Jehovah se Woord is lewend
Glanspunte uit die boek Hosea
WARE aanbidding het feitlik verdwyn uit die noordelike tienstammeryk van Israel. Daar is materiële voorspoed in Israel onder die heerskappy van Jerobeam II, maar kort ná sy dood neem dit af. ’n Tydperk van onrus en politieke onstabiliteit volg. Vier uit die ses daaropvolgende konings word vermoor (2 Konings 14:29; 15:8-30; 17:1-6). Die 59 jaar lange profetiese loopbaan van Hosea, wat in 804 v.G.J. begin het, strek tot in hierdie onstuimige tyd.
Jehovah se gevoelens teenoor die weerspannige nasie Israel word duidelik uitgebeeld deur wat in Hosea se huwelik plaasvind. Hosea se boodskap lê Israel se sondes bloot en bevat die profetiese oordele teen Israel en die koninkryk van Juda. Hosea het tere en taktvolle woorde asook kragtige en beskrywende taal gebruik om al hierdie dinge te skryf in ’n boek wat sy naam dra. Omdat dit deel is van die geïnspireerde Woord van God, is die boodskap daarin lewend en oefen dit krag uit.—Hebreërs 4:12.
“NEEM VIR JOU ’N VROU VAN HOERERY”
Jehovah sê vir Hosea: “Gaan, neem vir jou ’n vrou van hoerery” (Hosea 1:2). Hosea gehoorsaam hierdie bevel en verwek ’n seun by Gomer. Die volgende twee kinders waaraan sy geboorte gee, is blykbaar buite-egtelik. Die betekenis van hulle name, Lo-Ruhama en Lo-Ammi, dui op die feit dat Jehovah barmhartigheid van Israel sal weerhou en sy ontroue volk sal verwerp.
Hoe voel Jehovah werklik oor sy opstandige volk? Hy sê vir Hosea: “Gaan weer eens, bemin ’n vrou wat deur ’n metgesel bemin word en egbreuk pleeg, soos in die geval van Jehovah se liefde vir die kinders van Israel terwyl hulle hulle tot ander gode wend.”—Hosea 3:1.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
1:1—Waarom meld Hosea al vier konings wat gedurende sy bediening oor Juda geheers het, terwyl hy net een heerser van Israel meld? Dit is omdat net die konings uit Dawid se geslagslyn as die regmatige heersers van God se uitverkore volk erken is. Die konings van die noordelike koninkryk was nie uit Dawid se geslagslyn nie, maar dié in Juda was wel.
1:2-9—Het Hosea werklik ’n vrou van hoerery geneem? Ja, Hosea het werklik met ’n vrou getrou wat later ’n egbreekster geword het. Die profeet sê niks wat te kenne gee dat wat hy oor sy huislewe vertel het, ’n droom of ’n visioen was nie.
1:7—Wanneer is daar barmhartigheid aan die huis van Juda bewys en is dit gered? Dit is in 732 v.G.J., in die dae van koning Hiskia, vervul. In daardie jaar het Jehovah die bedreiging wat Assirië vir Jerusalem ingehou het, verwyder deur ’n engel te stuur om 185 000 van die vyand se manskappe in een nag dood te maak (2 Konings 19:34, 35). Jehovah het Juda sodoende verlos, “nie deur ’n boog of deur ’n swaard of deur oorlog, deur perde of deur ruiters, . . . nie”, maar deur ’n engel.
1:10, 11—Aangesien die noordelike koninkryk van Israel in 740 v.G.J. geval het, hoe is die kinders van Israel “tot ’n eenheid bymekaargebring” met die kinders van Juda? Baie in die noordelike koninkryk het na Juda gegaan voordat die inwoners van die land van Juda in 607 v.G.J. in gevangenskap na Babilon weggevoer is (2 Kronieke 11:13-17; 30:6-12, 18-20, 25). Toe Joodse ballinge in 537 v.G.J. na hulle vaderland teruggekeer het, was daar afstammelinge van die noordelike koninkryk van Israel onder hulle.—Esra 2:70.
