Hoofstuk agtien
Jehovah laat die gees van die nederiges herlewe
1. Watter versekering het Jehovah gegee, en watter vrae ontstaan weens sy woorde?
“SÓ HET die Hoë en Verhewene, wat tot in ewigheid woon en wie se naam heilig is, gesê: ‘In die hoogte en in die heilige plek woon ek, asook by die verbryselde en nederige van gees, om die gees van die nederiges te laat herlewe en om die hart van die verbryseldes te laat herlewe’” (Jesaja 57:15). Die profeet Jesaja het hierdie woorde in die agtste eeu v.G.J. opgeteken. Wat het in Juda gebeur wat hierdie boodskap so aanmoedigend gemaak het? Hoe help hierdie geïnspireerde woorde Christene vandag? ’n Bespreking van Jesaja hoofstuk 57 sal ons help om hierdie vrae te beantwoord.
“Kom nader hierheen”
2. (a) Wanneer is die woorde van Jesaja hoofstuk 57 blykbaar van toepassing? (b) Wat is die situasie van regverdiges in Jesaja se dag?
2 Hierdie deel van Jesaja se profesie is blykbaar op Jesaja se eie dag van toepassing. Kyk net hoe diepgewortel het goddeloosheid nou geword: “Die regverdige het omgekom, maar niemand neem dit ter harte nie. En mense van liefderyke goedhartigheid word weggeruk in die dood, terwyl niemand besef dat dit weens die rampspoed is dat die regverdige weggeruk is nie. Hy gaan die vrede in; hulle rus op hulle beddens, elkeen wat reguit loop” (Jesaja 57:1, 2). As ’n regverdige man val, gee niemand om nie. Sy ontydige dood word nie eers opgelet nie. As hy sterf, bring dit vir hom vrede, verlossing van die lyding wat die goddeloses oor hom bring, en ontkoming aan rampspoed. God se uitverkore volk het in ’n betreurenswaardige toestand verval. Maar dié wat getrou bly, word sekerlik aangemoedig deur die wete dat Jehovah nie net sien wat gebeur nie, maar dat hy hulle sal ondersteun!
3. Hoe spreek Jehovah die goddelose geslag van Juda aan, en waarom?
3 Jehovah roep die goddelose geslag van Juda nader en sê: “Wat julle betref, kom nader hierheen, o kinders van ’n waarsegster, die saad van ’n egbreker en ’n vrou wat prostitusie pleeg” (Jesaja 57:3). Hulle verdien beslis die skandelike beskrywings, soos kinders van ’n waarsegster en die nageslag van ’n egbreker en van ’n prostituut. Die valse aanbidding wat hulle begin beoefen het, sluit afskuwelike dade van afgodediens en spiritisme in sowel as onsedelike gebruike. Daarom vra Jehovah hierdie sondaars: “Oor wie het julle soveel plesier? Teen wie bly julle die mond wyd oopmaak, bly julle die tong uitsteek? Is julle nie die kinders van oortreding, ’n leuenagtige saad nie, dié wat die hartstog prikkel onder groot bome, onder elke blaarryke boom, wat die kinders in die stroomvalleie onder die skeure van die kranse slag?”—Jesaja 57:4, 5.
4. Waaraan is die goddeloses van Juda skuldig?
4 Die goddeloses van Juda beoefen hulle skokkende heidense aanbidding openlik, en dit verskaf hulle baie “plesier”. Met minagting bespot hulle God se profete wat gestuur is om hulle reg te help, en in ’n skaamtelose, oneerbiedige gebaar steek hulle hulle tong uit. Hoewel hulle kinders van Abraham is, is hulle kinders van oortreding en ’n leuenagtige saad weens hulle opstandige weë (Jesaja 1:4; 30:9; Johannes 8:39, 44). Onder die groot bome op die platteland wek hulle godsdiensywer op in hulle afgodiese aanbidding. En hoe wreed is hierdie aanbidding tog! Hulle slag selfs hulle eie kinders, soos die nasies wie se afstootlike weë daartoe gelei het dat Jehovah hulle uit die land verdryf het!—1 Konings 14:23; 2 Konings 16:3, 4; Jesaja 1:29.
