Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Jesaja—II
JESAJA voer sy opdrag as profeet getrou uit. Die uitsprake wat hy teen die tienstammeryk van Israel gedoen het, het reeds waar geword. Nou het hy ’n verdere boodskap oor die toekoms van Jerusalem.
Die stad Jerusalem sal vernietig word, en sy inwoners sal gevange geneem word. Maar die verwoesting sal nie permanent wees nie. Ná verloop van tyd sal ware aanbidding herstel word. Dit is basies die boodskap van Jesaja 36:1–66:24.a Ons kan baat vind by ’n bespreking van wat in hierdie hoofstukke gesê word, want baie van die profesieë in hierdie gedeelte het hulle grotere, of finale, vervulling in ons dag of sal in die nabye toekoms vervul word. Hierdie deel van die boek Jesaja bevat ook opwindende profesieë oor die Messias.
“KYK! DAAR KOM DAE”
In die 14de jaar van koning Hiskia se bewind (732 v.G.J.) val die Assiriërs Juda binne. Jehovah belowe dat hy Jerusalem sal verdedig. Die bedreiging van ’n inval kom tot ’n einde wanneer Jehovah se engel 185 000 Assiriese soldate op sy eie doodmaak.
Hiskia word siek. Jehovah verhoor sy gebed, genees hom en voeg 15 jaar by sy lewe. Wanneer die koning van Babilon gesante stuur om hom geluk te wens, tree Hiskia onverstandig op deur vir hulle al sy skatte te wys. Jesaja dra Jehovah se boodskap aan Hiskia oor en sê: “Kyk! Daar kom dae, en alles wat in jou huis is en wat jou voorvaders tot vandag toe opgegaar het, sal na Babilon weggevoer word” (Jesaja 39:5, 6). Net oor die 100 jaar later word die profesie bewaarheid.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
38:8—Wat was “die trappies” waarop die skaduwee teruggegaan het? Aangesien sonwysers teen die agtste eeu v.G.J. in Egipte sowel as Babilon gebruik is, kan hierdie trappies verwys na die grade van ’n sonwyser wat Hiskia se vader, Agas, moontlik bekom het. Of daar was miskien ’n trap in die paleis. ’n Pilaar langs die trap het dalk geleidelik ’n skaduwee op die trappies gegooi, wat gebruik kon word om tyd te meet.
Lesse vir ons:
36:2, 3, 22. Hoewel Sebna as bestuurder ontslaan is, is hy toegelaat om in die koning se diens aan te bly as sekretaris vir sy plaasvervanger (Jesaja 22:15, 19). Moet ons nie, as ons om die een of ander rede uit ’n verantwoordelike posisie in Jehovah se organisasie verwyder word, voortgaan om God te dien in watter hoedanigheid hy ook al toelaat nie?
37:1, 14, 15; 38:1, 2. In tye van benoudheid is dit wys van ons om ons in gebed tot Jehovah te wend en volkome op hom te vertrou.
37:15-20; 38:2, 3. Toe Jerusalem deur Assirië bedreig is, was Hiskia se grootste kwelling dat die omverwerping van die stad Jehovah se naam oneer sou aandoen. Toe Hiskia hoor dat sy siekte tot die dood sou lei, was hy nie net oor homself besorg nie. Hy was meer bekommerd oor wat dit vir die Dawidiese koningslyn sou beteken as hy sonder ’n erfgenaam sou sterf. Hy was ook besorg oor wie die geveg teen die Assiriërs sou aanvoer. Soos Hiskia ag ons die heiliging van Jehovah se naam en die vervulling van sy voorneme belangriker as ons eie redding.
38:9-20. Hierdie lied van Hiskia leer ons dat niks in die lewe belangriker is as om Jehovah te kan loof nie.
“DIT SAL HERBOU WORD”
Onmiddellik nadat Jesaja die vernietiging van Jerusalem en die gevolglike gevangenskap in Babilon voorspel het, profeteer hy oor herstel (Jesaja 40:1, 2). “Dit [Jerusalem] sal herbou word”, sê Jesaja 44:28. Beelde van Babiloniese gode sal soos “bagasie” weggedra word (Jesaja 46:1). Babilon sal vernietig word. Twee eeue later word dit alles bewaarheid.
