Hoofstuk sewe-en-twintig
Jehovah seën rein aanbidding
1. Watter temas word in die laaste hoofstuk van Jesaja beklemtoon, en watter vrae word beantwoord?
IN DIE laaste hoofstuk van Jesaja word party van die vernaamste temas van hierdie profetiese boek tot ’n dramatiese klimaks gevoer, en ’n aantal belangrike vrae word beantwoord. Onder die temas wat beklemtoon word, is Jehovah se verhewenheid, sy haat vir huigelary, sy vasbeslotenheid om die goddeloses te straf en sy liefde vir die getroues en sy besorgdheid oor hulle. Daarbenewens word die volgende vrae beantwoord: Wat onderskei ware aanbidding van valse aanbidding? Hoe kan ons seker wees dat Jehovah huigelaars sal vergeld wat voorgee dat hulle heilig is terwyl hulle God se volk onderdruk? En hoe sal Jehovah diegene seën wat getrou bly aan hom?
Die sleutel tot rein aanbidding
2. Wat verklaar Jehovah aangaande sy grootsheid, en wat word nie deur hierdie woorde geïmpliseer nie?
2 Die profesie beklemtoon eerstens Jehovah se grootsheid: “Só het Jehovah gesê: ‘Die hemel is my troon en die aarde is my voetbank. Waar is die huis dan wat julle vir my kan bou, en waar is die plek dan wat my rusplek sal wees?’” (Jesaja 66:1). Party glo dat die profeet die Jode daarvan afraai om Jehovah se tempel te herbou wanneer die nasie in hulle vaderland herstel is. Maar dit is nie die geval nie; Jehovah self sal beveel dat die tempel herbou word (Esra 1:1-6; Jesaja 60:13; Haggai 1:7, 8). Wat beteken hierdie gedeelte dan?
3. Waarom is dit gepas dat die aarde as Jehovah se “voetbank” beskryf word?
3 In die eerste plek kan ons dink aan die rede waarom die aarde as Jehovah se “voetbank” beskryf word. Dit is nie ’n neerhalende beskrywing nie. Onder al die biljoene hemelliggame in die heelal is dit net die aarde wat hierdie spesiale benaming gegee is. Ons planeet sal vir ewig uniek wees, want Jehovah se enigverwekte Seun het hier die losprys betaal en Jehovah sal sy soewereiniteit hier deur middel van die Messiaanse Koninkryk regverdig. Hoe gepas is dit tog dat die aarde Jehovah se voetbank genoem word! ’n Koning gebruik moontlik so ’n bankie wanneer hy op sy verhewe troon gaan sit en laat sy voete dan daarop rus.
4. (a) Waarom is dit onmoontlik dat enige gebou op aarde ’n rusplek vir Jehovah God kan wees? (b) Wat beteken die frase “al hierdie dinge”, en tot watter gevolgtrekking moet ons kom wat die aanbidding van Jehovah betref?
4 ’n Koning woon natuurlik nie op sy voetbank nie, en Jehovah woon ook nie op die aarde nie. Selfs die ganse fisiese hemel kan hom nie bevat nie! Hoeveel minder kan Jehovah dan letterlik in enige gebou op aarde woon (1 Konings 8:27). Jehovah se troon en sy rusplek is in die geesteryk, wat die betekenis is van “die hemel” soos dit in Jesaja 66:1 gebruik word. Die volgende vers bring ons by die kern van die saak: “‘En al hierdie dinge het my hand gemaak, sodat dit alles ontstaan het’, is die woord van Jehovah” (Jesaja 66:2a). Stel jou voor hoe Jehovah ’n groot gebaar maak wanneer hy na “al hierdie dinge”—alles in die hemel en op aarde—wys (Jesaja 40:26; Openbaring 10:6). As die Grootse Skepper van die ganse heelal verdien hy dat meer as ’n gebou aan hom toegewy word. Hy verdien meer as net ’n uiterlike vorm van aanbidding.
