Hoofstuk negentien
Huigelary word blootgelê!
1. Hoe beskou Jesus en Jehovah huigelary, en watter vorm neem dit in Jesaja se dag aan?
“SO LYK ook julle wel van buite vir die mense regverdig”, het Jesus vir die godsdiensleiers van sy dag gesê, “maar binne-in is julle vol huigelary en wetteloosheid” (Matteus 23:28). Jesus se veroordeling van huigelary weerspieël die beskouing van sy hemelse Vader. Hoofstuk 58 van Jesaja se profesie vestig die aandag spesifiek op die huigelary wat wydverspreid in Juda is. Twis, onderdrukking en geweld is aan die orde van die dag, en die onderhouding van die Sabbat het ’n betekenislose ritueel geword. Die volk verrig bloot vormdiens aan Jehovah en maak ’n groot vertoon van hulle vroomheid deur huigelagtige vaste. Dit is geen wonder dat Jehovah hulle ware gesindheid blootlê nie!
‘Verkondig aan die volk hulle sondes’
2. Watter gees lê Jesaja aan die dag wanneer hy Jehovah se boodskap verkondig, en wie is vandag soos hy?
2 Al het Jehovah ’n afkeer van Juda se gedrag, toon Sy woorde dat hy ’n opregte beroep op die nasie doen om berou te hê. Maar Jehovah wil nie hê dat sy teregwysing onduidelik moet wees nie. Daarom beveel hy Jesaja: “Roep luidkeels uit; moenie terughou nie. Verhef jou stem soos ’n horing, en verkondig aan my volk hulle opstandigheid en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1). As Jesaja Jehovah se woorde openlik verkondig, sal dit die volk moontlik vyandig teenoor hom laat word, maar hy deins nie terug nie. Hy het nog steeds dieselfde toegewyde gees wat hy aan die dag gelê het toe hy gesê het: “Hier is ek! Stuur my” (Jesaja 6:8). Wat ’n goeie voorbeeld van volharding is Jesaja tog vir die hedendaagse Getuies van Jehovah, wat ook die opdrag gekry het om God se Woord te verkondig en godsdienshuigelary bloot te lê!—Psalm 118:6; 2 Timoteus 4:1-5.
3, 4. (a) Watter valse indruk skep die mense in Jesaja se dag? (b) Wat is die ware situasie in Juda?
3 In Jesaja se dag gee die volk voor dat hulle Jehovah soek en dat hulle behae het in sy regverdige oordele. Ons lees Jehovah se woorde: “Hulle [het] my dag na dag gesoek en behae getoon in die kennis van my weë, soos ’n nasie wat regverdigheid beoefen het en wat nie die geregtigheid van hulle God verlaat het nie, deurdat hulle my gedurig om regverdige oordele gevra het, terwyl hulle nader gekom het aan God in wie hulle behae gehad het” (Jesaja 58:2). Is hierdie beweerde behae in Jehovah se weë opreg? Nee. Hulle is “soos ’n nasie wat regverdigheid beoefen het”, maar die ooreenkoms is bloot oppervlakkig. In werklikheid het hierdie nasie “die geregtigheid van hulle God verlaat”.
4 Die situasie is baie soos dié wat later aan die profeet Esegiël geopenbaar word. Jehovah het vir Esegiël gesê dat die Jode vir mekaar gesê het: “Kom asseblief en hoor wat die woord is wat van Jehovah uitgaan.” Maar God het Esegiël gewaarsku dat hulle nie opreg is nie: “Hulle sal na jou toe kom, . . . en hulle sal beslis jou woorde hoor, maar hulle sal dit nie doen nie, want met hulle mond uiter hulle wellustige begeertes en hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk! jy is vir hulle soos ’n lied van sinlike liefdes, soos iemand met ’n mooi stem en wat goed op ’n snaarinstrument speel. En hulle sal beslis jou woorde hoor, maar niemand doen dit nie” (Esegiël 33:30-32). Jesaja se tydgenote beweer ook dat hulle Jehovah voortdurend soek, maar hulle gehoorsaam nie sy woorde nie.
