Hoofstuk drie
“My uitverkorene, wat my siel goedgekeur het!”
1, 2. Waarom stel Christene vandag in Jesaja hoofstuk 42 belang?
“‘JULLE is my getuies’, sê Jehovah, ‘ja, my kneg wat ek uitverkies het’” (Jesaja 43:10). Hierdie verklaring deur Jehovah, wat die profeet Jesaja in die agtste eeu v.G.J. opgeteken het, toon dat Jehovah se eertydse verbondsvolk ’n nasie van getuies was. Hulle was God se uitverkore kneg. Sowat 2 600 jaar later, in 1931, het gesalfde Christene in die openbaar verklaar dat hierdie woorde op hulle van toepassing is. Hulle het die naam Jehovah se Getuies aangeneem en heelhartig die verantwoordelikhede aanvaar wat daarmee gepaardgaan om God se aardse kneg te wees.
2 Jehovah se Getuies se opregte begeerte is om God te behaag. Om hierdie rede het hulle almal ’n lewendige belangstelling in die 42ste hoofstuk van die boek Jesaja, want dit gee ’n beskrywing van ’n kneg wat Jehovah goedkeur en ook van een wat hy verwerp. ’n Bespreking van hierdie profesie en die vervulling daarvan gee insig in wat God sal behaag en wat hom sal mishaag.
“Ek het my gees in hom geplaas”
3. Wat voorspel Jehovah deur middel van Jesaja oor “my kneg”?
3 Deur middel van Jesaja voorspel Jehovah die koms van ’n kneg wat hy self sal uitkies: “Kyk! My kneg, wat ek ondersteun! My uitverkorene, wat my siel goedgekeur het! Ek het my gees in hom geplaas. Hy sal geregtigheid vir die nasies voortbring. Hy sal nie uitroep of sy stem verhef nie, en op die straat sal hy nie sy stem laat hoor nie. ’n Geknakte riet sal hy nie breek nie; en ’n dowwe vlaspit sal hy nie uitdoof nie. In waaragtigheid sal hy geregtigheid voortbring. Hy sal nie dof raak of geknak word totdat hy geregtigheid op die aarde gevestig het nie; en op sy wet sal die eilande bly wag.”—Jesaja 42:1-4.
4. Wie is die voorspelde “uitverkorene”, en hoe weet ons dit?
4 Wie is die Kneg van wie dit hier praat? Ons word in geen twyfel daaroor gelaat nie. Hierdie woorde word in die Evangelie van Matteus aangehaal en op Jesus Christus toegepas (Matteus 12:15-21). Jesus is die geliefde Kneg, die “uitverkorene”. Wanneer het Jehovah sy gees op Jesus geplaas? In 29 G.J., toe Jesus gedoop is. Die geïnspireerde verslag beskryf daardie doop en sê dat Jesus uit die water opgekom het, en daarna “is die hemel geopen en het die heilige gees in liggaamlike gedaante soos ’n duif op hom neergedaal, en ’n stem het uit die hemel gekom: ‘Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur.’” Op hierdie manier het Jehovah sy geliefde Kneg persoonlik geïdentifiseer. Jesus se verdere bediening en die wonderwerke wat hy gedoen het, het bewys dat Jehovah se gees inderdaad op hom was.—Lukas 3:21, 22; 4:14-21; Matteus 3:16, 17.
“Hy sal geregtigheid vir die nasies voortbring”
5. Waarom moes geregtigheid in die eerste eeu G.J. duidelik gemaak word?
5 Jehovah se Uitverkorene sou ware geregtigheid “voortbring”, of opvallend laat word. “Hy sal aan die nasies duidelik maak wat geregtigheid is” (Matteus 12:18). Hoe nodig was dit tog in die eerste eeu G.J.! Die Joodse godsdiensleiers het ’n verwronge beskouing van geregtigheid en regverdigheid geleer. Hulle het regverdigheid probeer verkry deur ’n streng stel wette te volg—waarvan hulle baie self versin het. Daar was geen barmhartigheid of medelye in hulle wettiese toepassing van geregtigheid nie.
