Hoofstuk vyftien
Die onvrugbare vrou is bly
1. Waarom wou Sara baie graag kinders hê, en wat het sy in hierdie verband ondervind?
SARA wou baie graag kinders hê. Ongelukkig was sy onvrugbaar, en dit het haar baie hartseer gemaak. In haar dag was dit ’n skande om onvrugbaar te wees, maar daar was meer by Sara se hartseer betrokke. Sy wou baie graag sien dat God se belofte aan haar man vervul word. Abraham sou die vader van ’n saad word wat ’n seën vir al die families van die aarde sou wees (Genesis 12:1-3). Maar dekades nadat God daardie belofte gemaak het, was daar nog steeds nie ’n kind nie. Sara het oud geword en kinderloos gebly. Soms het sy dalk gewonder of haar hoop tevergeefs was. Maar een dag het haar wanhoop in vreugde verander!
2. Waarom moet die profesie wat in Jesaja hoofstuk 54 opgeteken is, ons belangstelling wek?
2 Sara se probleem help ons om die profesie te verstaan wat in Jesaja hoofstuk 54 opgeteken is. Daar word Jerusalem aangespreek asof dit ’n onvrugbare vrou is wat die groot vreugde ervaar om baie kinders te hê. Deur sy eertydse volk as ’n groep as sy vrou voor te stel, toon Jehovah sy tere gevoelens teenoor hulle. Hierdie hoofstuk van Jesaja help ons ook om ’n belangrike aspek van wat die Bybel ’n “heilige geheim” noem, te ontrafel (Romeine 16:25, 26). Die identiteit van die “vrou” en haar ondervindinge wat in hierdie profesie voorspel word, werp belangrike lig op hedendaagse suiwer aanbidding.
Die identiteit van die “vrou”
3. Waarom sal die onvrugbare vrou rede tot vreugde hê?
3 Hoofstuk 54 begin op ’n blye noot: “‘Roep met vreugde uit, onvrugbare vrou wat nie geboorte gegee het nie! Word vrolik met vreugdegeroep en juig, jy wat geen geboortepyne gehad het nie, want die kinders van die verlate vrou is talryker as die kinders van die vrou met ’n eggenoot-eienaar’, het Jehovah gesê” (Jesaja 54:1). Hoe bly moet Jesaja tog wees om hierdie woorde te kan uitspreek! En hoe vertroostend sal die vervulling daarvan tog wees vir die Jode wat in ballingskap in Babilon is! Jerusalem sal op daardie tyd nog woes lê. Uit ’n menslike standpunt sal daar skynbaar geen hoop wees dat die stad ooit weer bevolk sal word nie, net soos ’n onvrugbare vrou gewoonlik nie kan hoop om op haar oudag kinders te baar nie. Maar ’n groot seëning lê vir hierdie “vrou” voor—sy sal vrugbaar word. Jerusalem sal oorloop van vreugde. Sy sal weer wemel van “kinders”, of inwoners.
4. (a) Hoe help die apostel Paulus ons om te sien dat Jesaja hoofstuk 54 ’n groter vervulling as die een in 537 v.G.J. moet hê? (b) Wat is die “Jerusalem daar bo”?
4 Jesaja weet dit dalk nie, maar sy profesie sal meer as een vervulling hê. Die apostel Paulus haal uit Jesaja hoofstuk 54 aan en verduidelik dat die “vrou” iets beteken wat baie belangriker is as die aardse stad Jerusalem. Hy skryf: “Die Jerusalem daar bo is vry, en sy is ons moeder” (Galasiërs 4:26). Wat is hierdie “Jerusalem daar bo”? Klaarblyklik nie die stad Jerusalem in die Beloofde Land nie. Daardie stad is ’n aardse stad, nie “daar bo” in die hemelse ryk nie. Die “Jerusalem daar bo” is God se hemelse “vrou”, sy organisasie van magtige geesskepsele.
