HOOFSTUK TWEE
Aan “die einde van die dae”
1, 2. (a) Watter visioen het Jeremia gehad wat die tema vir sy profetiese boodskappe voorsien het? (b) Waarom moet jy belangstel in Jeremia se boodskap?
“WAT sien jy?” het God sy pas aangestelde profeet gevra. “Ek sien ’n wyebekkookpot wat aangeblaas word”, het die jong Jeremia geantwoord, “en sy opening is weg van die noorde af.” Hierdie visioen was ’n vroeë aanduiding van die soort boodskap wat Jeremia bekend sou maak. (Lees Jeremia 1:13-16.) Daar is op die figuurlike kookpot geblaas, nie om dit af te koel nie, maar om die vlamme daaronder aan te stook. Ja, Jehovah het voorspel dat moeilikheid, soos ’n kokende vloeistof, uit hierdie pot oor die land van Juda sou loop weens die heersende ontrouheid. Waarom dink jy was die pot se opening na die suide? Dit het beteken dat moeilikheid uit die noorde sou kom—Babilon sou die land vanuit daardie rigting binneval. En dit is ook wat gebeur het. Gedurende sy jare as ’n profeet het Jeremia opeenvolgende uitstortings uit hierdie kokende pot gesien, wat uiteindelik ’n klimaks bereik het in die vernietiging van Jerusalem.
2 Babilon bestaan nie meer nie, maar jy het rede om belang te stel in Jeremia se profetiese boodskappe. Waarom? Omdat jy aan “die einde van die dae” lewe waartydens baie beweer dat hulle Christene is; tog geniet hulle en hulle kerke nie God se guns nie (Jer. 23:20). Daarenteen verkondig jy en jou mede-Getuies, net soos Jeremia, nie net ’n boodskap van oordeel nie, maar ook van hoop.
3. (a) Hoe is die materiaal in die Bybelboek Jeremia gerangskik? (b) Wat is die doel van Hoofstuk 2 van hierdie boek?
3 Jeremia het waarskynlik sy verslag gedurende die laaste gedeelte van sy profetiese loopbaan aan ’n sekretaris gedikteer in plaas van die gebeure op te teken toe dit plaasgevind het (Jer. 25:1-3; 36:1, 4, 32). Die boek is nie in chronologiese volgorde nie omdat Jeremia baie dele daarvan volgens onderwerp gerangskik het. Dit sal dus vir jou nuttig wees om ’n oorsig te kry van die geskiedkundige agtergrond van die boeke Jeremia en Klaagliedere en van die volgorde waarin die gebeure plaasgevind het. Let op die tabel op bladsy 19. As jy weet wie op watter stadium die koning van Juda was en, in party gevalle, wat in en om Juda plaasgevind het, sal dit jou help om beter te verstaan wat Jeremia gesê of gedoen het. En jy sal beter voorbereid wees om baat te vind by God se boodskappe aan Sy volk wat deur Jeremia verkondig is.
JEREMIA TEEN SY GESKIEDKUNDIGE AGTERGROND
4-6. Wat was die situasie van God se eertydse volk in die dekades wat Jeremia se profetiese loopbaan voorafgegaan het?
4 Jeremia het gedurende ’n tydperk van onstuimige veranderinge geprofeteer. Dit was ’n tyd van wedywering tussen Assirië, Babilon en Egipte. Ongeveer 93 jaar voor die begin van Jeremia se profetiese loopbaan het Assirië die noordelike tienstammeryk van Israel verslaan en baie van die inwoners weggevoer. Gedurende dié tyd het Jehovah Jerusalem en sy getroue koning, Hiskia, teen Assirië se aanval verdedig. Jy sal onthou hoe God op wonderdadige wyse 185 000 vyandelike soldate om die lewe gebring het (2 Kon. 19:32-36). Een van Hiskia se seuns was Manasse. Jeremia is waarskynlik gebore gedurende Manasse se 55 jaar lange heerskappy, ’n tyd toe Juda onder Assirië se politieke beheer gekom het.—2 Kron. 33:10, 11.
