Hoofstuk veertien
Jehovah verneder ’n hoogmoedige stad
1. Hoe ver kyk die boek Jesaja in die toekoms in?
DIE profetiese boek Jesaja is in die agtste eeu v.G.J. geskryf toe die Assiriërs die Beloofde Land binnegeval het. Soos ons in vorige hoofstukke van sy boek gesien het, voorspel Jesaja toekomstige gebeure met merkwaardige akkuraatheid. Maar die boek praat van meer as net die tyd toe Assirië die oorheersende wêreldmoondheid was. Dit voorspel die terugkeer van Jehovah se verbondsvolk uit ballingskap in baie lande, onder andere Sinar, waar Babilon geleë was (Jesaja 11:11). In Jesaja hoofstuk 13 vind ons ’n baie interessante profesie wat, wanneer dit vervul word, hierdie terugkeer moontlik sal maak. Hierdie profesie word deur die volgende woorde ingelei: “Die uitspraak teen Babilon wat Jesaja, die seun van Amos, in ’n visioen gesien het.”—Jesaja 13:1.
‘Hoogmoed sal ek verneder’
2. (a) Hoe kry Hiskia met Babilon te doen? (b) Wat is die “baken” wat opgerig sal word?
2 Gedurende Jesaja se lewe kry Juda met Babilon te doen. Koning Hiskia word ernstig siek en herstel dan. Ambassadeurs van Babilon kom om hom geluk te wens met sy herstel, moontlik met die bybedoeling om Hiskia as ’n bondgenoot te werf in hulle oorlog teen Assirië. Koning Hiskia maak die fout om vir hulle al sy skatte te wys. Gevolglik sê Jesaja vir Hiskia dat al daardie rykdom ná die koning se dood na Babilon geneem sal word (Jesaja 39:1-7). Dit word in 607 v.G.J. vervul wanneer Jerusalem vernietig word en die nasie in ballingskap weggevoer word. Maar God se uitverkore volk sal nie vir ewig in Babilon bly nie. Jehovah voorspel hoe hy dit vir hulle moontlik sal maak om weer na hulle tuiste terug te keer. Hy begin deur te sê: “Rig ’n baken op ’n berg van kaal rotse op. Verhef die stem tot hulle, wink met die hand, sodat hulle die ingange van die edeles kan binnetrek” (Jesaja 13:2). Die “baken” is ’n opkomende wêreldmoondheid wat Babilon uit sy verhewe plek sal verwyder. Dit sal “op ’n berg van kaal rotse” opgerig word—sodat dit van ver af gesien kan word. Wanneer daardie nuwe wêreldmoondheid geroep word om Babilon aan te val, sal hy “die ingange van die edeles”, die poorte van daardie groot stad, binnedring en dit verower.
3. (a) Wie is die “geheiligdes” wat Jehovah sal roep? (b) In watter opsig is heidense leërs ‘geheilig’?
3 Jehovah sê verder: “Ek self het die bevel aan my geheiligdes gegee. Ook het ek my sterkes geroep om aan my toorn uiting te gee, my besonder uitgelate manne. Luister! ’n Menigte op die berge, iets soos ’n talryke volk! Luister! Die rumoer van koninkryke, van versamelde nasies! Jehovah van die leërs roep die oorlogsleër op” (Jesaja 13:3, 4). Wie is hierdie “geheiligdes” wat aangestel is om die hoogmoedige Babilon te verneder? Hulle is gekombineerde nasionale leërs, “versamelde nasies”. Hulle kom uit ’n afgeleë bergstreek teen Babilon. “Hulle kom uit ’n ver land, van die einde van die hemel af” (Jesaja 13:5). In watter opsig is hulle geheilig? Hulle is immers tog nie heilig nie. Hierdie heidense leërs stel glad nie daarin belang om Jehovah te dien nie. In die Hebreeuse Geskrifte beteken ‘geheilig’ egter “afgesonder om deur God gebruik te word”. Jehovah kan die leërs van die nasies heilig en hulle selfsugtige ambisie gebruik om aan sy toorn uiting te gee. Hy het Assirië so gebruik. Hy sal Babilon ook so gebruik (Jesaja 10:5; Jeremia 25:9). En hy sal ander nasies gebruik om Babilon te straf.
