“Die weë van Jehovah is reg”
“Die weë van Jehovah is reg, en die regverdiges sal daarin wandel.”—HOSEA 14:9.
1, 2. Watter soort begin het Jehovah die Israeliete gegee, maar wat het met hulle gebeur?
IN DIE dae van die profeet Moses het Jehovah die Israeliete ’n regverdige begin gegee. Maar vroeg in die agtste eeu v.G.J. het hulle situasie al so versleg dat God hulle skuldig bevind het aan ernstige oortreding. Dit blyk duidelik uit Hosea hoofstukke 10 tot 14.
2 Israel se hart het huigelagtig geword. Die mense van daardie tienstammeryk het “goddeloosheid geploeg” en onregverdigheid gemaai (Hosea 10:1, 13). “Toe Israel ’n seun was, het ek hom liefgehad”, het Jehovah gesê, “en uit Egipte het ek my seun geroep” (Hosea 11:1). Hoewel God die Israeliete uit slawerny in Egipte verlos het, het hulle hom met leuens en bedrog beloon (Hosea 11:12). Jehovah het hulle dus hierdie raad gegee: “Tot jou God moet jy terugkeer, deurdat jy liefderyke goedhartigheid en geregtigheid bewaar.”—Hosea 12:6.
3. Wat sou met opstandige Samaria gebeur, maar hoe kon die Israeliete barmhartigheid bewys word?
3 Opstandige Samaria en sy koning sou ’n rampspoedige einde hê (Hosea 13:11, 16). Maar die laaste hoofstuk van Hosea se profesie begin met die dringende versoek: “Keer tog terug, o Israel, tot Jehovah jou God.” As die Israeliete berouvol vergifnis gevra het, sou God barmhartigheid bewys. Hulle sou natuurlik moes erken dat ‘die weë van Jehovah reg is’ en sou daarin moes wandel.—Hosea 14:1-6, 9.
4. Watter beginsels in Hosea se profesie sal ons bespreek?
4 Hierdie deel van Hosea se profesie bevat baie beginsels wat ons kan help om met God te wandel. Ons sal die volgende bespreek: (1) Jehovah vereis ongeveinsde aanbidding, (2) God betoon lojale liefde aan sy volk, (3) ons moet voortdurend op Jehovah hoop, (4) die weë van Jehovah is altyd reg en (5) sondaars kan tot Jehovah terugkeer.
Jehovah vereis ongeveinsde aanbidding
5. Watter soort diens verwag God van ons?
5 Jehovah verwag dat ons op ’n rein, ongeveinsde manier heilige diens aan hom verrig. Maar Israel het ’n onvrugbare “verslegtende wingerdstok” geword. Israel se inwoners het “altare vermenigvuldig” vir gebruik in valse aanbidding. Hierdie afvalliges het selfs pilare opgerig—moontlik obeliske vir gebruik in onrein aanbidding. Jehovah sou hierdie altare afbreek en sulke pilare vernietig.—Hosea 10:1, 2.
6. Watter eienskap moet ons vermy as ons met God wil wandel?
6 Huigelary het geen plek onder Jehovah se knegte nie. Maar wat het met die Israeliete gebeur? “Hulle hart het huigelagtig geword”! Hoewel hulle vroeër ’n verbond met Jehovah aangegaan het as ’n volk wat aan hom toegewy is, het hy hulle aan huigelary skuldig bevind. Wat kan ons hieruit leer? As ons ons aan God toegewy het, moet ons nie huigelaars wees nie. Spreuke 3:32 waarsku: “Die slinkse persoon is vir Jehovah verfoeilik, maar Sy intimiteit is met die regskapenes.” As ons met God wil wandel, moet ons liefde openbaar “uit ’n rein hart en uit ’n goeie gewete en uit geloof sonder huigelary”.—1 Timoteus 1:5.
God betoon lojale liefde aan sy volk
7, 8. (a) Onder watter omstandighede kan ons God se lojale liefde ontvang? (b) Wat moet ons doen as ons ’n ernstige sonde begaan het?
7 As ons Jehovah op ’n ongeveinsde en opregte manier aanbid, sal ons sy liefderyke goedhartigheid, of lojale liefde, ontvang. Vir die eiesinnige Israeliete is daar gesê: “Saai vir julle saad in regverdigheid; maai in ooreenstemming met liefderyke goedhartigheid. Bewerk vir julle bewerkbare grond, wanneer daar tyd is om Jehovah te soek totdat hy kom en julle onderrig gee in regverdigheid.”—Hosea 10:12.
