HOOFSTUK SES
“Laat geregtigheid voortrol”—’n Sleutel om God te leer ken
1. Waarom het jy ’n sin vir geregtigheid?
DEUR die geskiedenis heen was daar mense wat beroemd geword het omdat hulle geregtigheid bevorder het. Maar beskou hierdie feit: Geregtigheid is vir mense aantreklik omdat hulle na God se beeld gemaak is. Jy het ’n persoonlike sin vir geregtigheid en wil hê dat ander jou regverdig moet behandel omdat jy gemaak is na die beeld van Jehovah, wat ‘behae skep’ in geregtigheid.—Jeremia 9:24; Genesis 1:27; Jesaja 40:14.
2, 3. Waarom moet ons die boeke van die 12 profete ondersoek om van Jehovah se geregtigheid te leer?
2 Wanneer jy verskillende boeke van die Bybel lees, kan jy insig in God se geregtigheid verkry. Maar jy sal dit besonder lonend vind om die boeke van die 12 profete te ondersoek. Geregtigheid speel so ’n groot rol daarin dat ’n bundel wat uit Hosea, Amos en Miga bestaan en deur ’n Bybelgenootskap uitgegee is, die titel Justice Now! het. Kyk byvoorbeeld na Amos se aansporing: “Laat geregtigheid voortrol net soos waters, en regverdigheid soos ’n standhoudende stroom.” En let op wat Miga eerste onder jou verpligtinge gestel het: “Wat anders vra Jehovah van jou terug as om geregtigheid te beoefen en goedhartigheid lief te hê en beskeie te wandel met jou God?”—Amos 5:24; Miga 6:8.
3 Daarom moet ons, as ons Jehovah beter wil leer ken sodat ons hom kan navolg, beslis sy geregtigheid erken. Jehovah se geregtigheid is inherent aan sy persoonlikheid, en daarom kan ons nie sê dat ons hom ken tensy ons sy geregtigheid verstaan nie. Selfs sy knegte van die ou tyd het geweet dat ‘Jehovah geregtigheid liefhet’.—Psalm 33:5; 37:28.
4. Verduidelik waarom die geskrifte van die 12 profete jou vertroue in God se geregtigheid kan versterk.
4 ’n Ruk voordat Jehovah oordeel aan Jerusalem voltrek het, het die profeet Habakuk gevra: ‘Hoe lank, o Jehovah, moet ek om hulp roep? Die wet verloor sy krag en die reg [of, geregtigheid] kom nooit te voorskyn nie. Omdat die goddelose die regverdige omsingel, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn’ (Habakuk 1:2, 4). Getroue Habakuk het Jehovah leer ken deur die geskrifte wat vir hom beskikbaar was en deur eie ondervinding. Hy was dus vol vertroue dat God geregtigheid handhaaf sowel as bevorder. Maar die profeet was besorg oor waarom Jehovah goddeloosheid toelaat. God het Habakuk verseker dat Hy regverdig sal optree teenoor die getroues (Habakuk 2:4). As Habakuk en ander sulke vertroue kon hê, het jy baie meer rede om dit te hê. Waarom? Wel, die Bybel is nou volledig, en daarom het jy ’n breedvoeriger verslag tot jou beskikking van Jehovah se handelinge en blyke van sy persoonlikheid, met inbegrip van sy geregtigheid. Gevolglik is jy in ’n beter posisie om Jehovah te leer ken en om van sy volmaakte geregtigheid oortuig te wees.
5. Watter aspek van geregtigheid is nou van besondere belang?
5 Toe Jehovah boodskappers na Israel gestuur het, het hy beklemtoon dat geregtigheid beoefen moet word (Jesaja 1:17; 10:1, 2; Jeremia 7:5-7; Esegiël 45:9). Hy het dit beslis deur middel van die 12 profete op die voorgrond gehou (Amos 5:7, 12; Miga 3:9; Sagaria 8:16, 17). Enigiemand wat hulle geskrifte lees, kan sien dat dit die beoefening van geregtigheid in daaglikse aangeleenthede benadruk. Daar is baie maniere waarop ons die lesse uit hierdie 12 boeke kan toepas, maar kom ons ondersoek twee gebiede waarop hierdie profete geregtigheid beklemtoon het en kyk dan hoe ons kan toepas wat ons leer.