2:21-23—Wat is voorspel deur Jehovah se woorde: “Ek sal [Jisreël] beslis vir my soos saad op die aarde saai, en ek sal barmhartigheid bewys aan haar”? Die naam van Hosea se eersgebore seun by Gomer was Jisreël (Hosea 1:2-4). Die betekenis van daardie naam, “God sal saad saai”, wys profeties vooruit na die feit dat Jehovah ’n getroue oorblyfsel in 537 v.G.J. sou bymekaarmaak en hulle soos saad in Juda sou saai. Die land wat 70 jaar lank woes gelê het, sou nou koring, soet wyn en olie moes voortbring. Die profesie sê in digterlike taal dat hierdie goeie dinge die aarde sou versoek om sy voedingstowwe vry te stel en dat die aarde die hemel vir reën sou vra. Die hemel sou op sy beurt God versoek om reënwolke te voorsien. Dit alles sou plaasvind sodat daar oorvloedig in die behoeftes van die terugkerende oorblyfsel voorsien kon word. Die apostels Paulus en Petrus pas Hosea 2:23 toe op die insameling van ’n oorblyfsel van geestelike Israel.—Romeine 9:25, 26; 1 Petrus 2:10.
Lesse vir ons:
1:2-9; 3:1, 2. Dink aan die persoonlike opoffering wat Hosea gemaak het deur in ’n huwelik te bly in gehoorsaamheid aan God se wil! Tot watter mate is ons bereid om persoonlike voorkeure prys te gee wanneer dit kom by die uitvoering van God se wil?
1:6-9. Jehovah haat geestelike egbreuk, net soos hy fisiese egbreuk haat.
1:7, 10, 11; 2:14-23. Wat Jehovah oor Israel en Juda voorspel het, is vervul. Jehovah se woord word altyd bewaarheid.
2:16, 19, 21-23; 3:1-4. Jehovah is bereid om diegene wat hartgrondige berou toon, te vergewe (Nehemia 9:17). Soos Jehovah, moet ons medelye en barmhartigheid toon in ons handelinge met ander.
“JEHOVAH HET ’N REGSAAK”
“Jehovah het ’n regsaak met die inwoners van die land.” Waarom? Want “daar is geen waarheid of liefderyke goedhartigheid of kennis van God in die land nie” (Hosea 4:1). Die afvallige volk Israel het hulle aan kullery en bloedvergieting skuldig gemaak en het fisiese en geestelike hoerery gepleeg. Eerder as om op God te vertrou vir hulp, het hulle “na Egipte . . . geroep; na Assirië het hulle gegaan”.—Hosea 7:11.
Jehovah maak sy oordeel bekend en sê: “Israel sal ingesluk word” (Hosea 8:8). Die koninkryk van Juda is nie onskuldig nie. “Jehovah het ’n regsaak met Juda”, sê Hosea 12:2, “ja, om van Jakob rekenskap te eis ooreenkomstig sy weë; ooreenkomstig sy handelinge sal hy hom vergeld.” Maar hulle sal gewis herstel word, want God belowe: “Uit die hand van Sjeool sal ek hulle loskoop; uit die dood sal ek hulle verlos.”—Hosea 13:14.
Skriftuurlike vrae beantwoord:
6:1-3—Wie het gesê: “Kom, en laat ons terugkeer tot Jehovah”? Ontroue Israeliete het mekaar dalk aangemoedig om tot Jehovah terug te keer. As dit die geval was, het hulle bloot voorgegee dat hulle berou het. Hulle liefderyke goedhartigheid was so kortstondig en vlietend soos “die oggendwolke . . . en soos die dou wat vroeg verdwyn” (Hosea 6:4). Aan die ander kant was dit moontlik Hosea wat by die mense gepleit het om tot Jehovah terug te keer. Hoe dit ook al sy, die weerspannige inwoners van die tienstammeryk van Israel moes opregte berou toon en werklik tot Jehovah terugkeer.
7:4—Hoe was die owerspelige Israeliete soos “’n oond wat aangesteek word”? Hierdie vergelyking lig toe hoe intens die bose begeertes in hulle hart was.
Lesse vir ons:
4:1, 6. As ons in Jehovah se guns wil bly, moet ons voortgaan om kennis van hom in te neem en te lewe volgens wat ons leer.
4:9-13. Jehovah sal rekenskap eis van diegene wat geslagsonsedelikheid en onrein aanbidding beoefen.—Hosea 1:4.
5:1. Diegene wat die leiding onder God se volk neem, moet afvalligheid geheel en al verwerp. Anders kan hulle party verlok om aan valse aanbidding deel te neem en sodoende ‘’n strik en ’n net’ vir hulle word.