6. Op watter maniere het Jesus ware geregtigheid bekend gemaak?
6 In teenstelling daarmee het Jesus God se beskouing van geregtigheid geopenbaar. Deur sy leringe en sy lewenswyse het Jesus getoon dat ware geregtigheid medelydend en barmhartig is. Dink byvoorbeeld aan sy beroemde Bergpredikasie (Matteus, hoofstukke 5-7). Wat ’n uitstekende uiteensetting is dit tog van die manier waarop geregtigheid en regverdigheid toegepas moet word! Word ons nie getref deur Jesus se medelye met die armes en geteisterdes wanneer ons die Evangelieverslae lees nie? (Matteus 20:34; Markus 1:41; 6:34; Lukas 7:13). Hy het sy vertroostende boodskap uitgedra aan baie mense wat soos beskadigde riete was, geknak en vertrap. Hulle was soos ’n smeulende vlaspit, waarvan die laaste vonkie lewe amper gesmoor is. Jesus het nooit ’n “geknakte riet” gebreek of “’n dowwe vlaspit” uitgedoof nie. Sy liefdevolle en medelydende woorde en dade het eerder die harte van die sagmoediges opgebeur.—Matteus 11:28-30.
7. Waarom kon die profesie sê dat Jesus ‘nie sou uitroep of sy stem op die straat sou verhef nie’?
7 Maar waarom sê die profesie dat Jesus ‘nie sou uitroep of sy stem sou verhef nie, en op die straat sy stem nie sou laat hoor nie’? Omdat hy nie, soos baie in sy dag, op die voorgrond wou wees nie (Matteus 6:5). Toe hy ’n melaatse genees het, het hy vir die man wat genees is, gesê: “Sorg dat jy vir niemand iets vertel nie” (Markus 1:40-44). Jesus het nie publisiteit gesoek en mense op grond van hoorsê tot gevolgtrekkings laat kom nie. Hy wou eerder hê dat hulle self op grond van vaste bewyse moes sien dat hy die Christus, Jehovah se gesalfde Kneg, is.
8. (a) Hoe het Jesus “geregtigheid vir die nasies” voortgebring? (b) Wat leer Jesus se illustrasie oor die barmhartige Samaritaan ons oor geregtigheid?
8 Die Uitverkore Kneg sou “geregtigheid vir die nasies” voortbring. Jesus het dit gedoen. Buiten dat hy beklemtoon het dat goddelike geregtigheid met medelye gepaardgaan, het Jesus ander ook geleer dat geregtigheid alle mense moet insluit. By een geleentheid het Jesus ’n man wat vertroud was met die Wet, herinner dat hy God en sy naaste moet liefhê. Die man het Jesus gevra: “Wie is dan my naaste?” Moontlik het hy verwag dat Jesus sou antwoord: “Jou mede-Jood.” Maar Jesus het die gelykenis van die barmhartige Samaritaan vertel. In die gelykenis het ’n Samaritaan ’n man gehelp wat deur rowers aangeval is, terwyl ’n Leviet en ’n priester geweier het om hom te help. Die man wat die vraag gestel het, moes erken dat die veragte Samaritaan in hierdie geval die naaste was, nie die Leviet of die priester nie. Jesus het sy illustrasie afgesluit met die raad: “Gaan en doen jy net so.”—Lukas 10:25-37; Levitikus 19:18.
‘Hy sal nie dof raak of geknak word nie’
9. Watter uitwerking sal ’n begrip van die aard van ware geregtigheid op ons hê?
9 Aangesien Jesus die aard van ware geregtigheid duidelik gemaak het, het sy dissipels geleer om hierdie eienskap aan die dag te lê. Ons moet ook. In die eerste plek moet ons God se standaarde van wat goed en wat sleg is, aanvaar, want hy het die reg om te bepaal wat reg en regverdig is. Wanneer ons daarna strewe om dinge op Jehovah se manier te doen, sal ons regskape gedrag boekdele spreek oor wat ware geregtigheid is.—1 Petrus 2:12.
