Jehovah sal nie talm nie
“Al sou [die visioen] talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie.”—HABAKUK 2:3, NW.
1. Watter vasbeslotenheid het Jehovah se volk aan die dag gelê, en wat het dit hulle beweeg om te doen?
“OP MY wagpos sal ek bly staan.” Dit was die voorneme van God se profeet Habakuk (Habakuk 2:1, NW). Jehovah se volk in die 20ste eeu het dieselfde vasbeslotenheid aan die dag gelê. Daarom het hulle ywerig gereageer op hierdie oproep wat by ’n onvergeetlike byeenkoms in September 1922 uitgegaan het: “Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklame-agente. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.”
2. Wat kon gesalfde Christene sê toe hulle ná die Eerste Wêreldoorlog weer baie bedrywig geword het?
2 Ná die Eerste Wêreldoorlog het Jehovah die getroue gesalfde oorblyfsel weer baie bedrywig laat word. Soos Habakuk kon elkeen van hulle sê: “Ek sal my voortdurend op die verskansing stel; en ek sal wag hou, om te sien wat hy tot my sal spreek.” Die Hebreeuse woorde wat verwant is aan “wag”, word in baie profesieë gebruik.
“Dit sal nie laat wees nie”
3. Waarom moet ons aanhou waak?
3 Terwyl Jehovah se Getuies vandag God se waarskuwing bekend maak, moet hulle altyddeur wakker wees om ag te slaan op die slotwoorde van Jesus se groot profesie: “Hou dus aan waak, want julle weet nie wanneer die heer van die huis kom nie, hetsy laat in die dag of middernag of met hanekraai of vroeg in die oggend; sodat hy, wanneer hy skielik kom, julle nie aan die slaap vind nie. Maar wat ek vir julle sê, sê ek vir almal: Hou aan waak” (Markus 13:35-37). Soos Habakuk, en in ooreenstemming met Jesus se woorde, moet ons aanhou waak!
4. Hoe kom ons situasie ooreen met dié van Habakuk, omstreeks 628 v.G.J.?
4 Habakuk het sy boek heel waarskynlik omstreeks 628 v.G.J. geskryf, nog voor Babilon die heersende wêreldmoondheid geword het. Jehovah se oordeel oor die afvallige Jerusalem is baie jare lank verkondig. Maar daar was geen duidelike teken wanneer daardie oordeel voltrek sou word nie. Wie sou kon glo dat dit net 21 jaar later sou gebeur en dat Babilon Jehovah se skerpregter sou wees? Ons weet vandag ook nie wanneer ‘die dag en die uur’ vir die voleinding van hierdie stelsel sal wees nie, maar Jesus het ons vooruit gewaarsku: “[Julle] moet julle . . . gereed betoon, want die Seun van die mens kom op ’n uur waarvan julle dit nie dink nie.”—Matteus 24:36, 44.
5. Wat is veral bemoedigend omtrent God se woorde in Habakuk 2:2, 3?
5 Jehovah het Habakuk dus tereg hierdie besielende opdrag gegee: “Skryf die visioen op, en skryf dit duidelik op tafels, sodat hy wat daarvan voorlees, dit vlot kan doen. Want die visioen is nog vir die vasgestelde tyd, en dit bly voorthyg na die einde, en dit sal nie ’n leuen vertel nie. Al sou dit talm, bly in afwagting daarvan; want dit sal vir seker uitkom. Dit sal nie laat wees nie” (Habakuk 2:2, 3, NW). Regoor die wêreld vier goddeloosheid en geweld vandag hoogty, en dit toon dat ons op die drumpel van “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah” staan (Joël 2:31, NW). Jehovah se eie versekering is inderdaad bemoedigend: “Dit sal nie laat wees nie”!
6. Hoe kan ons die komende oordeelsdag oorleef?
6 Hoe kan ons dan die komende oordeelsdag oorleef? Jehovah antwoord deur die regverdiges teenoor die onregverdiges te stel: “Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe” (Habakuk 2:4). Trotse en hebsugtige heersers en volke het die hedendaagse geskiedenis met die bloed van miljoene onskuldige slagoffers bevlek, veral gedurende die twee wêreldoorloë en etniese slagtings. In teenstelling daarmee het die vredeliewende gesalfde knegte van God getrou volhard. Hulle is “die regverdige nasie wat getroue gedrag handhaaf”. Hierdie nasie, tesame met hulle metgeselle, die “ander skape”, volg die raad: “Vertrou op Jehovah vir altyd, want in Jah Jehovah is die Rots van onbepaalde tye.”—Jesaja 26:2-4, NW; Johannes 10:16.