5 Jeremia het die boeke 1 en 2 Konings geskryf, waarin ons lees dat Manasse die hoogtes herbou het wat sy vader vernietig het. Manasse het altare vir Baäl en vir die leër van die hemel opgerig, selfs in Jehovah se tempel. En Manasse het baie onskuldige bloed vergiet en selfs sy eie seun as ’n brandoffer aan ’n valse god geoffer. Kortom, “hy het op groot skaal gedoen wat sleg was in Jehovah se oë”. As gevolg van al hierdie goddeloosheid het God verorden dat rampspoed Jerusalem en Juda sou tref, net soos dit Samaria en Israel reeds getref het (2 Kon. 21:1-6, 12-16). Ná Manasse se dood het sy seun Amon sy vader se afgodiese gebruike voortgesit, maar dinge sou weldra verander. Amon is ná twee jaar vermoor, en sy agtjarige seun Josia het in 659 VHJ koning geword.
6 Gedurende Josia se 31 jaar lange heerskappy het Babilon die oorhand oor Assirië begin kry. Josia het in hierdie situasie ’n geleentheid gesien om Juda se onafhanklikheid van vreemde oorheersing te herwin. In teenstelling met sy vader en grootvader het Josia Jehovah getrou gedien en groot godsdienshervormings ingestel (2 Kon. 21:19–22:2). In sy 12de jaar as koning het Josia die hoogtes, die heilige pale en die valse godsdiensbeelde dwarsdeur sy koninkryk vernietig en toe beveel dat Jehovah se tempel herstel word. (Lees 2 Kronieke 34:1-8.) Interessant genoeg, dit was in die 13de jaar van Josia se heerskappy (647 VHJ) dat Jeremia as God se profeet aangestel is.
Hoe sou jy moontlik gevoel het as jy in Jeremia se dag ’n profeet was?
7, 8. (a) Hoe het koning Josia se heerskappy verskil van dié van sy voorgangers, Manasse en Amon? (b) Watter soort persoon was Josia? (Sien die venster op bladsy 20.)
7 Terwyl die tempel herstel is, in die 18de regeringsjaar van die goeie koning Josia, het die hoëpriester “die wetboek” gevind. Die koning het sy sekretaris dit aan hom laat voorlees. Josia het die oortredings van sy volk erken, Jehovah se leiding deur middel van die profetes Hulda gesoek en sy onderdane aangespoor om God se gebooie te onderhou. Hulda het Josia ingelig dat Jehovah “rampspoed” oor die Judeërs sou bring as gevolg van hulle ontrouheid. Maar weens Josia se goeie gesindheid teenoor rein aanbidding sou daardie rampspoed nie gedurende sy leeftyd kom nie.—2 Kon. 22:8, 14-20.
8 Koning Josia het sy pogings hernieu om enigiets wat met afgodediens te doen het, uit te roei. Hierdie veldtog het hom selfs tot in die gebied geneem wat vroeër deur die noordelike koninkryk van Israel bewoon is, om die hoogte en die altaar in Bet-El af te breek. Hy het ook ’n uitsonderlike Pasgaviering gereël (2 Kon. 23:4-25). Dink net hoe bly dit Jeremia moes gemaak het! Maar dit was moeilik om die volk te beweeg om hulle weë te verander. Manasse en Amon het verdorwe afgodediens onder die volk ingevoer; gevolglik was geestelikheid op ’n lae peil. God het Jeremia beweeg om die Judeërs daarop te wys dat hulle, ondanks Josia se hervormings, net soveel gode as stede gehad het. Die profeet se landgenote was soos ’n ontroue vrou—hulle het Jehovah verlaat en met vreemde gode prostitusie gepleeg. Jeremia het gesê: “Net soveel altare as die strate van Jerusalem het julle vir die skandelike ding opgerig, altare om vir Baäl offerrook te laat opgaan.”—Lees Jeremia 11:1-3, 13.
9. Watter internasionale gebeure het gedurende die laaste jare van Josia se heerskappy plaasgevind?
9 Net soos Jeremia se bekendmaking van hierdie boodskappe die Jode nie verander het nie, het dit ook nie die feit verander dat omliggende nasies om oppermag gewedywer het nie. In 632 VHJ het die gesamentlike strydkragte van die Babiloniërs en die Meders Nineve, die Assiriese hoofstad, verower. Drie jaar later het farao Nego van Egipte sy leër noordwaarts gelei om die onderdrukte Assiriërs te help. Om redes wat nie in die Bybel genoem word nie, het Josia die Egiptiese strydkragte by Megiddo probeer terugdryf, maar hy is dodelik gewond (2 Kron. 35:20-24). Watter politieke en godsdiensveranderinge sou hierdie droewige gebeurtenis vir Juda meebring? En voor watter nuwe uitdagings sou Jeremia te staan kom?
