“Ek is met julle”
“Die boodskapper van Jehovah . . . [het] gesê: ‘“Ek is met julle”, is die woord van Jehovah.’”—HAGGAI 1:13.
1. Na watter profetiese parallel vir ons dag het Jesus verwys?
ONS lewe in ’n belangrike tyd in die geskiedenis. Soos blyk uit die vervulling van Bybelprofesieë, is ons sedert 1914 in “die dag van die Here” (Openbaring 1:10). Jy het heel moontlik al hierdie onderwerp bestudeer en weet dus dat Jesus “die dae van die Seun van die mens” in Koninkryksmag vergelyk het met “die dae van Noag” en “die dae van Lot” (Lukas 17:26, 28). So toon die Bybel dat dit ’n profetiese parallel is. Maar daar is nog ’n parallel wat ons ernstige aandag verdien.
2. Watter toewysing het Jehovah aan Haggai en Sagaria gegee?
2 Kom ons kyk na ’n situasie wat destyds in die dae van die Hebreeuse profete Haggai en Sagaria bestaan het. Watter boodskap het hierdie twee getroue profete oorgedra wat spesifiek van toepassing is op Jehovah se hedendaagse volk? Haggai en Sagaria was ‘boodskappers van Jehovah’ aan die Jode ná hulle terugkeer uit gevangenskap in Babilon. Hulle is die opdrag gegee om die Israeliete te verseker van God se steun met die herbouing van die tempel (Haggai 1:13; Sagaria 4:8, 9). Hoewel die boeke wat Haggai en Sagaria geskryf het, kort is, is hulle deel van ‘die hele Skrif wat deur God geïnspireer is en nuttig is om te onderrig, om tereg te wys, om dinge reg te stel, om in regverdigheid te dissiplineer’.—2 Timoteus 3:16.
Dit moet vir ons van belang wees
3, 4. Waarom moet Haggai en Sagaria se boodskappe vir ons van belang wees?
3 Die boodskappe van Haggai en Sagaria was beslis nuttig vir die Jode van hulle dag, en hulle profesieë het destyds in vervulling gegaan. Maar waarom kan ons seker wees dat hierdie twee boeke vandag vir ons van belang moet wees? Ons vind ’n leidraad in Hebreërs 12:26-29. Daar haal die apostel Paulus Haggai 2:6 aan, wat praat van God wat ‘die hemel en die aarde skud’. Die geskud sal uiteindelik “die troon van koninkryke omverwerp en die krag van die koninkryke van die nasies vernietig”.—Haggai 2:22.
4 Deur Haggai aan te haal, sê Paulus wat met “die koninkryke van die nasies” sal gebeur en praat hy van die voortreflikheid van die onwankelbare Koninkryk wat gesalfde Christene sal ontvang (Hebreërs 12:28). Jy kan hieruit sien dat die profesieë van Haggai en Sagaria na ’n tyd wys wat nog voorgelê het toe die boek Hebreërs in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling geskryf is. Daar is vandag nog op die aarde ’n oorblyfsel van gesalfde Christene, wat saam met Jesus erfgename van die Messiaanse Koninkryk is. Haggai en Sagaria moet dus betekenis vir ons tyd hê.
5, 6. Wat was die agtergrond van Haggai en Sagaria se diens?
5 Geskiedkundige agtergrond word in die boek Esra voorsien. Nadat die Jode in 537 v.G.J. uit gevangenskap in Babilon terugkeer het, het goewerneur Serubbabel en hoëpriester Josua (of, Jesua) toesig gehou oor die werk om die fondament van die nuwe tempel in 536 v.G.J. te lê (Esra 3:8-13; 5:1). Hoewel dit rede tot groot vreugde was, het vrees die Jode kort voor lank oorval. Teenstanders, “die volk van die land”, sê Esra 4:4, het “voortdurend die hande van die volk van Juda verswak en hulle daarvan afgeskrik om te bou”. Hierdie vyande, Samaritane in die besonder, het valse aanklagte teen die Jode ingebring. Dié teenstanders het die koning van Persië oorreed om ’n verbod op die tempelbouwerk te plaas.—Esra 4:10-21.
6 Die aanvanklike geesdrif vir die werk aan die tempel het afgeneem. Die Jode het by persoonlike strewes betrokke geraak. Maar in 520 v.G.J., 16 jaar nadat die fondament van die tempel gelê is, het Jehovah Haggai en Sagaria verwek om die volk aan te spoor om die werk aan die tempel te hervat (Haggai 1:1; Sagaria 1:1). Aangevuur deur God se boodskappers en met duidelike bewys van Jehovah se steun, het die Jode die werk aan die tempel hervat en dit in 515 v.G.J. voltooi.—Esra 6:14, 15.