Huigelagtige vaste
5. Hoe probeer die Jode God se guns verkry, en wat is Jehovah se reaksie daarop?
5 In ’n poging om God se guns te verkry, vas die Jode, maar hulle oënskynlike vroomheid vervreem hulle net van Jehovah. In skynbare verbystering vra hulle: “Waarom het ons gevas en het u dit nie gesien nie, en het ons ons siel gekasty en het u geen ag daarop geslaan nie?” Jehovah antwoord onomwonde en sê: “Ja, julle het behae geskep in die dag van julle gevas, toe julle al julle arbeiders bly dryf het om te werk. Ja, om rusie te maak en te stry, het julle gevas, en om met die vuis van goddeloosheid te slaan. Het julle nie bly vas soos op die dag waarop julle julle stem in die hoogte laat hoor nie? Moet die vas wat ek verkies, só word, ’n dag vir die mens om sy siel te kasty? Om sy kop te buig net soos ’n biesie, en sodat hy sak en as sou uitsprei as sy slaapbank? Noem jy dít ’n vas en ’n dag wat vir Jehovah aanneemlik is?”—Jesaja 58:3-5.
6. Watter dade van die Jode toon dat hulle vaste huigelagtig is?
6 Terwyl hulle vas en voorgee dat hulle regverdig is en selfs Jehovah se regverdige oordele vra, jaag die volk selfsugtige genietinge en sakebelange na. Hulle twis, onderdruk mekaar en pleeg geweld. In ’n poging om die slegtheid van hulle gedrag te verberg, maak hulle ’n groot vertoon van droefheid—hulle buig hulle koppe soos biesies en sit in sak en as—skynbaar uit berou oor hulle sondes. Van watter waarde is al hierdie dinge as hulle nog steeds opstandig is? Hulle toon nie die godvrugtige droefheid en berou wat met opregte vaste gepaard moet gaan nie. Hulle geweeklaag—al is dit ook hoe hard—word nie in die hemel gehoor nie.
7. Hoe het die Jode van Jesus se tyd huigelagtig opgetree, en hoe doen baie dit vandag?
7 Die Jode van Jesus se dag het net so ’n vertoon gemaak van hulle seremoniële vaste, en party het selfs twee maal per week gevas! (Matteus 6:16-18; Lukas 18:11, 12). Baie van die godsdiensleiers het ook Jesaja se geslag nagedoen deur hardvogtig en dominerend te wees. Daarom het Jesus daardie godsdienshuigelaars moedig aan die kaak gestel en vir hulle gesê dat hulle vorm van aanbidding tevergeefs is (Matteus 15:7-9). Vandag is daar ook miljoene wat ‘in die openbaar verkondig dat hulle God ken, maar hom deur hulle werke verloën, want hulle is verfoeilik en ongehoorsaam en nie goedgekeur vir enige goeie werk nie’ (Titus 1:16). Sulke persone hoop dalk dat hulle God se barmhartigheid sal ontvang, maar hulle gedrag toon dat hulle nie opreg is nie. In teenstelling daarmee lê Jehovah se Getuies ware godvrugtige toegewydheid en opregte broederliefde aan die dag.—Johannes 13:35.
Wat ware berou behels
8, 9. Watter positiewe dade moet met opregte berou gepaard gaan?
8 Jehovah wil nie hê dat sy volk net moet vas oor hulle sondes nie; hy wil hê dat hulle berou moet toon. Dan sal hulle sy guns verkry (Esegiël 18:23, 32). Hy verduidelik dat vaste met ’n regstelling van vorige sondes gepaard moet gaan om iets te beteken. Kyk na die indringende vrae wat Jehovah stel: “Is dít nie die vas wat ek verkies nie? Om die boeie van goddeloosheid los te maak, om die stroppe van die juk af te haal en om die verbryseldes vry weg te stuur en dat julle elke juk in twee moet breek?”—Jesaja 58:6.
9 Boeie en jukke is gepaste simbole van wrede slawerny. In stede van te vas en hulle medegelowiges terselfdertyd te onderdruk, moet die volk eintlik gehoorsaam wees aan die gebod: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Levitikus 19:18). Hulle moet almal bevry wat hulle onderdruk en onverdiend tot slawe gemaak het.a Vertonerige godsdiensdade, soos om te vas, is geen plaasvervanger vir ware godvrugtige toegewydheid en dade van broederliefde nie. ’n Tydgenoot van Jesaja, die profeet Miga, skryf: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—Miga 6:8.
