HOOFSTUK TIEN
Dra by tot gesinslewe wat God behaag
1. Waarom geniet Jehovah se Getuies oor die algemeen ’n gelukkige gesinslewe?
JEHOVAH SE GETUIES is welbekend daarvoor dat hulle ’n gelukkige gesinslewe geniet. Professor Bryan Wilson van die Universiteit van Oxford het geskryf: “Die Getuies bied praktiese raad oor ’n groot verskeidenheid onderwerpe . . . oor huweliksverhoudinge, sedelike kwessies, die grootmaak van kinders en ander praktiese sake. [Hulle] het baie om aan te bied in die vorm van ferm raad wat deur die Heilige Skrif ondersteun word en tot ’n samehangende lewensfilosofie gevorm word.” Jy het ongetwyfeld self al baie uit God se Woord geleer oor hoe om ’n goeie gesinslewe te geniet.
2. (a) Wat het jy opgemerk omtrent gesinne in die wêreld van vandag? (b) In watter Bybelboeke gaan ons na raad oor die gesinslewe soek?
2 Terwyl die dag van Jehovah nader kom, val Satan veral gesinne aan. Gevolglik het baie mense vertroue in lede van hulle eie gesin verloor, net soos in die dae van Miga. Hy het geskryf: “Moenie julle geloof in ’n metgesel stel nie. . . . Bewaak die poorte van jou mond teenoor haar wat aan jou boesem lê. Want ’n seun verag ’n vader, ’n dogter staan op teen haar moeder, ’n skoondogter teen haar skoonmoeder; ’n mens se huisgenote is sy vyande” (Miga 7:5, 6). Jy lewe in ’n wêreld waarin die gesinsreëling agteruitgaan, en tog stry jy hard daarteen om nie negatief beïnvloed te word nie. Gevolglik is jou gesinslewe aangenamer, welgevalliger vir God. Jy het waarskynlik tekste soos Deuteronomium 6:5-9, Efesiërs 5:22–6:4 en Kolossense 3:18-21 toegepas. Maar het jy ooit die boeke van die 12 profete beskou as ’n bron van raad vir ’n gelukkige gesinslewe? In hierdie hoofstuk sal ons ’n paar voorbeelde van raad hieroor in hierdie boeke bespreek. Maar moenie net op hierdie spesifieke voorbeelde van raad let nie. Probeer ’n basiese benadering in hierdie voorbeelde onderskei wat jy kan gebruik om ander lesse uit hierdie boeke te leer. Aan die einde van hierdie hoofstuk word ’n paar tekste aangegee wat jou oefening sal gee om lesse uit hierdie 12 boeke te leer.
“HY HET EGSKEIDING GEHAAT”
3, 4. (a) Hoe probeer baie mense vandag hulle huweliksprobleme oplos? (b) Watter betreurenswaardige gesindheid teenoor die huwelik het in Maleagi se dag bestaan?
3 ’n Logiese punt van belang om mee te begin, is die band tussen man en vrou. Tot onlangs toe het die meeste mense egskeiding nie as ’n maklike oplossing vir huweliksprobleme beskou nie. Dit was gewoonlik moeilik om ’n egskeiding te verkry; gedurende die 19de eeu in Engeland was ’n parlementsbesluit nodig om ’n egskeiding te verkry. Sulke beskouings het help keer dat gesinne verbrokkel. Maar nou is dinge heeltemal anders. Die Encyclopædia Britannica sê: “Egskeidingsyfers het sedert die Tweede Wêreldoorlog in baie lande merkbaar toegeneem . . . Gesindhede teenoor egskeiding het drasties verander . . . , en die gebruik word oor die algemeen aanvaar.” Egskeiding word nou ’n maatskaplike verskynsel selfs in lande soos Korea, waar egskeiding ’n dekade gelede nog afgekeur is. Vandag voel mense in baie lande dat egskeiding ’n praktiese uitweg is vir egpare met huweliksprobleme.
4 In Maleagi se dag in die vyfde eeu v.G.J. was egskeiding aan die orde van die dag onder die Jode. Maleagi het vir hulle gesê: “Jehovah [is] getuie . . . tussen jou en die vrou van jou jeug, met wie jy verraderlik gehandel het.” As gevolg van die verraderlike handelswyse van getroude mans is die altaar van Jehovah met die trane van verstote vrouens bedek, “met gehuil en gesug”. En verdorwe priesters het sulke wreedheid vergoelik!—Maleagi 2:13, 14.