7. Wat moet ons doen, in ooreenstemming met Paulus se gebruik van Habakuk 2:4?
7 Die apostel Paulus het aan die Hebreeuse Christene geskryf en Habakuk 2:4 aangehaal toe hy vir Jehovah se volk gesê het: “Julle het volharding nodig, sodat julle, nadat julle die wil van God gedoen het, die vervulling van die belofte kan ontvang. Want nog ‘’n baie klein rukkie’, en ‘hy wat kom, sal kom en sal nie talm nie’. ‘Maar my regverdige sal weens geloof lewe’, en ‘as hy terugdeins, het my siel geen behae in hom nie’” (Hebreërs 10:36-38). Dit is beslis nie nou die tyd om laks te raak of om deur die materialistiese, genotsugtige weë van Satan se wêreld verstrik te raak nie. Wat moet ons doen voordat die “baie klein rukkie” verstreke is? Ons wat deel van Jehovah se heilige nasie is, moet ons soos Paulus ‘uitstrek na die dinge wat voor is en die doel nastreef’, naamlik die ewige lewe (Filippense 3:13, 14). En ons moet soos Jesus volhard ‘vir die vreugde wat ons voorgehou word’.—Hebreërs 12:2.
8. Wie is die “man” van Habakuk 2:5, en waarom sal hy nie suksesvol wees nie?
8 Habakuk 2:5 (NW) beskryf “’n man” wat, in teenstelling met Jehovah se knegte, nie sy doel bereik nie, al het hy ‘sy siel ruim gemaak soos Sjeool’. Wie is hierdie man wat “nie versadig kan word nie”? Soos die onversadigbare Babilon in Habakuk se tyd voer hierdie saamgestelde “man”, wat uit politieke moondhede bestaan—hetsy hulle Fascisties, Nazisties, Kommunisties of selfs sogenaamd demokraties is—oorloë om sy gebied uit te brei. Hy vul ook Sjeool, die graf, met onskuldige slagoffers. Maar hierdie verraderlike saamgestelde “man” van Satan se wêreld, dronk van sy aanmatigende verwaandheid, is nie suksesvol wanneer hy probeer om ‘al die nasies vir hom te versamel en al die volke vir hom bymekaar te bring’ nie. Net Jehovah God kan die hele mensdom verenig, en hy sal dit deur middel van die Messiaanse Koninkryk doen.—Matteus 6:9, 10.
Die eerste van vyf dramatiese weë
9, 10. (a) Wat kondig Jehovah vervolgens deur Habakuk aan? (b) Wat is die situasie vandag wat onregverdige gewin betref?
9 Deur sy profeet Habakuk kondig Jehovah ’n reeks van vyf weë aan, oordele wat voltrek moet word om die aarde voor te berei om deur God se getroue aanbidders bewoon te word. Hierdie regskapenes ‘hef ’n spreuk aan’ wat deur Jehovah voorgelê word. Ons lees in Habakuk 2:6: “Wee die man wat hom verryk met wat nie aan hom behoort nie—hoe lank?—en hom beswaar met verpande goed.”
10 Hier val die klem op onregverdige gewin. In die wêreld om ons word die rykes al hoe ryker en die armes al hoe armer. Dwelmsmouse en swendelaars maak groot fortuine bymekaar, terwyl baie van die gewone mense van die honger omkom. Na bewering lewe ’n kwart van die wêreld se bevolking onder die broodlyn. Lewenstoestande is absoluut haglik in baie lande. Dié wat na regverdigheid op aarde hunker, vra: “Hoe lank” vererger hierdie skokkende toestande nie al nie? Maar die einde is naby! Die visioen sal beslis ‘nie laat wees nie’.
11. Wat sê Habakuk omtrent die bloed van mense wat vergiet word, en waarom kan ons sê dat daar vandag grootskaalse bloedvergieting op die aarde is?
11 Die profeet sê vir die goddelose: “Omdat jy baie nasies uitgebuit het, sal al die volke wat oorgebly het, jou uitbuit, weens die bloed van die mense en die geweld teen die land, die stad en al sy inwoners” (Habakuk 2:8). Hoeveel bloed word vandag tog op die aarde vergiet! Jesus het duidelik gesê: “Almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). Maar in hierdie 20ste eeu alleen was bloedskuldige nasies en etniese groepe verantwoordelik vir die dood van meer as honderdmiljoen mense. Wee dié wat aan daardie slagtings deelgeneem het!
Die tweede wee
12. Wat is die tweede wee wat Habakuk opgeteken het, en hoe kan ons seker wees dat oneerlike rykdom van geen nut sal wees nie?
