Hoofstuk ses-en-twintig
“Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”
1. Waarom is die woorde van Jesaja 33:24 vertroostend?
“ONS weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly.” So het die apostel Paulus gesê (Romeine 8:22). Ondanks vooruitgang in die mediese wetenskap word die mensdom nog steeds deur siekte en die dood geteister. Hoe wonderlik is die belofte dus wat die klimaks van hierdie deel van Jesaja se profesie is! Dink net aan die tyd wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jesaja 33:24). Wanneer en hoe sal hierdie belofte vervul word?
2, 3. (a) In watter opsig is die nasie Israel siek? (b) In watter sin is Assirië God se “roede” van dissipline?
2 Jesaja skryf op ’n tyd wanneer God se verbondsvolk geestelik siek is (Jesaja 1:5, 6). Hulle het so diep in afvalligheid en onsedelikheid verval dat hulle streng dissipline van Jehovah God nodig het. Assirië is Jehovah se “roede”, of “stok”, om daardie dissipline toe te dien (Jesaja 7:17; 10:5, 15). Eerstens val die noordelike tienstammeryk van Israel in die jaar 740 v.G.J. voor die Assiriërs (2 Konings 17:1-18; 18:9-11). ’n Paar jaar later loods koning Sanherib van Assirië ’n volskaalse aanval op die suidelike koninkryk van Juda (2 Konings 18:13; Jesaja 36:1). Namate die Assiriese bedreiging deur die land trek, lyk dit of Juda se algehele vernietiging onafwendbaar is.
3 Maar Assirië gaan verder as die opdrag wat hy gekry het om God se volk te dissiplineer en streef nou sy eie hebsugtige ambisie na om die wêreld te oorheers (Jesaja 10:7-11). Sal Jehovah toelaat dat die wrede mishandeling van sy volk ongestraf bly? Sal die nasie se geestelike siekte genees word? In Jesaja hoofstuk 33 lees ons Jehovah se antwoorde op hierdie vrae.
Die plunderaar word geplunder
4, 5. (a) Watter ommekeer sal Assirië ervaar? (b) Watter gebed doen Jesaja ten behoewe van Jehovah se volk?
4 Die profesie begin: “Wee jou, jy wat plunder sonder om self geplunder te word, en jy wat verraderlik handel sonder dat ander verraderlik met jou gehandel het! Sodra jy klaar geplunder het, sal jy geplunder word. Sodra jy klaar verraderlik gehandel het, sal hulle verraderlik met jou handel” (Jesaja 33:1). Jesaja spreek die plunderaar, Assirië, direk aan. Op die hoogtepunt van sy mag, lyk daardie aggressiewe nasie onoorwinlik. Hy het ‘geplunder sonder om geplunder te word’ deur die stede van Juda te verwoes en selfs die skatte van die huis van Jehovah daaruit weg te neem—en hy bly skynbaar ongestraf hiervoor! (2 Konings 18:14-16; 2 Kronieke 28:21). Maar nou gaan die bordjies verhang word. ‘Jy sal geplunder word’, sê Jesaja prontuit. Hoe vertroostend is hierdie profesie tog vir getroues!
5 Gedurende daardie skrikwekkende tyd sal lojale aanbidders van Jehovah by hom moet hulp soek. Jesaja bid dus: “O Jehovah, betoon guns aan ons. Op u het ons gehoop. Word elke oggend ons arm [van krag en ondersteuning], ja, ons redding in die tyd van benoudheid. By die rumoerige geluid het volke gevlug. Wanneer u opgestaan het, is nasies verstrooi” (Jesaja 33:2, 3). Dit is gepas dat Jesaja bid dat Jehovah Sy volk verlos soos Hy dikwels in die verlede gedoen het (Psalm 44:3; 68:1). En Jesaja het nog skaars klaar gebid wanneer hy voorspel hoe Jehovah hierdie gebed sal verhoor!