7. Die situasie in die profete se dag het watter parallel in hedendaagse tye?
7 Weet jy wat al hierdie dinge vir ons beteken? Ons het werk om te doen in verband met die verkondiging van die “goeie nuus van die koninkryk” (Matteus 24:14). Ná die Eerste Wêreldoorlog is daar spesiale klem op hierdie werk gelê. Net soos die eertydse Jode vrygelaat is uit letterlike gevangenskap in Babilon, is Jehovah se hedendaagse volk bevry uit gevangenskap aan Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. God se gesalfdes het hulle toegespits op die werk om te getuig, te onderrig en mense na ware aanbidding te rig. Hierdie werk gaan vandag op selfs groter skaal voort, en jy neem moontlik daaraan deel. Dit moet nóú gedoen word, want die einde van hierdie goddelose stelsel is op hande! Hierdie godgegewe werk moet voortgaan totdat Jehovah by die “groot verdrukking” in menseaangeleenthede ingryp (Matteus 24:21). Dít sal die einde van goddeloosheid beteken en dit moontlik maak vir ware aanbidding om ten volle op die aarde te floreer.
8. Waarom kan ons seker wees dat God ons werk ondersteun?
8 Soos die profesieë van Haggai en Sagaria toon, kan ons seker wees van Jehovah se ondersteuning en seën terwyl ons heelhartig aan hierdie werk deelneem. Ondanks die pogings van sommige om God se knegte te onderdruk of hulle toegewese werk te verbied, kon geen regering nog die vooruitgang van die evangelisasiewerk stopsit nie. Dink aan hoe Jehovah die Koninkrykswerk gedurende die dekades ná die Eerste Wêreldoorlog en tot in ons tyd met vermeerdering geseën het. Maar daar is nog baie om te doen.
9. Aan watter situasie in die ou tyd moet ons aandag skenk, en waarom?
9 Hoe kan wat ons uit Haggai en Sagaria leer, ons selfs in groter mate aanspoor om gehoorsaam te wees aan die goddelike opdrag om te getuig en te onderrig? Wel, kom ons let op ’n paar lesse wat ons uit hierdie twee Bybelboeke kan leer. Kyk byvoorbeeld na ’n paar besonderhede wat verband hou met die tempelbouwerk wat die herstelde Jode moes doen. Soos gemeld, het die Jode wat uit Babilon na Jerusalem teruggekeer het, nie met hulle werk aan die tempel volgehou nie. Nadat hulle die fondament gelê het, het hulle in hulle pogings verslap. Watter verkeerde beskouing het onder hulle ontstaan? En wat kan ons daaruit leer?
Verkry die regte beskouing
10. Watter verkeerde beskouing het die Jode ontwikkel, en wat was die gevolg?
10 Die herstelde Jode het gesê: “Die tyd het nie gekom . . . nie” (Haggai 1:2). Toe hulle met die tempelbouwerk begin het en in 536 v.G.J. die fondament gelê het, het hulle nie gesê dat ‘die tyd nie gekom het nie’. Maar hulle het weldra toegelaat dat teenstand van buurnasies en inmenging deur die regering hulle beïnvloed. Die Jode het meer aandag aan hulle eie huise en hulle eie gerief begin skenk. In die lig van die teenstelling tussen hulle eie huise met paneelwerk uit goeie hout en die onvoltooide tempel het Jehovah gevra: “Is dit die tyd vir julle om in julle huise met paneelwerk te woon, terwyl hierdie huis woes lê?”—Haggai 1:4.
11. Waarom moes Jehovah die Jode in Haggai se tyd vermaan?
11 Ja, die Jode se prioriteite het verander. Pleks dat hulle Jehovah se voorneme om die tempel te laat herbou, die eerste plek in hulle lewe gegee het, het God se volk op hulleself en hulle eie huise begin konsentreer. Werk aan God se huis van aanbidding is verwaarloos. Jehovah se woord wat in Haggai 1:5 opgeteken is, het die Jode aangespoor om ‘hulle hart op hulle weë te rig’. Jehovah het vir hulle gesê om stil te staan en na te dink oor wat hulle doen en hoe hulle geraak word deurdat hulle nie die tempelbouwerk die eerste plek in hulle lewe gee nie.
12, 13. Hoe beskryf Haggai 1:6 die situasie van die Jode, en wat beteken hierdie vers?
12 Soos jy jou kan voorstel, het die Jode se misplaaste prioriteite hulle persoonlik geraak. Let op God se beskouing wat in Haggai 1:6 uitgedruk word: “Julle het baie saad gesaai, maar min word ingebring. Daar word geëet, maar nie tot versadiging toe nie. Daar word gedrink, maar nie tot dronkenskap toe nie. Klere word aangetrek, maar niemand word warm nie; en wie hom verhuur, verhuur hom vir ’n sak vol gate.”