8 As die Israeliete tog maar berouvol wil wees en Jehovah wil soek! Dan sal hy hulle met graagte “onderrig gee in regverdigheid”. As ons persoonlik ’n ernstige sonde begaan het, moet ons Jehovah soek deur hom in gebed om vergifnis te vra en Christen- ouer manne te vra om geestelike hulp te verleen (Jakobus 5:13-16). Laat ons ook die leiding van God se heilige gees soek, want “hy wat met die oog op sy vlees saai, sal verderwing uit sy vlees maai, maar hy wat met die oog op die gees saai, sal ewige lewe uit die gees maai” (Galasiërs 6:8). As ons “met die oog op die gees saai”, sal ons aanhou om God se lojale liefde te ontvang.
9, 10. Hoe is Hosea 11:1-4 op Israel van toepassing?
9 Ons kan die vertroue hê dat Jehovah altyd liefdevol teenoor sy volk optree. Bewys hiervan word gevind in Hosea 11:1-4, waar ons lees: “Toe Israel ’n seun was, het ek hom liefgehad, en uit Egipte het ek my seun geroep. . . . Aan die Baäl-beelde het hulle offerandes gebring, en vir die gesnede beelde het hulle offerrook laat opgaan. Maar wat my betref, ek het Efraim [die Israeliete] leer loop, hulle op my arms geneem; en hulle het nie erken dat ek hulle genees het nie. Met die toue van die mens het ek hulle bly trek, met die koorde van liefde, sodat ek vir hulle geword het soos dié wat ’n juk van hulle kakebene aflig, en met sagtheid het ek vir elkeen voedsel gebring.”
10 Hier word Israel met ’n klein kindjie vergelyk. Jehovah het die Israeliete liefdevol leer loop en hulle op sy arms geneem. En hy het hulle met toue, “die koorde van liefde”, bly trek. Wat ’n treffende beskrywing! Stel jou voor dat jy ’n ouer is wat jou kind help om sy eerste treetjies te gee. Jou arms is uitgestrek. Jy gebruik dalk toue sodat jou kindjie daaraan kan vashou en nie val nie. Wel, Jehovah se liefde vir jou is net so teer. Dit verskaf hom vreugde om jou met “die koorde van liefde” te lei.
11. Hoe het God ‘soos iemand geword wat ’n juk aflig’?
11 In sy handelinge met die Israeliete het Jehovah “vir hulle geword . . . soos dié wat ’n juk van hulle kakebene aflig, en met sagtheid het [hy] vir elkeen voedsel gebring”. God het opgetree soos iemand wat ’n juk aflig of ver genoeg terugstoot sodat ’n dier gemaklik kan eet. Maar toe die volk Israel hulle juk van onderdanigheid aan Jehovah verbreek het, het hulle onder die onderdrukkende juk van hulle vyande gekom (Deuteronomium 28:45, 48; Jeremia 28:14). Mag ons nooit in die kloue van ons aartsvyand, Satan, val en die pyn van sy onderdrukkende juk ondervind nie. Laat ons eerder lojaal met ons liefdevolle God bly wandel.
Hoop voortdurend op Jehovah
12. Wat word volgens Hosea 12:6 van ons vereis as ons wil aanhou om met God te wandel?
12 As ons wil aanhou om met God te wandel, moet ons voortdurend op hom hoop. Daar is vir die Israeliete gesê: “Wat jou betref, tot jou God moet jy terugkeer, deurdat jy liefderyke goedhartigheid en geregtigheid bewaar; en hoop voortdurend op jou God” (Hosea 12:6). Israel se inwoners kon bewys dat hulle berouvol tot Jehovah terugkeer deur liefderyke goedhartigheid te betoon, geregtigheid te beoefen en ‘voortdurend op God te hoop’. Ongeag hoe lank ons al met God wandel, ons moet vasbeslote wees om liefderyke goedhartigheid te betoon, geregtigheid te beoefen en voortdurend op God te hoop.—Psalm 27:14.
13, 14. Hoe pas Paulus Hosea 13:14 toe, en watter rede gee dit ons om op Jehovah te hoop?
13 Hosea se profesie in verband met die Israeliete gee ons ’n besondere rede om op God te hoop. “Uit die hand van Sjeool sal ek hulle loskoop”, het Jehovah gesê. “Uit die dood sal ek hulle verlos. Waar is jou angels, o Dood? Waar is jou vernietigende krag, o Sjeool?” (Hosea 13:14). Jehovah sou die Israeliete destyds nie uit die fisiese dood red nie, maar hy sal uiteindelik die dood vir ewig verswelg en die oorwinning daarvan tot niet maak.