’N VERANDERING IN DIE GODSDIENSKLIMAAT
10. (a) In watter sin het die tyd ná Josia se dood ooreengekom met ons tyd? (b) Hoe kan jy daarby baat vind om Jeremia se gedrag te ondersoek?
10 Stel jou voor hoe Jeremia moes gevoel het toe hy van Josia se dood hoor! Uit droefheid het hy klaagliedere oor die koning gesing (2 Kron. 35:25). Dit was reeds ’n kommerwekkende tyd, en internasionale onstabiliteit het druk op Juda geplaas. Die mededingende moondhede—Egipte, Assirië en Babilon—het almal beheer oor die gebied probeer verkry. En die godsdiensklimaat in Juda het met Josia se dood verander. Dit was die einde van ’n bewind wat Jeremia se werk oor die algemeen goedgesind was en die begin van ’n vyandige bewind. Baie van ons broers in hedendaagse tye het ’n soortgelyke verandering ondervind, van betreklike vryheid van aanbidding tot vervolging en ’n verbod. Wie weet hoeveel van ons dalk binnekort soortgelyke veranderinge sal ondervind? Watter uitwerking sal dit moontlik op ons hê? Wat sal ons miskien moet doen om ons onkreukbaarheid te handhaaf? Met hierdie vrae in gedagte sal dit aanmoedigend wees om te let op die uitdagings wat Jeremia met welslae die hoof gebied het.
11. Wat het ná Josia se dood in Juda gebeur?
11 Die inwoners van Juda het Josia se seun Joahas in Jerusalem op die troon geplaas. Joahas, wat ook Sallum genoem word, het net drie maande regeer. Toe farao Nego na die suide teruggekeer het nadat hy teen die Babiloniërs geveg het, het hy die nuwe koning verwyder en hom na Egipte geneem, en Jeremia het gesê dat Joahas “nie meer [sal] terugkeer nie” (Jer. 22:10-12; 2 Kron. 36:1-4). In sy plek het Nego Jojakim, nog een van Josia se seuns, op die troon geplaas. Jojakim het nie sy vader se goeie voorbeeld gevolg nie. In plaas van sy vader se hervormings voort te sit, het hy afgodediens beoefen.—Lees 2 Konings 23:36, 37.
12, 13. (a) Wat was die heersende godsdiensklimaat aan die begin van Jojakim se heerskappy? (b) Hoe het die Joodse godsdiensleiers Jeremia behandel?
12 Aan die begin van Jojakim se heerskappy het Jehovah vir Jeremia gesê om na die tempel te gaan en die Judeërs ronduit te veroordeel weens hulle goddeloosheid. Hulle het Jehovah se tempel beskou as ’n gelukbringer wat hulle sou beskerm. Maar as hulle nie ophou “steel, moord en egbreuk pleeg en vals sweer en vir Baäl offerrook laat opgaan en agter ander gode aan loop” nie, sou Jehovah sy tempel versaak. En hy sou dieselfde doen met die huigelaars wat daarin aanbid, net soos hy die tabernakel in Silo in die dae van die hoëpriester Eli versaak het. Die land van Juda sou “niks anders as ’n verwoeste plek word nie” (Jer. 7:1-15, 34; 26:1-6).a Dink net watter moed Jeremia nodig gehad het om dié boodskap bekend te maak! Hy het dit waarskynlik in die openbaar voor vooraanstaande, invloedryke mense gedoen. Party broers en susters in ons tyd het ook gevoel dat hulle moed nodig het om straatgetuieniswerk te doen of met ryk of belangrike mense te praat. Maar ons kan hiervan seker wees: God sal ons beslis onderskraag, net soos hy Jeremia onderskraag het.—Heb. 10:39; 13:6.