10. Waarom moet ons aan die predikings- en onderrigtingswerk deelneem as ons geregtigheid aan die dag wil lê?
10 Ons lê ook ware geregtigheid aan die dag wanneer ons ywerig aan die predikings- en onderrigtingswerk deelneem. Jehovah het ’n oorvloed van lewegewende kennis van homself, sy Seun en sy voornemens voorsien (Johannes 17:3). Dit sou nie regverdig of reg wees om daardie kennis vir onsself te hou nie. “Moenie die goeie terughou van dié aan wie dit toekom wanneer dit in die mag van jou hand is om dit te doen nie”, sê Salomo (Spreuke 3:27). Laat ons alle mense geesdriftig vertel van die dinge wat ons van God weet, ongeag hulle rasse-, etniese of nasionale agtergrond.—Handelinge 10:34, 35.
11. Hoe moet ons ander in navolging van Jesus behandel?
11 Daarbenewens behandel ’n ware Christen ander soos Jesus mense behandel het. Baie mense het vandag te kampe met neerdrukkende probleme en het medelye en aanmoediging nodig. Selfs party toegewyde Christene kry dalk so swaar weens hulle omstandighede dat hulle soos geknakte riete of smeulende vlaspitte is. Het hulle nie ons ondersteuning nodig nie? (Lukas 22:32; Handelinge 11:23). Hoe verkwikkend is dit tog om ’n deel te wees van ’n groep ware Christene wat Jesus probeer navolg deur geregtigheid te beoefen!
12. Waarom kan ons seker wees dat geregtigheid vir almal binnekort ’n werklikheid sal wees?
12 Sal daar ooit geregtigheid vir almal wees? Ja, beslis. Jehovah se Uitverkorene “sal nie dof raak of geknak word totdat hy geregtigheid op die aarde gevestig het nie”. Die gekroonde Koning, die verrese Christus Jesus, gaan binnekort “wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie” (2 Tessalonisense 1:6-9; Openbaring 16:14-16). Menseheerskappy sal deur God se Koninkryk vervang word. Geregtigheid en regverdigheid sal oorvloedig wees (Spreuke 2:21, 22; Jesaja 11:3-5; Daniël 2:44; 2 Petrus 3:13). Jehovah se knegte sal oral—selfs in afgeleë plekke, “die eilande”—met gretige verwagting op daardie dag wag.
‘Ek sal hom gee as ’n lig van die nasies’
13. Wat voorspel Jehovah oor sy Uitverkore Kneg?
13 Jesaja gaan voort: “Só het die ware God, Jehovah, gesê, die Skepper van die hemele en die Grootse Uitspanner daarvan; die Een wat die aarde en die opbrengs daarvan uitsprei, die Een wat asem aan die mense daarop gee, en gees aan dié wat daarop wandel” (Jesaja 42:5). Wat ’n treffende beskrywing van Jehovah, die Skepper! Hierdie herinnering aan Jehovah se mag verleen groot gewig aan sy woorde. Jehovah sê: “Ek, Jehovah, het jou in regverdigheid geroep, en ek het jou hand gevat. En ek sal jou bewaar en jou gee as ’n verbond van die volk, as ’n lig van die nasies, om die blinde oë te open, om die gevangene uit die kerker te lei, uit die huis van bewaring dié wat in die duisternis sit.”—Jesaja 42:6, 7.
14. (a) Wat beteken dit dat Jehovah die hand van sy goedgekeurde Kneg vat? (b) Wat is die rol van die Uitverkore Kneg?
14 Die Grootse Skepper van die heelal, die Een wat lewe gee en dit onderhou, vat sy Uitverkore Kneg se hand en belowe volle en voortdurende ondersteuning. Hoe gerusstellend is dit tog! Daarbenewens beskerm Jehovah hom sodat hy hom as “’n verbond van die volk” kan gee. ’n Verbond is ’n kontrak, ’n ooreenkoms, ’n plegtige belofte. Dit is ’n vaste instelling. Ja, Jehovah het sy Kneg “’n waarborg aan die volk” gemaak.—An American Translation.
15, 16. Hoe was Jesus “’n lig van die nasies”?
