Hoofstuk twintig
Jehovah se hand het nie te kort geword nie
1. Wat is die situasie in Juda, en waaroor wonder baie?
DIE nasie Juda sê dat hulle in ’n verbondsverhouding met Jehovah is. Maar daar is oral probleme. Geregtigheid is skaars, misdaad en onderdrukking is wydverspreid en hoop op verbetering word nie verwesenlik nie. Daar is iets ernstigs verkeerd. Baie wonder of Jehovah sake ooit sal regstel. Dit is die situasie in Jesaja se dag. Maar Jesaja se verslag van hierdie tyd is meer as bloot ou geskiedenis. Sy woorde bevat profetiese waarskuwings vir enigiemand wat sê dat hy God aanbid maar wat Sy wette verontagsaam. En die geïnspireerde profesie wat in Jesaja hoofstuk 59 opgeteken staan, bevat liefdevolle aanmoediging vir almal wat Jehovah probeer dien ondanks die feit dat hulle in moeilike en gevaarlike tye leef.
Afgesny van die ware God
2, 3. Waarom beskerm Jehovah Juda nie?
2 Dink net daaraan—Jehovah se verbondsvolk het in afvalligheid verval! Hulle het hulle Maker die rug toegekeer, en hulle sodoende onder sy beskermende hand uit verwyder. Daarom verkeer hulle in ’n benarde situasie. Gee hulle dalk Jehovah die skuld vir hulle probleme? Jesaja sê vir hulle: “Kyk! Die hand van Jehovah het nie te kort geword om te red nie, en ook het sy oor nie te swaar geword om te hoor nie. Nee, maar dit is julle oortredings wat ’n skeiding tussen julle en julle God veroorsaak het, en julle sondes het veroorsaak dat sy aangesig vir julle verberg is, sodat hy nie hoor nie.”—Jesaja 59:1, 2.
3 Daardie woorde is reguit maar waar. Jehovah is nog steeds die God van redding. As die “Hoorder van die gebed” luister hy na die gebede van sy getroue knegte (Psalm 65:2). Maar hy seën nie oortreders nie. Die volk self is daarvoor verantwoordelik dat hulle van Jehovah vervreemd geraak het. Hulle eie goddeloosheid het daartoe gelei dat hy sy aangesig vir hulle verberg het.
4. Watter aanklagte word teen Juda ingebring?
4 Trouens, Juda het ’n vreeslike reputasie opgebou. Jesaja se profesie noem ’n paar van die aanklagte teen hulle: “Julle palms is met bloed besoedel en julle vingers met oortreding. Julle lippe het leuens gespreek. Julle tong het gedurig onregverdigheid gemompel” (Jesaja 59:3). Die volk vertel leuens en praat oor onregverdige dinge. Die verwysing na ‘palms wat met bloed besoedel is’, toon dat party selfs moord gepleeg het. Watter oneer doen dit God tog aan, wie se Wet nie net moord verbied nie, maar ook dat ’n mens ‘jou broer in jou hart haat’! (Levitikus 19:17). Die onbeteuelde sondigheid van die inwoners van Juda en die onafwendbare gevolg daarvan moet ons almal vandag daaraan herinner dat ons sondige gedagtes en gevoelens moet beheers. Anders kan ons goddelose dade pleeg wat ons van God vervreem.—Romeine 12:9; Galasiërs 5:15; Jakobus 1:14, 15.
5. Hoe erg het Juda se verdorwenheid geword?
5 Sonde het die hele nasie besmet. Die profesie sê: “Daar is niemand wat in regverdigheid roep nie, en hoegenaamd niemand het in getrouheid hof toe gegaan nie. Hulle het op onwerklikheid vertrou en waardeloosheid gespreek. Hulle het swanger geword van moeilikheid en gebaar wat skadelik is” (Jesaja 59:4). Niemand spreek in regverdigheid nie. Selfs in geregshowe vind ’n mens selde iemand wat betroubaar of getrou is. Juda het Jehovah die rug toegekeer en het hulle vertroue in bondgenootskappe met nasies, selfs in lewelose afgode, gestel. Al hierdie dinge is “onwerklikheid”, hoegenaamd niks werd nie (Jesaja 40:17, 23; 41:29). Gevolglik praat hulle baie, maar dit is alles waardeloos. Planne word bedink, maar dit loop uit op moeilikheid en skade.