13 Hoe sou die godsdiensleiers op Jeremia se woorde reageer in die lig van die heersende godsdiens- en politieke klimaat in Juda? Die profeet se eie verslag berig: “Die priesters en die profete en die hele volk [het my] gegryp en gesê: ‘Jy sal sekerlik sterf.’” Hulle was woedend en het gesê: “Hierdie man verdien die doodsvonnis.” (Lees Jeremia 26:8-11.) Maar Jeremia se teenstanders het nie geseëvier nie. Jehovah was met sy profeet om hom te verlos. Wat Jeremia betref, hy het nie toegelaat dat die teenstanders se dreigende voorkoms of getalle hom die skrik op die lyf jaag nie. En jy moet ook nie.
Hoe sal jy toestande gedurende die heerskappye van Manasse, Amon en Josia vergelyk? Watter les kan jy leer uit hoe Jeremia sy moeilike toewysing uitgevoer het?
“JY MOET . . . AL DIE WOORDE SKRYF”
14, 15. (a) Met watter werk het Jeremia en sy sekretaris, Barug, in Jojakim se vierde regeringsjaar begin? (b) Watter soort persoon was Jojakim? (Sien die venster op bladsy 25.)
14 In Jojakim se vierde regeringsjaar het Jehovah vir Jeremia gesê om al die woorde neer te skryf wat Jehovah sedert die dae van Josia tot hom gespreek het. Jeremia het dus vir sy sekretaris, Barug, alles gedikteer wat God in die voorafgaande 23 jaar vir hom gesê het. Sy oordeelsboodskappe het betrekking gehad op sowat 20 konings en koninkryke. Jeremia het Barug beveel om hierdie boekrol in Jehovah se huis voor te lees. Met watter doel? “Miskien sal die huis van Juda luister na al die rampspoed wat ek dink om oor hulle te bring”, het Jehovah gesê, “sodat hulle terugkeer, elkeen van sy slegte weg, en sodat ek hulle oortreding en hulle sonde vergewe.”—Jer. 25:1-3; 36:1-3.
15 Toe ’n hofbeampte die boekrol aan Jojakim voorlees, het die koning dit stukkend gesny en verbrand. Hy het toe beveel dat Jeremia en Barug voor hom gebring word. “Maar Jehovah het hulle weggesteek.” (Lees Jeremia 36:21-26.) Omdat Jojakim se gesindheid deur en deur sleg was, het Jehovah, deur sy profeet, verklaar dat die koning “’n eselsbegrafnis” sou hê. Hy sou ‘rondgesleep en weggegooi word, ver buite die poorte van Jerusalem’ (Jer. 22:13-19). Dink jy dat hierdie aanskoulike profesie as ’n oordrywing deur Jeremia afgemaak kon word?
16. Watter positiewe boodskap het Jeremia verkondig?
16 Al moes Jeremia sulke oordeelsboodskappe oordra, was hy nie ’n doemprofeet nie. Hy het ook ’n boodskap van hoop verkondig. Jehovah sou ’n oorblyfsel van Israel van hulle vyande verlos en hulle in hulle vaderland herstel, waar hulle in veiligheid sou woon. God sou “’n nuwe verbond” met sy volk sluit “wat tot onbepaalde tyd duur” en sou sy wet in hulle hart skryf. Hy sou hulle oortredings vergewe en aan hulle sondes nie meer dink nie. Verder sou ’n nakomeling van Dawid “geregtigheid en regverdigheid in die land uitoefen” (Jer. 31:7-9; 32:37-41; 33:15). Hierdie profesieë sou hulle vervulling in die toekomstige dekades en eeue hê, ’n vervulling wat selfs ons lewe raak en ons ’n rooskleurige ewige toekoms kan bied. Maar daar in Jeremia se dag het Juda se vyande hulle wedywering voortgesit.—Lees Jeremia 31:31, 33, 34; Hebreërs 8:7-9; 10:14-18.
DIE OPKOMS VAN BABILON
17, 18. Watter internasionale gebeure het gedurende die laaste jare van Jojakim se heerskappy en dié van Sedekia plaasgevind?