6. Wat sal met Assirië gebeur, en waarom is dit gepas?
6 “Julle [die Assiriërs se] buit sal ingesamel word soos wanneer die kakkerlakke insamel, soos die stormloop van sprinkaanswerms wat op iemand afstorm” (Jesaja 33:4). Juda is bekend met vernietigende insekplae. Maar hierdie keer is dit Juda se vyande wat vernietig gaan word. Assirië sal ’n vernederende nederlaag ly, en sy soldate sal moet vlug en baie buit agterlaat, wat die inwoners van Juda sal insamel! Dit is beslis gepas dat Assirië, wat bekend is vir sy wreedheid, geplunder sal word.—Jesaja 37:36.
Die hedendaagse Assiriër
7. (a) Wie kan vandag met die geestelike siek nasie Israel vergelyk word? (b) Wie sal Jehovah se “roede” wees waardeur die Christendom vernietig sal word?
7 Hoe is Jesaja se profesie in ons dag van toepassing? Die geestelike siek nasie Israel kan met die ontroue Christendom vergelyk word. Net soos Jehovah Assirië as ’n “roede” gebruik het om Israel te straf, so sal hy ’n “roede” gebruik om die Christendom—sowel as die res van die wêreldryk van valse godsdiens, “Babilon die Grote”—te straf (Jesaja 10:5; Openbaring 18:2-8). Daardie “roede” sal lidlande van die Verenigde Nasies wees—’n organisasie wat in Openbaring as ’n skarlakenkleurige wilde dier met sewe koppe en tien horings uitgebeeld word.—Openbaring 17:3, 15-17.
8. (a) Wie kan vandag met Sanherib vergelyk word? (b) Op wie sal die hedendaagse Sanherib dit waag om ’n aanval te rig, en met watter gevolg?
8 Wanneer die hedendaagse Assiriër deur die gebied van valse godsdiens trek, sal dit lyk asof hy onkeerbaar is. Met ’n gesindheid soos dié van Sanherib sal Satan die Duiwel dit waag om toe te slaan—nie net op afvallige organisasies wat straf verdien nie, maar ook teen ware Christene. Saam met die oorblywende lede van Jehovah se gesalfde geestelike seuns is daar miljoene mense wat uit Satan se wêreld gekom het, wat Babilon die Grote insluit, en hulle standpunt vir Jehovah se Koninkryk inneem. “Die god van hierdie stelsel van dinge”, Satan, sal woedend wees omdat ware Christene weier om aan hom eer te betoon en sal ’n hewige aanval op hulle rig (2 Korintiërs 4:4; Esegiël 38:10-16). Hierdie aanval sal ongetwyfeld skrikwekkend wees, maar Jehovah se volk sal nie bang hoef te wees nie (Jesaja 10:24, 25). God het hulle die versekering gegee dat hy hulle “redding in die tyd van benoudheid” sal wees. Hy sal ingryp en Satan en sy hordes vernietig (Esegiël 38:18-23). Net soos in die ou tyd sal diegene wat God se volk wil plunder self geplunder word! (Vergelyk Spreuke 13:22b.) Jehovah se naam sal geheilig word, en oorlewendes sal beloon word omdat hulle “wysheid en kennis [en] die vrees van Jehovah” gesoek het.—Lees Jesaja 33:5, 6.
’n Waarskuwing aan ontroues
9. (a) Wat sal Juda se “helde” en “boodskappers van vrede” doen? (b) Hoe sal die Assiriër op Juda se vredespogings reageer?
9 Maar wat sal met die ontroues in Juda gebeur? Jesaja skilder ’n droewige prentjie van hulle naderende vernietiging deur Assirië. (Lees Jesaja 33:7.) Juda se militêre “helde” roep uit van vrees weens die Assiriërs se vordering. “Boodskappers van vrede”, diplomate wat gestuur is om vredesonderhandelinge met die strydlustige Assiriërs te voer, word gespot en verneder. Hulle sal bitterlik huil omdat hulle misluk het. (Vergelyk Jeremia 8:15.) Die wrede Assiriër sal hulle nie jammer kry nie. (Lees Jesaja 33:8, 9.) Hy sal verbonde wat hy met die inwoners van Juda aangegaan het, heeltemal ignoreer (2 Konings 18:14-16). Die Assiriër sal “die stede [van Juda] verag” en sal hulle met minagting beskou en geen respek vir menselewe hê nie. Die situasie sal so ontstellend wees dat die land self as ’t ware sal treur. Die Libanon, Saron, Basan en Karmel sal ook oor die vernietiging treur.
