Jehovah se wysheid word in die skepping gesien
“Sy onsigbare eienskappe word [waargeneem] in die dinge wat gemaak is.”—ROM. 1:20.
1. Watter uitwerking het wêreldse wysheid vandag op baie mense?
DIE woord “wysheid” word redelik losweg gebruik. Party sê dat iemand wys is as hy bloot baie kennis vergaar het. Maar die wêreld se sogenaamde intellektuele bied geen betroubare leiding om ’n ware doel in die lewe te vind nie. Inteendeel, diegene wat hulle deur hierdie mense laat beïnvloed, word “rondgeslinger . . . soos deur golwe en hiernatoe en daarnatoe gevoer . . . deur elke wind van lering”.—Ef. 4:14.
2, 3. (a) Waarom is Jehovah “alleen wys”? (b) Hoe verskil goddelike wysheid van die wêreld se wysheid?
2 Hoe anders is dit tog in die geval van diegene wat ware wysheid verkry, waarvan Jehovah God die Bron is! Die Bybel sê vir ons dat Jehovah “alleen wys” is (Rom. 16:27). Hy weet alles omtrent die heelal, insluitende die samestelling en geskiedenis daarvan. Die natuurwette—waarop mense staatmaak vir hulle navorsing—is almal deur Jehovah ingestel. Mensgemaakte uitvindsels beïndruk hom dus nie, en die sogenaamd verhewe denke agter mensefilosofieë fassineer hom nie. “Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God.”—1 Kor. 3:19.
3 Die Bybel sê vir ons dat Jehovah aan sy knegte ‘wysheid gee’ (Spr. 2:6). In teenstelling met mensefilosofieë is die wysheid wat van God kom, nie vaag nie. Dit lê eerder klem op gesonde oordeel en is gegrond op juiste kennis en begrip. (Lees Jakobus 3:17.) Die apostel Paulus het hom oor Jehovah se wysheid verwonder. Hy het geskryf: “O die diepte van God se rykdom en wysheid en kennis! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en hoe onnaspeurlik sy weë!” (Rom. 11:33). Omdat Jehovah alwys is, het ons die volste vertroue dat sy wette ons rig om die beste lewenswyse te volg. Jehovah weet immers beter as enigiemand anders wat ons nodig het om gelukkig te wees.—Spr. 3:5, 6.
Jesus—“’n Meesterwerker”
4. Wat is een manier waarop ons Jehovah se wysheid kan onderskei?
4 Jehovah se wysheid, asook sy ander weergalose eienskappe, kan gesien word in die dinge wat hy gemaak het. (Lees Romeine 1:20.) Jehovah se werke, van die grootste tot die kleinste, openbaar aspekte van sy persoonlikheid. Ongeag waar ons kyk—na die hemele bo ons of na die grond onder ons voete—ons vind oorvloedige bewys van ’n alwyse en liefdevolle Skepper. Ons kan baie omtrent hom leer deur die dinge wat hy gemaak het, te ondersoek.—Ps. 19:1; Jes. 40:26.
5, 6. (a) Wie benewens Jehovah was by die skepping betrokke? (b) Wat sal ons bespreek, en waarom?
5 Jehovah was nie alleen toe hy “die hemel en die aarde geskep” het nie (Gen. 1:1). Volgens die Bybel het hy lank voordat hy met die fisiese skepping begin het, ’n geespersoon geskep deur middel van wie hy “alle ander dinge” gemaak het. Hierdie geesskepsel was God se enigverwekte Seun—“die eersgeborene van die hele skepping”—wat later op die aarde gelewe het as die man Jesus (Kol. 1:15-17). Soos Jehovah, besit Jesus wysheid. Trouens, in Spreuke hoofstuk 8 word hy as verpersoonlikte wysheid uitgebeeld. Hierdie Bybelhoofstuk verwys ook na Jesus as God se “meesterwerker”.—Spr. 8:12, 22-31.
6 Die fisiese skepping openbaar dus die wysheid van Jehovah sowel as dié van sy Meesterwerker, Jesus. Dit bevat waardevolle lesse vir ons. Kom ons bespreek vier voorbeelde van skepsele wat in Spreuke 30:24-28 as “instinktief wys” beskryf word.a
’n Les in vlytigheid
7, 8. Watter feite omtrent die mier fassineer jou?