12 Die tweede wee, wat in Habakuk 2:9-11 opgeteken staan, val op “hom wat vuil gewin maak vir sy huis, om sy nes in die hoogte te bou, om homself te red uit die greep van onheil”. Oneerlike gewin sal van geen nut wees nie, soos die psalmis verduidelik: “Wees nie bevrees as ’n man ryk word, as die rykdom van sy huis groot word nie; want by sy dood sal hy van alles niks saamneem nie; sy heerlikheid sal nie neerdaal agter hom aan nie” (Psalm 49:17, 18). Paulus se wyse raad is dus opmerkenswaardig: “Gee bevel aan dié wat in die teenswoordige stelsel van dinge ryk is om nie hooghartig te wees nie en om hulle hoop nie op onsekere rykdom te vestig nie, maar op God, wat ons alles ryklik vir ons genot verskaf.”—1 Timoteus 6:17.
13. Waarom moet ons aanhou om God se waarskuwing te laat hoor?
13 Hoe belangrik is dit tog dat God se oordeelsboodskappe vandag bekend gemaak word! Toe die Fariseërs daarteen beswaar gemaak het dat die skares Jesus begroet het as die ‘Koning wat in Jehovah se naam kom’, het hy gesê: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep” (Lukas 19:38-40). As God se volk vandag eweneens nie die goddeloosheid in die wêreld sou blootlê nie, sou “die steen uit die muur roep” (Habakuk 2:11). Laat ons derhalwe moedig aanhou om God se waarskuwing te laat hoor!
Die derde wee en die kwessie van bloedskuld
14. Vir watter bloedskuld is die wêreld se godsdienste verantwoordelik?
14 Die derde wee wat Habakuk aankondig, spreek die kwessie van bloedskuld aan. Habakuk 2:12 sê: “Wee hom wat ’n stad bou met bloed en ’n vesting stig deur onreg.” In hierdie stelsel van dinge gaan onregverdigheid en bloedvergieting dikwels hand aan hand. Dit is opmerklik dat die wêreld se godsdienste verantwoordelik was vir die ergste bloedvergieting in die geskiedenis. Ons hoef maar net die Kruistogte te noem, waartydens sogenaamde Christene teen Moslems geveg het; die Katolieke Inkwisisie in Spanje en Latyns-Amerika; die Dertigjarige Oorlog in Europa tussen Protestante en Katolieke, en die bloedigste van hulle almal, die twee wêreldoorloë van ons eeu, wat albei in die Christelike wêreld begin het.
15. (a) Wat doen die nasies nog steeds, met die ondersteuning of goedkeuring van die kerk? (b) Kan die Verenigde Nasies keer dat hierdie wêreld hom bewapen?
15 Een van die ergste dinge wat tydens die Tweede Wêreldoorlog gebeur het, was die Slagting deur die Nazi’s, waartydens miljoene Jode en ander onskuldiges in Europa uitgewis is. Die Rooms-Katolieke hiërargie in Frankryk het onlangs eers erken dat hulle geen teenstand gebied het toe honderdduisende slagoffers na Nazi-gaskamers gestuur is nie. En tog tref die nasies nog steeds voorbereidings om bloed te vergiet, met die ondersteuning of goedkeuring van die kerk. Die tydskrif Time (internasionale uitgawe) het onlangs van die Russies-Ortodokse Kerk gesê: “Die herrese kerk oefen ook groot invloed uit op ’n gebied waar dit voorheen ondenkbaar was: die Russiese oorlogspoging. . . . Dit het amper iets alledaags geword dat straalvegters en barakke geseën word. In November, in Moskou se Danilowski-klooster, die setel van die Russiese patriargaat, het die kerk selfs Rusland se kernarsenaal geseën.” Kan die Verenigde Nasies keer dat die wêreld hom met nuwe demoniese oorlogstuig bewapen? Glad nie! Volgens The Guardian, ’n koerant van Londen, Engeland, het ’n wenner van die Nobelprys vir vrede gesê: “Dit is werklik verontrustend dat die vyf permanente lede van die VN se Veiligheidsraad die vyf grootste wapenvoorsieners in die wêreld is.”
16. Wat sal Jehovah met oorlogsugtige nasies doen?
16 Sal Jehovah sy oordeel aan die oorlogsugtige nasies voltrek? Habakuk 2:13 sê: “Kyk, kom dit nie van die HERE van die leërskare dat volke arbei vir vuur en nasies hulle afmat vir niks nie?” “Die HERE van die leërskare”, oftewel “Jehovah van die leërs” (NW)! Ja, Jehovah het hemelse engeleleërs, wat hy sal gebruik om oorlogsugtige volke en nasies tot niet te maak!
17. In watter mate sal die kennis van Jehovah die aarde vul nadat hy sy oordeel aan die gewelddadige volksgroepe voltrek het?