5. Wie word, in die simboliese drama wat in Galasiërs 4:22-31 geskets word, afgebeeld deur (a) Abraham? (b) Sara? (c) Isak? (d) Hagar? (e) Ismael?
5 Maar hoe kan Jehovah twee simboliese vrouens hê—een in die hemel en een op aarde? Is dit ’n teenstrydigheid? Glad nie. Die apostel Paulus toon dat die antwoord in die profetiese afbeelding lê wat deur Abraham se familie voorsien is (Galasiërs 4:22-31; sien “Abraham se familie—’n profetiese afbeelding”, op bladsy 218). Sara, “die vry vrou” en Abraham se vrou, beeld Jehovah se gemalinorganisasie van geesskepsele af. Hagar, ’n slavin en Abraham se sekondêre vrou, of byvrou, beeld die aardse Jerusalem af.
6.In watter opsig was God se hemelse organisasie lank onvrugbaar?
6 Met hierdie agtergrond kan ons die groot betekenis van Jesaja 54:1 begin sien. Ná dekades van onvrugbaarheid het Sara aan Isak geboorte gegee toe sy 90 jaar oud was. So ook was Jehovah se hemelse organisasie lank onvrugbaar. Destyds in Eden het Jehovah belowe dat sy “vrou” die “saad” sou voortbring (Genesis 3:15). Meer as 2000 jaar later het Jehovah sy verbond oor die Saad van die belofte met Abraham gesluit. Maar God se hemelse “vrou” moes nog eeue lank wag voordat sy daardie Saad kon voortbring. Nogtans het die tyd aangebreek dat die kinders van hierdie eens “onvrugbare vrou” meer as dié van vleeslike Israel was. Die illustrasie van die “onvrugbare vrou” help ons om te sien waarom die engele so gretig was om die koms van die voorspelde Saad te sien (1 Petrus 1:12). Wanneer het dit uiteindelik plaasgevind?
7. Wanneer het die “Jerusalem daar bo” rede tot vreugde gehad, soos in Jesaja 54:1 voorspel is, en waarom sê jy so?
7 Jesus se geboorte as ’n menslike kind was beslis vir die engele ’n rede tot groot vreugde (Lukas 2:9-14). Maar dit was nie die gebeurtenis wat in Jesaja 54:1 voorspel is nie. Eers toe Jesus in 29 G.J. met heilige gees verwek is, het hy ’n geestelike seun van die “Jerusalem daar bo” geword en is hy in die openbaar deur God self as sy “Seun, die geliefde” erken (Markus 1:10, 11; Hebreërs 1:5; 5:4, 5). Tóé het God se hemelse “vrou” rede tot vreugde gehad, ter vervulling van Jesaja 54:1. Uiteindelik het sy die beloofde Saad, die Messias, voortgebring! Haar eeue lange onvrugbaarheid was verby. Maar dit is nie al waaroor sy vreugdevol sou wees nie.
Baie kinders vir die onvrugbare vrou
8. Waarom het God se hemelse “vrou” rede tot vreugde gehad nadat sy die beloofde Saad voortgebring het?
8 Ná Jesus se dood en opstanding het God se hemelse “vrou” hierdie geliefde Seun met vreugde as “die eersgeborene uit die dode” terugontvang (Kolossense 1:18). Toe het sy nog meer geestelike kinders begin voortbring. Op Pinkster 33 G.J. is omtrent 120 van Jesus se volgelinge met heilige gees gesalf, waardeur hulle as Christus se mede-erfgename aangeneem is. Later daardie dag is nog 3 000 bygevoeg (Johannes 1:12; Handelinge 1:13-15; 2:1-4, 41; Romeine 8:14-16). Hierdie groep kinders het aangehou om toe te neem. Gedurende die vroeë eeue van die Christendom se afvalligheid het die momentum van die groei drasties afgeneem. Maar dit sou in die 20ste eeu verander.