10. (a) Hoe sal die Christendom se “helde” magteloos wees? (b) Wie sal ware Christene gedurende die Christendom se dag van benoudheid beskerm?
10 Soortgelyke omstandighede sal ongetwyfeld in die nabye toekoms ontstaan wanneer die nasies hulle aanval op godsdiens rig. Soos in Hiskia se dag sal fisiese weerstand teen hierdie vernietigende magte tevergeefs wees. Die Christendom se “helde”—sy politici, finansiers en ander invloedryke persone—sal nie in staat wees om hom te red nie. Politieke en finansiële ‘verbonde’, of ooreenkomste, wat veronderstel is om die Christendom se belange te beskerm, sal verbreek word (Jesaja 28:15-18). Koorsagtige pogings om vernietiging deur diplomatieke onderhandelinge te probeer voorkom, sal misluk. Handelsbedrywighede sal tot stilstand kom wanneer die Christendom se eiendomme en beleggings gekonfiskeer of vernietig word. Enigiemand wat nog vriendskaplike gevoelens teenoor die Christendom het, sal nie veel meer kan doen as om op ’n veilige afstand te staan en oor sy vernietiging te treur nie (Openbaring 18:9-19). Sal die ware en die valse Christelike godsdiens saam vernietig word? Nee, want Jehovah self gee hierdie versekering: “‘Nou sal ek opstaan’, sê Jehovah, ‘nou sal ek my verhoog; nou sal ek my verhef’” (Jesaja 33:10). Jehovah sal uiteindelik ingryp ten behoewe van getroue persone, soos Hiskia, en hy sal die Assiriër se vordering stuit.—Psalm 12:5.
11, 12. (a) Wanneer en hoe word die woorde van Jesaja 33:11-14 vervul? (b) Watter waarskuwing voorsien Jehovah se woorde vir vandag?
11 Die ontroues kan nie op hierdie beskerming staatmaak nie. Jehovah sê: “Julle word swanger van verdorde gras; julle sal stoppels baar. Julle gees sal julle soos ’n vuur verteer. En volke sal soos gebrande kalk word. Soos afgekapte dorings sal hulle met vuur verbrand word. Julle wat ver is, hoor wat ek gaan doen! En julle wat naby is, ken my mag. In Sion verkeer die sondaars in angs; bewing het die afvalliges aangegryp: ‘Wie van ons kan selfs net ’n ruk lank by ’n verterende vuur vertoef? Wie van ons kan selfs net ’n ruk lank by langdurige brande vertoef?’” (Jesaja 33:11-14). Hierdie woorde is klaarblyklik van toepassing op die tyd wanneer Juda voor ’n nuwe vyand, Babilon, te staan kom. Ná die dood van Hiskia verval Juda weer in sy slegte weë. Gedurende die volgende paar dekades versleg toestande in Juda soveel dat die hele nasie deur die vuur van God se toorn gestraf moet word.—Deuteronomium 32:22.
12 Goddelose planne en intriges wat deur ongehoorsame persone gesmee word om te probeer keer dat God se oordeel oor hulle kom, is niks duursamer as stoppels nie. Trouens, die trotse, opstandige gees van die nasie sal in werklikheid aanleiding gee tot die gebeure wat tot sy vernietiging lei (Jeremia 52:3-11). Goddelose mense sal “soos gebrande kalk word”—heeltemal vernietig! Wanneer die opstandige inwoners van Juda aan hierdie naderende oordeel dink, gryp ’n ysingwekkende vrees hulle aan. Jehovah se woorde aan die ontroue Juda lig die situasie toe waarin lidmate van die Christendom hulle vandag bevind. As hulle nie op God se waarskuwing ag slaan nie, wag ’n droewige toekoms op hulle.