4, 5. (a) Wat voorspel Jehovah vir Babilon? (b) Waarmee sal Babilon se aanvallers te kampe hê?
4 Babilon is nog nie die oorheersende wêreldmoondheid nie. Maar deur middel van Jesaja praat Jehovah van die tyd wanneer Babilon daardie posisie sal beklee, en hy voorspel ook dat dit sal val. Hy sê: “Weeklaag, want die dag van Jehovah is naby! As ’n plundering van die Almagtige af sal dit kom” (Jesaja 13:6). Ja, Babilon se gespog sal vervang word deur droewige weeklag. Waarom? Weens “die dag van Jehovah”, die dag wanneer Jehovah oordeel daaraan voltrek.
5 Maar hoe sal dit dan moontlik wees dat Babilon geplunder word? Wanneer Jehovah se tyd hiervoor kom, sal die stad veilig lyk. Invallende leërs sal eers deur die natuurlike verdediging moet kom wat die Eufraatrivier bied. Hierdie rivier loop deur die middel van die stad en word gebruik om ’n groot grag vol te maak en die stad van drinkwater te voorsien. Dan is daar ook Babilon se enorme dubbele mure, wat ondeurdringbaar lyk. Daarbenewens sal daar volop voedsel in die stad wees. Die boek Daily Bible Illustrations sê dat Nabonidus—die laaste koning van Babilon—“groot moeite gedoen het om ’n goeie voedselvoorraad in die stad op te bou, en daar was vermoedelik genoeg [voedsel] om die inwoners twintig jaar lank aan die lewe te hou”.
6. Wat sal onverwags gebeur wanneer die voorspelde aanval op Babilon plaasvind?
6 Maar Babilon lyk eenvoudig onoorwinlik. Jesaja sê: “Daarom sal al die hande slap word, en die hele hart van die sterflike mens sal smelt. En die mense het ontsteld geraak. Krampe en geboortepyne gryp hulle aan; hulle het geboortepyne soos ’n vrou wat geboorte gee. Hulle kyk mekaar verbaas aan. Hulle gesigte is vlammende gesigte” (Jesaja 13:7, 8). Wanneer die seëvierende leërs die stad inneem, sal die gerustheid van sy inwoners vervang word deur pyn wat so skielik en so intens oor hulle sal kom soos dié van ’n vrou wat geboorte gee. Hulle harte sal smelt van vrees. Hulle hande sal slap word asof hulle verlam is, en hulle sal hulleself nie kan verdedig nie. Hulle gesigte sal ‘vlammend’ wees van vrees en benoudheid. Hulle sal mekaar verbaas aankyk en wonder hoe hulle groot stad kon geval het.
7. Watter “dag van Jehovah” kom nader, en wat sal dit vir Babilon beteken?
7 Maar dit sal baie beslis val. Babilon sal voor ’n oordeelsdag te staan kom, ’n “dag van Jehovah” wat baie pynlik sal wees. Die opperste Regter sal uiting gee aan sy toorn en sal ’n welverdiende oordeel aan Babilon se sondige inwoners voltrek. Die profesie sê: “Kyk! Die dag van Jehovah kom, wreed, met grimmigheid sowel as met brandende toorn, om die land ’n voorwerp van verbasing te maak, en om die land se sondaars daaruit te verdelg” (Jesaja 13:9). Babilon se vooruitsigte is droewig. Dit is asof die son, maan en sterre almal ophou om lig te gee. “Want die sterre van die hemel en sy Kesil-sterrebeelde sal hulle lig nie uitstraal nie; die son sal donker word wanneer dit te voorskyn kom, en die maan sal sy lig nie laat skyn nie.”—Jesaja 13:10.