13 Die Jode was in die land wat God vir hulle gegee het, en tog was die opbrengs daarvan nie soos hulle dit wou hê nie. Jehovah het sy seën teruggehou, soos hy vooraf gewaarsku het (Deuteronomium 28:38-48). Sonder sy steun het die Jode saad gesaai, maar ’n karige oes gehad, nie genoeg kos om hulle te versadig nie. Omdat hulle nie sy seën gehad het nie, het hulle nie warm klere gehad om aan te trek nie. Dit het selfs gelyk asof die geld wat hulle verdien het, in ’n sak vol gate gesit is, sonder enige voordeel vir dié wat dit verdien het. Wat van die uitdrukking: “Daar word gedrink, maar nie tot dronkenskap toe nie”? Dit kan nie beteken dat dronkenskap ’n aanduiding van God se seën sou gewees het nie; hy veroordeel dronkenskap (1 Samuel 25:36; Spreuke 23:29-35). Die uitdrukking is eerder nog ’n verwysing na die feit dat die Jode nie God se seën ontvang het nie. Enige wyn wat hulle kon maak, sou min wees, nie genoeg om van dronk te word nie. Die Afrikaanse Bybel van 1953 vertaal Haggai 1:6 soos volg: “Julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie.”
14, 15. Watter les leer ons uit Haggai 1:6?
14 Die les wat ons uit dit alles moet leer, handel nie oor huisontwerp of -versiering nie. Lank voor die ballingskap het die profeet Amos rykes in Israel bestraf oor hulle “huise van ivoor” en omdat hulle “op ivoorslaapbanke gaan lê” (Amos 3:15; 6:4). Die spoggerige huise en versierde meubels was nie van blywende aard nie. Dit is deur vyandelike veroweraars geplunder. Maar jare later, ná ’n ballingskap van 70 jaar, het baie van God se volk nog nie hieruit geleer nie. Sal ons? Dit sal gepas wees vir elkeen van ons om te vra: ‘Hoeveel klem plaas ek eerlikwaar op my huis en die versiering daarvan? Wat van reëlings vir bykomende opleiding om ’n loopbaan te bevorder, hoewel dit baie tyd oor ’n aantal jare in beslag sal neem en belangrike aspekte van my geestelike lewe sal verdring?’—Lukas 12:20, 21; 1 Timoteus 6:17-19.
15 Wat ons in Haggai 1:6 lees, moet by ons tuisbring dat ons God se seën in ons lewe nodig het. Daardie eertydse Jode het dit nie gehad nie, en dit het hulle tot nadeel gestrek. Hetsy ons ’n oorvloed van materiële dinge het of nie, as ons nie Jehovah se seën ontvang nie, sal dit ons beslis geestelik tot nadeel strek (Matteus 25:34-40; 2 Korintiërs 9:8-12). Maar hoe kan ons daardie seën ontvang?
Jehovah help deur middel van sy gees
16-18. Wat beteken Sagaria 4:6 in sy eertydse konteks?
16 Haggai se medeprofeet, Sagaria, is beweeg om die aandag te vestig op hoe Jehovah toegewyde persone destyds gemotiveer en geseën het. En dit toon hoe hy jou ook sal seën. Ons lees: “‘Nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur my gees’, het Jehovah van die leërs gesê” (Sagaria 4:6). Jy het moontlik al dikwels gehoor dat hierdie vers aangehaal word, maar wat het dit vir die Jode in die dae van Haggai en Sagaria beteken, en watter betekenis het dit dus vir jou?
17 Onthou dat die geïnspireerde woorde van Haggai en Sagaria destyds ’n wonderlike uitwerking gehad het. Wat hierdie twee profete gesê het, het die getroue Jode nuwe krag gegee. Haggai het in die sesde maand van 520 v.G.J. begin profeteer. Sagaria het in die agtste maand van daardie jaar begin profeteer (Sagaria 1:1). Soos jy uit Haggai 2:18 kan sien, het werk aan die fondament in die negende maand weer in alle erns begin. Die Jode is dus tot optrede aangespoor, en hulle het Jehovah gehoorsaam met vertroue in sy ondersteuning. Die woorde in Sagaria 4:6 hou verband met God se steun.
18 Toe die Jode in 537 v.G.J. na hulle vaderland teruggekeer het, het hulle geen krygsmag gehad nie. Nietemin het Jehovah hulle gedurende die reis van Babilon af beskerm en gelei. En sy gees het sake gerig toe hulle kort daarna met die werk aan die tempel begin het. Sodra hulle weer heelhartig begin werk het, sou hy hulle deur middel van sy heilige gees steun.