5. Hoe toon ons dat ons “geteister en verslae van gees” is?
5 Watter soort aanbidding is gepas vir die Universele Soewerein? Hy sê self vir ons: “Op dié een sal ek dan let, op die een wat geteister en verslae van gees is en wat vir my woord bewe” (Jesaja 66:2b). Ja, ’n regte hartstoestand by die aanbidder is noodsaaklik vir rein aanbidding (Openbaring 4:11). Die aanbidder van Jehovah moet “geteister en verslae van gees” wees. Beteken dit dat Jehovah wil hê dat ons ongelukkig moet wees? Nee, hy is “die gelukkige God”, en hy wil hê dat sy aanbidders ook vreugdevol moet wees (1 Timoteus 1:11; Filippense 4:4). Maar ons sondig almal dikwels, en ons moet nie ons sondes ligtelik opneem nie. Ons moet daardeur “geteister” word en bedroef wees omdat ons nie aan Jehovah se regverdige standaarde voldoen nie (Psalm 51:17). Ons moet toon dat ons “verslae van gees” is deur berou te hê, teen ons sondige neigings te stry en tot Jehovah te bid vir vergifnis.—Lukas 11:4; 1 Johannes 1:8-10.
6. In watter sin moet ware aanbidders ‘vir God se woord bewe’?
6 Daarbenewens let Jehovah op diegene ‘wat vir sy woord bewe’. Beteken dit dat hy wil hê ons moet bewe van vrees wanneer ons sy uitsprake lees? Nee, hy wil eerder hê dat ons sy woorde met ontsag en eerbied moet beskou. Ons speur sy raad in alle opregtheid na en laat toe dat dit ons in alle aspekte van ons lewe lei (Psalm 119:105). Ons “bewe” dalk ook in die sin dat ons met vrees vervul word deur die blote gedagte dat ons ongehoorsaam aan God sou wees, sy waarheid met mensetradisies sou besoedel of dit as iets alledaags sou beskou. So ’n nederige gesindheid is noodsaaklik vir rein aanbidding—maar dit is ongelukkig baie seldsaam in die wêreld van vandag.
Jehovah haat huigelagtige aanbidding
7, 8. Hoe beskou Jehovah formalistiese aanbidding deur godsdienshuigelaars?
7 Wanneer Jesaja sy tydgenote beskou, weet hy maar alte goed dat min van hulle die gesindheid het wat Jehovah in sy aanbidders soek. Om hierdie rede verdien die afvallige Jerusalem sy naderende oordeel. Let op hoe Jehovah die aanbidding beskou wat in daardie stad plaasvind: “Wie die bul slag, is soos hy wat ’n man doodmaak. Wie die skaap slag, is soos hy wat die nek van ’n hond breek. Wie ’n gawe offer—dit is varkbloed! Wie ’n gedenkoffer van wierook bring, is soos hy wat ’n seën met towerwoorde uitspreek. Hulle het ook hulle eie weë verkies, en in hulle walglike dinge het hulle siel behae geskep.”—Jesaja 66:3.
8 Hierdie woorde herinner ons aan Jehovah se woorde wat in die eerste hoofstuk van Jesaja opgeteken is. Jehovah het daar vir sy opstandige volk gesê dat hulle formalistiese dade van aanbidding hom nie net mishaag het nie, maar dat dit in werklikheid sy regverdige toorn laat opvlam het omdat die aanbidders huigelagtig was (Jesaja 1:11-17). Net so vergelyk Jehovah nou hulle offerandes met afskuwelike misdade. As hulle ’n duur bul offer, sal dit Jehovah net so min tevrede stel as wanneer hulle ’n mens vermoor! Ander offerandes word vergelyk met ’n hond of ’n vark, diere wat onrein is onder die Mosaïese Wet en beslis nie gepas is as ’n offer nie (Levitikus 11:7, 27). Laat Jehovah toe dat sulke godsdienshuigelary ongestraf bly?
9. Hoe het die meeste Jode op Jehovah se herinneringe deur middel van Jesaja gereageer, en wat sal die onafwendbare resultaat wees?
9 Jehovah sê nou: “Ek sal op my beurt maniere kies om hulle sleg te behandel; en die dinge wat vir hulle skrikwekkend is, sal ek oor hulle bring; want ek het geroep, maar niemand het geantwoord nie, ek het gepraat, maar niemand het geluister nie; en hulle het bly doen wat sleg was in my oë en gekies wat my glad nie behaag het nie” (Jesaja 66:4). Jesaja kan hierdie woorde ongetwyfeld met hartgrondige oortuiging uiter. Hy is baie jare al Jehovah se instrument, wat Sy volk ‘roep’ en met hulle ‘praat’. Die profeet weet maar alte goed dat daar oor die algemeen niemand is wat geluister het nie. Omdat hulle bly doen het wat sleg was, is vergelding onafwendbaar. Jehovah sal beslis hulle straf kies en skrikwekkende dinge oor sy afvallige volk laat kom.