Hulle giet ’n drankoffer vir klippe uit
5, 6. (a) Wat het die inwoners van Juda gekies om te doen, pleks van om Jehovah te aanbid? (b) Hoe blatant en wydverspreid is afgodediens in Juda?
5 Kyk hoe diep het die inwoners van Juda by afgodediens betrokke geraak: “By die gladde klippe van die stroomvallei was jou deel. Hulle—hulle was jou lot. Daarbenewens het jy vir hulle ’n drankoffer uitgegiet, ’n gawe gebring. Sal ek my weens hierdie dinge troos?” (Jesaja 57:6). Die Jode is God se verbondsvolk, en tog tel hulle klippe uit die rivierbedding op en maak gode daarvan, pleks van hom te aanbid. Dawid het gesê dat Jehovah sy deel was, maar hierdie sondaars het lewelose afgode van klip gekies om hulle deel te wees en giet drankoffers vir hulle uit (Psalm 16:5; Habakuk 2:19). Hoe kan sulke verdorwe aanbidding deur sy naamvolk Jehovah vertroos?
6 Juda beoefen oral afgodediens—onder groot bome, in stroomvalleie, op heuwels, in hulle stede. Maar Jehovah sien dit alles, en deur Jesaja stel Hy hulle verdorwenheid bloot: “Op ’n hoë en verhewe berg het jy jou bed gesit. Ook het jy daarheen opgeklim om offerandes te bring. En agter die deur en die deurpos het jy jou gedenkteken gesit” (Jesaja 57:7, 8a). Op die hoogtes maak Juda hulle bed van geestelike onreinheid, en daar bring hulle offers aan vreemde gode.a Daar staan selfs afgode agter die deure en deurposte van huise.
7. In watter gees neem Juda aan onsedelike aanbidding deel?
7 Party wonder dalk waarom Juda so betrokke geraak het by onrein aanbidding. Het die een of ander sterker mag hulle gedwing om Jehovah te verlaat? Die antwoord is nee. Hulle doen dit gewillig, gretig. Jehovah sê: “Weg van my het jy jou ontbloot en opgeklim; jy het jou bed ruim gemaak. En jy het vir jou ’n verbond met hulle gesluit. Jy het ’n bed saam met hulle liefgehad. Die manlike orgaan het jy aanskou” (Jesaja 57:8b). Juda het ’n verbond gesluit met hierdie valse gode en is lief vir die ongeoorloofde verhouding met hulle. Hulle hou veral van die onsedelike gebruike—waarby die gebruik van falliese simbole waarskynlik betrokke is—wat die aanbidding van hierdie gode kenmerk!
8. Onder watter koning in die besonder het afgodediens in Juda gefloreer?
8 Die beskrywing van die uiters onsedelike, wrede afgodediens pas by wat ons van etlike van die goddelose konings van Juda weet. Manasse het byvoorbeeld die hoogtes opgebou, altare vir Baäl opgerig en altare vir valse aanbidding in twee voorhowe van die tempel gesit. Hy het sy seuns deur die vuur laat gaan, die toorkuns beoefen, van waarsêery gebruik gemaak en spiritistiese gebruike bevorder. Koning Manasse het ook die gesnede beeld van die heilige paal wat hy gemaak het, in Jehovah se tempel gesit.b Hy het Juda verlei om “meer kwaad te doen as die nasies wat Jehovah . . . verdelg het” (2 Konings 21:2-9). Party is van mening dat Manasse Jesaja laat doodmaak het, hoewel Manasse se naam nie in Jesaja 1:1 verskyn nie.
‘Jy het aangehou om jou gesante te stuur’
9. Waarom stuur Juda gesante “ver weg”?
9 Juda se oortreding gaan verder as om net valse gode te dien. Jehovah gebruik Jesaja as sy woordvoerder en sê: “Jy het na Meleg afgedaal met olie en jou salwe oorvloedig bly maak. En jy het aangehou om jou gesante ver weg te stuur, sodat jy sake tot Sjeool verlaag het” (Jesaja 57:9). Die ontroue koninkryk van Juda gaan af na “Meleg”, “die koning” in Hebreeus—waarskynlik die koning van ’n vreemde moondheid—en bied vir hom duur en pragtige geskenke aan, wat deur olie en geparfumeerde salf voorgestel word. Juda stuur gesante na afgeleë plekke. Waarom? Om heidense nasies te oorreed om politieke bande met hulle te smee. Noudat hulle hulle rug op Jehovah gedraai het, stel hulle hulle vertroue in vreemde konings.