7 Wanneer ons hulle ontwerp en bedrywighede ondersoek, voorsien selfs die dinge wat “die kleinste van die aarde” genoem kan word, lesse vir ons. Kyk byvoorbeeld na die instinktiewe wysheid van die mier.—Lees Spreuke 30:24, 25.
8 Party navorsers meen dat daar vir elke mens ten minste 200 000 miere is, wat almal op en onder die aarde se oppervlak woel en werskaf. Miere is in kolonies georganiseer, en in die meeste kolonies kan drie soorte miere gevind word: koninginne, mannetjies en werkers. Elke groep help op sy eie manier om na die kolonie se behoeftes om te sien. ’n Spesifieke mier, die Suid-Amerikaanse blaarsnyermier, kan ’n bedrewe tuinier genoem word. Hierdie klein insek bemes, verplant en snoei sy swamtuine op so ’n wyse dat dit die grootste opbrengs lewer. Navorsers het gevind dat hierdie knap “tuinier” sy pogings aanpas na gelang van die hoeveelheid kos wat die kolonie nodig het.b
9, 10. Hoe kan ons die mier se vlytigheid navolg?
9 Ons kan by die miere leer. Hulle leer ons dat ywerige inspanning nodig is as ons goeie vrugte wil voortbring. Die Bybel sê vir ons: “Gaan na die mier, jou luiaard; kyk na sy weë en word wys. Hoewel hy geen aanvoerder, leier of heerser het nie, berei hy sy voedsel in die somer voor; hy het sy voedselvoorraad tydens die oes ingesamel” (Spr. 6:6-8). Jehovah sowel as sy Meesterwerker, Jesus, is vlytig. “My Vader het tot nou toe aangehou werk”, het Jesus gesê, “en ek hou aan werk.”—Joh. 5:17.
10 As navolgers van God en van Christus moet ons ook vlytig wees. Ongeag wat ons toewysing in God se organisasie is, ons almal moet “baie [hê] om in die werk van die Here te doen” (1 Kor. 15:58). Dit sal dus verstandig wees as ons Paulus se vermaning aan die Christene in Rome volg: “Moenie traag wees in julle bedrywighede nie. Gloei van die gees. Dien Jehovah as slawe” (Rom. 12:11). Ons pogings om Jehovah se wil te doen, is nie tevergeefs nie, want die Bybel verseker ons: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het [nie].”—Heb. 6:10.
Beskerming teen geestelike skade
11. Beskryf ’n paar eienskappe van die klipdassie.
11 Die klipdassie is nog ’n betreklike klein diertjie wat ons belangrike lesse kan leer. (Lees Spreuke 30:26.) Hy lyk ietwat soos ’n groot konyn, maar het kort, ronde ore en kort bene. Hierdie diertjie woon in rotsagtige gebiede. Die skerp gesigsvermoë van die klipdassie is vir hom ’n groot voordeel, en die gate en skeure in sy rotsagtige habitat voorsien ’n veilige skuilplek teen roofdiere. Die klipdassie is gemaak om in ’n hegte gemeenskap te floreer, wat beskerming bied en hom help om in die winter warm te bly.c
12, 13. Watter lesse kan ons by die klipdassie leer?
12 Wat kan ons by die klipdassie leer? Let eerstens daarop dat hierdie diertjie hom nie aan aanvalle blootstel nie. Hy gebruik eerder sy skerp gesigsvermoë om roofdiere van ver af te sien, en hy bly naby gate en skeure wat lewensreddende skuiling kan bied. Ons het eweneens skerp geestelike gesigsvermoë nodig sodat ons die gevare wat in Satan se wêreld skuil, kan raaksien. Die apostel Petrus het Christene vermaan: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam. Julle teenstander, die Duiwel, loop rond soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind” (1 Pet. 5:8). Toe Jesus op die aarde was, het hy waaksaam gebly, op sy hoede vir al Satan se pogings om Sy onkreukbaarheid te ondermyn (Matt. 4:1-11). Jesus het ’n goeie voorbeeld vir sy volgelinge gestel!