10. Wat leer Jehovah se handelinge met Juda ons omtrent sy beskouing van die Christendom?
10 Net so het die hedendaagse Christendom dinge beoefen waarin Jehovah geen behae skep nie. Afgodediens floreer in hulle kerke, onskriftuurlike filosofieë en tradisies word van die preekstoel af verheerlik en die soeke na politieke mag het hulle al hoe dieper in ’n geestelik owerspelige verhouding met die nasies van die wêreld laat beland (Markus 7:13; Openbaring 18:4, 5, 9). Net soos in die geval van die eertydse Jerusalem, kom die Christendom se verdiende vergelding—’n ‘skrikwekkende’ ding—meedoënloos op hulle afgestorm. Onder die redes vir hulle onafwendbare straf, is die manier waarop hulle God se volk behandel het.
11. (a) Wat vererger die sonde van die afvalliges in Jesaja se dag? (b) In watter sin verstoot Jesaja se tydgenote getroues ‘weens God se naam’?
11 Jesaja gaan voort: “Hoor die woord van Jehovah, julle wat vir sy woord bewe: ‘Julle broers wat julle haat, wat julle weens my naam verstoot, het gesê: “Mag Jehovah verheerlik word!” Hy moet ook verskyn met blydskap van julle kant, en húlle sal beskaamd gemaak word’” (Jesaja 66:5). Jesaja se “broers”, sy eie landgenote, het die godgegewe verantwoordelikheid om Jehovah God te verteenwoordig en hulle aan sy soewereiniteit te onderwerp. Omdat hulle dit nie doen nie, is hulle sonde baie ernstig. Maar wat hulle sonde erger maak, is dat hulle getroue en nederige mense, soos Jesaja, haat. Hierdie afvalliges haat en verstoot die getroues omdat hulle Jehovah God op die regte wyse verteenwoordig. In hierdie opsig word hulle ‘weens God se naam’ verstoot. Terselfdertyd beweer hierdie valse knegte van Jehovah dat hulle hom verteenwoordig en gebruik hulle ewe vroom uitdrukkings wat godsdienstig klink, soos “Mag Jehovah verheerlik word!”a
12. Watter voorbeelde is daar van die vervolging wat getroue knegte van Jehovah onder godsdienshuigelaars moes verduur?
12 Die haat wat valse godsdiens teenoor die navolgers van rein aanbidding het, is niks nuuts nie. Dit is ’n verdere vervulling van die profesie in Genesis 3:15, wat langdurige vyandskap tussen Satan se saad en die Saad van God se vrou voorspel het. Jesus het vir sy gesalfde volgelinge in die eerste eeu gesê dat hulle ook deur die toedoen van hulle landgenote sou ly. Hulle sou uit die sinagoges geban word en selfs tot die dood toe vervolg word (Johannes 16:2). En wat van hedendaagse tye? Aan die begin van “die laaste dae” het God se volk gesien dat soortgelyke vervolging vir hulle voorlê (2 Timoteus 3:1). In 1914 het Die Wagtoring Jesaja 66:5 aangehaal en gesê: “Omtrent al die vervolging wat oor God se volk gekom het, het van voorgewende Christene gekom.” Dieselfde artikel het ook gesê: “Ons weet nie of hulle in ons dag tot die uiterste toe sal gaan nie—om ons as lede van die gemeenskap, as organisasie, moontlik selfs letterlik, dood te maak.” Hoe waar was hierdie woorde tog! Kort ná dit gepubliseer is, het vervolging wat deur die geestelikes aangestig is, gedurende die Eerste Wêreldoorlog ’n hoogtepunt bereik. Maar die Christendom is beskaamd gemaak, net soos voorspel is. Hoe?
’n Skielike herstelling
13. Wat is die “geluid van ’n opskudding uit die stad” in die oorspronklike vervulling?
13 Jesaja voorspel: “Daar is ’n geluid van ’n opskudding uit die stad, ’n geluid uit die tempel! Dit is die geluid van Jehovah wat sy vyande hulle verdiende loon gee” (Jesaja 66:6). In die oorspronklike vervulling van hierdie woorde is “die stad” Jerusalem, waar Jehovah se tempel is. Die “geluid van ’n opskudding” impliseer die gedruis van oorlog, wat in die stad gehoor word wanneer die invallende Babiloniese leërs dit in 607 v.G.J. aanval. Maar wat van die hedendaagse vervulling?