10. (a) Hoe soek koning Agas ’n bondgenootskap met die koning van Assirië? (b) Op watter manier ‘verlaag Juda sake tot Sjeool’?
10 Een voorbeeld hiervan is in die dae van koning Agas. Omdat hierdie ontroue koning van Juda bedreig voel deur ’n bondgenootskap tussen Israel en Sirië, stuur hy boodskappers na Tiglat-Pileser III van Assirië wat sê: “Ek is u kneg en u seun. Trek op en red my uit die palm van die koning van Sirië en uit die palm van die koning van Israel, wat teen my opstaan.” Agas stuur silwer en goud as ’n omkoopgeskenk aan die koning van Assirië en die koning reageer daarop deur ’n verwoestende aanval teen Sirië te doen (2 Konings 16:7-9). In hulle handelinge met die heidense nasies verlaag Juda hulleself tot “diep na die doderyk toe” (Afrikaanse Bybel, 1953). As gevolg van hierdie handelinge sal hulle sterf, of ophou om as ’n onafhanklike nasie met ’n koning te bestaan.
11. Hoe toon Juda dat hulle ’n valse gevoel van veiligheid het?
11 Jehovah praat verder met Juda: “In die menigte van jou weë het jy geswoeg. Jy het nie gesê: ‘Dit is hopeloos!’ nie. Jy het ’n herlewing van jou krag gevind. Daarom het jy nie siek geword nie” (Jesaja 57:10). Ja, die nasie het hard gewerk in hulle afvallige weë, en hulle sien nie dat hulle pogings tevergeefs is nie. Inteendeel, hulle maak hulleself wys dat hulle in hulle eie krag sukses behaal. Hulle voel sterk en gesond. Hoe dwaas tog!
12. Watter toestande in die Christendom is dieselfde as dié in Juda?
12 Vandag is daar ’n organisasie wie se gedrag ons aan Juda in Jesaja se dag herinner. Die Christendom gebruik die naam van Jesus, maar streef bondgenootskappe met die nasies na en het hulle plekke van aanbidding met afgode gevul. Hulle aanhangers sit afgodsbeelde selfs in hulle eie huise. Die Christendom het hulle jongmense in die oorloë van die nasies opgeoffer. Hoe aanstootlik moet dit alles tog vir die ware God wees, wat Christene beveel: “Vlug vir die afgodediens”! (1 Korintiërs 10:14). Deur by die politiek betrokke te raak, het die Christendom ‘met die konings van die aarde hoerery gepleeg’ (Openbaring 17:1, 2). Om die waarheid te sê, sy is ’n groot ondersteuner van die Verenigde Nasies. Wat lê vir hierdie godsdienshoer voor? Wel, wat sê Jehovah vir haar voorafskaduwing, die ontroue Juda, veral soos dit deur die hoofstad, Jerusalem, afgebeeld word?
‘Jou versamelde goed sal jou nie verlos nie’
13. Hoe het Juda begin “lieg”, en hoe reageer hulle op Jehovah se geduld?
13 “Vir wie het jy bang en bevrees geword, sodat jy begin lieg het?” vra Jehovah. ’n Goeie vraag! Juda toon beslis geen heilsame, godvrugtige vrees vir Jehovah nie. Andersins sou hulle nie ’n nasie van leuenaars, aanbidders van valse gode, geword het nie. Jehovah sê verder: “Aan my het jy nie gedink nie. Jy het niks ter harte geneem nie. Het ek nie stilgebly en sake verborge gehou nie? Jy het mý dus nie eens gevrees nie” (Jesaja 57:11). Jehovah het stilgebly en Juda nie onmiddellik gestraf nie. Waardeer Juda dit? Nee, hulle beskou God se verdraagsaamheid eerder as ’n gebrek aan belangstelling. Hulle het alle vrees vir hom verloor.