GEREGTIGHEID IN SAKE- EN FINANSIËLE AANGELEENTHEDE
6, 7. Waarom moet geregtigheid in sake- en finansiële aangeleenthede vir ons almal van belang wees?
6 Jesus het gesê: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie” (Lukas 4:4; Deuteronomium 8:3). Hy het nie ontken dat ons brood nodig het nie—ons moet eet. Vir die meeste mense beteken dit dat hulle of iemand anders in die gesin moet werk om kos op die tafel te sit. Dit was ook die geval met God se knegte van die ou tyd. Party het vir hulleself gewerk—hulle het gewasse gekweek of artikels gemaak, soos klere, meubels of kookgereedskap. Ander was werkgewers—hulle het mense gehuur om te oes of om meel, olyfolie of wyn te maak. Nog ander was handelaars—hulle het goedere gekoop en verkoop. Of party het moontlik ’n diens gelewer—hulle het miskien dakke heelgemaak of musiekinstrumente bespeel.—Eksodus 35:35; Deuteronomium 24:14, 15; 2 Konings 3:15; 22:6; Matteus 20:1-8; Lukas 15:25.
7 Kan jy ooreenkomste met jou eie lewe of met dié van vriende en familie sien? Dit is so dat werksmetodes vandag moontlik anders is, maar stem jy nie saam dat God se beskouing van geregtigheid in sulke sake dieselfde sal wees as destyds nie? In sy boodskappe deur die 12 profete het Jehovah getoon dat hy van sy volk verwag om geregtigheid in sulke aspekte van die lewe te beoefen. Terwyl ons ’n paar aanduidings hiervan ondersoek, kan jy gerus dink aan hoe daar van jou vereis word om goddelike geregtigheid aan die dag te lê.—Psalm 25:4, 5.
8, 9. (a) Waarom was die veroordeling wat in Maleagi 3:5 opgeteken is, besonder ernstig? (b) Watter gebalanseerde beskouing ten opsigte van werkverskaffing en werk bevorder die Skrif?
8 God het deur Maleagi gesê: “Ek sal nader kom na julle toe vir die oordeel, en ek sal ’n haastige getuie word teen die towenaars en teen die egbrekers en teen dié wat vals sweer en teen dié wat bedrieglik handel met die loon van ’n loonarbeider, . . . terwyl hulle my nie gevrees het nie” (Maleagi 3:5). Ja, Jehovah het dié veroordeel wat onregverdig gehandel het met werknemers, of loonarbeiders. Hoe ernstig was dit? Wel, hy het die mishandeling van werkers saam met spiritisme, egbreuk en leuens genoem. Christene weet hoe God ‘hoereerders, dié wat spiritisme beoefen en al die leuenaars’ sal oordeel.—Openbaring 21:8.
9 Wat by die werksplek gebeur het, was nie bloot ’n kwessie van mense se sedelike gedrag nie; Jehovah se geregtigheid was daarby betrokke. Hy het gesê dat hy weens die verraderlikheid van dié “wat bedrieglik handel met die loon van ’n loonarbeider”, ‘nader sou kom na hierdie mense om oordeel te voltrek’. God het egter nie gesê dat ’n werkgewer moes toegee aan elke gril van ’n werknemer of ’n groep werknemers nie. Jy kan uit Jesus se illustrasie oor mans wat gehuur is om in ’n wingerd te werk, sien dat ’n werkgewer se posisie hom die reg gegee het om lone en werkstoestande te bepaal (Matteus 20:1-7, 13-15). Dit is opmerkenswaardig dat al die werkers in Jesus se illustrasie ’n denarius betaal is, die ooreengekome ‘dagloon’, of hulle die hele dag gewerk het of nie. Ons kan ook sien dat die werkgewer nie oneerlik was en groter wins probeer maak het ten koste van dié wat gehuur is nie.—Jeremia 22:13.