14. (a) Wat het Maleagi oor Jehovah se koms na Sy tempel voorspel? (b) Wat het volgens Esegiël se profesie gebeur toe Jehovah na sy tempel gekom het? (c) Wanneer het Jehovah en Jesus inspeksie gedoen van die geestelike tempel, en watter uitwerking het dit gehad op dié wat beweer dat hulle rein aanbidding verteenwoordig?
14 Hierdie woorde in Jesaja is in ooreenstemming met twee ander profetiese boodskappe, waarvan die een in Esegiël 43:4, 6-9 opgeteken is en die ander in Maleagi 3:1-5. Esegiël sowel as Maleagi voorspel ’n tyd wanneer Jehovah God na sy tempel kom. Maleagi se profesie toon dat Jehovah kom om inspeksie te doen van sy huis van rein aanbidding en om as ’n Louteraar op te tree en dat hy dié wat hom verkeerd voorstel, verwerp. Esegiël se visioen beeld Jehovah uit waar hy in die tempel ingaan en daarop aandring dat alle spore van onsedelikheid en afgodediens verwyder word.b In die hedendaagse vervulling van hierdie profesieë was daar in 1918 ’n belangrike geestelike verwikkeling met betrekking tot Jehovah se aanbidding. Jehovah en Jesus het klaarblyklik ’n inspeksie gedoen van diegene wat beweer dat hulle rein aanbidding verteenwoordig. Daardie inspeksie het tot die finale verwerping van die verdorwe Christendom gelei. Vir Christus se gesalfde volgelinge het die inspeksie ’n kort tydjie van loutering beteken waarop ’n skielike geestelike herstelling in 1919 gevolg het.—1 Petrus 4:17.
15. Watter geboorte word voorspel, en hoe word dit in 537 v.G.J. vervul?
15 Hierdie herstelling word goed uitgebeeld in die volgende verse van Jesaja: “Voordat sy geboortepyne begin kry het, het sy geboorte gegee. Voordat geboortepyne oor haar kon kom, is sy van ’n seun verlos. Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Sal ’n land op een dag met geboortepyne voortgebring word? Of sal ’n nasie met een slag gebore word? Want Sion het geboortepyne begin kry sowel as geboorte gegee aan haar kinders” (Jesaja 66:7, 8). Hierdie woorde het ’n opwindende eerste vervulling vir die Jode wat in Babilon in ballingskap is. Sion, of Jerusalem, word weer eens uitgebeeld as ’n vrou wat geboorte gee, maar wat ’n ongewone geboorte! Dit vind so skielik plaas dat dit verby is voordat die geboortepyne kan begin! Dit is ’n gepaste beeld. Die hergeboorte van God se volk as ’n afsonderlike nasie in 537 v.G.J. vind so skielik plaas dat dit soos ’n wonderwerk lyk. Dit is maar ’n kwessie van ’n paar maande van die tyd dat Kores die Jode uit gevangenskap bevry tot die tyd dat ’n getroue oorblyfsel weer in hulle vaderland is! Wat ’n kontras vorm dit tog met die gebeure wat tot die oorspronklike geboorte van die nasie Israel gelei het! In 537 v.G.J. hoef hulle nie ’n teësinnige heerser te smeek om hulle vry te laat nie, hoef hulle nie van ’n vyandige leër te vlug nie en hoef hulle ook nie 40 jaar lank in die wildernis rond te trek nie.
16. Wat stel Sion in die hedendaagse vervulling van Jesaja 66:7, 8 voor, en hoe is haar nageslag hergebore?
16 In die hedendaagse vervulling stel Sion Jehovah se hemelse “vrou”, sy hemelse organisasie van geesskepsele, voor. In 1919 was hierdie “vrou” verheug om die geboorte van haar gesalfde kinders op aarde as ’n georganiseerde volk, “’n nasie”, te sien. Daardie hergeboorte het skielik plaasgevind.c Binne ’n paar maande het die gesalfdes as ’n groep uit ’n toestand van doodse onbedrywigheid tot een van aktiewe lewe in hulle “land”, hulle godgegewe sfeer van geestelike bedrywigheid, oorgegaan (Openbaring 11:8-12). Teen die herfs van 1919 het hulle selfs die publikasie van ’n nuwe tydskrif aangekondig om Die Wagtoring aan te vul. Daardie nuwe publikasie is The Golden Age (nou Ontwaak!) genoem en was ’n bewys dat God se volk weer eens lewend en georganiseerd was om hom te dien.