10, 11. (a) Wat sal vir die Jode beter wees as om te vas? (b) Hoe kan Christene vandag Jehovah se raad aan die Jode toepas?
10 Geregtigheid, goedhartigheid en beskeidenheid verg dat ’n mens goed doen aan ander, wat die kern van Jehovah se Wet is (Matteus 7:12). Dit sou baie beter wees om hulle oorvloed met die behoeftiges te deel as om te vas. Jehovah vra: “Is [die vas wat ek verkies,] nie dat jy jou brood moet uitdeel aan die een wat honger is en dat jy die geteisterde, daklose mense in jou huis moet inbring nie? Dat jy, as jy iemand sien wat naak is, hom moet bedek en jou vir jou eie vlees nie moet verberg nie?” (Jesaja 58:7). Ja, dié wat die middele het om dit te doen, moet eerder kos, klere of verblyf voorsien aan behoeftige mede-inwoners van Juda—hulle eie vlees—as om ’n vertoon te maak van vaste.
11 Hierdie pragtige beginsels van broederliefde en medelye waarvan Jehovah praat, is nie net op die Jode in Jesaja se tyd van toepassing nie. Christene word ook daardeur gerig. Daarom het die apostel Paulus geskryf: “Ja, solank ons die geleentheid het, laat ons dan aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). Die Christengemeente moet ’n hawe van liefde en broederlike geneentheid wees, veral met die oog op die kritieke tye waarin ons leef wat al hoe erger word.—2 Timoteus 3:1; Jakobus 1:27.
Gehoorsaamheid bring ryk seëninge
12. Wat sal Jehovah doen as sy volk aan hom gehoorsaam is?
12 As Jehovah se volk maar net die insig sal hê om op sy liefdevolle teregwysing ag te slaan! Jehovah sê: “Dan sal jou lig deurbreek net soos die dagbreek; en genesing sal gou vir jou uitspruit. En jou regverdigheid sal beslis voor jou uit gaan; die heerlikheid van Jehovah sal jou agterhoede wees. Dan sal jy roep, en Jehovah sal antwoord; jy sal om hulp roep, en hy sal sê: ‘Hier is ek!’” (Jesaja 58:8, 9a). Hoe hartlik en liefdevol is hierdie woorde tog! Jehovah seën en beskerm diegene wat behae skep in liefderyke goedhartigheid en regverdigheid. As Jehovah se volk berou het oor hulle hardvogtigheid en hulle huigelary en aan hom gehoorsaam is, sal dinge vir hulle baie beter word. Jehovah sal “genesing”, ’n geestelike en fisiese herstel van die nasie, skenk. Hy sal hulle ook beskerm, soos hy hulle voorvaders beskerm het toe hulle Egipte verlaat het. En hy sal onmiddellik op hulle hulpgeroep reageer.—Eksodus 14:19, 20, 31.
13. Watter seëninge wag op die Jode as hulle op Jehovah se vermaning ag slaan?
13 Jehovah gaan nou verder met sy vorige vermaning en sê: “As jy die juk [van harde, onverdiende slawerny], die uitsteek van die vinger [moontlik uit veragting of as ’n valse beskuldiging] en die skadelike woorde uit jou verwyder, en jy jou sielsbegeerte skenk aan die een wat honger is, en jy die geteisterde siel versadig, dan sal jou lig beslis stralend opgaan in die duisternis, en jou donkerheid sal soos die middag wees” (Jesaja 58:9b, 10). Selfsug en hardvogtigheid is selfverydelend en bring Jehovah se toorn mee. Maar goedhartigheid en vrygewigheid bring God se ryk seëninge mee, veral wanneer dit bewys word aan dié wat honger en geteister is. As die Jode maar net hierdie waarhede ter harte wil neem! Dan sal hulle geestelike prag en voorspoed hulle soos die middagson laat skyn, wat alle donkerheid sal verdryf. Bowendien sal hulle Jehovah, die Bron van hulle heerlikheid en seëninge, eer en loof.—1 Konings 8:41-43.