10. Waarom moet ons belangstel in hoe ons werknemers behandel word?
10 As jy ’n besigheid met werknemers het—of selfs as jy net iemand huur om ’n spesifieke werk te doen—hoe vaar jy in die lig van Maleagi 3:5 wat jou lone, versoeke en geldelike transaksies betref? Dit is goed om hieraan te dink, want die kwessie van onregverdige behandeling van loonarbeiders word ook in die Christelike Griekse Geskrifte bespreek. Aangaande dié wat in sulke sake onregverdig optree, het die dissipel Jakobus gevra: “Staan hy [Jehovah] julle nie teë nie?” (Jakobus 5:1, 4, 6). Ons kom tereg tot die slotsom: Dié wat onregverdig is wanneer dit by “die loon van ’n loonarbeider” kom, het Jehovah nie werklik leer ken nie, want hulle volg nie sy geregtigheid na nie.
11, 12. (a) Op watter onregverdige handelswyse vestig Hosea 5:10 die aandag? (b) Hoe kan jy die beginsel in Hosea 5:10 toepas?
11 Lees nou waarom Jehovah party vooraanstaande manne in Hosea se dag teëgestaan het: “Die vorste van Juda het geword net soos dié wat ’n grens verskuif. Oor hulle sal ek my grimmigheid uitstort soos water” (Hosea 5:10). Watter onreg het Hosea veroordeel? ’n Judese boer was vir sy bestaan van sy grond afhanklik, waarvan die grense met klippe of pale aangedui is. Om ‘’n grens te verskuif’, het beteken dat ’n boer se grond kleiner gemaak is, waardeur hy ’n mate van sy bestaansmiddele ontneem is en sodoende beroof is. Hosea het Judese vorste, wat eintlik geregtigheid moes bevorder het, vergelyk met dié wat grensbakens verskuif.—Deuteronomium 19:14; 27:17; Job 24:2; Spreuke 22:28.
12 Iemand wat vandag vaste eiendom verkoop, kom miskien in die versoeking ‘om grense te verskuif’ in ’n poging om kopers te bedrieg. Die beginsel is egter ook van toepassing op handelaars, werkgewers, werknemers of kliënte—enigiemand wat met kontrakte of ooreenkomste te doen het. Soos jy weet, huiwer party in die sakewêreld om dinge op skrif te stel, met die gedagte dat dit later makliker sal wees om minder te doen as wat ooreengekom is of om nuwe eise te stel. Ander gaan wel ’n geskrewe kontrak aan, maar sluit besonderhede in fyn druk in om die betekenis daarvan tot hulle voordeel te verdraai, al beteken dit ook dat die ander party ten onregte skade ly. Dink jy dat iemand wat so optree—hetsy ’n handelaar of ’n klant, ’n werkgewer of ’n werknemer—werklik die God van geregtigheid ken? Jehovah het in sy Woord gesê: “Moenie die grens van [vaderlose seuns] verskuif nie . . . Want hulle Verlosser is sterk; hy sal hulle saak teen jou bepleit.”—Spreuke 23:10, 11; Habakuk 2:9.
