Bybelboek nommer 29—Joël
Skrywer: Joël
Waar geskryf: Juda
Geskrif voltooi: ca. 820 v.G.J. (?)
1. Watter dramatiese gebeure beklemtoon Joël se profesie?
’N SWERM insekte trek, golf na golf, deur die land en verwoes dit. ’n Vuur voor hulle en ’n vlam agter hulle voltooi die verwoesting. Daar is oral hongersnood. Die son verander in duisternis en die maan in bloed, want die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah is ophande. Hy beveel dat die sekel ingeslaan en die nasies vir vernietiging vergader word. Sommige sal egter “gered” word (Joël 2:32). ’n Ondersoek van hierdie dramatiese gebeure maak Joël se profesie uiters interessant sowel as baie nuttig vir ons.
2. Wat weet ons van Joël en die omstandighede waaronder hy geprofeteer het?
2 Die boek word ingelei as “die woord van die HERE wat tot Joël, die seun van Petuel, gekom het”. Dit is al wat die Bybel ons oor Joël vertel. Die klem val op die profetiese boodskap en nie op die skrywer daarvan nie. Daar word alom aangeneem dat die naam “Joël” (Hebreeus, Joo·ʼelʹ) “Jehovah is God” beteken. Die feit dat Joël persoonlik goed vertroud was met Jerusalem, sy tempel en die besonderhede van tempeldiens dui moontlik daarop dat hy sy boek in Jerusalem of Juda geskryf het.—Joël 1:1, 9, 13, 14; 2:1, 15, 16, 32.
3. Om watter redes word omstreeks 820 v.G.J. as die tyd van die opskrifstelling van Joël se profesie aan die hand gedoen?
3 Wanneer is die boek Joël geskryf? Daar kan nie met sekerheid gesê word nie. Geleerdes gee verskillende tye aan, wat wissel van voor 800 v.G.J. tot omstreeks 400 v.G.J. Die beskrywing van Jehovah se oordeel oor die nasies in die dal van Josafat gee te kenne dat Joël sy profe-sie die een of ander tyd ná Jehovah se groot oorwinning ten behoewe van koning Josafat van Juda geskryf het, en derhalwe nadat Josafat in 936 v.G.J. koning geword het (Joël 3:2, 12; 2 Kron. 20:22-26). Die profeet Amos het moontlik uit die teks van Joël aangehaal. Dit sou dan beteken dat Joël se profesie geskryf is voor dié van Amos, wat die een of ander tyd tussen 829 en 804 v.G.J. begin profeteer het (Joël 3:16; Amos 1:2). Die boek se posisie in die Hebreeuse kanon tussen Hosea en Amos kan ook op ’n vroeë tyd dui. Gevolglik word omstreeks 820 v.G.J. as die tyd van die opskrifstelling van Joël se profesie aan die hand gedoen.
4. Watter bewyse is daar van die egtheid van Joël?
4 Die egtheid van die profesie word bewys deur aanhalings daaruit en verwysings daarna in die Christelike Griekse Geskrifte. Op Pinksterdag het Petrus van “die profeet Joël” gepraat en die toepassing van een van sy profesieë verduidelik. Paulus het dieselfde profesie aangehaal en getoon hoe dit op Jood sowel as nie-Jood vervul word (Joël 2:28-32; Hand. 2:16-21; Rom. 10:13). Joël se profesieë teen naburige nasies is almal vervul. Die groot stad Tirus is deur Nebukadnesar beleër, en later is die eilandstad deur Alexander die Grote verwoes. Filistea het eweneens vergaan. Edom het ’n wildernis geword (Joël 3:4, 19). Die Jode het nooit die egtheid van Joël betwis nie, en hulle het die boek tweede onder die sogenaamde klein profete geplaas.
5. In watter opsig is die profesie van Joël besonder beeldend?
5 Joël se styl is lewendig sowel as beeldend. Hy gebruik herhaling vir nadruk, asook treffende vergelykings. Sprinkane word ’n nasie, ’n volk en ’n leër genoem. Hulle tande is soos dié van leeus, hulle voorkoms soos dié van perde en hulle gedruis klink soos waens van ’n leër wat vir die geveg opgestel is. The Interpreter’s Bible haal die woorde van ’n gesaghebbende op die gebied van sprinkaanbestryding aan: “Joël se beskrywing van ’n sprinkaaninval is nog nooit oortref wat sy dramatiese akkuraatheid van besonderhede betref nie.”a Luister nou terwyl Joël oor die vreesinboesemende dag van Jehovah profeteer.
