Jehovah sorg met teerheid vir sy bejaarde knegte
“God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie.”—HEB. 6:10.
1, 2. (a) Waaraan dink jy dalk wanneer jy iemand met wit hare sien? (b) Hoe beskou Jehovah bejaarde Christene?
DINK jy, wanneer jy bejaardes met wit hare in die gemeente sien, aan ’n verslag in die Bybelboek Daniël? In ’n visioen wat Jehovah God aan Daniël gegee het, het Hy homself met wit hare uitgebeeld. Daniël het geskryf: “Ek het bly kyk totdat daar trone neergesit is en die Oue van Dae gaan sit het. Sy klere was wit soos sneeu, en die hare van sy kop was soos skoon wol.”—Dan. 7:9.
2 In sy natuurlike toestand het wol dikwels ’n warm, wit kleur. Wit hare en die titel “Oue van Dae” vestig dus die aandag op God se hoë ouderdom en groot wysheid, wat albei ons diepste respek verdien. Hoe beskou die Oue van Dae, Jehovah, dan getroue bejaarde mans en vroue? God se Woord sê dat “grysheid . . . ’n pragtige kroon [is] wanneer dit op die weg van regverdigheid gevind word” (Spr. 16:31). Ja, as ’n getroue Christen al grys of wit hare het, is so ’n ouer voorkoms pragtig in God se oë. Beskou jy jou bejaarde broers en susters soos Jehovah hulle beskou?
Waarom so kosbaar?
3. Waarom is bejaarde medegelowiges so kosbaar vir ons?
3 Onder hierdie geliefde bejaarde knegte van God is lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, huidige en voormalige reisende opsieners, ywerige pioniers en bekwame Koninkryksverkondigers—broers en susters wat getrou in ons gemeentes dien. Dalk ken jy sommige wat die goeie nuus dekades lank ywerig verkondig het en wie se goeie voorbeeld jongmense aangespoor het en gehelp het om hulle lewe te vorm. Party bejaarde medegelowiges het swaar verantwoordelikhede gedra en vervolging ter wille van die goeie nuus verduur. Jehovah en “die getroue en verstandige slaaf” het groot waardering vir alles wat hulle in die verlede gedoen het en nog steeds doen ter bevordering van die Koninkrykswerk.—Matt. 24:45.
4. Waarom moet ons bejaarde Christene respekteer en vir hulle bid?
4 Hierdie getroue bejaardes verdien die waardering en respek van ander knegte van Jehovah God. Trouens, God se Wet wat deur Moses gegee is, verbind agting en respek vir bejaardes met die vrees van Jehovah (Lev. 19:32). Ons moet gereeld vir hierdie getroues bid en God dank vir hulle liefdevolle arbeid. Die apostel Paulus het vir sy dierbare medewerkers, jonk en oud, gebid.—Lees 1 Tessalonisense 1:2, 3.
5. Hoe kan ons baat vind by assosiasie met bejaarde aanbidders van Jehovah?
5 Verder kan almal in die gemeente baat vind by assosiasie met bejaarde Christene. Deur studie, waarneming en ondervinding het getroue bejaarde aanbidders van Jehovah kosbare kennis vergaar. Hulle het geleer om geduld te beoefen en empatie te betoon, en dit verskaf hulle groot vreugde en bevrediging om aan die volgende geslag oor te dra wat hulle geleer het (Ps. 71:18). Julle jongeres, wees wys en maak gebruik van hierdie bron van kennis, deur dit as ’t ware uit te skep, soos water uit ’n diep put.—Spr. 20:5.
