Hoofstuk agt
Jehovah God is in sy heilige tempel
1, 2. (a) Wanneer ontvang die profeet Jesaja sy visioen van die tempel? (b) Waarom het koning Ussia Jehovah se guns verloor?
“IN DIE jaar dat koning Ussia gesterf het, het ek Jehovah op ’n hoë en verhewe troon sien sit, en die onderste deel van sy kleed het die tempel gevul” (Jesaja 6:1). Met hierdie woorde van die profeet begin die 6de hoofstuk van die boek Jesaja. Dit is die jaar 778 v.G.J.
2 Ussia se heerskappy van 52 jaar as die koning van Juda was oor die algemeen baie suksesvol. Hy het gedoen “wat reg was in Jehovah se oë” en het gevolglik God se steun in sy militêre ekspedisies, bouwerk en landbouprojekte geniet. Maar op die ou end het sy sukses ook sy ondergang beteken. Sy hart het uiteindelik hoogmoedig geword, “sodat hy ontrou gehandel het teenoor Jehovah sy God en in die tempel van Jehovah ingegaan het om reukwerk . . . te brand”. As gevolg van hierdie aanmatigende daad en sy woede teen die priesters wat hom bestraf het, het Ussia as ’n melaatse gesterf (2 Kronieke 26:3-22). Dit was omtrent in hierdie tyd dat Jesaja sy profetiese werk begin doen het.
3. (a) Sien Jesaja werklik vir Jehovah? Verduidelik. (b) Watter toneel sien Jesaja, en waarom?
3 Ons word nie vertel waar Jesaja is wanneer hy die visioen sien nie. Maar dit is baie duidelik dat dit ’n visioen is wat hy met sy fisiese oë sien en dat hy nie werklik die Almagtige sien nie, want “geen mens het God ooit gesien nie” (Johannes 1:18; Eksodus 33:20). Dit is nogtans iets ontsagwekkends om die Skepper, Jehovah, selfs in ’n visioen te sien. Op ’n verhewe troon, wat sy rol as ewige Koning en Regter afbeeld, sit die Universele Heerser en Bron van alle regmatige heerskappy! Die onderste deel van sy lang gewaad vul die tempel. Jesaja word vir ’n profetiese diens geroep wat Jehovah se soewereine mag en geregtigheid sal verheerlik. Ter voorbereiding daarvoor sal hy ’n visioen van God se heiligheid ontvang.
4. (a) Waarom moet beskrywings van Jehovah wat in visioene gesien is en in die Bybel opgeteken staan simbolies wees? (b) Wat leer ons uit Jesaja se visioen oor Jehovah?
4 In sy visioen gee Jesaja nie ’n beskrywing van Jehovah se voorkoms nie. In hierdie opsig is dit anders as die visioene van Esegiël, Daniël en Johannes. En daardie verslae verskil almal wat betref die dinge wat in die hemel gesien word (Esegiël 1:26-28; Daniël 7:9, 10; Openbaring 4:2, 3). Maar die aard en doel van daardie visioene moet in gedagte gehou word. Hulle is nie letterlike beskrywings van Jehovah se teenwoordigheid nie. Die fisiese oog kan nie geestelike dinge sien nie, en die beperkte menslike verstand kan ook nie die geesteryk verstaan nie. Daarom gee hierdie visioene die inligting wat oorgedra moet word in menslike terme weer. (Vergelyk Openbaring 1:1.) In Jesaja se visioen is ’n beskrywing van God se voorkoms nie nodig nie. Die visioen toon aan Jesaja dat Jehovah in sy heilige tempel is, dat hy heilig is en dat sy oordele suiwer is.
Die serafs
5. (a) Wie is die serafs, en wat beteken die woord? (b) Waarom verberg hulle hulle gesig en hulle voete?