8. Waarom het Jehovah besluit dat Babilon moet val?
8 Waarom sal hierdie ongeluk die trotse stad tref? Jehovah sê: “Ek sal die vrugbare land beslis straf vir sy slegtheid, en die goddeloses vir hulle dwaling. En ek sal die trots van die vermeteles laat ophou, en die hoogmoed van die tiranne sal ek verneder” (Jesaja 13:11). Die uitgieting van Jehovah se toorn sal Babilon se straf wees vir hulle wreedheid teenoor God se volk. Die hele land sal ly weens die slegtheid van die Babiloniërs. Hierdie trotse tiranne sal Jehovah nie meer openlik tart nie!
9. Wat wag gedurende Jehovah se oordeelsdag op Babilon?
9 Jehovah sê: “Ek sal die sterflike mens seldsamer maak as gelouterde goud, en die mens skaarser as die goud van Ofir” (Jesaja 13:12). Ja, die stad sal verlate word en woes lê. Jehovah gaan voort: “Daarom sal ek die hemel in beroering bring, en die aarde sal bewe en uit sy plek wyk weens die grimmigheid van Jehovah van die leërs en weens die dag van sy brandende toorn” (Jesaja 13:13). Babilon se “hemel”, sy menigte gode en godinne, sal in beroering wees en sal nie in staat wees om die stad in sy tyd van nood te help nie. “Die aarde”, die Babiloniese Ryk, sal bewe en uit sy plek wyk en sal maar net nog ’n vergange ryk in die geskiedenis word. “Soos ’n gasel wat verjaag word en soos ’n kudde sonder iemand om hulle bymekaar te bring, sal hulle elkeen na sy eie volk draai; en hulle sal elkeen na sy eie land vlug” (Jesaja 13:14). Al Babilon se buitelandse ondersteuners sal hom verlaat en vlug en hoop om nuwe verhoudings met die seëvierende wêreldmoondheid aan te knoop. Babilon sal uiteindelik die pyn van ’n verowerde stad ervaar, ’n pyn wat hy in sy bloeityd oor baie ander gebring het: “Elkeen wat gevind word, sal deurboor word, en elkeen wat in die opruiming gevang word, sal deur die swaard val; en hulle kinders sal voor hulle oë verpletter word. Hulle huise sal geplunder word, en hulle vrouens sal verkrag word.”—Jesaja 13:15, 16.
God se instrument van vernietiging
10. Wie gaan Jehovah gebruik om Babilon te oorwin?
10 Watter moondheid gaan Jehovah gebruik om die val van Babilon teweeg te bring? Sowat 200 jaar voor die tyd verstrek Jehovah die antwoord hierop: “Kyk, ek wek die Mede teen hulle op, wat silwer as niks ag nie en wat in goud geen behae skep nie. En hulle boë sal selfs jong manne verpletter. En oor die vrug van die moederskoot sal hulle hulle nie ontferm nie; vir kinders sal hulle oog nie jammer voel nie. En Babilon, die sieraad van die koninkryke, die prag van die trots van die Galdeërs, sal word soos toe God Sodom en Gomorra verwoes het” (Jesaja 13:17-19). Die pragtige Babilon sal val, en die instrument wat Jehovah gaan gebruik om dit teweeg te bring, sal leërs uit die afgeleë, bergagtige land Medië wees.a Uiteindelik sal Babilon so verlate wees soos die afskuwelik onsedelike stede Sodom en Gomorra.—Genesis 13:13; 19:13, 24.
11, 12. (a) Hoe het Medië ’n wêreldmoondheid geword? (b) Watter ongewone kenmerk van Medië se leërs noem die profesie?
11 In Jesaja se dag was Medië sowel as Babilon onder die Assiriese juk. Omtrent ’n eeu daarna, in 632 v.G.J., het Medië en Babilon saamgewerk en Nineve, die hoofstad van Assirië, tot ’n val gebring. Dit het vir Babilon die geleentheid gebied om die oorheersende wêreldmoondheid te word. Min het hy geweet dat Medië hom omtrent 100 jaar later sou vernietig! Wie anders as Jehovah God sou dit kon waag om so ’n voorspelling te maak?
