Hoofstuk sewentien
“Babilon het geval!”
1, 2. (a) Wat is die hooftema van die Bybel, maar watter ander belangrike tema kom in Jesaja voor? (b) Hoe ontwikkel die Bybel die tema van die val van Babilon?
DIE Bybel kan met ’n pragtige stuk musiek vergelyk word wat ’n duidelike tema het en ook ondergeskikte temas bevat wat die geheel aanvul. Net so het die Bybel ’n hooftema—die regverdiging van Jehovah se soewereiniteit deur middel van die Messiaanse Koninkryksregering. Dit het ook ander belangrike temas wat herhaaldelik voorkom. Een van hulle is die val van Babilon.
2 Daardie tema word in Jesaja hoofstukke 13 en 14 ingelei. Dit kom weer in hoofstuk 21 voor en ook in hoofstukke 44 en 45. ’n Eeu later brei Jeremia op dieselfde tema uit en die boek Openbaring bring dit tot ’n dawerende klimaks (Jeremia 51:60-64; Openbaring 18:1–19:4). Alle ernstige Bybelstudente moet besorg wees oor hierdie ander belangrike tema van God se Woord. Jesaja hoofstuk 21 help hiermee, want dit verstrek interessante besonderhede oor die voorspelde val van daardie groot wêreldmoondheid. Later sal ons sien dat Jesaja hoofstuk 21 nog ’n belangrike Bybeltema beklemtoon—een wat ons help om vas te stel hoe waaksaam ons vandag as Christene is.
“’n Harde visioen”
3. Waarom word Babilon “die wildernis van die see” genoem, en wat dui daardie titel aangaande sy toekoms aan?
3 Jesaja hoofstuk 21 begin op ’n donker noot: “Die uitspraak teen die wildernis van die see: Soos stormwinde in die suide voortbeweeg, kom dit uit die wildernis, uit ’n vreesinboesemende land” (Jesaja 21:1). Babilon lê aan weerskante van die Eufraatrivier, met sy oostelike helfte in die gebied tussen die twee groot riviere, die Eufraat en die Tigris. Dit is redelik ver van die see af. Waarom word dit dan “die wildernis van die see” genoem? Omdat die gebied waar Babilon geleë is jaarliks oorstroom is en ’n groot, moerasagtige “see” geword het. Maar die Babiloniërs het hierdie waterwildernis deur ’n komplekse stelsel van dyke, sluise en kanale beheer. Hulle gebruik hierdie water op ’n vindingryke manier as deel van die stad se verdedigingstelsel. Maar geen mensepoging sal Babilon van God se oordeel kan red nie. Dit was voorheen ’n wildernis—en dit sal weer ’n wildernis word. ’n Ramp gaan Babilon tref. Dit bou op soos een van die kwaai storms wat soms uit die skrikwekkende wildernis in die suide oor Israel kom.—Vergelyk Sagaria 9:14.
4. Hoe sluit die visioen van “Babilon die Grote” in Openbaring “waters” en “’n wildernis” in, en wat beteken die “waters”?
4 Soos ons in Hoofstuk 14 van hierdie boek geleer het, het eertydse Babilon ’n hedendaagse ekwivalent—“Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens. Openbaring praat ook van “’n wildernis” en “waters” waar dit Babilon die Grote uitbeeld. Die apostel Johannes word na ’n wildernis weggevoer sodat hy Babilon die Grote kan sien. Hy word meegedeel dat Babilon die Grote “op baie waters sit”, wat “volke en skares en nasies en tale” verteenwoordig (Openbaring 17:1-3, 5, 15). Die ondersteuning van die mense was nog altyd iets wat die oorlewing van valse godsdiens verseker het, maar hierdie “waters” sal dit op die ou end nie beskerm nie. Soos sy eertydse ekwivalent, sal dit uiteindelik leeg, verwaarloos en verlate wees.