’n Herstelde nasie
14. (a) Hoe reageer Jesaja se tydgenote op sy woorde? (b) Wat bied Jehovah steeds?
14 Ongelukkig ignoreer die nasie Jehovah se versoek en verval hulle nog dieper in goddeloosheid. Uiteindelik laat hulle vir Jehovah geen keuse as om hulle in ballingskap weg te stuur net soos hy gewaarsku het nie (Deuteronomium 28:15, 36, 37, 64, 65). Maar Jehovah se volgende woorde deur Jesaja bied steeds hoop. God voorspel dat ’n gedissiplineerde, berouvolle oorblyfsel met vreugde na die land van Juda sal terugkeer, al lê dit woes.
15. Watter vreugdevolle herstelling voorspel Jehovah?
15 Jehovah verwys na die herstelling van sy volk in 537 v.G.J. en sê deur middel van Jesaja: “Jehovah sal jou sekerlik voortdurend lei en jou siel selfs in ’n verskroeide land versadig, en hy sal jou gebeente krag gee; en jy moet word soos ’n tuin wat goed natgelei word, en soos die waterbron [“fontein van waters”, Afrikaanse Bybel, 1953] waarvan die waters nie lieg [“teleurstel”, AB] nie” (Jesaja 58:11). Jehovah sal Israel se verskroeide vaderland herstel tot welige vrugbaarheid. Wat nog wonderliker is, is dat hy sy berouvolle volk sal seën en hulle “gebeente” van ’n geestelik lewelose toestand tot een van volle lewenskrag sal herstel (Esegiël 37:1-14). Die volk self sal word soos “’n tuin wat goed natgelei word” en vol geestelike vrugte is.
16. Hoe sal die land herstel word?
16 Herstelling sal insluit dat stede wat die Babiloniese invallers in 607 v.G.J. vernietig het, herbou word. “Op jou aandrang sal mense beslis die plekke opbou wat al lank woes lê; jy sal selfs die fondamente van opeenvolgende geslagte oprig. En jy sal die heelmaker van die gaping genoem word, die hersteller van paaie waarlangs mense kan woon” (Jesaja 58:12). Die parallelle uitdrukkings “die plekke . . . wat al lank woes lê” en “die fondamente van opeenvolgende geslagte” (of, die fondamente wat al geslagte lank in puin lê) toon dat die herstelde oorblyfsel die verwoeste stede van Juda, veral Jerusalem, sal herbou (Nehemia 2:5; 12:27; Jesaja 44:28). Hulle sal “die gaping” heelmaak—’n uitdrukking wat gebruik word om te verwys na gate in die mure van Jerusalem en ongetwyfeld ook in dié van ander stede.—Jeremia 31:38-40; Amos 9:14.
Seëninge as gevolg van getroue onderhouding van die Sabbat
17. Hoe doen Jehovah ’n beroep op sy volk om die Sabbatswette te gehoorsaam?
17 Die Sabbat was ’n betoning van God se diep besorgdheid oor die fisiese en geestelike welsyn van sy volk. Jesus het gesê: “Die sabbat het ter wille van die mens in aansyn gekom” (Markus 2:27). Hierdie dag wat deur Jehovah geheilig is, het die Israeliete ’n spesiale geleentheid gegee om hulle liefde vir God te toon. Ongelukkig is dit teen Jesaja se tyd verlaag tot ’n dag waarop leë rituele onderhou is en selfsugtige begeertes nagejaag is. Jehovah moet sy volk dus weer eens bestraf. En weer eens probeer hy hulle harte bereik. Hy sê: “As jy met die oog op die sabbat jou voet daarvan terughou om op my heilige dag te doen wat jou behaag, en die sabbat ’n verlustiging noem, ’n heilige dag van Jehovah, een wat verheerlik word, en dit verheerlik eerder as om jou eie weë te volg, eerder as om te vind wat jou behaag en ’n woord te spreek, dan sal jy jou in Jehovah verlustig, en ek sal jou op die hoogtes van die aarde laat ry; en ek sal jou van die erfbesitting van jou voorvader Jakob laat eet, want die mond van Jehovah het dit gespreek.”—Jesaja 58:13, 14.