12 Toe Jehovah bekend maak wie hy as sy instrument van vernietiging gekies het, sê hy dat Medië se leërs “silwer as niks ag nie en . . . in goud geen behae skep nie”. Hoe ongewoon tog vir geharde soldate! Bybelgeleerde Albert Barnes sê: “Daar was inderdaad min invallende leërs wat nie beïnvloed is deur die verwagting van buit nie.” Bewys die leërs van Medië dat Jehovah in hierdie geval die waarheid praat? Ja. Let op hierdie kommentaar in The Bible-Work, voorberei deur J. Glentworth Butler: “Anders as die meeste nasies wat al oorlog gevoer het, was verowering en roem vir die Mede, en veral die Perse, belangriker as goud.”b In die lig hiervan kan ’n mens verstaan waarom die Persiese heerser Kores duisende goue en silwerhouers wat Nebukadnesar uit Jerusalem se tempel weggeneem het vir die Israeliete teruggegee het toe hy hulle uit ballingskap in Babilon vrygelaat het.—Esra 1:7-11.
13, 14. (a) Wat is vir die soldate van Medië en Persië belangrik, al stel hulle nie in buit belang nie? (b) Hoe oorkom Kores Babilon se beroemde verdedigingstelsel?
13 Hoewel buit nie vir die soldate van Medië en Persië van die allergrootste belang is nie, is hulle nietemin ambisieus. Hulle is nie van plan om aan enige nasie op die wêreldtoneel ondergeskik te bly nie. Daarbenewens plaas Jehovah “plundering” in hulle hart (Jesaja 13:6). Gevolglik is hulle vasbeslote om Babilon te oorwin met hulle metaalboë—wat nie net gebruik kan word om pyle af te skiet nie, maar ook om vyandelike soldate, die seuns van Babiloniese moeders, te slaan en te verpletter.
14 Kores, die leier van die Medo-Persiese leërs, word nie deur Babilon se versterkings afgeskrik nie. Op die nag van 5/6 Oktober 539 v.G.J. beveel hy dat die waters van die Eufraatrivier weggekeer moet word. Wanneer die watervlak daal, kom die invallers stilletjies in die stad in deur al met die rivierbedding langs te loop in water wat tot by hulle bobene kom. Die inwoners van Babilon word verras en Babilon val (Daniël 5:30). Jehovah God inspireer Jesaja om hierdie gebeure te voorspel, wat geen twyfel laat dat Hy hierdie sake rig nie.
15. Wat lê vir Babilon voor?
15 Wat sal die omvang van Babilon se vernietiging wees? Luister na Jehovah se uitspraak: “Dit sal nooit bewoon word nie, ook sal dit nie van geslag tot geslag bly bestaan nie. En die Arabier sal daar nie sy tent opslaan nie, en geen herders sal hulle kuddes daar laat lê nie. En die bewoners van waterlose streke sal beslis daar gaan lê, en hulle huise sal vol ooruile wees. En die volstruise sal daar bly, en demone in bokgedaantes sal daar rondhuppel. En jakkalse sal in sy woontorings huil, en die groot slang sal in die paleise van verlustiging wees. En sy tyd is naby om te kom, en sy dae sal nie uitgestel word nie” (Jesaja 13:20-22). Die stad sal heeltemal verwoes word.
16. Watter vertroue gee die huidige toestand van Babilon ons?
16 Dit het nie onmiddellik in 539 v.G.J. gebeur nie. Maar dit is vandag baie duidelik dat alles wat Jesaja oor Babilon voorspel het, bewaarheid is. Babilon “is nou, en is al eeue lank, ’n absolute woesteny en ’n puinhoop”, sê een Bybelkommentator. Dan voeg hy by: “Dit is onmoontlik om hierdie toneel te aanskou en nie te dink aan hoe presies die voorspellings van Jesaja en Jeremia bewaarheid is nie.” Daar was in Jesaja se dag ongetwyfeld geen mens wat Babilon se val en uiteindelike verwoesting kon voorspel nie. Babilon het immers eers ongeveer 200 jaar nadat Jesaja sy boek geskryf het voor die Mede en die Perse geval! En sy uiteindelike verwoesting het eeue later gekom. Versterk dit nie ons geloof in die Bybel as die geïnspireerde Woord van God nie? (2 Timoteus 3:16). Aangesien Jehovah in die verlede profesieë in vervulling laat gaan het, kan ons bowendien die volste vertroue hê dat die Bybelprofesieë wat nog nie vervul is nie op God se bestemde tyd verwesenlik sal word.