9, 10. Wat sou die opdrag om ‘die plek van die tent wyer te maak’, vir ’n vrou beteken wat in die ou tyd in tente gewoon het, en waarom is dit ’n vreugdevolle tyd vir so ’n vrou?
9 Jesaja profeteer verder oor ’n tyd van merkwaardige groei: “Maak die plek van jou tent wyer. En laat hulle die tentdoeke van jou grootse woning uitspan. Moenie terughou nie. Verleng jou tenttoue en maak jou tentpenne sterk. Want jy sal regs en links uitbreek, en jou nageslag sal selfs nasies in besit neem, en hulle sal selfs die verwoeste stede bewoon. Moenie bang wees nie, want jy sal nie beskaamd gemaak word nie; en moenie verneder voel nie, want jy sal nie teleurgestel word nie. Want jy sal selfs die skaamte van jou jeug vergeet, en aan die smaad van jou voortdurende weduweeskap sal jy nie meer dink nie.”—Jesaja 54:2-4.
10 Hier word Jerusalem aangespreek asof sy ’n vrou en moeder is wat, net soos Sara, in tente woon. Wanneer so ’n moeder met ’n groeiende gesin geseën word, is dit tyd dat sy haar huis moet vergroot. Sy moet langer tentdoeke en -toue span en moet die tentpenne in hulle nuwe plekke inslaan. Dit is werk wat haar bly maak, en in so ’n besige tyd kan sy maklik die jare vergeet toe sy angstig gewonder het of sy ooit kinders sou hê om die geslagslyn voort te sit.
11. (a) Hoe is God se hemelse “vrou” in 1914 geseën? (Sien voetnoot.) (b) Watter seëning het die gesalfdes op aarde van 1919 af ervaar?
11 Die aardse Jerusalem is ná die Babiloniese ballingskap met so ’n tyd van hernuwing geseën. Die “Jerusalem daar bo” het selfs groter seëninge geniet.a Veral van 1919 af het haar gesalfde “nageslag” in hulle pas herstelde geestelike toestand gefloreer (Jesaja 61:4; 66:8). Hulle het ‘nasies in besit geneem’ deurdat hulle na baie ander lande uitgegaan het om almal wat van hulle geestelike gesin deel wou word, te soek. Gevolglik was daar ’n geweldige toename in die insameling van die gesalfde kinders. Hulle volle getal van 144000 is blykbaar die een of ander tyd in die middel-1930’s bereik (Openbaring 14:3). Toe was die predikingswerk nie meer op die insameling van die gesalfdes toegespits nie. Maar uitbreiding het nie by die gesalfdes opgehou nie.
12. Wie is, buiten die gesalfdes, sedert die 1930’s in die Christengemeente versamel?
12 Jesus self het voorspel dat hy, buiten sy “klein kuddetjie” gesalfde broers, ook “ander skape” sal hê wat in die kudde ware Christene ingebring sal moet word (Lukas 12:32; Johannes 10:16). Hoewel hulle nie onder die gesalfde kinders van die “Jerusalem daar bo” tel nie, vervul hierdie getroue metgeselle van die gesalfdes ’n belangrike profetiese rol wat lank gelede voorspel is (Sagaria 8:23). Van die 1930’s af tot vandag toe is ’n “groot menigte” van hulle al ingesamel, wat tot ongekende uitbreiding in die Christengemeente gelei het (Openbaring 7:9, 10). Vandag bestaan daardie groot menigte uit miljoene lede. Al hierdie uitbreiding het ’n dringende behoefte aan meer Koninkryksale, Byeenkomssale en takkantore laat ontstaan. Jesaja se woorde lyk toepasliker as ooit tevore. Wat ’n voorreg is dit tog om ’n deel van hierdie voorspelde uitbreiding te wees!