14 In ’n brief aan gesalfde mede-Christene het Paulus uit Hosea se profesie aangehaal en geskryf: “Wanneer hierdie verderflike hom met onverderflikheid beklee en hierdie sterflike hom met onsterflikheid beklee, dan sal die woord vervul word wat geskrywe staan: ‘Die dood is vir ewig verswelg.’ ‘Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?’ Die angel wat die dood veroorsaak, is die sonde, maar die krag tot die sonde is die Wet. Maar aan God die dank, want hy gee ons die oorwinning deur ons Here Jesus Christus!” (1 Korintiërs 15:54-57). Jehovah het Jesus uit die dode opgewek en sodoende ’n vertroostende waarborg voorsien dat mense wat in God se geheue is, opgewek sal word (Johannes 5:28, 29). Wat ’n wonderlike rede is dit tog om op Jehovah te hoop! Maar iets benewens die opstandingshoop beweeg ons om met God te wandel.
Jehovah se weë is altyd reg
15, 16. Wat is aangaande Samaria voorspel, en hoe is die profesie vervul?
15 Ons oortuiging dat ‘die weë van Jehovah reg is’, help ons om met God te bly wandel. Die inwoners van Samaria het nie in God se regverdige weë gewandel nie. Gevolglik sou hulle die gevolge van sonde en gebrek aan geloof in Jehovah moes dra. Daar is voorspel: “Samaria sal skuldig geag word, want hy is opstandig teen sy God. Deur die swaard sal hulle val. Hulle kinders sal verpletter word, en hulle swanger vroue sal oopgesny word” (Hosea 13:16). Geskiedenisverslae toon dat die Assiriërs, wat Samaria verower het, heeltemal in staat was tot sulke gruweldade.
16 Samaria was die hoofstad van die tienstammeryk van Israel. Maar hier word die naam Samaria moontlik vir die hele gebied van daardie koninkryk gebruik (1 Konings 21:1). Die Assiriese koning Salmaneser V het die stad Samaria in 742 v.G.J. beleër. Toe Samaria uiteindelik in 740 v.G.J. geval het, is baie van sy vooraanstaande inwoners as ballinge na Mesopotamië en Medië weggevoer. Daar kan nie met sekerheid gesê word of dit Salmaneser V of sy opvolger, Sargon II, was wat Samaria verower het nie (2 Konings 17:1-6, 22, 23; 18:9-12). Hoe dit ook al sy, Sargon se verslae meld dat 27 290 Israeliete na plekke by die boloop van die Eufraat en in Medië weggevoer is.
17. Wat moet ons eerder doen as om God se standaarde te minag?
17 Samaria se inwoners het duur betaal vir hulle versuim om Jehovah se regverdige weë te volg. As toegewyde Christene sal ons ook tragiese gevolge ervaar as ons sonde beoefen, dit wil sê as ons God se regverdige standaarde minag. Mag ons nooit so ’n goddelose weg volg nie! Laat elkeen van ons eerder die apostel Petrus se raad toepas: “Laat niemand van julle . . . ly as ’n moordenaar of ’n dief of ’n kwaaddoener of as iemand wat hom met ander se sake bemoei nie. Maar as hy ly as ’n Christen, moet hy hom nie skaam nie, maar aanhou om God in hierdie naam te verheerlik.”—1 Petrus 4:15, 16.
18. Hoe kan ons ‘aanhou om God te verheerlik’?
18 Ons ‘hou aan om God te verheerlik’ deur in sy regverdige weë te wandel en nie dinge op ons eie manier te doen nie. Kain het moord gepleeg omdat hy gedoen het wat hy wou en nie ag geslaan het op Jehovah se waarskuwing dat sonde vir hom op die loer lê nie (Genesis 4:1-8). Bileam het betaling van Moab se koning aanvaar, maar tevergeefs probeer om Israel te vervloek (Numeri 24:10). En God het die Leviet Korag en ander om die lewe gebring omdat hulle teen die gesag van Moses en Aäron in opstand gekom het (Numeri 16:1-3, 31-33). Ons wil tog sekerlik nie die moorddadige “weg van Kain” bewandel, halsoorkop “die dwaalweg van Bileam” inslaan of in “die opstandige gepraat van Korag” vergaan nie (Judas 11). Maar as ons ’n sonde sou begaan, bied Hosea se profesie vir ons vertroosting.
Sondaars kan tot Jehovah terugkeer
19, 20. Watter offers kon berouvolle Israeliete bring?