17 In 625 VHJ het die Babiloniërs en Egiptenaars ’n beslissende stryd by Karkemis gevoer, naby die Eufraatrivier sowat 600 kilometer noord van Jerusalem. Koning Nebukadnesar het farao Nego se krygsmag verslaan en sodoende Egipte se mag oor hierdie gebied beëindig (Jer. 46:2). Toe het Nebukadnesar Juda oorheers, en Jojakim moes noodgedwonge sy kneg word. Maar ná drie jaar van onderhorigheid het Jojakim in opstand gekom (2 Kon. 24:1, 2). In reaksie hierop het Nebukadnesar en sy leër in 618 VHJ na Juda opgetrek en Jerusalem omsingel. Probeer jou voorstel wat ’n onstuimige tyd dit was, selfs vir God se profeet Jeremia. Jojakim is blykbaar gedurende die beleëring dood.b Sy seun Jojagin het aan die Babiloniërs oorgegee nadat hy net drie maande op Juda se troon gesit het. Nebukadnesar het Jerusalem van al sy rykdom gestroop en het Jojagin, die families van die koning en van die edeles van Juda, die nasie se sterk manne en die vakmanne in ballingskap weggevoer. Onder die ballinge was Daniël, Hananja, Misael en Asarja.—2 Kon. 24:10-16; Dan. 1:1-7.
18 Nebukadnesar het toe vir Sedekia, nog ’n seun van Josia, koning van Juda gemaak. Hy sou die laaste aardse koning van die Dawidiese lyn wees. Sy heerskappy het geëindig toe Jerusalem en die tempel in 607 VHJ vernietig is (2 Kon. 24:17). Die 11 jaar van Sedekia se heerskappy is egter gekenmerk deur groot maatskaplike en politieke spanning in Juda. Dit is duidelik dat Jeremia volkome moes vertrou op die Een wat hom as profeet aangestel het.
19. Hoe het Jeremia se tydgenote op sy boodskap gereageer, en waarom moet jy daarin belangstel?
19 Stel jou in Jeremia se plek. Sedert Josia se tyd het Jeremia politieke onrus en geestelike agteruitgang onder God se volk gesien. Maar hy het geweet dat dinge erger sou word. Die mense van sy tuisdorp het vir hom gesê: “Jy moenie in die naam van Jehovah profeteer nie, sodat jy nie deur ons hand sterf nie” (Jer. 11:21). Selfs toe Jeremia se profesieë bewaarheid is, het die Jode gesê: “Wat die woord betref wat jy in die naam van Jehovah tot ons gespreek het, ons luister nie na jou nie” (Jer. 44:16). Maar mense se lewe was op die spel, net soos vandag. Die boodskap wat jy verkondig, kom van Jehovah, net soos Jeremia s’n. In die lig hiervan kan jy jou ywer vir die bediening vergroot deur te ondersoek hoe Jehovah sy profeet gedurende die tydperk net voor die val van Jerusalem beskerm het.
Wat kan ons uit Jeremia se gesindheid gedurende Jojakim se heerskappy leer? Watter treffende profesie het Jeremia uitgespreek wat tot in ons tyd strek?
DIE LAASTE DAE VAN ’N DINASTIE
20. Waarom was Sedekia se heerskappy baie moeilik vir Jeremia? (Sien die venster op bladsy 29.)
20 Die moeilikste jare van Jeremia se profetiese loopbaan was moontlik gedurende Sedekia se heerskappy. Soos baie van sy voorgangers, het Sedekia “bly doen wat sleg was in die oë van Jehovah” (Jer. 52:1, 2). Hy was ’n onderdaan van die Babiloniërs, en Nebukadnesar het hom ’n eed in Jehovah se naam laat aflê wat hom verplig het om hom aan die koning van Babilon te onderwerp. Ten spyte hiervan het Sedekia eindelik in opstand gekom. Intussen het Jeremia se vyande groot druk op hom uitgeoefen om die opstand te ondersteun.—2 Kron. 36:13; Eseg. 17:12, 13.
21-23. (a) Watter strydende faksies was daar gedurende Sedekia se heerskappy in Juda? (b) Hoe is Jeremia weens sy standpunt behandel, en waarom moet jy daarin belangstel?