’n Moeder wat vir haar kinders sorg
13, 14. (a) Watter skynbare probleem is daar met party van die uitdrukkings wat tot God se hemelse “vrou” gerig word? (b) Watter insig kan ons kry deur die manier waarop God gesinsverhoudings as illustrasie gebruik?
13 Ons het gesien dat die “vrou” in die profesie in die grotere vervulling Jehovah se hemelse organisasie voorstel. Maar nadat ons Jesaja 54:4 gelees het, wonder ons dalk hoe daardie organisasie van geesskepsele ooit skaamte of smaad ervaar het. Die volgende verse sê dat God se “vrou” verwerp, geteister en aangeval sal word. Sy sal haar selfs God se verontwaardiging op die hals haal. Hoe kan sulke dinge van toepassing wees op ’n organisasie van volmaakte geesskepsele wat nog nooit gesondig het nie? Die antwoord lê in die aard van die gesin.
14 Jehovah gebruik gesinsverhoudings—man en vrou, moeder en kinders—om diep geestelike waarhede oor te dra omdat sulke simbole vir mense betekenis het. Ongeag ons ondervinding in die gesinslewe, ons het waarskynlik ’n idee van wat ’n goeie huwelik of ’n goeie verhouding tussen ’n ouer en ’n kind behoort te wees. Hoe duidelik leer Jehovah ons dus dat hy ’n hartlike, intieme vertrouensverhouding met sy groot menigtes geesknegte het! En op watter indrukwekkende wyse leer hy ons tog dat sy hemelse organisasie vir sy geesgesalfde kinders op aarde sorg! Wanneer die menslike knegte ly, ly die getroue hemelse knegte, die “Jerusalem daar bo” ook. Jesus het eweneens gesê: “Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie [geesgesalfde] broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.”—Matteus 25:40.
15, 16. Wat is die eerste vervulling van Jesaja 54:5, 6, en wat is die grotere vervulling?
15 Dit is dus nie verbasend dat baie van die dinge wat aan Jehovah se hemelse “vrou” gesê word, die ondervindinge van haar kinders op aarde weerspieël nie. Beskou byvoorbeeld hierdie woorde: “‘Jou Grootse Maker is jou eggenoot-eienaar, Jehovah van die leërs is sy naam; en die Heilige van Israel is jou Terugkoper. Die God van die hele aarde sal hy genoem word. Want Jehovah het jou geroep asof jy ’n vrou was wat heeltemal verlate en gekrenk in gees is, en soos ’n vrou van die jeug wat toe verwerp is’, het jou God gesê.”—Jesaja 54:5, 6.
16 Wie is die vrou wat hier aangespreek word? In die eerste vervulling is dit Jerusalem, wat God se volk voorstel. Gedurende hulle ballingskap van 70 jaar in Babilon sal hulle voel asof Jehovah hulle verwerp en heeltemal verlaat het. In die grotere vervulling verwys die woorde na die “Jerusalem daar bo” en haar ondervinding om uiteindelik die “saad” ter vervulling van Genesis 3:15 voort te bring.
Kortstondige dissipline, ewige seëninge
17. (a) Hoe sal die aardse Jerusalem “’n vloed” van Goddelike verontwaardiging ervaar? (b) Watter “vloed” het die kinders van die “Jerusalem daar bo” ervaar?