6. Hoe is die reputasie van die Christendom net soos dié van Juda?
6 Die ongeregtigheid en geweld in Juda het ’n opvallende parallel in die Christendom. (Sien “Die afvallige Jerusalem—’n parallel van die Christendom”, op bladsy 294.) Twee wrede wêreldoorloë is onder sogenaamde Christennasies geveg. Tot vandag toe was die Christendom se vorm van godsdiens nie in staat om etniese suiwering stop te sit of om te keer dat stamme in hulle geledere mekaar uitmoor nie (2 Timoteus 3:5). Al het Jesus sy volgelinge geleer om op God se Koninkryk te vertrou, gaan die nasies van die Christendom voort om op militêre arsenale en politieke bondgenootskappe te vertrou vir veiligheid (Matteus 6:10). Trouens, die meeste van die wêreld se groot wapenvervaardigers word in die nasies van die Christendom gevind! Ja, wanneer die Christendom op mensepogings en -instellings vir ’n veilige toekoms vertrou, stel hulle ook hulle vertroue in “onwerklikheid”.
Hulle pluk die wrange vrugte
7. Waarom het Juda se planne net skadelike gevolge?
7 Afgodediens en oneerlikheid kan nie ’n gesonde gemeenskap voortbring nie. Omdat hulle hierdie dinge beoefen het, maai die ontroue Jode nou die moeilikheid wat hulle gesaai het. Ons lees: “Die eiers van ’n giftige slang het hulle uitgebroei, en hulle het ’n spinnerak bly weef. Enigiemand wat van hulle eiers eet, sal sterf, en uit die eier wat stukkend gedruk is, sal ’n adder kom” (Jesaja 59:5). Van begin tot end bring Juda se planne niks blywends voort nie. Hulle verkeerde denkwyse het net slegte gevolge, net soos die eiers van ’n giftige slang net giftige slange voortbring. En die nasie ly.
8. Wat toon dat daar iets fout is met Juda se denke?
8 Party inwoners van Juda gebruik dalk geweld in ’n poging om hulle te beskerm, maar hulle sal nie slaag nie. Net so min as wat spinnerakke in die plek van regte kledingstof as ’n beskerming teen die wind en weer kan dien, so ook kan fisiese geweld nie in die plek van vertroue in Jehovah en van regverdige werke as ’n beskerming dien nie. Jesaja verklaar: “Hulle spinnerak sal nie as ’n kleed dien nie, en ook sal hulle hulle nie met hulle werke bedek nie. Hulle werke is skadelike werke, en gewelddadigheid is in hulle palms. Hulle voete bly na pure slegtheid hardloop, en hulle is haastig om onskuldige bloed te vergiet. Hulle gedagtes is skadelike gedagtes; plundering en verbreking is op hulle grootpaaie” (Jesaja 59:6, 7). Daar is iets fout met Juda se denke. Deur geweld te gebruik om hulle probleme te probeer oplos, toon hulle ’n goddelose gesindheid. Hulle gee nie eintlik om dat baie van hulle slagoffers onskuldig is en dat party ware knegte van God is nie.
9. Waarom is ware vrede buite die bereik van die leiers van die Christendom?
9 Hierdie geïnspireerde woorde herinner ons aan die bloedbevlekte reputasie van die Christendom. Jehovah sal hulle beslis tot verantwoording roep weens hulle droewige wanvoorstelling van die Christelike godsdiens! Soos die Jode van Jesaja se dag, het die Christendom ’n sedelik verdraaide weg gevolg omdat hulle leiers glo dat dit die enigste praktiese weg is. Terwyl hulle van vrede praat, tree hulle in ongeregtigheid op. Hoe bedrieglik tog! Aangesien die leiers van die Christendom aanhou om hierdie taktiek te gebruik, sal ware vrede buite hulle bereik bly. Dit is soos die profesie verder sê: “Die weg van vrede het hulle geïgnoreer, en daar is geen geregtigheid in hulle spore nie. Hulle het hulle paaie vir hulle krom gemaak. Niemand wat daarop loop, sal vrede ken nie.”—Jesaja 59:8.