INHOUD VAN JOËL
6. Watter verskriklike visioen sien Joël eerste?
6 ’n Insekinval stroop die land; die dag van Jehovah naby (1:1–2:11). Wat ’n verskriklike visioen van onheil sien Joël tog! ’n Verwoestende aanval deur die afknyper, die treksprinkaan, die voetganger en die kaalvreter. Wingerde en vyebome is kaal gestroop, en verhongering bekruip die land. Daar is geen graan- of drankoffers vir die huis van Jehovah nie. Joël waarsku die priesters en dienaars van God om berou te toon. “Ag, die dag!” roep hy uit, “want naby is die dag van die HERE, en hy kom soos ’n verwoesting van die Almagtige” (1:15). Diere dwaal verward rond. Die weivelde en bome is deur vlamme verskroei en die woestyn is deur vuur verseng.
7. Hoe word Jehovah se invallende krygsmag beskryf?
7 Maak alarm! “Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg!” (2:1). Die dag van Jehovah is naby, ’n dag van duisternis en dikke donkerheid. Kyk! ’n Talryke en magtige volk. Hulle verander die Edenagtige land in ’n woeste wildernis. Niks word gespaar nie. Soos perde en met ’n gedruis soos waens op die bergtoppe hardloop hulle. Soos ’n volk in slagorde storm hulle in die stad in en klim hulle op mure en huise en deur vensters. Die land bewe en die hemel skud. Jehovah is in bevel van hierdie talryke krygsmag. “Die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik, en wie kan dit verdra?”—2:11.
8. (a) Slegs hoe kan die insekinval gestuit word? (b) Watter vergoeding belowe Jehovah?
8 Hulle moet hulle tot Jehovah wend; gees sal uitgestort word (2:12-32). Maar iets kan gedoen word om die inval te stuit. Jehovah maan: “Bekeer julle tot My met julle hele hart, . . . skeur julle hart en nie julle klere nie, en bekeer julle tot die HERE julle God” (2:12, 13). ’n Horinggeskal roep die volk na ’n plegtige vergadering. Indien hulle tot hom terugkeer, sal Jehovah ‘hom ywer vir sy land en sy volk verskoon’ (2:18). Daar sal seëninge en vergifnis wees, en die invaller sal verdryf word. Pleks van ’n tyd vir vrees, is dit ’n tyd om te juig en bly te wees, want daar sal vrugte en koring en nuwe wyn en olie wees. Jehovah sal vergoed vir die jare waartydens sy groot krygsmag van sprinkane gevreet het. Hy belowe: “Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van die HERE julle God prys wat wonderbaar met julle gehandel het” (2:26). Hulle sal leer dat Jehovah alleen hulle God in die midde van Israel is.
9. Watter hartroerende profesie volg?
9 “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees”, sê Jehovah, “en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien. En ook op die diensknegte en op die diensmaagde sal Ek in dié dae my Gees uitgiet.” Voor die koms van die dag van Jehovah sal daar verskriklike tekens in die son en maan wees. Tog sal sommige behoue bly. “Elkeen wat die Naam van [Jehovah] aanroep, sal gered word.”—2:28-32, vgl. NW.
10. Wat sal in die dal van Josafat plaasvind?
10 Nasies sal in “die dal van Josafat” geoordeel word (3:1-21). Jehovah sal Juda en Jerusalem se gevangenes terugbring. Die nasies sal versamel word; Tirus, Sidon en Filistea sal swaar boet omdat hulle Jehovah se volk gesmaad en in slawerny gebring het. Luister hoe daag Jehovah die nasies uit: “Heilig ’n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk!” (3:9). Laat hulle swaarde van pikke smee en opkom na die dal van Josafat (wat “Jehovah is regter” beteken). Jehovah se bevel weerklink: “Steek die sekel in, want die oes is ryp! . . . Die kuipe loop oor! Want hulle boosheid is groot. Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE” (3:13, 14). Die son en maan word duister. Jehovah brul uit Sion, sodat die hemel en aarde skud, maar hy is ’n toevlug en vesting vir sý volk. Hulle sal moet weet dat hy Jehovah hulle God is.