14, 15. Wat sê Jehovah van Juda se werke en hulle “versamelde goed”?
14 Maar die tyd van God se lankmoedigheid sal tot ’n einde kom. Jehovah praat van daardie tyd wanneer hy sê: “Ek sal jou regverdigheid en jou werke bekend maak, dat hulle jou geen voordeel sal bring nie. Wanneer jy om hulp roep, sal jou versamelde goed jou nie verlos nie, maar ’n wind sal hulle almal wegvoer. ’n Asemstoot sal hulle wegneem” (Jesaja 57:12, 13a). Jehovah sal Juda se geveinsde regverdigheid blootlê. Hulle huigelagtige werke sal van geen nut wees nie. Hulle “versamelde goed”, al hulle afgode, sal hulle nie verlos nie. Wanneer onheil oor hulle kom, sal die gode waarop hulle vertrou, deur ’n blote windjie weggewaai word.
15 Jehovah se woorde word in 607 v.G.J. vervul. Dit is wanneer die Babiloniese koning Nebukadnesar Jerusalem vernietig, die tempel verbrand en die meeste van die volk gevange neem. “So het Juda uit sy land in ballingskap gegaan.”—2 Konings 25:1-21.
16. Wat wag op die Christendom en die res van “Babilon die Grote”?
16 Al die Christendom se afgode sal hulle eweneens nie in die dag van Jehovah se toorn verlos nie (Jesaja 2:19-22; 2 Tessalonisense 1:6-10). Die Christendom sal saam met die res van “Babilon die Grote”—die wêreldryk van valse godsdiens—vernietig word. Die simboliese skarlakenkleurige wilde dier en sy tien horings “sal [Babilon die Grote] verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand” (Openbaring 17:3, 16, 17). Hoe bly is ons tog dat ons gehoorsaam was aan die gebod: “Gaan uit haar uit, my volk, as julle nie met haar in haar sondes wil deel nie, en as julle geen deel van haar plae wil ontvang nie”! (Openbaring 18:4, 5). Mag ons nooit na haar of haar weë terugkeer nie.
“Wie sy toevlug tot my neem, sal die land beërf”
17. Watter belofte word gemaak aan die een wat ‘sy toevlug tot Jehovah neem’, en wanneer word dit verwesenlik?
17 Maar wat van die volgende woorde van Jesaja se profesie? “Wie sy toevlug tot my neem, sal die land beërf en sal my heilige berg in besit neem” (Jesaja 57:13b). Met wie praat Jehovah nou? Hy kyk verby die komende vernietiging en voorspel die bevryding van sy volk uit Babilon en die herstelling van rein aanbidding op sy heilige berg, Jerusalem (Jesaja 66:20; Daniël 9:16). Wat ’n bron van aanmoediging moet dit vir alle Jode wees wat getrou bly! Jehovah sê verder: “Daar sal beslis gesê word: ‘Vul op, vul op! Baan die weg. Verwyder elke hindernis uit die pad van my volk’” (Jesaja 57:14). Wanneer die tyd kom vir God om sy volk te verlos, sal die weg gereed wees, en al die hindernisse sal uit die pad verwyder wees.—2 Kronieke 36:22, 23.
18. Hoe word Jehovah se verhewenheid beskryf, en watter liefdevolle besorgdheid lê hy nogtans aan die dag?
18 Nou sê Jesaja die woorde wat aan die begin aangehaal is: “Só het die Hoë en Verhewene, wat tot in ewigheid woon en wie se naam heilig is, gesê: ‘In die hoogte en in die heilige plek woon ek, asook by die verbryselde en nederige van gees, om die gees van die nederiges te laat herlewe en om die hart van die verbryseldes te laat herlewe’” (Jesaja 57:15). Jehovah se troon is in die hoogste hemele. Daar is geen hoër of meer verhewe posisie nie. Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat hy van daar af alles sien—nie net die sondes van die goddeloses nie, maar ook die regverdige dade van dié wat hom probeer dien! (Psalm 102:19; 103:6). Daarbenewens hoor hy die gekreun van die onderdruktes en laat hy die hart van die verbryseldes herlewe. Hierdie woorde moes die harte van berouvolle Jode in die ou tyd geraak het. Dit raak beslis vandag ons harte.
