Spreek God se Woord met vrymoedigheid
“Gaan, profeteer teen my volk Israel.”—AMOS 7:15.
1, 2. Wie was Amos, en wat sê die Bybel oor hom?
TERWYL ’n getuie van Jehovah aan die bediening deelgeneem het, het ’n priester hom voorgekeer. Die priester het uitgeroep: ‘Hou op preek! Gee pad uit hierdie gebied!’ Wat het die getuie gedoen? Het hy die bevel gehoorsaam, of het hy voortgegaan om God se woord met vrymoedigheid te spreek? Jy kan uitvind, want daardie getuie het sy ondervindinge neergeskryf in ’n boek wat sy naam dra. Dit is die Bybelboek Amos. Maar kom ons kyk eers na ’n bietjie agtergrondinligting oor Amos voordat ons meer oor die ontmoeting met die priester leer.
2 Wie was Amos? Waar en wanneer het hy gelewe? Ons vind die antwoorde op hierdie vrae in Amos 1:1, waar ons lees: “Die woorde van Amos, wat onder die skaapboere uit Tekoa was, . . . in die dae van Ussia, die koning van Juda, en in die dae van Jerobeam, die seun van Joas, die koning van Israel.” Amos het in Juda gewoon. Sy tuisdorp was Tekoa, 16 kilometer suid van Jerusalem. Hy het teen die einde van die negende eeu v.G.J. gelewe, toe koning Ussia in Juda regeer het en Jerobeam II die koning van die tienstammeryk van Israel was. Amos was ’n skaapboer. Trouens, Amos 7:14 sê dat hy nie net “’n veewagter” was nie, maar ook “’n prikker van die vye van wildevyebome”. Gedurende ’n deel van die jaar het hy dus as ’n seisoenarbeider gewerk. Hy het vye geprik. Dit is gedoen om die vye gouer te laat ryp word. Dit was vermoeiende werk.
“Gaan, profeteer”
3. Hoe help dit ons om van Amos te leer as ons onbekwaam voel om te preek?
3 Amos het reguit gesê: “Ek was nie ’n profeet nie, en ook was ek nie die seun van ’n profeet nie” (Amos 7:14). Hy is nie as die seun van ’n profeet gebore of as ’n profeet opgelei nie. Maar uit al die mense in Juda het Jehovah Amos gekies om Sy werk te doen. In daardie tyd het God nie ’n magtige koning, ’n geleerde priester of ’n ryk owerste gekies nie. Hierin is vir ons ’n gerusstellende les. Ons het miskien min wêreldse status of formele opvoeding. Maar moet dit ons onbekwaam laat voel om God se woord te verkondig? Glad nie! Jehovah kan ons toerus om sy boodskap bekend te maak—selfs in moeilike gebiede. Aangesien dit presies is wat Jehovah vir Amos gedoen het, sal dit vir almal wat God se woord met vrymoedigheid wil spreek, leersaam wees om te kyk na die voorbeeld van daardie moedige profeet.
4. Waarom was dit vir Amos ’n uitdaging om in Israel te profeteer?
4 Jehovah het Amos beveel: “Gaan, profeteer teen my volk Israel” (Amos 7:15). Hierdie toewysing was ’n uitdaging. Die tienstammeryk van Israel het in daardie tyd vrede, veiligheid en materiële voorspoed geniet. Baie het ‘winterhuise’ sowel as ‘somerhuise’ laat bou, nie van gewone kleistene nie, maar van duur “gekapte klip”. Party het elegante meubels met ivoorinlegwerk gehad en het wyn gedrink wat in “begeerlike wingerde” geproduseer is (Amos 3:15; 5:11). Gevolglik was baie mense selfvoldaan. Ja, Amos se toegewese gebied was moontlik soortgelyk aan die gebiede waarin party van ons vandag ons bediening verrig.
5. Watter onregverdige dinge het party Israeliete gedoen?
5 Dit was nie verkeerd van die Israeliete om materiële besittings te hê nie. Maar party Israeliete het rykdom op oneerlike maniere vergaar. Die rykes het “die geringes te kort [gedoen]” en “die armes verdruk” (Amos 4:1). Invloedryke handelaars, regters en priesters het saamgespan om die armes te beroof. Laat ons nou teruggaan in die geskiedenis en kyk wat hierdie manne gedoen het.