5. Hoe kry Babilon die reputasie dat hy “verraderlik” en ’n “plunderaar” is?
5 In Jesaja se dag is Babilon nog nie die oorheersende wêreldmoondheid nie, maar Jehovah weet reeds dat Babilon, wanneer sy tyd kom, sy mag sal misbruik. Jesaja gaan voort: “’n Harde visioen is my meegedeel: Die verraaier handel verraderlik, en die plunderaar plunder” (Jesaja 21:2a). Babilon sal die nasies wat hy oorwin inderdaad plunder en verraderlik met hulle handel, en dit sluit Juda in. Die Babiloniërs sal Jerusalem verwoes, sy tempel plunder en sy inwoners in ballingskap na Babilon wegvoer. Daar sal hierdie hulpelose gevangenes verraderlik behandel word, oor hulle geloof gespot word en geen hoop gebied word om ooit na hulle vaderland terug te keer nie.—2 Kronieke 36:17-21; Psalm 137:1-4.
6. (a) Watter gesug sal Jehovah laat ophou? (b) Watter nasies sal Babilon volgens die voorspelling aanval, en hoe word dit vervul?
6 Ja, Babilon verdien hierdie “harde visioen” dubbel en dwars, en dit sal swaar tye vir hom beteken. Jesaja gaan verder: “Trek op, o Elam! Beleër, o Medië! Alle gesug as gevolg van hom het ek laat ophou” (Jesaja 21:2b). Diegene wat deur hierdie verraderlike ryk verdruk word, sal verligting kry. Uiteindelik sal daar ’n einde kom aan hulle gesug! (Psalm 79:11, 12). Waar sal hierdie verligting vandaan kom? Jesaja noem twee nasies wat Babilon sal aanval: Elam en Medië. Twee eeue later, in 539 v.G.J., sal Kores die Pers die gesamentlike magte van die Perse en die Mede teen Babilon aanvoer. Wat Elam betref, Persiese konings sou voor 539 v.G.J. al ten minste ’n deel van daardie land besit het.a Die Persiese magte sal dus Elamiete insluit.
7. Water uitwerking het Jesaja se visioen op hom, en waarop dui dit?
7 Let op hoe Jesaja die uitwerking beskryf wat hierdie visioen op hom gehad het: “Daarom het my heupe vol hewige pyne geword. Krampe het my aangegryp, soos die krampe van ’n vrou wat geboorte gee. Ek het ontsteld geraak, sodat ek nie hoor nie; ek het verontrus geraak, sodat ek nie sien nie. My hart het rondgedwaal; ’n siddering het my verskrik. Die skemering waarvoor ek lief was, het iets geword wat my laat bewe” (Jesaja 21:3, 4). Dit klink asof die profeet die skemeruur, ’n aangename tyd vir stille bepeinsing, geniet. Maar die skemer het nou sy bekoring verloor en bring nou net pyn, vrees en bewing mee. Hy kry krampe soos dié van ’n vrou wat geboorte gee, en sy hart “het rondgedwaal”. Een geleerde vertaal hierdie frase as “my hart bons”, en sê dat die uitdrukking na “’n koorsagtige en onreëlmatige polsslag” verwys. Waarom ervaar hy sulke benoudheid? Jesaja se gevoelens is klaarblyklik profeties. Op die nag van 5/6 Oktober 539 v.G.J. sal die Babiloniërs ook sulke angs ervaar.
8. Hoe tree die Babiloniërs in ooreenstemming met die profesie op, al is hulle vyande buite die muur?
8 Wanneer die son op daardie noodlottige dag ondergaan, is angs die laaste ding waaraan die Babiloniërs dink. Sowat twee eeue vroeër voorspel Jesaja: “Laat die tafel gereedgemaak word, die sitplekke in posisie geplaas word, laat daar geëet, gedrink word!” (Jesaja 21:5a). Ja, die verwaande koning Belsasar hou ’n fees. Sitplekke word vir duisend van sy edelmanne, sowel as vir baie vrouens en byvrouens, reggesit (Daniël 5:1, 2). Die feesgangers weet dat daar ’n leër buite die muur is, maar hulle dink hulle stad is onverowerbaar. Sy enorme mure en diep grag laat dit onmoontlik lyk om die stad in te neem; sy talle gode maak dit ondenkbaar. Laat daar dus “geëet, gedrink” word! Belsasar word dronk, en hy is waarskynlik nie die enigste een nie. Die benewelde toestand van die hoë amptenare word geïmpliseer deur die feit dat hulle wakker gemaak moet word, soos Jesaja se volgende woorde voorspel.