Hulle wandel in geestelike duisternis
10. Wat erken Jesaja namens Juda?
10 Jehovah kan nie Juda se bedrieglike en vernietigende weë seën nie (Psalm 11:5). Jesaja praat dus namens die hele volk en erken Juda se skuld: “Daarom is geregtigheid ver van ons af en haal regverdigheid ons nie in nie. Ons bly hoop op lig, maar kyk! duisternis; op ligglans, maar in voortdurende donkerheid het ons bly wandel. Ons bly rondtas na die muur net soos blindes, en soos dié wat geen oë het nie, bly ons rondtas. Ons het op die middaguur gestruikel net soos in die aandskemering; onder dié wat fris is, is ons net soos dooies. Ons kreun almal aanhoudend net soos bere; en soos duiwe bly ons droewig koer” (Jesaja 59:9-11a). Die Jode het nie God se Woord ’n lamp vir hulle voete en ’n lig vir hulle pad laat word nie (Psalm 119:105). Gevolglik lyk dinge vir hulle donker. Selfs op die middaguur tas hulle rond asof dit nag is. Dit is asof hulle dood is. Hulle smag na verligting en kreun gevolglik hardop soos honger of gewonde bere. Party koer droewig, soos eensame duiwe.
11. Waarom is Juda se hoop op geregtigheid en redding tevergeefs?
11 Jesaja weet maar alte goed dat die oorsaak van Juda se treurige toestand hulle opstandigheid teen God is. Hy sê: “Ons het op geregtigheid bly hoop, maar dit was nie daar nie; op redding, maar dit het ver van ons af gebly. Want ons opstandige dade het baie geword voor u; en wat ons sondes betref, elkeen daarvan het teen ons getuig. Want ons opstandige dade is by ons; en wat ons oortredings betref, ons ken hulle goed. Daar was oortreding en ’n verloëning van Jehovah; en daar was ’n terugwyking van ons God, woorde van verdrukking en opstand, die uitdink en gemompel van leuenagtige woorde uit die hart” (Jesaja 59:11b-13). Aangesien die inwoners van Juda nie berou getoon het nie, word hulle sondes nog steeds teen hulle gehou. Geregtigheid het die land verlaat omdat die volk Jehovah verlaat het. Hulle het getoon dat hulle deur en deur bedrieglik is, want hulle onderdruk selfs hulle broers. Hulle is net soos dié wat vandag in die Christendom is! Baie ignoreer nie alleen geregtigheid nie, maar hulle vervolg ook getroue Getuies van Jehovah, wat God se wil probeer doen.
Jehovah voltrek sy oordeel
12. Wat is die gesindheid van diegene wat in Juda regspraak moet lewer?
12 Dit lyk of daar geen geregtigheid, regverdigheid of waarheid in Juda is nie. “Geregtigheid is teruggedring, en regverdigheid het eenvoudig ver weg bly staan. Want die waarheid het selfs op die openbare plein gestruikel, en wat reg is, kan nie inkom nie” (Jesaja 59:14). Agter die stadspoorte in Juda is daar openbare pleine waar die ouer manne bymekaarkom om regsake aan te hoor (Rut 4:1, 2, 11). Sulke manne moet regverdig oordeel en geregtigheid nastreef deur nie omkoopgeskenke te aanvaar nie (Deuteronomium 16:18-20). Maar hulle oordeel volgens hulle eie selfsugtige idees. Wat nog erger is, is dat hulle enigiemand wat opreg probeer om goed te doen, as ’n maklike prooi beskou. Ons lees: “Die waarheid ontbreek, en elkeen wat van die kwaad afwyk, word geplunder.”—Jesaja 59:15a.
13. Wat sal Jehovah doen, aangesien Juda se regters hulle plig versuim?
13 Diegene wat hulle nie teen sedelike verdorwenheid uitspreek nie, vergeet dat God nie blind, onkundig of magteloos is nie. Jesaja skryf: “Jehovah het dit gesien, en dit was sleg in sy oë dat daar geen geregtigheid was nie. En toe hy sien dat daar niemand was nie, was hy verbaas dat niemand tussenbeide tree nie. En sy arm het namens hom gered, en sy regverdigheid het hom ondersteun” (Jesaja 59:15b, 16). Aangesien aangestelde regters hulle plig versuim, sal Jehovah in die saak ingryp. Wanneer hy dit doen, sal hy in regverdigheid en met mag optree.
