Man en vrou—’n Waardige rol vir albei
JEHOVAH GOD het Adam eerste geskep, toe vir Eva. Voordat Eva geskep is, het Adam lewensondervinding opgedoen. Gedurende hierdie tyd het Jehovah vir hom sekere instruksies gegee (Genesis 2:15-20). Adam het as God se woordvoerder gedien en moes hierdie instruksies aan sy vrou oordra. Hy sou dus logieserwys die leiding neem in alle sake wat met aanbidding verband hou.
’n Soortgelyke reëling bestaan in die Christengemeente, en ons kan baat vind by ’n ondersoek daarvan. Die apostel Paulus het geskryf: “Ek laat ’n vrou nie toe . . . om gesag oor ’n man uit te oefen nie, maar sy moet stil wees. Want Adam is eerste gevorm, daarna Eva” (1 Timoteus 2:12, 13). Dit beteken nie dat ’n vrou heeltemal stil moet bly tydens ’n vergadering van die Christengemeente nie. Sy moet stil wees in die sin dat sy nie by ’n woordestryd met ’n man betrokke moet raak nie. Sy moenie sy aangestelde posisie kleineer of die gemeente probeer onderrig nie. Mans is die toewysing gegee om die gemeente te onderrig en daaroor toesig te hou; nogtans dra vroue baie by tot Christelike vergaderinge deur op verskeie maniere daaraan deel te neem.
Die apostel Paulus het ons insig gegee in die onderskeie rolle van mans en vroue in God se reëling en het geskryf: “Die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man . . . Wat meer is, in verband met die Here is die vrou nie sonder die man nie en die man ook nie sonder die vrou nie [die een is nie onafhanklik van die ander nie]. Want net soos die vrou uit die man is, so is die man ook deur middel van die vrou; maar alles is uit God.”—1 Korintiërs 11:8-12.
Vroue geniet wonderlike voorregte
Onder die Wet wat God aan Israel gegee het, het vroue baie voorregte geniet en kon hulle hulle inisiatief gebruik. Spreuke 31:10-31 praat byvoorbeeld van “’n bekwame vrou” wat goeie materiaal koop en klere van hoë gehalte vir haar huisgesin maak. Trouens, “sy het selfs onderkledingstukke gemaak en dit verkoop”! (Verse 13, 21-24). “Soos die skepe van ’n koopman”, vind hierdie voortreflike vrou net die beste voedsel, al moet sy dit van verafgeleë plekke verkry (Vers 14). “Sy het ’n stuk grond oorweeg en dit verkry” en sy het “’n wingerd geplant” (Vers 16). Aangesien “dit goed gaan met haar handeldrywery”, is haar bedrywighede winsgewend (Vers 18). Behalwe dat sy “waak oor die werksaamhede van haar huisgesin”, help hierdie vlytige vrou wat Jehovah vrees, ander onselfsugtig (Verse 20, 27). Dit is geen wonder dat sy geprys word nie!—Vers 31.
Jehovah se wette wat deur middel van Moses gegee is, het vroue voldoende geleentheid gegee om geestelik te groei. Ons lees byvoorbeeld in Josua 8:35: “Daar was nie ’n woord van alles wat Moses beveel het, wat Josua nie voorgelees het voor die hele gemeente van Israel nie, tesame met die vroue en die kindertjies en die inwonende vreemdelinge wat onder hulle gewandel het.” Aangaande die priester Esra sê die Bybel: “Op die eerste dag van die sewende maand [het hy] die wet gebring voor die gemeente van manne sowel as vroue en almal wat genoeg begrip gehad het om te luister. En hy het daaruit voorgelees voor die openbare plein wat voor die Waterpoort was, van dagbreek af tot die middaguur toe, voor die manne en die vroue en die ander wat begrip gehad het; en die ore van die hele volk was op die wetboek gerig” (Nehemia 8:2, 3). Vroue het baat gevind by hierdie voorlesing van die Wet. Hulle het ook godsdiensfeeste gevier (Deuteronomium 12:12, 18; 16:11, 14). Bowenal kon vroue in eertydse Israel ’n persoonlike verhouding met Jehovah God hê en as individue tot hom bid.—1 Samuel 1:10.