5. (a) Hoe beskou Jehovah egskeiding? (b) Waarom is dit so ’n ernstige saak om verraderlik teenoor jou huweliksmaat op te tree?
5 Hoe het Jehovah die betreurenswaardige gesindheid teenoor die huwelik in Maleagi se tyd beskou? “‘Hy het egskeiding gehaat’, het Jehovah, die God van Israel, gesê”, het Maleagi geskryf. Hy het ook bevestig dat Jehovah ‘nie verander het nie’ (Maleagi 2:16; 3:6). Sien jy die punt? God het vroeër ’n standpunt teen egskeiding ingeneem (Genesis 2:18, 24). Hy het dit in Maleagi se dag gedoen. En hy doen dit vandag nog. Party mense besluit dalk om hulle huwelik te beëindig bloot omdat hulle ontevrede is met hulle huweliksmaat. Hoe verraderlik hulle hart ook al is, Jehovah deursoek dit (Jeremia 17:9, 10). Hy is bewus van enige bedrog of kwaadwillige gekonkel agter ’n egskeiding, ongeag hoe iemand dit ook al probeer regverdig. Ja, “alles lê naak en oop en bloot voor die oë van hom aan wie ons rekenskap moet gee”.—Hebreërs 4:13.
6. (a) Hoe kan dit jou help as jy Jehovah se beskouing van egskeiding het? (b) Wat was die hoofgedagte van Jesus se raad oor egskeiding?
6 Jou huwelik is miskien nie op die randjie van ’n egskeiding nie, maar dit sal vir jou goed wees om Jehovah se beskouing in gedagte te hou. Niemand is volmaak nie; ons kan dus probleme en meningsverskille in die huwelik verwag. Maar sal jy egskeiding as ’n opsie, ’n maklike uitweg beskou? Sal jy in die hitte van ’n rusie die moontlikheid van ’n egskeiding meld? Baie het al, maar die goddelike beskouing van die huweliksband vereis dat mense harder probeer om ’n sukses van hulle huwelik te maak. Jesus Christus het weliswaar gesê dat daar een geldige rede vir egskeiding is—hoerery, dit wil sê alle vorme van geslagsomgang buite die huwelik. Maar wat was die hoofgedagte van Jesus se vermaning? Hy het vir sy toehoorders gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.” Ja, Jesus het Jehovah se onveranderlike standaard, wat Maleagi sowat 450 jaar vroeër gemeld het, gehandhaaf.—Matteus 19:3-9.
7. Hoe kan jy, in ooreenstemming met ’n vermaning in die boek Maleagi, ’n sterk huweliksband behou?
7 Hoe kan Christenegpare dan ’n sterk band behou? Maleagi het hierdie sleutel gegee: “Julle moet op julleself let met betrekking tot julle gees, en julle mag nie verraderlik handel nie” (Maleagi 2:16). Dit beteken dat ons die oorheersende neiging wat ons in ons het, moet dophou. As ons ‘op ons gees let’, sal ons versoekings verwerp om ongepaste aandag te skenk aan iemand wat nie ons huweliksmaat is nie (Matteus 5:28). Byvoorbeeld, sê nou ons geniet heimlik die spesiale aandag of vleiery wat ons van iemand anders van die teenoorgestelde geslag ontvang? Dit sou beteken dat ons nie meer so streng op onsself let met betrekking tot ons gees nie. ’n Sleutelles uit die 12 profete wat tot ’n sterk huweliksband sal bydra, is dus om aandag te skenk aan ‘ons gees’.
8, 9. Waarom is die episode van Hosea en Gomer in die Bybel ingesluit?
