Hoeveel tyd het die goddeloses nog oor?
“Waarom . . . swyg U [Jehovah] wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy?”—HABAKUK 1:13.
1. Wanneer sal die aarde heeltemal vol word met die kennis van Jehovah se heerlikheid?
SAL God die goddeloses ooit vernietig? Indien wel, hoe lank moet ons nog daarvoor wag? Regoor die wêreld vra mense sulke vrae. Waar kan ons die antwoorde vind? Ons vind dit in God se geïnspireerde, profetiese woorde aangaande sy vasgestelde tyd. Dit verseker ons dat Jehovah binnekort sy oordeel aan alle goddeloses gaan voltrek. Slegs dan sal die aarde heeltemal “vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek”. Dit is die profetiese belofte wat in Habakuk 2:14 in God se Heilige Woord opgeteken staan.
2. Watter drie veroordelings van God af word in die boek Habakuk vervat?
2 Die boek Habakuk is omstreeks 628 v.G.J. geskryf en bevat ’n reeks van drie veroordelings van Jehovah God af. Twee van daardie oordele is alreeds voltrek. Die eerste was Jehovah se oordeel oor die weerspannige eertydse nasie Juda. Wat was die tweede? Dit was God se oordeel wat aan die onderdrukkende Babilon voltrek is. Ons het dus alle rede om te vertrou dat die derde van hierdie Goddelike oordele voltrek gaan word. Trouens, ons kan verwag dat dit binnekort vervul gaan word. Ter wille van die opregtes in hierdie laaste dae sal God alle goddelose mense vernietig. Hulle sal almal hulle laaste asem uitblaas tydens die vinnig naderende “oorlog van die groot dag van God die Almagtige”.—Openbaring 16:14, 16.
3. Wat gaan beslis met die goddeloses in ons tyd gebeur?
3 Die oorlog van God se groot dag kom al hoe nader. En die voltrekking van God se oordeel aan die goddeloses in ons tyd is net so seker as die vervulling van Jehovah se oordele oor Juda en Babilon. Maar kom ons stel ons nou voor dat ons in Habakuk se dag in Juda is. Wat gaan in daardie land aan?
’n Land in beroering
4. Watter skokkende nuus hoor Habakuk?
4 Stel jou voor jy sien Jehovah se profeet Habakuk waar hy op die plat dak van sy huis sit en die koel aandluggie geniet. Langs hom lê ’n musiekinstrument (Habakuk 1:1; 3:19b). Maar Habakuk hoor skokkende nuus. Juda se koning Jojakim het Uria doodgemaak en die lyk van hierdie profeet in die begraafplaas van die gewone mense laat gooi (Jeremia 26:23 ). Uria het nou wel nie sy vertroue in Jehovah gehandhaaf nie, want hy het bevrees geword en na Egipte gevlug. Maar Habakuk weet dat Jojakim nie hierdie daad van geweld gepleeg het omdat hy Jehovah se eer wou hooghou nie. Dit kan duidelik gesien word in die koning se volslae minagting vir God se wet en sy haat vir die profeet Jeremia en ander wat Jehovah dien.
5. Wat is die geestelike stand van sake in Juda, en hoe reageer Habakuk daarop?
5 Habakuk sien hoe wierook van die dakke van huise daar naby opgaan. Die mense brand nie hierdie wierook as aanbidders van Jehovah nie. Hulle is besig met valse aanbidding wat deur Juda se goddelose koning Jojakim gesteun word. Wat ’n skande! Habakuk se oë skiet vol trane en hy smeek: “Hoe lank, o HERE, roep ek om hulp, maar U hoor nie; skreeu ek tot U: Geweld!—maar U help nie? Waarom laat U my onreg sien en aanskou U die moeite! Ja, verwoesting en geweld is voor my oë; en daar is stryd, en twis begin. Daarom verloor die wet sy krag, en die reg kom nooit meer te voorskyn nie; want die goddelose omsingel die regverdige, daarom kom die reg verdraaid te voorskyn.”—Habakuk 1:2-4.
6. Wat het met die wet en die reg in Juda gebeur?
6 Ja, verwoesting en geweld is aan die orde van die dag. Net waar Habakuk kyk, sien hy moeite, stryd en twis. ‘Die wet het sy krag verloor.’ En die reg? Dit “kom nooit meer te voorskyn nie”! Reg geskied eenvoudig nie meer nie. In plaas daarvan ‘omsingel die goddelose die regverdige’ en omseil hulle die wetlike maatreëls wat bedoel is om die onskuldiges te beskerm. Ja, ‘die reg kom verdraaid te voorskyn’. Wat ’n skokkende toedrag van sake!