19. Wanneer kom Jehovah se verontwaardiging tot ’n einde?
19 Jehovah se verdere woorde is ook vertroostend: “Ek sal nie tot onbepaalde tyd twis nie, en ook sal ek nie vir altyd verontwaardig wees nie; want weens my sou die gees swak word, ja, die skepsele wat asemhaal wat ek gemaak het” (Jesaja 57:16). Nie een van God se skepsele sou kon bly leef as Jehovah se toorn permanent, sonder einde, was nie. Maar gelukkig duur God se verontwaardiging net vir ’n beperkte tyd. Wanneer dit sy doel bereik het, kom dit tot ’n einde. Hierdie geïnspireerde gedagte help ons om ’n diep waardering vir Jehovah se liefde vir sy skepping aan te kweek.
20. (a) Hoe tree Jehovah teen ’n onberouvolle oortreder op? (b) Hoe vertroos Jehovah die berouvolle?
20 Ons verkry meer insig wanneer Jehovah verder praat. Hy sê eers: “Ek het verontwaardig geraak oor die verkeerdheid van sy onregverdige wins en het hom geslaan terwyl ek my aangesig verberg het, terwyl ek verontwaardig was. Maar hy het soos ’n afvallige in die weg van sy hart bly wandel” (Jesaja 57:17). Die oortredings wat weens hebsug gepleeg word, lok beslis God se toorn uit. Solank ’n mens in jou hart afvallig bly, bly Jehovah verontwaardig. Maar gestel die afvallige reageer op die dissipline. Dan toon Jehovah hoe sy liefde en medelye hom laat optree: “Ek het sy weë gesien; en ek het hom begin genees en hom gelei en hom en sy treurendes met vertroosting vergoed” (Jesaja 57:18). Nadat Jehovah dissipline toegedien het, genees hy die berouvolle en vertroos hy hom, asook dié wat saam met hom treur. Om hierdie rede kon die Jode in 537 v.G.J. na hulle vaderland terugkeer. Juda was weliswaar nooit weer ’n onafhanklike koninkryk onder ’n koning uit die geslagslyn van Dawid nie. Maar die tempel in Jerusalem is herbou, en ware aanbidding is herstel.
21. (a) Hoe het Jehovah die gees van gesalfde Christene in 1919 laat herlewe? (b) Watter eienskap moet ons as individue aankweek?
21 “Die Hoë en Verhewene”, Jehovah, het in 1919 ook getoon dat hy besorg is oor die welsyn van die gesalfde oorblyfsel. Weens hulle berouvolle, nederige gees het die groot God, Jehovah, hulle ellende goedgunstiglik gesien en hulle uit Babiloniese gevangenskap verlos. Hy het alle struikelblokke verwyder en hulle na vryheid gelei sodat hulle hom in reinheid kon aanbid. So is Jehovah se woorde deur Jesaja destyds vervul. En hierdie woorde word gesteun deur ewige beginsels wat op elkeen van ons van toepassing is. Jehovah aanvaar alleenlik aanbidding van dié wat nederig is. En as een van God se knegte sondig, moet hy nie versuim om sy fout te erken, teregwysing te aanvaar en sy weë reg te stel nie. Mag ons nooit vergeet dat Jehovah nederiges genees en vertroos, maar ‘die hoogmoediges teëstaan’ nie.—Jakobus 4:6.
‘Vrede vir dié wat ver en dié wat naby is’
22. Watter toekoms voorspel Jehovah vir (a) die berouvolles? (b) die goddeloses?
22 Jehovah stel die toekoms van dié wat berou toon, teenoor die toekoms van dié wat in hulle goddelose weë volhard, en verklaar: “Ek skep die vrug van die lippe. Bestendige vrede sal daar wees vir die een wat ver is en vir die een wat naby is, . . . en ek sal hom genees. Maar die goddeloses is soos die onstuimige see, wanneer dit nie tot bedaring kan kom nie, waarvan die waters seegras en modder bly opgooi. Daar is geen vrede . . . vir die goddeloses nie.”—Jesaja 57:19-21.