8 Jy is ongetwyfeld vasbeslote om jou huwelik gesond te hou. Jy is nietemin nie immuun teen probleme in die huwelikslewe nie. Hoe kan jy enige probleme wat ontstaan, met welslae die hoof bied, veral as jy voel dat die skuld hoofsaaklik by jou huweliksmaat lê? Dink aan wat vroeër in hierdie boek, in Hoofstukke 2 en 4, oor Hosea gesê is. Sy vrou, Gomer, het “’n vrou van hoerery” geword en toe ‘haar hartstogtelike minnaars agternagesit’. Later is sy verstoot en het sy arm en ’n slaaf geword. Hosea het Gomer teen ’n prys teruggeneem, en hy is aangespoor om haar lief te hê. Waarom? Om op aanskoulike wyse uit te beeld wat tussen Jehovah en Israel gebeur het. Jehovah was ’n “eggenoot-eienaar”, en sy volk was as ’n vrou aan hom verbonde.—Hosea 1:2-9; 2:5-7; 3:1-5; Jeremia 3:14; Jesaja 62:4, 5.
9 Die Israeliete het Jehovah sedert vroeë tye al gekrenk deur ander gode te volg (Eksodus 32:7-10; Rigters 8:33; 10:6; Psalm 78:40, 41; Jesaja 63:10). Die noordelike tienstammeryk in die besonder was laakbaar weens kalfaanbidding (1 Konings 12:28-30). Daarbenewens het die Israeliete nie op hulle Eggenoot-Eienaar, Jehovah, vertrou nie, maar hulle eerder tot politieke minnaars gewend. Eenkeer het hulle, soos ’n bronstige, steeks sebra, agter Assirië aan gegaan (Hosea 8:9). Hoe sal jy voel as jou huweliksmaat so optree?
10, 11. Hoe kan jy Jehovah navolg as jy jou in ’n huweliksituasie bevind waarin jou maat blykbaar die skuldige is?
10 Teen Hosea se tyd het meer as 700 jaar verloop sedert die Israeliete in ’n verbondsverhouding met Jehovah gekom het. God was nietemin bereid om hulle te vergewe, mits hulle tot hom terugkeer. Daar word gemeen dat Hosea voor 803 v.G.J. begin profeteer het; Jehovah se verdraagsaamheid het dus nog ongeveer 60 jaar vir Israel en byna 200 jaar vir Juda voortgeduur! Deur Hosea se gesinsituasie as ’n illustrasie te gebruik, het Jehovah nog steeds sy verbondsvolk genooi om berou te toon. Hy het grondige redes gehad om sy huwelik met Israel te beëindig, en tog het hy profete bly stuur om sy figuurlike vrou te help terugkeer, al het dit ’n opoffering van hom geverg.—Hosea 14:1, 2; Amos 2:11.
11 Sal jy soos Jehovah reageer as jy jou in ’n huweliksituasie bevind waarin jou maat blykbaar die skuldige is? Sal jý pogings aanwend om jou huwelik tot sy vorige toestand te herstel? (Kolossense 3:12, 13). Dit vereis nederigheid. Wat ’n wonderlike voorbeeld het Jehovah tog gestel in sy handelinge met die Israeliete! (Psalm 18:35; 113:5-8). God het ‘tot die Israeliete se hart gespreek’, selfs by hulle gepleit. Het ons, as onvolmaakte mense, nie groter rede om tot ons maat se hart te spreek terwyl ons daarna streef om probleme op te los en foute oor te sien nie? Dit is betekenisvol dat Jehovah se pogings wel vrugte afgewerp het. ’n Oorblyfsel van die nasie het hulle hart geopen terwyl hulle in die wildernis van hulle ballingskap in Babilon was, en hulle het later na hulle vaderland teruggekeer en Jehovah “My man” genoem.—Hosea 2:14-16.a
12. Hoe kan dit jou huwelik help as jy peins oor hoe Jehovah sy figuurlike vrou behandel het?
12 As ’n ernstige probleem ontstaan, sal jou opregte pogings om jou verhouding met jou maat te herstel, heel waarskynlik goeie vrugte afwerp. God was bereid om sy figuurlike maat selfs vir die ernstige sonde van geestelike hoerery te vergewe. Die meeste huweliksprobleme onder ware Christene het nie so ’n krisispunt bereik nie. Baie probleme begin met harde of kwetsende woorde. As jou maat se skerp woorde jou gevoelens seergemaak het, moet jy dus dink aan wat Hosea, en Jehovah self, deurgemaak het (Spreuke 12:18). Sal dit jou nie help om te vergewe nie?
