Soek Jehovah, die Een wat harte ondersoek
“Soek my, en bly lewe.”—AMOS 5:4.
1, 2. Wat beteken dit wanneer die Skrif sê dat Jehovah “sien wat die hart is”?
JEHOVAH GOD het vir die profeet Samuel gesê: “Die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is” (1 Samuel 16:7). Hoe ‘sien Jehovah wat die hart is’?
2 In die Skrif word die hart dikwels figuurlik gebruik om die innerlike mens voor te stel—sy begeertes, sy gedagtes, sy emosies en sy geneenthede. Wanneer die Bybel dan sê dat God die hart sien, beteken dit dat hy verder as die uiterlike kyk en fokus op watter soort persoon ’n mens werklik is.
God ondersoek Israel
3, 4. Watter toestande het volgens Amos 6:4-6 in die tienstammeryk van Israel geheers?
3 Wat het die Ondersoeker van harte gesien toe hy in die dae van Amos afgekyk het op die tienstammeryk van Israel? Amos 6:4-6 praat van mense wat ‘op ivoorslaapbanke gaan lê het en op hulle divans uitgestrek gelê het’. Hulle het ‘die ramme uit ’n kudde en die jong bulle onder vetgemaakte kalwers geëet’. Hierdie mense het “vir hulle instrumente vir sang uitgedink” en ‘uit bakke vol wyn gedrink’.
4 Met die eerste oogopslag lyk dit dalk na ’n aangename toneel. In die gerief van hulle weelderige huise het die rykes die beste kos en drank geniet en is hulle deur die beste musiekinstrumente vermaak. Hulle het ook “ivoorslaapbanke” gehad. Argeoloë het pragtige ivoorsnywerk in Samaria, die hoofstad van die koninkryk van Israel, gevind (1 Konings 10:22). Baie hiervan was heel waarskynlik aan meubels geheg en in muurpanele ingelê.
5. Waarom was God ontevrede met die Israeliete van Amos se dag?
5 Was Jehovah God ontevrede omdat die Israeliete gerieflik gelewe het, heerlike etes geniet het, goeie wyn gedrink het en na mooi musiek geluister het? Natuurlik nie! Hy voorsien immers hierdie dinge ryklik vir die mens se genot (1 Timoteus 6:17). Dit was die volk se verkeerde begeertes, hulle bose hartstoestand, hulle oneerbiedige gesindheid teenoor God en hulle gebrek aan liefde vir mede-Israeliete wat Jehovah mishaag het.
6. Wat was die geestelike toestand van Israel gedurende die tyd van Amos?
6 Daar het ’n onaangename verrassing gewag op diegene ‘wat op hulle divans uitgestrek gelê het, die ramme uit ’n kudde geëet het, wyn gedrink het en instrumente vir sang uitgedink het’. Daardie mense is gevra: “Sit julle die rampspoedige dag uit julle gedagtes?” Hulle moes eintlik baie ontsteld gewees het oor toestande in Israel, maar hulle het “nie weens die katastrofe van Josef siek geword” nie (Amos 6:3-6). God het verder gekyk as die nasie se ekonomiese voorspoed en gesien dat Josef—of Israel—in ’n katastrofiese geestelike toestand verkeer het. En tog het die volk onbesorg met hulle daaglikse bedrywighede voortgegaan. Baie mense het vandag dieselfde gesindheid. Hulle erken miskien dat ons in moeilike tye lewe, maar solank dit húlle nie raak nie, gee hulle nie juis om wat met ander gebeur nie en toon hulle geen belangstelling in geestelike sake nie.
Israel—’n Nasie wat verdorwe geraak het
7. Wat sou gebeur as die mense van Israel nie op goddelike waarskuwings ag slaan nie?
7 Die boek Amos beskryf ’n nasie wat besig was om verdorwe te raak, ten spyte van sy uiterlike voorkoms. Omdat hulle nie op goddelike waarskuwings ag geslaan en hulle beskouing reggestel het nie, sou Jehovah hulle aan hulle vyande oorgee. Die Assiriërs sou hulle van hulle pragtige ivoorslaapbanke afruk en hulle in gevangenskap wegvoer. Dit sou die einde van hulle gerieflike lewe beteken!