‘Rus van jou pyn’
17, 18. Watter seëninge sal die vernietiging van Babilon vir Israel inhou?
17 Babilon se val sal vir Israel ’n verligting wees. Dit sal beteken dat hulle uit gevangenskap vrygelaat sal word en die geleentheid sal kry om na die Beloofde Land terug te keer. Daarom sê Jesaja nou: “Jehovah sal barmhartigheid aan Jakob bewys, en hy sal Israel beslis nog uitkies; en hy sal hulle rus in hulle land gee, en die inwonende vreemdeling sal by hulle gevoeg word, en hulle sal hulle by die huis van Jakob aansluit. En volke sal hulle neem en hulle na hulle eie plek bring, en die huis van Israel sal hulle vir hulle neem as ’n besitting in die land van Jehovah, as diensknegte en as diensmeisies; en hulle sal die gevangenemers word van dié wat hulle gevange hou, en hulle sal dié wat hulle gedryf het om te werk, in onderworpenheid hê” (Jesaja 14:1, 2). “Jakob” verwys hier na Israel as ’n geheel—al 12 stamme. Jehovah sal barmhartigheid aan “Jakob” bewys deur die nasie toe te laat om terug te keer na hulle tuiste. Duisende vreemdelinge sal saam met hulle gaan, en baie van hulle sal die Israeliete as tempelbediendes dien. Party Israeliete sal uiteindelik selfs gesag hê oor dié wat hulle vroeër gevange gehou het.c
18 Hulle sal nie meer die smart van ’n lewe in ballingskap ervaar nie. Jehovah sal sy volk in die plek daarvan “rus gee van [hulle] pyn en van [hulle] ontsteltenis en van die harde slawerny waarin [hulle] ’n slaaf gemaak is” (Jesaja 14:3). Noudat hulle van die fisiese las van slawerny bevry is, sal Israel nie meer die pyn en ontsteltenis hoef te verduur om onder aanbidders van valse gode te lewe nie (Esra 3:1; Jesaja 32:18). Die boek Lands and Peoples of the Bible lewer kommentaar hierop en sê: “Vir die Babiloniër was sy gode presies soos hyself, met al die slegste eienskappe van sy persoonlikheid. Hulle was lafaards, dronkaards en dwase.” Wat ’n verligting was dit tog om uit so ’n verdorwe godsdiensmilieu weg te kom!
19. Wat is nodig as Israel wil hê dat Jehovah hulle moet vergewe, en wat leer ons hieruit?
19 Maar Jehovah se barmhartigheid is nie onvoorwaardelik nie. Sy volk moet berou hê oor hulle goddeloosheid, wat die rede was waarom God hulle so swaar gestraf het (Jeremia 3:25). Openlike, opregte belydenis sal Jehovah se vergifnis tot gevolg hê. (Sien Nehemia 9:6-37; Daniël 9:5.) Hierdie selfde beginsel geld vandag nog. Aangesien ‘daar geen mens is wat nie sondig nie’, het ons almal God se barmhartigheid nodig (2 Kronieke 6:36). Jehovah, die barmhartige God, nooi ons liefdevol uit om ons sondes aan hom te bely, om berou te toon en enige verkeerde weg te laat vaar sodat ons genees kan word (Deuteronomium 4:31; Jesaja 1:18; Jakobus 5:16). Dit help nie net om ons in sy guns te herstel nie, maar vertroos ons ook.—Psalm 51:1; Spreuke 28:13; 2 Korintiërs 2:7.
’n “Spreekwoord” teen Babilon
20, 21. Hoe toon Babilon se bure hulle vreugde omdat hy geval het?