Jehovah sal sy kneg as “’n lig van die nasies” gee (Jesaja 49:6). Babilon se “hemel”, of heersersklas, “sal verstrooi word en verdwyn net soos rook”, en sy onderdane “sal soos ’n muggie sterf”; maar die ‘gevange dogter van Sion sal die bande om haar nek losmaak’ (Jesaja 51:6; 52:2). Jehovah sê vir diegene wat na hom toe kom en luister: “Ek sal graag ’n verbond met julle sluit wat tot onbepaalde tyd duur, aangaande die liefderyke goedhartighede teenoor Dawid” (Jesaja 55:3). ’n Lewe in ooreenstemming met God se regverdige vereistes lei daartoe dat mense hulle “in Jehovah verlustig” (Jesaja 58:14). Daarenteen veroorsaak die oortredings van die volk ‘’n skeiding tussen hulle en hulle God’.—Jesaja 59:2.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
40:27, 28—Waarom het Israel gesê: “My weg is vir Jehovah verborge, en geregtigheid teenoor my gaan by my God verby”? Party Jode in Babilon het dalk gevoel dat die onregte wat hulle ly, vir Jehovah verborge is of nie deur hom gesien word nie. Hulle is daaraan herinner dat Babilon nie buite die bereik is van die Skepper van die aarde, wat nie moeg of afgemat raak nie.
43:18-21—Waarom is daar vir die terugkerende ballinge gesê om ‘nie aan die vorige dinge te dink nie’? Dit was nie in die sin dat hulle Jehovah se vroeëre dade van verlossing moes vergeet nie. Jehovah wou eerder hê dat hulle hom moes loof op grond van “iets nuuts” wat hulle self sou ondervind, soos hulle veilige reis na Jerusalem, miskien langs ’n direkter woestynroete. “’n Groot menigte” wat uit “die groot verdrukking” kom, sal ook nuwe en persoonlike redes hê om Jehovah te verheerlik.—Openbaring 7:9, 14.
49:6—Hoe is die Messias “’n lig van die nasies”, al was sy aardse bediening tot die kinders van Israel beperk? Dit is as gevolg van wat ná Jesus se dood gebeur het. Die Bybel pas Jesaja 49:6 op sy dissipels toe (Handelinge 13:46, 47). Gesalfde Christene, wat deur ’n groot menigte aanbidders bygestaan word, dien vandag as “’n lig van die nasies” en verlig volke “tot aan die einde van die aarde”.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
53:10—In watter sin het dit Jehovah behaag om sy Seun te verbrysel? Dit moes vir Jehovah, wat ’n God van medelye en empatie is, pynlik gewees het om sy geliefde Seun te sien ly. Hy het nietemin behae geskep in Jesus se gewillige gehoorsaamheid en alles wat sy lyding en dood sou teweegbring.—Spreuke 27:11; Jesaja 63:9.
53:11—Wat is die kennis waardeur die Messias ‘baie in ’n regverdige posisie sal bring’? Dit is die kennis wat Jesus verkry het deur aarde toe te kom, ’n mens te word en ten onregte tot die dood te ly (Hebreërs 4:15). So het hy ’n losprysoffer voorsien, wat nodig was om gesalfde Christene en die groot menigte te help om ’n regverdige posisie voor God te verkry.—Romeine 5:19; Jakobus 2:23, 25.
56:6—Wie is “die uitlanders”, en hoe ‘hou hulle vas aan Jehovah se verbond’? “Die uitlanders” is Jesus se “ander skape” (Johannes 10:16). Hulle hou vas aan die nuwe verbond in die sin dat hulle die wette in verband met daardie verbond gehoorsaam, ten volle saamwerk met die reëlings wat deur middel daarvan getref word, dieselfde geestelike voedsel as gesalfde Christene inneem en hulle in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk ondersteun.
Lesse vir ons:
40:10-14, 26, 28. Jehovah is sterk en teergevoelig, almagtig en alwys, en baie groter in begrip as wat ons kan besef.
40:17, 23; 41:29; 44:9; 59:4. Politieke bondgenootskappe en afgode is ‘onwerklikhede’. Dit is nutteloos om op hulle te vertrou.
42:18, 19; 43:8. As ons ons oë vir God se geskrewe Woord en ons ore vir sy onderrigting deur “die getroue en verstandige slaaf” sluit, sal ons geestelik blind en doof word.—Matteus 24:45.
43:25. Jehovah wis oortredings om sy ontwil uit. Die feit dat ons van sonde en die dood bevry word en lewe verkry, is minder belangrik as die heiliging van Jehovah se naam.
44:8. Ons geniet die steun van Jehovah, wat so bestendig en vas soos ’n rots is. Ons moet nooit bang wees om van sy Godheid te getuig nie!—2 Samuel 22:31, 32.
44:18-20. Afgodediens is ’n teken dat die hart verdorwe is. Niks moet Jehovah se plek in ons hart inneem nie.
46:10, 11. Die vermoë om ‘sy besluit te laat bly staan’, dit wil sê om sy voorneme te vervul, is ’n onmiskenbare bewys van Jehovah se Godheid.