8. Hoe het Israel in ’n slegte geestelike toestand beland?
8 Hoe het die Israeliete in so ’n toestand beland? Hierdie situasie het in 997 v.G.J. begin ontwikkel, toe koning Salomo deur sy seun Rehabeam opgevolg is en tien stamme van Israel weggebreek het van die stamme Juda en Benjamin. Die eerste koning van die tienstammeryk van Israel was Jerobeam I, “die seun van Nebat” (1 Konings 11:26). Jerobeam het die mense van sy ryk oortuig dat dit vir hulle te moeilik sou wees om na Jerusalem te reis om Jehovah te aanbid. Maar hy was nie werklik besorg oor die mense se welsyn nie. Hy het eerder sy eie belange probeer beskerm (1 Konings 12:26). Jerobeam was bang dat die Israeliete uiteindelik hulle lojaliteit aan die koninkryk van Juda sou gee as hulle sou voortgaan om vir die jaarlikse feeste ter ere van Jehovah na die tempel in Jerusalem te gaan. In ’n poging om dit te voorkom, het Jerobeam twee goue kalwers opgerig, een by Dan en die ander by Bet-El. So het kalfaanbidding die staatsgodsdiens in die koninkryk van Israel geword.—2 Kronieke 11:13-15.
9, 10. (a) Watter godsdiensvierings is deur koning Jerobeam I gereël? (b) Hoe het God die feeste beskou wat in die dae van koning Jerobeam II in Israel gehou is?
9 Jerobeam het die nuwe godsdiens ’n skyn van fatsoenlikheid probeer gee. Hy het vierings gereël wat in sekere mate ooreengekom het met die feeste wat in Jerusalem gehou is. In 1 Konings 12:32 lees ons: “Jerobeam het in die agtste maand op die vyftiende dag van die maand ’n fees ingestel, soos die fees wat in Juda was, sodat hy offers kon bring op die altaar wat hy in Bet-El gemaak het.”
10 Jehovah het nooit sulke valse godsdiensfeeste goedgekeur nie. Dit het hy meer as ’n eeu later deur middel van Amos baie duidelik gemaak, gedurende die bewind van Jerobeam II, wat omstreeks 844 v.G.J. die koning van die tienstammeryk van Israel geword het (Amos 1:1). Volgens Amos 5:21-24 het God gesê: “Ek het julle feeste gehaat, dit verwerp, en ek sal nie die reuk van julle plegtige vergaderinge geniet nie. Maar as julle heelbrandoffers aan my bring, sal ek selfs in julle offergawes geen behae skep nie, en julle gemeenskapsoffers van vetgemaakte diere sal ek nie aansien nie. Verwyder van my die rumoer van jou liedere; en mag ek die melodieuse klank van jou snaarinstrumente nie hoor nie. En laat geregtigheid voortrol net soos waters, en regverdigheid soos ’n standhoudende stroom.”
Hedendaagse ooreenkomste
11, 12. Watter ooreenkomste is daar tussen die aanbidding in eertydse Israel en dié van die Christendom?
11 Dit is duidelik dat Jehovah die harte ondersoek het van diegene wat aan Israel se feeste deelgeneem het en dat hy hulle vierings en offers verwerp het. God verwerp vandag eweneens die Christendom se heidense vierings, soos Kersfees en Paasfees. Vir aanbidders van Jehovah kan daar geen deelgenootskap tussen regverdigheid en wetteloosheid wees nie, geen gemeenskap tussen lig en duisternis nie.—2 Korintiërs 6:14-16.
12 Daar is ander ooreenkomste tussen die aanbidding wat deur die kalfaanbiddende Israeliete beoefen is en dié van die Christendom. Hoewel party verklaarde Christene die waarheid van God se Woord aanvaar, is die dryfveer agter die Christendom se aanbidding nie opregte liefde vir God nie. As dit was, sou hulle daarop aangedring het om Jehovah “met gees en waarheid” te aanbid, want dit is die soort aanbidding wat hom behaag (Johannes 4:24). Daarbenewens laat die Christendom nie “geregtigheid voortrol net soos waters, en regverdigheid soos ’n standhoudende stroom” nie. Inteendeel, hulle water deurgaans God se sedelike standaarde af. Hulle duld hoerery en ander ernstige sondes en seën selfs homoseksuele verbintenisse!
“Wees lief vir wat goed is”
13. Waarom moet ons gehoor gee aan die woorde van Amos 5:15?
13 Vir almal wat Jehovah op aanneemlike wyse wil aanbid, sê hy: “Haat wat sleg is, en wees lief vir wat goed is” (Amos 5:15). Liefde en haat is sterk emosies wat uit die figuurlike hart voortkom. Aangesien die hart verraderlik is, moet ons alles in ons vermoë doen om dit te bewaak (Spreuke 4:23; Jeremia 17:9). As ons ons hart toelaat om verkeerde begeertes te koester, sal ons dalk lief word vir wat sleg is en begin haat wat goed is. En as ons aan hierdie begeertes toegee deur sonde te beoefen, sal al die ywer in die wêreld ons nie in God se guns herstel nie. Laat ons dus bid vir God se hulp om ‘te haat wat sleg is en lief te wees vir wat goed is’.