17. Hoe verseker Jehovah sy volk dat niks hom kan keer om sy voorneme met betrekking tot geestelike Israel uit te voer nie?
17 Geen krag in die heelal kon hierdie geestelike hergeboorte keer nie. Die volgende vers stel dit duidelik: “‘Wat my betref, sou ek die moederskoot laat oopgaan en nie die geboorte laat plaasvind nie?’ sê Jehovah. ‘Of laat ek ’n geboorte plaasvind en sluit ek die moederskoot toe?’ het jou God gesê” (Jesaja 66:9). Net soos die proses van geboorte voltooi moet word as dit eers begin het, so was die hergeboorte van geestelike Israel onkeerbaar toe dit eers begin het. Daar was weliswaar teenstand, en daar sal waarskynlik in die toekoms nog meer teenstand wees. Maar as Jehovah met iets begin, kan net hy dit stopsit, en dit doen hy nooit! Maar hoe behandel Jehovah sy volk wat nou met nuwe krag besiel is?
Jehovah se tere sorg
18, 19. (a) Watter treffende illustrasie gebruik Jehovah, en hoe is dit van toepassing op sy volk in ballingskap? (b) Hoe het die gesalfde oorblyfsel vandag by liefdevolle voeding en sorg baat gevind?
18 Die volgende vier verse skets ’n treffende prentjie van Jehovah se tere sorg. Eers sê Jesaja: “Verbly julle saam met Jerusalem en wees bly saam met haar, almal wat haar liefhet. Verheug julle grootliks saam met haar, almal wat oor haar bly treur; omdat julle sal suig en beslis versadig sal word aan die bors van haar volle vertroosting; omdat julle met klein slukkies sal drink en julle sal verlustig aan die tepel van haar heerlikheid” (Jesaja 66:10, 11). Hier gebruik Jehovah die illustrasie van ’n vrou wat haar kind soog. Wanneer ’n baba honger is, huil hy aanhoudend. Maar wanneer hy naby sy moeder se bors gebring word om te drink, huil hy nie meer nie en is hy gelukkig en tevrede. Net so sal die oorblyfsel van getroue Jode in Babilon gou uit ’n toestand van droefheid tot een van geluk en tevredenheid gebring word wanneer die tyd van vrylating en herstelling kom. Hulle sal verheug wees. Jerusalem se heerlikheid sal hernieu word wanneer die stad herbou en herbewoon word. Aan die ander kant sal die stad se heerlikheid sy getroue inwoners insluit. Hulle sal weer eens deur middel van ’n aktiewe priesterdom geestelik gevoed word.—Esegiël 44:15, 23.
19 Geestelike Israel is ook ná die herstelling in 1919 met oorvloedige voedsel geseën. Sedertdien was daar ’n bestendige vloei van geestelike voedsel wat deur “die getroue en verstandige slaaf” voorsien word (Matteus 24:45-47). Dit was inderdaad ’n tyd van vertroosting en vreugde vir die gesalfde oorblyfsel. Maar daar was verdere seëninge.
20. Hoe is Jerusalem in die ou tyd sowel as in hedendaagse tye met “’n oorlopende stroom” geseën?
20 Die profesie gaan voort: “Só het Jehovah gesê: ‘Kyk, ek skenk aan haar vrede soos ’n rivier en die heerlikheid van nasies soos ’n oorlopende stroom, en julle sal beslis suig. Op die heup sal julle gedra word en op die knieë sal julle getroetel word’” (Jesaja 66:12). Hier word die beeld van ’n kind wat gesoog word, gekombineer met die beeld van oorvloedige seëninge—“’n rivier” en “’n oorlopende stroom”. Jerusalem sal nie net met oorvloedige vrede wat van Jehovah kom, geseën word nie, maar ook met “die heerlikheid van nasies”, wat na God se volk vloei en hulle seën. Dit beteken dat mense van die nasies na Jehovah se volk toe sal stroom (Haggai 2:7). In die eertydse vervulling was daar mense uit verskillende nasies wat hulle wel by Israel gevoeg en Joodse proseliete geword het. Maar ’n veel groter vervulling het in ons tyd plaasgevind toe “’n groot menigte . . . uit alle nasies en stamme en volke en tale”—waarlik ’n oorlopende stroom van mense—hulle by die oorblyfsel van geestelike Jode gevoeg het.—Openbaring 7:9; Sagaria 8:23.