9. Waarom word dit nodig om ‘die skild te salf’?
9 “Staan op, o vorste, salf die skild” (Jesaja 21:5b). Skielik is die partytjie verby. Die vorste moet wakker word! Die bejaarde profeet Daniël is na die toneel geroep, en hy sien hoe Jehovah die Babiloniese koning Belsasar beangs laat word, net soos Jesaja beskryf het. Die koning se edelmanne is heeltemal verbyster wanneer die gesamentlike magte van die Mede, Perse en Elamiete deur die stad se verdedigingstelsel dring. Babilon val gou! Maar wat beteken dit om ‘die skild te salf’? Die Bybel noem ’n nasie se koning soms sy skild omdat hy die verdediger en beskermer van die land is (Psalm 89:18).b Hierdie vers in Jesaja voorspel dus waarskynlik dat ’n nuwe koning nodig sal wees. Waarom? Omdat Belsasar “daardie selfde nag” doodgemaak word. Dit is dus nodig om ‘die skild te salf’, of ’n nuwe koning aan te stel.—Daniël 5:1-9, 30.
10. Hoe kan aanbidders van Jehovah vertroos word deur die vervulling van Jesaja se profesie oor die een wat verraderlik handel?
10 Almal wat ware aanbidding liefhet, word vertroos deur hierdie verslag. Die hedendaagse Babilon, Babilon die Grote, handel net so verraderlik en is net soveel van ’n plunderaar soos sy eertydse ekwivalent. Tot vandag toe sweer godsdiensleiers saam om Jehovah se Getuies te laat verbied, hulle te laat vervolg of om hulle onredelike swaar belastings op te lê. Maar soos hierdie profesie ons herinner, sien Jehovah al hierdie verraderlike dade, en hy sal dit nie ongestraf laat bly nie. Hy sal al die godsdienste wat hom verkeerd voorstel en sy volk mishandel tot ’n einde bring (Openbaring 18:8). Is so iets moontlik? Om ons geloof te versterk, moet ons maar net kyk hoe sy waarskuwings aangaande die val van eertydse Babilon en sy hedendaagse ekwivalent reeds vervul is.
“Dit het geval!”
11. (a) Wat is die verantwoordelikheid van ’n wag, en wie is vandag bedrywig as ’n wag? (b) Wat word deur die strydwa met esels en die een met kamele verteenwoordig?
11 Jehovah praat nou met die profeet. Jesaja vertel: “Só het Jehovah vir my gesê: ‘Gaan, sit ’n wag uit, sodat hy kan sê presies wat hy sien’” (Jesaja 21:6). Hierdie woorde lei ’n ander belangrike tema van hierdie hoofstuk in—die man wat op die uitkyk staan, of die wag. Dit is vir alle ware Christene van vandag van belang, want Jesus het sy volgelinge aangespoor om ‘aan te hou waak’. “Die getroue en verstandige slaaf” het nooit opgehou om te sê wat hulle sien met betrekking tot die nabyheid van God se oordeelsdag en die gevare van hierdie verdorwe wêreld nie (Matteus 24:42, 45-47). Wat sien die wag in Jesaja se visioen? “Hy het ’n strydwa met ’n span perde gesien, ’n strydwa met esels, ’n strydwa met kamele. En hy het noulettend aandag geskenk, met groot opmerksaamheid” (Jesaja 21:7). Hierdie enkele strydwaens verteenwoordig waarskynlik rye strydwaens wat met die spoed van opgeleide perde in gevegsformasie aangejaag kom. Die strydwa met esels en die een met kamele is ’n gepaste afbeelding van die twee moondhede, Medië en Persië, wat tesame hierdie aanval loods. Daarbenewens bevestig die geskiedenis dat die Persiese leër esels sowel as kamele in oorlogvoering gebruik het.