6. Hoe kan jy vir bejaardes wys dat jy hulle werklik waardeer?
6 Laat jy bejaardes weet dat hulle vir jou net so kosbaar is as vir Jehovah? Een manier waarop jy dit kan doen, is deur vir hulle te sê hoe lief jy hulle het weens hulle getrouheid en hoe jy hulle menings waardeer. En wanneer jy toepas wat jy by hulle leer, toon jy dat jou respek vir hulle opreg is. Talle bejaarde Christene kan nog die wyse raad onthou wat húlle van getroue bejaardes ontvang het en hoe die toepassing daarvan hulle regdeur hulle lewe tot voordeel gestrek het.a
Toon tere geneentheid op praktiese maniere
7. Aan wie gee Jehovah allereers die verantwoordelikheid om vir bejaardes te sorg?
7 God gee allereers aan die familie van bejaardes die verantwoordelikheid om vir hulle te sorg. (Lees 1 Timoteus 5:4, 8.) Dit behaag Jehovah wanneer families hulle verpligting teenoor bejaarde familielede nakom en so toon dat hulle, net soos hy, vir bejaardes omgee. God onderskraag hierdie families en seën hulle vir hulle pogings en vir al hulle opofferings.b
8. Waarom moet gemeentes toon dat hulle oor bejaarde Christene besorg is?
8 Dit behaag Jehovah ook wanneer plaaslike gemeentes hulp verleen aan getroue bejaardes wat dit nodig het, maar wat geen gelowige of gewillige familielede het om vir hulle te sorg nie (1 Tim. 5:3, 5, 9, 10). Gemeentes toon sodoende dat hulle ‘meegevoel, broederlike geneentheid en tere medelye’ vir die bejaardes het (1 Pet. 3:8). Hulle besorgdheid oor bejaarde gemeentelede word goed toegelig deur Paulus wanneer hy daarop wys dat as een lid van die liggaam ly, “al die ander lede saam met hom [ly]” (1 Kor. 12:26). As ons praktiese, medelydende hulp aan bejaardes verleen, pas ons die beginsel toe agter Paulus se raad: “Hou aan om mekaar se laste te dra, en vervul só die wet van die Christus.”—Gal. 6:2.
9. Watter laste kan bejaardheid op ’n persoon plaas?
9 Watter laste dra bejaardes? Baie word maklik moeg. Hulle voel miskien dat selfs basiese dinge—soos om dokter toe te gaan, papierwerk te doen, die huis skoon te maak, kos te maak—vir hulle net te veel is. Wanneer mense oud word, neem hulle eetlus en dors dikwels af, en daarom dink hulle moontlik dat hulle nie soveel hoef te eet of te drink as wat hulle eintlik moet nie. Dit kan ook met geestelike voeding die geval wees. Verswakkende oë en ore kan dit moeilik maak om te lees en na geestelike programme te luister, en selfs net om gereed te maak om na Christelike vergaderinge te gaan, kan uitputtend wees. Wat kan ander dan vir hierdie bejaardes doen?
Hoe jy kan help
10. Wat kan ouer manne doen om seker te maak dat bejaardes praktiese hulp ontvang?
10 In baie gemeentes word daar op ’n voorbeeldige wyse vir bejaardes gesorg. Liefdevolle broers en susters help hulle met inkopies, kosmaak en skoonmaakwerk. Hulle help die bejaardes om te studeer, om vir vergaderinge gereed te maak en om gereeld aan die bediening deel te neem. Jonger Getuies vergesel hulle en voorsien vervoer. As bejaardes aan die huis gekluister is, word hulle telefonies met die vergaderinge verbind of word opnames daarvan vir hulle gemaak. Wanneer dit ook al moontlik is, maak ouer manne seker dat praktiese reëlings getref word om in die behoeftes van bejaardes in die gemeente te voorsien.c
11. Vertel hoe een gesin ’n bejaarde broer gehelp het.
11 Ook individuele Christene kan gasvryheid betoon en vrygewig wees. Ná die dood van sy vrou kon ’n bejaarde broer nie meer bekostig om die huur sonder haar pensioen te betaal nie. Hy en sy vrou het die Bybel gestudeer met ’n gesin—’n pa, ma en twee tienerdogters—wat ’n groot huis gehad het. Hulle het hom twee kamers gegee om in te bly. Hulle het 15 jaar lank saam geëet, saam gelag en broederlike geneentheid aan mekaar betoon. Die jonges het baie baat gevind by sy geloof en al sy ondervinding, en hy het baat gevind by die aangename assosiasie. Hierdie bejaarde broer het by hulle gebly totdat hy op 89 oorlede is. Die gesin dank God nog steeds vir al die seëninge wat hulle geniet het weens hulle assosiasie met hom. Hulle het nie ‘hulle beloning verloor’ vir die hulp wat hulle aan ’n mededissipel van Jesus Christus verleen het nie.—Matt. 10:42.d