7. Wat is Habakuk vasbeslote om te doen?
7 Habakuk dink oor die situasie na. Moet hy tou opgooi? Beslis nie! Nadat hy aan al die vervolging gedink het wat God se getroue knegte moes verduur, hernieu hierdie lojale man sy vasbeslotenheid om standvastig te bly as Jehovah se profeet. Habakuk sal aanhou om God se boodskap bekend te maak—al beteken dit sy dood.
Jehovah verrig ’n ongelooflike “werk”
8, 9. Watter ongelooflike “werk” verrig Jehovah?
8 In ’n visioen sien Habakuk die valse aanbidders wat God oneer aandoen. Luister wat Jehovah vir hulle sê: “Aanskou onder die nasies en kyk toe, en staar mekaar verbaas aan.” Habakuk wonder moontlik waarom God hierdie goddeloses so aanspreek. Dan hoor hy hoe Jehovah vir hulle sê: “Staan verbaas; want ’n werk word in julle dae verrig, wat julle nie sal glo nie, al word dit ook vertel” (Habakuk 1:5, NW). Dit is in werklikheid Jehovah self wat hierdie werk verrig wat hulle nie kan glo nie. Maar wat is dit?
9 Habakuk luister aandagtig na God se verdere woorde wat in Habakuk 1:6-11 opgeteken staan. Hier is Jehovah se boodskap—en geen valse god of lewelose afgod kan keer dat dit vervul word nie: “Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie. Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit. En vinniger as luiperds is sy perde en gouer as aandwolwe; en op ’n galop kom sy ruiters, ja, sy ruiters! Van ver kom hulle aangevlieg net soos ’n arend wat op sy prooi neerskiet! Hulle kom almal om geweld te pleeg; die rigting van hulle gesigte is vorentoe, sodat hy gevangenes versamel soos sand. Ook dryf hy die spot met konings, en vorste is vir hom ’n belagging; hy lag om elke vesting; hy hoop grond daarteen op en neem dit in. Dan gly hy verby, ’n wind, en trek verder—maar word skuldig, hy wie se krag sy god is.”
10. Wie word deur Jehovah opgewek?
10 Wat ’n kragtige profetiese waarskuwing van die Allerhoogste is dit tog! Jehovah wek die Chaldeërs, die wrede nasie van Babilon, op. Terwyl hy “deur die wydtes van die aarde” opruk, sal hy baie wonings inneem. Voorwaar skrikwekkend! Die Chaldese leërmag is “verskriklik en gedug”, skrikwekkend en vreesinboesemend. Hy maak sy eie onbuigsame wette. ‘Sy reg gaan van homself uit.’
11. Hoe sou jy die koms van die Babiloniese magte teen Juda beskryf?
11 Babilon se perde is vinniger as vlugvoetige luiperds. Sy ruiters is wreder as honger wolwe wat in die nag jag. Sy perde trap rond van ongeduld; hulle wil “galop”. Uit verre Babilon is hulle na Juda op pad. Die Chaldeërs vlieg soos ’n arend wat op ’n smaaklike maaltyd afpyl en sal binnekort op hulle prooi toeslaan. Maar sal dit net ’n strooptog, bloot ’n inval deur ’n paar soldate, wees? O, nee! “Hulle kom almal om geweld te pleeg”, soos ’n wemelende leërskare wat verwoesting kom aanrig. Hulle gesigte gloei van gretigheid terwyl hulle vinnig na Juda en Jerusalem opruk. Babiloniese magte neem soveel mense gevange dat hulle “gevangenes versamel soos sand”.
12. Wat is die gesindheid van die Babiloniërs, en waaraan word hierdie gedugte vyand “skuldig”?
12 Die Chaldese leër dryf die spot met konings en lag vorste uit, want nie een van hulle kan sy meedoënlose opmars stuit nie. Hy “lag om elke vesting”, want enige vesting val wanneer die Babiloniërs ‘grond ophoop’ deur ’n grondwal te bou waarvandaan hulle dit kan aanval. Op Jehovah se vasgestelde tyd sal die gedugte vyand ‘soos die wind verbygly’. Wanneer hy Juda en Jerusalem aanval, sal hy daaraan ‘skuldig word’ dat hy God se volk skade aandoen. Ná ’n blitsige oorwinning sal die Chaldese bevelvoerder spog: ‘Ons god is ons krag.’ Maar hoe min weet hy eintlik!