5 Luister! Jesaja gaan voort: “Serafs het bo hom gestaan. Elkeen het ses vlerke gehad. Met twee vlerke het hy sy gesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy rondgevlieg” (Jesaja 6:2). Jesaja hoofstuk 6 is die enigste plek in die Bybel waar serafs genoem word. Hulle is klaarblyklik hoogs bevoorregte en geëerde engeleskepsele in Jehovah se diens, aangesien hulle rondom Jehovah se hemelse troon staan. Anders as die trotse koning Ussia bly hulle in alle nederigheid en beskeidenheid in hulle posisie. Omdat hulle in die teenwoordigheid van die hemelse Soewerein is, bedek hulle hulle gesig met een stel vlerke; uit eerbied vir die heilige plek waar hulle staan, bedek hulle hulle voete met ’n ander stel vlerke. Naby die Universele Soewerein is die serafs selfs meer beskeie, sodat hulle nie die aandag van God se heerlikheid aftrek nie. Die woord “serafs”, wat “vuriges” of “brandendes” beteken, impliseer dat hulle helder skyn, en tog verberg hulle hulle gesig vir die groter glans en heerlikheid van Jehovah.
6. Watter posisie het die serafs in verhouding tot Jehovah?
6 Die serafs gebruik hulle derde stel vlerke om te vlieg en ongetwyfeld om in hulle plek in die lug te bly, of te ‘staan’. (Vergelyk Deuteronomium 31:15.) Oor hulle posisie sê professor Franz Delitzsch: “Die serafim sou beslis nie uittoring bo die kop van die Een wat op die troon sit nie, maar hulle het in die lug gehang bo Sy gewaad wat die saal gevul het” (Commentary on the Old Testament). Dit klink redelik. Hulle ‘staan bo’, nie omdat hulle Jehovah se meerderes is nie, maar omdat hulle hom dien, gehoorsaam en gereed vir diens.
7. (a) Watter toewysing het die serafs? (b) Waarom verklaar die serafs God se heiligheid drie keer?
7 Luister nou na daardie bevoorregte serafs! “Die een het die ander toegeroep en gesê: ‘Heilig, heilig, heilig is Jehovah van die leërs. Die volheid van die hele aarde is sy heerlikheid’” (Jesaja 6:3). Hulle toewysing is om toe te sien dat Jehovah se heiligheid verklaar word en dat sy heerlikheid erken word in die ganse heelal, waarvan die aarde ’n deel is. Sy heerlikheid word gesien in alles wat hy geskep het en sal binnekort deur al die bewoners van die aarde onderskei word (Numeri 14:21; Psalm 19:1-3; Habakuk 2:14). Die drievoudige verklaring, “heilig, heilig, heilig”, is nie ’n bewys van ’n Drie-eenheid nie. Dit is eerder ’n drievoudige beklemtoning van God se heiligheid. (Vergelyk Openbaring 4:8.) Jehovah is heilig in die hoogste graad.
8. Wat is die gevolg van die serafs se verklarings?
8 Hoewel die aantal serafs nie genoem word nie, is daar moontlik groepe serafs wat naby die troon staan. Hulle sing ’n pragtige lied en herhaal die een ná die ander die verklaring van God se heiligheid en heerlikheid. Wat het dit tot gevolg? Luister weer eens wanneer Jesaja voortgaan: “Die spille in die drumpels het begin tril van die stem van die een wat roep, en die huis het geleidelik vol rook geword” (Jesaja 6:4). In die Bybel gee rook of ’n wolk dikwels sigbare bewys van God se teenwoordigheid (Eksodus 19:18; 40:34, 35; 1 Konings 8:10, 11; Openbaring 15:5-8). Dit dui op ’n heerlikheid waaraan ons as mense nie naby kan kom nie.
Onwaardig, maar tog gereinig
9. (a) Watter uitwerking het die visioen op Jesaja? (b) Watter kontras kan tussen Jesaja en koning Ussia gesien word?
9 Hierdie visioen van Jehovah se troon het ’n diepgaande uitwerking op Jesaja. Hy sê: “Ek het gesê: ‘Wee my! Want ek is so goed as tot swye gebring, want ’n man onrein van lippe is ek, en ek woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, Jehovah van die leërs, gesien!’” (Jesaja 6:5). Wat ’n skerp kontras is daar tog tussen Jesaja en koning Ussia! Ussia het hom die posisie van die gesalfde priesters toegeëien en oneerbiedig in die Heilige van die tempel ingegaan. Hoewel Ussia die goue lampstaanders, die goue reukaltaar en die tafels van “die brood van Teenwoordigheid” gesien het, het hy nie Jehovah se goedkeuring weggedra of enige spesiale opdrag van hom gekry nie (1 Konings 7:48-50; voetnoot in naslaanuitgawe). Maar Jesaja verontagsaam nie die priesterdom of oortree nie in die tempel nie. En tog sien hy ’n visioen van Jehovah in sy heilige tempel en word hy vereer met ’n direkte opdrag van God. Al veroorloof die serafs hulle nie die reg om na die Heer van die tempel op sy troon te kyk nie, word Jesaja toegelaat om in ’n visioen na “die Koning, Jehovah van die leërs”, te kyk!