20 Meer as 100 jaar voor Babilon se opkoms as die vernaamste wêreldmoondheid voorspel Jesaja reeds die wêreld se reaksie wanneer Babilon tot ’n val kom. In ’n profesie beveel hy Israeliete wat uit gevangenskap aan hom vrygemaak is: “Jy [moet] hierdie spreekwoord teen die koning van Babilon aanhef en sê: ‘Hoe het die een wat ander dryf om te werk, opgehou, hoe het die onderdrukking opgehou! Jehovah het die stok van die goddeloses verbreek, die staf van die heersers, die een wat volke slaan in grimmigheid met slae sonder ophou, die een wat nasies onderwerp in louter toorn met vervolging sonder bedwang’” (Jesaja 14:4-6). Babilon het vir homself naam gemaak as ’n veroweraar, ’n verdrukker wat slawe van vrymanne maak. Hoe gepas is dit tog dat sy val gevier word met ’n “spreekwoord” wat hoofsaaklik gerig is tot die Babiloniese koningslyn—van Nebukadnesar af tot by Nabonidus en Belsasar—wat gedurende die bloeityd van die groot stad daaroor geheers het!
21 En wat ’n verskil sal sy val tog maak! “Die hele aarde het tot rus gekom, het vry van rusversteuring geword. Die mense het vrolik geword met vreugdevolle uitroepe. Selfs die jenewerbome het hulle oor jou verbly, die seders van die Libanon, en gesê: ‘Sedert jy gaan lê het, kom geen houtkapper teen ons op nie’” (Jesaja 14:7, 8). Die konings van die nasies rondom hulle was vir Babilon se heersers soos bome wat afgekap kon word en gebruik kon word soos hulle goedgedink het. Wel, dit is nou alles verby. Die Babiloniese houtkapper het sy laaste boom afgekap!
22. Watter uitwerking het die val van die Babiloniese koningslyn in digterlike sin op Sjeool?
22 Die val van Babilon is so verbasend dat selfs die graf daarop reageer: “Selfs Sjeool daaronder het oor jou in beroering geraak om jou by jou aankoms te ontmoet. Oor jou het dit diegene wakker gemaak wat magteloos is in die dood, al die bokagtige leiers van die aarde. Dit het al die konings van die nasies van hulle trone af laat opstaan. Hulle almal begin praat en sê vir jou: ‘Is ook jy swak gemaak soos ons? Het jy soos ons geword? In Sjeool is jou trots neergewerp, die geluid van jou snaarinstrumente. Onder jou is maaiers as ’n slaapbank uitgesprei; en wurms is jou bedekking’” (Jesaja 14:9-11). Wat ’n kragtige digterlike beeld! Dit is asof die gemeenskaplike graf van die mensdom al die konings wat voor die Babiloniese koningslyn gesterf het, moes wakker maak sodat hulle die nuweling kan groet. Hulle spot met die Babiloniese heerskappy, wat nou hulpeloos is en op ’n bed van maaiers onder ’n bedekking van wurms lê, in plaas van op ’n kosbare bank onder duur linne.
“Soos ’n vertrapte karkas”
23, 24. Watter uiterste verwaandheid lê die Babiloniese konings aan die dag?
23 Jesaja sit die spreekwoord voort: “Hoe het jy uit die hemel geval, o glansende, seun van die dagbreek! Hoe is jy teen die aarde neergevel, jy wat die nasies magteloos gemaak het!” (Jesaja 14:12). Selfsugtige trots maak dat Babilon se konings hulle bo almal rondom hulle verhef. Soos ’n ster wat helder in die vroeë oggendhemel glinster, oefen hulle hulle mag en gesag op hooghartige wyse uit. ’n Besondere oorsaak van trots is Nebukadnesar se verowering van Jerusalem, iets wat Assirië nie kon regkry nie. In die spreekwoord sê die trotse koningslyn van Babilon: “Na die hemel sal ek opklim. Bo die sterre van God sal ek my troon verhef, en ek sal op die berg van samekoms gaan sit, in die mees afgeleë dele van die noorde. Ek sal bo die hoogtes van die wolke opklim; ek sal my soos die Allerhoogste maak” (Jesaja 14:13, 14). Kan enigiets meer verregaande wees?