21 Boodskappers van die konings van Edom, Moab, Ammon, Tirus en Sidon het blykbaar vroeg in Sedekia se heerskappy in Jerusalem aangekom. Hulle doelwit was dalk om Sedekia oor te haal om by ’n bondgenootskap teen Nebukadnesar aan te sluit. Maar Jeremia het Sedekia aangespoor om hom aan Babilon te onderwerp. In ooreenstemming hiermee het Jeremia vir die boodskappers jukke gegee om uit te beeld dat ook hulle nasies die Babiloniërs moet dien (Jer. 27:1-3, 14).c Hierdie standpunt was nie gewild nie, en Jeremia se rol as ’n woordvoerder met ’n ongewilde boodskap is verder deur Hananja bemoeilik. Hy was ’n valse profeet wat in die openbaar in God se naam verklaar het dat die juk van Babilon verbreek sou word. Jehovah se woord deur Jeremia was egter dat die bedrieër Hananja binne ’n jaar sou sterf. Dit is wat gebeur het.—Jer. 28:1-3, 16, 17.
22 Juda was nou in strydende faksies verdeel—dié wat aan Babilon onderworpe wou bly en dié wat opstand aangestook het. In 609 VHJ het Sedekia wel in opstand gekom deur Egipte om militêre hulp te vra. Jeremia het toe te kampe gehad met die nasionalistiese histerie van dié wat die opstand ondersteun het (Jer. 52:3; Eseg. 17:15). Nebukadnesar en sy leër het teruggekeer na Juda om die opstand te onderdruk en het al die stede van Juda verower en Jerusalem weer beleër. Jeremia se boodskap aan Sedekia en sy onderdane op hierdie kritieke tyd was dat Jerusalem in die hande van die Babiloniërs sou val. Die dood het gewag op dié wat in die stad bly. Dié wat na die Galdeërs uitgaan, sou bly lewe.—Lees Jeremia 21:8-10; 52:4.
23 Die vorste van Juda het beweer dat Jeremia hom aan die kant van die Babiloniërs skaar. Toe hy die waarheid vertel, het die Judese vorste hom geslaan en hom in die huis van bewaring gesit (Jer. 37:13-15). Jeremia het nog steeds geweier om Jehovah se boodskap af te water. Gevolglik het die vorste Sedekia oorreed om Jeremia dood te maak. Hulle het die profeet in ’n leë reënput gesit waar hy in die diep modder kon omgekom het. Maar Ebed-Meleg, ’n Etiopiër wat in die koning se huis gedien het, het Jeremia gered (Jer. 38:4-13). Hoe dikwels het Jehovah se volk in hedendaagse tye tog gevare in die gesig gestaar omdat hulle gewetensgetrou geweier het om by politieke geskille betrokke te raak! Dit is duidelik dat Jeremia se ondervinding jou kan versterk om beproewinge te verduur en te bowe te kom.
24. Beskryf die gebeure van 607 VHJ.
24 In 607 VHJ het die Babiloniërs uiteindelik deur Jerusalem se mure gebreek, en die stad het geval. Nebukadnesar se krygsmag het Jehovah se tempel verbrand, die stadsmure afgebreek en die edeles van Juda doodgemaak. Sedekia het probeer vlug, maar hy is gevang en voor sy veroweraar gebring. Sedekia se seuns is voor sy oë doodgemaak, en toe het Nebukadnesar hom verblind, geboei en na Babilon weggelei (Jer. 39:1-7). Ja, Jeremia se woorde aangaande Juda en Jerusalem is bewaarheid. God se profeet het hom nie verheug nie, maar het eerder die rampspoed van sy volk betreur. Ons kan in die Bybelboek Klaagliedere lees hoe hy gevoel het. Wanneer ons daardie boek lees, behoort dit ons hart diep te raak.
BEDRYWIGHEDE ONDER ’N OORBLYFSEL VAN JUDA
25, 26. (a) Watter gebeure het op die val van Jerusalem gevolg? (b) Hoe het Jeremia se tydgenote ná die val van Jerusalem op sy boodskap gereageer?