12. Watter eienskappe lê die wag in Jesaja se visioen aan die dag, en wie het hierdie eienskappe vandag nodig?
12 Die wag is dus verplig om ’n verslag te lewer. “Hy het soos ’n leeu uitgeroep: ‘Op die wagtoring, o Jehovah, staan ek voortdurend in die dag, en op my wagpos staan ek al die nagte. En kyk nou, daar kom ’n strydwa met manne, met ’n span perde!’” (Jesaja 21:8, 9a). Die wag in die visioen roep moedig uit, “soos ’n leeu”. Dit verg moed om ’n oordeelsboodskap teen so ’n groot nasie soos Babilon uit te roep. Iets anders word ook vereis—volharding. Die wag bly dag en nag op sy pos; hy laat sy waaksaamheid nooit verslap nie. Net so het die wagklas in hierdie laaste dae ook moed en volharding nodig gehad (Openbaring 14:12). Alle ware Christene het hierdie eienskappe nodig.
13, 14. (a) Hoe vaar eertydse Babilon, en in watter sin word sy afgode verbrysel? (b) Hoe en wanneer het Babilon die Grote in ’n soortgelyke sin geval?
13 Die wag in Jesaja se visioen sien ’n strydwa nader kom. Wat is die nuus? “Hy het begin spreek en gesê: ‘Dit het geval! Babilon het geval, en al die gesnede beelde van sy gode het Hy teen die grond verbrysel!’” (Jesaja 21:9b). Wat ’n opwindende berig! Uiteindelik het hierdie verraderlike plunderaar van God se volk geval!c Maar in watter sin is Babilon se gesnede beelde en afgode verbrysel? Sal die Medo-Persiese invallers in Babilon se tempels ingaan en die tallose afgode stukkend slaan? Nee, dit is glad nie nodig nie. Babilon se afgode sal verbrysel word aangesien almal sal sien dat hulle magteloos is om die stad te beskerm. En Babilon sal val wanneer dit nie meer God se volk kan onderdruk nie.
14 Wat van Babilon die Grote? Deur te sorg dat God se volk gedurende die Eerste Wêreldoorlog onderdruk word, het Babilon hulle in werklikheid ’n ruk lank in ballingskap gehou. Hulle predikingswerk het feitlik tot ’n einde gekom. Die president en ander vername ampsdraers van die Wagtoringgenootskap is op valse aanklagte in die tronk gestop. Maar in 1919 het ’n verstommende ommekeer plaasgevind. Hierdie broers is uit die tronk vrygelaat, die hoofkwartier is heropen en die predikingswerk is hervat. Babilon die Grote het dus geval in die sin dat sy houvas oor God se volk verbreek is.d In Openbaring word hierdie val twee keer aangekondig deur ’n engel wat die woorde gebruik wat in Jesaja 21:9 opgeteken staan.—Openbaring 14:8; 18:2.
15, 16. In watter sin is Jesaja se volk “gedorstes”, en wat kan ons uit Jesaja se gesindheid teenoor hulle leer?
15 Jesaja sluit hierdie profetiese boodskap af op ’n noot van medelye vir sy eie volk. Hy sê: “O my gedorstes en die seun van my dorsvloer, wat ek by Jehovah van die leërs, die God van Israel, gehoor het, het ek vir julle vertel” (Jesaja 21:10). In die Bybel simboliseer die dorsproses dikwels die dissiplinering en loutering van God se volk. God se verbondsvolk sal ‘seuns van die dorsvloer’ word, waar graan uitgetrap is om dit van die kaf te skei en net die gesuiwerde, gewenste graan oorbly. Jesaja verlustig hom nie in hierdie dissipline nie. Hy het eerder medelye met hierdie toekomstige ‘seuns van die dorsvloer’, van wie party hulle hele lewe lank gevangenes in ’n vreemde land sal wees.