‘Wandel in volgehoue regverdigheid’
13. Watter belofte word gemaak aan die “een wat in volgehoue regverdigheid wandel”, en hoe is dit in Jeremia se geval vervul?
13 As ’n teenstelling sê Jehovah verder: “Daar is een wat in volgehoue regverdigheid wandel en spreek wat reg is, wat die onregverdige wins deur bedrog verwerp, wat sy hande daarvan losskud om ’n omkoopgeskenk aan te gryp, wat sy oor toestop om nie na bloedvergieting te luister nie en wat sy oë toemaak om nie te sien wat sleg is nie. Dit is hy wat op die hoogtes sal woon; sy veilige hoogte sal rotsagtige plekke wees wat moeilik toeganklik is. Sy brood sal beslis aan hom gegee word; sy watervoorraad sal onuitputlik wees” (Jesaja 33:15, 16). Soos die apostel Petrus later sê: “Jehovah [weet] hoe om mense van godvrugtige toegewydheid uit beproewing te verlos, maar om onregverdige mense te bewaar vir die dag van die oordeel om afgesny te word” (2 Petrus 2:9). Jeremia het hierdie verlossing beleef. Gedurende die beleg deur Babilon moes mense “brood volgens gewig en in angstige besorgdheid . . . eet” (Esegiël 4:16). Party vroue het selfs hulle eie kinders geëet (Klaagliedere 2:20). En tog het Jehovah toegesien dat Jeremia veilig bewaar is.
14. Hoe kan Christene vandag “in volgehoue regverdigheid wandel”?
14 Christene moet vandag ook “in volgehoue regverdigheid wandel” deur elke dag Jehovah se standaarde te handhaaf (Psalm 15:1-5). Hulle moet “spreek wat reg is” en leuens en onwaarhede verwerp (Spreuke 3:32). Bedrog en omkopery is dalk iets algemeens in baie lande, maar dit is afstootlik vir iemand “wat in volgehoue regverdigheid wandel”. Christene moet ook “’n eerlike gewete” in sakeaangeleenthede behou en twyfelagtige of bedrieglike transaksies heeltemal vermy (Hebreërs 13:18; 1 Timoteus 6:9, 10). En iemand wat ‘sy oor toegestop het om nie na bloedvergieting te luister nie en wat sy oë toegemaak het om nie te sien wat sleg is nie’, sal selektief wees in sy keuse van musiek en vermaak (Psalm 119:37). Gedurende Jehovah se oordeelsdag sal hy sy aanbidders, wat volgens hierdie standaarde lewe, beskerm en onderskraag.—Sefanja 2:3.
Hulle aanskou hulle koning
15. Watter belofte sal getroue Joodse ballinge onderskraag?
15 Jesaja gee dan hierdie wonderlike kykie op die toekoms: “Jou oë sal ’n koning in sy skoonheid aanskou; hulle sal ’n ver land sien. Jou hart sal op gedempte toon kommentaar lewer oor iets skrikwekkends: ‘Waar is die sekretaris? Waar is hy wat uitbetaal? Waar is hy wat die torings tel?’ Geen vermetele volk sal jy sien nie, ’n volk met ’n taal te diep om na te luister, met ’n hakkeltong wat jy nie kan verstaan nie” (Jesaja 33:17-19). Die belofte van die toekomstige Messiaanse Koning en sy Koninkryk sal getroue Jode gedurende die lang dekades van hulle ballingskap in Babilon onderskraag, al kan hulle daardie Koninkryk net van ver af sien (Hebreërs 11:13). Wanneer die Messias se heerskappy uiteindelik ’n werklikheid word, sal die Babiloniese tirannie net ’n vae herinnering wees. Dié wat die aanval van die Assiriër oorleef het, sal met blydskap vra: “Waar is die tiran se beamptes wat ons belastings opgelê het, heffings van ons geëis het, skatting van ons geneem het?”—Jesaja 33:18, Moffatt.