17 Die profesie gaan voort: “‘Vir ’n kort oomblikkie het ek jou heeltemal verlaat maar met groot barmhartighede sal ek jou bymekaarbring. In ’n vloed van verontwaardiging het ek my aangesig vir net ’n oomblik vir jou verberg, maar met liefderyke goedhartigheid tot onbepaalde tyd sal ek jou barmhartig wees’, het jou Terugkoper, Jehovah, gesê” (Jesaja 54:7, 8). Die aardse Jerusalem word deur “’n vloed” van God se verontwaardiging oorstroom wanneer die Babiloniese magte in 607 v.G.J. aanval. Die 70 jaar in ballingskap lyk dalk na ’n lang tyd. Maar hierdie ontberinge duur maar “net ’n oomblik” wanneer dit vergelyk word met die ewige seëninge wat vir diegene voorlê wat op die dissipline ag slaan. Op dieselfde manier het die gesalfde kinders van die “Jerusalem daar bo” gevoel asof hulle deur “’n vloed” van Goddelike toorn oorweldig is toe Jehovah toegelaat het dat hulle op die aanstigting van Babilon die Grote deur politieke elemente aangeval word. Maar hoe kort van duur het daardie dissipline later gelyk, vergeleke met die tydperk van geestelike seëninge sedert 1919!
18. Watter belangrike beginsel kan ons leer omtrent Jehovah se toorn oor sy volk, en hoe kan dit ons persoonlik raak?
18 Hierdie verse noem ’n ander groot waarheid—God se toorn is kort van duur, maar sy barmhartigheid duur vir ewig. Sy woede brand teen oortreding, maar dit is altyd beheers, altyd doeltreffend. En as ons Jehovah se dissipline aanvaar, duur sy woede “net ’n oomblik” en bedaar dan. Dit word vervang deur sy “groot barmhartighede”—sy vergewensgesindheid en sy liefderyke goedhartigheid, wat “tot onbepaalde tyd” duur. Wanneer ons dan ’n sonde begaan, moet ons nooit huiwer om berou te toon en sake met God te probeer regstel nie. As dit ’n ernstige sonde is, moet ons onmiddellik die gemeentelike ouer manne nader (Jakobus 5:14). Dissipline sal moontlik nodig wees, en dit kan moeilik wees om te aanvaar (Hebreërs 12:11). Maar dit sal kortstondig wees wanneer dit vergelyk word met die ewige seëninge wat die gevolg is wanneer ons Jehovah God se vergifnis ontvang!
19, 20. (a) Wat is die reënboogverbond, en hoe is dit van toepassing op die ballinge in Babilon? (b) Watter versekering gee die “vredesverbond” vir gesalfde Christene vandag?
19 Jehovah bied nou hierdie vertroostende gerusstelling aan sy volk: “‘Dit is vir my net soos die dae van Noag. Net soos ek gesweer het dat die waters van Noag nie weer oor die aarde sal gaan nie, so het ek gesweer dat ek nie verontwaardig teenoor jou sal raak of jou sal bestraf nie. Want die berge kan verwyder word en die heuwels kan wankel, maar my liefderyke goedhartigheid sal nie van jou verwyder word nie en my vredesverbond sal nie wankel nie’, het Jehovah, die Een wat jou barmhartig is, gesê” (Jesaja 54:9, 10). Ná die Vloed het God ’n verbond—wat soms die reënboogverbond genoem word—met Noag en alle ander lewende siele gesluit. Jehovah het belowe dat hy nooit weer deur middel van ’n wêreldwye vloed vernietiging oor die aarde sal bring nie (Genesis 9:8-17). Wat beteken dit vir Jesaja en sy volk?
20 Dit is vertroostend om te weet dat hulle die straf wat hulle opgelê is—die 70 jaar van ballingskap in Babilon—net een keer sal moet verduur. Wanneer dit verby is, sal dit vir goed verby wees. Daarna sal God se “vredesverbond” van krag wees. Die Hebreeuse woord vir “vrede” dra nie net die gedagte van die afwesigheid van oorlog nie, maar ook van algemene welstand. Van God se kant af is hierdie verbond permanent. Die heuwels en berge sal eerder verdwyn as dat sy liefderyke goedhartigheid teenoor sy getroue volk tot ’n einde sal kom. Ongelukkig sal sy aardse nasie op die ou end nie hulle kant van die verbond nakom nie, en hulle sal hulle eie vrede vernietig deur die Messias te verwerp. Die kinders van die “Jerusalem daar bo” het egter veel beter gevaar. Toe hulle moeilike tyd van dissipline verby was, was hulle verseker van Goddelike beskerming.