24 In die Bybel is die konings van die koninklike lyn van Dawid met sterre vergelyk (Numeri 24:17). Van die tyd van Dawid af het daardie “sterre” van die berg Sion af geheers. Nadat Salomo die tempel in Jerusalem gebou het, het die naam Sion na die hele stad verwys. Onder die Wetsverbond moes alle manlike Israeliete drie keer per jaar na Sion reis. Dit het dus “die berg van samekoms” geword. Deurdat Nebukadnesar hom voorgeneem het om die Judese konings te onderwerp en hulle dan van daardie berg te verwyder, gee hy te kenne dat hy van plan is om homself bo daardie “sterre” te verhef. Hy gee Jehovah nie die eer vir sy oorwinning oor hulle nie. Trouens, hy is so verwaand dat hy homself as ’t ware in Jehovah se plek stel.
25, 26. Hoe kom die Babiloniese koningslyn tot ’n skandelike einde?
25 Wat ’n ommekeer lê tog vir die trotse Babiloniese koningslyn voor! Babilon gaan beslis nie bo die sterre van God verhef word nie. Jehovah sê eerder: “In Sjeool sal jy neergewerp word, in die mees afgeleë dele van die kuil. Dié wat jou sien, sal jou aanstaar; hulle sal jou goed bekyk en sê: ‘Is dit die man wat die aarde in beroering gebring het, wat koninkryke laat bewe het, wat die vrugbare land soos die wildernis gemaak het en wat die stede daarvan verwoes het, wat vir sy gevangenes nie die weg huis toe geopen het nie?’” (Jesaja 14:15-17). Die ambisieuse koningslyn sal net soos enige mens tot in Hades (Sjeool) neerdaal.
26 Waar sal die krag dan wees wat koninkryke oorwin het, vrugbare land vernietig het en tallose stede omvergewerp het? Waar sal die wêreldmoondheid wees wat mense gevange geneem het en hulle nooit toegelaat het om na hulle vaderland terug te keer nie? Die Babiloniese koningslyn sal nie eers ’n ordentlike begrafnis kry nie! Jehovah sê: “Al die ander konings van die nasies, ja, hulle almal, het in heerlikheid gaan lê, elkeen in sy huis. Maar wat jou betref, jy is weggewerp sonder ’n graf vir jou, soos ’n verfoeide spruit, beklee met dié wat doodgemaak is, wat met die swaard deurboor is, wat na die klippe van ’n kuil afdaal, soos ’n vertrapte karkas. Jy sal nie met hulle in ’n graf verenig word nie, want jy het jou eie land verwoes, jy het jou eie volk doodgemaak. Tot onbepaalde tyd sal die nageslag van die kwaaddoeners nie genoem word nie” (Jesaja 14:18-20). In die antieke wêreld was dit ’n groot skande as ’n koning nie ’n eervolle begrafnis gegun is nie. Wat dan van die Babiloniese koningslyn? Individuele konings is miskien met volle eer begrawe, maar die koningslyn wat van Nebukadnesar afgestam het, word “soos ’n verfoeide spruit” weggegooi. Dit is asof die koningslyn in ’n ongemerkte graf gegooi is—soos ’n blote voetsoldaat wat gesneuwel het. Wat ’n vernedering!
27. In watter opsig sal toekomstige geslagte Babiloniërs ly as gevolg van die dwaling van hulle voorvaders?
27 Die spreekwoord eindig met finale opdragte aan die seëvierende Mede en Perse: “Maak ’n slagblok gereed vir sy seuns weens die dwaling van hulle voorvaders, sodat hulle nie opstaan en die aarde in besit neem en die oppervlak van die vrugbare land met stede vul nie” (Jesaja 14:21). Die val van Babilon sal permanent wees. Die Babiloniese koningslyn sal uitgeroei word. Daar sal geen hergeboorte wees nie. Toekomstige geslagte Babiloniërs sal ly as gevolg van die “dwaling van hulle voorvaders”.