21. Watter soort vertroosting word in ’n hartroerende beskrywing voorspel?
21 Jesaja 66:12 praat ook van blyke van moederliefde—dat ’n kind op die knieë getroetel en op die heup gedra word. In die volgende vers word ’n soortgelyke gedagte uitgedruk met ’n interessante verskuiwing van perspektief. “Soos ’n man wat voortdurend deur sy moeder vertroos word, so sal ek julle voortdurend vertroos; en in die geval van Jerusalem sal julle vertroos word” (Jesaja 66:13). Die kind is nou “’n man”, ’n volwassene. Maar sy moeder het nie haar begeerte verloor om hom in ’n tyd van benoudheid te vertroos nie.
22. Hoe toon Jehovah hoe teer en sterk sy liefde is?
22 Op hierdie hartroerende manier lig Jehovah toe hoe sterk en teer sy liefde vir sy volk is. Selfs die sterkste moederliefde is maar ’n flou weerspieëling van Jehovah se innige liefde vir sy getroue volk (Jesaja 49:15). Hoe noodsaaklik is dit tog dat alle Christene hierdie eienskap van hulle hemelse Vader weerspieël! Die apostel Paulus het dit gedoen, en so het hy ’n goeie voorbeeld vir ouer manne in die Christengemeente gestel (1 Tessalonisense 2:7). Jesus het gesê dat broederliefde die vernaamste kenmerk van sy volgelinge sal wees.—Johannes 13:34, 35.
23. Beskryf die blye toestand van Jehovah se herstelde volk.
23 Jehovah bewys sy liefde deur sy dade. Hy gaan dus voort: “Julle sal beslis sien, en julle hart sal sekerlik jubel, en julle gebeente sal net soos jong gras uitspruit. En die hand van Jehovah sal beslis aan sy knegte bekend gemaak word, maar hy sal sy vyande veroordeel” (Jesaja 66:14). ’n Hebreeuse taalkundige is van mening dat die uitdrukking “julle sal beslis sien” impliseer dat die terugkerende ballinge “net vreugde sal sien”, waar hulle ook al in hulle herstelde land kyk. Hulle sal inderdaad jubel, hulle sal onbeskryflik verheug wees, omdat hulle in hulle geliefde vaderland herstel is. Hulle sal weer jonk voel, asof hulle gebeente weer sterk word, vol nuwe lewe soos die gras in die lente. Almal sal weet dat hierdie geseënde toestand nie deur enige mensepogings teweeggebring is nie, maar deur “die hand van Jehovah”.
24. (a) Tot watter slotsom kom jy wanneer jy kyk na die gebeurtenisse wat vandag ’n uitwerking op Jehovah se volk het? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
24 Sien jy vandag dat Jehovah se hand onder sy volk werksaam is? Geen mens sou ooit die herstelling van rein aanbidding kon teweeggebring het nie. Geen mens sou kon veroorsaak het dat miljoene kosbare mense uit alle nasies instroom om hulle by die getroue oorblyfsel in hulle geestelike land te voeg nie. Net Jehovah God kan sulke dinge doen. Hierdie blyke van Jehovah se liefde gee ons ’n rede tot oorvloedige vreugde. Mag ons altyd ons waardering vir sy liefde behou. Laat ons steeds ‘bewe vir sy woord’. Laat ons vasbeslote wees om volgens Bybelbeginsels te lewe en behae daarin te skep om Jehovah te dien.
[Voetnote]
a Vandag weier baie in die Christendom om Jehovah se persoonlike naam te gebruik en verwyder hulle dit selfs uit baie Bybelvertalings. Party bespot God se volk omdat hulle sy persoonlike naam gebruik. En tog gebruik baie van hierdie persone ewe vroom die uitdrukking “Halleluja”, wat “Loof Jah” beteken.
b Die uitdrukking “die lyke van hulle konings”, wat in Esegiël 43:7, 9 gebruik word, verwys na afgode. Die opstandige leiers en mense van Jerusalem het God se tempel met afgode besoedel en het as ’t ware konings van hulle gemaak.
c Die geboorte wat hier voorspel word, is nie dieselfde as die geboorte wat in Openbaring 12:1, 2, 5 beskryf word nie. In daardie hoofstuk van Openbaring beeld die “seun, ’n manlike kind”, die Messiaanse Koninkryk af, wat in 1914 in werking getree het. Die “vrou” is egter dieselfde in albei profesieë.
[Prent op bladsy 395]
“Al hierdie dinge het my hand gemaak”
[Prent op bladsy 402]
Jehovah sal “die heerlikheid van nasies” aan Sion skenk