13. Watter ongeregtighede het volgens Miga 6:10-12 onder God se eertydse volk bestaan?
13 Miga 6:10-12 werp nog meer lig op geregtigheid: “Is daar nog altyd in die huis van ’n goddelose die skatte van goddeloosheid en die skrapse efa wat veroordeel word? Kan ek sedelik rein wees by ’n valse weegskaal en by ’n sak vol bedrieglike weegstene? Want die stad se . . . inwoners het leuens gespreek, en hulle tong is bedrieglik.” Vandag meet ons dalk voedsel in liters af, nie in efas nie. Of ons weeg dinge in kilogramme eerder as met weegstene op ’n skaal. Maar Miga se punt is duidelik. Handelaars of sakemanne in sy dag was bedrieërs; deurdat hulle nie standaardmate en -gewigte gebruik het nie, het hulle die mense onregverdig behandel. God het dié wat ‘bedrieglik is met hulle mond’ en in hulle saketransaksies, ‘goddeloses’ genoem.—Deuteronomium 25:13-16; Spreuke 20:10; Amos 8:5.
14. Watter soort ongeregtigheid in ons tyd kan Miga se waarskuwing ons help vermy?
14 Het Miga se woorde oor bedrieglike mate en gewigte betrekking op hoe jy jou besigheid bestuur of wat jy as ’n werknemer doen? Dit is iets om oor na te dink, aangesien daar tallose maniere is waarop kopers en kliënte bedrieg word. Byvoorbeeld, party gewetenlose kontrakteurs sit minder as die normale of wettige hoeveelheid sement in ’n betonmengsel. Of ’n vakman gebruik dalk op plekke wat hy weet nie gesien sal word nie, goedkoper materiaal as waarvoor betaal is. Party handelaars verkoop gebruikte goedere as splinternuut. En jy het dalk al gehoor van ander sogenaamde vakgeheime wat gebruik word om winste te vergroot. Sal jy in die versoeking kom om dit te probeer? ’n Boek wat onlangs uitgegee is oor die beskerming van jou privaatheid, het gesê dat Jehovah se Getuies “glo dat hulle Skepper hulle dophou, en die meeste sal liewer sterf as om te steel”. Dit het bygevoeg: “Hulle is baie gesog in besighede waar groot somme geld hanteer word.” Waarom? Omdat ware Christene weet dat Jehovah ‘van hulle vra om geregtigheid te beoefen’, ook in hulle sake- en finansiële aangeleenthede.—Miga 6:8.
“VORSTE VIR GEREGTIGHEID”
15, 16. Hoe het die leiers in Miga se dag die volk behandel?
15 Jy kan uit die boeke van die 12 profete sien dat daar in sekere tydperke bitter min geregtigheid was. Persone in gesagsposisies, wat voorbeeldig moes gewees het ten opsigte van geregtigheid, was nie (Eksodus 18:21; 23:6-8; Deuteronomium 1:17; 16:18). Miga het gepleit: “Hoor asseblief, o hoofde van Jakob en aanvoerders van die huis van Israel. Behoort julle nie geregtigheid te ken nie? Julle wat haat wat goed is en liefhet wat sleg is, wat die mense se vel van hulle aftrek en hulle vlees van hulle gebeente.”—Miga 3:1-3; Jesaja 1:17.
16 Daardie woorde moes mense wat vertroud was met die lewe op die platteland, geskok het. ’n Herder het soms die skape wat hy opgepas en beskerm het, geskeer (Genesis 38:12, 13; 1 Samuel 25:4). Maar die “aanvoerders van die huis van Israel”, wat veronderstel was om “geregtigheid te ken”, het die volk van God se weiding uitgebuit, asof hulle die vel en vlees van skape afgetrek en hulle gebeente gebreek het (Psalm 95:7). Miga het oorgeslaan na ’n ander illustrasie uit die lewe op die platteland en gesê dat vorste ‘wat vir ’n beloning reggespreek het’, soos ’n doringstruik of ’n doringheining was (Miga 7:3, 4). Stel jou voor dat jy deur ’n gebied vol doringstruike en doringheinings loop. Jy sal waarskynlik gekrap word, en jou klere sal aan flarde geskeur word. Dit lig toe watter uitwerking die leiers op God se volk gehad het. In plaas van hulle broers regverdig te behandel, was hulle verraderlik en verdorwe.—Miga 3:9, 11.