In die eerste eeu G.J. het godvresende vroue die voorreg gehad om Jesus te bedien (Lukas 8:1-3). ’n Vrou het sy kop en voete gedurende ’n aandete in Betanië gesalf (Matteus 26:6-13; Johannes 12:1-7). Vroue was onder dié aan wie Jesus ná sy opstanding verskyn het (Matteus 28:1-10; Johannes 20:1-18). Ná Jesus se hemelvaart het die groep van omtrent 120 wat bymekaargekom het, “’n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus”, ingesluit (Handelinge 1:3-15). Baie van hierdie vroue, of selfs almal van hulle, was ongetwyfeld teenwoordig in die bovertrek in Jerusalem op Pinksterdag 33 G.J., toe die heilige gees uitgestort is en Jesus se dissipels wonderdadig in ’n aantal verskillende tale gepraat het.—Handelinge 2:1-12.
Mans sowel as vroue het die vervulling ondervind van Joël 2:28, 29, wat deur die apostel Petrus op Pinksterdag aangehaal is: “Ek [Jehovah, sal] van my gees op elke soort vlees uitstort, en julle seuns en julle dogters sal profeteer . . . En selfs op my slawe en op my slavinne sal ek in daardie dae van my gees uitstort” (Handelinge 2:13-18). Ná Pinkster 33 G.J. is Christenvroue ’n tyd lank met die gawes van die gees geseën. Hulle het in ander tale gepraat en geprofeteer, nie noodwendig deur voorspellings te maak nie, maar deur skriftuurlike waarhede bekend te maak.
In sy brief aan Christene in Rome praat die apostel Paulus met geneentheid van “ons suster Febe” en beveel hy haar by hulle aan. Hy verwys ook na Trifena en Trifosa en noem hulle “vroue wat hard werk in die Here” (Romeine 16:1, 2, 12). Hoewel hierdie vroue nie in aangestelde posisies in die vroeë Christengemeente gedien het nie, is hulle en baie ander vroue geseën met die voorreg om deur God gekies te word om saam met sy Seun, Jesus Christus, in die hemelse Koninkryk te wees.—Romeine 8:16, 17; Galasiërs 3:28, 29.
Wat ’n wonderlike voorreg geniet godvrugtige vroue tog vandag! “Jehovah laat die woord hoor; die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër”, sê Psalm 68:11. Hierdie vroue moet geprys word. Byvoorbeeld, hulle bedrewe onderrigting tydens tuisbybelstudies help baie mense om die ware leringe aan te neem wat God behaag. Getroude Christenvroue wat hulle kinders help om gelowiges te word en hulle mans ondersteun wat baie gemeentelike pligte het, verdien ook om geprys te word (Spreuke 31:10-12, 28). Ongetroude vroue het ook ’n waardige plek in God se reëling, en Christenmans word aangespoor om “ouer vroue soos moeders, jonger vroue soos susters met alle kuisheid [te vermaan]”.—1 Timoteus 5:1, 2.
Die man se verskeie toewysings
’n Christenman het ’n godgegewe rol en daar word van hom verwag om dit te vervul. Paulus het gesê: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Ook die man het ’n hoof—die Christus. Trouens, die man is aanspreeklik teenoor Christus en uiteindelik teenoor God. En God verwag dat die man sy hoofskap op liefdevolle wyse uitoefen (Efesiërs 5:25). Dit is die geval vandat die mens geskep is.
Die Bybel toon dat God aan die man opdragte gegee het in ooreenstemming met sy posisie as hoof. Byvoorbeeld, Jehovah het die man Noag ’n ark laat bou vir die behoud van lewe tydens die Vloed (Genesis 6:9–7:24). Die man Abraham is belowe dat al die families en nasies van die aarde hulleself deur middel van sy saad sou seën. Die vernaamste deel van hierdie saad is Christus Jesus (Genesis 12:3; 22:18; Galasiërs 3:8-16). God het die man Moses aangestel om die Israeliete uit Egipte te lei (Eksodus 3:9, 10, 12, 18). Deur Moses het Jehovah die regskode gegee wat bekend staan as die Wetsverbond, of Mosaïese Wet (Eksodus 24:1-18). Die Bybelskrywers was sonder uitsondering mans.