10. Waarom is Jesaja bevrees wanneer hy die visioen sien?
10 Die kontras wat Jesaja tussen God se heiligheid en sy eie sondigheid sien, laat hom uiters onrein voel. Hy word met vrees vervul en dink dat hy gaan sterf (Eksodus 33:20). Hy hoor hoe die serafs God met rein lippe loof, maar sy eie lippe is onrein en word verder besoedel deur die onreinheid van die lippe van die volk waaronder hy woon en wie se woorde hy hoor. Jehovah is heilig, en sy knegte moet daardie eienskap weerspieël (1 Petrus 1:15, 16). Hoewel Jesaja reeds as ’n woordvoerder vir God gekies is, besef hy in watter sondige toestand hy werklik is en dat hy nie die rein lippe het wat by ’n woordvoerder van die glorieryke en heilige Koning pas nie. Wat sal die reaksie uit die hemel wees?
11. (a) Wat doen een van die serafs, en wat simboliseer hierdie daad? (b) Hoe kan dit ons help as ons nadink oor wat die seraf vir Jesaja sê wanneer ons onwaardig voel om God se knegte te wees?
11 Die serafs verdryf nie die nederige Jesaja uit Jehovah se teenwoordigheid nie, maar tree op om hom te help. Die verslag sê: “Daarop het een van die serafs na my toe gevlieg, en in sy hand was ’n gloeiende kool wat hy met ’n tang van die altaar af geneem het. En hy het my mond aangeraak en gesê: ‘Kyk! Dit het jou lippe aangeraak, en jou dwaling het gewyk en jou sonde is versoen’” (Jesaja 6:6, 7). In ’n simboliese sin het vuur reinigende krag. Wanneer die seraf Jesaja se lippe met die gloeiende kool uit die heilige vuur van die altaar aanraak, verseker hy Jesaja dat daar genoegsame versoening gedoen is vir sy sondes sodat hy God se guns en ’n godgegewe opdrag kan ontvang. Hoe gerusstellend is dit tog vir ons! Ons is ook sondig en onwaardig om God te nader. Maar ons is losgekoop deur die waarde van Jesus se losprysoffer en kan God se guns ontvang en hom in gebed nader.—2 Korintiërs 5:18, 21; 1 Johannes 4:10.
12. Watter altaar sien Jesaja, en wat het die vuur tot gevolg?
12 Ons word weer eens daaraan herinner dat dit ’n visioen is wanneer ons van “die altaar” lees. (Vergelyk Openbaring 8:3; 9:13.) Daar was twee altare in die tempel in Jerusalem. Net voor die voorhangsel van die Allerheiligste was die klein reukaltaar en voor die ingang na die heiligdom was die groot offeraltaar, waarop die vuur voortdurend aan die brand gehou is (Levitikus 6:12, 13; 16:12, 13). Maar hierdie aardse altare was sinnebeeldig en het groter dinge verteenwoordig (Hebreërs 8:5; 9:23; 10:5-10). Dit was vuur uit die hemel wat die brandoffer op die altaar verteer het toe die tempel deur koning Salomo ingewy is (2 Kronieke 7:1-3). En nou is dit vuur van die ware, hemelse altaar wat die onreinheid van Jesaja se lippe verwyder.