17. Watter gesindheid het die leiers volgens Sefanja 3:3 gehad?
17 Sefanja het ’n soortgelyke punt gestel: “Sy vorste in hom was brullende leeus. Sy regters was aandwolwe wat beendere nie tot die oggend toe gekou het nie” (Sefanja 3:3). Kan jy jou leiers van God se volk voorstel wat, soos roofsugtige, wrede leeus, regverdigheid verontagsaam het? Of regters wat, soos uitgehongerde, onversadigbare wolwe, alles verslind het sodat daar in die oggend net bene oor was? Hoe kon daar geregtigheid onder sulke omstandighede wees? Geregtigheid is aan flarde geskeur deur leiers wat eerder op die volk jag gemaak het as om na hulle om te sien.
18. Hoe moes die regters in Israel God se volk behandel het?
18 Dit is duidelik dat daardie leiers in ’n nasie wat aan God toegewy was, hom nie geken het nie. As hulle hom geken het, sou hulle Sagaria 8:16 gehoorsaam het: “Dít is die dinge wat julle moet doen: Praat die waarheid met mekaar. Lewer julle regspraak met waarheid en met die oordeel van vrede in julle poorte.” Ouer manne in Israel het by die stadspoort bymekaargekom en moes regsake behartig, nie volgens eerste indrukke of persoonlike gevoelens nie, maar in ooreenstemming met God se denke (Deuteronomium 22:15). En Jehovah het gewaarsku teen partydigheid, byvoorbeeld teenoor die rykes of vooraanstaandes (Levitikus 19:15; Deuteronomium 1:16, 17). Die regters moes vrede tussen die strydende partye probeer herstel deur “die oordeel van vrede” te vel.
19, 20. (a) Waarom kan Christen- ouer manne baie uit die 12 profete leer? (b) Hoe kan ouer manne toon dat hulle Jehovah en sy geregtigheid ken?
19 Die apostel Paulus het Sagaria 8:16 gedeeltelik aangehaal toe hy aan Christene geskryf het (Efesiërs 4:15, 25). Ons kan dus seker wees dat die 12 profete se waarskuwings en raad oor geregtigheid beslis op die hedendaagse gemeente van toepassing is. Ouer manne, of opsieners, moet die voorbeeld daarin stel om Jehovah te ken en sy geregtigheid te weerspieël. Jesaja 32:1 gee ’n verkwikkende beskrywing van hulle as “vorste vir geregtigheid”. Watter praktiese punte oor sulke ouer manne kan ons onderskei in die waarskuwings en raad wat in die 12 profete gevind word?
20 Christen- ouer manne moet skriftuurlike waarheid en aanduidings van Jehovah se denke in gedagte hou. Hulle moet hulle besluite eerder dáárop baseer as op blote persoonlike opinie of op sogenaamde intuïsie. Die Bybel toon dat daar moontlik moeilike sake sal wees, dié wat ekstra voorbereidingstyd sal verg omdat persoonlike navorsing in die Bybel gedoen moet word, asook in die publikasies wat wyse raad van “die getroue en verstandige slaaf”-klas bevat (Eksodus 18:26; Matteus 24:45). Wanneer ouer manne hulle só inspan, is dit waarskynliker dat hulle sal haat wat sleg is en sal lief wees vir wat goed is uit God se standpunt. Dit sal hulle help om ‘geregtigheid ’n plek in die poort te gee’ sodat hulle ‘hulle regspraak met ware geregtigheid sal lewer’.—Amos 5:15; Sagaria 7:9.