16. Van wanneer af kan God se volk die Messiaanse Koning “aanskou”, en met watter gevolg?
16 Hoewel Jesaja se woorde ’n herstelling uit Babiloniese gevangenskap waarborg, sal individuele Joodse ballinge op die opstanding moet wag om die algehele vervulling van hierdie deel van die profesie te geniet. Wat van God se hedendaagse knegte? Jehovah se volk kan die Messiaanse Koning, Jesus Christus, van 1914 af in al sy geestelike skoonheid “aanskou” (Psalm 45:2; 118:22-26). Gevolglik is hulle verlos van onderdrukking en beheer deur Satan se goddelose stelsel. Onder Sion, die setel van God se Koninkryk, geniet hulle ware geestelike veiligheid.
17. (a) Watter beloftes word aangaande Sion gemaak? (b) Hoe word Jehovah se beloftes aangaande Sion ten opsigte van die Messiaanse Koninkryk en sy ondersteuners op aarde vervul?
17 Jesaja gaan voort: “Aanskou Sion, die stad van ons feesgeleenthede! Jou oë sal Jerusalem sien as ’n ongestoorde woonplek, ’n tent wat niemand sal afslaan nie. Nooit sal sy tentpenne uitgeruk word nie, en geeneen van sy toue sal in twee gebreek word nie. Maar daar sal die Majestueuse God, Jehovah, vir ons ’n plek van riviere wees, van breë kanale. Daarop sal geen galeivloot vaar nie, en geen majestueuse skip sal daaroor gaan nie” (Jesaja 33:20, 21). Jesaja verseker ons dat God se Messiaanse Koninkryk nie omvergewerp of vernietig kan word nie. Vandag geniet getroue ondersteuners van die Koninkryk op aarde klaarblyklik ook hierdie beskerming. Al word baie van hulle swaar beproef, het onderdane van God se Koninkryk die versekering dat geen poging om hulle as ’n geheel te vernietig ooit suksesvol sal wees nie (Jesaja 54:17). Jehovah sal sy volk beskerm soos ’n grag of kanaal ’n stad beskerm. Enige vyand wat teen hulle optrek—selfs een wat so magtig is soos ’n “galeivloot” of ’n “majestueuse skip”—sal vernietig word!
18. Watter verantwoordelikheid aanvaar Jehovah?
18 Waarom kan mense wat vir God se Koninkryk lief is dan soveel vertroue hê dat God hulle sal beskerm? Jesaja verduidelik: “Jehovah is ons Regter, Jehovah is ons Wetgewer, Jehovah is ons Koning; hy sal ons red” (Jesaja 33:22). Jehovah aanvaar die verantwoordelikheid om sy volk, wat sy posisie as die Allerhoogste Soewerein erken, te beskerm en te rig. Hulle onderwerp hulle gewillig aan sy heerskappy deur middel van sy Messiaanse Koning en erken dat Jehovah die gesag het om nie net wette te maak nie, maar om hulle ook toe te pas. Maar omdat Jehovah regverdigheid en geregtigheid liefhet, is sy heerskappy, deur middel van sy Seun, nie ’n las vir sy aanbidders nie. Hulle ‘bevoordeel hulleself’ eerder deur hulle aan sy gesag te onderwerp (Jesaja 48:17). Hy sal sy lojale knegte nooit in die steek laat nie.—Psalm 37:28.
19. Hoe beskryf Jesaja die ondoeltreffendheid van die vyande van Jehovah se getroue volk?
19 Jesaja sê vir vyande van Jehovah se getroue volk: “Jou toue sal slap hang; hulle sal hulle mas nie stewig regop hou nie; hulle het nie ’n seil gespan nie. Dan sal buit in oorvloed verdeel moet word; die kreupeles sal baie roofgoed vergaar” (Jesaja 33:23). Enige naderende vyand sal so ondoeltreffend en so hulpeloos voor Jehovah wees soos ’n oorlogskip met los takelwerk, ’n onvaste mas en geen seil nie. Ná die vernietiging van God se vyande sal daar soveel buit wees dat selfs gebreklike persone ook van die roofgoed sal bymekaarmaak. Daarom kan ons vertrou dat Jehovah deur middel van die Koning Jesus Christus in die komende “groot verdrukking” oor sy vyande sal seëvier.—Openbaring 7:14.