God se Wet word oortree
6. Hoe het Israelitiese handelaars ander uitgebuit?
6 Ons gaan eers na die markplein. Daar het oneerlike handelaars ‘die efa klein gemaak’ en ‘die sikkel groot gemaak’, en hulle het selfs ‘blote afval’ as graan verkoop (Amos 8:5, 6). Die handelaars het hulle klante gekul met die hoeveelheid wat hulle verkoop het, en ook was die prys te hoog en die gehalte minderwaardig. Nadat die handelaars die armes in so ’n mate uitgebuit het dat hulle geruïneer was, moes daardie ongelukkige mense hulleself as slawe verkoop. Dan het die handelaars hulle “vir die prys van ’n paar sandale” gekoop (Amos 8:6). Dink net daaraan! In die oë van daardie gierige handelaars was hulle mede-Israeliete niks meer werd as ’n paar sandale nie! Wat ’n verskriklike vernedering was dit tog van die behoeftiges, en wat ’n ernstige oortreding van God se Wet! Nietemin het dieselfde handelaars “die sabbat” gehou (Amos 8:5). Ja, hulle was godsdienstig, maar net vir die skyn.
7. Waarom was dit vir Israel se handelaars moontlik om God se Wet te verbreek?
7 Hoe het die handelaars daarin geslaag om ongestraf te bly ten spyte daarvan dat hulle God se Wet verbreek het, wat beveel: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”? (Levitikus 19:18). Hulle het dit reggekry omdat dié wat die Wet moes toepas—die regters—hulle medepligtiges in die oortreding was. By die stadspoort, waar hofsake verhoor is, het die regters ‘swyggeld geneem en armes weggewys’. In plaas van die armes te beskerm, het die regters hulle vir omkoopgeld verraai (Amos 5:10, 12). Die regters het dus ook God se Wet geïgnoreer.
8. Watter gedrag het goddelose priesters kastig nie raakgesien nie?
8 Watter rol het Israel se priesters intussen gespeel? Om uit te vind, moet ons ons aandag na ’n ander plek verskuif. Kyk watter sondes het die priesters “in die huis van hulle gode” toegelaat! Deur Amos het God gesê: “’n Man en sy vader het na dieselfde meisie toe gegaan, om my heilige naam te ontheilig” (Amos 2:7, 8). Dink net daaraan! ’n Israelitiese vader en sy seun het hulle skuldig gemaak aan geslagsonsedelikheid met dieselfde tempelprostituut. En daardie goddelose priesters het kastig nie sulke onsedelikheid raakgesien nie!—Levitikus 19:29; Deuteronomium 5:18; 23:17.
9, 10. In watter opsigte het die Israeliete God se Wet oortree, en hoe kom dit met ons dag ooreen?
9 Met verwysing na ander sondige gedrag het Jehovah gesê: “Op klere wat as pand geneem is, strek hulle hulle langs elke altaar uit; en die wyn van dié wat beboet is, drink hulle in die huis van hulle gode” (Amos 2:8). Ja, priesters en die volk in die algemeen het ook die wet geïgnoreer wat in Eksodus 22:26, 27 opgeteken staan en sê dat ’n kledingstuk wat as pand geneem word, voor sononder teruggegee moes word. In plaas daarvan het hulle dit gebruik as ’n kombers om hulle op uit te strek terwyl hulle tot eer van valse gode geëet en gedrink het. En met die boetes wat hulle van die armes afgedwing het, het hulle wyn gekoop om by valse godsdiensfeeste te drink. Hoe ver het hulle tog afgedwaal van die weg van rein aanbidding!
10 Die Israeliete het die twee grootste gebooie van die Wet—om Jehovah lief te hê en om hulle medemens lief te hê—skaamteloos oortree. Daarom het God Amos gestuur om hulle weens hulle ontrouheid te veroordeel. Vandag weerspieël die nasies van die wêreld, met inbegrip van dié van die Christendom, die verdorwe toestand van eertydse Israel. Terwyl party mense floreer, word baie ander finansieel geruïneer en emosioneel geskaad deur die sedelose gebruike van oneerlike leiers van die sakewêreld, die politiek en valse godsdiens. Maar Jehovah is besorg oor diegene wat ly en wat hom soek. Daarom het hy sy hedendaagse knegte ’n werk soos dié van Amos gegee—om Sy woord met vrymoedigheid te verkondig.
11. Wat kan ons uit Amos se voorbeeld leer?
11 As gevolg van die ooreenkomste tussen ons werk en dié van Amos, sal ons grootliks daarby baat vind as ons na sy voorbeeld kyk. Trouens, Amos toon vir ons (1) wat ons moet verkondig, (2) hoe ons dit moet verkondig en (3) waarom teenstanders nie ons predikingswerk kan stopsit nie. Kom ons kyk een vir een na hierdie punte.
Hoe ons Amos kan navolg
12, 13. Hoe het Jehovah sy misnoeë met die Israeliete getoon, en hoe het hulle gereageer?