14. (a) Watter gesindheid het baie mense vandag? (b) Hoe berei Jehovah hom voor vir optrede?
14 Daar bestaan vandag ’n soortgelyke situasie. Ons lewe in ’n wêreld waarin baie mense “alle sedelikheidsgevoel verloor het” (Efesiërs 4:19). Min mense glo dat Jehovah ooit sal ingryp om goddeloosheid van die aarde af te verwyder. Maar Jesaja se profesie toon dat Jehovah menseaangeleenthede noukeurig waarneem. Hy vel oordele, en op sy tyd tree hy daarvolgens op. Is sy oordele regverdig? Jesaja toon dat dit is. In die geval van die nasie Juda skryf hy: “Toe het [Jehovah] regverdigheid soos ’n pantser aangetrek, en die helm van redding was op sy kop. Verder het hy die klere van wraak as kleding aangetrek en hom met ywer omhul asof dit ’n moulose oorkleed is” (Jesaja 59:17). Hierdie profetiese woorde beeld Jehovah as ’n krygsman uit wat hom vir die stryd gereedmaak. Hy is vasbeslote om redding te bewerkstellig deur toe te sien dat sy doel bereik word. Hy is seker van sy eie absolute en onbetwisbare regverdigheid. En hy sal vreeslose ywer openbaar wanneer hy sy strafgerigte voltrek. Daar bestaan geen twyfel dat reg sal geskied nie.
15. (a) Hoe sal ware Christene optree wanneer Jehovah sy oordeel voltrek? (b) Wat kan van Jehovah se oordele gesê word?
15 In party lande probeer vyande van die waarheid vandag om die werk van Jehovah se knegte te belemmer deur valse en lasterlike propaganda te versprei. Ware Christene aarsel nie om die waarheid te verdedig nie, maar hulle probeer hulle nooit wreek nie (Romeine 12:19). Selfs wanneer Jehovah van die afvallige Christendom rekenskap eis, sal sy aanbidders op aarde geen deel aan die vernietiging hê nie. Hulle weet dat Jehovah die reg om wraak uit te oefen vir homself behou en dat hy op gepaste wyse sal optree wanneer die tyd daarvoor aanbreek. Die profesie verseker ons: “Volgens die dade sal hy dienooreenkomstig vergeld: woede aan sy teenstanders, die verdiende behandeling aan sy vyande. Aan die eilande sal hy die verdiende behandeling vergeld” (Jesaja 59:18). Soos in Jesaja se dag sal God se oordele nie net regverdig wees nie, dit sal ook volledig wees. Dit sal selfs tot by “die eilande”, afgeleë plekke, strek. Niemand sal so afgeleë of afgesonderd wees dat hy buite die bereik van Jehovah se strafgerigte sal wees nie.
16. Wie sal Jehovah se strafgerigte oorleef, en wat sal hulle leer omdat hulle dit oorleef?
16 Diegene wat hulle inspan om reg te doen, word regverdig bevind deur Jehovah. Jesaja voorspel dat hierdie soort mense van die een horison na die ander—oor die hele aarde—sal bly lewe. En die feit dat Jehovah hulle beskerm, sal hulle ontsag en eerbied vir hom grootliks laat toeneem (Maleagi 1:11). Ons lees: “Van die sonsondergang af sal hulle die naam van Jehovah begin vrees, en van die sonsopgang af sy heerlikheid, want hy sal kom soos ’n angswekkende rivier, wat deur die gees van Jehovah voortgedryf is” (Jesaja 59:19). Soos ’n kragtige windstorm wat ’n watermassa voor hom uitstoot en alles in sy pad wegvee, sal Jehovah se gees alle hindernisse verwyder wat die uitvoering van sy wil belemmer. Sy gees is sterker as enige krag wat die mens besit. Wanneer hy dit gebruik om sy oordeel aan mense en nasies te voltrek, sal hy beslis volkome sukses hê.