23. Wat is die vrug van die lippe, en in watter opsig “skep” Jehovah hierdie vrug?
23 Die vrug van die lippe is die lofoffer wat aan God gebring word—die openbare bekendmaking van sy naam (Hebreërs 13:15). Hoe “skep” Jehovah daardie openbare bekendmaking? Om ’n lofoffer te bring, moet ’n mens eers van God leer en dan geloof in hom stel. Geloof—’n vrug van God se gees—beweeg daardie persoon om ander te vertel wat hy gehoor het. Met ander woorde, hy maak dit in die openbaar bekend (Romeine 10:13-15; Galasiërs 5:22). ’n Mens moet ook onthou dat dit per slot van rekening Jehovah is wat sy knegte die opdrag gee om sy lof te verkondig. En dit is Jehovah wat sy volk bevry, wat dit vir hulle moontlik maak om hierdie lofoffers te bring (1 Petrus 2:9). Gevolglik kan daar tereg gesê word dat Jehovah hierdie vrug van die lippe skep.
24. (a) Wie leer God se vrede ken, en met watter gevolg? (b) Wie leer vrede nie ken nie, en wat is die gevolg vir hulle?
24 Watter opwindende vrug van die lippe bring die Jode tog terwyl hulle gedurende hulle terugkeer na hulle vaderland lofliedere tot Jehovah sing! Hulle is sekerlik bly om God se vrede te ken, hetsy hulle “ver” is—ver van Juda en nog wag om terug te keer—of “naby”—reeds in hulle vaderland. Wat ’n skerp teenstelling vorm dit met die toestand van die goddeloses! Enigiemand wat nie op Jehovah se dissipline reageer nie, het geen vrede nie, ongeag wie of waar hierdie goddeloses ook al mag wees. Hulle is stormagtig soos die rustelose see en bring nie die vrug van die lippe voort nie, maar “seegras en modder”, alles wat onrein is.
25. Hoe leer baie wat ver en naby is, vrede ken?
25 Aanbidders van Jehovah in alle wêrelddele verkondig vandag ook die goeie nuus van God se Koninkryk. Christene wat ver en naby is, in meer as 230 lande, offer die vrug van hulle lippe tot lof van die enigste ware God. Die lofliedere wat hulle sing, word “van die einde van die aarde af” gehoor (Jesaja 42:10-12). Diegene wat dit hoor en daarop ag slaan, neem die waarheid van God se Woord, die Bybel, aan. Sulke persone leer die vrede ken wat ’n mens kry wanneer jy ‘die God dien wat vrede gee’.—Romeine 16:20.
26. (a) Wat lê vir die goddeloses voor? (b) Watter wonderlike belofte word aan die sagmoediges gemaak, en wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
26 Die goddeloses gee weliswaar geen ag op die Koninkryksboodskap nie. Maar hulle sal binnekort nie toegelaat word om die vrede van die regverdiges te versteur nie. “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie”, belowe Jehovah. Dié wat by Jehovah toevlug soek, sal die land op ’n wonderlike manier beërf. “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:10, 11, 29). Wat ’n pragtige plek sal ons aarde dan nie wees nie! Mag ons almal vasbeslote wees om nooit God se vrede te verloor nie, sodat ons God se lof tot in alle ewigheid kan besing.
[Voetnote]
a Die woord “bed” verwys moontlik na die altaar of die plek van heidense aanbidding. Dit word ’n bed genoem as ’n herinnering dat hierdie aanbidding geestelike prostitusie is.
b Heilige pale het moontlik die vroulike element voorgestel en heilige pilare was moontlik falliese simbole. Die ontroue inwoners van Juda het albei gebruik.—2 Konings 18:4; 23:14.
[Prent op bladsy 263]
Juda beoefen afgodediens onder elke blaarryke boom
[Prent op bladsy 267]
Juda bou altare in die hele land
[Prent op bladsy 275]
“Ek skep die vrug van die lippe”