13. Watter vraag stel Jehovah, en wie sluit hy in wanneer hy “ons” sê?
13 Kom ons luister saam met Jesaja. “Ek het die stem van Jehovah begin hoor wat sê: ‘Wie sal ek stuur, en wie sal vir ons gaan?’ En ek het gesê: ‘Hier is ek! Stuur my’” (Jesaja 6:8). Die vraag wat Jehovah stel, is klaarblyklik bedoel om ’n reaksie by Jesaja uit te lok, want geen ander menseprofeet verskyn in die visioen nie. Dit is ongetwyfeld ’n uitnodiging vir Jesaja om Jehovah se boodskapper te wees. Maar waarom vra Jehovah: “Wie sal vir ons gaan?” Deur van die enkelvoudige persoonlike voornaamwoord “ek” oor te skakel na die meervoudige voornaamwoord “ons”, sluit Jehovah nou ten minste een ander persoon in. Wie was dit? Was dit nie sy enigverwekte Seun, wat later die mens Jesus Christus geword het nie? Trouens, dit was dieselfde Seun vir wie God gesê het: “Laat ons mense maak na ons beeld” (Genesis 1:26; Spreuke 8:30, 31). Ja, langs Jehovah in die hemelse hof is sy enigverwekte Seun.—Johannes 1:14.
14. Hoe reageer Jesaja op Jehovah se uitnodiging, en watter voorbeeld stel hy vir ons?
14 Jesaja huiwer nie om te antwoord nie! Ongeag wat die boodskap is, hy antwoord onmiddellik: “Hier is ek! Stuur my.” Hy vra ook nie wat hy sal kry as hy die toewysing aanvaar nie. Sy gewillige gees is ’n uitstekende voorbeeld vir al God se hedendaagse knegte, wat die opdrag het om die ‘goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig’ (Matteus 24:14). Soos Jesaja voer hulle hulle toewysing getrou uit en ‘verkondig hulle die goeie nuus aan al die nasies’, ondanks die feit dat min mense daaraan gehoor gee. En hulle gaan met vertroue vooruit, soos Jesaja gedoen het, omdat hulle weet dat hulle opdrag van die hoogste gesag af kom.
Jesaja se opdrag
15, 16. (a) Wat moet Jesaja vir “hierdie volk” sê, en hoe sal hulle reageer? (b) Is die reaksie van die volk te wyte aan enige fout van Jesaja? Verduidelik.
15 Jehovah sê nou vir Jesaja wat hy moet sê en wat die reaksie sal wees: “Gaan, en jy moet vir hierdie volk sê: ‘Hoor keer op keer, maar moenie verstaan nie; en sien keer op keer, maar moenie enige kennis verkry nie.’ Maak die hart van hierdie volk onontvanklik, en maak hulle ore ongevoelig, en plak hulle oë toe, sodat hulle nie met hulle oë sien en met hulle ore hoor nie, en sodat hulle hart nie verstaan nie en sodat hulle nie terugdraai en vir hulle genesing verkry nie” (Jesaja 6:9, 10). Beteken dit dat Jesaja kortaf en ongevoelig moet wees en die Jode moet afstoot, sodat hulle in onguns by Jehovah bly? Beslis nie! Hulle is Jesaja se eie volk vir wie hy lief is. Maar Jehovah se woorde toon hoe die mense op sy boodskap sal reageer, ongeag hoe getrou Jesaja sy taak uitvoer.
16 Die fout lê by die mense. Jesaja sal “keer op keer” met hulle praat, maar hulle sal nie op die boodskap ag slaan of begrip verkry nie. Die meeste sal koppig en onontvanklik wees, asof hulle heeltemal blind en doof is. Deur herhaaldelik na hulle toe te gaan, laat Jesaja “hierdie volk” toon dat hulle nie wil verstaan nie. Hulle sal bewys dat hulle hulle verstande en harte sluit vir Jesaja se boodskap—God se boodskap—aan hulle. Hoe waar is dit tog vandag van mense! Baie van hulle weier om na Jehovah se Getuies te luister wanneer hulle die goeie nuus van God se komende Koninkryk verkondig.
17. Wat bedoel Jesaja wanneer hy vra: “Hoe lank”?
17 Jesaja is besorg: “Hierop het ek gesê: ‘Hoe lank, o Jehovah?’ Toe het hy gesê: ‘Totdat die stede in puin stort, om sonder inwoner te wees, en die huise sonder ’n mens is en die land verwoes is tot ’n woesteny, en Jehovah die mens ver verwyder, en die verlate toestand baie uitgebreid raak in die land’” (Jesaja 6:11, 12). Wanneer Jesaja vra: “Hoe lank?” vra hy nie hoe lank hy vir ’n onontvanklike volk sal moet aanhou preek nie. Hy is eerder besorg oor die volk en vra hoe lank hulle slegte geestelike toestand sal voortduur en hoe lank Jehovah se naam op die aarde gesmaad sal word. (Sien Psalm 74:9-11.) Hoe lank sal hierdie sinnelose situasie dan voortduur?