16 Dit is moontlik ’n nuttige herinnering vir ons almal. In die hedendaagse Christengemeente het party moontlik nie altyd medelye met oortreders nie. En diegene wat gedissiplineer word, is soms geneig om verontwaardig te voel daaroor. Maar as ons in gedagte hou dat Jehovah sy volk dissiplineer om hulle te louter, sal ons nie die dissipline of diegene wat dit nederig aanvaar, geringag nie, en ons sal dit ook nie weerstaan as ons gedissiplineer word nie. Laat ons Goddelike dissipline as ’n betuiging van God se liefde aanvaar.—Hebreërs 12:6.
Die wag word geraadpleeg
17. Waarom word Edom heel gepas “Duma” genoem?
17 Die tweede profetiese boodskap in Jesaja hoofstuk 21 vestig die aandag op die wag. Dit begin: “Die uitspraak teen Duma: Iemand roep na my van Seïr af: ‘Wag, wat van die nag? Wag, wat van die nag?’” (Jesaja 21:11). Waar is hierdie Duma? In Bybeltye was daar blykbaar etlike dorpe met daardie naam, maar hier word nie na een van hulle verwys nie. Duma is nie in Seïr, ’n ander naam vir Edom, nie. Maar “Duma” beteken “stilte”. Dit lyk dus asof die streek, soos in die geval van die vorige uitspraak, ’n naam gegee word wat ’n aanduiding van sy toekoms is. Edom, wat lank ’n geswore vyand van God se volk was, sal in die stilte eindig—die stilte van die dood. Maar voor dit gebeur, sal party angstig omtrent die toekoms wil weet.
18. Hoe word die uitspraak: “Die oggend sal kom, en ook die nag”, oor Edom vervul?
18 Gedurende die tyd dat Jesaja sy boek skryf, lê Edom in die pad van die magtige Assiriese leër. Party in Edom wil baie graag weet wanneer die nag van onderdrukking vir hulle sal eindig. Die antwoord? “Die wag het gesê: ‘Die oggend sal kom, en ook die nag’” (Jesaja 21:12a). Dinge lyk nie goed vir Edom nie. Die oggendlig sal op die horison verskyn, maar dit sal nie lank daar bly nie, asof dit net ’n illusie is. Die nag—nog ’n donker tyd van onderdrukking—sal kort op die hakke van die oggend volg. Wat ’n gepaste beeld van Edom se toekoms! Die Assiriese onderdrukking sal tot ’n einde kom, maar Babilon sal Assirië as wêreldmoondheid opvolg en sal Edom vernietig (Jeremia 25:17, 21; 27:2-8). Hierdie siklus sal herhaal word. Babiloniese onderdrukking sal deur Persiese en daarna deur Griekse onderdrukking gevolg word. Dan sal daar ’n kort “oggend” wees gedurende die Romeinse tye, wanneer die Herodesse—wat van die Edomiete afstam—magtig is in Jerusalem. Maar daardie “oggend” sal nie lank duur nie. Uiteindelik sal Edom permanent in die stilte wegsak en uit die geskiedenis verdwyn. Die naam Duma sal hom uiteindelik goed beskryf.
19. Wat bedoel die wag moontlik wanneer hy sê: “As julle wil vra, vra. Kom weer”?
19 Die wag sluit sy kort boodskap af met die woorde: “As julle wil vra, vra. Kom weer!” (Jesaja 21:12b). Die uitdrukking “Kom weer!” verwys moontlik na die eindelose opeenvolging van ‘nagte’ wat vir Edom voorlê. Of aangesien die uitdrukking ook as “keer terug” vertaal kan word, gee die profeet dalk te kenne dat enige Edomiet wat aan die nasie se vernietiging wil ontkom berou moet hê en na Jehovah moet ‘terugkeer’. Hoe dit ook al sy, die wag gee geleentheid vir verdere vrae.