Hoop en seëninge vir berouvolles
17. Wie is Sion se Terugkoper, en wanneer koop hy Sion terug?
17 Onder die Wet van Moses kon ’n Israeliet wat hom in slawerny verkoop het, deur ’n terugkoper uit slawerny verlos word. Vroeër in Jesaja se profetiese boek is Jehovah as die Terugkoper van berouvolle mense voorgestel (Jesaja 48:17). Nou word hy weer as die Terugkoper van berouvolles beskryf. Jesaja teken Jehovah se belofte op: “‘Die Terugkoper sal beslis na Sion kom, en na dié wat hulle in Jakob van oortreding afkeer’, is die woord van Jehovah” (Jesaja 59:20). Hierdie gerusstellende belofte word in 537 v.G.J. vervul. Maar dit het ’n verdere vervulling. Die apostel Paulus het hierdie woorde uit die Septuagint-vertaling aangehaal en dit op Christene toegepas. Hy het geskryf: “Op hierdie manier sal die hele Israel gered word. Net soos daar geskrywe staan: ‘Die verlosser sal uit Sion kom en goddelose gebruike van Jakob afwend. En dit is van my kant die verbond met hulle, wanneer ek hulle sondes wegneem’” (Romeine 11:26, 27). Jesaja se profesie het inderdaad ’n baie groter toepassing—een wat tot in ons tyd en verder strek. Hoe so?
18. Wanneer en hoe het Jehovah “die Israel van God” in aansyn geroep?
18 In die eerste eeu het ’n klein oorblyfsel van die nasie Israel Jesus as die Messias aangeneem (Romeine 9:27; 11:5). Op Pinkster 33 G.J. het Jehovah sy heilige gees op omtrent 120 van hierdie gelowiges uitgestort en hulle in sy nuwe verbond met Jesus Christus as middelaar ingebring (Jeremia 31:31-33; Hebreërs 9:15). Op daardie dag het “die Israel van God” in aansyn gekom, ’n nuwe nasie waarvan die lede gekenmerk word, nie deur vleeslike afstamming van Abraham nie, maar deur die feit dat hulle deur God se gees verwek is (Galasiërs 6:16). Hierdie nuwe nasie sluit onbesnede nie-Jode in, waarvan Kornelius die eerste was (Handelinge 10:24-48; Openbaring 5:9, 10). Hulle is dus deur Jehovah God aangeneem en het sy geestelike kinders geword, mede-erfgename met Jesus.—Romeine 8:16, 17.
19. Watter verbond sluit Jehovah met die Israel van God?
19 Jehovah sluit nou ’n verbond met die Israel van God. Ons lees: “‘Wat my betref, dit is my verbond met hulle’, het Jehovah gesê. ‘My gees wat op jou is en my woorde wat ek in jou mond gelê het—hulle sal nie weggeneem word uit jou mond of uit die mond van jou nageslag of uit die mond van die nageslag van jou nageslag nie’, het Jehovah gesê, ‘van nou af selfs tot onbepaalde tyd’” (Jesaja 59:21). Hetsy hierdie woorde op Jesaja self van toepassing is of nie, hulle is beslis in Jesus vervul, wat die versekering gekry het dat ‘hy sy nageslag sal sien’ (Jesaja 53:10). Jesus het woorde geuiter wat hy by Jehovah geleer het, en Jehovah se gees het op hom gerus (Johannes 1:18; 7:16). Dit is dus gepas dat sy broers en mede-erfgename, lede van die Israel van God, ook Jehovah se heilige gees ontvang en ’n boodskap verkondig wat hulle by hulle hemelse Vader geleer het. Hulle is almal “persone . . . wat deur Jehovah geleer word” (Jesaja 54:13; Lukas 12:12; Handelinge 2:38). Deur middel van Jesaja of deur middel van Jesus, wat profeties deur Jesaja afgebeeld word, sluit Jehovah nou ’n verbond dat hy hulle nooit sal vervang nie, maar dat hy hulle tot onbepaalde tyd as sy getuies sal gebruik (Jesaja 43:10). Maar wie is hulle “nageslag” wat ook by hierdie verbond baat vind?