Die geestelike veiligheid van God se volk
21, 22. (a) Waarom kan daar gesê word dat die “Jerusalem daar bo” geteister en deur storms heen en weer geslinger is? (b) Wat sal die geseënde toestand van God se hemelse “vrou” omtrent haar “nageslag” op aarde aandui?
21 Jehovah voorspel verder veiligheid vir sy getroue volk: “O geteisterde vrou, deur storms heen en weer geslinger, ongetroos, kyk, ek lê jou stene met harde messelklei, en ek sal jou fondament met saffiere lê. En ek sal jou kantele van robyne maak en jou poorte van vurig gloeiende stene en al jou grense van pragtige stene. En al jou kinders sal persone wees wat deur Jehovah geleer word, en die vrede van jou kinders sal oorvloedig wees. Jy sal stewig bevestig wees in regverdigheid. Jy sal ver wees van onderdrukking—want jy sal niemand vrees nie—en van enigiets skrikwekkends, want dit sal nie naby jou kom nie. As iemand jou enigsins aanval, sal dit nie op my bevel wees nie. Enigiemand wat jou aanval, sal weens jou val.”—Jesaja 54:11-15.
22 Jehovah se “vrou” in die geesteryk is natuurlik nooit direk geteister of deur storms heen en weer geslinger nie. Maar sy het gely toe haar gesalfde “nageslag” op aarde gely het, veral toe hulle gedurende 1918-19 in geestelike gevangenskap was. Wanneer die hemelse “vrou” verheerlik word, weerspieël dit aan die ander kant ’n soortgelyke toestand onder haar nageslag. Kyk net na die pragtige beskrywing van die “Jerusalem daar bo”. Die edelstene aan die poorte, die duur “harde messelklei”, die fondamente en selfs die grense wys, soos een naslaanwerk sê, op “prag, luister, suiwerheid, sterkte en duursaamheid”. Wat sal gesalfde Christene tot so ’n veilige en geseënde toestand bring?
23. (a) Watter uitwerking het die feit dat hulle “deur Jehovah geleer” is, gedurende die laaste dae op gesalfde Christene gehad? (b) In watter sin is God se volk geseën met “grense van pragtige stene”?
23 Vers 13 van Jesaja hoofstuk 54 gee die antwoord—almal sal “deur Jehovah geleer” word. Jesus self het die woorde van hierdie vers op sy gesalfde volgelinge toegepas (Johannes 6:45). Die profeet Daniël het voorspel dat die gesalfdes gedurende hierdie “tyd van die einde” met ’n oorvloed ware kennis en geestelike insig geseën sou word (Daniël 12:3, 4). Hierdie insig het hulle in staat gestel om aan die spits van die grootste opvoedkundige werk in die geskiedenis te staan en Goddelike onderrigting oor die hele aarde te versprei (Matteus 24:14). Terselfdertyd het hierdie insig hulle gehelp om die verskil tussen ware en valse godsdiens te sien. Jesaja 54:12 praat van “grense van pragtige stene”. Sedert 1919 het Jehovah die gesalfdes gehelp om die grense—die lyne van geestelike afbakening—wat hulle van valse godsdiens en goddelose elemente van die wêreld afskei, al hoe beter te verstaan (Esegiël 44:23; Johannes 17:14; Jakobus 1:27). Hulle is dus afgeskeie as God se eie volk.—1 Petrus 2:9.