13 Een manier waarop ons waaksaam kan wees, is deur gebruik te maak van die geestelike beskerming wat Jehovah aan ons beskikbaar stel. Ons moenie nalaat om God se Woord te bestudeer en Christelike vergaderinge by te woon nie (Luk. 4:4; Heb. 10:24, 25). En net soos die klipdassie in ’n hegte gemeenskap floreer, moet ons na aan ons mede-Christene bly sodat ons “wedersydse aanmoediging” met hulle kan geniet (Rom. 1:12). Deur gebruik te maak van die beskerming wat Jehovah voorsien, toon ons dat ons saamstem met die psalmis Dawid, wat geskryf het: “Jehovah is my groot rots en my vesting en die Een wat aan my ontkoming verskaf. My God is my rots. Tot hom sal ek my toevlug neem.”—Ps. 18:2.
Volharding ten spyte van teenstand
14. ’n Enkele sprinkaan is dalk nie indrukwekkend nie, maar wat kan van ’n sprinkaanswerm gesê word?
14 Ons kan ook by die sprinkaan leer. ’n Enkele sprinkaan, wat net omtrent vyf sentimeter lank is, is dalk nie juis ontsagwekkend nie, maar ’n sprinkaanswerm is beslis. (Lees Spreuke 30:27.) ’n Swerm van hierdie meedoënlose insekte, wat bekend is vir hulle onversadigbare eetlus, kan ’n landery wat gereed is vir die oes, gou kaalstroop. Die Bybel vergelyk die geluid van ’n aankomende swerm insekte, onder andere sprinkane, met die gedreun van strydwaens en die geknetter van vlamme wat stoppels verteer (Joël 2:3, 5). Mense maak soms vure in ’n poging om ’n sprinkaanswerm te keer, maar dit is gewoonlik ondoeltreffend. Waarom? Die liggame van die sprinkane wat deur die vuur doodgemaak word, blus die vlamme, waarna die res van die swerm ongehinderd voortbeweeg. Selfs sonder ’n koning of ’n leier funksioneer ’n sprinkaanswerm soos ’n goed georganiseerde leër, wat feitlik enige hindernis te bowe kom.d—Joël 2:25.
15, 16. Hoe is hedendaagse Koninkryksverkondigers soos ’n sprinkaanswerm?
15 Die profeet Joël het die bedrywighede van Jehovah se knegte met dié van sprinkane vergelyk. Hy het geskryf: “Soos kragtige manne hardloop hulle. Soos krygsmanne klim hulle teen ’n muur op. En hulle gaan elkeen in sy eie weë, en hulle verander nie hulle paaie nie. En hulle stamp mekaar nie. Soos ’n man op sy weg, bly hulle gaan; en as party tussen die werpspiese val, wyk die ander nie van koers af nie.”—Joël 2:7, 8.
16 Hoe goed beskryf hierdie profesie tog hedendaagse verkondigers van God se Koninkryk! Geen “muur” van teenstand kon hulle predikingswerk stopsit nie. Hulle volg eerder Jesus na, wat aangehou het om God se wil te doen, al is hy deur baie verag (Jes. 53:3). Dit is waar dat party Christene ‘tussen die werpspiese geval het’ deurdat hulle as martelaars vir hulle geloof doodgemaak is. Nogtans gaan die predikingswerk voort, en die aantal Koninkryksverkondigers neem steeds toe. Trouens, vervolging het dikwels gehelp om die goeie nuus te versprei na mense wat andersins nie die Koninkryksboodskap sou gehoor het nie (Hand. 8:1, 4). Het jy in jou persoonlike bediening volharding soos dié van die sprinkaan aan die dag gelê—selfs ondanks onverskilligheid en teenstand?—Heb. 10:39.