18. Tot wanneer sal die slegte geestelike toestand van die volk voortduur, en sal Jesaja die profesie se algehele vervulling gedurende sy lewe sien?
18 Jehovah se antwoord toon dat die slegte geestelike toestand van die volk sal voortduur tot die gevolge van ongehoorsaamheid aan God, soos dit in sy verbond uiteengesit is, ten volle oor hulle gekom het (Levitikus 26:21-33; Deuteronomium 28:49-68). Hoe jammer tog! Die nasie sal verpletter word, die volk sal weggevoer word en die land sal woes lê. Hoewel Jesaja meer as 40 jaar lank sal profeteer, tot in die heerskappy van koning Ussia se agterkleinseun Hiskia, sal hy nie gedurende sy lewe sien hoe die Babiloniërs Jerusalem en sy tempel in 607 v.G.J. vernietig nie. Nogtans sal Jesaja tot sy dood, meer as 100 jaar voor daardie nasionale ramp plaasvind, sy opdrag getrou uitvoer.
19. Watter versekering gee God vir Jesaja, al gaan die nasie soos ’n boom afgekap word?
19 ’n Vernietiging wat Juda ‘tot ’n woesteny sal verwoes’, gaan beslis kom, maar die situasie is nie hopeloos nie (2 Konings 25:1-26). Jehovah verseker Jesaja: “Daar sal nog ’n tiende daarin wees, en dit sal weer iets word wat verbrand moet word, soos ’n groot boom en soos ’n yslike boom waarvan daar, wanneer dit afgekap word, ’n stomp oorbly; ’n heilige saad sal die stomp daarvan wees” (Jesaja 6:13). Ja, “’n tiende . . . , ’n heilige saad”, sal oorbly, net soos die stomp van ’n enorme boom wat afgekap is. Hierdie versekering vertroos Jesaja ongetwyfeld—’n heilige oorblyfsel sal onder sy volk gevind word. Hoewel die nasie herhaaldelik verbrand word, soos ’n groot boom wat vir brandhout afgekap word, sal ’n lewende stomp van die simboliese boom van Israel oorbly. Dit sal ’n saad, of nageslag, wees wat heilig is vir Jehovah. Mettertyd sal dit weer uitspruit, en die boom sal weer groei.—Vergelyk Job 14:7-9; Daniël 4:26.
20. Hoe is die laaste deel van Jesaja se profesie oorspronklik vervul?
20 Is die woorde van die profesie bewaarheid? Ja. Sewentig jaar ná die land van Juda vernietig is, het ’n godvresende oorblyfsel uit ballingskap in Babilon teruggekeer. Hulle het die tempel en die stad herbou, en hulle het ware aanbidding in die land herstel. Hierdie herstelling van die Jode in hulle godgegewe vaderland het ’n tweede vervulling van hierdie profesie wat Jehovah aan Jesaja gegee het moontlik gemaak. Wat sou dit wees?—Esra 1:1-4.
Ander vervullings
21-23. (a) In wie is Jesaja se profesie in die eerste eeu vervul, en hoe? (b) Wie was die “heilige saad” in die eerste eeu, en hoe is dit bewaar?
21 Jesaja se profetiese taak het die werk voorafgeskadu wat die Messias, Jesus Christus, sowat 800 jaar later sou doen (Jesaja 8:18; 61:1, 2; Lukas 4:16-21; Hebreërs 2:13, 14). Hoewel hy groter was as Jesaja, was Jesus net so gewillig om deur sy hemelse Vader gestuur te word. Hy het gesê: “Kyk! Ek het gekom om u wil te doen.”—Hebreërs 10:5-9; Psalm 40:6-8.