’n Stewige grondslag vir hoop
13. Waarom is Habakuk met hoop en vertroue vervul?
13 Aangesien Habakuk nou meer insig in Jehovah se voorneme het, het hy nou meer hoop in sy hart. Hy is met vaste vertroue vervul en vereer Jehovah met sy woorde. Soos in Habakuk 1:12 (NW) opgeteken staan, sê die profeet: “Is u nie van lank gelede nie, o Jehovah? O my God, my Heilige, u sterf nie.” Ja, Jehovah is God “van ewigheid tot ewigheid”.—Psalm 90:1, 2.
14. Watter weg het die afvalliges van Juda ingeslaan?
14 Die profeet dink na oor sy godgegewe visioen en verheug hom in die insig wat dit hom gegee het en sê verder: “O Jehovah, tot ’n oordeel het u hom gestel; en, o Rots, tot ’n teregwysing het u hom gegrondves.” God het die afvalliges van Juda veroordeel, en hulle gaan teregwysing, ernstige tugtiging, van Jehovah ontvang. Hulle moes hom as hulle Rots beskou het, die enigste werklike vesting, toevlug en Bron van heil (Psalm 62:8; 94:22; 95:1). En tog het die afvallige leiers van Juda nie nader aan God gekom nie en hou hulle aan om Jehovah se onskuldige aanbidders te verdruk.
15. In watter sin is Jehovah ‘te rein van oë om die kwaad aan te sien’?
15 Hierdie situasie ontstel Jehovah se profeet geweldig. Daarom sê hy: ‘U is te rein van oë om die kwaad aan te sien en kan die onreg nie aanskou nie’ (Habakuk 1:13). Ja, Jehovah is ‘te rein van oë om die kwaad aan te sien’, dit wil sê om oortreding te duld.
16. Hoe sal jy die gedagtes wat in Habakuk 1:13-17 opgeteken staan, opsom?
16 Habakuk het dus ’n paar gedagteprikkelende vrae in gedagte. Hy vra: “Waarom aanskou U die trouelose, swyg U wanneer die goddelose dié verslind wat regverdiger is as hy? So maak U dan mense soos visse van die see, soos kruipende gedierte wat geen heerser oor hulle het nie. Hy trek hulle almal op met die hoek, sleep hulle in sy net en vergader hulle in sy seën; daarom is hy vrolik en juig. Daarom offer hy aan sy net en laat rook opgaan vir sy seën; want deur hulle is sy aandeel vet en sy spys weelderig. Sal hy daarom sy net uitskud en gedurigdeur nasies doodmaak sonder verskoning?”—Habakuk 1:13-17.
17. (a) Hoe vervul die Babiloniërs God se voorneme deur Juda en Jerusalem aan te val? (b) Wat sal Jehovah aan Habakuk openbaar?
17 Deur Juda en sy hoofstad, Jerusalem, aan te val, sal die Babiloniërs volgens hulle eie begeertes optree. Hulle sal nie besef dat hulle God se instrument is om sy regverdige oordeel aan ’n ontroue volk te voltrek nie. ’n Mens kan maklik sien waarom Habakuk dit moeilik sou vind om te verstaan waarom God die goddelose Babiloniërs sou gebruik om Sy oordeel te voltrek. Daardie genadelose Chaldeërs is nie aanbidders van Jehovah nie. Hulle beskou mense bloot as ‘visse en kruipende gediertes’ wat hulle kan vang en onderwerp. Maar Habakuk sal nie lank oor hierdie sake hoef te wonder nie. Jehovah sal binnekort aan sy profeet openbaar dat die Babiloniërs nie ongestraf sal bly vir hulle gierige plundering en hulle onbeteuelde bloedvergieting nie.—Habakuk 2:8.
Gereed vir Jehovah se volgende woorde
18. Wat kan ons uit Habakuk se gesindheid leer, soos in Habakuk 2:1 geopenbaar word?
18 Maar nou wag Habakuk om Jehovah se volgende woorde aan hom te hoor. Die profeet sê vasbeslote: “Op my wagtoring wil ek gaan staan en op ’n skansmuur my stel, en ek wil speur om te sien wat Hy in my sal spreek, en wat ek op my klagte moet antwoord” (Habakuk 2:1). Habakuk stel intens belang in wat God verder deur middel van hom as profeet bekend sal maak. Sy geloof in Jehovah as ’n God wat nie kwaad duld nie, laat hom wonder waarom goddeloosheid seëvier, maar hy is bereid om sy denke te laat regstel. Maar wat dan van ons? Wanneer ons wonder waarom sekere goddelose dinge geduld word, behoort ons vertroue in Jehovah God se regverdigheid ons te help om ons ewewig te behou en op hom te wag.—Psalm 42:5, 11, NW.