“Hou vas aan wat goed is”
17. Waarom kleef die geitjie se pote aan gladde oppervlakke?
17 Die klein geitjie word skynbaar nie deur swaartekrag geraak nie. (Lees Spreuke 30:28.) Trouens, wetenskaplikes verwonder hulle oor hierdie diertjie se vermoë om teen mure op te hardloop en selfs oor gladde plafonne te skarrel sonder om te val. Hoe doen die geitjie dit? Die geheim lê nie in suigdoppe of in ’n soort gom nie. Elk van die geitjie se tone het eerder ’n kussinkie met riwwe wat duisende haaragtige uitsteeksels bevat. Elk van hierdie uitsteeksels het dan weer honderde draadjies met pieringvormige punte. Die intermolekulêre krag van al hierdie draadjies is sterk genoeg om meer as die geitjie se gewig te dra—selfs wanneer hy onderstebo oor ’n glasoppervlak skarrel! Navorsers, wat gefassineer is deur die geitjie se vermoë, sê dat sintetiese stowwe wat die geitjie se pote naboots, as ’n baie sterk kleefstof sou kon dien.e
18. Hoe kan ons seker maak dat ons altyd ‘vashou aan wat goed is’?
18 Wat kan ons by die geitjie leer? Die Bybel vermaan ons: “Verafsku wat goddeloos is, hou vas aan wat goed is” (Rom. 12:9). Die skadelike invloede wat algemeen is in Satan se wêreld, kan veroorsaak dat ons ons houvas op goddelike beginsels verloor. Byvoorbeeld, omgang met diegene wat nie God se wette gehoorsaam nie—hetsy by die skool of by die werk of deur middel van ’n vorm van goddelose vermaak—kan ons vasbeslotenheid om te doen wat reg is, ondermyn. Moenie toelaat dat dit met jou gebeur nie! God se Woord waarsku: “Moenie wys word in jou eie oë nie” (Spr. 3:7). Volg eerder die wyse raad wat Moses aan God se volk van ouds gegee het: “Jehovah jou God moet jy vrees. Hom moet jy dien en hom moet jy aankleef” (Deut. 10:20). As ons Jehovah aankleef, sal ons Jesus navolg, van wie daar gesê is: “U het regverdigheid liefgehad en u het wetteloosheid gehaat.”—Heb. 1:9.
Lesse wat ons uit die skepping kan leer
19. (a) Watter eienskappe van Jehovah neem jy in die skepping waar? (b) Hoe kan goddelike wysheid ons tot voordeel strek?
19 Soos ons gesien het, kan Jehovah se eienskappe duidelik waargeneem word in die dinge wat hy gemaak het, en sy skeppingswerke voorsien ook waardevolle lesse vir ons. Hoe meer ons Jehovah se werke ondersoek, hoe meer verwonder ons ons oor sy wysheid. As ons aandag skenk aan goddelike wysheid, sal dit ons nou gelukkiger maak en ons in die toekoms beskerm (Pred. 7:12). Ja, ons sal persoonlik sien hoe waar die versekering in Spreuke 3:13, 18 is, wat sê: “Gelukkig is die mens wat wysheid gevind het en die mens wat onderskeidingsvermoë verkry. Dit is ’n boom van die lewe vir dié wat dit aangryp, en dié wat dit stewig vashou, sal gelukkig genoem word.”
[Voetnote]
a Veral jongmense sal dit dalk geniet om die verwysings in die hieropvolgende voetnote na te slaan en dan kommentaar te lewer oor hulle navorsing wanneer hierdie artikel by die gemeentelike Wagtoring-studie bespreek word.
b Vir meer inligting oor die blaarsnyermier, sien die Ontwaak! se nommers van 22 Maart 1997, bladsy 31, en 22 Mei 2002, bladsy 31.
c Vir meer inligting oor die klipdassie, sien die Ontwaak! van 8 September 1990, bladsye 15-16.
d Vir meer inligting oor die sprinkaan, sien die Ontwaak! van 8 Februarie 1977, bladsy 20.
e Vir meer inligting oor die geitjie, sien die Ontwaak! van April 2008, bladsy 26.
Onthou jy?
Watter praktiese les leer ons by . . .
• die mier?
• die klipdassie?
• die sprinkaan?
• die geitjie?
[Prent op bladsy 16]
Is jy vlytig soos die blaarsnyermier?
[Prente op bladsy 17]
Die klipdassie vind beskerming in ’n hegte gemeenskap. Is dit die geval met jou?
[Prente op bladsy 18]
Soos sprinkane lê Christenbedienaars volharding aan die dag
[Prent op bladsy 18]
Net soos ’n geitjie aan oppervlakke kleef, hou Christene vas aan wat goed is
[Erkenning]
Stockbyte/Getty Images