20. Waarom is die uitspraak wat in Jesaja 21:11, 12 opgeteken is vandag vir Jehovah se volk betekenisvol?
20 Hierdie kort uitspraak was baie betekenisvol vir Jehovah se hedendaagse volk.e Ons besef dat die mensdom diep in die donker nag van geestelike blindheid en vervreemding van God is en dat dit tot die vernietiging van hierdie stelsel van dinge sal lei (Romeine 13:12; 2 Korintiërs 4:4). Gedurende hierdie nag sal enige straaltjies van hoop dat die mensdom op die een of ander manier vrede en veiligheid kan bring soos daardie denkbeeldige oggendlig wees wat maar net deur ’n tyd van selfs groter duisternis gevolg word. ’n Ware dagbreek is op hande—die aanvang van Christus se Duisendjarige Heerskappy oor hierdie aarde. Maar so lank as wat dit nag is, moet ons die leiding van die wagklas volg deur geestelik wakker te bly en moedig te verkondig dat die einde van hierdie verdorwe stelsel van dinge naby is.—1 Tessalonisense 5:6.
Dit word nag op die woestynvlakte
21. (a) Watter woordspeling vind ons moontlik in die frase “die uitspraak teen die woestynvlakte”? (b) Wat is die karavane van die Dedaniete?
21 Die laaste uitspraak van Jesaja hoofstuk 21 word teen “die woestynvlakte” gerig. Dit begin: “Die uitspraak teen die woestynvlakte: In die woud in die woestynvlakte sal julle oornag, o karavane van die Dedaniete” (Jesaja 21:13). Die woestynvlakte waarvan hier gepraat word, is klaarblyklik Arabië, want die uitspraak word teen ’n aantal Arabiese stamme gerig. Die woord vir “woestynvlakte” word soms as “aand” vertaal, omdat hierdie twee woorde in Hebreeus baie eenders is. Party meen dat dit woordspeling is, asof ’n donker aand—’n tyd vol probleme—oor hierdie streek gaan kom. Die uitspraak begin met ’n beskrywing van ’n nagtoneel met karavane van die Dedaniete, ’n vername Arabiese stam. Hierdie soort karavane volg handelsroetes van die een oase na die ander, en vervoer speserye, pêrels en ander skatte. Maar hier sien ons hoe hulle gedwing word om hulle gewone roete te verlaat en gedurende die nag weg te kruip. Waarom?
22, 23. (a) Watter swaar las gaan binnekort op die Arabiese stamme val, en watter uitwerking sal dit op hulle hê? (b) Hoe gou gaan hierdie ramp hulle tref, en deur wie se toedoen?
22 Jesaja verduidelik: “Bring water om die dorstige te ontmoet. O inwoners van die land Tema, gaan die vlugteling met brood vir hom tegemoet. Want vir die swaarde het hulle weggevlug, vir die ontblote swaard, en vir die gespande boog en vir die hewigheid van die oorlog” (Jesaja 21:14, 15). Ja, die neerdrukkende las van oorlog sal op hierdie Arabiese stamme val. Tema, wat by een van die oases met die meeste water in die omgewing geleë is, word genoodsaak om water en brood vir hierdie ongelukkige vlugtelinge van die oorlog te bring. Wanneer sal hierdie probleme kom?
23 Jesaja gaan voort: “Want só het Jehovah vir my gesê: ‘Binne ’n jaar, volgens die jare van ’n loonarbeider, sal al die heerlikheid van Kedar tot ’n einde kom. En dié wat oorbly van die aantal boogskutters, die sterk manne van die kinders van Kedar, sal min word, want Jehovah, die God van Israel, het dit gespreek’” (Jesaja 21:16, 17). Kedar is so ’n belangrike stam dat dit soms as verteenwoordigend van die hele Arabië gebruik word. Jehovah het bepaal dat die boogskutters en sterk manne van hierdie stam baie min sal word. Wanneer? “Binne ’n jaar”, niks meer nie, net soos ’n loonarbeider nie meer as die tyd werk waarvoor hy betaal word nie. Presies hoe dit alles vervul is, is onseker. Twee Assiriese heersers—Sargon II en Sanherib—het beweer dat hulle Arabië onderwerp het. Enigeen van hulle kon waarskynlik daardie trotse Arabiese stamme vernietig het, soos voorspel is.