25 Wat het met Jeremia gebeur terwyl hierdie dramatiese gebeure ontvou het? Die vorste van Jerusalem het hom opgesluit, maar die verowerende Babiloniërs het hom goedhartig behandel en hom bevry. Later het Jeremia tussen ’n klomp Jode beland wat in gevangenskap weggevoer sou word, maar hy is vrygelaat. Daar was nog meer wat hy in God se diens moes doen; hy het nog werk onder die oorlewendes gehad. Nebukadnesar het Gedalja as goewerneur oor die verowerde land aangestel en die oorblywende Judeërs belowe dat hulle vrede sal hê solank hulle hom, die koning van Babilon, dien. Maar ’n groepie ontevrede Jode het Gedalja vermoor (Jer. 39:13, 14; 40:1-7; 41:2). Jeremia het die oorblywende Judeërs aangespoor om in die land te bly en nie die koning van Babilon te vrees nie. Maar hulle leiers het Jeremia ’n leuenaar genoem en na Egipte gevlug, en hulle het Jeremia en Barug gedwing om saam te gaan. Jeremia het nietemin geprofeteer dat Nebukadnesar ook daardie land sal binneval en verower en rampspoed oor die Judese vlugtelinge sal bring.—Jer. 42:9-11; 43:1-11; 44:11-13.
26 Jeremia se landgenote het weer eens nie na God se ware profeet geluister nie. Waarom nie? “Vandat ons opgehou het om vir die ‘koningin van die hemel’ offerrook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet”, het hulle geredeneer, “het ons aan alles gebrek gehad en het ons deur die swaard en deur die hongersnood aan ons einde gekom” (Jer. 44:16, 18). Wat ’n droewige weerspieëling van die geestelike toestand van Jeremia se tydgenote! Hoe bemoedigend moet dit daarenteen vir ons wees om te weet dat ’n onvolmaakte mens aan Jehovah getrou kan bly al is hy omring deur ontroues!
27. Wat weet ons van die laaste jare van Jeremia se profetiese loopbaan?
27 Die laaste gebeurtenis wat Jeremia opgeteken het—Jojagin se vrylating uit die gevangenis deur Nebukadnesar se opvolger, Ewil-Merodag—het in 580 VHJ plaasgevind (Jer. 52:31-34). Teen dié tyd moes Jeremia al sowat 90 jaar oud gewees het. Ons het geen betroubare inligting oor die einde van sy lewe nie. Hy het waarskynlik sy laaste jare in Egipte deurgebring en getrou daar gesterf ná ongeveer 67 jaar in spesiale diens aan Jehovah. Hy het gedien gedurende jare toe ware aanbidding bevorder is sowel as baie jare toe afvallige aanbidding oral om hom beoefen is. Hy het wel ’n horende oor onder party godvresende mense gevind. Maar die meeste het sy boodskappe verwerp en selfs openlike vyandigheid geopenbaar. Beteken dit dat Jeremia ’n mislukking was? Glad nie! Jehovah het van die begin af vir hom gesê: “Hulle sal vir seker teen jou veg, maar hulle sal nie die oorhand oor jou kry nie, want ‘ek is met jou’” (Jer. 1:19). Ons opdrag as Getuies van Jehovah is vandag dieselfde as dié van Jeremia. Ons kan dus ’n soortgelyke ontvangs verwag. (Lees Matteus 10:16-22.) Watter lesse kan ons derhalwe by Jeremia leer, en hoe moet ons ons bediening benader? Kom ons bespreek hierdie vrae.
Wat het gebeur met Sedekia en sy onderdane wat Jeremia se boodskap verwerp het? Wat dink jy van Jeremia?
a Die ooreenkoms tussen Jeremia 7:1-15 en 26:1-6 het party tot die slotsom laat kom dat albei gedeeltes na dieselfde gebeurtenis verwys.
b Daniël 1:1, 2 sê dat Jojakim in sy derde jaar, blykbaar van sy onderhorigheid, in Nebukadnesar se hand gegee is. Dit beteken moontlik dat die koning gesterf het gedurende die beleëring, wat uiteindelik suksesvol was. Die Bybel bevestig nie Josefus se verslag dat Nebukadnesar Jojakim doodgemaak en sy liggaam buite die mure van Jerusalem laat werp het sonder ’n begrafnis nie.—Jer. 22:18, 19; 36:30.
c Die verwysing na Jojakim in Jeremia 27:1 is moontlik ’n oorskryffout, want verse 3 en 12 verwys na Sedekia.