15 As “’n lig van die nasies” sal die beloofde Kneg “die blinde oë” open en “dié wat in die duisternis sit”, bevry. Jesus het dit gedoen. Deur van die waarheid te getuig, het Jesus die naam van sy hemelse Vader verheerlik (Johannes 17:4, 6). Hy het valse godsdiensleringe blootgelê, die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en die deur na geestelike vryheid oopgemaak vir dié wat in godsdiensslawerny was (Matteus 15:3-9; Lukas 4:43; Johannes 18:37). Hy het gewaarsku teen die gevaar om werke te verrig wat tot die duisternis behoort en het Satan aan die kaak gestel as “die vader van die leuen” en “die heerser van hierdie wêreld”.—Johannes 3:19-21; 8:44; 16:11.
16 Jesus het gesê: “Ek is die lig van die wêreld” (Johannes 8:12). Hy het dit op ’n besondere wyse getoon toe hy sy volmaakte menselewe as ’n losprys geoffer het. Sodoende het hy die weg gebaan sodat dié wat geloof beoefen, vergifnis van sonde, ’n goedgekeurde verhouding met God en die vooruitsig op die ewige lewe kan kry (Matteus 20:28; Johannes 3:16). Deurdat Jesus volmaakte godvrugtige toegewydheid deur sy hele lewe gehandhaaf het, het hy Jehovah se soewereiniteit ondersteun en bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is. Jesus was beslis iemand wat die blindes laat sien het en dié wat in geestelike duisternis gevange gehou is, bevry het.
17. Op watter maniere tree ons as ligdraers op?
17 In die Bergpredikasie het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle is die lig van die wêreld” (Matteus 5:14). Is ons nie ook ligdraers nie? Deur ons lewenswyse en deur ons predikingswerk het ons die voorreg om ander na Jehovah, die Bron van ware verligting, te rig. In navolging van Jesus maak ons Jehovah se naam bekend, ondersteun ons Sy soewereiniteit en verkondig ons dat Sy Koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is. As ligdraers lê ons daarbenewens valse godsdiensleringe bloot, waarsku ons teen onrein werke wat tot die duisternis behoort en stel ons Satan, die bose, aan die kaak.—Handelinge 1:8; 1 Johannes 5:19.
“Sing tot Jehovah ’n nuwe lied”
18. Wat laat Jehovah sy volk weet?
18 Nou vestig Jehovah sy aandag op sy volk en sê: “Ek is Jehovah. Dit is my naam; en aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie, en ook nie my lof aan gesnede beelde nie. Die eerste dinge—kyk, dit het gekom, maar nuwe dinge kondig ek aan. Voordat dit uitspruit, laat ek julle dit hoor” (Jesaja 42:8, 9). Die profesie oor “my kneg” is uitgespreek, nie deur een van die waardelose gode nie, maar deur die enigste lewende en ware God. Dit moes eenvoudig waar word, en dit het ook. Jehovah God is inderdaad die Een wat nuwe dinge laat gebeur, en hy laat sy volk daarvan weet voordat dit plaasvind. Hoe moet ons daarop reageer?
19, 20. (a) Watter lied moet gesing word? (b) Wie sing vandag die loflied tot Jehovah?
19 Jesaja skryf: “Sing tot Jehovah ’n nuwe lied, sy lof van die einde van die aarde af, julle wat afgaan na die see en na alles wat dit vul, o eilande en dié wat daarop woon. Laat die wildernis en sy stede hulle stem verhef, die nedersettings waar Kedar woon. Laat die bewoners van die krans van vreugde uitroep. Laat mense van die top van die berge af hard uitroep. Laat hulle heerlikheid aan Jehovah toeskryf, en laat hulle op die eilande sy lof verkondig.”—Jesaja 42:10-12.
20 Die bewoners van stede, van dorpe in die wildernis, van eilande, selfs van “Kedar”, of tentkampe in die woestyn—mense in alle wêrelddele—word aangespoor om ’n loflied tot Jehovah te sing. Hoe opwindend is dit tog dat miljoene in ons dag op hierdie profetiese aansporing gereageer het! Hulle het die waarheid van God se Woord aangeneem en het Jehovah hulle God gemaak. Jehovah se volk sing hierdie nuwe lied—wat heerlikheid aan Jehovah toeskryf—in meer as 230 lande. Hoe opwindend is dit tog om in hierdie koor te sing wat uit talle kulturele, taal- en rassegroepe bestaan!