24. Hoe kan ons seker wees dat Jesaja se profesie teen Arabië vervul is?
24 Maar ons kan seker wees dat hierdie profesie tot op die letter vervul is. Niks kan daardie punt duideliker stel as die laaste woorde van die uitspraak nie: “Jehovah, die God van Israel, het dit gespreek.” Vir mense in Jesaja se tyd lyk dit dalk onwaarskynlik dat Babilon ooit magtiger as Assirië sal word en dan gedurende een nag se gefuif uit sy magtige posisie verwyder sal word. Dit lyk dalk net so onwaarskynlik dat ’n doodse stilte die magtige Edom se uiteinde sal wees of dat ’n nag van teenspoed en ontbering oor die ryk Arabiese stamme sal kom. Maar Jehovah sê dit sal gebeur, en dit gebeur dan ook so. Vandag sê Jehovah vir ons dat die wêreldryk van valse godsdiens tot sy einde sal kom. Dit is nie net ’n moontlikheid nie; dit is ’n sekerheid. Jehovah het dit gespreek!
25. Hoe kan ons die voorbeeld van die wag navolg?
25 Laat ons dan soos die wag wees. Laat ons waaksaam bly, asof ons op ’n hoë wagtoring staan en oor die horison uitkyk vir enige teken van dreigende gevaar. Laat ons ten nouste saamwerk met die getroue wagklas, die oorblywende gesalfde Christene wat vandag op aarde is. Laat ons saam met hulle moedig verkondig presies wat ons sien—die oortuigende bewyse dat Christus in die hemel regeer; dat hy binnekort ’n einde gaan maak aan die mensdom se lang, donker nag van vervreemding van God; en dat hy daarna die ware dagbreek, die Duisendjarige Heerskappy oor ’n paradysaarde, sal inlei!
[Voetnote]
a Die Persiese koning Kores is soms as “koning van Ansjan” beskryf. Ansjan was ’n streek of stad in Elam. Die Israeliete van Jesaja se dag—die agtste eeu v.G.J.—het moontlik nie veel van Persië geweet nie, maar hulle het van Elam geweet. Dit verduidelik dalk waarom Jesaja hier van Elam praat en nie van Persië nie.
b Baie Bybelkommentators dink dat die woorde “salf die skild” na die ou militêre gebruik verwys om leerskilde voor ’n veldslag met olie te smeer sodat die meeste houe daarvan sou wegskram. Hoewel dit moontlik is, moet ’n mens onthou dat die Babiloniërs op die nag toe die stad geval het beswaarlik tyd gehad het om hulle teë te sit, wat nog te sê van hulle vir die stryd voor te berei deur hulle skilde met olie te smeer!
c Jesaja se profesie oor die val van Babilon is so akkuraat dat party Bybelkritici gespekuleer het dat dit ná die tyd opgeteken is. Maar soos die Hebraïkus F. Delitzsch sê, is sulke bespiegeling onnodig as ons aanvaar dat ’n profeet geïnspireer kan word om gebeure honderde jare vooruit te voorspel.
e Gedurende die eerste 59 jaar wat die Wagtoring uitgegee is, het Jesaja 21:11 op sy voorblad verskyn. Dieselfde teks was die tema vir die laaste gepubliseerde preek van Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap. (Sien illustrasie op vorige bladsy.)
[Prent op bladsy 219]
“Laat daar geëet, gedrink word!”
[Prent op bladsy 220]
Die wag “het soos ’n leeu uitgeroep”
[Prent op bladsy 222]
‘Ek staan voortdurend in die dag, en al die nagte’