48:17, 18; 57:19-21. As ons op Jehovah vertrou vir redding, nader aan hom kom en aan sy gebooie aandag skenk, sal ons vrede so oorvloedig wees soos die waters van ’n vloeiende rivier en ons regverdige dade so talryk soos die golwe van die see. Diegene wat glad nie op God se Woord ag slaan nie, is soos “die onstuimige see”. Hulle het geen vrede nie.
52:5, 6. Die Babiloniërs het verkeerdelik tot die gevolgtrekking gekom dat die ware God swak is. Hulle het nie besef dat Jehovah se misnoeë met sy volk die rede vir Israel se slawerny is nie. Wanneer rampspoed ander tref, is dit verstandig van ons om nie oorhaastige gevolgtrekkings te maak oor wat die oorsaak daarvan is nie.
52:7-9; 55:12, 13. Ons het ten minste drie redes om met vreugde aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk deel te neem. Ons voete is lieflik vir nederige mense wat geestelik honger is. Ons sien Jehovah “oog in oog”, of het ’n hegte verhouding met hom. Ons geniet ook geestelike voorspoed.
52:11, 12. Ons moet geestelik en sedelik rein wees as ons aan die vereistes wil voldoen om “die voorwerpe van Jehovah”—sy voorsienings vir heilige diens—te dra.
58:1-14. ’n Huigelagtige vertoon van toegewydheid en regverdigheid is tevergeefs. Ware aanbidders moet oorvloedig wees in opregte blyke van godvrugtige toegewydheid en dade van broederliefde.—Johannes 13:35; 2 Petrus 3:11.
59:15b-19. Jehovah neem menseaangeleenthede waar en gryp op sy bestemde tyd in.
SY ‘MOET ’N PRAGTIGE KROON WORD’
Met verwysing na die herstel van ware aanbidding in die ou tyd sowel as in ons dag sê Jesaja 60:1: “Staan op, o vrou, versprei lig, want jou lig het gekom en die heerlikheid van Jehovah het oor jou geskyn.” Sion “moet ’n pragtige kroon in die hand van Jehovah word”.—Jesaja 62:3.
Jesaja bid tot Jehovah ten behoewe van sy landgenote wat berou sal toon gedurende hulle ballingskap in Babilon (Jesaja 63:15–64:12). Nadat hy ware en valse knegte met mekaar vergelyk het, vertel die profeet hoe Jehovah dié sal seën wat Hom dien.—Jesaja 65:1–66:24.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
61:8, 9—Wat is die “verbond wat tot onbepaalde tyd duur”, en wie is die “nageslag”? Dit is die nuwe verbond wat Jehovah met gesalfde Christene gesluit het. Die “nageslag” is die “ander skape”—die miljoene wat gunstig reageer op hulle boodskap.—Johannes 10:16.
63:5—Hoe ondersteun God se woede hom? God se woede is ’n beheerste emosie—sy regverdige verontwaardiging. Sy woede ondersteun en beweeg hom om sy regverdige oordele te voltrek.
Lesse vir ons:
64:6. Onvolmaakte mense kan hulleself nie red nie. Wat versoening vir sondes betref, kom hulle regverdige dade neer op niks meer as vuil klere nie.—Romeine 3:23, 24.
65:13, 14. Jehovah seën sy getroue knegte en voorsien oorvloedig in hulle geestelike behoefte.
66:3-5. Jehovah haat huigelary.
“Verheug julle”
Hoe vertroostend moes die herstellingsprofesieë tog gewees het vir die getroue Jode wat as ballinge in Babilon gewoon het! “Verheug julle”, het Jehovah gesê, “en wees vir ewig bly oor wat ek skep. Want kyk, ek skep Jerusalem as ’n rede tot blydskap en sy volk as ’n rede tot vreugde.”—Jesaja 65:18.
Ons lewe ook in ’n tyd wanneer duisternis die aarde oordek en die nasies in dik donkerheid verkeer (Jesaja 60:2). “Kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, is hier (2 Timoteus 3:1). Jehovah se boodskap van redding wat in die Bybelboek Jesaja voorsien word, is dus vir ons baie aanmoedigend.—Hebreërs 4:12.
[Voetnoot]
a Vir ’n bespreking van Jesaja 1:1–35:10, sien “Jehovah se Woord is lewend—glanspunte uit die boek Jesaja—I” in Die Wagtoring van 1 Desember 2006.
[Prent op bladsy 8]
Weet jy wat die vernaamste rede is waarom Hiskia gebid het om van die Assiriërs gered te word?
[Prent op bladsy 11]
“Hoe lieflik op die berge is die voete van die een wat goeie nuus bring!”