13. Watter les kan ons leer uit die feit dat Jehovah verwag het dat sy eiesinnige volk berou moet toon?
13 Daar is nog ’n aspek van hierdie geskiedkundige verslag waarop ons kan let. Was God bereid om sy verhouding met sy volk te herstel terwyl hulle hoerery bly pleeg het? God het vir Hosea aangaande die owerspelige nasie gesê: “Sy moet haar hoerery voor haar verwyder en haar dade van egbreuk tussen haar borste uit” (Hosea 2:2). Die volk moes berou toon en ‘vrugte voortbring wat by berou pas’ (Matteus 3:8). Spits jou in hierdie opsig eerder op jou eie tekortkominge toe as op dié van jou maat. As jy jou maat veronreg het, kan jy gerus die verhouding probeer herstel deur opreg om verskoning te vra en jou handelswyse te verander. Moontlik word jy met vergifnis beloon.
“DIE KOORDE VAN LIEFDE”—’N GRONDSLAG VIR DISSIPLINE
14, 15. (a) Waarom moet jy, in die lig van Maleagi 4:1, die verantwoordelikheid om jou kinders te onderrig, ernstig opneem? (b) Hoe kan jy jou kinders help om Jehovah te leer ken?
14 Ons kan nog meer omtrent gesinslewe leer uit Jehovah se handelinge met die Israeliete wat in die 12 profete gemeld word. Hierdie boeke bevat aanduidings van hoe jy jou kinders kan help. Om die minste te sê, dit is vandag nie maklik om kinders groot te maak nie. Ouers moet hulle verantwoordelikheid ernstig opneem. Ons lees: “‘Die dag wat kom, sal [mense] beslis verslind’, het Jehovah van die leërs gesê, ‘sodat dit vir hulle geen wortel of tak sal oorlaat nie’” (Maleagi 4:1). In daardie dag van afrekening sal daar regverdig opgetree word teenoor jong kinders (takke) volgens Jehovah se beoordeling van hulle ouers (wortels), wat verantwoordelik is vir jong kinders (Jesaja 37:31). Hoe ouers lewe, kan die toekoms van hulle kinders bepaal, ten goede of ten kwade (Hosea 13:16). Wat kan op die dag van Jehovah se grimmigheid met jou kinders (die takke) gebeur as jy (die wortel) nie ’n goeie posisie voor hom behou nie? (Sefanja 1:14-18; Efesiërs 6:4; Filippense 2:12). Daarteenoor kan jou getroue pogings om God se goedkeuring te geniet, jou kinders tot voordeel strek.—1 Korintiërs 7:14.
15 Nadat die apostel Paulus Joël se profesie aangehaal het oor hoe belangrik dit is om die naam van Jehovah aan te roep, het hy geskryf: “Hoe sal hulle hom aanroep in wie hulle nie geloof gestel het nie? En hoe sal hulle geloof stel in hom van wie hulle nie gehoor het nie?” (Romeine 10:14-17; Joël 2:32). Paulus het van ons openbare bediening gepraat, maar jy kan die beginsel op die onderrigting van jou kinders toepas. Hoe kan hulle geloof stel in Jehovah sonder om van hom te hoor? Bestee jy dag vir dag genoeg tyd daaraan om jou kinders te leer hoe goed Jehovah is, sodat jy innige liefde vir hom en sy leiding in hulle wek? Kinders sal waarskynlik floreer as hulle in die gesinsmilieu voortdurend van Jehovah hoor.—Deuteronomium 6:7-9.
16. Hoe kan jy, in ooreenstemming met Miga 6:3-5, Jehovah navolg wanneer jy jou kinders dissiplineer?
16 Wanneer kinders baie jonk is, is dit miskien redelik maklik om hulle by Christelike vergaderinge te kry. Maar namate hulle ouer word, begin hulle hulle eie menings vorm. Hoe kan jy teenoor jou kinders optree as hulle van tyd tot tyd opstandige neigings toon? Jy kan uit die 12 profete leer deur te kyk hoe Jehovah teenoor Israel en Juda opgetree het (Sagaria 7:11, 12). Let byvoorbeeld op die toon van Miga 6:3-5 terwyl jy dit lees. Die Israeliete het gesondig; nietemin het God hulle as “my volk” aangespreek. Hy het gepleit: “O my volk, dink asseblief.” Hy het hulle nie met skerp woorde beskuldig nie, maar eerder hulle hart probeer bereik. Kan jy Jehovah navolg selfs wanneer jy jou kinders dissiplineer? Hoe verkeerd hulle ook al is, behandel hulle as ’n onmisbare deel van die gesin en moet hulle nie verkleinerend aanspreek nie. Doen eerder ’n liefdevolle beroep op hulle as om hulle te veroordeel. Vra vrae om uit te vind wat hulle dink. Probeer hulle hart bereik sodat hulle sê hoe hulle werklik voel.—Spreuke 20:5.