20. Hoe is Jehovah se belofte aan Abraham in die eerste eeu vervul?
20 In die ou tyd het Jehovah vir Abraham belowe: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Genesis 22:18). In ooreenstemming hiermee het die klein oorblyfsel natuurlike Israeliete wat die Messias aangeneem het, na baie nasies toe uitgegaan en die goeie nuus oor die Christus verkondig. Baie onbesnede nie-Jode, waarvan Kornelius die eerste was, het ‘hulleself geseën’ deur middel van Jesus, Abraham se Saad. Hulle het ’n deel van die Israel van God geword en ’n sekondêre deel van die saad van Abraham. Hulle vorm ’n deel van Jehovah se “heilige nasie”, wat die opdrag het om “die voortreflikhede alom bekend [te] maak van die een wat [hulle] uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het”.—1 Petrus 2:9; Galasiërs 3:7-9, 14, 26-29.
21. (a) Watter “nageslag” het die Israel van God in hedendaagse tye voortgebring? (b) Hoe word die “nageslag” vertroos deur die verbond, of kontrak, wat Jehovah met die Israel van God gesluit het?
21 Vandag is die volle getal van die Israel van God blykbaar reeds ingesamel. Maar die nasies word nog steeds geseën—en op groot skaal. Hoe? Deurdat die Israel van God ’n “nageslag” voortgebring het, dissipels van Jesus wie se hoop die ewige lewe op ’n paradysaarde is (Psalm 37:11, 29). Hierdie “nageslag” word ook deur Jehovah geleer en word in sy weë onderrig (Jesaja 2:2-4). Hoewel hulle nie met heilige gees gedoop is of as deelgenote van die nuwe verbond beskou word nie, word hulle deur Jehovah se heilige gees versterk om al die hindernisse te oorkom wat Satan in die weg van hulle predikingswerk plaas (Jesaja 40:28-31). Daar is nou miljoene van hulle en namate hulle hulle eie nageslag voortbring, word hulle al hoe meer. Jehovah se verbond, of kontrak, met die gesalfdes gee hierdie “nageslag” die vertroue dat Jehovah sal voortgaan om hulle ook tot onbepaalde tyd as sy woordvoerders te gebruik.—Openbaring 21:3, 4, 7.
22. Watter vertroue kan ons in Jehovah hê, en watter uitwerking behoort dit op ons te hê?
22 Mag ons dan almal ons geloof in Jehovah behou. Hy wil ons red, en hy kan dit ook doen! Sy hand sal nooit te kort wees nie; hy sal altyd sy getroue knegte verlos. Almal wat op hom vertrou, sal “van nou af selfs tot onbepaalde tyd” sy goeie woorde in hulle mond dra.
[Venster op bladsy 294]
Die afvallige Jerusalem—’n parallel van die Christendom
Jerusalem, die hoofstad van God se uitverkore volk, beeld God se hemelse organisasie van geesskepsele af en ook die groep gesalfde Christene wat as die bruid van Christus tot hemelse lewe opgewek word (Galasiërs 4:25, 26; Openbaring 21:2). Maar Jerusalem se inwoners was dikwels ontrou aan Jehovah, en die stad is as ’n prostituut en ’n egbreekster beskryf (Esegiël 16:3, 15, 30-42). In daardie toestand is Jerusalem ’n gepaste afbeelding van die afvallige Christendom.
Jesus het gesê dat Jerusalem “die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is” (Lukas 13:34; Matteus 16:21). Soos ontroue Jerusalem beweer die Christendom dat hulle die ware God dien, maar hulle wyk ver af van sy regverdige weë. Ons kan die vertroue hê dat Jehovah die Christendom volgens dieselfde regverdige standaarde sal oordeel as dié waarvolgens hy die afvallige Jerusalem geoordeel het.
[Prent op bladsy 296]
’n Regter moet regverdig oordeel, geregtigheid nastreef en geen omkoopgeskenk aanneem nie
[Prent op bladsy 298]
Soos ’n rivier in vloed sal Jehovah se oordele alle hindernisse wegvee wat die uitvoering van sy wil belemmer
[Prent op bladsy 302]
Jehovah sluit ’n verbond dat sy volk nooit die voorreg sal verloor om sy getuies te wees nie