14, 15. (a) Wie was in Israel onder dié wat gedoen het wat goed was, maar hoe is party van hulle behandel? (b) Hoe kan ons diegene aanmoedig wat vandag in die voltydse diens is?
14 Nie al die Israeliete het gedoen wat sleg was in Jehovah se oë nie. Byvoorbeeld, Hosea en Amos ‘was lief vir wat goed is’ en het God getrou gedien as profete. Ander het geloftes as Nasireërs afgelê. Gedurende hulle Nasireërskap het hulle hulle onthou van die vrug van die wynstok, veral van wyn (Numeri 6:1-4). Hoe het die ander Israeliete die selfopofferende weg beskou van hierdie persone wat goeie dinge gedoen het? Die skokkende antwoord op hierdie vraag toon hoe verdorwe die nasie geestelik was. Amos 2:12 sê: “Julle het die Nasireërs wyn bly gee om te drink, en julle het die profete beveel en gesê: ‘Julle mag nie profeteer nie.’”
15 Die getroue voorbeeld van die Nasireërs en die profete moes daardie Israeliete eintlik beskaamd gemaak het en hulle beweeg het om hulle weë te verander. In plaas daarvan het hulle die lojales weens ’n gebrek aan liefde probeer ontmoedig om heerlikheid aan God te gee. Ons moet nooit mede-Christene wat pioniers, sendelinge, reisende opsieners of lede van die Bethelgesin is, aanspoor om hulle voltydse diens te staak bloot om na ’n sogenaamd normale lewe terug te keer nie. Ons moet hulle eerder aanmoedig om hulle goeie werk voort te sit!
16. Waarom was die Israeliete beter af in Moses se dag as in die tyd van Amos?
16 Hoewel baie Israeliete in die dae van Amos op materiële gebied ’n bevredigende lewe gelei het, was hulle ‘nie ryk teenoor God nie’ (Lukas 12:13-21). Hulle voorvaders het 40 jaar lank net manna in die wildernis geëet. Hulle het nie aan vetgemaakte bulle gesmul of hulle luilekker op ivoorslaapbanke uitgestrek nie. Maar Moses het tereg vir hulle gesê: “Jehovah jou God het jou in al die werk van jou hand geseën. . . . Hierdie veertig jaar was Jehovah jou God met jou. Jy het niks kortgekom nie” (Deuteronomium 2:7). Ja, die Israeliete in die wildernis het nooit enigiets kortgekom wat hulle werklik nodig gehad het nie. Bowenal het hulle God se liefde, beskerming en seën gehad!
17. Waarom het Jehovah die vroeë Israeliete in die Beloofde Land ingelei?
17 Jehovah het Amos se tydgenote daaraan herinner dat Hy hulle voorvaders in die Beloofde Land ingebring het en hulle gehelp het om al hulle vyande daaruit te verwyder (Amos 2:9, 10). Maar waarom het God daardie vroeë Israeliete uit Egipte tot in die Beloofde Land gelei? Was dit sodat hulle in gemaksugtige weelde kon lewe en hulle Skepper kon verwerp? Nee! Hy het dit eerder gedoen sodat hulle hom as ’n vry en geestelik rein volk kon aanbid. Maar die inwoners van die tienstammeryk van Israel het nie gehaat wat sleg is nie en was nie lief vir wat goed is nie. Hulle het eerder heerlikheid aan gesnede beelde gegee, nie aan Jehovah God nie. Hoe skandelik tog!
Jehovah eis rekenskap
18. Waarom het Jehovah ons geestelik bevry?
18 God was nie van plan om die skandelike gedrag van die Israeliete te ignoreer nie. Hy het sy posisie duidelik gestel toe hy gesê het: “Ek [sal] van julle rekenskap eis vir al julle oortredings” (Amos 3:2). Hierdie woorde moet ons laat nadink oor ons eie verlossing uit slawerny aan hedendaagse Egipte, hierdie teenswoordige goddelose stelsel van dinge. Jehovah het ons nie geestelik bevry sodat ons selfsugtige doelwitte kan najaag nie. Hy het dit eerder gedoen sodat ons as ’n vry volk wat rein aanbidding beoefen, hartgrondige lof aan hom kan bring. En ons almal sal rekenskap moet gee van die manier waarop ons ons godgegewe vryheid gebruik.—Romeine 14:12.
