Die tweede brief aan die Korintiërs
9 Dit is nie regtig vir my nodig om aan julle te skryf oor die bediening wat vir die heiliges+ is nie, 2 want ek weet dat julle gewillig is. Ek spog by die Masedoniërs dat julle in Agaʹje nou al ’n jaar gereed is om te help, en julle ywer het die meeste van hulle aangespoor. 3 Maar ek stuur die broers om julle te help. Dan sal almal kan sien dat ons nie verniet oor julle gespog het nie en sal julle werklik gereed wees, net soos ek altyd gesê het julle sal wees. 4 Anders, as die Masedoniërs saam met my kom en sien dat julle nie gereed is nie, sal ons – om nie van julle te praat nie – weens ons vertroue in julle verneder word. 5 Daarom het ek gedink dat dit nodig is om die broers aan te moedig om voor die tyd na julle toe te kom en om die groot geskenk wat julle belowe het, gereed te kry. Wanneer ons dan daar aankom, sal dit gereed wees as ’n geskenk wat vrywillig gegee is en nie omdat julle gedwing is om dit te gee nie.
6 Die punt is: Wie spaarsamig saai, sal ook spaarsamig oes, en wie oorvloedig saai, sal ook oorvloedig oes.+ 7 Laat elkeen gee net soos hy in sy hart besluit het, nie teësinnig of omdat hy gedwing word nie,+ want God is lief vir iemand wat met vreugde gee.+
8 Wat meer is, God kan julle ’n oorvloed van sy onverdiende goedheid gee, sodat julle altyd alles kan hê wat julle nodig het en ook ’n oorvloed kan hê van wat nodig is vir elke goeie werk.+ 9 (Net soos daar geskryf is: “Hy het wyd en syd* uitgedeel. Hy het vir die armes gegee. Sy regverdigheid duur vir ewig.”+ 10 En die Een wat volop saad gee om te saai en brood gee om te eet, sal aan julle saad gee om te saai en sal dit vir julle vermeerder en sal die oes van julle regverdigheid laat toeneem.) 11 Julle word in elke opsig geseën sodat julle op allerhande maniere vrygewig kan wees, en deur ons vrygewigheid word mense beweeg om God te dank, 12 want deur hierdie openbare diens te doen, word daar nie net goed in die behoeftes van die heiliges voorsien nie,+ maar dit lei ook daartoe dat baie mense God kan bedank. 13 Hulle eer God omdat hierdie hulp wat gegee word, bewys dat julle gehoorsaam is aan die goeie nuus oor die Christus, wat julle in die openbaar bekend gemaak het en omdat julle vrygewig is in julle bydrae aan hulle en aan almal.+ 14 En hulle doen smeekgebede vir julle en is lief vir julle as gevolg van die groot onverdiende goedheid wat God aan julle betoon het.
15 Ons dank God vir sy onbeskryflike vrye gawe.