12. Wat kan jy doen om jou tere geneentheid te toon vir broers en susters wat gevorderd in jare is?
12 Jy is miskien nie in ’n posisie om ’n bejaarde broer of suster op dieselfde manier as hierdie gesin te help nie, maar jy kan bejaardes dalk help om by die vergaderinge te kom en in die veldbediening uit te gaan. Jy kan hulle ook na jou huis toe nooi en hulle saamneem op uitstappies. Jy kan hulle besoek, veral wanneer hulle siek of aan die huis gekluister is. Verder kan en moet jy hulle altyd soos volwassenes behandel. Solank hulle verstand nog helder is, moet bejaarde Christene betrokke wees by alle besluite wat hulle raak. Selfs diegene wat al baie van hulle verstandelike vermoëns verloor het, kan aanvoel of hulle waardigheid gerespekteer word of nie.
Jehovah sal nie jou werk vergeet nie
13. Waarom is dit belangrik om die gevoelens van bejaarde Christene in ag te neem?
13 Dit is noodsaaklik om die gevoelens van bejaardes in ag te neem. Bejaardes is dikwels baie ontsteld oor die feit dat hulle nie meer alles kan doen wat hulle gedoen het toe hulle jonger en gesonder was nie. ’n Suster wat byvoorbeeld 50 jaar lank bedrywig was in Jehovah se diens en ’n gewone pionier was, het ’n aftakelende siekte gekry, en dit was vir haar uiters moeilik om vergaderinge by te woon. Toe sy haar bediening in die verlede vergelyk het met die bietjie wat sy tans kan doen, het sy begin huil. Sy het haar kop laat sak en deur die trane heen gesê: “Ek doen deesdae niks meer nie.”
14. Watter aanmoediging kan bejaarde knegte van Jehovah uit die psalms put?
14 Worstel jy as ’n bejaarde met sulke pynlike gevoelens? Of voel jy soms dat Jehovah jou verlaat het? Die psalmis het moontlik soortgelyke gevoelens in sy latere jare gehad, want hy het Jehovah gesmeek: “Moet my nie wegwerp in die tyd van die ouderdom nie; moet my nie verlaat juis wanneer my krag ingee nie. . . . Selfs tot die ouderdom en grysheid toe, o God, moet u my nie verlaat nie” (Ps. 71:9, 18). Jehovah was natuurlik nie van plan om die skrywer van hierdie psalm te verlaat nie, en Hy sal jou ook nie verlaat nie. In ’n ander psalm het Dawid sy vertroue in God se ondersteuning uitgespreek. (Lees Psalm 68:19.) As jy ’n getroue bejaarde Christen is, kan jy daarvan seker wees dat Jehovah met jou is en jou dag ná dag sal bly onderskraag.
15. Wat kan bejaardes help om ’n positiewe beskouing te behou?
15 Alles wat julle as bejaarde Getuies van Jehovah reeds gedoen het en nóú doen tot heerlikheid van God, is vars in sy geheue. “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het . . . nie”, sê die Bybel (Heb. 6:10). Doen dus julle bes om nie ’n negatiewe beskouing te ontwikkel en verkeerdelik te dink dat julle weens julle gevorderde ouderdom nie meer vir Jehovah nuttig is nie. Probeer neerdrukkende, pessimistiese gedagtes met positiewe gedagtes vervang. Verbly julle oor julle seëninge en julle hoop vir die toekoms! Ons het “’n toekoms en ’n hoop”—die beste wat daar is—en dit word deur ons Skepper gewaarborg (Jer. 29:11, 12; Hand. 17:31; 1 Tim. 6:19). Dink na oor julle hoop, lê julle daarop toe om jonk van hart en verstand te bly en moet nooit die waarde van julle teenwoordigheid in die gemeente onderskat nie!e
16. Waarom het ’n bejaarde broer gedink dat hy nie meer as ’n ouer man moet dien nie, maar hoe het die liggaam van ouer manne hom aangemoedig?