21. Waarom moet ouer manne partydigheid vermy, maar wat kan hulle in die versoeking bring om partydigheid te toon?
21 Selfs wanneer iemand wat die verantwoordelikheid het om regspraak te lewer, Bybelkennis het, kan hy partydigheid toon. Maleagi het die feit betreur dat die priesters, wat eintlik ’n bron van kennis moes gewees het, “partydigheid ten opsigte van die wet getoon het” (Maleagi 2:7-9). Hoe kon dit gebeur? Wel, Miga het gesê dat party hoofde ‘bloot vir ’n omkoopgeskenk reggespreek het en dat priesters net teen ’n prys onderrig het’ (Miga 3:11). Wat kan ’n soortgelyke uitwerking op ’n ouer man se denke hê? Sê nou die persoon met wie hy te doen het, was in die verlede vrygewig teenoor hom, of sê nou die ouer man verwag dalk ’n weldaad in die toekoms? Of gestel die persoon wat betrokke is by die saak wat hy behartig, is ’n bloedverwant of ’n aangetroude familielid. Wat sal seëvier—familiebande of geestelike beginsels? ’n Ouer man se onpartydigheid kan in die gedrang kom wanneer hy ’n geval van oortreding hanteer of moet bepaal of iemand anders skriftuurlik kwalifiseer vir bykomende diensvoorregte in die gemeente.—1 Samuel 2:22-25, 33; Handelinge 8:18-20; 1 Petrus 5:2.
22. (a) Watter verantwoordelikheid het ouer manne met betrekking tot geregtigheid? (b) Watter ander godvrugtige eienskappe moet ouer manne in hulle handelinge met oortreders openbaar?
22 Wanneer iemand ’n ernstige sonde begaan, tree die geestelike herders in die gemeente op om dit teen enige gevaarlike, verderflike invloed te beskerm (Handelinge 20:28-30; Titus 3:10, 11). Maar as die oortreder opreg berouvol is, wil die ouer manne “so iemand in ’n gees van sagmoedigheid . . . reghelp” (Galasiërs 6:1). Hulle sal nie hard en ongevoelig wees nie, maar sal eerder die riglyn toepas: “Lewer julle regspraak met ware geregtigheid; en bewys liefderyke goedhartigheid en barmhartighede aan mekaar” (Sagaria 7:9). Jehovah se voorskrifte oor hoe regsake in eertydse Israel behartig moes word, beklemtoon sy geregtigheid en barmhartigheid. Aangestelde regters het in baie van hulle besluite ’n mate van vryheid gehad; hulle kon barmhartigheid bewys, na gelang van die omstandighede en die oortreder se gesindheid. Christenopsieners moet gevolglik daarna streef om “met ware geregtigheid” reg te spreek en om “liefderyke goedhartigheid en barmhartighede” te bewys, wat sal toon dat hulle Jehovah leer ken het.
23, 24. (a) Hoe kan ouer manne “die oordeel van vrede” bevorder? (b) Wat het die 12 profete jou gehelp om oor geregtigheid te besef?
23 Dink terug aan Sagaria 8:16: “Lewer julle regspraak met waarheid en met die oordeel van vrede in julle poorte.” Wat is die oogmerk? “Die oordeel van vrede.” Selfs toe die apostels gelewe het, was daar persoonlike geskille of struwelinge tussen party Christene. Soos Paulus in die geval van Euodia en Sintige gedoen het, moet ouer manne vandag moontlik hulp verleen (Filippense 4:2, 3). Die ouer manne moet beslis ernstig daarna streef om “die oordeel van vrede” te gee, in ’n poging om vrede tussen die strydende partye te herstel. Die skriftuurlike raad wat hulle gee en die gesindheid waarmee hulle dit doen, moet vrede in die gemeente en vrede met God bevorder. Dit sal dan duidelik wees dat hulle Jehovah en sy geregtigheid werklik ken.
24 Die twee gebiede wat hierbo gemeld word, lig toe dat dit noodsaaklik is om die raad oor geregtigheid wat deur die 12 profete opgeteken is, in ons daaglikse lewe toe te pas. Wat ’n seën is dit tog wanneer ons en dié om ons ‘geregtigheid laat voortrol’!