19. Waarvoor het die meeste Israeliete volgens Amos 4:4, 5 lief geword?
19 Ongelukkig het die meeste inwoners van Israel nie ag geslaan op die kragtige boodskap wat Amos bekend gemaak het nie. Die profeet het hulle geestelik siek hartstoestand blootgelê met hierdie woorde wat in Amos 4:4, 5 opgeteken staan: “Kom na Bet-El en begaan oortredings. Begaan herhaalde oortredings by Gilgal, . . . want so het julle daarvan gehou, o kinders van Israel.” Die Israeliete het nie die regte begeertes aangekweek nie. Hulle het nie hulle harte bewaak nie. Gevolglik het die meeste van hulle lief geword vir wat sleg is en begin haat wat goed is. Daardie hardnekkige kalfaanbidders het nie verander nie. Jehovah sou rekenskap eis, en hulle sou in hulle sondes moes sterf!
20. Hoe kan ’n mens ’n weg in ooreenstemming met Amos 5:4 volg?
20 Dit was sekerlik nie maklik vir enigiemand wat destyds in Israel gelewe het om aan Jehovah getrou te bly nie. Dit is moeilik om as ’t ware teen die stroom te swem, soos hedendaagse Christene, jonk en oud, goed weet. Maar liefde vir God en ’n begeerte om hom te behaag, het wel sommige Israeliete beweeg om ware aanbidding te beoefen. Jehovah het aan hulle die hartlike uitnodiging gerig wat in Amos 5:4 opgeteken staan: “Soek my, en bly lewe.” Vandag bewys God eweneens barmhartigheid aan diegene wat berou toon en hom soek deur juiste kennis van sy Woord in te neem en dan sy wil te doen. Dit is nie maklik om hierdie weg te bewandel nie, maar dit lei tot die ewige lewe.—Johannes 17:3.
Voorspoed ondanks geestelike hongersnood
21. Watter hongersnood tref diegene wat nie ware aanbidding beoefen nie?
21 Wat het op diegene gewag wat nie ware aanbidding ondersteun het nie? Die ergste soort hongersnood—geestelike hongersnood! “Daar kom dae”, het die Soewereine Heer Jehovah gesê, “en ek sal ’n honger in die land stuur, nie ’n honger na brood nie en nie ’n dors na water nie, maar om die woorde van Jehovah te hoor” (Amos 8:11). Die Christendom is in die wurggreep van so ’n geestelike hongersnood. Maar opregtes van hart onder hulle kan die geestelike voorspoed van God se volk sien en hulle stroom na Jehovah se organisasie. Die verskil tussen die toestand in die Christendom en die toestand wat onder ware Christene heers, word goed beskryf deur Jehovah se woorde: “Kyk! My knegte sal eet, maar julle sal honger ly. Kyk! My knegte sal drink, maar julle sal dors wees. Kyk! My knegte sal bly wees, maar julle sal beskaamd staan.”—Jesaja 65:13.
22. Waarom het ons rede om ons te verheug?
22 Waardeer ons persoonlik, as Jehovah se knegte, ons geestelike voorsienings en seëninge? Wanneer ons die Bybel en Christelike publikasies bestudeer en ons vergaderinge en byeenkomste bywoon, wil ons inderdaad met vreugde uitroep weens die goeie toestand van die hart. Ons verheug ons in die duidelike begrip wat ons van God se Woord het, insluitende die goddelik geïnspireerde profesie van Amos.
23. Wat geniet diegene wat God verheerlik?
23 Die profesie van Amos bevat ’n boodskap van hoop vir alle mense wat vir God lief is en aan hom heerlikheid wil gee. Ongeag wat ons huidige ekonomiese situasie is of watter beproewinge ons in hierdie wêreld vol probleme moet verduur, ons wat lief is vir God, geniet goddelike seëninge en die beste geestelike voedsel (Spreuke 10:22; Matteus 24:45-47). Alle heerlikheid gaan derhalwe aan God, wat alles ryklik vir ons beswil voorsien. Mag ons dus vasbeslote wees om hom vir ewig uit ons hart te loof. Dít sal ons vreugdevolle voorreg wees as ons Jehovah soek, die Een wat harte ondersoek.
Hoe sal jy antwoord?
• Watter toestande het in die dae van Amos in Israel bestaan?
• Watter ooreenkomste is daar vandag met die toestande wat in die tienstammeryk van Israel geheers het?
• Watter voorspelde hongersnood bestaan nou, maar wie word nie daardeur geraak nie?
[Prente op bladsy 21]
Baie Israeliete het in weelde gelewe, maar het nie geestelike voorspoed geniet nie
[Prent op bladsy 23]
Moedig voltydse knegte aan om hulle goeie werk voor te sit
[Prente op bladsy 24, 25]
Daar is geen geestelike hongersnood onder Jehovah se vreugdevolle volk nie