16 Neem die voorbeeld van Johan, wat op 80-jarige ouderdom voltyds omsien na sy getroue vrou Sannie, wat nou ’n invalide is.f Susters maak beurte om by Sannie te bly sodat Johan die vergaderinge kan bywoon en in die bediening kan uitgaan. Maar Johan het onlangs gevoel dat hy emosioneel ’n breekpunt bereik en begin dink dat hy nie meer as ’n gemeentelike ouer man moet dien nie. “Wat help dit dat ek ’n ouer man is?” het hy met trane in sy oë gevra. “Ek is van geen nut in die gemeente nie.” Sy mede- ouer manne het hom verseker dat sy ondervinding en oordeelsvermoë van onskatbare waarde is. Hulle het hom aangespoor om as ’n ouer man te bly dien, al kan hy nie veel doen nie. Dit het Johan grootliks aangemoedig, en hy dien nog steeds as ’n ouer man, tot seën van die gemeente.
Jehovah gee werklik om
17. Watter versekering gee die Bybel bejaarde Christene?
17 Die Skrif toon duidelik dat bejaardes geestelik kan bly floreer ondanks die probleme wat met die ouderdom gepaardgaan. Die psalmis het gesê: “Dié wat in die huis van Jehovah geplant is, . . . sal nog in die grysheid bly floreer, vet en vars sal hulle bly” (Ps. 92:13, 14). Die apostel Paulus, wat moontlik met ’n fisiese kwaal te kampe gehad het, het ‘nie moed opgegee nie, selfs al het die mens wat hy uiterlik was, weggeteer’.—Lees 2 Korintiërs 4:16-18.
18. Waarom het bejaarde medegelowiges en hulle versorgers die hulp van ander nodig?
18 Talle hedendaagse voorbeelde bewys dat bejaardes kan “bly floreer”. Maar die uitdagings wat met siekte en die ouderdom gepaardgaan, kan oorweldigend wees, selfs vir diegene wat deur liefdevolle en toegewyde familielede gehelp word. Versorgers raak dalk ook uitgeput. Die gemeente het die voorreg en verantwoordelikheid om hulle liefde in dade om te sit ten behoewe van bejaardes en diegene wat vir hulle sorg (Gal. 6:10). Hierdie hulp toon dat ons nie maar net vir sulke persone sê: “Gaan . . . , bly warm en goed gevoed” en niks doen om hulle op praktiese maniere te help nie.—Jak. 2:15-17.
19. Waarom kan getroue, bejaarde Christene die toekoms met vertroue tegemoetgaan?
19 Namate ’n Christen ouer word, bring dit dalk ’n verandering in sy bedrywighede mee, maar Jehovah se liefde vir sy lojale bejaarde knegte verflou nie met die verloop van tyd nie. Inteendeel, al hierdie getroue Christene is kosbaar in sy oë, en hy sal hulle nooit verlaat nie (Ps. 37:28; Jes. 46:4). Jehovah sal hulle op hulle oudag bly onderskraag en lei.—Ps. 48:14.
[Voetnote]
a Sien die artikel “Bejaardes—’n seën vir die jonges” in Die Wagtoring van 1 Junie 2007.
c In party lande kan dit insluit dat bejaardes gehelp word om van staatshulp gebruik te maak. Sien die artikel “God gee om vir die bejaardes” in Die Wagtoring van 1 Junie 2006.
d Sien die artikel “Jehovah sorg altyd vir ons” in Die Wagtoring van 1 September 2003.
e Sien die artikel “Die prag van die grysheid” in Die Wagtoring van 15 Maart 1993.
f Name is verander.
Hoe sal jy antwoord?
• Waarom beskou jy getroue bejaarde Christene as kosbaar?
• Hoe kan ons tere geneentheid vir bejaarde medegelowiges toon?
• Wat kan bejaarde knegte van Jehovah help om ’n positiewe beskouing te behou?
[Prente op bladsy 18]
Gemeentelede het groot agting vir bejaardes