19 Selfs diegene wat gestruikel het deur ’n ernstige sonde te begaan, kan tot Jehovah terugkeer. In Hosea 14:1, 2 vind ons hierdie dringende versoek: “Keer tog terug, o Israel, tot Jehovah jou God, want jy het in jou oortreding gestruikel. Neem woorde met julle saam en keer terug tot Jehovah. Sê vir hom, julle almal: ‘Mag u oortreding vergewe; en neem aan wat goed is, en dan sal ons die jong bulle van ons lippe aanbied.’ ”
20 Berouvolle Israeliete kon vir God ‘die jong bulle van hulle lippe’ aanbied. Dit was offers van opregte lof. Paulus het indirek na hierdie profesie verwys toe hy Christene aangespoor het om “aan God ’n lofoffer [te] bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15). Wat ’n voorreg is dit tog om vandag met God te wandel en sulke offers te bring!
21, 22. Watter herstel sou berouvolle Israeliete ondervind?
21 Israeliete wat hulle eiesinnige weg verlaat en tot God teruggekeer het, het vir hom ‘die jong bulle van hulle lippe’ aangebied. Gevolglik is hulle geestelik herstel, soos God belowe het. Hosea 14:4-7 sê: “Ek [Jehovah] sal hulle ontrouheid genees. Ek sal hulle uit vrye wil liefhê, omdat my toorn van hom gewyk het. Ek sal vir Israel soos die dou word. Hy sal bloei soos die lelie en sal sy wortels uitstoot soos die Libanon. Sy takkies sal uitloop, en sy waardigheid sal soos dié van die olyfboom word, en sy geur sal soos dié van die Libanon wees. Hulle sal weer in sy skaduwee woon. Hulle sal graan verbou en sal bot soos die wingerdstok. Sy gedagtenis sal soos die wyn van die Libanon wees.”
22 Berouvolle Israeliete sou geestelik genees word en sou weer God se liefde ontvang. Jehovah sou vir hulle soos verkwikkende dou word deurdat hy hulle ryklik sou seën. Sy herstelde volk sou waardigheid hê “soos dié van die olyfboom”, en hulle sou in God se weë wandel. Wat word van ons vereis, aangesien ons vasbeslote is om met Jehovah God te wandel?
Bly wandel in Jehovah se regverdige weë
23, 24. Met watter bemoedigende profesie sluit die boek Hosea af, en hoe raak dit ons?
23 As ons met God wil bly wandel, moet ons “die wysheid van bo” aan die dag lê en altyd in ooreenstemming met sy regverdige weë optree (Jakobus 3:17, 18). Die laaste vers van Hosea se profesie sê: “Wie is wys, sodat hy hierdie dinge kan verstaan? Verstandig, sodat hy dit kan weet? Want die weë van Jehovah is reg, en die regverdiges sal daarin wandel; maar die oortreders sal daarin struikel.”—Hosea 14:9.
24 Laat ons vasbeslote wees om in God se regverdige weë te wandel en nie toelaat dat ons deur die wysheid en standaarde van hierdie wêreld gelei word nie (Deuteronomium 32:4). Hosea het dit 59 jaar lank of langer gedoen. Hy het goddelike boodskappe getrou oorgedra, in die wete dat dié wat wys en verstandig is, hierdie woorde sou verstaan. Wat van ons? So lank as wat Jehovah ons toelaat om ’n getuienis te lewer, sal ons aanhou soek na diegene wat verstandig sal optree en sy onverdiende goedhartigheid sal aanvaar. En ons is verheug om dit in volle samewerking met “die getroue en verstandige slaaf” te doen.—Matteus 24:45-47.
25. Wat behoort ons bespreking van Hosea se profesie ons te help om te doen?
25 Ons bespreking van Hosea se profesie behoort ons te help om met God te bly wandel met ewige lewe in sy beloofde nuwe wêreld in die vooruitsig (2 Petrus 3:13; Judas 20, 21). Wat ’n wonderlike hoop is dit tog! Hierdie hoop sal vir elkeen van ons ’n werklikheid word as ons deur woord en daad bewys dat ons dit bedoel wanneer ons sê: “Die weë van Jehovah is reg.”
Hoe sal jy antwoord?
• Hoe sal God met ons handel as ons rein aanbidding aan hom gee?
• Waarom moet ons voortdurend op Jehovah hoop?
• Waarom is jy oortuig dat Jehovah se weë reg is?
• Hoe kan ons in Jehovah se regverdige weë bly wandel?
[Prent op bladsy 28]
Aanvaar geestelike hulp van Christen- ouer manne
[Prent op bladsy 29]
Hosea se profesie gee ons rede om te hoop op Jehovah se beloftes oor die opstanding
[Prente op bladsy 31]
Hou aan om met God te wandel met ewige lewe in die vooruitsig