja 53:12 aangehaal en op homself toegepas: “Ek sê vir julle dat wat geskrywe staan, in my volbring moet word, naamlik: ‘En hy is saam met wetteloses gereken.’ Want wat op my betrekking het, word nou volbring” (Lukas 22:36, 37). Ongelukkig is Jesus wel soos ’n wettelose persoon behandel. Hy is as ’n wetsoortreder tereggestel en is tussen twee rowers aan die paal gehang (Markus 15:27). En tog was hy bereid om hierdie smaad te dra omdat hy goed geweet het dat hy vir ons tussenbeide tree. Hy het as ’t ware tussen sondaars en die voltrekking van die doodsvonnis gaan staan en self die doodslag gekry.
37. (a) Wat help die geskiedkundige verslag van Jesus se lewe en dood ons om vas te stel? (b) Waarom moet ons dankbaar wees teenoor Jehovah God en teenoor sy verheerlikte Kneg, Jesus Christus?
37 Die geskiedkundige verslag van Jesus se lewe en dood help ons om hom onmiskenbaar te identifiseer: Jesus Christus is die Messiaanse Kneg van Jesaja se profesie. Hoe dankbaar moet ons tog wees dat Jehovah gewillig was dat sy geliefde Seun die profetiese rol van die Kneg vervul en dat hy ly en sterf sodat ons uit sonde en die dood vrygekoop kon word! Sodoende het Jehovah groot liefde aan ons bewys. Romeine 5:8 sê: “Hierin beveel God sy eie liefde by ons aan, dat Christus vir ons gesterf het terwyl ons nog sondaars was.” Hoe dankbaar moet ons tog wees teenoor Jesus Christus, die verheerlikte Kneg, wat gewillig was om sy siel in die dood uit te stort!
[Voetnote]
a In J. F. Stenning se vertaling van die Targoem van Jonatan ben Ussiël (eerste eeu G.J.) sê Jesaja 52:13: “Kyk, my kneg, die Gesalfde (of, die Messias), sal voorspoedig wees.” Die Babiloniese Talmoed (c. derde eeu G.J.) sê ook: “Die Messias—wat is sy naam? . . . [; dié] van die huis van Rabbi [sê: Die sieke], soos daar gesê word: ‘Hy het sekerlik ons siektes gedra.’”—Sanhedrin 98b; Jesaja 53:4.
b Die profeet Miga het na Betlehem verwys as die een “wat te klein is om onder die duisende van Juda te wees” (Miga 5:2). En tog het die kleine Betlehem die sonderlinge eer gehad om die dorp te wees waar die Messias gebore is.
c Die Hebreeuse woord wat as “met ’n plaag getref” vertaal word, word ook in verband met melaatsheid gebruik (2 Konings 15:5). Volgens sekere geleerdes het party Jode uit Jesaja 53:4 die idee gekry dat die Messias melaats sou wees. Die Babiloniese Talmoed pas hierdie vers op die Messias toe en noem hom “die melaatse geleerde”. Die Katolieke Douay Version vertaal hierdie vers soos die Latynse Vulgaat en sê: “Ons het hom as ’t ware as ’n melaatse beskou.”
[Tabel op bladsy 212]
JEHOVAH SE KNEG
Hoe Jesus die rol vervul het
PROFESIE GEBEURTENIS VERVULLING
Jes. 52:13 Verhoog en Hand 2:34-36; Fil. 2:8-11;
verhef 1 Pet. 3:22
Jes. 52: 14 Verkeerd uitgebeeld Matt. 11:19;
Jes. 52: 15 Sal baie nasies Matt. 24:30;
laat skrik 2 Tess. 1: 6-10; Op. 1:7
Jes. 53:1 Nie in hom geloof Joh. 12:37, 38;
gestel nie Rom. 10: 11, 16, 17
Jes. 53:2 Menslike begin beskeie Luk. 2:7; Joh. 1:46
en eenvoudig
Jes. 53:3 Verag en verwerp Matt. 26: 67;
Jes. 53:4 Het ons siektes Matt. 8: 16, 17;
gedra Luk. 8: 43-48
Jes. 53:5 Deurboor Joh. 19:34
Jes. 53:6 Het vir die oortredings 1 Pet. 2: 21- 25
van ander gely
Jes. 53:7 Het stilgebly en nie Matt. 27: 11-14;
voor sy aanklaers Mark. 14:60, 61;
gekla nie Hand. 8:32, 35
Jes. 53:8 Onregverdig verhoor Matt. 26:57-68; 27:1, 2, 11-26;
en veroordeel Joh. 18:12-14, 19-24, 28-40
Jes. 53:9 By die rykes Matt. 27: 57-60;
begrawe Joh. 19: 38-42
Jes. 53:10 Siel ’n skuldoffer Heb. 9:24; 10:5-14
gemaak
Jes. 53:11 Weg gebaan sodat Rom. 5: 18, 19;
baie ’n regverdige 1 Pet. 2: 24;
posisie kan kry Op. 7:14
Jes. 53: 12 Saam met sondaars Matt. 26: 55, 56; 27: 38;
getel Luk. 22: 36, 37
[Prent op bladsy 203]
‘Hy is deur die mense verag’
[Prent op bladsy 206]
‘Hy het nie sy mond oopgemaak nie’
[Erkenning]
Detail van “Ecce Homo” deur Antonio Ciseri
[Prent op bladsy 211]
‘Hy het sy siel in die dood uitgestort’
-