18. Wat sal die gevolg wees omdat Juda nalaat om die Sabbat te eerbiedig?
18 Die Sabbat is ’n dag vir geestelike bepeinsing, gebed en aanbidding as ’n gesin. Dit behoort die Jode te help om na te dink oor Jehovah se wonderlike dade ten behoewe van hulle en die geregtigheid en liefde wat deur sy Wet geopenbaar word. Getroue onderhouding van hierdie heilige dag behoort die volk dus te help om nader aan hulle God te kom. Maar in plaas daarvan maak hulle misbruik van die Sabbat en is hulle gevolglik in gevaar om van Jehovah se seën afgesny te word.—Levitikus 26:34; 2 Kronieke 36:21.
19. Watter ryk seëninge lê vir God se volk voor as hulle die Sabbat begin hou?
19 Maar as die Jode uit die dissipline leer en die Sabbatsreëling begin eerbiedig, lê ryk seëninge vir hulle voor. Die goeie uitwerking van ware aanbidding en respek vir die Sabbat sal in alle aspekte van hulle lewe gesien kan word (Deuteronomium 28:1-13; Psalm 19:7-11). Jehovah sal sy volk byvoorbeeld “op die hoogtes van die aarde laat ry”. Hierdie uitdrukking beteken veiligheid en oorwinning oor ’n mens se vyande. Die een wat die hoogtes—die heuwels en die berge—beheer, beheer die land (Deuteronomium 32:13; 33:29). Vroeër het Israel Jehovah gehoorsaam, en die nasie het sy beskerming geniet en ander nasies het hulle gerespekteer, selfs gevrees (Josua 2:9-11; 1 Konings 4:20, 21). As hulle weer aan Jehovah gehoorsaam word, sal daardie vorige heerlikheid tot ’n mate herstel word. Jehovah sal sy volk ’n volle aandeel gee in “die erfbesitting van . . . Jakob”—die seëninge wat deur Sy verbond met hulle voorvaders belowe is, veral die seëning dat hulle die Beloofde Land in veiligheid kan bewoon.—Psalm 105:8-11.
20. Watter “sabbatsrus” is daar vir Christene?
20 Is daar ’n les vir Christene hierin? Toe Jesus Christus gesterf het, is die Mosaïese Wet, saam met sy Sabbatsvereistes, afgeskaf (Kolossense 2:16, 17). Maar die gees wat die onderhouding van die Sabbat in Juda moes aangemoedig het—om geestelike belange eerste te stel en nader aan Jehovah te kom—is nog steeds noodsaaklik vir aanbidders van Jehovah (Matteus 6:33; Jakobus 4:8). Daarbenewens sê Paulus in sy brief aan die Hebreërs: “Daar bly . . . ’n sabbatsrus oor vir die volk van God.” Christene gaan in hierdie “sabbatsrus” in deur gehoorsaam te wees aan Jehovah en geregtigheid na te streef wat gegrond is op geloof in die vergote bloed van Jesus Christus (Hebreërs 3:12, 18, 19; 4:6, 9-11, 14-16). Vir Christene word hierdie soort onderhouding van die sabbat nie net op een dag van die week gehou nie, maar elke dag.—Kolossense 3:23, 24.
Die geestelike Israel ‘ry op die aarde se hoogtes’
21, 22. Hoe het Jehovah die Israel van God “op die hoogtes van die aarde laat ry”?
21 Sedert gesalfde Christene in 1919 uit Babiloniese gevangenskap vrygelaat is, onderhou hulle wat deur die Sabbat voorafgeskadu is. As gevolg daarvan het Jehovah hulle “op die hoogtes van die aarde laat ry”. In watter sin? Destyds, in 1513 v.G.J., het Jehovah ’n verbond met Abraham se nakomelinge gesluit dat hulle ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie sou word as hulle gehoorsaam was (Eksodus 19:5, 6). Deur die hele 40 jaar in die wildernis het Jehovah hulle veilig gehou, soos ’n arend sy kleintjies dra, en hy het hulle met oorvloedige voorsienings geseën (Deuteronomium 32:10-12). Maar die nasie het ’n gebrek aan geloof gehad en uiteindelik al die voorregte verloor wat hulle kon geniet het. Ten spyte daarvan het Jehovah vandag ’n koninkryk van priesters. Dit is die geestelike Israel van God.—Galasiërs 6:16; 1 Petrus 2:9.