19. Wat het ter vervulling van God se woord aan Habakuk met die weerspannige Jode gebeur?
19 Ter vervulling van sy woord aan Habakuk het God sy oordeel aan die weerspannige Joodse nasie voltrek deur die Babiloniërs toe te laat om Juda binne te val. In 607 v.G.J. het hulle Jerusalem en die tempel vernietig, oud en jonk voor die voet doodgemaak en baie as bannelinge weggevoer (2 Kronieke 36:17-20). Ná ’n lang ballingskap in Babilon het ’n getroue Joodse oorblyfsel na hulle vaderland teruggekeer en uiteindelik die tempel herbou. Daarna was die Jode egter weer ontrou aan Jehovah—veral toe hulle Jesus as die Messias verwerp het.
20. Hoe het Paulus Habakuk 1:5 verbind met die verwerping van Jesus?
20 Volgens Handelinge 13:38-41 het die apostel Paulus aan Jode in Antiogië getoon wat dit sou beteken as hulle Jesus verwerp en sodoende sy losprysofferande verag. Paulus het hulle gewaarsku deur Habakuk 1:5 uit die Griekse Septuagint-vertaling aan te haal: “Sorg dus dat wat in die Profete gesê word nie oor julle kom nie: ‘Aanskou dit, julle veragters, en verwonder julle daaroor en verdwyn, want ek verrig ’n werk in julle dae, ’n werk wat julle hoegenaamd nie sal glo nie al vertel iemand dit vir julle in besonderhede.’” In ooreenstemming met Paulus se aanhaling is Habakuk 1:5 ’n tweede keer vervul toe Romeinse leërs Jerusalem en sy tempel in 70 G.J. vernietig het.
21. Hoe het die Jode in Habakuk se dag God se “werk” beskou, naamlik dat die Babiloniërs Jerusalem sou vernietig?
21 Vir die Jode in Habakuk se dag was God se “werk”, naamlik dat die Babiloniërs Jerusalem sou vernietig, iets ondenkbaars omdat daardie stad die setel van Jehovah se aanbidding was en die plek waar sy gesalfde koning op die troon gesit het (Psalm 132:11-18). As sodanig was Jerusalem nog nooit tevore vernietig nie. Sy tempel was nog nooit verbrand nie. Die koningshuis van Dawid was nog nooit omvergewerp nie. Dit was ongelooflik dat Jehovah hierdie dinge sou toelaat. Maar deur Habakuk het God hulle deeglik gewaarsku dat hierdie skokkende dinge sou gebeur. En die geskiedenis toon dat dit plaasgevind het, net soos dit voorspel is.
God se ongelooflike “werk” in ons dag
22. Wat sal Jehovah se ongelooflike “werk” in ons dag behels?
22 Sal Jehovah ’n ongelooflike “werk” in ons dag verrig? Ons kan seker wees dat hy sal, al lyk dit ongelooflik vir dié wat twyfel. Dié keer sal Jehovah se ongelooflike werk die vernietiging van die Christendom wees. Soos eertydse Juda beweer hulle dat hulle God aanbid, maar hulle het heeltemal verdorwe geraak. Jehovah sal toesien dat elke teken van die Christendom se godsdiensstelsel binnekort uitgewis word, net soos die hele “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, uitgewis gaan word.—Openbaring 18:1-24.
23. Wat het God se gees Habakuk aangedryf om vervolgens te doen?
23 Jehovah het nog werk vir Habakuk gehad voor Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig sou word. Wat sou God nog vir sy profeet sê? Habakuk sou inderdaad nog dinge hoor wat hom sy musiekinstrument sou laat optel om biddende klaagliedere voor Jehovah te sing. Maar God se gees sou die profeet eers aandryf om dramatiese weë bekend te maak. Ons sal dit beslis waardeer om insig te kry in die diep betekenis van hierdie profetiese woorde vir God se vasgestelde tyd. Laat ons dus verder aandag skenk aan Habakuk se profesie.
Onthou jy?
• Watter toestande het in Habakuk se dag in Juda bestaan?
• Watter ongelooflike “werk” het Jehovah in Habakuk se tyd verrig?
• Watter grondslag vir hoop het Habakuk gehad?
• Watter ongelooflike “werk” sal God in ons dag verrig?
[Prent op bladsy 9]
Habakuk het gewonder waarom God toegelaat het dat goddeloosheid seëvier. Wonder jy?
[Prent op bladsy 10]
Habakuk het voorspel dat die land Juda deur Babilon vernietig sou word
[Prent op bladsy 10]
Argeologiese ruïnes van Jerusalem, wat in 607 v.G.J. vernietig is