’n Genesing
20. Watter soort genesing sal God se volk ondervind, en wanneer?
20 Hierdie deel van Jesaja se profesie sluit af met ’n bemoedigende belofte: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie. Die volk wat in die land woon, sal vergifnis van hulle dwaling ontvang het” (Jesaja 33:24). Die siekte waarvan Jesaja praat, is hoofsaaklik geestelike siekte, want dit hou verband met sonde, of “dwaling”. In die eerste vervulling van hierdie woorde belowe Jehovah dat die nasie, ná hulle vrylating uit gevangenskap in Babilon, geestelik genees sal word. (Jesaja 35:5, 6; Jeremia 33:6; vergelyk Psalm 103:1-5.) Die terugkerende Jode sal vergewe word vir hulle vorige sondes en sal rein aanbidding in Jerusalem herstel.
21. Op watter maniere ondervind Jehovah se aanbidders vandag geestelike genesing?
21 Maar Jesaja se profesie het ’n hedendaagse vervulling. Jehovah se volk het ook vandag ’n geestelike genesing ondervind. Hulle is bevry van valse leerstellings soos die onsterflikheid van die siel, die Drie-eenheid en die helse vuur. Hulle kry sedelike leiding wat hulle van onsedelike gebruike bevry en hulle help om goeie besluite te neem. En danksy die losprysoffer van Jesus Christus het hulle ’n rein posisie voor God, asook ’n rein gewete (Kolossense 1:13, 14; 1 Petrus 2:24; 1 Johannes 4:10). Hierdie geestelike genesing het fisiese voordele. Christene word byvoorbeeld teen seksueel oordraagbare siektes en sekere vorme van kanker beskerm omdat hulle onsedelike geslagsomgang en tabakprodukte vermy.—1 Korintiërs 6:18; 2 Korintiërs 7:1.
22, 23. (a) Watter wonderlike vervulling sal Jesaja 33:24 hê? (b) Wat is die voorneme van ware aanbidders wat vandag lewe?
22 Maar ná Armageddon, in God se nuwe wêreld, sal daar ’n groter vervulling van die woorde van Jesaja 33:24 wees. Onder die heerskappy van die Messiaanse Koninkryk sal mense ’n wonderlike fisiese genesing saam met hulle geestelike genesing ondervind (Openbaring 21:3, 4). Kort ná die vernietiging van Satan se stelsel van dinge sal wonderwerke soos dié wat Jesus gedoen het toe hy op die aarde was ongetwyfeld wêreldwyd plaasvind. Die blindes sal sien, die dowes sal hoor, die kreupeles sal loop! (Jesaja 35:5, 6). Dit sal alle oorlewendes van die groot verdrukking toelaat om deel te neem aan die groot werk om die aarde tot ’n paradys te herstel.
23 Later, wanneer die opstanding begin, sal diegene wat opstaan ongetwyfeld met goeie gesondheid opgewek word. Maar namate die waarde van die losprysoffer in toenemende mate toegepas word, sal meer fisiese voordele geniet word, tot die mensdom volmaaktheid bereik. Dan sal die regverdiges in die volste sin ‘lewend word’ (Openbaring 20:5, 6). In daardie tyd sal “geen inwoner . . . sê: ‘Ek is siek’ nie”, nie geestelik of fisies gesproke nie. Wat ’n opwindende belofte! Mag alle ware aanbidders wat vandag lewe hulle voorneem dat hulle onder diegene sal wees wat die vervulling hiervan sal beleef!
[Prent op bladsy 344]
Jesaja is vol vertroue wanneer hy tot Jehovah bid
[Prente op bladsy 353]
Danksy die losprysoffer het Jehovah se volk ’n rein posisie voor hom
[Prent op bladsy 354]
In die nuwe wêreld sal daar ’n wonderlike fisiese genesing wees