24. Hoe kan ons verseker dat ons deur Jehovah geleer word?
24 Elkeen van ons kan ons dus gerus afvra: ‘Word ek deur Jehovah geleer?’ Ons ontvang hierdie onderrigting nie outomaties nie. Dit verg inspanning. As ons God se Woord gereeld lees en daaroor peins, en as ons onderrig word deur die Bybellektuur te lees wat deur “die getroue en verstandige slaaf” uitgegee word en deur vir Christelike vergaderinge voor te berei en dit by te woon, sal ons inderdaad deur Jehovah geleer word (Matteus 24:45-47). As ons probeer toepas wat ons leer en geestelik wakker en waaksaam bly, sal Goddelike onderrigting ons laat uitstaan as anders as die mense in hierdie goddelose wêreld (1 Petrus 5:8, 9). Nog beter, dit sal ons help om ‘nader aan God te kom’.—Jakobus 1:22-25; 4:8.
25. Wat beteken God se belofte van vrede vir sy volk in hedendaagse tye?
25 Jesaja se profesie toon ook dat die gesalfdes met oorvloedige vrede geseën word. Beteken dit dat hulle nooit aangeval word nie? Nee, maar God verseker hulle dat sulke aanvalle nooit op sy bevel sal plaasvind nie en dat hy nooit sal toelaat dat dit suksesvol is nie. Ons lees: “‘Kyk! Ek het die vakman geskep wat die houtskoolvuur aanblaas en ’n wapen as sy werk voortbring. Ek het ook die verderwer vir verwoestingswerk geskep. Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie, en elke tong wat in die gereg teen jou sal opstaan, sal jy veroordeel. Dit is die erfbesitting van die knegte van Jehovah, en hulle regverdigheid is uit my’, is die woord van Jehovah.”—Jesaja 54:16, 17.
26. Waarom is dit gerusstellend om te weet dat Jehovah die Skepper van die hele mensdom is?
26 Jehovah herinner sy volk vir die tweede keer in hierdie hoofstuk van Jesaja dat hy die Skepper is. Hy vertel sy simboliese vrou vroeër dat hy haar “Grootse Maker” is. Nou sê hy dat hy die Skepper van die hele mensdom is. Vers 16 beskryf ’n metaalwerker wat op die kole van sy smeltoond blaas terwyl hy sy wapens van vernietiging maak, sowel as ’n krygsman, ’n “verderwer vir verwoestingswerk”. Sulke manne lyk miskien vir hulle medemens skrikwekkend, maar hoe kan hulle enigsins hoop om oor hulle Skepper die oorhand te kry? Selfs wanneer die kragtigste magte in hierdie wêreld Jehovah se volk vandag aanval, sal hulle geen kans op uiteindelike sukses hê nie. Hoe kan dit wees?
27, 28. Waarvan kan ons seker wees gedurende hierdie moeilike tye, en waarom weet ons dat Satan se aanvalle teen ons nie suksesvol sal wees nie?
27 Die tyd vir ’n vernietigende aanval teen God se volk en teen hulle aanbidding met gees en waarheid is verby (Johannes 4:23, 24). Jehovah het een aanval deur Babilon die Grote toegelaat wat tydelik suksesvol was. Die “Jerusalem daar bo” het vir ’n oomblik gesien hoe haar nageslag amper stilgemaak word toe die predikingswerk op aarde bykans tot stilstand gekom het. Nooit weer nie! Nou verheug sy haar oor haar kinders, want hulle is, in geestelike sin, onoorwinlik (Johannes 16:33; 1 Johannes 5:4). Ja, daar is al aanvalswapens teen hulle gesmee, en dit sal weer gebeur (Openbaring 12:17). Maar dit was nie suksesvol nie, en sal ook nie suksesvol wees nie. Satan het geen wapen wat die geloof en brandende ywer van die gesalfdes en hulle metgeselle kan blus nie. Hierdie geestelike vrede is “die erfbesitting van die knegte van Jehovah”, en daarom kan niemand dit met geweld van hulle wegneem nie.—Psalm 118:6; Romeine 8:38, 39.