6:1-4; 7:14, 16. Om net in woord berou te toon, is huigelagtig en tevergeefs. As ’n oortreder God se barmhartigheid wil ontvang, moet hy opregte berou toon, wat blyk uit sy terugkeer na iets “hoërs”, dit wil sê na ’n verhewe vorm van aanbidding. Sy dade moet strook met God se hoë standaarde.—Hosea 7:16, voetnoot in NW.
6:6. As iemand sonde beoefen, is dit ’n aanduiding van ’n gebrek aan lojale liefde vir God. Ongeag hoeveel geestelike offerandes hulle bring, dit kan nie vergoed vir hierdie gebrek nie.
8:7, 13; 10:13. Die beginsel: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai”, is waar bewys in die geval van die afgodsaanbiddende Israeliete.—Galasiërs 6:7.
8:8; 9:17; 13:16. Profesieë aangaande die noordelike koninkryk is bewaarheid toe sy hoofstad, Samaria, deur Assirië verower is (2 Konings 17:3-6). Ons kan seker wees dat God sal doen wat hy gesê het en sal uitvoer wat hy gespreek het.—Numeri 23:19.
8:14. In 607 v.G.J. het Jehovah “vuur in [Juda se] stede” gestuur deur middel van die Babiloniërs, wat die voorspelde verwoesting oor Jerusalem en die land van Juda gebring het (2 Kronieke 36:19). God se woord kan nooit onvervuld bly nie.—Josua 23:14.
9:10. Hoewel die Israeliete aan die ware God toegewy was, het hulle “na Baäl van Peor gegaan en hulle aan die skandelike ding toegewy”. Ons is verstandig as ons hulle slegte voorbeeld as ’n waarskuwing beskou en nie ons toewydingsgelofte aan Jehovah verbreek nie.—1 Korintiërs 10:11.
10:1, 2, 12. Ons moet God nie met ’n huigelagtige hart aanbid nie. Wanneer ons ‘vir ons saad in regverdigheid saai, maai ons in ooreenstemming met God se liefderyke goedhartigheid’.
10:5. Bet-Awen (wat “Huis van Skadelikheid” beteken) is ’n neerhalende naam wat aan Bet-El (wat “Huis van God” beteken) gegee is. Toe die afgodskalf van Bet-Awen in ballingskap weggevoer is, het die inwoners van Samaria getreur oor die verlies van die voorwerp van hulle toegewydheid. Hoe sinloos is dit tog om vertroue te stel in ’n lewelose afgod wat homself nie eers kan beskerm nie!—Psalm 135:15-18; Jeremia 10:3-5.
11:1-4. Jehovah tree altyd liefdevol teenoor sy volk op. Onderworpenheid aan God is nooit onderdrukkend nie.
11:8-11; 13:14. Jehovah se woord dat hy sy volk tot ware aanbidding sal herstel, ‘het nie sonder resultate na hom toe teruggekeer nie’ (Jesaja 55:11). In 537 v.G.J. het die Babiloniese ballingskap tot ’n einde gekom en het ’n oorblyfsel na Jerusalem teruggekeer (Esra 2:1; 3:1-3). Wat Jehovah ook al deur sy profete gespreek het, sal ongetwyfeld plaasvind.
12:6. Ons moet vasbeslote wees om liefderyke goedhartigheid te betoon, geregtigheid te beoefen en voortdurend op Jehovah te hoop.
13:6. Die Israeliete “het versadig geword, en hulle hart het hom begin verhef. Daarom het hulle [Jehovah] vergeet.” Ons moet waak teen enige neiging tot selfverheffing.
“DIE WEË VAN JEHOVAH IS REG”
Hosea pleit: “Keer tog terug, o Israel, tot Jehovah jou God, want jy het in jou oortreding gestruikel.” Hy spoor mense aan om vir Jehovah te sê: “Mag u oortreding vergewe; en neem aan wat goed is, en dan sal ons die jong bulle van ons lippe aanbied.”—Hosea 14:1, 2.
’n Berouvolle oortreder moet na Jehovah kom, sy weë aanvaar en lofoffers aan hom bring. Waarom? Want “die weë van Jehovah is reg, en die regverdiges sal daarin wandel” (Hosea 14:9). Hoe verheug is ons tog dat daar nog baie mense is wat “beslis sidderend na Jehovah en na sy goedheid [sal] kom aan die einde van die dae”!—Hosea 3:5.
[Prent op bladsy 15]
Hosea se gesinslewe het Jehovah se handelinge met Israel geïllustreer
[Prent op bladsy 17]
Toe Samaria in 740 v.G.J. geval het, het die tienstammeryk van Israel ophou bestaan