Hoofstuk 67
Hulle neem hom nie gevange nie
ONDERWYL die Huttefees nog aan die gang is, stuur die godsdiensleiers geregsdienaars uit om Jesus gevange te neem. Hy probeer nie wegkruip nie. Jesus hou eerder aan om in die openbaar te onderrig, en sê: “Nog ’n klein tydjie is Ek by julle, en Ek gaan na Hom wat My gestuur het. Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie.”
Die Jode verstaan nie en vra dus onder mekaar: “Waar wil Hy heengaan, dat ons Hom nie sal vind nie? Hy wil tog nie na die verstrooides onder die Grieke gaan en die Grieke leer nie? Wat beteken hierdie woord wat Hy gesê het: Julle sal My soek en nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?” Jesus praat natuurlik van sy naderende dood en opstanding tot hemelse lewe, waarheen sy vyande hom nie kan volg nie.
Die sewende en laaste dag van die fees breek aan. Elke oggend van die fees het ’n priester water, wat hy uit die Siloam-poel geneem het, uitgegiet sodat dit na die voetstuk van die altaar afgevloei het. Jesus herinner die mense waarskynlik aan hierdie daaglikse seremonie wanneer hy uitroep: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”
In werklikheid praat Jesus hier van die merkwaardige gevolge wanneer die heilige gees uitgestort sou word. Hierdie uitstorting van heilige gees vind die volgende jaar met Pinkster plaas. Strome van lewende water vloei daar voort wanneer die 120 dissipels hulle bediening onder die mense begin. Maar tot op daardie tydstip is daar nie gees nie, in die sin dat geeneen van Christus se dissipels met heilige gees gesalf en tot die hemelse lewe geroep is nie.
In antwoord op Jesus se lering begin sommige sê: “Hy is waarlik die profeet”, blykbaar gedagtig aan die beloofde koms van die profeet wat groter as Moses sou wees. Ander sê: “Hy is die Christus.” Maar ander protesteer: “Kom die Christus dan uit Galilea? Het die Skrif nie gesê dat die Christus uit die geslag van Dawid kom en uit Betlehem, die dorp waar Dawid was nie?”
Verdeeldheid ontstaan dus onder die menigte. Party wil hê dat Jesus gevange geneem word, maar niemand slaan ’n hand aan hom nie. Toe die geregsdienaars sonder Jesus terugkeer, vra die owerpriesters en Fariseers: “Waarom het julle Hom nie gebring nie?”
“Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie”, antwoord die geregsdienaars.
Die godsdiensleiers is woedend en verlaag hulle tot bespotting, wanvoorstelling en uitskellery. Hulle vra sarkasties: “Julle is tog nie ook mislei nie? Het iemand uit die owerstes in Hom geglo, of uit die Fariseërs? Maar hierdie skare wat die wet nie ken nie, is vervloek!”
Daarop waag Nikodemus, ’n Fariseër en ’n owerste van die Jode (dit wil sê, ’n lid van die Sanhedrin), dit om vir Jesus op te kom. Jy onthou moontlik dat Nikodemus twee en ’n half jaar tevore in die nag na Jesus gekom en geloof in hom uitgespreek het. Nou sê Nikodemus: “Oordeel ons wet die mens sonder om hom eers te hoor en te weet wat hy doen?”
Dit maak die Fariseërs selfs woedender dat iemand uit hulle eie geledere dit waag om Jesus te verdedig. “Jy is tog nie ook uit Galilea nie?” sê hulle snydend. “Ondersoek en sien dat daar geen profeet uit Galilea opgestaan het nie.”
Hoewel die Skrif nie regstreeks sê dat ’n profeet uit Galilea sou kom nie, wys dit wel daarop dat die Christus daarvandaan sou kom deur te sê dat “’n groot lig” in hierdie streek gesien sou word. Daarbenewens is Jesus in Betlehem gebore, en hy was ’n afstammeling van Dawid. Hoewel die Fariseërs waarskynlik hiervan bewus is, is hulle blykbaar verantwoordelik vir die wanbegrippe wat mense van Jesus het. Johannes 7:32-52; Jesaja 8:23–9:1; Mattheüs 4:13-17.
▪ Wat gebeur elke oggend van die fees, en hoe vestig Jesus moontlik die aandag hierop?
▪ Waarom neem die geregsdienaars Jesus nie gevange nie, en hoe reageer die godsdiensleiers daarop?
▪ Wie is Nikodemus, wat is sy gesindheid teenoor Jesus, en hoe behandel sy mede-Fariseërs hom?
▪ Watter bewys is daar dat die Christus uit Galilea sou kom?