11. Hoe beskryf Joël dan die seëninge van Jehovah wat sal volg?
11 Watter paradysagtige oorvloed sal daar tog “op dié dag” te sien wees! (3:18). Die berge sal drup van wyn, die heuwels sal vloei van melk en die spruite sal stroom van water. ’n Verkwikkende fontein sal uit die huis van Jehovah uitgaan. Egipte en Edom, wat onskuldige bloed in Juda vergiet het, sal verlate woestenye word, maar Juda en Jerusalem sal tot onbepaalde tyd bewoon word, en Jehovah “sal op Sion bly woon”.—3:21.
WAAROM NUTTIG
12. Op watter profetiese betekenis van Joël het Petrus op Pinkster klem gelê?
12 Sommige kommentators het Joël as ’n onheilsprofeet beskryf. Maar vanuit die standpunt van God se eie volk tree hy op as die verkondiger van ’n heuglike tyding van verlossing. Die apostel Paulus lê nadruk op hierdie gedagte in Romeine 10:13 deur te sê: “Want: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word” (Joël 2:32). Daar was ’n treffende vervulling van Joël se profesie op Pinksterdag, 33 G.J. By daardie geleentheid is Petrus geïnspireer om te verduidelik dat die uitstorting van God se gees oor Christus se dissipels ’n vervulling van Joël se profesie was (Hand. 2:1-21; Joël 2:28, 29, 32). Petrus het groot klem gelê op die profetiese betekenis van Joël se woorde: “Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.”—Hand. 2:21, 39, 40.
13. (a) Watter treffende ooreenkomste kan tussen Joël en Openbaring gesien word? (b) Watter parallelle van Joël kan in ander profesieë gevind word?
13 Treffende ooreenkomste kan gesien word tussen die sprinkaanplaag wat deur Joël beskryf is en die plaag wat in Openbaring hoofstuk 9 voorspel is. Weer eens word die son verduister. Die sprinkane lyk soos perde wat vir die stryd toegerus is, hulle maak ’n gedruis soos dié van strydwaens en hulle het tande soos dié van leeus (Joël 2:4, 5, 10; 1:6; Openb. 9:2, 7-9). Joël se profesie in Joël 2:31, wat vertel van die son wat in duisternis verander, kom ooreen met die gebeurtenis in Jesaja 13:9, 10 en Openbaring 6:12-17, en ook in Mattheüs 24:29, 30, waar Jesus toon dat die profesie op die tyd slaan wanneer hy as die Seun van die mens met mag en groot heerlikheid kom. Maleagi 4:5 verwys blykbaar na die woorde van Joël 2:11, “die dag van die HERE is groot en uitermate vreeslik”. Parallelle beskrywings van hierdie ‘dag van duisternis en donkerheid’ word ook in Joël 2:2 en Sefanja 1:14, 15 gevind.
14. Watter gedeeltes in Joël verheerlik Jehovah se soewereiniteit en sy goedertierenheid?
14 Die profesie van Openbaring wys vooruit na “die groot dag” van goddelike toorn (Openb. 6:17). Joël profeteer ook oor daardie tyd en wys dat wanneer die groot ‘dag van Jehovah’ oor die nasies kom, diegene wat hulle om beskerming en verlossing tot hom wend, “gered” sal word. “[Jehovah] sal ’n toevlug wees vir sy volk.” Edeniese voorspoed sal herstel word: “En op dié dag sal die berge drup van mos en die heuwels vloei van melk en al die spruitjies van Juda stroom van water; en uit die huis van die HERE sal daar ’n fontein uitkom.” Deur hierdie rooskleurige beloftes van herstel neer te skryf, verheerlik Joël ook die soewereiniteit van Jehovah God en doen hy op grond van Sy groot barmhartigheid ’n beroep op die opregtes van hart: “Bekeer julle tot die HERE julle God; want Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid.” Almal wat op hierdie geïnspireerde versoek ag slaan, sal ewige voordele maai.—Joël 2:1, 32; 3:16, 18, vgl. NW; 2:13.
[Voetnoot]
a 1956, Dl. VI, bladsy 733.