17, 18. (a) Wat moet jou beweeg om jou kinders te dissiplineer? (b) Hoe kan jy “die koorde van liefde” met jou kinders behou?
17 Waarom dissiplineer jy jou kinders? Party ouers doen dit omdat hulle nie wil hê dat die gesin se naam beklad moet word nie. Jehovah het getoon wat die beweegrede vir sy dissipline was en gesê: “Ek het Efraim leer loop, hulle op my arms geneem . . . Met die toue van die mens het ek hulle bly trek, met die koorde van liefde” (Hosea 11:3, 4). In hierdie geval vergelyk Hosea die verhouding tussen Jehovah en Israel met dié van ’n vader en ’n seun. Kan jy jou ’n liefdevolle ouer voorstel wat die kind met koorde in die hand lei terwyl hy probeer om die waggelende kindjie te help loop? Die koorde is ’n hulp wanneer die baba struikel, ’n gids wanneer hy wegdwaal.—Jeremia 31:1-3.
18 Sal jy God se liefde vir die Israeliete navolg? Hulle het keer op keer hulle rug op hom gedraai, maar hy het nie daardie koorde van liefde gou laat los nie. Dit lyk miskien of kinders geneig is om soms die spoor byster te raak en om oor klein dingetjies te struikel, maar probeer die liefdesbande tussen jou en hulle behou. Hou in gedagte dat Jehovah nie deur partydigheid verblind is sodat hy die oortreding van sy volk oor die hoof gesien het nie. Hy het die situasie onder die oë gesien en hulle liefdevol gedissiplineer, en hy het die tyd geneem om die nodige hulp te voorsien. As dit vir jou lyk asof jou seun of dogter van die weg van die waarheid begin afdwaal, moet jy dit nie ignoreer nie. Probeer hom of haar teruglei, asof met koorde wat as ’n gids dien, deur liefdevolle hulp gedurende hierdie moeilike tyd te voorsien. Bring tyd deur saam met jou kinders wat probleme het. Dít kan nie oorbeklemtoon word nie—bring tyd saam met hulle deur!
19. Waarom moet jy nie moed opgee met jou kinders nie?
19 Hosea het vooruitgesien dat ’n oorblyfsel Israeliete dissipline sou aanvaar: “Die kinders van Israel [sal] terugkom en beslis Jehovah hulle God en Dawid hulle koning soek; en hulle sal beslis sidderend na Jehovah en na sy goedheid kom aan die einde van die dae” (Hosea 3:5). Ja, God se dissipline het ’n positiewe uitwerking op ’n oorblyfsel van sy volk gehad. Wees optimisties dat dit ook die geval met jou kinders sal wees. Probeer die goeie in hulle sien. Wees liefdevol wanneer jy met hulle praat, maar bly onwrikbaar by Bybelbeginsels. Al reageer ’n weerspannige kind nie nou gunstig nie, wie weet of hy nie later tot besinning sal kom nie?
PAS OP VIR SLEGTE OMGANG!
20. Die antwoord op watter vraag oor omgang kan jongmense in die boeke van die 12 profete vind?
20 Jongmense, wat kan julle uit die 12 profete leer? Een van die tekste wat die meeste aangehaal word in besprekings tussen julle en julle ouers, is moontlik 1 Korintiërs 15:33 oor slegte omgang wat vermy moet word. ‘Maar is dit regtig so sleg om vriende te wees met diegene wat Jehovah nie aanbid nie?’ wonder party van julle dalk. Wel, julle kan die antwoord op dié vraag in hierdie 12 boeke vind.
21-23. (a) Wat kan jongmense leer uit die weg wat die Edomiete gevolg het? (b) Wie is werklik jou vriende?