28. Wat het tot die sonde van die Babiloniese konings aanleiding gegee, en wat leer ons daaruit?
28 Die oordeel wat teen die Babiloniese koningslyn uitgespreek is, bevat ’n baie waardevolle les vir ons. Dit was die Babiloniese konings se onversadigbare ambisie wat tot hulle sonde aanleiding gegee het (Daniël 5:23). Hulle hart is vervul met ’n begeerte na mag. Hulle wou ander oorheers (Jesaja 47:5, 6). En hulle wou baie graag deur mense vereer word, iets wat God eintlik toekom (Openbaring 4:11). Dit is ’n waarskuwing vir almal wat in gesagsposisies is—selfs in die Christengemeente. Ambisie en selfsugtige trots is eienskappe wat Jehovah nie sal duld nie, nie in individue of in nasies nie.
29. Waarvan was die trots en ambisie van die Babiloniese heersers ’n weerspieëling?
29 Die trots van die Babiloniese heersers was ’n weerspieëling van die gees van “die god van hierdie stelsel van dinge”, Satan die Duiwel (2 Korintiërs 4:4). Hy smag ook na mag en wil homself bitter graag bo Jehovah God verhef. Soos die geval was met die koning van Babilon en die volke wat hy onderwerp het, het Satan se onheilige ambisie lyding en ellende vir die hele mensdom tot gevolg gehad.
30. Watter ander Babilon word in die Bybel genoem, en watter gees het dit aan die dag gelê?
30 Maar in die boek Openbaring, lees ons van ’n ander Babilon—“Babilon die Grote” (Openbaring 18:2). Hierdie organisasie, die wêreldryk van valse godsdiens, het ook getoon dat dit ’n trotse, onderdrukkende en wrede gees het. As gevolg daarvan moet dit ook voor ’n “dag van Jehovah” te staan kom en op God se bestemde tyd vernietig word (Jesaja 13:6). Sedert 1919 is hierdie boodskap in die hele aarde verkondig: “Babilon die Grote het geval!” (Openbaring 14:8). Toe Babilon God se volk nie meer gevange kon hou nie, het dit geval. Dit sal binnekort heeltemal vernietig word. Jehovah het van eertydse Babilon gesê: “Vergeld hom volgens sy dade. Doen aan hom volgens alles wat hy gedoen het. Want teen Jehovah het hy vermetel gehandel, teen die Heilige van Israel” (Jeremia 50:29; Jakobus 2:13). Babilon die Grote sal ’n soortgelyke oordeel ontvang.
31. Wat gaan binnekort met Babilon die Grote gebeur?
31 Jehovah se finale woorde in hierdie profesie in die boek Jesaja is nie net op eertydse Babilon van toepassing nie, maar ook op Babilon die Grote: “Ek sal teen hulle opstaan . . . En ek sal van Babilon naam en oorblyfsel en nakomeling en nageslag uitroei . . . En ek sal dit ’n besitting van ystervarke en waterpoele vol riete maak, en ek sal dit met die besem van verdelging wegvee” (Jesaja 14:22, 23). Die vervalle oorblyfsels van eertydse Babilon toon wat Jehovah binnekort aan Babilon die Grote gaan doen. Wat ’n vertroosting is dit tog vir mense wat ware aanbidding liefhet! Wat ’n aansporing is dit tog om ons bes te doen sodat sulke sataniese eienskappe soos trots, verwaandheid of wreedheid nooit in ons ontwikkel nie!
[Voetnote]
a Jesaja noem slegs die Mede by hulle naam, maar ’n aantal nasies sal bondgenote wees teen Babilon—Medië, Persië, Elam en ander kleiner nasies (Jeremia 50:9; 51:24, 27, 28). Buurnasies noem die Mede sowel as die Perse “die Meder”. In Jesaja se dag was Medië ook die oorheersende moondheid. Persië het eers onder Kores die oorheersende moondheid geword.
b Die Mede en die Perse het blykbaar later ’n groot liefde vir weelde ontwikkel.—Ester 1:1-7.
c Daniël is byvoorbeeld onder die Mede en die Perse as ’n hoë amptenaar in Babilon aangestel. En omtrent 60 jaar later het Ester die koningin geword van die Persiese koning Ahasveros, en Mordegai het die eerste minister van die hele Persiese Ryk geword.
[Prent op bladsy 178]
Babilon sal ná sy val die woonplek word van woestyndiere
[Prente op bladsy 186]
Soos eertydse Babilon sal Babilon die Grote ’n puinhoop word