12 As Jehovah se Getuies maak ons die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk die middelpunt van ons Christelike bediening (Matteus 28:19, 20; Markus 13:10). Maar ons vestig ook die aandag op God se waarskuwings, net soos Amos verkondig het dat Jehovah oordeel aan die goddeloses sou voltrek. Amos 4:6-11 toon byvoorbeeld dat Jehovah sy misnoeë met Israel herhaaldelik bekend gemaak het. Hy het die volk ’n “gebrek aan brood” gegee, “die stortreën van [hulle] teruggehou”, hulle met “verskroeiing en heuningdou getref” en “’n pes” onder hulle gestuur. Het hierdie dinge Israel beweeg om berou te toon? “Julle het nie tot my teruggekeer nie”, het God gesê. Trouens, die Israeliete het Jehovah keer op keer verwerp.
13 Jehovah het die onberouvolle Israeliete gestraf. Maar hulle het eers ’n profetiese waarskuwing ontvang. In ooreenstemming hiermee het God gesê: “Die Soewereine Heer Jehovah sal niks doen tensy hy sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie” (Amos 3:7). God het vir Noag vertel dat Hy die Vloed gaan bring en hom aangesê om ’n waarskuwing te gee. So ook het Jehovah vir Amos gesê om ’n laaste waarskuwing te gee. Ongelukkig het Israel daardie goddelike boodskap geïgnoreer en versuim om die regte stappe te doen.
14. Watter ooreenkomste is daar tussen Amos se tyd en ons dag?
14 Jy sal ongetwyfeld saamstem dat daar treffende ooreenkomste tussen Amos se tyd en ons dag is. Jesus Christus het voorspel dat baie rampspoede gedurende die tyd van die einde sou plaasvind. Hy het ook ’n wêreldwye predikingswerk voorspel (Matteus 24:3-14). Maar soos in Amos se dag, ignoreer die meeste mense vandag die tekens van die tye sowel as die Koninkryksboodskap. Vir dié mense sal die gevolge dieselfde wees as dié wat oor die onberouvolle Israeliete gekom het. Jehovah het hulle gewaarsku: “Maak jou gereed om jou God te ontmoet” (Amos 4:12). Hulle het God ontmoet deurdat hulle sy ongunstige oordeel ervaar het toe Assirië hulle verslaan het. Vandag sal hierdie goddelose wêreld ‘God ontmoet’ by Armageddon (Openbaring 16:14, 16). Maar solank as wat Jehovah se geduld voortduur, spoor ons soveel mense moontlik aan: “Soek Jehovah, en bly lewe.”—Amos 5:6.
Bied teenstand die hoof soos Amos
15-17. (a) Wie was Amasia, en hoe het hy op Amos se uitsprake gereageer? (b) Watter aantygings het Amasia teen Amos ingebring?
15 Ons kan Amos navolg, nie net in wat ons verkondig nie, maar ook in hoe ons dit verkondig. Hierdie feit kom in hoofstuk 7 na vore, waar ons vertel word van die priester wat aan die begin van ons bespreking gemeld is. Hy was “Amasia, die priester van Bet-El” (Amos 7:10). Die stad Bet-El was ’n sentrum van Israel se afvallige godsdiens, wat kalfaanbidding ingesluit het. Amasia was dus ’n priester van die staatsgodsdiens. Hoe het hy op Amos se moedige uitsprake gereageer?
16 Amasia het vir Amos gesê: “O siener, gaan, maak dat jy wegkom na die land van Juda, en eet daar brood, en daar kan jy profeteer. Maar in Bet-El mag jy verder nie meer profeteer nie, want dit is die heiligdom van ’n koning en dit is die huis van ’n koninkryk” (Amos 7:12, 13). Amasia het in werklikheid gesê: ‘Gaan huis toe! Ons het ons eie godsdiens.’ Hy het ook die regering sover probeer kry om Amos se bedrywighede te verbied deur vir koning Jerobeam II te sê: “Amos het binne die huis van Israel ’n sameswering teen u gesmee” (Amos 7:10). Ja, Amasia het Amos van verraad beskuldig! Hy het vir die koning gesê: “Só het Amos gesê: ‘Deur die swaard sal Jerobeam sterf; en Israel sal vir seker uit sy land in ballingskap gaan.’”—Amos 7:11.
17 Met hierdie woorde het Amasia drie misleidende stellings gemaak. Hy het gesê: “Só het Amos gesê.” Maar Amos het nooit beweer dat hy die bron van die profesie is nie. Inteendeel, hy het altyd gesê: “Só het Jehovah gesê” (Amos 1:3). Amos is ook daarvan beskuldig dat hy gesê het: “Deur die swaard sal Jerobeam sterf.” Maar soos opgeteken in Amos 7:9, het Amos voorspel: “Ek [Jehovah] sal met ’n swaard teen die huis van Jerobeam opstaan.” God het hierdie rampspoed vir Jerobeam se “huis”, sy nageslag, voorspel. Verder het Amasia beweer dat Amos gesê het: ‘Israel sal vir seker in ballingskap gaan.’ Maar Amos het ook voorspel dat enige Israeliet wat tot God terugkeer, seëninge sou ontvang. Dit is duidelik dat Amasia verdraaide halwe waarhede gebruik het om ’n amptelike verbod op Amos se predikingswerk te probeer kry.