21 Hoewel die boeke van die 12 profete hoofsaaklik tot God se volk gerig is, het die boek Obadja die Edomiete aangespreek, wat die Israeliete se broers genoem is (Deuteronomium 2:4).b In teenstelling met die meeste van die ander boeke van die 12 profete gebruik Obadja die voornaamwoorde “jy” en “jou” met verwysing na die Edomiete. Dink nou ’n bietjie aan die Edomiete. Dit is omstreeks 607 v.G.J., die jaar waarin Jerusalem beleër word. Hoewel die Edomiete bloedverwante van Jakob is, span hulle met die Babiloniërs saam! “Lê dit bloot! Lê dit bloot!” roep die Edomiete spottend uit (Psalm 137:7; Obadja 10, 12). Hulle is van plan om die land van Juda in besit te neem. Hulle eet selfs saam met die Babiloniërs, wat in die Ooste daarop kan dui dat die twee partye in ’n verbondsverhouding is.
22 Let op wat Obadja omtrent die Edomiete voorspel: “Al die manne [die Babiloniërs] wat in ’n verbond met jou is, het jou bedrieg. Die manne wat in vrede met jou gelewe het, het die oorhand oor jou gekry. Dié wat saam met jou voedsel eet, sal ’n net span onder jou as iemand in wie daar geen onderskeidingsvermoë is nie” (Obadja 7). Wat het op die ou end met die Edomiete gebeur, wat hulle broer, Jakob, versaak het en die Babiloniërs as metgeselle gekies het? Die Babiloniërs onder Nabonidus het uiteindelik die Edomiete vernietig. Teen Maleagi se dag het God die berge van Edom ’n verlate woesteny gemaak en Edom se erfdeel vir die jakkalse gegee.—Maleagi 1:3.
23 Dink nou aan jou sogenaamde vriende wat Jehovah nie aanbid nie. Het jy nie al opgemerk dat ‘die seuns [of meisies] wat in ’n verbond is’, of vriendskapsbande het, mekaar dikwels bedrieg en “’n net span onder” hulle sogenaamde vriende nie? Wat sê hulle wanneer die bedrog aan die lig kom? Hulle beskou moontlik die vriende wat deur hulle bedrieg is, as naïef, asof hulle nie genoeg onderskeidingsvermoë het om deur iemand anders se skelmstreke te sien nie. Hoe kom dit tog nie ooreen met hoe die Babiloniërs hulle metgeselle, die Edomiete, behandel het nie! Dink jy dat sulke “vriende” werklik oor jou besorg sal wees wanneer jy probleme ervaar? (Obadja 13-16). Dink daarenteen aan Jehovah God en sy hedendaagse volk. Jehovah is altyd daar om jou te help. Hy sal jou deur moeilike tye onderskraag. Sy volk is ook ‘ware metgeselle wat te alle tye liefhet’, soos getroues “wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is”.—Spreuke 17:17.
WAARDEER DIE ALLERBELANGRIKSTE BAND
24, 25. Wat moet van die allergrootste belang in ons lewe wees?
24 Ja, gesinsbande is belangrik en die moeite werd om te versterk. Ons kan baie lesse daaroor uit die 12 profete leer. Jy kan gerus hierdie boeke deurgaan en die metode toepas wat ons hier gebruik het. Dit sal jou in staat stel om selfs meer lesse daaruit te leer oor hoe om jou gesinslewe te verbeter. Maar is ’n gelukkige gesinslewe vandag vir God se aanbidders van die allergrootste belang?
25 Dit is interessant dat Joël in verband met die koms van Jehovah se dag geprofeteer het: “Versamel die volk. Heilig ’n gemeente. . . . Laat die bruidegom uit sy binnekamer uitgaan en die bruid uit haar bruidskamer” (Joël 2:15, 16). Almal in die huisgesin moes vir die aanbidding van Jehovah versamel word. Selfs die pasgetroudes, wie se aandag uiteraard verdeeld is, was geen uitsondering nie! Niks moet belangriker wees as dat ons ons voor God versamel nie. Aangesien die dag van Jehovah vinnig nader kom, moet ’n goeie posisie voor hom van die allergrootste belang in ons lewe wees. In die laaste deel van hierdie boek sal ons bespreek wat ons vandag met vreugde moet doen.
a In ’n geval waar ’n Christen se huweliksmaat skuldig is aan egbreuk, moet die onskuldige maat besluit of hy of sy dit gaan vergewe of nie.—Matteus 19:9.
b Die ander uitsondering is die boek Nahum, wat tot die Nineviete gerig is.