28 Nee, niks wat Satan se wêreld kan doen, sal ooit ’n einde maak aan die werk en blywende rein aanbidding van God deur sy toegewyde knegte nie. Die gesalfde nageslag van die “Jerusalem daar bo” is grootliks deur hierdie versekering vertroos. Dit geld ook vir lede van die groot menigte. Hoe meer ons leer van Jehovah se hemelse organisasie en van hoe dit met Sy aardse aanbidders handel, hoe sterker sal ons geloof wees. Solank ons geloof sterk is, sal Satan se wapens nutteloos wees in die stryd teen ons!
[Voetnote]
a Volgens Openbaring 12:1-17 is God se “vrou” grootliks geseën deurdat sy geboorte gegee het aan ’n uiters belangrike “nageslag”—nie ’n enkele geesseun nie, maar die Messiaanse Koninkryk in die hemel. Hierdie geboorte het in 1914 plaasgevind. (Sien Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, bladsye 177-86.) Jesaja se profesie vestig die aandag op die vreugde wat sy ervaar as gevolg van God se seën op haar gesalfde kinders op aarde.
[Venster op bladsy 218, 219]
Abraham se familie—’n Profetiese afbeelding
Die apostel Paulus het verduidelik dat Abraham se familie as ’n simboliese drama dien, ’n profetiese afbeelding van Jehovah se verhouding met sy hemelse organisasie en met die aardse nasie Israel onder die Mosaïese Wetsverbond.—Galasiërs 4:22-31.
Abraham, as gesinshoof, verteenwoordig Jehovah God. Abraham se bereidwilligheid om sy geliefde seun Isak op te offer, beeld Jehovah se bereidwilligheid af om sy eie geliefde Seun vir die mensdom se sondes op te offer.—Genesis 22:1-13; Johannes 3:16.
Sara beeld God se hemelse “vrou”, sy organisasie van geesskepsele, af. Daardie hemelse organisasie word tereg as Jehovah se vrou beskryf, want sy het ’n noue verbintenis met Jehovah, is onderdanig aan sy hoofskap en werk ten volle saam om sy voornemens uit te voer. Sy word ook die “Jerusalem daar bo” genoem (Galasiërs 4:26). Dieselfde “vrou” word in Genesis 3:15 genoem, en sy word in ’n visioen in Openbaring 12:1-6, 13-17 beskryf.
Isak stel die geestelike Saad van God se vrou voor. Dit is hoofsaaklik Jesus Christus. Maar die saad het later ook Christus se gesalfde broers ingesluit, wat as geestelike kinders aangeneem word en mede-erfgename met Christus word.—Romeine 8:15-17; Galasiërs 3:16, 29.
Hagar, Abraham se sekondêre vrou, of byvrou, was ’n slavin. Dit is gepas dat sy aardse Jerusalem afbeeld, waar die Mosaïese Wet geheers het, wat getoon het dat almal wat daaronder was, slawe van sonde en die dood was. Paulus het gesê: “Hagar beteken Sinai, ’n berg in Arabië”, want die Wetsverbond is daar ingestel.—Galasiërs 3:10, 13; 4:25.
Ismael, Hagar se seun, beeld die eerste-eeuse Jode af, die kinders van Jerusalem wat nog in slawerny aan die Mosaïese Wet was. Soos Ismael vir Isak vervolg het, het hierdie Jode die Christene vervolg, wat gesalfde kinders van die figuurlike Sara, die “Jerusalem daar bo”, was. En net soos Abraham Hagar en Ismael weggestuur het, het Jehovah Jerusalem en haar opstandige kinders uiteindelik verwerp.—Matteus 23:37, 38.
[Prent op bladsy 220]
Ná Jesus se doop is hy met heilige gees gesalf en het die belangrikste vervulling van Jesaja 54:1 begin
[Prent op bladsy 225]
Jehovah het sy aangesig “vir net ’n oomblik” van Jerusalem verberg
[Prente op bladsy 231]
Kan die krygsman en die metaalwerker oor hulle Skepper die oorhand kry?