21. Waarom kan die vyande van God se volk nie keer dat die loflied tot Jehovah gesing word nie?
21 Kan teenstanders teen God opstaan en keer dat hierdie loflied gesing word? Onmoontlik! “Soos ’n sterk man sal Jehovah uittrek. Soos ’n krygsman sal hy ywer opwek. Hy sal hard uitroep, ja, hy sal ’n oorlogskreet aanhef; hy sal toon dat hy magtiger is as sy vyande” (Jesaja 42:13). Watter mag kan teen Jehovah opstaan? Sowat 3 500 jaar gelede het die profeet Moses en die kinders van Israel uit volle bors gesing: “Jehovah is ’n krygsman. Jehovah is sy naam. Farao se strydwaens en sy krygsmag het hy in die see gewerp, en sy beste krygsmanne het in die Rooi See gesink” (Eksodus 15:3, 4). Jehovah het die oorwinning behaal oor die sterkste krygsmag van daardie tyd. Geen vyand van God se volk kan suksesvol wees wanneer Jehovah as ’n magtige krygsman optrek nie.
“Ek het lank stilgebly”
22, 23. Waarom ‘bly Jehovah lank stil’?
22 Jehovah is onpartydig en regverdig, selfs wanneer hy sy oordeel aan sy vyande voltrek. Hy sê: “Ek het lank stilgebly. Ek het geswyg. Ek het selfbeheersing bly beoefen. Soos ’n vrou wat geboorte gee, gaan ek tegelykertyd kreun, hyg en na asem snak. Ek sal berge en heuwels verwoes, en al hulle plante sal ek laat verdroog. En ek sal riviere in eilande verander, en rietpoele sal ek laat opdroog.”—Jesaja 42:14, 15.
23 Voordat Jehovah regterlik optree, laat hy tyd toe sodat oortreders ’n geleentheid kan hê om hulle van hulle slegte weë te bekeer (Jeremia 18:7-10; 2 Petrus 3:9). Neem byvoorbeeld die geval van die Babiloniërs. As die heersende wêreldmoondheid, vernietig hulle Jerusalem in die jaar 607 v.G.J. Jehovah laat dit toe sodat die Israeliete gedissiplineer kan word weens hulle ontrouheid. Maar die Babiloniërs erken nie die rol wat aan hulle toegeken is nie. Hulle behandel God se volk met groter wreedheid as wat God se oordeel vereis (Jesaja 47:6, 7; Sagaria 1:15). Hoe seer maak dit die ware God tog om te sien hoe sy volk ly! Maar hy wag tot op sy bestemde tyd voordat hy optree. Dan span hy hom in—soos ’n vrou wat geboorte gee—om sy verbondsvolk te bevry en bring hy hulle as ’n onafhanklike nasie voort. Om dit te doen, laat hy Babilon en sy verdedigingstelsel in 539 v.G.J. opdroog en verwoes hy dit.
24. Watter vooruitsig stel Jehovah voor sy volk Israel?
24 Hoe verheug is God se volk tog wanneer hulle, ná soveel jare van ballingskap, uiteindelik na hulle vaderland kan terugkeer! (2 Kronieke 36:22, 23). Hulle is sekerlik verheug omdat hulle die vervulling van Jehovah se belofte ervaar: “Ek sal die blindes laat wandel op ’n weg wat hulle nie geken het nie; op ’n pad wat hulle nie geken het nie, sal ek hulle laat loop. Ek sal ’n donker plek voor hulle in lig verander, en ’n ongelyke terrein in ’n gelykte. Dit is die dinge wat ek vir hulle sal doen, en ek sal hulle nie verlaat nie.”—Jesaja 42:16.
25. (a) Waarvan kan Jehovah se volk vandag seker wees? (b) Wat moet ons vasbeslote wees om te doen?
25 Hoe is hierdie woorde vandag van toepassing? Wel, Jehovah het die nasies nou al lank—eeue lank—toegelaat om hulle eie weg te volg. Maar sy vasgestelde tyd om sake af te handel, is naby. In hedendaagse tye het hy ’n volk verwek om van sy naam te getuig. Hy ruim alle teenstand teen hulle uit die weg en het dit vir hulle moontlik gemaak om hom “met gees en waarheid [te] aanbid” (Johannes 4:24). Hy het belowe: “Ek sal hulle nie verlaat nie”, en hy het sy belofte nagekom. Wat van diegene wat daarmee volhou om valse gode te aanbid? Jehovah sê: “Dié wat vertroue in die gesnede beeld stel, dié wat vir ’n gegote beeld sê: ‘Julle is ons gode’, hulle sal agteruitwyk, hulle sal diep beskaamd staan” (Jesaja 42:17). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons aan Jehovah getrou bly, soos sy Uitverkorene gedoen het!