18. Watter ooreenkomste is daar tussen die metodes wat Amasia gebruik het en dié wat vandag deur geestelikes gebruik word?
18 Het jy die ooreenkomste gesien tussen die metodes wat Amasia gebruik het en dié wat vandag deur teenstanders van Jehovah se volk gebruik word? Net soos Amasia Amos probeer stilmaak het, probeer sekere priesters, kerkvorste en patriarge van ons dag die predikingswerk van Jehovah se knegte keer. Amasia het Amos valslik van verraad beskuldig. Vandag beskuldig party geestelikes Jehovah se Getuies eweneens valslik daarvan dat hulle die landsveiligheid bedreig. En net soos Amasia hom tot die koning gewend het om hulp in sy stryd teen Amos, wend die geestelikes hulle dikwels tot politieke bondgenote om hulp in hulle vervolging van Jehovah se Getuies.
Teenstanders kan nie ons predikingswerk stopsit nie
19, 20. Hoe het Amos op die teenstand van Amasia gereageer?
19 Hoe het Amos op Amasia se teenstand gereageer? Amos het eerstens vir die priester gevra: “Sê jy: ‘Jy mag nie teen Israel profeteer nie’?” Toe het God se moedige profeet sonder aarseling woorde gespreek wat Amasia beslis nie wou hoor nie (Amos 7:16, 17). Amos het hom nie laat intimideer nie. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons! Wanneer dit by die bekendmaking van God se woord kom, sal ons nie ongehoorsaam wees aan ons God nie, selfs nie in lande waar hedendaagse Amasias wrede vervolging aanstig nie. Soos Amos, hou ons aan verkondig: “Só het Jehovah gesê.” En teenstanders kan nooit ons predikingswerk stopsit nie, want “die hand van Jehovah” is met ons.—Handelinge 11:19-21.
20 Amasia moes eintlik geweet het dat sy dreigemente tevergeefs sou wees. Amos het reeds verduidelik waarom niemand op aarde hom kon keer om te spreek nie—en dit is ons derde punt vir bespreking. Volgens Amos 3:3-8 het Amos ’n reeks vrae en illustrasies gebruik om te toon dat niks sonder oorsaak gebeur nie. Toe het hy dit soos volg toegepas: “’n Leeu het gebrul! Wie sal nie bang wees nie? Die Soewereine Heer Jehovah het gespreek! Wie sal nie profeteer nie?” Met ander woorde, Amos het vir sy toehoorders gesê: ‘Net soos julle nie anders kan as om bang te wees wanneer julle ’n leeu hoor brul nie, kan ek nie anders as om God se woord te verkondig, aangesien ek Jehovah se opdrag gehoor het om dit te doen nie.’ Godvrugtige vrees, of diepe eerbied vir Jehovah, het Amos beweeg om met vrymoedigheid te spreek.
21. Hoe reageer ons op God se opdrag dat ons die goeie nuus verkondig?
21 Ons hoor ook Jehovah se opdrag om te preek. Hoe reageer ons? Soos Amos en soos Jesus se vroeë volgelinge, spreek ons Jehovah se woord met vrymoedigheid, met Sy hulp (Handelinge 4:23-31). Nie vervolging wat deur teenstanders aangestig word of die selfvoldaanheid van diegene vir wie ons preek, sal ons stilmaak nie. Jehovah se Getuies regoor die wêreld openbaar ’n ywer soos dié van Amos en word beweeg om die goeie nuus met vrymoedigheid te bly verkondig. Ons het die verantwoordelikheid om mense oor Jehovah se komende oordeel te waarsku. Wat behels hierdie oordeel? Hierdie vraag sal in die volgende artikel beantwoord word.
Hoe sal jy antwoord?
• Onder watter omstandighede het Amos sy godgegewe opdrag uitgevoer?
• Wat moet ons, soos Amos, verkondig?
• Met watter gesindheid moet ons ons predikingswerk doen?
• Waarom kan teenstanders nie ons getuieniswerk stopsit nie?
[Prent op bladsy 10]
God het Amos, ’n prikker van vye, gekies om Sy werk te doen
[Prente op bladsy 13]
Maak jy, soos Amos, Jehovah se boodskap met vrymoedigheid bekend?