19. Watter sterk invloed het God se gees te bowe gekom?
19 Deur ’n reeks van agt visioene is Sagaria daarvan verseker dat Jehovah met sy volk sou wees, wat die tempelwerk getrou sou voltooi. Die vierde visioen, wat in hoofstuk 3 opgeteken is, wys dat Satan die pogings van die Jode om die tempelbouwerk te voltooi, daadwerklik teëgestaan het (Sagaria 3:1). Satan sou beslis nie bly wees om te sien dat die hoëpriester Josua by ’n nuwe tempel diens verrig ten behoewe van die volk nie. Hoewel die Duiwel die Jode daadwerklik probeer verhinder het om die tempel te bou, sou Jehovah se gees ’n sleutelrol daarin speel om struikelblokke te verwyder en die Jode die krag te gee om voort te gaan totdat die tempel voltooi is.
20. Hoe het die heilige gees die Jode gehelp om God se wil uit te voer?
20 Dit het gelyk asof daar ’n onoorkomelike struikelblok van teenstand was, wat gekom het van regeringsamptenare wat daarin geslaag het om ’n verbod op die werk te laat plaas. Maar Jehovah het belowe dat hierdie skynbare “berg” verwyder sou word en dat dit “’n gelykte” sou word (Sagaria 4:7). En dit het gebeur! Koning Darius I het ondersoek ingestel en Kores se memorandum gevind waarin die Jode toestemming gegee is om die tempel te herbou. Daarop het Darius die verbod herroep en magtiging gegee dat geld uit die koninklike skatkis aan die Jode gegee word om die koste van die werk te help dek. Wat ’n verbasende ommekeer! Het God se gees ’n rol daarin gespeel? Ons kan seker wees daarvan. Die tempel is voltooi in 515 v.G.J., die sesde jaar van die heerskappy van Darius I.—Esra 6:1, 15.
21. (a) Hoe het God in die ou tyd ‘al die nasies geskud’, en hoe het “die begeerlike dinge” uitgekom? (b) Wat is die hedendaagse vervulling?
21 In Haggai 2:5 het die profeet die Jode herinner aan die verbond wat God by die berg Sinai met hulle gesluit het toe ‘die hele berg geweldig gebewe het’ (Eksodus 19:18). In die dae van Haggai en Sagaria sou Jehovah weer ’n skudding veroorsaak, soos beskryf in die figuurlike taal van verse 6 en 7. Die situasie in die Persiese Ryk sou onstabiel word, maar die werk aan die tempel sou voortgaan totdat dit voltooi is. Nie-Jode, “die begeerlike dinge van al die nasies”, sou God uiteindelik saam met die Jode in daardie plek van aanbidding verheerlik. God ‘skud die nasies’ in ons tyd op groot skaal deur middel van ons Christelike predikingswerk, en “die begeerlike dinge van al die nasies” kom in om God saam met die gesalfde oorblyfsel te aanbid. Ja, die gesalfdes en die ander skape vul nou saam Jehovah se huis met heerlikheid. Hierdie ware aanbidders wag met geloof op die tyd wanneer Jehovah in ’n ander sin ‘die hemel en die aarde sal skud’. Dit sal wees om die krag van die koninkryke van die nasies omver te werp en te vernietig.—Haggai 2:22.
22. Hoe word die nasies ‘geskud’, met watter gevolg, en wat moet nog plaasvind?
22 Dit laat ons dink aan die skudding wat plaasgevind het in die verskillende elemente wat deur “die hemel en die aarde en die see en die droë grond” afgebeeld word. Om maar een ding te noem, Satan die Duiwel en sy demone is na die omgewing van die aarde neergewerp (Openbaring 12:7-12). Daarbenewens het die predikingswerk waarin God se gesalfdes die voortou neem, beslis die aardse elemente van hierdie stelsel van dinge geskud (Openbaring 11:18). Ten spyte daarvan het “’n groot menigte” van die begeerlike dinge van al die nasies Jehovah saam met geestelike Israel begin dien (Openbaring 7:9, 10). Die groot menigte werk saam met gesalfde Christene om die goeie nuus te verkondig dat God binnekort die nasies by Armageddon sal skud. Daardie gebeurtenis sal die weg baan vir ware aanbidding om aardwyd tot volmaaktheid gebring te word.
Onthou jy?
• Wanneer en onder watter omstandighede het Haggai en Sagaria gedien?
• Hoe kan jy die boodskap toepas wat Haggai en Sagaria oorgedra het?
• Waarom vind jy Sagaria 4:6 bemoedigend?
[Prente op bladsy 20]
Haggai en Sagaria se geskrifte verseker ons van God se steun
[Prent op bladsy 23]
“Is dit die tyd vir julle om in julle huise met paneelwerk te woon, terwyl hierdie huis woes lê?”
[Prent op bladsy 24]
Jehovah se volk help om ‘die begeerlikes van die nasies’ te bereik