22 Soos Jesaja het Jesus die werk wat hy gekry het getrou uitgevoer en dieselfde reaksie gekry. Die Jode van Jesus se dag was net so onwillig om die boodskap te aanvaar as dié vir wie die profeet Jesaja gepreek het (Jesaja 1:4). ’n Kenmerk van Jesus se bediening was sy gebruik van illustrasies. Dit het sy dissipels laat vra: “Waarom praat u met hulle deur illustrasies te gebruik?” Jesus het geantwoord: “Aan julle word dit gegee om die heilige geheime van die koninkryk van die hemele te verstaan, maar aan daardie mense word dit nie gegee nie. Daarom praat ek met hulle deur illustrasies te gebruik, want hulle kyk, maar hulle kyk tevergeefs, en hulle hoor, maar hulle hoor tevergeefs, en ook begryp hulle nie die sin daarvan nie; en oor hulle gaan die profesie van Jesaja in vervulling, wat sê: ‘Deur te hoor, sal julle hoor, maar hoegenaamd nie die sin daarvan begryp nie; en deur te kyk, sal julle kyk, maar hoegenaamd nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het onontvanklik geword, en met hulle ore het hulle gehoor sonder om te reageer, en hulle het hulle oë gesluit; sodat hulle nooit met hulle oë sou sien en met hulle ore sou hoor en met hulle hart die sin daarvan sou begryp en terugdraai en ek hulle genees nie.’”—Matteus 13:10, 11, 13-15; Markus 4:10-12; Lukas 8:9, 10.
23 Deur uit Jesaja aan te haal, het Jesus getoon dat die profesie ook in sy dag vervul word. Die volk as ’n geheel het ’n hartstoestand gehad soos dié van die Jode in Jesaja se dag. Hulle het hulle blind en doof gehou vir sy boodskap en is ook vernietig (Matteus 23:35-38; 24:1, 2). Dit het gebeur toe die Romeinse magte onder generaal Titus in 70 G.J. teen Jerusalem opgetrek het en die stad en sy tempel vernietig het. Maar party het na Jesus geluister en sy dissipels geword. Jesus het hulle “gelukkig” genoem (Matteus 13:16-23, 51). Hy het vir hulle gesê dat hulle ‘na die berge moet begin vlug’ wanneer hulle sien dat “Jerusalem deur leërkampe omsingel” is (Lukas 21:20-22). Die “heilige saad” wat geloof beoefen het en wat tot ’n geestelike nasie, “die Israel van God”, gevorm is, is dus gered.a—Galasiërs 6:16.
24. Hoe het Paulus Jesaja se profesie toegepas, en waarop dui dit?
24 Ongeveer 60 G.J. het die apostel Paulus hom in Rome in huisarres bevind. Daar het hy gereël om “die vernaamste manne van die Jode” en ander te ontmoet en het hy ‘deeglik vir hulle getuig aangaande die koninkryk van God’. Toe baie nie sy boodskap wou aanneem nie, het Paulus verduidelik dat dit ter vervulling van Jesaja se profesie was (Handelinge 28:17-27; Jesaja 6:9, 10). Jesus se dissipels het dus ’n opdrag uitgevoer wat soortgelyk was aan dié van Jesaja.
25. Wat het hedendaagse Getuies van God besef, en hoe reageer hulle daarop?
25 Jehovah se Getuies besef eweneens vandag dat Jehovah God in sy heilige tempel is (Maleagi 3:1). Soos Jesaja sê hulle: “Hier is ek! Stuur my.” Hulle is ywerige verkondigers van die waarskuwingsboodskap aangaande die naderende einde van hierdie goddelose stelsel van dinge. Maar soos Jesus gesê het, maak min mense hulle oë en ore oop sodat hulle kan sien en hoor en gered kan word (Matteus 7:13, 14). Diegene wat hulle harte daartoe neig om te luister en “vir hulle genesing verkry”, is voorwaar gelukkig!—Jesaja 6:8, 10.
[Voetnote]
a In 66 G.J. het Romeinse leërs onder Cestius Gallus Jerusalem as gevolg van ’n Joodse opstand omsingel en die stad tot by die tempelmure binnegedring. Toe het hulle teruggetrek, wat Jesus se dissipels in staat gestel het om na die berge van Perea te vlug voordat die Romeine in 70 G.J. teruggekeer het.
[Prent op bladsy 94]
“Hier is ek! Stuur my.”
[Prent op bladsy 97]
“Totdat die stede in puin stort, om sonder inwoners te wees”