17 Wat sal op die voltrekking van Jehovah se oordeel aan hierdie gewelddadige volksgroepe volg? Habakuk 2:14 gee die antwoord: “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Wat ’n wonderlike vooruitsig! By Armageddon sal Jehovah se soewereiniteit vir ewig geregverdig word (Openbaring 16:16). Hy verseker ons dat hy ‘die plek van sy voete’, hierdie aarde waarop ons lewe, ‘heerlik sal maak’ (Jesaja 60:13). Die hele mensdom sal in God se weg van die lewe opgevoed word, sodat die kennis van Jehovah se wonderlike voornemens die aarde sal vul soos die oseane die dieptes van die see vul.
Die vierde en vyfde weë
18. Wat is die vierde wee wat deur Habakuk aangekondig word, en hoe word dit in die sedelike toestand van vandag se wêreld weerspieël?
18 Die vierde wee word in Habakuk 2:15 (NW) met hierdie woorde beskryf: “Wee hom wat sy metgeselle iets te drinke gee, waarmee jou woede en toorn gemeng word, om hulle dronk te maak, met die doel om hulle skaamdele te sien.” Dit dui op die losbandige, verdorwe toestand van die hedendaagse wêreld. Die wêreld se onsedelikheid, wat selfs deur permissiewe godsdiensliggame gesteun word, het ongekende vlakke van verdorwenheid bereik. Plae, soos vigs en ander seksueel oordraagbare siektes, is wêreldwyd buite beheer. Pleks dat hulle ‘die heerlikheid van Jehovah’ weerspieël, sink die egoïstiese geslag van vandag al hoe verder in verdorwenheid weg totdat God sy oordeel aan hulle gaan voltrek. Hierdie ongehoorsame wêreld is “versadig met skande in plaas van met eer” en staan op die punt om te drink uit die beker van Jehovah se woede, wat sy wil met betrekking tot hulle verteenwoordig. ‘Skande sal hulle eer tref.’—Habakuk 2:16.
19. Waarop het die inleiding tot die vyfde wee wat Habakuk aankondig betrekking, en waarom is hierdie woorde betekenisvol in vandag se wêreld?
19 Die inleiding tot die vyfde wee gee ’n streng waarskuwing teen die aanbidding van gesnede beelde. Jehovah laat die profeet hierdie kragtige woorde uiter: “Wee hom wat vir ’n stuk hout sê: Word wakker! vir ’n dooie klip: Ontwaak! Kan hy ’n mens leer? Kyk! hy is oorgetrek met goud en silwer, en daar is géén gees in sy binneste nie!” (Habakuk 2:19). Tot vandag toe buig die Christendom en die sogenaamde heidendom hulle neer voor hulle kruise, Madonnas, ikone en ander afbeeldings van mens en dier. Nie een van hulle kan wakker word om hulle aanbidders te red wanneer Jehovah kom om sy oordeel te voltrek nie. Die goud en silwer waarmee hulle oorgetrek is, beteken absoluut niks in vergelyking met die grootsheid van die ewige God, Jehovah, en die heerlikheid van sy lewende skepsele nie. Mag ons sy weergalose naam vir ewig loof!
20. In watter tempelreëling het ons die voorreg om met vreugde te dien?
20 Ja, ons God, Jehovah, verdien al die lof. Met ’n gevoel van diepe eerbied teenoor hom moet ons ag slaan op sy streng waarskuwing teen afgodediens. Maar luister! Jehovah praat nog verder: “Die HERE is in sy heilige tempel—swyg voor Hom, o ganse aarde!” (Habakuk 2:20). Die profeet het ongetwyfeld Jerusalem se tempel in gedagte gehad. Maar ons het vandag die voorreg om in ’n veel groter geestelike tempelreëling te aanbid, waar ons Here Jesus Christus as Hoëpriester dien. Hier, in die aardse voorhof van daardie tempel, vergader, dien en bid ons, terwyl ons aan Jehovah die eer gee wat sy glorieryke naam toekom. En watter vreugde is dit tog vir ons om ons liefdevolle hemelse Vader uit ons hart te aanbid!
Onthou jy?
• Hoe beskou jy Jehovah se woorde: “Dit sal nie laat wees nie”?
• Wat is vandag die betekenis van die weë wat deur Habakuk aangekondig is?
• Waarom moet ons aanhou om Jehovah se waarskuwing te laat hoor?
• In die voorhof van watter tempel het ons die voorreg om te dien?
[Prente op bladsy 15]
Soos Habakuk weet God se hedendaagse knegte dat Jehovah nie sal talm nie
[Prente op bladsy 18]
Waardeer jy die voorreg om Jehovah in die voorhof van sy geestelike tempel te aanbid?
[Foto-erkenning op bladsy 16]
U.S. Army photo