‘’n Kneg wat doof en blind is’
26, 27. Hoe toon Israel dat hy ‘’n dowe en blinde kneg’ is, en met watter gevolge?
26 God se Uitverkore Kneg, Jesus Christus, het tot sy dood getrou gebly. Jehovah se volk, Israel, is egter ’n ontroue kneg, in geestelike sin doof en blind. Jehovah sê vir hulle: “Hoor, julle dowes; en kyk om te sien, julle blindes. Wie is blind buiten my kneg, en wie is doof soos my boodskapper wat ek stuur? Wie is blind soos die een wat beloon word, of blind soos die kneg van Jehovah? Daar was baie dinge om te sien, maar jy het nie daarop bly ag gee nie. Daar was rede om die ore te open, maar jy het nie bly luister nie. Jehovah het ter wille van sy regverdigheid behae daarin geskep om die wet groot en luisterryk te maak.”—Jesaja 42:18-21.
27 Wat ’n betreurenswaardige mislukking is Israel tog! Die volk raak herhaaldelik afvallig en aanbid die demoongode van die nasies. Jehovah stuur sy boodskappers keer op keer, maar sy volk luister nie na hulle nie (2 Kronieke 36:14-16). Jesaja voorspel die gevolge: “Dit is ’n beroofde en geplunderde volk, wat almal in die gate gevange is, en in die huise van bewaring is hulle verborge gehou. Hulle het roofgoed geword sonder ’n verlosser, buit sonder iemand wat sê: ‘Bring terug!’ Wie onder julle sal hierna luister? Wie sal aandag skenk en luister vir latere tye? Wie het Jakob oorgegee as buit, en Israel aan die rowers? Is dit nie Jehovah nie, die Een teen wie ons gesondig het en in wie se weë hulle nie wou wandel en na wie se wet hulle nie geluister het nie? Daarom het Hy woede, sy toorn en die sterkte van oorlog oor hom bly uitstort. En dit het hom rondom bly verteer, maar hy het geen ag geslaan nie; en dit het teen hom bly oplaai, maar hy het niks ter harte geneem nie.”—Jesaja 42:22-25.
28. (a) Wat kan ons uit die voorbeeld van die inwoners van Juda leer? (b) Hoe kan ons Jehovah se goedkeuring probeer verkry?
28 Weens die ontrouheid van die inwoners van die land van Juda laat Jehovah toe dat dit in 607 v.G.J. beroof en geplunder word. Die Babiloniërs verbrand Jehovah se tempel, vernietig Jerusalem en neem die Jode gevange (2 Kronieke 36:17-21). Mag ons hierdie waarskuwende voorbeeld ter harte neem en ons nooit doof hou vir Jehovah se instruksies of ons oë sluit vir sy geskrewe Woord nie. Laat ons eerder Jehovah se goedkeuring probeer verkry deur Christus Jesus, die Kneg wat Jehovah goedgekeur het, na te volg. Mag ons, soos Jesus, ware geregtigheid deur ons woorde en dade bekend maak. Op hierdie manier sal ons onder Jehovah se volk bly en as ligdraers dien wat die ware God loof en verheerlik.
[Prente op bladsy 33]
Ware geregtigheid is medelydend en barmhartig
[Prent op bladsy 34]
In die gelykenis van die barmhartige Samaritaan het Jesus getoon dat ware geregtigheid alle mense insluit
[Prente op bladsy 36]
Deur aanmoedigend en goedhartig te wees, beoefen ons goddelike geregtigheid
[Prente op bladsy 39]
Deur ons predikingswerk lê ons goddelike geregtigheid aan die dag
[Prent op bladsy 40]
Die goedgekeurde Kneg is gegee “as ’n lig vir die nasies”