22 Gedurende “die tyd van die einde” het hierdie geestelike nasie gedoen wat eertydse Israel nagelaat het. Hulle het aan Jehovah getrou gebly (Daniël 8:17). Aangesien die lede daarvan Jehovah se hoë standaarde en verhewe weë noukeurig naleef, verhoog Jehovah hulle in geestelike sin (Spreuke 4:4, 5, 8; Openbaring 11:12). Omdat hulle beskerm word teen die onreinheid rondom hulle, geniet hulle ’n verhewe lewenswyse, en hulle dring nie daarop aan om hulle eie weë te volg nie, maar hulle “verlustig” hulle eerder in Jehovah en in sy Woord (Psalm 37:4). Jehovah het hulle geestelik veilig gehou ondanks volgehoue teenstand in alle wêrelddele. Sedert 1919 is hulle geestelike “land” nie weer binnegeval nie (Jesaja 66:8). Hulle is nog steeds ’n volk vir sy verhewe naam, wat hulle met vreugde wêreldwyd bekend maak (Deuteronomium 32:3; Handelinge 15:14). Daarbenewens is daar nou ’n toenemende aantal sagmoediges uit alle nasies wat saam met hulle ’n deel het in die wonderlike voorreg om Jehovah se weë geleer te word en gehelp te word om in sy weë te wandel.
23. Hoe het Jehovah sy gesalfde knegte “van die erfbesitting van . . . Jakob laat eet”?
23 Jehovah het sy gesalfde knegte “van die erfbesitting van . . . Jakob laat eet”. Toe Isak vir Jakob in plaas van Esau geseën het, het die aartsvader se woorde seëninge vir almal voorspel wat geloof in die beloofde Saad van Abraham beoefen (Genesis 27:27-29; Galasiërs 3:16, 17). Soos Jakob—en anders as Esau—“waardeer” gesalfde Christene en hulle metgeselle “heilige dinge”, veral die geestelike voedsel wat God in oorvloed voorsien (Hebreërs 12:16, 17; Matteus 4:4). Hierdie geestelike voedsel—wat kennis insluit van wat Jehovah deur die beloofde Saad en die metgeselle van daardie Saad tot stand bring—versterk hulle, gee hulle krag en is onontbeerlik vir hulle geestelike lewe. Daarom is dit uiters belangrik dat hulle voortdurend geestelike voedsel inneem deur God se Woord te lees en daaroor te peins (Psalm 1:1-3). Dit is noodsaaklik dat hulle by Christelike vergaderinge met medegelowiges omgaan. En hulle moet die hoë standaarde van ware aanbidding handhaaf terwyl hulle daardie voedsel vreugdevol met ander deel.
24. Hoe gedra ware Christene hulle vandag?
24 Mag ware Christene voortgaan om alle huigelagtigheid te verwerp terwyl hulle gretig wag op die vervulling van Jehovah se beloftes. Mag hulle voortgaan om geestelike veiligheid op “die hoogtes van die aarde” te geniet terwyl hulle gevoed word deur “die erfbesitting van . . . Jakob”.
[Voetnoot]
a Jehovah het die voorsiening gemaak dat diegene in sy volk wat in skuld verval het, hulle in slawerny kan verkoop—dat hulle in werklikheid loonarbeiders word—om hulle skuld af te betaal (Levitikus 25:39-43). Maar die Wet het vereis dat slawe goed behandel word. Dié wat wreed behandel is, moes vrygelaat word.—Eksodus 21:2, 3, 26, 27; Deuteronomium 15:12-15.
[Prent op bladsy 278]
Die Jode het gevas en hulle koppe in huigelagtige berou laat hang—maar hulle het nie hulle weë verander nie
[Prent op bladsy 283]
Dié wat die middele het om dit te doen, verskaf verblyf, klere of kos aan die behoeftiges
[Prent op bladsy 286]
As Juda berou het, sal hulle hulle verwoeste stede herbou