Jesus het as Hoof van die Christengemeente “gawes in die vorm van mense [of, manne] gegee” (Efesiërs 1:22; 4:7-13). Wanneer Paulus die vereistes vir opsieners noem, verwys hy na mans (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). Die gemeentes van Jehovah se Getuies word dus bedien deur manlike opsieners, of ouer manne, en deur mans wat as bedieningsknegte aangestel is (Filippense 1:1, 2; 1 Timoteus 3:8-10, 12). Net mans kan as herders in die Christengemeente dien (1 Petrus 5:1-4). Maar soos ons reeds gesien het, het vroue wonderlike godgegewe voorregte.
Gelukkig in hulle rolle
Dit bring vir mans sowel as vroue geluk mee wanneer hulle hulle godgegewe rolle vervul. Wanneer mans en vroue die voorbeeld van Christus en sy gemeente navolg, het dit gelukkige huwelike tot gevolg. “Mans”, het Paulus geskryf, “hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het . . . Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself” (Efesiërs 5:25-33). Mans moet dus hulle hoofskap op liefdevolle wyse uitoefen, nie op selfsugtige wyse nie. Christus se gemeente bestaan nie uit volmaakte mense nie. Nogtans is Jesus lief vir hulle en sorg hy vir hulle. ’n Christenman moet eweneens lief wees vir sy vrou en vir haar sorg.
’n Christenvrou “moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). In dié verband kan sy die gemeente as voorbeeld neem. Efesiërs 5:21-24 sê: “Wees onderdanig aan mekaar in die vrees van Christus. Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is, hy as redder van hierdie liggaam. Trouens, soos die gemeente aan die Christus onderdanig is, so moet vrouens dit ook in alles aan hulle mans wees.” Hoewel ’n vrou dit soms moeilik kan vind om onderdanig te wees aan haar man, is dit “betaamlik [gepas, reg] in die Here” (Kolossense 3:18). Om onderdanig te wees aan haar man, sal makliker wees as sy onthou dat dit die Here Jesus Christus behaag.
Selfs as ’n Christenvrou se man nie ’n medegelowige is nie, moet sy haar aan sy hoofskap onderwerp. Die apostel Petrus sê: “Julle, vrouens, [moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek” (1 Petrus 3:1, 2). Sara, wat haar man Abraham gerespekteer het, het die voorreg gehad om Isak te baar en ’n voorouer van Jesus Christus te word (Hebreërs 11:11, 12; 1 Petrus 3:5, 6). Vrouens wat hulle soos Sara gedra, sal beslis deur God beloon word.
Vrede en harmonie heers wanneer mans en vroue hulle godgegewe rolle vervul. Dit bring vir hulle tevredenheid en geluk mee. Wat meer is, wanneer ons skriftuurlike vereistes nakom, verleen dit aan elkeen van ons die waardigheid wat gepaardgaan met ’n bevoorregte plek in God se reëling.
[Venster op bladsy 7]
Hoe hulle oor hulle godgegewe rol voel
“My man oefen sy hoofskap op ’n liefdevolle en goedhartige wyse uit”, sê Susan. “Ons bespreek gewoonlik besluite, en wanneer hy besluit wat gedoen of nie gedoen sal word nie, weet ek dat dit tot ons voordeel is. Jehovah se reëling vir Christenvroue maak my werklik gelukkig en versterk ons huwelik. Ons het ’n hegte verhouding en werk saam om geestelike doelwitte te bereik.”
’n Vrou met die naam Mindy sê: “Die rol wat Jehovah aan sy vroulike knegte gegee het, verseker ons van sy liefde vir ons. Wanneer ek my man eer en respekteer en hom in sy gemeentelike pligte ondersteun, voel ek dat dit my manier is om waardering teenoor Jehovah te toon vir hierdie reëling.”
[Prente op bladsy 5]
In ooreenstemming met die man se posisie as hoof het God vir Noag, Abraham en Moses verskeie opdragte gegee
[Prent op bladsy 7]
“Die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër”